Читать книгу Ena Murray Keur 11 - Ena Murray - Страница 8

5

Оглавление

Toe Karlien en John uitkom op die stoep, het Malcolm en Carroll hulle reeds tuis gemaak.

“En toe, kleintjie, hoe smaak die verbode vrug?” laat Malcolm ná ’n rukkie plaend hoor.

“Ek het mos beloof ek sal nie proe nie.” Karlien skud haar kop laggend.

Malcolm kyk Julius verbaas aan. “Het jy haar nie laat proe nie?”

Julius se glimlag is ietwat grimmig. “’n Vrou eet nie by haar eie man verbode vrug nie, my vriend.”

Malcolm lyk uit die veld geslaan. Dan glimlag hy, maar dis al vir Karlien asof sy oë nie saamlag nie. “Ek is mooi op my plek gesit. Hoe sal ons nou maak, Karlien?”

Sy glimlag ook, maar dit verg inspanning. “Moet jou nie bekommer nie, Malcolm. Ek dink nie ek sal van die smaak van verbode vrugte hou nie. Ek sal maar by die geoorloofdes bly.”

“Wêreld, maar julle is diepsinnig,” laat Daphne hoor.

“Karlien is miskien baie verstandig. ’n Mens moet ’n smaak ontwikkel vir die verbode vrug. As jy nie weet hoe om dit te eet nie, laat dit ’n bitter smaak in jou mond agter,” sê Carroll, haar blou oë groot en onskuldig op Karlien gerig.

“Gaaf van jou om my te waarsku. Ek neem graag raad van iemand met eerstehandse kennis. Ek neem aan jy praat uit persoonlike ervaring?” Karlien glimlag beleef.

“Natuurlik! Julius het my egter geleer hoe om dit reg te eet. Nou is ek al versot op die smaak.” Carroll lag geamuseer.

“Gee haar tyd, mense. Miskien sal sy eerlank net so versot wees daarop,” sê Daphne.

Die gesprek vloei hierna in veiliger kanale, maar telkens betrap Karlien die ander vrou se blik peinsend op haar. Ook John kyk dikwels na haar en selfs Julius se oë ontmoet sy kort-kort. Dat laasgenoemde ontevrede is met haar oor iets, is seker, maar Karlien lig haar ken uitdagend. Hy moet darem nie dink sy gaan altyd net stilbly wanneer daardie vriendin van hom haar katnaels wys nie, dink sy ergerlik.

Ná die aandete verkeer almal weer saam op die stoep, omdat dit die enigste plek is waar ’n luggie trek. John snuffel deur die musiekverskeidenheid en gou klink romantiese klanke, net reg vir die soel aandlug, op. Hy kry vir Karlien beet.

“Kom ons dans.”

Sy stribbel teë. “Ek is die gasvrou, onthou. Ek hoort by my gaste.”

“Ek is ook ’n gas, nie waar nie? Net hierdie enetjie, toe, asseblief.”

Sy laat haar dit maar welgeval en toe die strelende klanke wegsterf, kyk John met openlike bewondering op haar af.

“Mensig, meisiekind, maar jy kán dans!”

Sy glimlag op na hom. “Dankie. Jy dans ook baie goed.”

“Waar het jy so geleer dans?”

“By my suster en swaer. Hulle was op hul dag danskampioene.” Sy wil haar uit sy greep losmaak om na die stoep terug te keer, maar hiervan wil John nie hoor nie.

“Nee. Ons dans nog een. Ons moet net. Dis soos ’n droom.”

Hy kyk vrolik op haar af, hoewel daar ’n erns in sy oë is wat Karlien totaal ontgaan. Haar laggie waai stoep toe.

“Dan nog net hierdie een. Regtig, John …”

Hy swaai haar in die ritme van ’n vinnige cha-cha, en toe Karlien haar uiteindelik weer by die ander op die stoep voeg, is sy effens uitasem; haar hare, wat sy voor ete losgemaak het, ’n bietjie verwaai. Haar oë glinster.

“Sjoe! Dans is darem nie vir die trope bedoel nie.”

“Watwou! Ons dans baie op Mahé. Ek kan nie wag vir die volgende groot okkasie nie. Het julle ander geweet dat hierdie meisie ’n kampioendanseres is?”

Karlien lag en slaan John speels op die arm. “Moenie oordryf nie, John. Dis my suster wat die kampioen was, nie ek nie.”

Dis net van Daphne en Malcolm wat sy glimlaggies ontvang. Carroll lyk verveeld en Julius se oë en mond is strak. Karlien versober dadelik, neem op die naaste stoel plaas en vou haar hande sedig.

Nadat Malcolm en Carroll eindelik naggesê en tussen die bome verdwyn het, maak Karlien verskoning. Toe slapenstyd aangekondig word, laat sy vinnig hoor: “John, jou kamer is die eerste deur regs. Daphne, jy slaap by my.” Sy draai na Julius en haar oë lag hom uitdagend toe. “Ek het jou vir vannag op die systoep uitgeskuif, my skat. Gee jy om?”

Sy mond trek skeef asof hy teen sy sin glimlag. “Sal dit help om te kla?”

Daphne is ontsteld en ongemaklik. “Maar, Karlien, dis nie nodig om Julius uit jul kamer te verdryf nie! Ek kan mos in John se kamer slaap en hý kan op die systoep slaap.”

“Natuurlik. Ek gee nie om nie,” beaam John vinnig, maar Karlien skud haar kop beslis.

“Dis klaar so gereël. Glo my, Julius gee glad nie om nie.”

Hierop trek hy net sy wenkbroue op, maar toe hy sien dat Daphne nog onseker lyk, sê hy gerusstellend: “Ek gee regtig nie om nie, Daphne. Nou sal ek darem weer ’n slag behoorlik rus. Karlien snork onhebbelik. Ek weet nie of jy vannag ’n oog gaan toemaak nie.”

Karlien kyk hom verontwaardig aan. “Dis nie waar nie! Waar kom jy daaraan? Jy kan my nie hoor op …” Sy sluk haar woorde vinnig weg en vervolg haastig: “Hy is gewoonlik lank voor my aan die slaap en dis ék wat snags wakker lê van sý onaardse geluide.”

Toe sy vinnig die huis in verdwyn, hoop sy maar dat haar twee gaste nie die glips agtergekom het nie. Maar Julius sien die peinsende uitdrukking op Daphne se gesig. Daarom vat hy, toe hulle nagsê, Karlien in ’n stewige omhelsing vas en soen haar deeglik op die lippe. Karlien is verslae. Is dit dan nou nodig? wonder sy verward.

Toe die twee vroue in die bed is, lê hulle nog ’n rukkie en gesels. Eers oor ditjies en datjies, en dan vra Daphne versigtig: “Hoe kom jy en Carroll oor die weg?”

Karlien byt oudergewoonte haar onderlip vas. Sy wens sy kon van Daphne ’n vertroueling maak. Sy het behoefte daaraan om openlik met iemand te gesels. Sy hou van die donkerkop, maar Daphne is verlief op Julius. Karlien wens sy kon haar gerusstel, haar vertel dat sy nie hoef moed op te gee omdat Julius getroud is nie; dat sy, Karlien, oor ses maande weg sal wees. Maar sy weet sy durf nie. Julius was baie beslis dat niemand, maar niemand op die Seychelle die ware toedrag van sake mag weet nie. Selfs Malcolm, sy boesemvriend, weet nie en hy het ook nie vir Carroll ingelig nie.

Sy antwoord versigtig, nie wetend hoe bevriend die twee vroue dalk is nie: “Ek … ken haar maar swak. Sy is ’n mooi vrou.”

Daphne is eers stil. Dan klink haar stem helder op, ’n diep frons tussen haar wenkbroue. “Ek haat haar.”

Karlien is so verslae dat sy nie weet wat om te sê nie. Dan sit sy regop in die bed en kyk Daphne met groot oë aan. “Maar hoekom? Ek dog dan julle is vriende …”

Sy word met ’n handgebaar stilgemaak. “In die oorspronklike Eden was daar ’n slang, en in hierdie Eden is ook een … in die vorm van ’n hartelose, slinkse, beginsellose vrou. Carroll Day.”

Haar stem is bitter en Karlien is stom. Sy weet nie wat om te sê nie.

“Wees versigtig vir haar, Karlien. Ek waarsku jou as vriendin.” Sy kyk nou reguit na Karlien. “Ons ken mekaar ook skaars, maar … ek hou van jou. Daarom waarsku ek jou. Jy is nog so jonk. Ek weet nie of jy opgewasse is teen Carroll nie, daarom … daarom wil ek jou net sê, loop lig vir haar. En as jy ooit hulp nodig het … onthou, ek is jou vriendin.”

Karlien sluk. Sy is in die middel van die wêreld. Sy wonder vlugtig wat Daphne sal sê as sy haar nou moet vertel dat Carroll haar reeds teen háár, wat Daphne is, gewaarsku het. Op wie se waarskuwing moet sy ag slaan? Sy voel eerder om Daphne te glo. Vreemd genoeg aanvaar sy dat Daphne graag ’n vriendin van haar wil wees, reeds is … hoe ongeloofbaar dit ook al is, omstandighede in ag genome. Karlien is immers getroud met die man wat Daphne, volgens Carroll, jare lank al probeer aankeer.

Die feit dat Daphne vir Carroll haat en dat Carroll blykbaar ook nie veel liefde vir die direkteursdogter het nie, lyk nou vir Karlien heel logies. Hulle is albei verlief op dieselfde man, en jare lank al in ’n wedloop om hom te “wen”. En nou het sy, Karlien, tussenbeide gekom …

Dit voel vir Karlien asof sy haar in die middel van ’n broeiende tropiese storm bevind. Enige oomblik kan dit om haar losbars en sy weet dat sy maklik daarin beseer kan word. Weer oorweeg sy dit om Daphne alles te vertel, maar net die gedagte aan Julius se kil oë laat haar daarteen besluit.

“Ek begryp nie heeltemal nie, Daphne. Wat het Carroll met my te doen? Ek bedoel, sy is met Malcolm getroud.”

“Jy het tog seker al agtergekom wat werklik aan die gang is, Karlien! Ek wil nie moeilikheid saai nie. Verstaan my goed. Ek probeer nie deur kwaadpraatjies ’n wig tussen jou en Julius indryf nie. Maar daardie vroumens beskou Julius jare lank al as haar persoonlike eiendom en sy sal dit nie duld of aanvaar dat Julius nou ’n vrou het nie. Sy sal op elke moontlike manier moeilikheid probeer maak. Die feit dat sý ook getroud is, en dit nogal met Julius se beste vriend, sal geen verskil maak nie.”

Haar stem bly bitter. Die arme Daphne. Eintlik is sy ook magteloos teen ’n vrou soos Carroll, dink Karlien simpatiek.

“Ek kan mansmense soms nie verstaan nie. Hulle moet tog sien, wéét watter soort mens sy is. Maar blykbaar is hulle albei blind. O, en sy weet hoe om hulle te hanteer, glo my! Sy is daardie klein, fyn, ag, so pateties afhanklike soort wat ’n man soos ’n kruis tussen Tarzan en Apollo laat voel. Sy maak my siek met haar hulpelose houdinkies; die patetiese blou ogies wat so droewig kan lyk. Soms speel sy so oortuigend toneel dat ek self lus voel om haar in my arms op te raap en te vertroetel.”

“Daphne!” Karlien kan nie help om te lag nie.

Daphne glimlag wrang. “Jy lag, maar glo my, daar is niks lagwekkends aan die situasie nie.”

Karlien versober dadelik. Dis waar. Eintlik is daar niks om oor te lag nie. Vir haar, Karlien, nog die minste. Sy is tussen twee vure.

“En sy haat jou,” vervolg Daphne reguit en Karlien voel ’n rilling langs haar ruggraat afgaan. “Het jy haar oë gesien toe Julius jou as sy vrou voorgestel het? Sy kon jou vermoor. Sy is siek van jaloesie, en nie net omdat jy Julius se vrou is nie. Nog altyd was sy die petite een op die Seychelle. Die paar ander Westerse vroue op die eiland is meer soos ek, groot en grof en lank – die Amasone-tipe.”

“Ag, nee wat, Daphne, jy is nou verspot. Jy is ’n pragtige mens. Ek beny jou weer jou lengte en mooi figuur,” erken Karlien. “As ’n mens kort en klein is, is mense geneig om op jou kop te sit as hulle nie sommer bo-oor jou loop nie.”

“Dankie, Karlien. Jy doen my moreel goed! In elk geval, nou is jý hier, net so fyntjies en kleintjies soos sy, en …” Daphne glimlag effens geamuseer.

“Ek is nie die hulpelose tipe nie,” verweer Karlien vinnig en Daphne lag gerusstellend.

“Ek sê nie jy sal jou fynheid en kleinheid uitbuit soos Carroll nie, maar jy is ook soos sy gebou en net so petite. In die toekoms sal die mans nie net om haar draai nie. Jy sal baie aandag trek. En Carroll sal nie daarvan hou nie. Wanneer sy in ’n vertrek is, moet sy die enigste vrou wees wat aandag van die teenoorgestelde geslag ontvang. Ons ander vroumense vervaag dan tot sekslose skimme.” Sy sug skielik en kyk Karlien verskonend aan – ’n skewe, meewarige glimlaggie om haar lippe. “Ek is jammer, Karlien. Ek klink soos ’n viswyf.”

“Nee. Ek dink jy is net baie eerlik. En ek is bly dat jy my vriendin is.” Karlien skud haar kop beslis.

Hulle glimlag met mekaar en so word in hierdie laat naguur ’n vriendskap gesluit tussen twee vroue wat eintlik vyande moes gewees het.

“Dankie, Karlien. Miskien is ons almal verkeerd …” sê Daphne sag.

“Wat bedoel jy?”

“Ons dink almal jy is te jonk vir Eden. Maar … miskien gaan jou oorwinning juis daarin lê. Jeug en onskuld is dalk jou pantser. Miskien sal dit sterk genoeg wees om jou teen die gif van die adder te beskerm.”

Karlien trek haar gesig op ’n plooi. “Was die slang in die Paradys ’n adder? Ek het dit nooit geweet nie.”

Daphne lag die eerste keer ongebonde. Dan skud sy haar kop. “Ek begin die gevoel kry dat ek – en die res – jou onderskat het. Ek het die aangename voorgevoel dat ons pragtige, onweerstaanbare Carroll haar tier in jou gaan kry.”

“Dankie.” Die glimlag verdwyn van Karlien se lippe en haar bruin oë is baie ernstig. “Ek hoop jy is reg.”

Lank nadat Daphne se rustige asemhaling verraai dat sy in droomland is, lê Karlien nog met oop oë. Waarin het sy beland, vra sy haarself herhaaldelik af. Dis geen benydenswaardige situasie nie – om getroud te wees met ’n man oor wie twee ander vroue mekaar se oë wil uitkrap. En sy, omdat sy in die middel is, het ’n goeie kans om in die proses ook háár oë te verloor.

Wat het haar besiel? Haar intuïsie behoort haar tog te gewaarsku het dat alles nie pluis is nie, dat Julius se dringende vrousoekery nie om dowe neute kon wees nie. Maar op daardie tydstip het sy net aan Essie gedink. Haar hart en verstand het haar gewaarsku, maar toe was dit nie van belang nie. Solank sy Essie net kon behou. Dit was die belangrikste. Maar noudat Essie veilig is – nou eers, noudat dit te laat is – besef sy in watter lieflike gemors sy beland het.

Gister – was dit maar net gister? – het sy nog gedink dat sy apart van hierdie dinge staan. Dat sy niks daarmee te doen het nie. Dat dit haar regtig nie kan skeel wie op wie verlief is, en wie wie se oë wil uitkrap nie. Maar op hierdie oomblik, enkele ure later, besef sy met ’n skok dat sy teen wil en dank betrokke is, dat sy nie net haar skouers ongeërg kan optrek en dit van haar afskud nie. Sy het beslis belang by die saak.

By hierdie gedagte sper haar oë nog wyer oop. Watter belang kan sy daarby hê? Sy het tog niks met Julius te make nie. Hy is maar net haar man op papier. En tog …

Haar blik dwaal onrustig deur die venster na die tropiese naglandskap wat in helder maanlig gebaai is. Dit máák saak, moet sy aan haarself erken. Die gedagte dat Carroll daarin kan slaag om Julius finaal te verower, krap aan haar. Sy het weliswaar niks met sy lewe te doen nie en wanneer sy oor ses maande weggaan, behoort dit haar nie ’n bloue duit te skeel wie die vrou is wat hy in haar plek stel nie. Maar … sy sal nie graag wil sien dat dit Carroll is nie. Dan liewer, ’n honderd maal liewer, die mooi, uitgesproke Daphne. Ook ter wille van Malcolm – die gawe, goeie Malcolm – hoop sy dat Julius se keuse dan op Daphne Roderick sal val.

Sy sug en draai om. Sy maak haar oë beslis toe, maar die gedagtes wyk nie. As Daphne maar weet hoe magteloos sy is. Sy sal die minste van almal iets aan hierdie netelige situasie kan doen. Want Julius beskou haar as ’n kind, ’n blote kind wat nog moet grootword. Wat meer is, hy het haar reguit beveel om haar neus uit sy persoonlike sake te hou. Dus, Daphne, moenie te veel hoop op my bou nie, my liewe vriendin. Ek kry jou jammer, innig jammer, maar … snaaks, ek kry myself skielik ook jammer. Verspot van my, nè? Julius is maar net my man op papier … dis al. En dan … dit weet jy ook nie … is ek maar net ’n besoeker aan die tuin van Eden; ’n vreemdeling wat môre, oormôre weer sal vertrek.

Karlien voel spyt om die volgende oggend van Daphne en John afskeid te neem. Met ’n betekenisvolle kyk druk Daphne vir Karlien teen haar vas en knipoog dan vir haar. Karlien glimlag bewerig terug. Sy wens Daphne kon bly, al is dit dan net om ’n rukkie hier op Praslin te kuier. Sy voel veiliger met Daphne by haar, maar sy weet dat sy nou iets onsinnigs wens. Indien Daphne langer bly, sal sy baie gou agterkom wat die ware toedrag van sake tussen haar en Julius is. Karlien voel vanoggend bly dat sy gisteraand die drang onderdruk het om Daphne alles te vertel. Laasgenoemde is nou ’n vriendin, ’n ware vriendin, maar sy is bly dat selfs Daphne nie weet dat haar huwelik ’n skynhuwelik is nie.

John maak daar geen geheim van dat hy swaar tot siens sê nie. Oor en oor moet Karlien belowe dat sy Julius sal vergesel wanneer hy na Victoria kom – soseer dat Julius weer ’n donker frons tussen sy wenkbroue kry. Dan groet John, maar hou Karlien se hand opmerklik lank vas. Sy wuif vir hulle tot siens totdat hulle net ’n spikkeltjie is.

“Ek twyfel of John jou nog kan sien waai,” laat Julius droog hoor.

Sy laat haar hand vinnig sak asof iets dit in die lug gepik het. “Ek waai vir albei … nie net vir John nie,” sê sy vererg.

“Werklik?”

Hy draai dadelik om en sy kyk hom verward agterna. Wat sal nou met hom aangaan? Dan skud sy haar skouers ongeërg. Na die maan met hom. Hy is net so onvoorspelbaar soos ’n tropiese storm. Wanneer jy dit die minste verwag, bars dit sonder rede oor jou kop los.

In die dae wat volg, is dit asof Julius ’n bietjie styf en teruggetrokke teenoor haar is, maar omdat sy aan geen oorsaak kan dink nie, vertel sy haarself dat dit maar haar verbeelding is.

Sy sien gelukkig min van Carroll, en daarvoor is sy diep dankbaar. Haar vriendskap met Malcolm verdiep, en waar sy wag dat Julius haar moet saamnooi wanneer hy op inspeksie uitgaan, hardloop sy vrymoedig na die jeep wanneer Malcolm agter die stuur is. Hy ontvang haar altyd met ’n vrolike glimlag. Hulle het groot vriende geword en Malcolm se lag klink dikwels op. Julius merk dit op. Dat daar ’n baie spontaner verhouding tussen Malcolm en Karlien is as tussen haar en hom, is duidelik. Maar as iemand dit raaksien, word daar geen aanmerking oor gemaak nie.

As Malcolm hom soms vraend aankyk, maak Julius asof hy dit nie raaksien nie. En as daar soms iets in Julius se oë is wat vantevore ontbreek het, ’n weemoed amper, gee Malcolm weer voor dat hy niks opgemerk het nie.

Karlien se dagdrag bly maar T-hemde, kortbroeke en haar los vlegsel. Mettertyd neem haar vel ’n brons kleur aan, en tot haar ontsteltenis wys Malcolm op ’n dag ’n paar sproete op haar neus uit. Sy vryf heftig met haar voorvinger daaroor.

“Laat staan maar, kleintjie. Jy dink tog nie dat jy hulle afgevryf sal kry nie!”

“Maar dis lelik!”

“Nie as hulle op so ’n neusie sit nie. Nie waar nie, Julius?”

Die twee mans het ná die gloeiende hitte koue bier op die stoep kom drink. Julius kyk haar stip van bo tot onder deur totdat sy lus het om vir hom te sê: die sproete sit op my neus, nie op die res van my nie!

Toe hy antwoord, praat hy nie van sproete nie. “Die wet van die natuur sê dat ’n vrou gouer in die trope ryp en oud word. Maar jy … Ek is seker jy is besig om nog jonger te raak.” Sy blik is spottend. “Miskien het dit tyd geword om jou van die verbode vrug te gee. Op die een of ander wyse sal ek die groei in die verkeerde rigting moet keer, of hoe, Malcolm?”

Karlien se bruin oë flits vererg van die een na die ander.

Malcolm skud sy kop. “Jy kan hom nie kwalik neem nie, kleintjie. Jy lyk, met daardie klere en die vlegsel, sproete op die koop toe, net mooi tien jaar jonger as die dag toe julle hier aangekom het. En toe het ons almal gedink Julius het êrens ’n verlore dogter ontdek.”

Karlien doen haar bes om haar waardigheid te behou. “Ek dink glad nie julle is snaaks nie. Soos julle te kere gaan, veral Julius, sal ek een van die dae Essie se doeke moet begin dra.”

Malcolm se hartlike lag klink op en Julius grinnik ook.

“Sal John Roderick nie ingenome wees nie!”

Karlien kyk hom verbaas aan. “Wat het John Roderick met die saak te doen?”

“Hy …” Malcolm se mond gaan dadelik toe die oomblik dat hy die skielike frons op sy vriend se gesig sien. “Nee … ek meen maar … jy sal al wat man is op die Seychelle op loop hê.”

Karlien klik haar tong vererg en spring op. “Julle praat twak. Verskoon my, asseblief, ek gaan stort.”

Toe Karlien weer uitkom, is Malcolm weg en sy vra teleurgesteld: “Is Malcolm dan al weg? Hoekom so vroeg? Hy bly mos gewoonlik ’n rukkie langer.”

Julius se wenkbroue plooi weer saam en sy stem klink gevaarlik droog. “Malcolm het, as jy sal onthou, ook ’n vrou aan wie hy soms aandag moet gee.”

Sy kyk hom skerp aan en sê dan ongeërg: “O! Ja, natuurlik!”

Sy wil sommer weer binnegaan, maar hy roep haar terug.

“Karlien …”

“Ja?”

Sy staan voor hom, haar kop skaars tot by sy skouer, die hande agter die rug, die bruin oë vraend. Sy lippe pers ’n oomblik saam.

“James Roderick gee môreaand ’n ete in Victoria vir sy bestuurders en hul vroue. Ons sal daar oornag; ons plekke is reeds bespreek in die Pirates’ Arms. ’n Dubbelkamer, natuurlik.” Sy mond trek op ’n grimmige glimlag. “Kyk of jy weer so netjies daaruit kan kom soos die vorige keer.”

Sy kyk hom verslae agterna toe hy kortom draai en wegstap. Dan pers haar lippe ook saam. Ek sal jou wys, Julius Schreider. Ek sál ’n plan maak.

Toe hulle die volgende dag saam met die Days op Mahé aankom, wag Daphne en John hulle op die kaai in. Daphne stel Karlien dadelik gerus.

“Julle kom na ons toe. Ek het klaar gereël. Dis te sleg vir jou met die kleintjie in die hotel. Ek het ook iemand gekry om vanaand ’n ogie oor haar te hou.”

“Dankie, Daphne. Dis gaaf van jou,” sê Karlien dankbaar. “Sy is reeds ’n bietjie lastig die afgelope paar dae. Ek dink dis tandjies wat wil deurkom.”

Malcolm en Carroll word by die hotel afgelaai waar die ander bestuurders en onderbestuurders van die maatskappy en hul vroue tuisgaan. Dan ry John ’n bietjie deur Victoria sodat Karlien eers iets van die hoofstad kan sien.

Karlien kyk belangstellend rond. Die meeste winkels is in die hoofstraat geleë en behoort hoofsaaklik aan Indiërs, word sy ingelig. Dan draai hulle af en ry met ’n kronkelende pad die berg uit en eerlank bereik hulle die woning van die Rodericks.

Daardie middag het James Roderick as direkteur en Julius as uitvoerende hoofbestuurder ’n vergadering met hul bestuurders. Terwyl hul vroue die geleentheid benut om die winkels te besoek, word Daphne, Karlien en John aan hulself oorgelaat. Toe John voorstel dat hulle gaan tennis speel, bedank Daphne dadelik.

“Nee, John. Ek sien net nie kans in hierdie hitte nie. Ek sal na Essie kyk, dan gaan jy en Karlien. Julle twee het blykbaar ewe veel energie.”

John kyk vraend na Karlien en sy knik.

“Goed. Ek sal dit nogal geniet. Ek het onthou om klere saam te bring, want jy het mos die vorige keer in daardie rigting geskimp.”

Daphne kyk haar glimlaggend aan. “Jy verbaas my elke dag meer en meer, Karlien. Jy het jou darem maklik by die tropiese klimaat aangepas. Gewoonlik is die tropiese hitte ’n moordenaar – veral aan die begin.”

Karlien verskyn ’n rukkie later, weer in haar “eilanddrag” – T-hemp, kortbroek en seilskoene. John trek Karlien tergend aan die vlegsel motor toe. Soos twee stout kinders lyk hulle, en Daphne staar die motor lank agterna.

Toe James Roderick en Julius laat die agtermiddag terugkeer van die konferensie, is John en Karlien nog nie terug nie.

Julius lyk dadelik ontevrede en wil net omdraai om hulle te gaan soek, toe John se motor voor die huis stilhou. ’n Bloedrooi verbrande Karlien en ’n effens skuldige John verskyn voor hulle waar hulle op die stoep sit en bier drink.

“Goeie genugtig, Karlien, jy is mos darem nie só ’n kind nie! Kyk hoe lyk jy!” Julius probeer nie eens om sy woede te beteuel nie. Sy oë flits ook kil na John, direkteur se seun ofte nie. “En jy behoort van beter te geweet het, John. Geen mens by sy volle verstand gaan in die trope op die helder middag tennis speel nie. Laat dit net weer gebeur …”

Karlien voel so verneder dat sy byna hardop bid dat die grond haar moet insluk. Sy is eintlik skaamkwaad. Sy weet sy moes van beter geweet het, maar dis nie vir Julius nodig om haar voor James Roderick en Daphne uit te trap asof sy ’n stout kind van twaalf is nie. Liewe aarde, sy is darem sy vrou!

John probeer wal gooi.

“Ek is jammer, Julius. Ons het nie die hele tyd gespeel nie. Ons het met rukke in die koelte gesit en rus. Ek het ook nie gedink die son sou haar so vang nie. Sy is dan al so bruin.”

“Dis die probleem met die jeug. Julle dink nie,” is die ysige antwoord wat hy kry. James Roderick en Daphne kyk vinnig na mekaar, duidelik geamuseer. Julius se bevel kom kortaf: “Gaan dadelik kamer toe, Karlien. Ek sal nou salf kom aansmeer …”

Maar die bruin oë blits nou ook. “Daphne sal my kom help, dankie. Jy raak nie aan my nie.” Sy storm deur toe en daar draai sy om en háár stemmetjie klink nou ysig. “En die moeilikheid met vandag se óú mense is dat hulle vergeet het hulle was ook eenmaal jonk!”

Daphne kan haar lag nie langer keer nie en sy kyk onverskrokke terug in Julius se koue oë, haar eie blink van pret.

“Bravo vir die kleine Karlien! Jy moet darem erken, Julius, jy het dit verdien. Jy het kompleet soos ’n oupatjie van oor die honderd geklink.”

Julius moet teësinnig glimlag. “So ’n klein snip! Sy het ’n gans te parmantige bekkie op haar lyf. Maar regtig, Daphne, sy kan dodelik siek word. Neem haar koors wanneer jy gaan salf aansmeer. Sy kan sonsteek kry.”

Daar is duidelike kommer in sy stem en Daphne staan dadelik op.

“Ek sal gaan kyk. Moenie bekommerd wees nie. Sy is taaier as wat sy lyk.”

In meer as een opsig taaier, dink haar ontstoke man.

Toe Daphne binnekom, staan Karlien reeds net in haar onderklere en nou kan die skade wat deur die son aangerig is, nog duideliker gesien word.

“Regtig, Karlien, jy was darem baie stout. Kyk hoe lyk jou bene …”

“Asseblief, Daphne, moenie jy nou ook begin om my aan te spreek asof ek nog luiers dra nie! Dis genoeg dat ek dit elke dag van Julius moet sluk. O, eina! Moenie daar vat nie!” skreeu sy en Daphne glimlag.

“En moenie jy met my parmantig raak nie, Karlien. Ek vat weer daar, en hierdie keer sommer hard!” dreig sy. “Jou man het jou netnou ’n klein snip genoem en dis presies wat jy is. Jy behoort ’n deftige paar houe op jou rooi beentjies te kry om so met jou bekommerde man te praat!”

Karlien snork. “Hy, bekommerd? Hy geniet dit, glo my! Dit gee hom mos weer kans om sy lyf grootmeneer te hou!”

Daphne skud haar kop glimlaggend. “Gaan spring onder die stort in. Ek gaan haal gou die salf,” beveel sy dan kwaai.

Nadat Daphne die salf versigtig ingesmeer het, druk sy ’n koorspen in Karlien se mond.

“Waarvoor is dit?”

“Bly stil. ’n Mens praat nie met ’n koorspen in jou mond nie. Ek wil nie nog glassplinters ook uit jou haal nie. Julius het gesê ek moet jou koors neem.”

Karlien dop haar oë om om haar verontwaardiging te toon. Toe Daphne die pen uithaal, laat Karlien ontevrede hoor: “Hemel, julle twee is nou regtig belaglik. Ek makeer niks nie.”

Maar toe sy haar begin aantrek vir die aand se geselligheid, is sy verplig om Daphne se hulp in te roep. Sy is so styf en seer soos ’n ou tannie van tagtig wat die marathon aangedurf het. Sy voel siek en koorsig, maar veg daarteen sodat niemand dit moet agterkom nie. Toe hulle vertrek, Daphne en John agter in die motor, sit sy net op die puntjie van die sitplek, en hoewel dit lyk asof sy doelbewus so sit om met die twee agter in die motor te gesels, dwaal Julius se blik dikwels opsommend oor haar.

Die res is reeds by die Pirates’ Arms toe hulle daar aankom. As die vrou van die uitvoerende hoofbestuurder moet Karlien haar plek tussen James Roderick en Julius by die hooftafel inneem, en dit voel vir haar asof sy in die grond kan sak toe sy die veelseggende blik van elke gas op haar gewaar.

Carroll, regoor haar, buk oor die tafel en laat in ’n helder stem hoor: “Op die aarde, wat het jou oorgekom? Jy lyk soos ’n kalkoen wat in ’n pot kookwater geval het. Jou neus het nie ’n enkele vel op nie!”

Karlien voel hoe haar brandende wange nog warmer word. Sy voel skielik die trane agter haar oë brand, maar sê dapper: “Dis presies wat gebeur het. Ek hét in ’n pot kookwater beland.”

Die ander gaste lag, maar Carroll se oë verhard. Karlien weet dat sy hiervoor nie ongestraf sal bly nie. Carroll sal sorg dat sy terugbetaal word. Maar op hierdie oomblik gee Karlien nie meer om nie. Haar hele liggaam is aan die brand en sy bid net dat hierdie aand gou moet verbygaan.

Sy betrap John se bekommerde blik op haar en glimlag gerusstellend vir hom. Sy knik ook vrolik, en net sy weet wat dit werklik van haar verg. Hy knipoog verlig terug en nie een van die twee kom agter dat Julius skielik weer diep frons nie.

Heelwat later maak Karlien verskoning om kleedkamer toe te gaan en toe sy uitkom, stap sy eers in die tuin uit sodat die effense luggie soos ’n koel balsem teen haar vel kan aandruk. Sy wil net terugdraai, bang dat iemand haar lang afwesigheid sal agterkom, toe sy ’n man agter ’n struik sien uitkom. Eers kan sy nie agterkom wat aangaan nie. Dan besef sy dat hy gebukkend, inmekaargetrek loop soos iemand wat pyn het.

Sy stap so vinnig as wat haar toestand haar toelaat nader. “Meneer, kan ek help? Voel u …? Malcolm! Malcolm, wat makeer?” vra sy ontsteld toe sy die verwronge gesig herken. Hy antwoord nie, beduie net magteloos met ’n hand en haar oë rek verskrik. Hy is siek. Daarvan is sy oortuig. Hy is sommer baie siek.

“Bly hier. Ek … ek gaan gou hulp kry,” stamel sy, maar sy hand skiet uit en gryp haar pols vas.

“Nee!” Sag, hees, skaars hoorbaar maar baie beslis. Sy aarsel.

“Maar jy is siek. Ek moet iemand gaan roep …”

“Nee!” Met ’n byna bomenslike poging trek Malcolm sy ineengekrimpte liggaam reguit en vee met ’n bewende hand die koue sweet van sy voorkop af. “Nee. Dit sal nou oor wees. Moenie … iemand roep nie.”

Sy kyk paniekerig om haar rond en gewaar ’n tuinbankie. Sy neem sy arm. “Kom. Kom sit eers ’n bietjie.”

Hy laat toe dat sy hom lei en sak met ’n sug neer, sy oë toe.

Karlien hou sy bleek gesig beangs dop. “Malcolm, wat makeer? Jy het pyn, nie waar nie?”

Hy knik en sy stem is gedemp. “Ja. Maar dis nie so erg nie. Net met rukke. Ek het my pille op Praslin vergeet. Moet jou nie ontstel nie.”

“Maar natuurlik ontstel ek my. Jy is baie siek. Wat is die moeilikheid?”

Hy maak sy oë oop en kyk lank na haar. Hy probeer glimlag, maar dit verg te veel inspanning. “Dis niks nie, Karlientjie. Regtig. Ek het eenkeer ’n tropiese koors opgedoen. Dis maar sommer die nagevolge wat nog soms kop uitsteek. Solank ek my pille gereeld drink, is alles reg. Asseblief, beloof my dat jy niemand hiervan sal vertel nie. Ook nie vir Julius nie. Hy kan tog so gaande raak en … dis regtig net ’n kleinigheid. Beloof jy my?”

Sy hand soek bewend na hare en haar vingers knel styf om syne. Sy byt haar onderlip vas en kyk hom onseker aan. Dit kan die waarheid wees, maar … hy kan ook jok. Dan beloof sy maar.

“Goed. Ek sal niemand vertel nie. Maar jy moet jouself beter oppas, Malcolm.”

Sy klink soos ’n bekommerde ma, hierdie kind-vrou van sy grootste vriend. Hy druk die skraal vingers innig. “Ek sal. Ek beloof.” Sy ander hand streel oor haar wang. “Jy is ’n dierbare mensie, Karlien. Jy moet jouself ook goed oppas. En vir Julius. Hy is ’n man – deur en deur. Julle moet baie gelukkig wees, kleintjie. Die lewe … die lewe gaan so gou verby. En jy … jy is iets besonders. Jy laat my amper weer glo dat daar nog mooi en goeie dinge in die lewe kan wees. Ek wonder of Julius ooit besef watter juweeltjie hy na Eden saamgebring het.”

Karlien se lippe begin bewe. “Baie dankie, Malcolm, maar ek verdien nie al die lof nie. Jy laat my … hartseer voel.”

“Nee, kindjie. Jy moenie hartseer wees nie. Jy en Julius moet gelukkig wees, soos Adam en Eva vóór … die verbode vrug. En, Karlientjie, as daar ooit iets is waarmee ek kan help, enige hulp van watter aard ook al, onthou, ek is jou vriend. Sal jy dit onthou? Sal jy?”

Karlien sluk swaar. “Natuurlik, Malcolm. Natuurlik is jy my vriend. Ek weet dit.”

Hy knik en gee ’n diep sug. “Gaan nou in. Hulle sal na jou begin soek. Ek sal oor ’n minuut daar wees.” Toe hy sien sy aarsel nog, sê hy: “Toe nou, kleintjie. Jy kan met ’n geruste hart gaan. Ek voel amper weer reg. En onthou, nie ’n woord hiervan aan enigiemand nie, hoor?”

Sy staan gehoorsaam op, draai ná ’n lang, bekommerde blik om en begin terugstap.

Dan verskyn ’n gestalte skielik voor haar in die maanlig. “Wat is die bedoeling hiervan, Karlien?”

Sy ruk soos sy skrik. “Wat … bedoel jy?”

“Jy is al langer as ’n halfuur weg.” Die poolwindstem laat die hoendervleis op haar uitslaan. “Saam met wie was jy hier buite?”

“Met … wie?” adem sy verskrik. Die eerste oomblik wil sy hom sommer dadelik vertel dat sy saam met Malcolm was, maar dan onthou sy. Sy het beloof dat sy niemand sal vertel nie, spesifiek nie vir Julius nie. Sy durf hom nie vertel van Malcolm se aanval nie en dit sal sekerlik verdag klink as sy moet erken dat sy en Malcolm amper ’n halfuur lank in die maanverligte tuin was. Al is hulle ook watter goeie vriende, sal dit beslis vreemd voorkom.

“Karlien! Antwoord my!”

“Ek … ek het ’n bietjie lug kom skep.”

“Dis ’n infame leuen! Ek het ’n man agter jou gesien. Wie wás dit?” Hy ruk haar so ru aan haar boarm nader dat sy byna gil van die pyn. “Of sal ék jou sê? John Roderick is ook al ’n lang ruk nêrens te sien nie.”

Karlien staar hom met groot oë aan. “Jy … dink tog nie … Jy dink ek en … John …”

Sy gesig lyk bleek in die maanlig. “Ek dink dit nie, ek wéét dit!” sis die stem bokant haar en sy voel haar bene onder haar knak.

Ena Murray Keur 11

Подняться наверх