Читать книгу Ena Murray Keur 13 - Ena Murray - Страница 5
2
ОглавлениеDeon en Elmarie staan nog ’n rukkie sprakeloos en verslae na die deurmekaar kamer en kyk. Met die eerste oogopslag lyk dit asof ’n orkaan die kamer getref het. Die ingeboude kas en deure en al die laaie staan wawyd oop. Deurmekaargebondelde klere hang halfpad uit of lê oor die vloer versprei. Selfs die bed het deurgeloop. Die beddegoed is afgestroop en die matras lê asof dit ook opgelig en deursoek is.
“Ek kan dit nie begryp nie,” sê Elmarie, nog verdwaas. “Die deur was gesluit en …”
“Vir iemand wat sy werk ken, is dit kinderspeletjies om by ’n geslote deur in te kom. Ek wonder of daar by ander kamers ook ingebreek is. Waar is jou geld? Het jy al gekyk?”
“Ek het net ’n bietjie by my gehou. Die res en my paar stukkies juwele het ek by die hotelbestuurder ingedien.” Sy frons verbaas toe sy ’n oop handsak van die vloer af optel. “Dis vreemd. Hier is die geld nog, maar die handsak is bepaald deurgesnuffel!”
Deon se wenkbroue trek ook nou skerp saam.
“Dan was dit nie ’n gewone inbraak nie. Ek wonder …”
Sy kyk hom effens verskrik aan.
“Wat bedoel jy, Deon?”
Sy blik gaan peinsend oor die deurmekaarspul.
“Hier is niks gesteel nie. Hoewel die handsak oopgemaak is, is die geld nie gevat nie. Met ander woorde, die motief agter hierdie inbraak was nie diefstal nie. Hier is na iets spesifieks gesoek, Elmarie.”
Sy lyk verward.
“Maar kan dit wees, Deon? Wat kan ek in my besit hê waarin ’n onbekende persoon of persone in Egipte kan belangstel? Wat meer is, ons het maar vandag hier aangekom. Hoe kan hulle nou al vermoed dat ek dit het – wat dit ook al is?”
“Ek weet nie, maar ek het net die gevoel dat ek reg is, dat die inbreker of inbrekers na iets spesifieks in jou kamer gesoek het. Maar maak eers seker dat hier regtig niks weg is nie. Ek wil net in my kamer gaan kyk of hulle nie miskien ook daar was nie. Ek dink hierdie saak moet vanaand nog by die hotelbestuurder aangemeld word. Ons gaan netnou weer af ondertoe.”
Ná ’n paar oomblikke keer Deon terug en op die vraag in haar oë antwoord hy: “Nee. Daar is nie by my kamer ingebreek nie. Agtergekom dat iets weg is?”
“Nee. Niks. Net …” Sy skud haar kop.
“Ja?”
Elmarie lag effens senuweeagtig en haar stem klink verskonend. “O, dis seker nie van belang nie. Dis seker maar iets wat die vorige persoon hier laat lê het. Hier is dit.”
Sy hou ’n wit papiertjie na hom uit en hy kyk verbaas daarna.
“Waar het jy dit gekry?”
“Op die kassie langs die bed.”
“Het jy dit nie vroeër vandag daar opgemerk nie?” Hy kyk haar skerp aan.
“Nee … e …” Haar stem klink onseker. “Dit kon daar gelê het. Ek het dit miskien net nie opgelet nie. In elk geval is dit net ’n ou tekeninkie. Dit kan tog nie iets met die inbraak te doen hê nie.”
Deon kyk weer fronsend af op die papiertjie in sy hand.
“Ek wonder wat dit is? Dit wil bekend voorkom.”
“Ja, vir my lyk dit ook soos iets wat ek al tevore gesien het, maar ek kan nie dink waar nie.”
Hy steek die tekening in sy binnesak.
“Kom ons gaan kyk of ons die hotelbestuurder in die hande kan kry.”
Deon en Elmarie sit by ’n tafeltjie op die grasperk toe die hotelbestuurder hom by hulle voeg. Die grasperk en sitkamers is nog vol mense, al is dit reeds laat. Nadat die bestuurder plaasgeneem het, vertel Deon hom wat gebeur het.
“Ek is trots daarop dat sulke dinge nog nooit in my hotel gebeur het nie. Maar, nou ja,” en hy trek sy skouers gelate op, “ek is baie jammer daaroor, juffrou. Wat vermis u?”
“Gelukkig niks nie.”
“Daar word selfs nie eens geld vermis nie,” voeg Deon by.
“Dis eienaardig. Hoekom sou hulle dan ingebreek het?” Die man frons.
“Dis wat ek ook wonder,” stem Deon saam en steek sy hand in sy binnesak. “Kan u my sê wat dit is?”
Die bestuurder kyk lank daarna. Sy stem klink effens gedemp toe hy eindelik antwoord: “Dis ’n skarabee. Waar kom u daaraan?”
“Ek het dit in die gang opgetel,” antwoord Deon sonder om te blik of te bloos.
Hoekom sou Deon ’n leuen vertel? wonder Elmarie verbaas.
“Hoekom vra u?” wil Deon nou weet.
Die hotelbestuurder se laggie klink senuweeagtig, sy antwoord ontwykend. “O, nee, sommer.”
“Wat is ’n skarabee?” vra Deon weer, en Elmarie loer vinnig na hom. Sou hy werklik nie weet nie of het hy vergeet van die hangertjie?
“Maar dit weet jy tog, Deon, of het ek jou nie vertel nie? Dis ’n soort kewer, en hier in Egipte word dit as ’n heilige insek beskou – nie waar nie, meneer?”
Die oë wat na haar kyk, is effens nougetrek.
“U is heeltemal in die kol, juffrou. Waar het u dit gehoor?”
“Dis nie ’n geheim nie, is dit?” vra Deon vinnig.
“Nee, natuurlik nie.” Dit lyk asof hy wil opstaan. “U sal my nou moet verskoon …”
Deon keer hom egter.
“Nog net een vraag, asseblief. Ken u ’n man met die naam van Hoessein?”
“Natuurlik! Wie ken hom nie? Hoekom?”
“Ek vra maar. Het al van hom gehoor. Wie is hy eintlik?”
“Hy is Hoessein Abd-el-Rahman, ’n skatryk Egiptenaar met sy eie oase en duur Amerikaanse motors. Hy is baie gewild, veral onder die skoner geslag,” en hy lag skalks in Elmarie se rigting.
“Ja, maar wat dóén hy?”
“Niks nie, sover ek weet. Hy het nie nodig om iets te doen nie.”
“Wat is die bron van sy rykdom?”
“Dit weet ek nie. Ek weet net hy is ryk. Daar word natuurlik allerhande dinge agter sy rug vertel.”
“Soos wat byvoorbeeld?”
Die bestuurder aarsel en trek sy skouers op.
“Ag, u weet, die gewone dinge. Dat niemand eintlik weet wie hy is, waar hy vandaan kom, wat die bron van sy rykdom is nie, en so meer. Hy is beslis ’n geheimsinnige figuur. Hy is natuurlik een van die bes opgevoede en verfyndste mense wat ek al ontmoet het. Maar niemand raak ooit intiem bevriend met hom nie. Hy is dikwels in Kaïro, maar word dan weer lang rukke nie gesien nie. Dan is hy by sy oase en daar gaan niemand glo kuier as jy nie persoonlik deur hom genooi is nie. Hierdie geheimsinnige manier van hom om niemand by sy oase toe te laat sonder sy toestemming nie, het natuurlik al wilde stories gebaar.”
Elmarie hang omtrent aan sy lippe en vra vinnig: “Watse stories?”
“Stories soos dat hy byvoorbeeld ’n groot harem daar aanhou, en nog sulke vergesogte dinge,” lag die man.
“Hoekom so vergesog? Dis nie onmoontlik nie,” laat Deon hoor.
“Nee, dis nie onmoontlik nie, maar tog – as u hom ’n bietjie beter leer ken, sal u begryp. In sy gedrag en maniere is hy meer Westerling as Oosterling en ek kan my net nie voorstel dat Hoessein Abd-el-Rahman iets soos ’n harem sal aanhou nie. Dit … stryk net nie met die man se aard nie.”
“Ja, u is reg. Ek dink ook dis kaf.” Elmarie knik haar kop nadenkend.
Deon kyk spottend na haar en keer hom dan weer na die man regoor hom.
“Daardie man moet ’n besondere bekoring vir vroue besit. Juffrou Widd het hom nog net twee keer gesien en sy is reeds diep beïndruk. Dit maak die storie van die harem vir my glad nie so onaanvaarbaar nie.”
Die hotelbestuurder lag hartlik en Elmarie frons vererg.
“As u dink dat Hoessein ’n flirt is, maak u ’n fout, meneer. Dis heeltemal waar dat die teenoorgestelde geslag hom uiters aantreklik vind, maar hy word altyd met één vrou gesien.”
“Wie is sy?”
“Farah, die dogter van ’n ander ryk Egiptenaar. Hulle is reeds twee jaar lank onafskeidbaar. Dit verbaas my dat die huwelik nog nie plaasgevind het nie.”
“Gaan dié Hoessein ook altyd hier tuis wanneer hy in Kaïro is?” wil Deon weet.
“Hy het ’n permanente stel kamers hier. Hy is nou weer hier tuis.”
Elmarie kyk vinnig op. “’n Stel kamers?”
“Ja. Op die heel boonste verdieping is luukse woonstelle wat uitsluitlik gehou word vir vername gaste, soos oorsese politici. Hoessein het een van hulle. Dit kos hom natuurlik ’n klein fortuintjie, want sy woonstel het ’n privaat daktuin en alles.” Hy staan op. “U sal my regtig nou moet verskoon. Juffrou, ek kan die saak by die polisie aanmeld as u wil.”
“Ek dink nie dis nodig nie,” antwoord Deon vinnig. “Daar is tog niks weg nie.”
“Dis baie vriendelik van u.” Die bestuurder lyk verlig. “Ek is natuurlik bang vir die publisiteit. Dit kan die hotel se naam groot skade berokken. Miskien kan ek êrens in die toekoms vir u ’n klip uit die pad rol. Baie dankie, weer! Goeienag.”
Daar is ’n oomblik stilte nadat hy tussen die malende gesigte verdwyn het.
Dan merk Deon op: “Dié Hoessein Watsenaam klink na ’n interessante man. Ons kan hom gerus van nader leer ken.”
“Ek het dit al lankal gedink.” Elmarie kyk hom opgewonde aan. “Miskien sal hy ons nog kan help. Hy sal seker …”
“Nee!” Sy stem klink ongewoon streng. “Nee, Elmarie. Dit moet jy my belowe. Jy mag hierdie man nie in jou vertroue neem nie. Hy mag niks weet van Marcelle of die rede hoekom ons hier is nie. Verstaan jy?”
“Werklik, Deon, ek dink jy is nou ’n bietjie verspot met jou agterdog.” Sy kyk hom fronsend aan. “Jy vertrou selfs nie die hotelbestuurder nie! Hoe sal ons ooit ’n spoor van Marcelle ontdek as ons niemand in ons vertroue durf neem en navraag doen nie? Ek voel dat Hoessein, wat so bekend is en seker baie invloed het, ons miskien nog sal kan help.”
“Nee, beslis nie, Elmarie. Ek vertrou daardie man nie.”
“Maar hoekom nie? Jy het geen rede …”
“O ja, ek het. Daardie storie van die harem …”
“Deon! Jy wil my tog nie kom vertel dat jy daardie onsin glo nie! Jy … jy kan tog nie dink dat daar ’n moontlikheid bestaan dat hy Marcelle … Marcelle …”
“Ek glo alles totdat die teendeel bewys is. Dis nie onmoontlik nie, Elmarie! Dit kán so wees!”
Sy oorweeg sy woorde en erken dan teësinnig: “Nee, dis seker nie onmoontlik nie, maar … maar ek wéét net dit is nie so nie!”
Deon lyk openlik ontevrede. “Jy is net so behep met die man soos al die ander –”
“Moenie belaglik wees nie, Deon,” val sy hom vererg in die rede. “Ek het hom vandag vir die eerste keer ontmoet …”
“Juis – en vanaand ken jy hom so goed dat jy niks verkeerds van hom wil hoor nie!” Dit bring haar tot swye en hy vervolg: “Bly weg van daardie man af, Elmarie. Hy is gevaarlik. Al het hy dan ook op die aarde niks met Marcelle te doen nie, is dit nog beter vir jou om uit sy pad te bly. Daar kan niks goeds kom van ’n vriendskap tussen julle nie.”
Elmarie weet nie wat haar makeer nie, maar sy voel skielik na aan trane. Sy tel haar handsak vinnig op.
“Ek gaan slaap,” sê sy dan kortaf, maar Deon se hand op haar arm hou haar terug.
“Wag eers. Jou held het so pas met sy duur motor hier stilgehou. En hy is nie alleen nie. Hier kom hulle aangestap. Ek dink dis die beeldskone Farah van wie die hotelbestuurder vertel het daar by hom.”
Elmarie bly sit. Hoessein en sy metgesel gaan sit by ’n tafeltjie omtrent tien meter van hulle af. Hy sit met sy rug na hulle en die vrou neem regoor hom plaas. Hoessein se breë rug versper die vrou se profiel, maar skielik buig hy effens vooroor en dan kyk Elmarie vas teen die beeldskone gesig. Die donker oë kyk stip, kil in hare en Elmarie is nie in staat om haar blik weg te skeur nie.
Toe Hoessein weer regop sit en haar uitsig versper word, voel Elmarie ’n koue rilling langs haar ruggraat afgaan. Sy gril effens en staan vinnig op, skielik haastig om weg te kom uit die onmiddellike omgewing van die twee mense by die tafeltjie ’n entjie van hulle s’n af.
Deon volg haar stilswyend, blykbaar ook nie lus om verder te gesels nie.
Elmarie stap direk na haar venster en kyk oor die groot terras uit. Vanaf die tweede verdieping gaan haar blik oor die tafeltjies, maar daar is nou geen teken van Hoessein en sy vriendin nie. Hulle moet vertrek het pas nadat sy en Deon ingekom het. Elmarie voel rusteloos. Hoewel dit reeds na aan middernag moet wees, voel sy glad nie vaak nie. Daar woed ’n tweestryd in haar en ná ’n kwartier gee sy die stryd gewonne.
Daardie luukse woonstel van Hoessein op die boonste verdieping … En tog het sy hom uitdruklik geëien as die persoon wat ’n paar uur gelede by ’n kamer verder af in hul gang in verdwyn het. En dít pas … pas voordat sy die chaos in haar kamer aangetref het! Dit wás hy wat sy gesien het. Sy is seker daarvan. As hy ’n woonstel op die boonste verdieping het, wat het hy hier in hul gang gesoek?
Teen haar sin voel sy hoe haar voete haar na die deur dra. Haar hand huiwer op die deurknop. Dan, asof sy haarself net nie langer kan keer nie, stap sy in die gang uit. Die skerp hoofligte is afgeskakel en net die muurliggies gooi ’n flou skemering in die lang gang. Sy gewaar niemand nie. Versigtig sluip sy op die sagte mat by Deon se kamerdeur verby en is effens kortasem toe sy eindelik voor ’n toe deur tot stilstand kom.
Sy aarsel, klop dan saggies aan. Daar kom geen reaksie nie. Versigtig draai sy die deurknop. Dit gee mee. Stadig raak die skrefie al groter en haar bewende vingers tas na die skakelaar.
Die volgende oomblik flits die elektriese lig aan en die leë kamer, duidelik een wat nie op die oomblik gebruik word nie, is ’n antiklimaks. Wat sy eintlik verwag het, weet sy self nie, maar sy voel buitensporig verlig. Maar byna dadelik kom die treiterende vraag weer by haar op … Maar wat hét Hoessein dan in hierdie kamer kom soek? Die agterdog groei weer teen wil en dank aan en met ’n bekommerde frons draai sy om en skakel die lig af.
Haar gesnak na asem is duidelik hoorbaar. Die man wat so in die voorgrond van haar gedagtes is, staan skaars ’n tree van haar af in lewende lywe. Sy staar magteloos op in die donker oë wat skerp op haar gerig is. Maar nou glimlag hy nie soos die vorige kere nie, en op hierdie oomblik merk Elmarie op hoe ongenaakbaar streng sy gesig werklik is … dat die mond selfs wreed kan lyk wanneer die lippe grimmig opmekaar gepers is soos nou. Sy wil skree, maar haar keel word toegetrek deur ’n band van vrees, en sy voel so verlam van skok dat sy selfs nie kan terugdeins toe hy sy hande na haar uitstrek nie.
Deur ’n suising in haar ore hoor sy hom vra: “Wat makeer? Jy is bleek!” Sy hande lê op haar skouers en sy voel hoe sy effens nader getrek word. “Wat is dit, Elmarie?”
Sy vra die eerste ding wat in haar gedagtes kom: “Hoe ken jy my naam?”
Hy glimlag.
“Dit was nie so moeilik om dit vas te stel nie.” Dan frons hy liggies terwyl sy blik na die nommer op die deur agter haar gaan. “Dit is nie jou kamer nie. Wat het jy hier kom maak?”
Sy roer onder sy hande en slaan haar ooglede verbouereerd neer.
“Ek … ek het deurmekaar geraak met die nommers. Wat soek jý hier?”
“Ek het jou kom vra om ’n drankie saam met my te kom drink.”
Sy kyk hom verbaas aan.
“Dié tyd van die nag? Dis seker al oor twaalf!”
“Dan is daar nou al twee dinge wat ek van jou weet wat die hotelregister my nie kon vertel nie. Jy hou nie van snelheid – of om ná middernag ’n drankie te drink nie!” Sy oë is tergend. “Jy is ’n interessante vrou, Elmarie Wiid. Ek sal jou graag beter wil leer ken. Sê my, waarmee kan ek jou hierdie tyd van die nag na my woonstel lok?”
Toe hy haar ’n interessante vrou noem, het haar hart onwillekeurig vinniger begin klop. Niemand het haar nog ooit dít genoem nie. Maar nou kyk sy hom wantrouig aan. Hy erken openlik dat hy haar na sy woonstel wil lok! Sy trap ongemaklik rond en voel die drukking van sy vingerpunte op haar skouers verskerp.
“Jy is tog seker nie bang om alleen met my te wees nie, of is jy?”
“Ek …” Sy weet nie wat om te antwoord nie. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy so ’n man ontmoet en sy weet nie hoe om hom te hanteer nie.
“Sal jy nie daarvan hou om my woonstel te sien nie? Dit het ’n daktuin en daarvandaan kan jy oor Kaïro se liggies uitkyk en die Nyl duidelik in die maanlig sien blink. Dis ’n pragtige gesig en iets om in die herinneringskis weg te bêre vir wanneer jy terug is in jou land.”
Sy kan die versoeking nie weerstaan nie. Sy is wel bang om alleen met hierdie man te wees, maar terselfdertyd is daar ’n opgewondenheid, ’n vreemde afwagting in haar aanwesig.
Haar blik gaan vinnig na Deon se kamerdeur. Sy wil liewer nie dink aan wat sal gebeur as Deon haar nou saam met Hoessein in die gang moet betrap nie. Dis hierdie gedagte wat haar skielik haar kop instemmend laat knik en sy voel sy arm om haar skouers gly toe hulle in die gang af stap na die hysbak.
Sy trek haar asem stadig in. Hier spreek die eenvoud wat alleen geld kan koop, baie duidelik. Die sagte beligting verleen ’n rustige atmosfeer aan die vertrek en deur die groot oopstaande dubbeldeure kan sy die sterre van ’n Egiptiese naghemel sien blink. Sy beweeg spontaan vorentoe en hulle stap op die daktuin uit. Die man volg haar stilswyend.
Tussen die bloeiende struike in groot vate hang liggies wat net ’n flou-flou skemering oor die hele tuin gooi. Elmarie stap soos in ’n droom na die muurtjie en staar oor die toneel voor haar uit. Soos ’n juwelekissie belaai met al die edelgesteentes van die aardbol flits en glinster die kleurryke liggies van Kaïro van hier digby haar voete af tot in die verskiet. Sy sien ook die blink, kronkelende pad van die Nyl soos die ketting waarom die edelgesteentes gerangskik is – die geheel ’n halssnoer van asemrowende prag en fantasie.
Maar die man se oë bly op haar gerig, en toe die stilte langer rek, vra hy sag, digby haar: “Geen kommentaar nie?”
“Dis … absoluut volmaak pragtig!” kry sy dit uit.
“Dit ís … saam met jou.”
Sy kyk vinnig na hom op en dan weer weg.
“Moenie.”
“Wat?”
Haar hande bewe. “Moenie sulke dinge sê nie.” Sy vervolg dadelik: “Ek sal nou moet gaan …”
Sy hande lê weer op haar skouers toe sy omdraai. Hulle staan reg teenoor mekaar.
“Voordat jy gaan … Daar is nog iets wat jy nie gesien het nie. Kyk op, bokant ons koppe.”
Sy gehoorsaam en daar ver bo haar sien sy ’n silwerwit Egiptiese maan. Haar lippe gaan effens oop terwyl sy boontoe staar. Skielik word dit donker voor haar en die volgende oomblik voel sy hoe haar lippe gevange geneem word en arms besitlik om haar sirkel. Dis ’n lang, eisende soen en sy is magteloos om haar teen die magnetiese bekoring van hierdie maanlignag te verset. Sy weet nie dat haar lippe in antwoord onder syne roer nie; ook nie dat haar liggaam sag en gewillig teen syne aandruk nie. Maar die man kom dit agter en sy lippe raak nog dringender, die aanraking van sy hande eisender.
Dan is dit asof daar iets deur die newels na die oppervlak bars. Dit is die man van wie hulle vertel dat hy ’n harem aanhou … die man wat Deon verdink …
“Nee!” Sy skeur haar lippe onder syne weg en druk met haar hande teen die breë bors. Die donker oë gloei af in hare, die arms weier om haar te laat gaan.
“Wat is dit, Elmarie? Dis seker nie nodig dat daardie ou speletjie tussen ons twee gespeel moet word nie, of hoe?”
Sy wring haar onder sy hande uit en keer haar rug vinnig op hom, ’n bewende hand teen haar keel.
“Ek … ek weet nie wat jy bedoel nie. Ek … moet nou dadelik gaan. Dankie …”
“Dankie waarvoor? Vir die toneel wat jy kon sien of vir die ervaring wat jy kon belewe?”
Sy voel ’n warm gloed oor haar gesig en hals sprei, maar weier om na hom op te kyk of hom te antwoord. Sy begin in die rigting van die deur beweeg.
“Goeienag, Hoessein.”
Maar hy is voor haar by die deur en sy fors gestalte versper haar pad.
“Ek sal nie toelaat dat jy gaan voordat ek weet waarom jy my nie vertrou nie. Is dit omdat jy dink dis my gewoonte om meisies na my woonstel te bring en hulle die hof te maak? Dan dink jy verkeerd, Elmarie. Voor jou was daar nog net een vrou wat ek hierheen gebring het.”
“Farah.” Die woordjie glip onverhoeds uit en sy sien sy wenkbroue in ’n donker frons saamtrek.
“Ja, Farah. Dan weet jy van haar. Dit is dus stories wat jou so laat optree. Kom sit en vertel my wat jy alles van my gehoor het.”
“Nee …”
Daar word geen ag op haar protes geslaan nie. Sy word beslis na ’n bank gelei en daarop neergedruk. Hy neem regoor haar plaas en steek ’n dun sigaar aan.
“Nou toe. Laat ek hoor. Wat is dit wat hulle jou vertel het? Dat my en Farah se name die afgelope twee jaar gekoppel word; dat ek ’n harem by my oase aanhou; dat ek nie eintlik vriende het nie; dat ek geheimsinnig is, en so meer?” Die verslaentheid op haar gesig vertel hom dat hy gelyk het en hy kyk haar stip aan. “En as ek jou sê dat jy jou nie aan daardie stories moet steur nie, gaan jy my woord bo dié van die skindertonge stel?”
Sy antwoord nie, maar kyk op haar hande af. Sy wil hom so graag glo. Sy frons. Hoekom wil sy so graag glo dat al daardie dinge wat van hom gesê word, nie waar is nie? Wat het dit nou eintlik met haar te doen? Wat het dit met haar uit te waai watter soort lewe hierdie man voer? Sy kyk op. Daar is ’n paar vrae wat sy wil stel …
“Wat het jou vanoggend laat stilhou by ons motor en jou die gedagte gegee dat ek in die moeilikheid verkeer?”
“Ek het reg agter julle gery. Jy was bleek en ontsteld. Die man langs jou het gelag, die taxibestuurder op die skouer getik en toe het hy net nog vinniger gery. Ek het gewonder of hulle nie dalk besig was om jou te ontvoer nie.”
“Hoekom het jy juis aan ontvoering gedink?”
“Omdat daar deesdae so baie ontvoerings plaasvind.”
“Ek het jou vanmiddag in ons gang gesien. Het jy iemand daar besoek?”
Hy is ’n oomblik stil. Dan glimlag hy.
“Goed. Ek was daar. Skort daar iets mee?”
“Ek weet nie.” Sy aarsel. Wel, sy is al so ver dat sy maar kan voortgaan. “Jy het by daardie kamer ingegaan waar jy my vanaand gekry het. Die kamer is nie in gebruik op die oomblik nie.”
“Wel?” Sy wenkbroue lig.
“Wat het jy daar gemaak, Hoessein?”
“Dit was nie ek wat in jou kamer ingebreek het nie, Elmarie – as dit is wat jy dink.”
“Jy … jy weet daarvan? Is daar iets wat jy nie weet nie, Hoessein?” Sy trek haar asem skerp in.
Hy lag en neem langs haar op die bank plaas.
“As daar iets is waarvan ek nie weet nie, is dit iets wat nie van belang is nie.” Hy lê sy hand liefkosend teen haar agterkop. “En nou is dit my beurt. Hoe lank gaan jy en jou kêrel nog in Kaïro kuier?”
Elmarie kom nie agter hoe oulik hy die gesprek van hom af weggeswenk het nie. Sy is intens bewus van sy hand teen hare en sy antwoord nou sonder om verder te dink: “Deon is nie my kêrel nie.”
“Nie?” Hy lyk eerlik verbaas en ongelowig. “Jy is verlief op hom. Of liewer, was … toe julle hier aangekom het.”
Sy verbleek. Weer eens voel sy die onrus in haar roer. Sy hoor die veraf refrein van Deon se stem: Bly weg van daardie man af! Hy is gevaarlik! Sy kyk verslae terug in die donker oë wat haar uitdaag om te weerspreek wat hy gesê het. Deon is reg. Hoessein Abd-el-Rahman is ’n gevaarlike man. Soveel gevaar lê verskuil in sy magnetiese aantreklikheid, in sy sterk persoonlikheid, in sy oplettendheid. En sy weet ook nou dat sy bang is vir hom, hoewel hy haar aantrek. Sy is bewus van hom soos sy nog van geen ander man bewus was nie. Veral ná vanaand weet sy dat sy nie opgewasse is teen hierdie vreemdeling nie. Sy voel soos ’n benoude dier wat in ’n hoek vasgekeer is.
“As hy nie jou kêrel is nie, wie is hy dan?” hoor sy hom weer vra, en sy weet dat hy nie sal rus voordat sy hom ’n antwoord gegee het nie.
“Hy … hy is my suster se verloofde,” bieg sy eindelik.
“Jou … suster se verloofde! Elmarie! Verwag jy werklik ek moet glo dat jy oorsee sal kom reis met jou suster se verloofde!” Hy leun effens nader. “Jy is werklik ernstig! Jy het werklik die waarheid vertel!” laat hy verbaas hoor. “Ek sou dit nooit kon glo nie! Ek sou nooit …”
“Dis nie waar nie!” roep sy ontsteld uit, skielik byna in trane. “Jy verstaan nie …”
“Jy’s reg. Ek verstaan nie.” Sy stem klink nou grimmig en weer sien Elmarie die wrede lyne om die mond.
Haar lippe gaan oop om hom te vertel, dan sluit sy hulle weer vinnig. Dit was Deon se uitdruklike bevel dat sy Hoessein nie in haar vertroue mag neem nie. En sy is hom buitendien geen verduideliking skuldig nie.
Sy staan op, haar ken beslis vorentoe uitgesteek.
“As jy my vanaand hierheen gebring het om my te beledig en onder kruisverhoor te neem … Ons het mekaar vandag eers ontmoet.”
Skielik trek hy haar teen hom vas – styf, sodat sy die harde gespierdheid van sy liggaam kan voel.
“In Egipte speel tyd geen rol nie. Wat tussen ons is, is so oud soos die piramides en so vars soos die lotusblom wat vanoggend oopgekelk het.” Sy hande sirkel om haar gesig en haar ken word omhoog gedwing. “Een aand, Elmarie, gaan ek en jy in die maanlig oor die woestynsand ry. Nou is jy nog bang, maar dan …”
Dis sy laaste woorde wat haar na haar sinne terugskok en sy ruk haar los. Sonder om terug te kyk, storm Elmarie by die woonstel uit, die gang af totdat sy deur die toe hysbakdeure tot stilstand gedwing word. Met ’n bewende vinger druk sy die knoppie en kyk dan onrustig oor haar skouer.
Hoessein staan in sy woonsteldeur, leunend teen die kosyn. ’n Lui, tergende glimlaggie speel om sy lippe, die donker oë flits spottend.
“Dit sal nie help om weg te vlug nie, Elmarie. Wat bestem is, sal wees.”
Daar is ’n amper hoorbare snik van verligting op haar lippe toe die deure oopgaan. Haar hele liggaam bewe onbedaarlik toe sy eindelik haar kamerdeur agter haar toedruk. Maar terwyl sy nog met bonsende hart teen die deur aanleun, is daar skielik ’n klop en sy deins verskrik weg.
“Elmarie!” Dis onmiskenbaar Deon se stem. Met bewende hande sluit sy die deur oop. Deon kyk haar fronsend aan. “In hemelsnaam, waar was jy? Ek het al na jou gaan soek.”
“Ek … ek kon nie slaap nie. Ek was buite …”
“Jy maak my moedeloos! Dit is Egipte. Wil jy ook ontvoer word? Daar is iets wat ek jou wil vertel. Mag ek binnekom?” Sy staan opsy en eers toe die deur toe is, vervolg hy: “Die hotelbestuurder was netnou by my. Hy sê toe hy wou die saak eers daar laat, maar voel dis sy plig om my daarvan te vertel.”
“Van wat?”
“Dit het te doen met daardie tekening van die skarabee.”
“Wat daarvan?”
“Hy vertel dat daar die afgelope maande, dit kan selfs langer wees, geheimsinnige moorde in Egipte gepleeg is. By elke lyk is ’n tekening van ’n skarabee gevind – soortgelyk aan die een in jou kamer. Die laaste moord was omtrent ses weke gelede op ’n vrou wat, volgens hom, ’n stalletjie langs ’n straat gehad het. Sy is in die kraampie aangetref, dood – met ’n skarabee-tekening op haar bors.”
Elmarie se oë is vol vrees op hom gerig.
“Maar wat sê hy, wat dink die polisie daarvan?”
“Die polisie kan blykbaar nie veel uitgerig kry nie. Dit moet die een of ander geheime organisasie wees – die doel daarvan is onbekend. Nou glo ek nie meer dat daardie tekening sommer net hier rondgelê het nie. Dit is hier neergesit met ’n doel, net soos wat hier ingebreek is met ’n doel.” Hy klink opgewonde. “Dit gee ons die eerste leidraad om mee te werk. Begryp jy? Daar kan ’n verband wees tussen Marcelle se verdwyning en hierdie skarabee-kultus, sal ek dit maar noem. Ek gaan môreoggend heel eerste die polisie nader.”
Toe Deon na ’n rukkie teruggaan na sy kamer, sien Elmarie dat dit drie-uur is. Maar nog is sy nie vaak nie. Vrees hou haar wakker. Deon was so opgewonde. Het hy dan nie besef dat, indien sy afleidings korrek is, haar lewe in gevaar verkeer nie? En noudat sy tyd het om dit alles in haar gedagtes te oorweeg, besef sy ook dat iemand bewus is van die feit dat Marcelle se suster in Kaïro is; dat hulle weet wie sy is, waar sy tuis is, hoekom sy hier is. Hulle ken selfs die nommer van haar kamer! Wie kan dit wees? Onverbiddelik verskyn ’n gesig voor haar … Kan dit wees?
Dan ruk iets in haar styf. Die laaste moord … ’n Ou vrou wat ’n straatstalletjie gehad het … ’n skarabee-tekening op haar lyk … Marcelle het ’n hangertjie in die vorm van ’n skarabee by ’n ou vrou se straatstalletjie gekoop … Pas daarna het sy verdwyn. Sy, Elmarie, kom na Egipte. Daar word by haar kamer ingebreek, maar niks word gesteel nie. Sy vind ’n skarabee-tekening langs haar bed …
Kan dit wees? Sy steek haar hand voor by haar bloes in en haar vingers trek die skarabee-hangertjie uit, die stene flitsend in die elektriese lig …
Dis omtrent ’n uur later dat die kamerdeur saggies oopgaan. Deur die oop venster val die maanlig helder na binne en ets die vrouevorm in die bed duidelik af. Die donker gestalte kom nader, baie saggies, en buk dan vinnig vooroor …