Читать книгу Ena Murray Keur 17 - Ena Murray - Страница 4
1
ОглавлениеDie Pohls is ’n doodgewone gesin soos talle ander. En tog ietwat bo die gemiddelde. Daniël Pohl Beperk is ’n gevestigde en florerende meubelsaak, en die Pohls alombekende en gerespekteerde mense. Aan geld en status ontbreek dit hulle geensins nie.
Daniël Pohl is op vyf en veertig ’n baie aantreklike man. Gewild onder sy gholfvriende, ondervoorsitter van die sakekamer, lid van die skoolraad en pas as ouderling voorgestel, is hy en sy vrou, Rina, redelik gelukkig in hul huwelikslewe. Ná feitlik ’n kwarteeu van getroude lewe is die meeste huweliksmaats, indien nie reeds geskei of bitter ongelukkig saam nie, tog aangepas by hul omstandighede. Die idilliese, ekstatiese hoogtepunt van die eerste jare van saamwees is lankal agter die rug. As daar nog haakplekke is, of as nuwe krapplekke verskyn het, is dit tipies van duisende ander huwelike. Wat die mense in elk geval van dié gesin sien en hoor, stel hulle tevrede. Daar is geen teelaarde vir skinderpraatjies nie – die Pohls kan as “goeie” mense bestempel word.
Die drie kinders, elk besonders in eie reg, het ook hul deel bygedra om aansien aan die Pohl-gesin te gee.
Delia, die eersteling, het ’n honneursgraad in die beeldende kunste aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Daarna het sy ’n jaar lank kuns doseer en is toe met Pieter Schellink, een van die vooruitstrewende jong wynboere in die distrik, getroud. Soos haar ma, is sy baie bewus van haar status – veral nadat sy in die baie bekende wynmakersfamilie ingetrou het. Die Schellinks is een van dié Bolandse families, en selfs in oorsese kringe bekend vir Silwer Kronen se voortreflike wyne. Op die oomblik beleef sy die toppunt van geluk. Sy het pas die lewe geskenk aan ’n klein Schellink, wat Silwer Kronen van ’n wynmaker vir die volgende geslag verseker. Beter kan dit nie met Delia gaan nie.
Dan is daar die tweede oudste Pohl. Uit die lieflike Maryke straal ook ’n innerlike skoonheid. In teenstelling met ma en oudste sus is die blink uiterlike vir haar geen maatstaf nie. Soos haar toekomstige beroep en keuse van ’n spesiale vriend laat blyk, is sy ’n mens vir die dieper dinge in die lewe. Sy bekwaam haar as maatskaplike werkster en het ’n vaste verhouding met ’n tokkelok. Jong Jan Reynders is die seun van Oudominee Reynders, een van die Pohls se herders.
Pa se trots is die sewentienjarige Johan in graad elf – ’n trefseker keuse om die hoofseun op te volg, asook ’n uitblinker op die atletiekbaan en ’n ster op die tennisbaan. Met sy pa se blou oë en donker hare is hy natuurlik baie gewild onder die skoner geslag. Maar ondanks sy sukses en gewildheid – iets wat enige jong seun van dié ouderdom se kop maklik kan laat swel – is Johan Pohl ’n minsame, amper beskeie seun. Tot die spyt van al die meisies wat hom stilweg bewonder, is Johan op die oomblik baie ernstig verlief op een van sy klasmaats. Sy is Elna Stockenström, die dogter van ’n bekende advokaat. Die ander meisies moet die verliefdheid maar met jaloerse oë betrag en in stilte hoop iets sal die groot liefde ’n tydige dood laat sterf sodat hulle ook ’n kans by dié pragtige mansmens kan hê.
Dat so iets wel in die nabye toekoms wag, sou hulle nooit kon droom nie – wat nog te sê van die wyse waarop dit sou geskied … Want die liefde tussen die jong Johan en Elna sterf nie ’n natuurlike dood soos die meeste bakvissieliefdes nie. ’n Skokkende gebeurtenis bring ’n einde aan hierdie jong liefde en aan veel meer as net ’n verhouding tussen twee tieners.
Dit ruk die hele Pohl-gesin op ’n dag tot stilstand … Dan, soos ’n klippie in ’n dam die rimpels op die watervlak al hoe wyer laat uitkring, betrek dit ook al die mense naby aan hulle in ’n bose spiraal van onheil, hartseer en geestesverminking. En al die daaropvolgende jare sou vir almal verwonde jare wees.
Daagliks lees jy daarvan in die koerante – bomontploffings, verkragtings, gesinsmoorde en grenslose wreedheid. Oor die radio en op die televisieskerm flits die skoknuus. Maar dit bly vir jou ’n onwerklikheid. Sulke dinge gebeur tog net met ander mense, vertel jy jouself. ’n Jong moeder van twee en twintig verwurg haar eie seuntjie van twee met haar blote hande … Dis tog nie moontlik nie! Maar daar is die foto van haar glimlaggende gesig – en een van ’n seuntjie met blonde haartjies. Die bewyse is onomstootlik. En jy voel hoe jou ingewande ’n draai maak; hoe die mislikheid oor die hedendaagse wêreld in jou opstoot. Jy wéét met jou hele wese dat sulke dinge onteenseglik gebeur. In hierdie perverse, siek wêreld kan net God se genade ons nog red …
Wanneer jy die punt bereik waar jy weet niks is te onheilig, te grusaam of te skokkend om te kan gebeur nie, wel ’n gevoel van dankbaarheid in jou op: Dit gebeur, ja, maar met ander mense. So iets sal jóú nie tref nie. Nie een van jóú mense sal tot sulke gruweldade in staat wees nie.
En dan trek die volgende skokberig jou aandag. Met ontsetting luister jy na wat die nuusleser in die bulletin te vertel het. Op die televisieskerm word die plek geflits waar die jongste weersinwekkende voorval plaasgevind het. Jy herken die omgewing. Jy ry daagliks daar verby werk toe. En dit het dáár gebeur. Teen die randsteen sit die bloedspatsels nog. Hoe verskriklik! Wat het die man besiel om die kind sommer koelbloedig dood te ry!
Rina is die eerste van die Pohls om te hoor van die jongste skokberig op die voorblaaie van al wat ’n koerant is. Dit kom ter sprake tydens die weeklikse brugpartytjie aan huis van een van haar snobvriendinne.
“Dis darem ’n vreeslike ding wat nou weer gebeur het, nè? Ek praat van daardie kind wat doodgery is.”
Die ander drie kyk die gasvrou belangstellend aan. ’n Kind wat doodgery is? Hulle is almal moeders. Dié opmerking het dadelik hulle volle aandag.
“Wat is die storie? Ek het nog nie eens vandag se koerant oopgemaak nie. Wat het gebeur?”
“Soos gewoonlik weer iets tragies. ’n Bruin vrou het met haar baba in sy stootwaentjie op ’n brug gestap. ’n Wit man in ’n motor het by haar stilgehou en ’n onwelvoeglike voorstel gedoen. Toe sy summier weier, het hy die kind in die waentjie doodgery en weggejaag.”
Almal hyg geskok na hul asem; die oë vol ongeloof en verbystering. “Hoe verskriklik!”
“Dis absoluut afgryslik!”
“Maar … maar wat het hom makeer om so iets te doen? Wat sou hy tog daaruit kry?”
“Dit was natuurlik uit frustrasie en woede.”
“Maar om sommer net ’n baba daaroor dood te ry …!”
Een skud haar kop. “My verstand kan sulke dinge nie hanteer nie. Wat gaan deesdae met die wêreld aan? Almal is skynbaar van die duiwel besete.”
“Ja, dinge gaan agteruit, dis nie altemit nie. Alles en almal word net al hoe meer dekadent. Die wêreld is vandag ook so deurmekaar.”
“Het hulle hom al gevang?”
“Die man? Nee, tot dusver nog nie. Ons moet na vanmiddag se hoofbulletin luister. Dalk het hulle hom al opgespoor. Nou goed, Rina, dis jou beurt …” Die spel gaan voort.
Tuis lees Rina Pohl vlugtig die kort berig op die voorblad. Daar staan nie veel meer as wat haar brugvriendin vertel het nie. Sy skakel die radio aan. In die hoofnuusbulletin word ook nie veel meer besonderhede gegee nie, behalwe dat daar na die eienaar van ’n silwergrys Mercedes-Benz gesoek word wat moontlik meer lig op die saak kan werp. Enigeen wat dalk ten tyde van die voorval in die omgewing was en iets opgemerk het wat die polisie tot hulp kan wees, word versoek om na vore te kom. Die berig lui verder dat die baba op slag dood is, en dat die ma steeds in die hospitaal is en vir skok behandel word. Dit was haar eersteling.
Ma en seun sit alleen aan tafel vir ’n ligte middagete nadat Johan van die skool af terug is. Daniël kom nooit vir middagete huis toe nie. Die gesin nuttig gewoonlik hul hoofmaaltyd in die aand.
“Mag ek vanmiddag Ma se motor leen, asseblief?”
Sy frons liggies. “Johan, jy weet jou pa hou nie daarvan dat jy sonder ’n rybewys rondry nie. Daar was al tevore moeilikheid daaroor. Waar is jou fiets?”
“Elna se ma-hulle hou nie daarvan dat sy op ’n motorfiets ry nie. Ma weet dit tog. Ek moet haar vanmiddag gaan oplaai. Ek het belowe. Asseblief, Ma! Ek sal terug wees voordat Pa van die werk af kom.”
“Nou goed dan,” kapituleer Rina maar, veral ter wille van die Stockenströms. Sy is baie in haar skik met die vriendskap tussen die twee kinders. Die Stockenströms is regtig vooraanstaande mense. “Maar jy sorg dat jy terug is voordat jou pa vanmiddag tuiskom, Johan!”
“Ja, Ma. Ek belowe.”
Dinge werk nie altyd uit soos ’n mens beplan nie. Daniël kom daardie middag vroeër huis toe – tot sy vrou se verbasing.
“Waar kom jy vandaan? Hoekom …?” Sy frons, kyk hom stip aan. “Is iets verkeerd, Daniël?”
Sy oë is ontwykend; sy weervraag ook: “Moet daar juis iets verkeerd wees? Dit was al vyfuur.”
Sy kortaf antwoord vertel haar dat daar wel iets skort en haar oë word waaksaam. “Ek vra maar net. Jy was nog nooit weeksdae voor kwart voor ses tuis nie. Koffie?”
“Nee. ’n Drankie.”
“’n … Drankie?”
Hy lyk vererg, ietwat uitdagend. “Ja, asseblief. Ek kan dit self inskink as dit te veel moeite vir jou is!”
Haar frons verskerp merkbaar en haar oë flikker vererg. “Ek sal jou drankie inskink, maar dan wil ek weet wat gaande is.”
“Daar is niks gaande nie, Rina! Liewe genugtig, mag ’n man ná ’n harde werksdag nie eens ’n drankie in sy eie huis in rus en vrede geniet nie?”
Haar oë vernou. Hier is ’n groot skroef los. Dis nie dat sy en Daniël nooit woorde kry nie. Inteendeel. Maar hulle is opgevoede mense en maak rusie op ’n beskaafde manier – so half uit die hoogte, en op uiters beleefde toon. Die Pohls is beslis nie mense wat mekaar trompop in die hare sal vlieg of na ’n vlak van openlike onbeskoftheid sal daal nie. Maar Daniël is vanmiddag baie na aan breekpunt, besef sy.
“Ek sal jou drankie skink.”
Sy oorhandig dit, en gaan sit. Die stilte lê swaar tussen hulle.
Dis nie die eerste keer dat man en vrou besef dat hulle êrens langs die pad iets in hul huwelik verloor het nie. Dis nie die eerste keer dat die besef tot hulle deurdring dat hulle nie meer dieselfde eenheid vorm as vroeër nie. Vandat die kinders begin groot word het, het ’n kloof ontstaan. Selfs Johan, wat nog in die huis woon, het sy eie lewe begin lei. Hy slaap en eet by die huis, maar verder is sy dae vol van sy eie dinge. In sy besige program is daar nie veel tyd vir sy ouers nie. Daniël en Rina is nie die eerste getroude paar wat tot die skokkende besef kom dat hulle skielik niks meer vir mekaar te sê het vandat die kinders groot is nie. Elkeen het ongemerk ’n eie lewe begin lei. ’n Dodelike roetine het hulle van mekaar begin dryf.
Soggens vroeg ná ontbyt skei man en vrou se paaie. Daniël gaan na sy werk, en Rina, nadat sy die nodige skrale aandag aan die huishouding gegee het – daar is immers genoeg om haar bevele uit te voer – is op pad na ’n brugpartytjie, ’n modeparade, die blink winkelsentrums, of waarmee sy ook al haar lang, ledige rykmansbestaan omkry. In die middae is dit gewoonlik tennis, rolbal of weer die een of ander teeparty of vrouebyeenkoms.
In die namiddag, omstreeks sesuur, kom haar man van die werk af. ’n Rustige aandjie tuis vir die twee saam is ’n ongekende weelde. As dit nie gaste is wat ontvang word nie, is dit die een of ander onthaal wat bygewoon moet word. Dan is daar nog al die vergaderings.
Naweke gaan dit gewoonlik dol. Saterdagmiddag is dit tennis vir mevrou en gholf vir meneer. ’n Paar drankies by die klubhuis is ewe noodsaaklik. Saterdagaande is daar altyd iets aan die gang wat tot laatnag aanhou.
Sondae is die enigste dag wat redelik rustig verloop. Maar dié dag het ook sy verpligtinge. Eers die oggendkerkdiens. Dít woon die Pohls baie getrou by. Daniël was jare lank diaken en is nou ouderling. Ná kerk volg ’n teedrinkery by vriende. Sondagmiddae word die vorige nag se verlore ure ingehaal met ’n slapie. So teen vyfuur ontdooi almal en word daar weer gekuier. Of, as die gesin wonder bo wonder by die huis bly, sorg die jongste skindernuus in die Sondagkoerant vir vermaak. Aandete is iets ligs. Daarna is dit óf kerk toe óf televisie kyk. Miskien word daar ’n paar woorde gesels. Meestal gaan dit oor die week se skindernuus – wie het wat op watter brug- of teeparty te vertel gehad; wie het nuwe meubels by Daniël Pohl Beperk gekoop, en wie s’n moes teruggehaal word. Dan is dit slaaptyd … en die week is verby. Môre is dit Maandag en die siklus begin weer.
Selfs in die slaapkamer het hul liefdeslewe ’n blote roetine geword en afgestomp tot net nóg ’n plig. Met ’n skok moet albei ná die uitvoering van hierdie plig besef dat die behoefte aan mekaar die afgelope tyd al hoe meer getaan het. As hy nie te moeg of te besig is nie, is sy wel. As sy nie te laat in die bed kom nie, is dit hy. En so, ongemerk, het die bande wat man en vrou tot ’n hegte eenheid saamsnoer, begin uitrafel …
Tog, hulle is nie ongelukkig nie – in elk geval nie soos baie ander getroude pare nie. Hulle het nie groot probleme nie – nog nie in hul huwelik of gesinslewe nie. Die kinders veroorsaak geen probleme nie, altans, nie om van te praat nie. In hul huwelik is daar nie, soos by soveel van hul vriende, ’n derde persoon betrokke nie. Redelik gelukkig …
Rina staan op, besluit om vir haar ook ’n drankie te skink. Ná feitlik ’n kwarteeu behoort ’n mens iets op daardie “redelik gelukkig” te drink.
“Waar is Johan?”
“Iewers heen … saam met Elna.”
Daniël frons. “Waarmee? Sy motorfiets staan dan buite.”
“Ek het hom my motor geleen.” Sy hou haar hande op toe hy vererg wil begin praat. “Ek weet. Ek het dit al tevore gehoor. Maar hy moes Elna êrens heen vergesel en die Stockenströms hou nie daarvan dat hul dogter agter op ’n motorfiets ry nie. Tereg ook.”
“En omdat die Stockenströms se dogter nie by iemand op ’n motorfiets mag ry nie – want dit pas nie by ’n advokaat se dogter nie – moet ék die angs uitstaan dat hulle die dood tegemoet kan ry in daardie motor! En behalwe dit, kan dit my ’n mooi klompie kos as Johan in ’n ongeluk betrokke raak of sonder ’n rybewys gevang word.”
“Regtig, Daniël! Waarom dié gekerm oor geld? ’n Mens sou sweer dit sal jou finansieel breek as jy ’n boete moet betaal!”
“Nee, maar dit sal my wel finansieel breek as al my kliënte my so swak moet betaal soos jou aanstaande swaer!”
Sy kyk hom verward aan. “Waarvan praat jy, Daniël?”
Hy sug, hou sy glas uit. “Gee my nog ’n drankie. Ek praat van advokaat Stockenström. Hy weet van koop, maar blykbaar nie van betaal nie.”
Sy kyk hom verbaas aan. “Ek verstaan nog nie …”
“Dis baie eenvoudig, Rina. Daardie sitkamerstel wat ek spesiaal vir hulle moes bestel omdat daar niks in die vertoonlokaal van Daniël Pohl Beperk was wat die advokaat se vrou tevrede kon stel nie … en wat ek toe omtrent tot my verlies vir hulle in die hande gekry het.”
“Ja, ek weet jy het dit as ’n spesiale guns vir hulle gedoen …”
“En ook maar net omdat Johan met hul dogtertjie uitgaan – en albei maar nog in graad elf! Wel, ek was gister op pad om daardie einste sitkamerstel te gaan terugeis.”
“Daniël!”
“Behalwe die deposito en twee paaiemente het ek nog nooit weer iets gekry nie … en dis vier maande gelede.”
“Daar … daar moet êrens ’n fout wees.”
“Maar natuurlik moet daar êrens ’n fout wees! Die advokaatsvrou se smaak is bokant die advokaat se vuurmaakplek … en ék is die een wat daarvoor gaan betaal!”
“Moenie laf wees nie, Daniël! Die Stockenströms is tog vooraanstaande mense …”
“Jy sal jou verbaas hoe baie sogenaamd vooraanstaande mense van die skuld stink!”
“O, Daniël! Maar niemand in ons vriendekring nie! Hy is lid van die balie en …”
“Ja, en hy gaan sy alie sien as hy aanhou om skuld te maak en nie wil betaal nie,” sê hy pront.
“Jy sal tog nie regtig die stel gaan terugeis nie, Daniël! Hoe sal dit lyk?” Rina kyk hom bekommerd aan.
“Dis die moeilikheid met die hele wêreld vandag, my vrou. Alles gaan net om vertoon. Alles moet net reg lyk – die res maak nie saak nie. Die advokaat se sitkamer moet soos ’n advokaat se sitkamer lyk. Of nog beter, eintlik soos die hoofregter s’n, en wat betref die man aan wie die geld geskuld word …”
“In hemelsnaam, as dit dan móét, skryf eerder die geld af! Dit sal ons nie breek nie!”
Hy kyk haar kil aan. “Jy het geen begrip van wat in die sakewêreld aangaan nie, Rina. Mense kry swaar. Daar is nie meer geld nie, veral nie vir weeldeartikels nie. En nuwe meubels is een van daardie luukshede. Mense koop nie meer so maklik nuwe meubels nie. Hulle kom maar oor die weg met die oues. My verkoopsyfer het die afgelope paar maande met byna vyftig persent gedaal. En dan moet ek nou nog onder daardie vyftig persent kopers met die advokate Stockenströms wat nie wil betaal nie sukkel.”
Sy frons kwaai. “Wil jy my kom vertel jy het finansiële probleme?”
“Nee. Nog nie. Daniël Pohl Beperk is gelukkig gesond. Maar dit sal nie gesond bly as ek hierdie soort ding toelaat nie. My kragtie, man, ek het nog nie eens ’n kwart van die geld vir daardie stel ontvang nie!”
“Daniël, moenie oorhaastig wees nie. Gaan praat eers met die man.”
“Jy bedoel ek moet hom om my regmatige deel gaan soebat – asof ek hóm geld skuld en nie hy vir my nie?”
“Jy weet wat ek bedoel. Jy moes al voorheen mense gaan aanspreek het. Jy kan dit nou weer doen.”
“Dink jy ek het dit nie al probeer nie? Ek voel skoon skaam om na sy kantoor te bel, want hy is net nooit beskikbaar nie. Na sy huis wil ek nie bel nie. Ek het nie juis ooghare vir sy vrou nie. Sy gee my ’n kramp met haar teemstemmetjie en goue eetgerei.”
“Ag, kom nou, my man! Dis ’n pragtige stel en …”
“En jy wou ook so ’n stel gehad het nadat ons die aand daar geëet het. Ja, ek weet. Daar is niks verkeerd met ons eetgerei nie. Jy is al amper net so ’n groot snob soos Marie Stockenström.”
“Baie dankie. Maar jy raak darem nou baie beledigend …”
“Ek is net eerlik.” Hy kyk haar strak aan. “Daar is nie juis veel van ’n huwelik tussen ons twee nie, is daar?”
Sy trek haar asem in, en haal haar skouers op. “Ek is nie bewus daarvan dat ek enigsins as vrou tekortskiet nie. Ek sien goed na die huishouding om en …”
“Dit kan enige knap huishulp ook doen. ’n Man wil ’n vrou hê, Rina, nie net ’n huishoudster nie.”
“En waar skiet ek as vrou tekort?” Haar oë kan hom deurboor. “Ek het jou kinders in die wêreld gebring …”
“Jare gelede, ja. Om die waarheid te sê, die laaste een presies sewentien jaar gelede. En nou rus jy al sewentien jaar lank op daardie louere – of wil jy my vertel jy is die afgelope tyd werklik vir my ’n vrou?”
Haar gesig verstrak. “Dit is ’n tweesnydende swaard, Daniël Pohl! Jy is beslis ook nie meer die beste minnaar wat daar te kry is nie.”
Albei besef dat hierdie rusie anders is as al die voriges. Daar het ’n lelike noot ingesluip …
“Kan jy my kwalik neem? Ek het deesdae ’n pop by my in die bed, nie meer ’n vrou nie.” Sy oë flits uitdagend. “Ek moet my gedra – jóú woordkeuse – want jou kapsel sal deurmekaar raak en jy het die volgende oggend ’n tee- of brugafspraak met mevrou dokter dié en mevrou dokter daardie. En regter dié en advokaat daardie se gade sal ook daar wees. En …”
“En hier is Johan nou. Kom ons staak liewer hierdie gesprek.”
Hy lag smalend. “Staak, ja. En ons bly presies net waar ons is.”
Hy draai na sy seun toe dié binnekom. Voordat enigiemand anders iets kan sê, laat hy bars hoor: “As ek jou wéér vang dat jy jou ma se motor gebruik, verkoop ek jou motorfiets. Dit wys mos nou jy het dit nie nodig nie. En as ek jou daarná weer betrap, verkoop ek die motor. Dan kan jy en jou ma en julle belangrike vriendinne bus ry of jul voete gebruik. Verstaan ons mekaar goed?”
“Ja, Pa.”
Hy stap uit, en Johan kyk sy ma verbaas aan. “Wat gaan aan? Hoekom is Pa so dwars?”
Sy haal haar skouers op. “Sommer buierig. Iemand het hom kwaad gemaak by die werk. Ek het jou bord kos in die yskas gesit – koue vleis en slaai. Ons gaan vanaand na die Malans se dinee. Ek moet solank gaan aantrek …”
“Dan moet jy maar alleen gaan. Ek bly by die huis.”
Rina kyk haar man verskrik aan waar hy skielik in die deur verskyn. Sonder om op sy woorde te reageer, sê sy skerp: “Daniël, jy rook!”
“Wat daarvan?”
“Maar jy het jare gelede opgehou! Van wanneer af …?”
“Ek het gister weer begin. En ek gaan nié na die Malans se dinee nie.”
Sy trek haar asem in, bid om geduld, en probeer op ’n redelike toon om hom te oorreed. In haar hart is sy eerder lus om hom in sy peetjie te stuur. “Die Malans is baie goeie kliënte van jou. Hulle het net verlede maand vir hul getroude dogter ’n duur stel geelhouttafeltjies by jou gekoop en hulle betaal kontant. Jy kan hulle nie so aanstoot gee nie, Daniël, asseblief!”
Natuurlik gee hy maar teen die end in, maar die aand is vir hom oneindig lank en al die niksseggende praatjies uiters vervelig. Die gewone onderwerpe word aangeraak, en nie één is opbouend of verbeter sy slegte luim nie. Soos gewoonlik praat die mans oor die swak finansiële klimaat, die goudprys wat bly skommel en maar net nie kan klim nie, die rand se stryd teen die dollar, die ontstellend hoë inflasiekoers, sakeondernemings wat bankrot speel, inkomstebelasting en uitleenkoerse. En net om die lewe draaglik te maak: die jongste skuins grap.
Toe die vroue bykom, gaan dit nie veel beter nie. Dis net moord, roof, verkragting, kinderontvoering. Veral die jongste skokkende gebeurtenis word van alle kante bespreek.
“… en nou soek die polisie na ’n silwergrys Mercedes-Benz wat ten tyde van die voorval in die omtrek gesien is.” Die vrou se stem is so skril dat dit almal se aandag trek.
“Wat van ’n silwergrys Mercedes, Carla? Een soos Daniël s’n?”
’n Gelag klink op.
“Ja. Kan jy glo dat iemand met só ’n motor so iets afgrysliks sal doen? Dis ongelooflik!”
“Wat gedoen? Ek het by die stert van die storie ingekom. Wat het die man met die Mercedes gedoen?”
“’n Bruin vrou op straat gemolesteer …”
“Volgens die berig in die koerant en oor die radio het hy glo eintlik net ’n onwelvoeglike voorstel aan haar gedoen,” help een reg.
Carla neem weer oor: “Wel, sy het hom afgejak en toe ry hy haar baba in die stootwaentjie dood. Sommer net so. Kan jy dit gló?”
“Rina, ek gaan nou huis toe.” Daniël neem haar aan die arm en laat harder hoor: “Mense, julle sal ons moet verskoon. Goeienag, almal. Nee, ons moet nou terug. Baie dankie vir die aand, Koos, Carla …”
Dis stil tussen man en vrou. Selfs nadat hulle die kamerlig uitgedoof het. Maar nie een kan aan die slaap raak nie.
Die ergernis in haar gemoed hou Rina wakker. Daniël moet glad nie dink sy gaan gediend wees met sulke gedrag nie! Môre sal sy daarop aandring dat hy haar om verskoning vra. Sy verdien nie wat hy haar toegevoeg het nie, en dit nadat sy haar byna ’n kwarteeu lank aan hom, sy huis en kinders gewy het!
Langs haar lê Daniël, arms gevou agter sy kop. Hy weet self nie wat hom vandag so van sy trollie laat gaan het nie. Maar die ding met die Stockenströms ontstel hom geweldig. As hulle net nie sulke goeie kennisse was nie … Johan nie met hul dogter gesleep het nie. Maar hy kan tog nie daardie reusebedrag skade ly nie! As Rina net wou verstaan! Hy het vroeër vandag so ’n behoefte gehad aan iemand met wie hy kon praat. Op die oomblik is Daniël Pohl Beperk nie in gevaar nie, maar as die ekonomiese klimaat nog baie lank dieselfde bly óf verswak, sal hy genoodsaak wees om van sy personeel af te dank en die gordel, veral wat huishoudelike uitgawes betref, stywer te trek. Hy het so ’n behoefte aan sy vrou …
Hy draai na haar, skuif sy arm onder haar in. “Rina …”
“Ek is moeg, Daniël. Ek wil slaap.”
Hy lê ’n oomblik stil. Moeg? Van skinder, teepartytjies hou en inkopies doen! Te moeg vir haar man! Te moeg om vir hom ’n vrou te wees – veral wanneer hy vertroosting en nuwe moed in haar nabyheid en liefde soek. Hy trek sy arm uit, sit regop, en soek na die pakkie sigarette op die bedtafeltjie.
“Wat doen jy nou, Daniël? Jy gaan tog nie in die slaapkamer rook nie!” Hy swaai sy voete van die bed af. “Waarheen gaan jy nou?”
Hy stap aan.
“Daniël!” Die lig word aangeskakel. “Wat gaan áán met jou?”
By die deur draai hy om en kyk terug na haar. “Niks. Ek mag nie in my eie huis rook nie. Dan mag ek dit seker op my eie grasperk doen … met jou verlof, natuurlik.”
Man en vrou is albei bly toe die nag verby is. Daniël het eers weer in die bed kom klim nadat hy meer as die helfte van die pakkie sigarette gerook het, en sy mond brak en branderig geproe het. Rina het ingesluimer, maar kort-kort wakker geskrik totdat dit opstaantyd was.
Die min slaap en die besef dat hulle nie daarin kan slaag om die muur tussen hulle af te breek nie, het glad nie bygedra om die gemoedere die volgende oggend te verlig nie. Aan ontbyttafel heers ’n doodse swye.
Toe Daniël opstaan, sy aktetas optel en deur toe stap, ruk sy vrou se koel stem hom tot stilstand: “Groet jy nie?”
Nie dat die piksoentjie soggens en saans met sy tuiskoms enigsins meer as net ’n beleefde ritueel is nie. ’n Man groet sy vrou soggens wanneer hy werk toe gaan en weer smiddags wanneer hy van die werk af kom. ’n Noodsaaklike ritueel van die huwelik. Aan die begin van die getroude lewe doen hy dit omdat hy soveel ure van haar af weg was. Hy is bly om terug by haar te wees. Met verloop van tyd word dit bloot ’n gewoonte en grootliks ter wille van die kinders. Heelwat later, byna ’n kwarteeu later soos vanoggend, is daar geen onskuldige kinders voor wie se oë die front van huweliksgeluk voorgehou hoef te word nie. Maar dit word nogtans gedoen, soos om jou tande te borsel en jou baard te skeer. Dis deel van die oggendroetine, soos dit deel van die middagroetine is om ná jou tuiskoms jou baadjie uit te trek en jou das af te haal.
Anders as wat sy vrou dink, is dit nie uit beduiweldheid dat hy vanoggend nalaat om haar te groet nie. Hy het werklik vergeet. Sy gedagtes was so vol van die dag se probleme, waarvan advokaat Stockenström die grootste is. Wat sal die beste wees: hom nog een keer in die hande probeer kry en vriendelik daaraan herinner dat vier maande se paaiemente agterstallig is? Dalk ’n rekening met ’n aanmaning aan hom stuur, of die rekening aan ’n prokureur oorhandig om in te vorder?
Hy draai terug, kyk na haar. Sy sit steeds by die ontbyttafel: stywe rug, stywe gesig, koel, veroordelende oë asof hy ’n moord begaan het. Hoe belaglik is dit nie!
Rina het gisternag haar rug op hom gedraai toe hy toenadering gesoek het. Toe was sý te moeg en te vaak om vir hom ’n vrou te wees. Maar vanoggend dring sy aan op sy afskeidsoen … Sy voel geregtig daarop, soos wat sy dink dit is haar goeie reg dat hy die middele moet voorsien wat hul plek in haar uitsoekkring verseker. Dis deel van die vertoon wat hul huwelik al jare lank kenmerk. Sy mondhoeke smaal.
Op haar beurt kyk Rina na haar man. Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd sien sy hom regtig raak; sien sy dat hy ’n baie aantreklike man is met die donker hare en grys wat teen die slape begin silwer raak. En skielik is daar ’n benoudheid in haar terwyl sy besef dat sy ’n fout gemaak het. Sy was nie vaak óf moeg nie. Sy was kwaad, het veronreg gevoel. En Daniël is nie meer te vinde vir dié soort behandeling nie. Het hy, soos baie ander mans van sy ouderdom, reeds sy plesier elders begin soek – waar sy toenadering nie met flou en ongegronde verskonings weggestoot word nie? Dit is die groot vraag wat die eerste keer by haar opkom.
Die twyfel laat haar gesig verder verstrak, die oë stywer staar sodat hulle openlik vyandig vertoon. Daniël is nie daardie soort man nie, dit weet sy vanuit haar jare lange kennis van hom. Natuurlik vind die vroulike geslag hom aantreklik. Natuurlik was daar al vroue wat hul flikkers vir hom gegooi het. Daardie soort kry jy oral, van die laagste stand tot in die hoogste kringe. Maar nog nooit het Daniël haar die gevoel laat kry dat sy hom nie kan vertrou nie. Hy is nie die rondlopersoort nie. Hy is baie lief vir sy kinders. Hy is ’n gesiene man, ’n ouderling …
Aan die ander kant … Talle van haar vriendinne se mans is ook ouderlinge en gesiene mense wat lief is vir hul kinders … en húlle loop rond. Onlangs het dit ’n klein opskudding in hul kring veroorsaak toe dit op die lappe kom dat een van hulle ’n meisie in ’n woonstel aanhou, waarvan hy die maandelikse huurgeld betaal … onder meer. ’n Man van wie jy dit nooit sou verwag nie.
“Daniël … is jy moeg vir my?” Sy het nie bedoel om dit hardop te sê nie. Maar die woorde is uit en sy kan haar tong afbyt.
Die smalende trek om sy mond verdiep. “Wat ’n vraag vir hierdie tyd van die oggend, my vrou. Maar as dit dan gestel moet word, dink ek dis eerder aan die verkeerde een gerig. Moet ek dit nie liewer aan jóú stel nie?”
Sy trek haar asem in, voel die skielike koudheid in haar al hoe wyer sprei. Hy het die vraag omseil, gooi dit liewer terug na haar …
“Jy het nog nooit enige rede gehad om my te verdink van ’n agterbakse verhouding met ’n ander man nie. Nie eens van ’n flirtasie nie!”
“Het jy dan?”
Hul oë bots.
“Nee, maar …”
“Maar wat?”
“Ek … ek het net die indruk gekry dat jy … ’n teësin in my ontwikkel het,” antwoord sy flou, wetende dat hierdie gesprek nooit moes begin het nie.
Hy lag sarkasties. “Dan is jy gelukkig, my vrou. Ek het lankal die idee gekry dat jy geen trek meer vir my het nie.”
“Dis nie waar nie, Daniël! Dis onregverdig …”
“Is dit? Dink ’n bietjie terug … Ek sien jy onthou. Nog onregverdig?”
Sy spring op toe hy omdraai. “Daniël!”
Hy kyk terug. “Ja, Rina?”
Wat moet ek doen? Wat moet ek sê? Hoe het alles meteens so handuit geruk? Bekommerde gedagtes flits deur haar verwarde brein.
“Ek is jammer as ek so ’n indruk by jou gewek het. Dis glad nie die geval nie. Miskien … miskien moet ons ’n slag … e …”
Sy soek na woorde, en hy help haar: “Moet ons voorraad opneem? Glad nie ’n slegte plan nie. Ons moet ’n slag kyk na wat ons het; wat ná byna vyf en twintig jaar oorgebly het en of dit die moeite werd is om daarmee vol te hou. Jy het die hele dag om dit te doen. Ek het in elk geval gisternag besluit om vandag voorraad op te neem van Daniël Pohl Beperk en ons finansiële posisie. Ons het nie nou geldelike probleme nie, maar ’n mens weet nooit wat die toekoms inhou nie. Ons moet begin besnoei en alles uitskakel wat met vertoon te make het. Ek wil nie beland waar die Stockenströms op die oomblik is nie – bo blink en onder stink van die skuld.”
“Wat bedoel jy? Wat uitskakel?”
“Ons lewe van vertoon, Rina. Soos die groot Mercedes wat net gebruik word om mee werk toe te ry en na een van die talle vervelige onthale. ’n Kleiner motor sal baie meer ekonomies wees en jou motor is heeltemal goed genoeg om mee te gaan kuier. Die mense wat nie daarvan gaan hou dat hul vriende met ’n ander minder luukse motor as ’n Mercedes kom kuier nie … hulle moet waai.”
“Die Mercedes inruil!” Sy kan haar ore nie glo nie.
“Ja. En dan gaan ons vriendekring met ten minste die helfte krimp. Én jou persoonlike toelaag.” Sy oë is uitdagend. “Ek gaan dus vandag ons finansiële posisie in oënskou neem en jou vanaand vertel wat gaan vir wat. Jy kan ons huwelik in oënskou neem en my vanaand sê waar ons met mekaar staan. Tot siens.”
Daniël Pohl loop eintlik al maande lank met die besef in hom rond dat hy in die toekoms versigtig sal moet beplan om nie dieselfde weg in te slaan as so baie ander sakeondernemings nie. Maar hy het nie regtig die vorige nag al besluit om ’n kleiner motor aan te skaf nie. Sy planne om te besnoei is eintlik op ’n ingewing gebore. Maar toe dit geuiter is, besluit hy om daarby te bly.
Hy is pas in sy kantoor by Daniël Pohl Beperk toe hy die motorhawe bel waar hy die Mercedes kwalik ’n jaar gelede gekoop het.
Die man aan die ander kant se verbasing is duidelik hoorbaar, maar hy druk deur. Laat hulle maar verbaas wees. Hulle sal nie die enigstes wees nie. Talle ander mense gaan skeef opkyk wanneer die Pohls met ’n doodgewone motortjie begin rondry. Maar dit skeel hom min. Dan is dit ten minste betaal en hy hoef nie snags oor die paaiemente wakker te lê nie.
Van paaiemente gepraat … Hoekom sal hy ter wille van ’n bakvissieliefde tussen sy seun en advokaat Stockenström se dogter ’n uitsondering maak van die man se rekening? Sy hand reik na die telefoon. Persoonlike vertoon gaan ingekort word. Hoekom moet hy dan ’n ander man aan syne help dra? ’n Paar oomblikke later praat hy met sy prokureur.
Toe die gesprek klaar is, sit Daniël die gehoorbuis ingedagte op die mikkie neer. Hy trommel afgetrokke met sy vingerpunte op die lessenaar voor hom. Twee sake is afgehandel, maar die derde gaan nie so maklik wees nie. ’n Huwelik is nie iets wat jy met ’n telefoonoproep of met ’n inruiling kan regmaak nie. Ongelukkig nie, dink hy en grynslag. As ’n mens maar die duur vrou – wat jy nie meer kan bekostig nie – kon inruil vir ’n goedkoper een. Dit sou baie probleme oplos. Maar dis nie so eenvoudig nie. Wat gaan hy doen omtrent sy huwelik?
Dis maar eers die afgelope ruk dat hy besef in watter gemors sy huwelik eintlik is. Waarom hy so voel, weet hy self nie. Hy en Rina gaan tog al jare lank so aan. En dis nie dat hy haar nie meer liefhet nie … Natuurlik vorm hulle nog ’n eenheid. So baie dinge bind hulle saam, veral die kinders … Maar hul verhouding bevredig hom nie meer nie. Hy sien nie meer kans om langer so aan te gaan nie. Dis nie dat hy ’n ander vrou wil soek nie. Dit is eerder ’n geval van om te gaan soek en te herwin wat ongemerk in hul verhouding verlore geraak het.
Dit het nie met seksuele bevrediging te doen nie – soos hy weet Rina dink. Baie mans wat rondloop, is nog lief vir hul vrouens. Hulle soek eintlik net op die verkeerde plek na dit wat hulle mis. Maar wat staan jou te doen as jou maat tevrede is met jul verhouding; nie die behoefte het om saam met jou te soek na dit wat julle uitmekaar laat dryf het nie …
“Hier is u tee, meneer Pohl.”
“O … dankie, juffrou. Sit maar neer.”
Rina se brugpartytjie is ook nie vandag so ’n groot sukses nie. Sy kan nie haar aandag ten volle by die kaarte bepaal nie en het al ’n paar lelike flaters begaan wat haar maat skeef laat opkyk het.
“Skort daar iets, Rina?”
“Nee, dis net … Ek het nie gisternag so goed geslaap nie.”
Dan kyk sy op, vind die ander drie se oë op haar en weet dit sal nie help om tussen hierdie ervare vroue ’n front voor te hou nie. Elkeen van hulle het ook al probleme gehad met hul mans.
Sy glimlag skeef, erken dan openlik: “Daniël is skynbaar nou in sy oorgangsjare. Hy is deesdae vol draadwerk. Niks is reg nie. Hy is buierig en soek met alles en almal fout … Ag, julle weet wat ek bedoel. Ek is raadop. Ek weet nie hóé om hom te hanteer nie. Hoe lank hou dit aan?”
Drie paar oë wissel betekenisvolle blikke. Wel, tot dusver was Daniël Pohl se gedrag onbesproke en Rina is in die stilligheid beny, maar hy bly ’n man …
“Naugthy forties, h’m?” laat een effens smalend hoor.
’n Ander beantwoord haar vraag: “Dit kan aanhou totdat hy tagtig is. My man is nou al in die sestig en ek het hom gesê hy kan nou maar gerus liewer kinds raak.”
“Haai, Berta!”
“Dis waar. Ek sien eerder kans om met ’n kinds ou man saam te lewe as met een wat dink hy is nog so viriel soos in sy jeug terwyl hy jare gelede al seniel begin raak het. Wat is erger as ’n stuitige ou man wat dink hy kan nog alles vermag wat hy vir homself optower?”
Rina probeer vergeefs om haar kommer weg te steek. “Maar Daniël is glad nie so nie. Hy is maar vyf en veertig!”
“Nog erger. Dan kan hy nog alles doen waaraan hy dink!”
Rina voel die blos van ergernis teen haar nek opstyg. Berta moenie dink net omdat háár ou man laf is, is Daniël ook te vinde vir goedkoop flirtasies nie.
“My man het nog nooit rondgeloop nie! Ek praat nie dáárvan nie. Hy is maar net buierig en moeilik …”
Die simpatie in die ander se oë laat haar swyg.
“Ons weet. Ons ken die tekens, my liewe Rina. Niks wat jy doen, is meer reg nie. Niks wat jy is, is meer goed nie. Ja, dis hoe dit begin.”
Sy weet sy moet stilbly. Sy moes in die eerste plek stilgebly het. Tog hoor sy haarself vra: “Tekens van wat?”
“Dit is die aanloop tot rondloop, my skat, of jy jou nou daaroor wil vererg of nie. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ek beweer geensins Daniël is van plan om jou te verkul nie of is reeds besig daarmee nie. Maar as iemand met ondervinding van daardie dinge, sê ek nou vir jou die tekens lyk baie verdag. Ek waarsku jou maar net as ’n goeie vriendin om jou oë oop te hou. Dis al.”
Rina sit haar kaarte neer en staan op. “Sal julle my asseblief verskoon? Ek gaan liewer huis toe. Tot siens.”
“Rina, wag …”
Die gasvrou kyk haar bekommerd agterna, terwyl die ervare Berta droog laat hoor: “’n Mens word altyd kwaad vir die waarheid, skat.”
Die vrou langs haar kyk haar fronsend aan, haar stem vol teleurstelling: “Maar dink jy regtig dis die probleem? Ek ken Daniël darem al jare lank, Berta, en nog nooit kon iemand ’n vinger na hom oor so iets wys nie. Ons het Rina nog altyd haar standvastige en getroue man beny, veral omdat hy op die koop toe so aantreklik is.”
“En vandag vind jy uit hy is maar nes alle ander mans. Daar bestaan nie so iets soos ’n getroue man op hierdie aarde nie … en julle weet dit goed. Ons hoef seker nie voor mekaar toneel te speel nie.”
Die ander twee kry albei ’n blos van ergernis, maar moet swyg. Die probleem is dat daar dikwels baie intieme besonderhede oor die brugtafel bespreek word, en agterna kan jy jou tong daaroor afbyt. Soos Berta sê, stry sal nie help nie.
“Ek glo dit in elk geval moeilik van Daniël Pohl,” hou die een vol, al is dit dan net om van Berta te verskil.
“Jy hoef ook nie. Die tyd sal wel leer. Maar die tekens is daar, volgens Rina. Wanneer hulle eers so begin fout vind met jou … dan moet jy weet hy het êrens iets beter in die hande gekry. Altans, dis wat hy in daardie stadium glo. Maar ons weet ook dat dit nie lank duur voordat ’n man agterkom ’n verandering is nie vanselfsprekend ’n verbetering nie. Maar dan is jou lewe klaar opgemors en dié van jou kinders ook. O, wel, ek gaan ook maar huis toe. Ons gaan nog vanaand by die Van der Walts eet. En die hele aand sal ek my natuurlik weer sit en skaam vir Piet se stuitigheid. Ek raak so moeg daarvan om voor te gee ek kom nie agter hoe hy sy attensies opdwing aan al wat rok dra en almal tot in die afgrond irriteer nie. Dié wat ek sê … as hy liewer wil kinds raak. Dan kan ek hom tuis in sy kamer toesluit.”
Dis ’n hoogs ontstelde Rina wat tuiskom en rusteloos deur haar groot huis ronddwaal. Haar vriendinne se sinspelings vreet soos ’n kanker aan haar. Natuurlik probeer sy die gedagte verwerp dat Daniël ontrou is. Dit is tog belaglik! verseker sy haarself driftig. Maar die saadjies is gesaai … Sy verwyte van die vorige dag kry nou ’n nuwe betekenis. Want nog voordat Berta so gaaf was om dit direk en hardop te sê, het dieselfde gedagte al vanoggend onverwags en ongevraag in haar nesgeskop: Is daar ’n ander vrou in Daniël se lewe? Is dít die rede waarom hy so buierig en vitterig is? Toe kon sy dit nog regkry om hierdie vrae met die minagting wat dit verdien van haar af te skud. Nou kry sy dit nie meer reg nie.
Hy hét haar verwyt dat sy nie meer in die ware sin van die woord ’n vrou vir hom is nie; dat hulle huwelik hom nie meer bevredig nie. Sy woorde was byna ’n direkte skimp dat hy nie meer daarin belangstel om daarmee voort te gaan nie. Bevind sy haar in dieselfde posisie as talle van haar vriendinne? vra sy haarself met ’n hart vol beklemming af.
Die eienaar van die motorhawe kom lewer die nuwe motor persoonlik by Daniël Pohl Beperk af en die werknemers kan kwalik hul verbasing verberg toe hulle sien die man ry later met die groot Mercedes weg. Natuurlik het dit heelwat gissings tot gevolg.
“Jong, hoe lyk dit dan hier is ’n slang in die gras?”
“Ja, dit lyk snaaks. Maar Daniël Pohl is tog ’n koelkop sakeman. Hy sal sorg dat hy nie in die moeilikheid beland nie.”
“Nietemin, ou maat. As ’n man sy Mercedes verkoop … Hoeveel sakeondernemings het die afgelope ruk hier om ons bankrot gespeel? Minstens ses waarvan ék weet. En almal het in blink motors gery – tot op ’n dag.”
“Man, ja, miskien sou dit nie gebeur het as hulle betyds meneer Pohl se voorbeeld gevolg het nie; betyds afgeklim het van die goue troontjie en die rieme dunner begin sny het. Dis een van die hoofredes waarom hulle bankrot gespeel het. Hulle wou nie van hul hoë lewenstandaard afsien nie. Ly liewer honger by die huis as dat die mense moet sien hulle ry met ’n minder luukse motor rond. Nee, meneer Pohl se kop sit reg op sy lyf. Ons hoef nie bekommerd te wees nie.”
“Maar hy is in ’n penarie,” kom dit van die ander. “Toe ek vanoggend sy tee gebring het, het hy my nie eens raakgesien nie. Net voor hom gesit en uitstaar en hy het vir my baie bekommerd gelyk. Ek vertrou nie die vrede nie. As ons ons oë uitvee, is ons almal op straat en op soek na werk.”
“Hou op om sulke twak te praat. Daar is ’n kliënt. Goeiemiddag, meneer. Kan ek help?”
“Nee, dankie. Ek soek na meneer Daniël Pohl.”
“Hy is in sy kantoor, meneer. U mag maar deurstap.”
“Dankie.”
Daniël nooi die vreemdeling om te sit en sluit sy somber gedagtes doelbewus weg. “Kan ek help, meneer …?”
“Lukas. Speursersant Lukas.”
Daniël knik. “Aangename kennis, sersant. Wel, waarmee kan ek tot hulp wees?”
“Ek wil net graag ’n paar vrae stel, meneer Pohl, as u nie omgee nie. Dit sal nie lank duur nie.”
Daniël se blik verskerp. Die man is nie ’n voornemende kliënt nie. “Vrae? Sekerlik, maar in verband waarmee is dit?”
“U was blykbaar gister in die omtrek van die plek waar ’n misdaad plaasgevind het. Ek wil weet of u dalk enige lig op die saak kan werp.”
“Misdaad? Watter misdaad?”
“’n Wit man het ’n kind in ’n stootwaentjie met sy motor doodgery. U dra seker kennis daarvan …?”
Daniël frons. “Nee … of … ja, ek kan my so iets herinner. My vrou het so iets genoem. Wat het presies gebeur? Ek kan nou nie die besonderhede onthou nie.”
Die speurder se gesig is onpeilbaar. So ook die oë wat die man agter die lessenaar bestudeer. “’n Wit man het by ’n bruin vrou op Houtbrug stilgehou en aan haar ’n onwelvoeglike voorstel gedoen. Toe sy weier, het hy die motor in trurat gesit en reg op die kinderwaentjie wat sy gestoot het, afgepyl. Die baba is teen die brugreling vasgepen en is op slag dood.”
“Dis reg. Nou onthou ek. My vrou en haar vriendinne het daarvan gepraat. Maar ek kan nie dink wat het ék … Jy sê dit het op Houtbrug gebeur?”
“Ja. Gisteroggend om elfuur. Was u in daardie tyd in die omgewing van Houtbrug, meneer Pohl?”
Daniël frons, skuif dieper in sy stoel. “Nee. Ja … Ek skat ek het omstreeks daardie tyd gery.”
“Het u niks gesien nie, niks verdags opgemerk nie? Was daar ’n vrou op die brug toe u daaroor gery het?”
“Nee. Nee, beslis nie.”
“Is u seker?”
“Ja, natuurlik.”
“Was daar enige ander mense op die brug of in die onmiddellike omgewing van die brug? Of ’n ander voertuig of voertuie?”
“Nee. Of … ja, ek verbeel my ’n motor het van voor gekom.”
“U is nie seker nie?”
“Nee. Jy weet hoe dit gaan, sersant. Jy is op pad êrens heen en let nie op nie.”
“Dan kan u ook nie sweer daar was nie ’n vrou met ’n stootwaentjie op die brug toe u daaroor gery het nie?”
“Nee. Seker nie. Ek het tog nie gesit en rondkyk nie. My gedagtes was met ander dinge besig. Ek was op pad êrens heen. Ek kan u ongelukkig nie help nie.”
“Waarheen was u op pad?”
“Na … e … ’n kliënt toe.”
“Waar bly die kliënt?”
“In die nuwe uitbreiding.”
“Die nuwe woonbuurt anderkant Houtbrug?”
“Ja.”
“Was hy toe tuis?”
Daniël frons. Die ondervraging begin nou ’n trant inslaan wat hom nie aanstaan nie. “Ek kan nie sien wat dit …?”
“Ek sal bly wees as u net my vraag beantwoord, meneer Pohl.”
’n Ongemaklike gevoel begin in Daniël posvat. “Nee, hy was nie, as jy moet weet. Luister, sersant, ek begryp nie die strekking van hierdie vrae nie. Dit wil amper lyk asof jy my van die misdaad verdink!”
“U sê u kliënt was nie tuis nie. U was dus daar – tot by sy huis?”
Daniël voel verward … en skielik onrustig. Asof daar nie reeds genoeg probleme is nie, moet hulle hom nog met sulke onsin lastig val!
“Nee. Ek het toe nie tot by hom gery nie. Ek het halfpad omgedraai en teruggekom.”
“Hoekom?”
“Hoekom nie? Magtig, man …”
“Bedaar, meneer Pohl. Dis ’n onskuldige vraag. Jy was op pad na ’n kliënt, en het halfpad omgedraai. Hoekom?”
“Omdat ek besluit het om die probleem waaroor ek met die man wou gesels eers daar te laat. En die probleem is, voordat jy dit vra, dat die man se paaiemente vier maande agterstallig is. Ek het besluit om die saak eers weer te oordink om seker te maak van die regte optrede in dié geval, want die man is nie bloot ’n kliënt nie. Hy is ook ’n … e … kennis, en ’n vooraanstaande man. Nog iets?”
Sy sarkasme is soos water op ’n eend se rug. “Ja. Waar het u toe omgedraai?”
“Net anderkant die brug.”
“Het u omgedraai en direk teruggery, weer oor die brug?”
“Ja, of … nee, ek het eers by die kafeetjie op die hoek stilgehou en ’n pakkie sigarette gekoop. Toe het ek teruggery oor die brug direk na my kantoor hier.”
“Rook u straf?”
“Nee. Ek het eintlik jare gelede opgehou met rook.”
“Maar toe koop u gister weer ’n pakkie sigarette.”
Daniël Pohl kan sy ontevredenheid nie langer wegsteek nie. “Ja, sersant. Toe koop ek gister weer ’n pakkie sigarette. Ek het nie geweet ek moet eers die polisiemag se toestemming kry nie.”
“Meneer Pohl, dit sal nie help om daardie houding in te neem nie. Ek doen net my werk.”
“Ja, maar magtig, man, jy mors my tyd en irriteer my met niksbeduidende vrae! Wat op aarde kan my rokery of nie-rokery te doen hê met die misdaad wat gepleeg is? Dis mos belaglik!”
Die sersant bly onversteurbaar. “Volgens die kafee-eienaar het u senuweeagtig en ontsteld voorgekom, eers die verkeerde bedrag vir die sigarette betaal, toe vergeet om u kleingeld te neem, en daarná het u by die deur omgedraai en weer ’n dosie vuurhoutjies gekoop voordat u vertrek het. Was dié hewige ontsteltenis net oor die kliënt wat u wou gaan sien?”
Daniël vee oor sy oë. “Jy sou ook ontsteld gewees het as die kans daar was dat jy ’n hele paar duisend kon verloor, sersant. Die kafee-eienaar … Hy is blykbaar baie spraaksamig.”
“Net oplettend. Hy het u geëien as meneer Pohl van Daniël Pohl Beperk.” Die oë kyk hom stip aan. “U ry met ’n silwergrys Mercedes, nie waar nie? Verlede jaar se model?”
“Ek het.”
“Het?”
“Ja. Ek het dit van die hand gesit en iets meer ekonomies aangeskaf. En as jy wil weet hoekom: bloot omdat dit vanuit ’n ekonomiese oogpunt ’n moeilike tyd is waarin ons leef. Ek is nog nie op pad na bankrotskap nie, maar ek glo aan …”
“Wanneer het u die transaksie beklink?”
“Vandag. Vanoggend, om die waarheid te sê.”
“Aan wie het u dit verkoop?”
“Aan die man by wie ek dit ’n jaar gelede gekoop het.” Hy verskaf die besonderhede, terwyl hy by homself dink: Genugtig! Dis om enige mens tot raserny te dryf! Wat soek die man nou juis?
Eindelik staan die speurder op. “Dankie, meneer Pohl. Jammer dat ek so baie van u tyd in beslag geneem het. Goeiedag.”
Daniël sit lank en staar na die deur wat agter die speurder toegegaan het. Dan sit hy meteens regop, sy gesig ’n oomblik vol verdwasing. Iets het hom soos ’n weerligstraal getref. Gisteraand … by die Malans. Dit was net voordat hy en Rina huis toe is dat hierdie misdaad onder bespreking was. Die vroue het daarvan gepraat en die gasvrou het opgemerk die polisie soek na ’n silwergrys Mercedes-Benz wat in die voorval betrokke was. Iemand het nog grappenderwys gevra: “Een soos Daniël s’n?”
Dan blaas hy sy asem stadig uit en sit weer terug. Verdomp! Hy weet mos dis nie hy wat by die saak betrokke is nie, al het hy met ’n motor gery wat dieselfde kleur en fabrikaat het as dié een waarna gesoek word. Hulle kan in elk geval maar sy motor gaan ondersoek. Hulle sal niks kry wat daarop dui dat hy in ’n botsing betrokke was nie. Hy glimlag grimmig. Hy kan sweer daardie speurdertjie is nou op pad na die motorhawe om sy ou motor van hoek tot kant te deursoek. Wel, laat hom maar soek. Hy sal niks kry nie.
Teen sluitingstyd stap die speurder weer Daniël Pohl Beperk binne. Die personeel is pas weg en Daniël maak ook gereed om huis toe te gaan. Hoe gouer hy en Rina hul gesprek agter die rug kry, hoe beter.
Hy frons openlik toe sersant Lukas in sy kantoordeur verskyn.
“Ek is jammer om weer te pla, meneer Pohl …”
“Ek is op pad uit, sersant. Ek verseker jou ek kan jou geen verdere inligting gee nie. Ek het jou alles vertel wat ek weet. Ek gaan nou huis toe.”
“Net een vragie, meneer. Waar en teen wat het jy die linkermodderskerm van die Mercedes gestamp? Waar kom daardie duik vandaan?”
“Die wát? Daar is geen duik …”
“Daar is, meneer Pohl. Nie groot nie, maar dis beslis daar en ’n redelike vars duik. Die eienaar van die motorhawe het dit aan my uitgewys.”
“Maar dis tog onmoontlik …”
“Daar is onteenseglik ’n duik, meneer Pohl. Waar het jy die Mercedes gestamp? Op Houtbrug?”
“Jy … Is jy mal, man? Genugtig, beskuldig jy my daarvan dat ék daardie kind doodgery het? Jy moet van jou sinne beroof wees!”
“Nee, meneer. Ek vra net dat u môreoggend nege-uur by die polisiekantoor aanmeld, asseblief.”
“Om wat te maak?”
“Om aan ’n uitkenningsparade deel te neem.”
“Waarom? Waarvoor moet ek …?”
“Die kind se ma het die man gesien, meneer Pohl. Hy het met haar gepraat. Sy sal hom kan uitken.”
“En ék moet ook in die ry wees?”
“Asseblief, ja.”
“Jy kan in jou …”
“Dit sal sake baie vergemaklik as u liewer u vrywillige samewerking gee, meneer Pohl. U maak dit vir uself ook makliker.”
“Luister, ou maat, daar is geen sake wat vir my makliker gemaak hoef te word nie. Ek het op die aarde net mooi niks met hierdie gemors uit te waai nie. Ek weet nie van ’n vrou en ’n kind …”
“In daardie geval het u mos niks te vrees nie, meneer Pohl.” Die twee mans se oë bots ’n oomblik. Dan draai die sersant om. “Tot môreoggend nege-uur, meneer Pohl. Goeiedag.”