Читать книгу Ena Murray Keur 13 - Ena Murray - Страница 6
3
ОглавлениеElmarie was omtrent ’n uur lank in droomland toe sy gewek word deur ’n hand op haar mond. Vergeefs worstel sy deur die newels van slaap. Toe sy eindelik tot haar volle verstand kom, is haar mond reeds toegebind. Sy stry teen die soekende hande, maar weldra is haar polse en enkels ook vas. Sy probeer om in die flou skemering in die kamer haar ontvoerder se gesig te sien, maar dit vorm net ’n donker vlek bokant haar. Voordat sy opgetel word, word die deken oor haar kop gegooi en om die res van haar liggaam gedraai. Sonder seremonie word sy dan oor ’n skouer gegooi en by die deur uitgedra.
Die angs in haar hart is onbeskryflik. Sy het opgehou met spartel, want sy besef dat dit haar niks sal baat nie. Sy voel hoe hulle die gang af beweeg, weg van die hysbak, en oomblikke later word sy versigtig by die brandtrap afgedra. Dan voel sy hoe sy agter in ’n motor plat op die vloer ingeskuif word. Die deur klap toe en die motor kom in beweging. Terwyl sy magteloos agter in die motor vasgebind lê, jaag die een vreesgedagte na die ander deur haar kop, volg die een vraag die ander op.
Wat sal Deon aanvang as hy môreoggend agterkom dat sy ook verdwyn het? Is Marcelle ook só ontvoer? Waarom word sy ontvoer? Waarheen neem hierdie man haar? Wat gaan met haar gebeur?
Aanvanklik het sy rigting probeer hou, maar later gee sy maar die saak gewonne. Dit voel soos ure later toe die motor skielik tot stilstand kom. Dit het reeds begin lig raak. Toe sy uit die motor getel word, skuif die deken voor haar gesig weg en sien sy hulle is in die agterplaas van ’n bouvallige ou gebou. Verwaarlosing en verlatenheid spreek uit die gebarste mure en stukkende vensters. Onkruid groei tot teenaan die agterdeur. Sy word binnetoe gedra. Met haar kop omlaag sien sy haar ontvoerder twee keer met sy voet op die vloer klop en ná ’n kort pouse dit weer herhaal. ’n Luik in die vloer word stadig opgelig en ’n vraag word in ’n vreemde taal gestel, waarop die man kortaf antwoord. Toe hy met sy vrag versigtig in die kelderverdieping afsak, gaan die luik weer agter hulle toe. Die lug om hulle is bedompig en muf en ’n flou skynsel verlig die ruwe trap wat na onder lei. Eindelik word sy op ’n stoel neergesit. Die prop word uit haar mond gehaal, maar die deken skuif weer voor haar gesig in, sodat sy niks kan sien nie.
Sy hou haar asem op. Sy kan aanvoel dat daar nog ’n persoon of persone buiten haar ontvoerder naby is. Die stilte in die kelder is drukkend, gelaai met spanning. Sy wag …
Toe die stilte eindelik verbreek word, tref dit Elmarie soos ’n emmer yswater. Sy het enigiets verwag – net nie om deur ’n vrouestem aangespreek te word nie, en dit nogal op perfekte Engels, al is die aksent swaar. Dis ’n sagte, slepende stem en Elmarie kan duidelik verstaan wat sy sê.
“Ons is baie jammer dat ons u soveel ongerief moet aandoen, juffrou Wiid. Dit was ongelukkig al manier om ’n onderhoud met u te bekom. Daar is ’n paar vragies wat u vir ons moet beantwoord, asseblief. Daarna sal u ongedeerd by u hotel terugbesorg word.”
Elmarie weet nie presies wat haar gevoelens op hierdie oomblik is nie. Die een oomblik voel sy lus om histeries aan die lag te gaan oor die formele wyse waarop sy gevra word of sy gemaklik is. Dan voel sy weer lus om woedend los te bars, en terselfdertyd is sy bewend van vrees. Sy sweet onder die deken en voel benoud, maar haar hande en voete is nog steeds vasgebind sodat sy nie kan roer nie.
“Kan die deken nie voor my gesig weggeneem word nie? Dis warm,” sê sy net.
“Natuurlik. Ek is jammer.”
Elmarie voel die deken van haar kop afskuif, maar voordat sy nog ’n oog kan knip, word ’n verband voor haar oë gedruk en agter haar kop vasgebind. Sy is geblinddoek!
Die slepende vrouestem praat weer: “U is die suster van die juffrou Wiid wat sowat twee maande gelede in Kaïro verdwyn het, nie waar nie?”
Elmarie wil eers nie antwoord nie, maar dan besef sy dat hierdie vrou dié feit baie maklik vir haarself kan bevestig, as sy dit nie reeds gedoen het nie.
“Ja,” antwoord sy kortaf.
“U suster het iets in haar besit gehad, iets wat sy in Kaïro gekoop het. Weet u miskien iets daarvan?”
Elmarie voel ’n opgewondenheid in haar, maar sy bedwing haar en antwoord kalm: “Nee.”
“Het sy u niks daarvan vertel nie – dat sy iets in Kaïro gekoop het nie?”
“Nee, hoe kon sy? Sy was in Kaïro en ek het in Suid-Afrika gesit.”
“Was daar geen kontak tussen u nie? Het sy u nie miskien gebel of aan u geskryf nie?”
“Nee. Sy sou oor ’n week weer tuis wees.”
“Wie is die man by u?”
“Haar verloofde.”
“Wat het julle in Kaïro kom doen?”
“Na haar kom soek, en om byderhand te wees as sy dalk opgespoor word.”
“Sy sal nie gevind word nie.” Stilte. Die vrou wat na haar kyk, sien die verbleking van die wange onder die blinddoek en sy herhaal: “Sy sal nié gevind word nie.”
Elmarie lek eers oor haar droë lippe voordat sy fluisterend vra: “Sy … is sy dood?”
“Vir julle is sy dood. Sy sal nooit terugkeer nie.”
’n Kille woede styg in Elmarie op en sy leun vorentoe, haar stem skor.
“Julle het haar ontvoer! Julle is daarvoor verantwoordelik!”
Die beskuldiging verstoor nie die ander se kalmte nie. Die stem bly egalig sag, en die formele “u” word nou summier laat vaar.
“Ja, dis reg. Jou suster het iets in haar besit wat ons wil hê … móét hê. Sy weier om te sê waar dit is. Dis baie onverstandig van haar. As sy ons vertel het, sou ons haar lankal vrygelaat het.”
Elmarie moet al haar selfbeheersing inspan om haar stem nie te gretig te laat klink nie.
“Wát is dit wat sy het wat julle so graag wil hê?”
“Dis iets wat vir haar van omtrent geen waarde is nie, maar vir ons is dit baie werd. Miskien …” Die stem huiwer. “Dink jy jy sal haar tot ander insigte kan bring?”
Elmarie se liggaam ruk.
“Dan … dan lewe sy nog?”
“O, ja.”
Sy voel ’n lamheid oor haar kruip. Marcelle lewe nog! Haar verstand werk blitsvinnig. Haar vermoede van vroeër die nag is nou ’n sekerheid. Sy weet nou waarom alles draai, waarom Marcelle ontvoer is, waarom die ou vrou vermoor is, waarom haar eie kamer deursoek is en sy self ook ontvoer is. Dis die skarabee-hangertjie wat Marcelle by die straatstalletjie gekoop het en toe aan haar gestuur het. Maar hoekom sou Marcelle weier om hulle te vertel waar die hangertjie is? Daar moet ’n rede wees, ook ’n rede hoekom hierdie vrou tot sulke uiterstes sal gaan om ’n goedkoop hangertjie van een rand in die hande te kry … Elmarie besef dadelik dat sy hierdie vrou niks moet laat agterkom voordat sy met Marcelle gepraat het nie.
“Ja, ek dink so. Ek kan probeer,” sê sy gretig.
“Dis baie verstandig van jou … Jy kan haar sê dat julle albei vrygelaat sal word sodra sy aan ons die verlangde inligting verskaf. Indien sy egter volhou met haar hardkoppigheid, sal nie sy óf jy ooit na jul mense terugkeer nie.”
Elmarie knik net en vra dan: “Kan my hande en voete nie asseblief losgemaak word nie?”
“Net jou voete. Ons sal dadelik moet vertrek. Dis al lig.”
Elmarie voel hande teen haar enkels beweeg en dan word sy omgedraai sodat die toue om haar polse nagegaan kan word. Skielik lig sy haar kop en snuif liggies. Daar is ’n geur in haar neusgate wat vir haar vaag bekend voorkom.
Sy frons. Êrens het sy al daardie geur geruik. Wat is dit? Waar? Sy word vorentoe gedraai en aan die arm geneem. Die prikkeling in haar neusgate is nou skerper en sy weet dat die geur aan die man kleef wat hier voor haar staan. Sy beweeg ongemerk effens nader aan hom en draai haar kop sodat haar neus aan sy arm raak. Sy trek haar asem in en dan verstil haar hartklop. Sy weet nou wat dit is. Dis ’n tabakgeur – of liewer ’n sigaargeur – wat sy ruik. ’n Geur wat sy ’n paar uur gelede haar neusgate voel prikkel het toe sy in Hoessein Abd-el-Rahman se woonstel was!
Sy voel ’n ligte trilling deur haar gaan. Durf sy glo dat haar gevolgtrekking reg is? Netnou, toe sy die eerste keer die vrouestem gehoor het, het ’n naam sonder rede deur haar gedagtes geflits: Farah! En noudat sy ook die sigaarreuk agtergekom het, wonder sy hoekom sy geblinddoek word. Is haar ontvoerders miskien bang sy sal hulle herken? Die beeldskone Farah sal suiwer Engels met ’n sterk aksent praat. En die man wat haar versigtig die trap oplei, het ’n te bekende sigaarreuk aan hom. Farah en Hoessein?
Sy word weer agter in die motor op die vloer platgedruk. Aan die min geraas kan Elmarie agterkom dat hulle die stad agtergelaat het, maar sy het nie die vaagste benul in watter rigting hulle beweeg nie. Die man bestuur en die vrou het agter in die motor by haar plaasgeneem. Elmarie voel die pyne deur haar liggaam skiet. As haar hande tog net los was!
Sowat ’n uur lank ry hulle in doodse stilte. Dan word sy toegelaat om op die sitplek langs die vrou te gaan sit met die bevel dat as die vrou sê sy moet buk, sy dadelik moet gehoorsaam.
Uur ná uur gaan dit voort. Vir Elmarie het die tyd gaan stilstaan. Al wat sy weet, is dat hulle seker al baie kilometers van Kaïro af is. Die man en vrou praat nie. Nog nie een keer het sy die man se stem gehoor nie. Is hy dalk bang sy sal sy stem herken?
Net een keer word die senutergende stilte deur die vrou verbreek toe sy die man aanspreek: “Jy kan stadiger ry. Dit sal nie help om voor donker daar aan te kom nie.”
’n Paar keer hou hulle stil om petrol in te gooi, nie by ’n petrolpomp nie, maar uit ’n kan agter in die motor. Dit laat Elmarie vermoed dat hulle nie op ’n grootpad is nie. Hulle hou ook stil om iets te eet en te drink en daar word vir Elmarie ook iets aangebied. Sy het nie lus vir kos nie, maar in die hoop dat hulle haar hande sal losmaak sodat sy miskien ’n kansie kan kry om onder die blinddoek uit te loer, aanvaar sy die aanbod – net om soos ’n baba deur die vrou gevoer te word.
Sy kan huil van die pyn in haar arms toe die motor eindelik ná ’n ewigheid tot stilstand kom. Haar liggaam voel tam en sy het ’n verblindende hoofpyn. Die laaste uur het die motor baie stadig gery, seker om tyd op te maak totdat dit donker word.
Toe hulle eindelik stilhou, vind sy dat daar nog ’n ent se stap op hulle wag. Omdat sy in die bed was toe sy ontvoer is, het sy net haar dun nagklere onder die deken aan en loop en swik sy later onder die gewig van die deken. Onder haar kaal voete voel sy steeds die sonwarm sand brand en eerlank is haar voetsole teer en gevoelig.
Dis net die gedagte dat sy Marcelle binnekort sal sien wat Elmarie die moed en krag gee om voort te gaan. Na ’n rukkie struikel sy egter weer en sê met bewende lippe: “Ek … ek kan nie meer nie. My voete …”
Sy word sonder ’n woord opgetel en is op hierdie oomblik maar te bly om verlos te wees van die strompeling oor die skroeiende sand om te veel om te gee wie se arms dit is wat haar vashou. Sy leun moeg met haar kop teen ’n skouer en sê hees: “My arms pyn …”
“Ons is amper daar.” Hy praat nou die eerste keer, maar die stem is gedemp en sy is te moeg om haar in te span en die stemtoon te probeer ontsyfer.
Ná ’n paar minute word sy neergesit en ’n hand op haar rug du haar vorentoe. Sy word beveel om laag te buk. Sy vermoed dat hulle in ’n lae hut of tonnel of grot moet wees. Sy staan en wag dat die volgende bevel moet kom, maar langs haar hoor sy net ’n ritseling soos van klere wat uit- en aangetrek word. Sy frons. As haar afleidings reg is, is die man en vrou besig om hulle te verklee. Hoekom? Haar verstand is te suf om haar te veel daaraan te steur.
Enkele minute later word sy weer na buite gelei. Sy word weer ’n entjie gedra en dan skielik neergesit in ’n mandjie, soos dit vir haar voel. Voordat sy nog reg besef wat aangaan, voel sy hoe sy van die grond af opgehys word. Sy sit roerloos. As hierdie ding nou met haar moet omkantel … Haar hande is nie eens vry om haarself te probeer red nie!
Eindelik kom sy tot stilstand en voel hoe hande haar uithelp. Weer word sy ’n entjie gelei. Ná ’n paar oomblikke hoor sy die persoon voor haar tot stilstand kom en dan raak hande haar agterkop aan. Die blinddoek val voor haar oë weg. Ook die toue om haar polse word losgemaak en haar gesig vertrek van pyn toe sy haar arms vorentoe bring. Versigtig drapeer sy die deken stywer om haar lyf en kan dan die eerste keer na die persoon hier voor haar opkyk.
Sy staar verbaas na sy kleredrag. Dis ’n kort, wit linnerokkie soos wat die ou Egiptiese slawe gedra het. Sy hare is ook vierkantig om sy kop gesny, glad afgekam en hang omtrent vyf sentimeter bo die skouers. In sy hand hou hy ’n soort wapen vas wat vir Elmarie taamlik primitief voorkom. Die donker oë wat na haar kyk, is uitdrukkingloos en hy wink woordeloos met die hand dat sy hom moet volg.
Hulle stap nou in ’n lang, smal gang af. Brandende fakkels teen die mure gooi ’n rooi gloed voor hulle uit. Dan kom hulle voor ’n deur tot stilstand waar twee wagte, met soortgelyke kleredrag, haarstyl en wapens staan. Die swaar deur word oopgemaak en Elmarie word beduie om na binne te gaan. Toe sy binne is, hoor sy die deur agter haar toegaan. Sy is alleen.
Sy staan op ’n klein verhogie en nog ’n ry treetjies lei afwaarts na ’n vertrek waarvan die grondoppervlak heelwat laer is. Die mure is bar en kaal, ’n enkele fakkel flikkerend teen die oorkantste muur.
Maar hierdie dinge sien Elmarie net terloops raak. Wat haar hande na haar mond laat vlieg, is die gestalte van ’n vrou wat op ’n divan in die middel van die groot, kaal vertrek lê. Die fakkellig gooi ’n rooi gloed oor die stil figuur, maar Elmarie weet instinktief wie dit is.
“Marcelle!”
Haar uitroep laat die meisie op die divan vervaard orent spring en dit lyk asof sy ’n spook voor haar sien.
Elmarie vergeet van haar pyne en moegheid. Sy storm die trap af en die twee susters val mekaar snikkend om die hals. Dit duur ’n tydjie voordat hulle tot bedaring kom. Skielik druk die jonger meisie haar suster weg.
“Dan het hulle jou ook gekry! O, Elmarie, hoekom het jy hierheen gekom? Hoe het dit dan gebeur …?”
Elmarie vertel kortliks van haar en Deon se besluit om na Egipte te kom en wat met haar gebeur het.
“Marcelle, hulle wil daardie hangertjie hê wat jy vir my gekoop het,” sluit sy haar relaas af. “Laat ons dit vir hulle gee. Hulle het belowe om ons vry te laat as ons hulle sê waar die hangertjie is. Asseblief, Marcelle, ons lewens is tog meer werd as ’n ou hangertjie. Hoekom weier jy om hulle te sê waar dit is?”
Marcelle kyk haar eers stil aan. Dan sê sy sag, asof sy bang is dat hulle afgeluister sal word: “Elmarie, daar is iets in verband met daardie hangertjie … Hoekom wil hulle dit hê? Hoekom is dit vir hulle soveel werd?”
“O, laat dit soveel werd wees soos al die skatte van die wêreld saam, dan kan hulle dit vir my onthalwe maar kry. Wat kan dit tog aan ons doen …?” Elmarie se stem klink byna ongeduldig.
“Maar begryp jy dan nie?” Marcelle gryp haar suster se hande vas. “Die oomblik dat hulle weet waar die hangertjie is, is ons lewens niks meer werd nie. Dink jy een oomblik hulle sal ons werklik vrylaat, en dit terwyl ons soveel kan gaan vertel? Nee, Elmarie, dis ons enigste behoud dat ons weet waar die hangertjie is en hulle nie. Daarom sal hulle ons nie doodmaak nie. Terloops, waar is dit?”
Elmarie se mond gaan oop om te antwoord, maar Marcelle keer haar vinnig: “Of, nee, moet my nie sê nie. Dan kan ek ons nie verraai in ’n oomblik van swakheid nie.”
“Wat bedoel jy, Marcelle?”
“Hulle het my al gemartel.” Haar suster kyk stadig na haar op.
Elmarie trek haar asem in, ontsetting op haar gesig. Nou eers sien sy hoe haar suster verander het. Niemand sal ooit sê dat sy en Marcelle vroeër vir ’n identiese tweeling aangesien is nie. Die ligte hare is glansloos en verwaarloos. Die gesiggie is klein van maerte en angs en bekommernis, die liggrys oë diep weggesink bo wangbene wat prominent en hoekig uitstaan onder ’n vel wat bleek vertoon. Marcelle se blik dwaal rusteloos om haar.
“Dis hopeloos, Elmarie. Hier … hier sal ons oud en grys word en sterf. Dit is nie mense hierdie nie. Hulle is sadiste, monsters uit ’n tydvak wat al vergete is, opgestane mummies uit die graftombes van farao’s van duisende jare gelede.” Sy gee ’n meewarige glimlaggie toe sy in Elmarie se geskokte oë opkyk. “Ek is nie van my verstand af nie. Jy sal nog sien …” Weer gryp haar hande dié van Elmarie vas, en die drang in haar stem is soos iets tasbaars. “Hulle het alles menslik moontlik beproef om my aan die praat te kry. Hulle sal jou ook martel. Maar solank ons weier om te praat, sal hulle ons nie doodmaak nie. Ons mag nie praat nie, Elmarie, want dis ons enigste kans om miskien eendag lewend hier uit te kom. Verstaan jy? Al gebeur wat ook al – jy mag nie praat nie!”
Die twee susters staar mekaar aan, wanhoop in albei harte.
In Marcelle lê die wete dat daar vir haar geen bevryding gekom het met die verskyning van Elmarie nie.
En Elmarie … sy is eers te verslae om te dink. Die teleurstelling en vrees is so groot dat sy geen woorde het nie. Sy kyk om haar rond na die barheid en kaalheid, die verstikkende eensaamheid en afsondering wat soos ’n mis in die flou verligte vertrek hang. Is Marcelle reg? Sal hulle albei hier oud en grys word? Sal hulle hul verstand behou om dit te beleef? Sal hierdie mense – wie hulle ook al is – so lank geduldig bly in die hoop dat hulle tog eendag sal praat? En dan … Wie sal hulle ooit hier opspoor? Die polisie reken dis ’n hopelose saak en Marcelle het ’n paar minute gelede dieselfde gesê.
Sy hoor Marcelle haar asem intrek en kyk dan ook in die rigting waarin sy staar. Die deur het weer oopgegaan en in die donker skaduwees op die platform het twee skadugestaltes verskyn. Hul gesigte is donker vlekke – onherkenbaar. Net die omlyning is duidelik sigbaar en Elmarie se oë rek.
Van die oomblik dat haar blinddoek verwyder is, het sy die gevoel gekry dat hier iets vreemds aan die gang is – dat iets buitengewoons aan alles, selfs die atmosfeer, kleef. In die vreugde van die oomblik en die ontsteltenis daarna het sy nie opgemerk dat ook haar suster vreemd geklee is nie. Maar nou onthou sy dat Marcelle ’n lang wit rok aanhet, met bande oorkruis oor die bors en sandale wat uitheems voorkom.
Die fakkellig gooi ’n dowwe gloed oor die vrouegestalte en voor haar verbysterde oë sien Elmarie dat die vrou geklee is soos wat sy haar kan voorstel Egiptiese koninginne eeue gelede geklee was. Op haar kop is ’n skitterende hooftooisel, ’n goue band daarom wat op die voorkop saamsmelt in ’n embleem van die kop van ’n arend. Om die hals is ’n breë kraag wat kleurryk blink. Om die naakte arms is breë armbande, party bo die elmboë. Twee daarvan het ook die goudkleurige glinstering van die hooftooisel; die ander is met edelgesteentes versier wat in alle kleure die fakkellig opvang en terugkaats. Die res van haar kleding bestaan uit ’n los bostuk wat styf om haar bolyf span, ’n los lendekleed wat van laag oor die heupe af uitreik na onder tot op die voete en belaai is, soos dit vir die verbysterde Elmarie voorkom, met edelgesteentes van alle soorte. ’n Los purperkleurige mantel hang oor die een kaal skouer.
Die mansgestalte effens agter haar is minder duidelik. Maar Elmarie kan uitmaak dat ook hy ’n soort kleed dra, asook ’n breë kraag belaai met edelgesteentes, ’n hooftooisel en sandale.
“Wat … wie is dit?” vra sy verstom op fluistertoon.
“Die opgestane mummie van koningin Hatsjepsoet, regerende koningin van die agttiende dinastie, in die tydvak 1 500 jaar voor Christus,” fluister Marcelle terug.
Elmarie swaai haar kop vinnig na haar suster, totale verbystering op haar gesig.
“Marcelle, dis onsin! Wil jy my wysmaak daardie mens wat daar staan, is ’n Egiptiese koningin wat meer as drie duisend jaar gelede geleef het?”
Marcelle se oë bly op die dowwe gestaltes gerig.
“Ek weet nie. Die stukkie van my verstand wat nog werk, vertel my ook dis onsin. Maar … dis wat hulle haar noem: koningin Hatsjepsoet, ’n vrou wat haarself tot man laat verklaar het sodat sy as farao kon heers, eeue gelede in die tydperk van die Nuwe Koninkryk van Egipte se ou beskawing – meer as drie duisend jaar gelede. Jy kan dit in die geskiedenisboeke gaan lees.”
Elmarie se ontsteltenis groei aan. Sou haar suster se verstand nie miskien al geknak wees nie? Sy praat asof sy feite opnoem! Elmarie doen haar bes om haar kalm voor te doen.
“Kaf, Marcelle! Daardie vrou wat daar staan, is ’n mens van vlees en bloed soos ek en jy!”
“Is sy? Haar vel is blas, maar tog kry jy die gevoel, wanneer jy daarna kyk, dat daar geen bloed daaronder vloei nie. En wanneer sy naby jou kom, ruik jy dit …”
Elmarie voel haar keel toetrek met ’n vrees wat sy nog nooit tevore ervaar het nie.
“Wat … ruik jy?”
“Muf. Sy ruik muf … soos ’n ou, vergane mummie.”
’n Yskoue rilling sidder deur Elmarie. Sy dwing haarself tot nugterheid. Sy durf nie langer na Marcelle luister nie, anders sal sy begin glo dat die vrou hier voor hulle werklik is wat Marcelle wil voorgee – die opgestane mummie van ’n Egiptiese koningin van eeue gelede! Hemel, wat ’n bloedstollende gedagte, dink sy en voel skielik mislik. Maar sy kan haarself nie keer nie. Sy moet net weet …
“En die man agter haar? Wie is hy?”
“Nektanebo – haar minnaar in die geheim.”
“Hoekom in die geheim?”
“Hatsjepsoet is tot man verklaar. Sy mag nie ’n minnaar hê nie, maar vir die skyn staan hy bekend as haar raadgewer.”
“Wáár kom jy aan al hierdie dinge, Marcelle?” Elmarie skud haar kop radeloos.
“Die slaaf wat my kos bring. Dis hulle in die wit klere en gordyntjiekoppe. Pas op! Hier kom sy.” Marcelle gryp haar suster se hand pynlik styf vas. “Onthou, Elmarie, jy mag nie praat nie, al doen hulle ook wát! Onthou dit!”
Met glyende bewegings, amper slangagtig, stap die vrou die trap stadig af en kom eindelik voor die twee susters tot stilstand. Elmarie raak yskoud. Nog nooit in haar lewe het sy so ’n uitdrukkinglose gelaat gesien nie. Dis asof ’n masker oor die gesig span, sonder om ’n spiertjie, ’n plooitjie, die vaagste beduidenis van ’n emosie te verraai. Die koue sweet slaan op Elmarie se handpalms uit. ’n Opgestane mummie? ’n Paar oomblikke gelede het sy dit as onsin bestempel. Nou, met haar blik vasgenael op die gesig voor haar, weet sy nie …
Selfs die oë wat na hulle staar, lyk glasig blink, onnatuurlik, asof daar geen lewe in hulle is nie.
“Het julle toe tot ’n besluit gekom?” Die stem klink dof, sag asof sy uit die verte praat. Maar weer is dit suiwer Engels en Elmarie wonder of hierdie koningin en haar ontvoerder nie dieselfde persoon is nie.
“Jy mors jou asem. Ons kan jou nie help nie,” antwoord Marcelle.
Daar volg ’n oomblik van volslae stilte. Elke senuwee in Elmarie trek saam en langs haar wag Marcelle ook met ’n strak gesig.
“Jou suster het jou vertel waar dit is.” Die oë draai na Elmarie.
“Nee. Sy het nie.”
Elmarie voel ’n bewing deur haar liggaam gaan. Dis asof die swart oë haar wil hipnotiseer en met ’n skok dring dit tot haar deur dat dit presies is wat sy beoog. Dit verg al haar wilskrag om haar oë van daardie starende, lewelose blik af weg te trek. Sy trek die deken stywer om haar liggaam vas asof sy koud kry, hoewel die sweetdruppels op haar voorkop blink. Wat nou?
’n Maer hand met lang vingers word omhoog gelig en twee slawe in wit geklee tree nader. Die volgende oomblik word Elmarie omgeswaai en die deken gly van haar skouers af. Sy gryp dit desperaat om haar middel vas en hoor terselfdertyd hoe die bostuk van haar nagklere skeur. ’n Hand met lang, skerp naels gly oor haar ontblote rug.
“Jou suster se vel is sag en teer en … ongeskonde,” sê die sagte stem agter haar rug. “Dit sal jammer wees om dit te skend.”
Elmarie staan asemloos, te vreesbevange om die geringste beweging te maak.
Agter haar rug verbleek Marcelle. Haar vingernaels vreet in haar handpalms. Haar stem is skor, vol haat. “Jou duiwel!” Sy kyk vas in die swart oë. “Dit sal nie help nie – ek sê jou, dit sal nie help nie!”
“Selfs nie wanneer hierdie rug vol bloederige rafels hang nie?
Elmarie se liggaam ruk toe sy haar suster se antwoord hoor: “Jy kan haar doodmartel, ek sal nie praat nie!”
“Miskien sal jou suster praat as die sambok haar rug oopkloof.”
“Sy kan nie praat nie, al wil sy ook. Het jy gedink dat ek so ’n gek sal wees om haar te vertel?”
Die vrou wys met ’n vinger en ’n tweede slaaf tree nader en trek sy arm na agter op, sambok in die hand. Elmarie deins terug, wasbleek, en struikel oor die deken sodat sy oor die divan val. Die volgende oomblik land die eerste wrede hou op haar rug. Haar liggaam ruk en ’n kreun ontsnap oor haar lippe. Haar hande gryp die kante van die divan krampagtig vas.
Asof van ver hoor sy Marcelle se stem in hul moedertaal na haar aangesweef kom: “Moenie praat nie! Hou uit! Moenie praat nie!”
Die slaaf se hand gaan weer omhoog en die gestalte wat nog steeds roerloos op die platform staan, kom vinnig in beweging. Die vrou se oë is op Marcelle gerig, meedoënloos, terwyl laasgenoemde se liggaam ruk met elke dowwe slag wat val. Die man beweeg vinnig by hulle verby en buk oor die krullende lyf wat oor die divan uitgestrek lê.
“Moenie praat nie!”
Sy lippe roer skaars, maar die aandrang in sy stem laat Elmarie haar dig toegeknypte oë vinnig oopmaak, al kan sy hom nie duidelik sien nie. Daar is ’n waas van pyn voor haar oë en toe sy vingers oor haar pols skuif, gryp haar hand syne krampagtig vas. Die man se donker oë gloei op die pynverwronge gesiggie af. Dan kom hy vinnig orent.
“Staak dit!”
Die slaaf laat sy arm sak en die vrou se kop keer vinnig in sy rigting. Die man ontmoet haar beweginglose oë onverskrokke.
“Dit sal nie help nie, Hatsjepsoet. Jy het gesê haar verloofde is reeds op pad hierheen. Ek dink jy sal daar meer sukses behaal. Hierdie meisie sal ’n goeie prys behaal. Jy skend haar nou so dat jy niks met haar sal kan maak nie. Ek het jou van die begin af gesê jy moet die suster uitlos en die verloofde vat. Stuur hierdie een na die mark. Sy is vir ons niks werd nie.”
Die oë staar hom nog ’n oomblik uitdrukkingloos aan. Dan maak sy ’n afwerende gebaar en die slawe retireer. Sy draai om en begin die trap bestyg. Ná ’n oomblik van aarseling volg hy haar.
Salf en ’n rok word langs die halfbewustelose Elmarie neergesit en dan gaan die deur toe. Marcelle is dadelik op haar knieë langs die divan. Terwyl snikke deur haar liggaam skok, begin sy die bebloede rug reinig en met die uiterste versigtigheid die salf aansmeer.
“Is … is hulle weg?” kom die hortende vraag.
“Ja. Ek dink hulle sal jou laat gaan. O, sus, dis alles my skuld!”
Elmarie byt op haar tande en kom stadig orent. Ook haar oë swem in trane toe sy na Marcelle kyk.
“Moenie jouself verwyt nie. Wat bestem is, dit sal wees.” Sy tas in haar suwwe verstand rond. By wie het sy dit gehoor? “Jy het gelyk gehad, Marcelle. Ons sal geen genade van hierdie mense kry nie. Ons enigste behoud is dat ons nie moet praat nie.” Sy frons en vee met ’n bewende hand oor haar oë. “Marcelle, daardie man … Hy het by my gebuk …”
“Nektanebo?”
“Ja. Hy … hy het ook gesê ek moenie praat nie.”
Marcelle kyk haar skerp aan.
“Dis onmoontlik, sus. Jy het jou dit seker maar verbeel.”
“Nee, ek het nie. Ek is seker. Hy het oor my gebuk en gemaak asof hy my pols voel. Toe het hy dit gesê. Hoe lyk hy? Ek wou opkyk, maar dit was te seer …”
“Hy is lank, groot gebou, donker, aantreklik. Maar ek is seker jy maak ’n fout. Dit was seker vir my wat jy gehoor roep het …”
“Ek het jou ook gehoor roep, maar ek het hom beslis duidelik gehoor.” Sy sug en strek ’n bewende hand na die kledingstuk langs haar uit. “Help my om dit aangetrek te kry, asseblief.”
Sy trek haar asem in. “Dit voel of die vagevuur op my rug aangesteek is. Is die hale diep?”
“Nee, nie te diep nie, maar dit sal nog lank seer bly.”
Marcelle se oë is teer terwyl sy die rok oor haar suster se skouers laat glip en versigtig oor die rou rug trek. Sy is dankbaar dat Elmarie nie alles gehoor het wat gepraat is nie. Soos sy kan aflei, is hulle van plan om haar suster op ’n slawemark te verkoop, en haar hart krimp ineen as sy dink aan watter lot daar op haar wag. En dan … Deon is op pad hierheen. Dis wat Nektanebo gesê het. Met ander woorde, Deon is ook in hul mag. Die moontlikheid van redding raak al skraler. Maar Marcelle vertel Elmarie niks hiervan nie. Dis beter dat sy dit nie weet nie.
En bo hul koppe, in die vertrek net bokant die keldervertrek, staan die man en vrou teenoor mekaar. ’n Skraal, bleek hand word op die bykans ontblote bors van die man gelê.
“Nektanebo! Jy het die afgelope tyd nie veel belangstelling getoon nie. Is daar iemand anders?”
Hy staan roerloos onder haar aanraking.
“Dit was jou eie keuse, Hatsjepsoet. Jy het jou formeel tot man laat verklaar.”
“Jy weet ek kon niks anders doen nie. Eeue gelede al is my lot neergelê.”
“Maar jou bloed is warm – nie uitgedroog soos dié van die mummie waaruit jy gebore is nie. Wat maak jy wanneer jy die bloed warm deur jou are voel stroom? Omhels jy dan die sarkofaag wat jou gebaar het? En skenk dit aan jou bevrediging?”
Die gesig bly uitdrukkingloos, maar die oë wat na hom opkyk, gloei met ’n vreemde lig.
“Wanneer ons alleen is …”
“Ons is nooit alleen nie. Jy weet dit. Daar is altyd oë wat kyk. Waar is jou lyfwag nou?”
“Ek het hom weggestuur. Ons ís alleen.” Sy beweeg nader sodat hul velle teen mekaar skuur, haar bloedlose lippe na hom opgehef.
“Nektanebo, jy weet ek is ’n vrou!”
Hy aarsel nog ’n oomblik en dan gly sy gespierde arms om haar en die lang, donker wimpers val oor die donker oë wanneer die man sy kop oor hare buig. Agter hulle roer ’n paneel in die muur skaars merkbaar … en in ’n bloedlose hart gloei die donker haat terwyl die oë die hartstogtelike omhelsing tussen die man en vrou aanskou.
Ná ’n paar oomblikke onttrek die man hom uit die omhelsing en vee moeg oor sy oë.
“Ek gaan rus. Ek is doodmoeg. Ons kan môre verder praat wanneer Deon Rabie hier is.”
Sy antwoord nie, maar haar blik volg hom totdat hy uit die vertrek is. Agter haar skuif die paneel wyer oop. Selfs toe ’n stem digby haar praat, bly die vrou se oë gerig op die deur wat agter haar minnaar toegegaan het.
“Is dit moontlik dat die skone Hatsjepsoet die belangstelling van Nektanebo verloor het?”
Sy kyk uitdrukkingloos oor haar skouer na agter.
“Jy vergeet jou plek, Naton. Het jy gedoen wat ek gesê het?”
Die lag is gedemp en hol.
“U bevele is uitgevoer. Die vrou met die goue hare is op pad. Nektanebo sal haar nooit weer sien nie.”
“Wat bedoel jy?”
Die laggie klink weer tartend op.
“Het die eeue u oë versluier sodat u nie die lig in Nektanebo se oë gesien het toe hy na die vrou met die ligte hare gekyk het nie? Daar was ’n gloed in hulle wat ek nog nooit tevore daarin gesien het nie – selfs nie in die intiemste oomblikke tussen u en hom nie.”
Die donker oë lyk nou skielik lewendig.
“Loer jy nog altyd af? Eendag sal jy nog my geduld te ver beproef.”
’n Hand skiet uit en gryp die maer pols vas.
“Eendag sal jy my liefde een keer te veel uittart, Hatsjepsoet. Daardie dag wanneer ek moet agterkom dat jy volkome aan Nektanebo behoort. Die sarkofaag wat jou gebaar het, sal jou dan weer ontvang.”
Marcelle kyk nie eens op toe die deur oopgaan en voetstappe nader kom nie.
“Waar is jou suster?”
Dan draai sy na die man.
“Hulle het haar weggevat.”
’n Donker frons verskyn tussen die oë.
“Waarheen?”
“Na die slawemark, soos jy voorgestel het.”
Hy staan roerloos. Dan, met ’n gedempte kragwoord op sy lippe, swaai hy om en storm die trap op.