Читать книгу Ena Murray Keur 17 - Ena Murray - Страница 7

4

Оглавление

Daniël Pohl se hel begin daardie volgende oggend toe hy sy sakeonderneming oopsluit en die lede van sy personeel in die gesig staar.

Die oggendkoerant lê gewoonlik al voor die deur wanneer almal opdaag om die dag se werksaamhede te begin. Dis die gebruik dat enigeen wat vóór Daniël opdaag solank daardeur mag blaai. Vanoggend hoef hulle nie eens dít te doen om alles te weet nie. Die skokkende berig het die voorblad gehaal.

Toe Daniël nader stap, sien hy hoe een die koerant probeer wegsteek. Aan die gesigsuitdrukkings, die verslaentheid en ongeloof in die oë, lees hy onmiddellik dit het al die ronde onder hulle gedoen. Hy sluit oop, hou sy hand uit na die koerant en die arme klerk word bloedrooi toe hy dit moet oorhandig.

“Jy hoef nie skuldig te lyk nie, Pen. Jy het niks verkeerd gedoen nie. Ek ook nie.” Daniël stap deur na sy kantoor, kom halfpad tot stilstand en draai terug, spreek sy regterhand, Neels Erlank, aan: “Sodra almal hier is, karweiers inkluis, wil ek julle hier bymekaar hê. Kom roep my.”

’n Rukkie later is daar ’n klop aan sy kantoordeur. Hy maak self oop, sien sy werknemers in ’n groepie staan. Sy blik dwaal oor hulle.

“Is almal hier?”

“Ja, meneer.”

Hy hou die koerant omhoog sodat elkeen die voorblad goed kan sien. “Julle weet reeds almal hiervan. En dié wat nog nie weet nie, sal dit gou genoeg hoor. Ek kan niks meer hieroor sê nie as net dit: Ek is onskuldig. Ek weet niks hiervan af nie.” Sy blik dwaal van die een gesig na die ander. Party lyk openlik verleë en ongemaklik. Almal ontduik sy blik, behalwe een. Hy ontmoet die swart man naaste aan hom se oë – dit is die uithalervoorman onder sy swart werknemers. Dié kyk vas terug.

“Weet jy wat aan die gang is, James?”

“Nee, meneer.”

“Wel, sodra jy agterkom, onthou net een ding: Jy het my woord van eer ek het dit nie gedoen nie. Sal jy dit onthou, James?”

“Ja, meneer.”

Hy knik. “Goed. Julle kan maar aangaan met jul werk. Dankie.”

Agter die toe kantoordeur laat hy sy kop tussen sy hande sak. Is dit moontlik dat hy, Daniël Pohl, hom flus teen so ’n aanklag voor sy personeel moes verdedig? Het dit werklik gebeur? Het hy werklik ’n man gesoebat om sy woord te aanvaar? Maar dis belangrik dat James in hóm sal glo, nie in alles wat hy in die koerant lees nie. Want hy en hierdie swart man stap al vyftien jaar lank saam. Deur die jare het vertroue en respek vir mekaar gegroei. Net so min as wat Daniël Pohl Beperk sonder hóm kan klaarkom, kan dit sonder James klaarkom. Hy is net so deel van die sakeonderneming soos Daniël. As so ’n aantyging teen James gemaak is, sou hy, Daniël, dit summier met die grootste minagting verwerp het. Hy wéét James sal nooit so iets doen nie. Maar kan hy op dieselfde lojaliteit van James se kant af staatmaak?

Nege-uur lui die telefoon. Dis Casper.

“Daniël, ek bel net om jou te herinner … Jy kan dalk vergeet.”

“Wat?”

“Dat jy jou moet gaan aanmeld.”

Daniël is stil. Dan sê hy sag: “Ek het vergeet. Ek sal sommer nou gaan.”

Maar hy is bang om by sy kantoordeur uit te stap, bang vir die wêreld daar buite. Vir die eerste keer in sy lewe voel hy bang om sy gesig op straat te wys! Hy trek sy baadjie aan, lig sy ken. Wat het hy vir sy kinders gesê? Lig op julle koppe. Julle hoef nêrens te gaan wegkruip nie.

“Ek sal ’n rukkie uit wees, Neels.”

“Goed, meneer Pohl.”

Daniël kom gou agter dis moeilik om so braaf by jou voornemens te bly wanneer jy by ’n verkeerslig stilhou en ’n ou bekende langs jou in die ander motor is so druk besig om te kyk hoe ’n ou vrou oor die straat stap dat hy jou nie eens opmerk nie. Dit word moeiliker as jy by die polisiekantoor wil indraai en dis Marie Stockenström se motor waarvoor jy moet wag om verby te kom. Jy kyk vas in haar oë, sien die blik van herkenning. Dan trek die lippe styf saam, die afkeuring is duidelik op die gesig te lees voordat haar kop terugruk na die straat voor haar. Hy maak homself wys dat dit hom geen duit skeel wat Marie Stockenström van hom dink nie. Hy wéét mos hy is onskuldig. Maar op die krop van sy maag weet hy dis net die begin …

Rina Pohl kom tot dieselfde besef toe sy die telefoon neersit. Dit het al haar moed geverg om Carla te bel om haar te sê dat sy haar nie vir vanoggend se brugpartytjie moet verwag nie. Sy het paniekerig na ’n verskoning gesoek om aan te voer toe sy die nommer met ’n bewende vinger skakel.

“Carla …”

“O … Rina!”

Net die manier waarop haar naam uitgespreek word, vertel haar dat die Malans ook al hul oggendkoerant gelees het.

“Ja. Dis ek. Jy … moet my vanoggend verskoon. Ek sal nie kan kom nie.”

’n Kort stilte. ’n Stem wat gemaak teleurgesteld klink. “Ag nee! Hoekom dan nie?”

Sy sluit ’n oomblik haar oë. Here, ek gaan dit nie oorleef nie! flits dit deur haar verwarde gemoed. “Ek het ’n … ’n maagaandoening.”

“Ja, wel … Tot siens, Rina.”

Die gasvrou staan ’n oomblik na die foon en staar. Arme ding! Sy glo goed Rina Pohl voel vanoggend nie wel nie. Goeie hemel, sy kan dit nou nog nie glo nie! Daniël Pohl van alle mense!

Sy skakel ’n ander nommer. “O, Marie, ek het gewonder of jy nie vanoggend ’n bietjie brug saam met ons wil kom speel nie. Ons kort ’n vierde hand. O, jy sal? Gaaf! H’m? Die koerant? Ja, mens, ek hét! Is dit nie vreeslik nie? Die arme Rina! Goed, ons praat later weer. Sien jou.”

Daar word dié oggend nie veel brug gespeel nie.

“Ek het julle mos gesê!” Dis Berta wat aan die woord is. “Ek ken mos die lewe. Ek het julle mos gesê daar is ’n slang in die gras!”

“Maar só iets! Dit gaan my verstand te bowe!” laat Carla hoor.

“’n Ander vrou … helder oordag! Genade, as hy dan só behoeftig was … Daniël Pohl kan genoeg los gelukkies kry as hy dit wil hê. Hy is so ’n aantreklike man!”

Emmie Gerber se mond trek smalend. “Ek kon ook nie eers die storie glo nie, maar die koerante sal darem nie sommer so iets skryf nie. Dit kan ’n lastereis teen hulle afgee. Maar ná Daniël se gedrag nou die aand glo ek enigiets van hom. Hy is ’n mooi een om te praat van bo blink en onder stink!”

“Op dees aarde, Emmie, waarvan praat jy?”

“Nee, ons en die De Waals is mos nou die aand vir ’n ete by hulle genooi. Daniël het reeds halfpad aangeklam gelyk toe ons daar aankom. En toe ons aan tafel gaan sit … Hy was absoluut onbeskof. Hy het ons so beledig dat ons almal geloop het nog voordat ons met ons voorgereg klaar was. Die arme Rina was in trane.”

“Wat vertel jy my?” Berta leun vorentoe. “Wat het hy gesê?”

“E … nee. Sommer allerhande dinge … dat ons, dis nou al sy ryk vriende, almal snobs is en met duur motors rondry, maar van pap en derms lewe. Bo blink en onder stink … Ag, los dit. Ek wil dit liewer vergeet. Maar ek sal glad nie verbaas wees as hierdie ding die reine waarheid is nie. ”

“Ek glo dit ook,” gooi Marie Stockenström haar stuiwer in die armbeurs. “Ek en Flip het al lankal agtergekom daar is êrens fout.”

“Hoe so?”

“Wel … Ek sou julle nooit vertel het nie, maar met die oog op wat gebeur het … Ons skuld nog ’n paar rand op ons sitkamerstel by hom. Julle weet mos hoeveel duisende rande het ons met die kubusstorie verloor en dit het ons ’n bietjie onkant betrap. Maar dis ’n paar rand! Niks om van te praat nie. Toe kry ons mos ’n brief van hom … ons moet asseblief dadelik die tweeduisend of wat rand betaal wat ons nog skuld, want hy het die geld nodig. Nadat ek vanoggend se koerant onder oë gehad het, sê ek vir Flip: dis dan waarvoor hy so dringend geld gekollekteer het. Hy het geweet daar wag ’n hofsaak. Nee, sy turf sit.”

“Maar jy het dan laas vir my gesê julle het net ’n duisend rand in die kubusse gesteek?”

“Nooit! Flip het dúisende verloor.”

“O.” Berta vat nog ’n koekie. “Om terug te kom na Daniël Pohl … ek sê julle, ek ruil vir geen geld ter wêreld met Rina nie. Dan sit ek maar liewer opgeskeep met my stuitige ou man. Ek weet ten minste hy kan net in sy gedagtes nog kwaad doen! Só aantreklik en kastig só sedig, dié Daniël Pohl. En kyk hoe lyk dit nou! Wel, ek het hul kaartjie uit die bondel vir Marlene se troue gehaal. Gelukkig was dit nog nie gepos nie.”

Carla kyk haar bekommerd aan. “Gaan jy hulle nie na die troue nooi nie?”

“Natuurlik nie! Goeie aarde, Carla! Ek hou my nie op met sulke …”

“Maar sê nou maar dis nie waar nie! Sê nou dis ’n misverstand en …”

“Dis géén misverstand nie, Carla! Daar staan dit wit op swart in die koerant.”

“Maar dis nie te sê hy is al skuldig bevind nie,” probeer Carla weer flou teëkap.

“Al word hy ook vrygespreek … vir my is die Pohls van vandag af van die baan. Ek hou my nie met sulke dinge op nie en ek wil nie geassosieer word met sulke soort mense nie. En onthou julle dit ook maar. As julle in die toekoms die Pohls nooi, skrap maar my naam van die lys. Êrens moet mens darem ’n streep trek,” laat Berta beslis hoor.

Die ander swyg. Berta het seker gelyk. Al is ’n mens hoe jammer vir die arme Rina … daar is darem perke. En waar ’n rokie trek, moet daar seker ’n vuurtjie wees.

Daniël tref sy vrou in die sitkamer aan waar sy blindweg by die venster uitstaar. Nadat hy hom by die polisiekantoor gaan aanmeld het, wou hy net huis toe vlug en alleen wees. Maar dié voorreg is hom nie beskore nie …

“Ek het gedink jy speel vanoggend brug.”

Rina skud haar kop. “Nee.”

Hy kom fronsend nader. “Hoekom nie?”

“Moenie belaglik wees nie, Daniël!”

“Wat bedoel jy?”

Haar oë flits vurig op hom. “Ná die oggendkoerant? Of het jy dit nog nie gesien nie?”

Sy gesig verstyf. Sedert die donderslag gister was hy en sy vrou nader aan mekaar as in jare. Maar nou …

“Ja. Ek het dit gesien. Maar wat het dit met jou brugspelery te doen?”

“Probeer jy nou naïef wees? Kan jy jou voorstel hoe daardie tonge nou oor die brugtafel klap? Ek het nie daarvoor kans gesien nie. Ek het vir Carla gesê ek voel nie gesond nie en ek kan nie kom nie.”

“En so die skindertonge juis aangevuur. Jy hoef nie in die huis weg te kruip vir jou vriendinne nie, Rina. Jou man het niks verkeerd gedoen nie.”

“Maar …”

“Maar wat?”

“Maar …” Haar stem styg ’n toonhoogte. Dis duidelik dat haar senuwees rou geskaaf is. “Maar in die koerant word ’n ander storie vertel.”

“En jou vriendinne … en jy praat natuurlik saam.”

“Daniël! Ek het dit nie gesê nie!”

“Nee, maar jou optrede bewys dit! Jy is skaam om jou gesig by die voordeur uit te steek!”

“Ek is nie! Dis nie dít nie! Ek is net … O, Daniël, jy kan tog nie verwag dat ek normaal moet voortgaan asof niks gebeur het nie!”

“Ek verwag dit van jou, Rina. Dit is jou plig om aan die wêreld daar buite te toon wat jóú betref, het niks gebeur nie. Jy behoort die nodige vertroue in jou man te hê. As ’n man se vrou hom nie vertrou nie, hoe kan hy verwag sy vriende en familie moet enige vertroue in hom stel?” Hy sluit sy oë ’n oomblik in ’n poging om sy selfbeheersing te herwin. “Dink jy dis vir my maklik?”

Sy kyk skuldig weg; haar stem verraai dat sy skaam voel. “Ek … besef dit. Maar ek kan nie doen wat jy vra nie, Daniël! Ek kan nie gaan brug en tennis speel soos gewoonlik en vanaand na die klubdansparty gaan …”

Die telefoon se skril gelui onderbreek haar. Lank staan albei daarna en kyk. Dis Daniël wat hom eerste regruk en die gehoorbuis optel.

Hy luister ’n rukkie, haal dan diep asem en antwoord: “Dis alles in orde, Rouxlene. Ons sou in elk geval nie in dié omstandighede na die dansparty gegaan het nie. Jy hoef dus nie soveel moeite te gedoen het om so ’n liegstorie uit te dink nie.” Hy plak die gehoorbuis neer. Met ’n bitter toon in sy stem lig hy Rina in: “Rouxlene Verwey. Ons kan nie meer vanaand saam met hulle na die klubparty gaan nie. Fred het ’n ligte verkoue en die kleintjie lyk ook nie gesond nie – hulle bly liewers tuis.” Hy lag kortaf. “Ek wonder net of daar ooit mense by die dansparty gaan opdaag. Miskien moet ons maar gaan. Ons is dalk die enigste paartjie vir wie daardie orkes sal hoef te speel.”

“Wat bedoel jy?”

“Dat ons skielik met ’n pes besmet is. Hulle bly liewer weg van die dans as om in ons vas te loop. Maar Rouxlene sal wel nou die ander in kennis stel dat ons hulle die verleentheid gaan spaar om daar op te daag.”

Rina skud haar kop desperaat. “Jy maak vyande so ver jy gaan, Daniël. Om reguit aan Rouxlene te sê dat sy ’n leuen …”

“Hoekom nie? Dis die waarheid. Ek en sy weet albei ewe goed dis ’n opgekookte storie wat sy aan my opgedis het.”

Rina gaan sit op die bank, verberg haar gesig in haar hande. “Ons gaan na dese geen enkele vriend meer hê nie.”

“Dan was hulle nooit ons vriende nie. Hoe gouer ons van hulle ontslae kan raak, hoe beter.”

“Jy kan maklik praat.”

“O?”

Sy kyk hom strak aan. “Het jy al daaraan gedink, Daniël, dat jy dalk oor hierdie ding kan gaan … sit?” Hy staar haar verdwaas aan en sy vervolg: “Wat as dit gebeur? Dis ék wat moet agterbly … vriende nodig sal hê.”

“Ek sal nie gaan sit nie, Rina. Ek het dit nie gedoen nie.” Sy stem klink so beslis dat sy hom net stilswyend kan agternakyk toe hy uitstap. Maar al gebeur dit waaraan hy so vas glo – dat sy onskuld onteenseglik in die hof bewys sal word – gaan daar onherstelbare skade aangerig wees teen die tyd dat dit gebeur. En die proses het reeds begin. Rouxlene se optrede is maar net die eerste van talle stekies wat die Pohls sal moet verwerk.

Rina Pohl se hart is die teiken vir die volgende steek. En dít enkele minute nadat haar man terug werk toe is. Haar kok wat al vyf jaar by haar werk, kom staan effens verleë voor haar.

“Mevrou, ek wil asseblief gaan.”

“Gaan? Waarheen?” Sy moet sukkel om op Emily se woorde te konsentreer.

“Ek sal gou ander werk kry. Ek is ’n goeie kok.”

“Ander wát? Emily, waarvan praat jy?”

“Ek gaan weg. Vandag nog.”

“Maar … hoekom?”

“Ek ken daardie vrou.”

“Watter vrou?” Haar stem sterf weg; sy ken die antwoord nog voordat sy dit kry.

“Die vrou wie se kind doodgery is. Sy bly drie huise van my af.” Stilte. “Sy was byna dood by die geboorte.” Stilte. “Ek wil vandag nog loop.”

Rina sluk hardop. “Emily … Meneer het dit nie gedoen nie.”

Die donker oë blink skielik hard en vyandig. “Rosy sê dit is hy.”

Rina skud haar kop beslis. “Nee! Die polisie het die verkeerde man beet! Meneer sal nooit …”

“Rosy sê sy kan sweer. Sy het dit gisteraand nog weer vir my gesê. Sy het hom uitgeken.”

“Uitgeken?”

“Ja. By die polisiekantoor. Sy moes die man uitken … Dis tóé dat die polies vir meneer gevang het.”

“Sy het … hom uitgeken … herken as die skuldige man?”

“Ja, mevrou. Sy het my self vertel. Sy moes drie keer ’n ry mans deurkyk en die een uitwys wat dit gedoen het. En elke keer het sy meneer herken. Dit help niks nie. Lieg sal nie meer help nie. Ek gaan loop en ek wil my geld hê. En Mary wil ook saam met my loop. Sy is net te bang om te kom sê. Maar sy wil loop voordat sy dalk ook gemolesteer word.” Die wasbleek gesig en strak oë skrik Emily nie af nie. “Jou man het Rosy op straat gemolesteer. Rosy is ordentlik. Sy wou nie doen wat hy gevra het nie en toe ry hy haar kind dood. Mary sê as hy dit helder oordag op straat kan doen, kan hy haar nog makliker hier in die huis molesteer. Sy voel nie meer veilig nie. Sy wil ook maar haar geld hê.”

Rina weet nie hoe sy in die kamer kom, haar beursie neem en die note afgetel kry nie.

“Tot siens, mevrou.”

“Tot siens, Emily.”

By die deur draai die vrou terug. “Mevrou moet hom los. As ’n man eers daardie soort swak het, kom hy eenvoudig nooit weer reg nie.”

Die Pohl-huis word stil … baie stil. Eindelik kan Rina die masker laat sak. Sy val op die bed neer … die bed wat sy en Daniël al byna ’n kwarteeu deel. In die kussing smoor sy haar gedempte krete, gebore uit ’n pyn en vernedering wat sy nog nooit voorheen geken het nie.

By die agterdeur hoor hulle die hartverskeurende snikke en die twee vrouens se oë ontmoet. Dan druk die een vrou die ander vinnig na buite en trek die deur hard agter haar toe.

“Laat ons liewers loop. Trane maak nie ’n dooie kind weer lewendig nie.”

By die skool kom die jong Johan ook agter dat alles verander het. Dis asof hy gedurig oë op sy rug voel brand. En wanneer hy omdraai, is daardie oë op iets net langs of bokant hom gerig. Hy word bewus van ’n gemompel wat staak wanneer hy nader kom. Ook sy onderwysers … Die gewone vriendelikheid is vandag agter ’n sluier van onpeilbaarheid verberg. Op sommige se gesigte is die jammerte duidelik te lees.

Dan is dit hy wat vinnig wegkyk, sy oë op niks vaspen.

Maar die seerste steek kom van Elna … Tot gister het hulle nog gedurende speeltyd planne beraam hoe hulle haar ouers se bevel kan omseil dat hulle geen kontak met mekaar mag hê nie. Daar is nog altyd die tennisbaan en die jeugverenigings en die atletiekbaan … Vandag kyk sy egter dwarsdeur hom. Sy loop hom byna uit die aarde; in die proses val haar boeke op die grond. Hy tel dit op, kyk haar deurdringend aan.

“Elna …”

Sy gryp net die boeke uit sy hande sonder om dankie te sê, en stap vinnig aan.

“Elna!” Hy val langs haar in. “Wat is dit? Ek het mos niks verkeerd gedoen nie!”

“Maar jou pa het!”

Hy skok ’n oomblik tot stilstand, haal haar dan weer in. “Luister, my pa het niks gedoen nie! Niks, sê ek jou!”

Haar oë flits opstandig na sy kant toe. “Ek wil nie saam met jou gesien word nie. Los my uit!”

“Maar ék het …”

“My pa en ma sê hierdie soort ding is in die bloed. Ek wil nooit ooit weer iets met jou te doen hê nie, verstaan jy? Gaan soek vir jou geselskap op straat … soos jou pa gedoen het!”

Ook Delia moet dieselfde wrede les leer: dat geluk iets is wat aan ’n baie dun draadjie hang.

Sy het die hele ent pad van haar ouerhuis terug na Silwer Kronen in die motor gehuil. Van die drie Pohl-kinders sal sy seker die meeste sukkel om die ramp te verwerk. Want vir Delia is haar status baie belangrik. Sy is deel van die Schellinks en sy weet presies hoeveel waarde dié familie aan die onberispelikheid van die Schellink-naam heg. In haar skoonfamilie se oë, en ook in haar eie sedert sy ’n Schellink geword het, is die Pohls ’n hele paar trappe onder hulle. Daniël Pohl mag nou wel ’n gesiene man met ondernemingsgees en ’n goeie bankbalans wees, maar die Schellinks kan hulle roem op tradisie. Wat aardse besittings betref, is daar geen vergelyking nie.

Delia het nog altyd geweet sy was beslis nie die eerste keuse vir ’n skoondogter en die draer van die Schellink-nageslag by haar skoonouers nie. Daarvoor het hulle die skatryk buurman se een dogter in die oog gehad. Pieter wou egter nie afsien van die mooi Pohl-meisie nie en uiteindelik moes hulle daarin berus.

Die enigste skrale troos was dat hoewel die Pohls nou nie met so ’n indrukwekkende stamboom kan spog nie, daar darem ook niks teen hulle ingebring kan word nie. Toe Delia vier maande gelede ’n fris, gesonde klein Schellink in die wêreld gebring het, kon hulle haar selfs haar agtergrond vergewe.

Maar nou is daar wel iets teen die Pohls in te bring. En daardie iets kon kwalik erger gewees het …

Pieter het dit sy plig geag om sy ouers die volgende oggend oor die ware toedrag van sake in te lig. Dis immers Delia se pa wat in die gedrang is.

Die beste manier om slegte nuus oor te dra, is om dit te sê en klaar te kry daarmee. Die volle waarheid, selfs ook die deel waarvan Delia nog nie bewus is nie …

“Die ergste van alles is dat die … e … vrou hom drie keer op afsonderlike uitkenningsparades uitgewys het.” Pieter laat sy blik sak voor die verstomming op die twee gesigte voor hom toe hy aan die einde van sy ontstellende verhaal kom.

“Pieter!”

“Ja, Ma. Ek is bevrees dit is so.”

Sy pa se stem is skor. “Hoe weet jy dit?”

“Pa … Delia se pa het my dit self vertel.”

“Sélf vertel!”

“Ja. Delia en die ander kinders en ook … haar ma weet dit nog nie. Maar hy is uitgeken.”

Die stilte hang tussen hulle. “Ek dink nie hy het ’n kans om los te kom nie, al hou hy vol dat hy onskuldig is.” Hy bal sy vuiste. Goeie hemel, hy kan nie gló so iets het hulle getref nie!

“Die arme klein Gerhardt! Dan loop daar sulke soort bloed ook deur sý are!”

“Ma!” Pieter draai met ’n gevoel van magtelose woede na haar. “Moenie twak praat nie! Wat het Gerhardt te doen met sy oupa se dinge?”

“Die bloedlyn, my seun. Dit is baie belangrik. Maar jy wou nie destyds na ons luister nie …”

“Hou asseblief op daarmee, Ma! Ek wil daardie storie nie weer hoor nie!”

Sy staan op – ’n ware aristokratiese dame. Haar oë blits vererg. “Nee. Jy wil nie na hierdie storie luister nie, maar jy sal gedwing word om na die smerige storie oor jou skoonpa te luister. Jy moenie dink hy kan die radio en televisie en al die koerante in die land stilmaak soos jy nou met my probeer doen nie!”

“Staak dit, julle twee!” Gerhardt Schellink staan ook op, sy lippe ’n dun, wit lyn. “Om hieroor te staan en baklei, gaan ons nêrens bring nie. Gedane sake het geen keer nie. Maar ek is eerlik. Ek wens Daniël Pohl liewer in sy graf …”

“Pa, hy is nog nie skuldig bevind nie! Ons het nie die reg …”

“Jy praat deur jou nek en jy weet dit, Pieter! Jy weet net so goed soos ons wat gaan vir wat.”

“Dis onbillik!” Lojaliteit teenoor sy vrou en die moeder van sy kind maak van hom ’n radelose man. Hy weet hy stry vergeefs teen hierdie gevaar wat in hul lewens verskyn het. “Daniël Pohl sal nooit so iets doen nie! Hy kan nie skuldig wees nie!”

“Maar hy is. Hy is uitgeken. Hy het dit self gesê. Jy probeer verniet teen jou beterwete stry, my seun. Jy het jou met die semels gemeng en nou gaan die varke ons almal opvreet.”

“Pa!”

“Niemand kan teen die waarheid stry nie, Pieter. Hoe gouer jy – en ons – en almal aanvaar dat ons in ’n smerige gemors verkeer, hoe gouer sal ons leer om daarmee saam te leef.” Hy kyk na sy vrou se wasbleek gesig. “Ons het geen ander keuse nie. Daar is klein Gerhardt aan wie ons moet dink. Ons bloed loop ook deur sy are. Daar is niks daaraan te doen nie. Maar een ding sê ek nou vir jou, Pieter. Die Vader behoed jou as daar ’n tweede kind kom. Dan jaag ek jou en jou vrou van Silwer Kronen af weg.”

“Gerhardt!” Sy vrou gryp hom ontsteld aan die arm. “Hoe kan jy so iets sê! Pieter is ons kind, ons enigste, en al een wat ’n nageslag aan Silwer Kronen kan gee! Delia moet gaan. Sy moet padgee …”

“Ma is … waansinnig! Ma praat van my vrou, van klein Gerhardt se eie ma!”

“En van Daniël Pohl se dogter en sy kleinkind ook!”

Die ouer man maak ’n handgebaar. “Delia bly, maar daar sal geen kinders verder wees nie. Verstaan ons mekaar, Pieter?”

Pieter laat sak sy kop. Kan dit werklik wees dat ’n mens se lewe binne die bestek van ’n paar uur só radikaal kan verander, in só ’n chaos omskep kan word?

“Pa …” Dan swyg hy. Wat hy wil sê, sal net ’n klug wees. Dit was op die punt van sy tong om te sê hy sal maar sy vrou en kind vat en padgee. Maar … waarheen gaan ’n man wat nog net ontvang het vandat hy sy oë in die wêreld oopgemaak het? Wat gaan doen iemand wat sy hele lewe lank net gewoond was dat alles daar is as hy dit nodig het? Waarmee en hoe gaan hy sy gesin onderhou as al die rykdom en sekuriteit weggeneem word en hy letterlik van onder af moet begin?

“Ja, Pa.” Hy stap sonder ’n verdere woord uit.

By sy huis aangekom, luister Pieter ’n oomblik na die snikke wat uit een van die kamers kom. Dan is dit of daar iets in hom losbreek en hy bars die slaapkamer binne.

“In hemelsnaam, Delia, hou op met huil! Jy het nog nooit opgehou vandat ons van jou ma-hulle se huis af weg is nie!”

Sy ruk omhoog, haar gesig vertrek van die pyn. “Ek kan nie anders nie, Pieter! Dis ’n vreeslike ding … O, my man, sê vir my dis nie waar nie!”

Sy wil haar teen hom vaswerp, maar hy hou haar teë. Sy stem en oë is hard. “Dis waar … en jy moet dit so aanvaar. Jy moet liewer vandag al die ergste aanvaar, Delia! Hoor jy wat ek sê?”

“Wat bedoel jy met die ergste? My pa het nie, sal nie …”

“Ek is bevrees hy het en hy sal boet daarvoor.”

“Pieter!” Haar oë lyk verwilderd. “Jy … jy gló my pa het dit gedoen! Hoe kan jy dit glo?”

“Hy hét, Delia.” Hy gaan langs haar sit. Sy moet liewer ook al die besonderhede ken. Toe hy stilbly, staar sy hom aan asof sy ’n gees voor haar sien. Hy vervolg: “Ek is jammer, my vrou, maar dis die feite.” Hy kan nie langer in haar oë kyk nie. “Ek … ek moes dit natuurlik vir Pa en Ma vertel.” Hy kyk verontskuldigend in haar verstarde oë. “Hulle is natuurlik baie geskok. Dis te verstane.” Sy sê steeds nie ’n woord nie. “Bly maar eers weg daar.” Hy staan op. “Ons het almal tyd nodig om … gewoond te raak aan die gedagte …”

“Pieter …”

“Ja?”

“Neem my asseblief na my ma toe.”

“Nee.”

“Pieter …”

“Néé, Delia! Dis beter dat jy daar wegbly.”

Sy spring weer op, haar oë koorsig. “My ma het my nou nodig! My arme ma …”

“Nee.”

“Jy sou ook by jou ouers wou gewees het as so iets …”

“So iets sou die Schellinks nooit getref het nie! Ons hou ons nie op met …” Pieter sluk sy woorde in. Hy wéét hy sê al die verkeerde goed. Dalk verloor hy nog sy vrou deur hierdie ding, en hy weet nie hoe om dit te keer nie!

Delia kyk af. Nee. Só iets sal nie met die Schellinks gebeur nie. Sy sou ook nooit kon droom dat só iets die Pohls sou tref nie. Maar dit hét. Pieter sê so. En dis waar.

Sy stem is net so beslis en genadeloos soos dié van sy pa so ewe. “Jy bly weg van hulle! Hierdie gemors gaan ons erg genoeg tref sonder dat jy jou nog daarmee moet gaan besmeer!”

Sy sien hom uitstap. Smerigheid? Pá?

Maryke weet nie hoe sy die toets geskryf kry nie. Sy weet nie wat sy neerskryf en of sy ooit die regte antwoorde verskaf nie. Sy weet net sy het wel ’n paar folio’s vol geskryf.

Toe sy uitstap, sien sy Jan met die dierbare, sagte oë voor haar staan. Hy soen haar sag op die lippe. “Hoe het dit gegaan?”

“Goed, ek hoop so. ’n Mens weet ook nooit …”

“Wonderlik! Moenie jou bekommer nie. Jy’s mos ’n slim meisie. Kom ons gaan.”

“Waarheen?”

“Ma het gesê ek moet jou ná die toets huis toe bring.”

“Na júlle huis?”

“Ja.”

“Maar …”

“Natuurlik wil jy so gou moontlik by jou mense wees, maar my ma en pa het gesê ons moet eers ’n draai by hulle gaan maak.”

Sy laat hom begaan. Noudat al die opgegaarde kennis op die antwoordskrif agtergebly het, begin ander gedagtes weer haar brein vul. En alles draai net om daardie vreeslike ramp wat hulle getref het …

Sy klim langs hom in die motor. “Weet hulle?”

“Ja. Ek het hulle vertel. Gee jy om?”

Die hartseer glimlaggie om haar lippe wil sy hart laat breek.

“Hoe kan ek? Dis seker vanoggend op elke voorblad van ’n koerant.” Sy kyk na hom. “Is dit nie?”

Hy neem haar hand, bring dit na sy lippe. “Ja.”

Sy ontwyk die simpatieke oë. “Jan … ek kan dit nie gló nie!”

“Jy hoef nie, my meisietjie. Jou pa sal nooit so iets doen nie.”

“Maar hoe gaan hy loskom? Hy is reeds uitgeken as die skuldige en …”

“God sal voorsien, Maryke.”

Dis ook die enigste anker wat dominee Reynders en sy vrou vir die beproefdes het.

“God sal voorsien, Maryke,” sê Jan se ma ’n ruk later nadat sy en die jong meisie die ergste trane onder beheer het. “Hy sal jou nie in die steek laat nie.”

“My arme ouers, tannie Bets. My hart breek as ek aan hulle dink.”

“Ek weet, maar om hulle ontwil moet jy nou sterk wees. Jy moet die een wees wat hulle deur hierdie moeilike tyd onderskraag en hul geloof brandend hou. Jy mag nie kleingelowig word of begin wanhoop nie, Maryke. Jou ouers gaan jou baie, baie nodig hê in die tyd wat kom. God sal jou die krag daartoe gee. Hy sál jou nie in die steek laat nie. En enige tyd, bedags of snags, liewe kind … as jy ons nodig het, sal ons daar wees. Die pastorie se deur staan altyd oop.”

Dit verg al Maryke se wilskrag om haar bewende onderlip in bedwang te hou. “Dankie, tannie Bets. Ek is so dankbaar julle verwerp my nie.”

“Verwerp? Hoe kan ons jou in die steek laat, Maryke? Hoe kán jy so iets dink!”

Sy pers haar lippe saam. “Maar dit gáán gebeur, tannie. Ek bedoel, ander mense … Dit het reeds begin.”

“Wat bedoel jy, kind?”

“Vanoggend in die lesingsaal … Almal het my vermy.”

“Pure verbeelding.”

“Nee, tannie. Maar daar is ook iets anders. Ek wil tannie en oom Chris, en ook vir Jan, nie in die verleentheid stel nie.”

“Waarvan praat jy tog …”

“Dis nie ’n gewone saak dié nie, tannie Bets. Dis geen gewone oortreding wat teen my pa ingebring is nie. Dis ’n lelike en vuil ding. Ek het gedink … dit sal beter wees as ek en Jan … as ons die verhouding verbreek tot tyd en wyl daar klaarheid gekom het. Dan kan ons weer praat.”

“Maryke!” Bets Reynders voel haar maag ’n draai maak. “Luister, kind. Jy moet nie perspektief verloor nie. In die eerste plek is die aantygings teen jou pa gemik, nie teen jóú nie …”

Sy swyg toe Maryke haar kop ferm skud. Dieselfde hartseer glimlaggie wat Jan se hart wou breek, speel weer om haar lippe. “Dis tannie wat dinge in ’n verkeerde lig beskou. Wat my pa raak, raak my ook. Ek is sy kind. Wat my pa doen, word ook op my rekening geplaas en andersom.”

“Dis nie soos God dink nie, Maryke!”

“Nee, maar dis soos die wêreld dink, tannie. En ons weet dit albei. Moenie stry nie. Dit ís so.”

Bets Reynders is stom voor hierdie waarheid. Want dis onweerlegbaar. Ag, Here, as ouers dit net wil onthou! Dan sê sy met soveel oortuiging in haar stem dat die jong meisie moet swyg: “Jy is ’n kind van God. As jy goed genoeg is vir God, is jy goed genoeg vir my seun en vir ons. Ek en my man gaan jou pa en jou ma soveel moontlik in hierdie tyd ondersteun. Selfs al sê jou pa die aantygings teen hom is waar, sal ons nie ons rug op hom en enigeen van die Pohls draai nie. God wat volmaak is, sal dit nie doen nie. Is ons dan beter as Hy?”

Die bedroefde meisie kan haar net stil aankyk voordat sy in die moederlike omhelsing toegevou word.

Dominee Reynders bel Daniël by die werk. Laasgenoemde eien die stem onmiddellik, maar hy hou syne so onpersoonlik moontlik.

“Hallo, dominee.” Hy weet waaroor dit gaan. Predikante lees immers ook koerant. En Maryke het op die koop toe ’n verhouding met sy seun. “Ek sal halfses tuis wees, dominee. U is baie welkom. Tot siens …”

Daniël wil eers sy vrou bel om haar te sê dat Chris Reynders om halfses daar sal wees, maar dan besluit hy daarteen. Rina sal in elk geval tuis wees. Sy is te bang … en te skaam om haar neus by die voordeur uit te steek.

’n Paar minute ná vyf sluit hy sy kantoordeur, min wetend dat nie een van sy werknemers veel uitgerig het nie. Self het hy die hele dag agter sy lessenaar en ’n toe kantoordeur deurgebring. Hoe hy die leë ure omgekry het, weet hy nie …

Terwyl hy op pad huis toe is, kry Rina ’n oproep van haar oudste dogter. Met ’n strak gesig luister sy na die snikkende stem.

“Ma, dis mos nie waar nie? Dit kan mos nie wees dat daardie vrou Pa uitgeken het nie?”

Al die bitter ure wat verby is, maak haar stem hard. “Ja. Dis waar, Delia.”

“Ma! Dis nie waar …”

“Dis waar, Delia. Sy het hom drie keer uitgeken. Jou pa het dit vir ons verswyg.”

“Waar … waar het Ma dit dan gehoor?”

Daar is ’n kortaf, bitter lag. “By Emily. Emily het my alles vertel. Sy ken die vrou … Rosy is glo haar naam.”

’n Lang en geskokte stilte hang tussen hulle. Dan verbreek Delia dit uiteindelik.

“Ma, Pieter wil nie hê … ek moet nou huis toe kom nie. Hy sê dis beter as ek eers daar wegbly. Verstaan Ma?”

Dit voel vir Rina asof haar dogter ’n mes in haar hart steek. “Ja, my kind, Pieter is reg. Bly maar liewer so ver weg as moontlik van hierdie … smerige besigheid.”

Delia sluit haar oë aan die ander kant. Weer dáárdie woord. “Ek is jammer, Ma.”

“Tot siens … my kind.”

Sy hoor die voetstappe agter haar, maar draai nie om nie.

Hy kom nader, maar voordat hy haar met die gebruiklike soen kan groet – wat hy vandag graag sou wou doen omdat hy haar so opreg jammer kry – beweeg sy vinnig weg.

“Delia het so pas gebel.”

“O? Wat sê sy?”

Sy vermy sy oë, druk ’n kussing om haar hande besig te hou. “O, niks.”

“Gaan dit … goed?”

“Ja, dit gaan goed.” Sy stap na die deur. “Verskoon my. Ek moet na die aandete gaan omsien.”

Hy frons. Iets is nie pluis nie. “Is Emily nie hier nie? Is sy êrens heen?”

“Nee. Sy is weg.”

“Weg?”

“Ja.” Sy swaai om na hom, haar oë kil en gevoelloos. “Sy het vanoggend haar geld gevra. Sy wil nie langer hier werk nie. Sy ken jou … daardie vrou. Mary het ook geloop.” Sy sluk hardop voordat sy vervolg: “Sy voel nie meer veilig hier nie.”

“Wat probeer jy sê?”

“Dis nie ék wat so sê nie … dis ander vrouens wat allerhande dinge te sê het.”

Hy draai van haar af weg, sluit sy oë. “Ek wil niks meer hoor nie.”

Rina staar na sy rug. “Nee. Dis nie jy wat dit hoor nie. Dis ek wat alles moet aanhoor.”

“My vrou, laat ons liewer nou stilbly …”

“Ja, dis goed so. Stilbly is ook ’n antwoord.”

“Wat de duiwel bedoel jy daarmee?” Hy swaai woedend om. “Vandat ek hier ingekom het, is daar iets wat jy vir my wil sê. Nou ja, sê dit en kry klaar daarmee! Hou op om met woorde te speel …”

’n Klop aan die voordeur laat hulle swyg. Daniël vee moeg oor sy gesig. “Dis dominee Reynders. Hy het gebel en gesê hulle wil ’n draai kom maak.”

Hy nooi die pastoriepaar binne. Toe Chris en Bets op die rusbank in die sitkamer gaan sit, kry hulle dit beswaarlik reg om die kommer in hul oë weg te steek. Hier is beslis groot probleme. En wie weet of daar enigsins ’n oplossing bestaan …

“Hoe gaan dit, Rina?”

“Soos jy in die koerante kan lees, Chris.” Die stem klink gevoelloos. Die ervare man word egter geensins om die bos gelei nie. “Hulle lieg darem ook nie altyd nie.”

“Ek glo nooit wat ek in die koerante lees nie,” sê hy.

’n Siddering trek deur Daniël Pohl se liggaam en hy wend hom na die ander vrou met ’n wrangheid in sy stem. “Wil julle nie iets drink nie, Bets?”

“Ja, ek sal vir ons gaan tee maak.” Rina staan op, maar Chris Reynders probeer haar keer.

“Ons kan later iets drink, dankie. Kom sit eers …”

Sy kyk oor haar skouer terug. “Dis vir Daniël Pohl wat jy moet preek, my liewe dominee Reynders. Nie vir my nie,” en Rina stap uit.

Daniël skud sy kop en trek sy skouers op in antwoord op die vraag in hul oë. “Ek weet nie. Sy het net skielik … só begin raak. Toe ek netnou by die huis kom, was sy in hierdie vreemde, aggressiewe bui. Ek kan nie dink dat dit net die bediendes se bedanking is wat haar so ontstel nie …”

“Die … bediendes?”

“Ja. Emily, ons kok wat al vyf jaar by ons is, het vanoggend haar bedanking ingedien. Sy ken glo die … vrou … die ma van daardie kind. En die huishulp het saam met haar geloop. Volgens Rita het sy te kenne gegee dat sy nie meer veilig voel hier nie …” Sy oë rek verdwaas toe die volle implikasie van dié woorde hom vir die eerste keer tref. Hy laat sy kop tussen sy handpalms sak. “Goeie genugtig, Chris!”

Man en vrou se oë ontmoet vlugtig. Vir die eerste keer besef die pastoriepaar ook waarvoor hierdie gesin werklik te staan gekom het. Selfs die lewenservare dominee is op dié oomblik nie gereed met ’n vertroostende woord nie. Daniël kyk op en vir die eerste keer vandat sy hel begin het, is daar ’n blink glinstering in sy ooghoeke. “Ek het dit nie gedoen nie!”

Bets lê haar hand vinnig op sy arm. “Ons weet jy het nie.”

“Ek het dit nié gedoen nie!”

“Ons glo jou, Daniël.”

“Ek sweer voor God ek weet niks van hierdie hele ding af nie!”

“God weet dit ook. Bedaar, Daniël.”

“Maar my vrou glo dit!”

“Dis nie waar nie! Sy is al amper vyf en twintig jaar lank jou vrou en sy weet jy sal nie so iets doen nie. Sy glo dit nie, Daniël! Dis … skok … dis ’n natuurlike reaksie wat nou intree ná die skok. Jy mag dit nie ter harte neem nie. Jy kan tog verstaan dat dit vir haar ’n geweldige skok moet wees.”

“Ek weet nie, Bets. Dinge lyk … nie goed nie.” Hy ontmoet die ander man se oë moedig. “Het Jan julle alles vertel?”

“Ja. Maar ek gee jou die versekering dat selfs dít ons nie aan jou onskuld sal laat twyfel nie.”

“Dankie, my vriende, maar … dit kan net troos, nie help nie. Daar sal uit ’n wonderlike oord hulp moet kom, anders …”

“Daar is ’n wonderlike Oord waaruit jy hulp kan verwag – as jy net daarin glo, Daniël.”

Hy knik instemmend. “Ek weet, ja, maar … my geloof word klein, Chris. As my eie mense my nie glo of vertrou nie, hoe kan ek verwag ander – wat ek nie eens ken nie – moet aan my onskuld glo! Julle weet … ek kan hierdie ding nou nog nie glo nie. My verstand verwerk dit tot op ’n sekere punt en dan verwerp ek dit. Dis asof ek dit weer van nuuts af moet aanvaar.” Hy knip sy oë vinnig. “Hoe oortuig jy mense van jou onskuld as jy net ’n skoon gewete voor God as bewys het?”

“Jy laat dit aan God oor, Daniël. Hy sal voorsien.”

Maar toe die pastoriepaar groet en vertrek, weet hulle dat daar meer as ’n groot voorsiening vir Daniël sal moet kom. Veral wat Rina betref … Toe Chris Reynders sy oë oopmaak ná die gebed wat hy gedoen het, het hy geweet sy woorde was soos spatsels water teen ’n rotsbank. Dit was duidelik dat sy smeekgebed die verslane vrou nie bereik het nie. Rina Pohl se hart het versteen en hy kon nie meer met sy vrou saamstem dat sy slegs uit skok so heftig gereageer het nie. Binne-in hom het die deernis gegroei … vir Daniël Pohl, vasgevang in ’n web waaruit hy moeilik gaan ontsnap, wat klaarblyklik nie eens op sy vrou se onderskraging sal kan staatmaak nie.

By die pastorie aangekom, trek Bets die twintigjarige Maryke ’n oomblik styf teen haar vas. Sy ontwyk die onuitgesproke vraag in die jong oë en sê net: “Jan kan jou nou huis toe neem, Maryke. Jou ouers het jou nodig.”

Toe die twee jong mense weg is, soek man en vrou in stilswyende aanvoeling die privaatheid van onderskeidelik die studeerkamer en slaapkamer op om voor hul Skepper te gaan kniel.

Rina is besig om die koppies en pierings op die skinkbord te pak toe haar man binnekom nadat hy die predikantspaar by die motor afgesien het. Hy kyk haar ’n oomblik stil aan, maar toe sy die skinkbord wil optel, neem hy dit by haar en sit dit weer neer.

“Rina … kyk na my.” Dit voel vir hom asof hy verswelg in die koue dieptes van haar oë. Maar hy sukkel voort. “Glo jy in jou hart ek het hierdie ding gedoen?”

Dis die oomblik van waarheid. Byna vyf en twintig jaar van samesyn hang in die weegskaal. Dis die kruispad, en die rigting wat hulle gaan inslaan – saam of apart – gaan deur een enkele woordjie bepaal word. ’n Ja of ’n nee …

“Ja.”

Hy verroer nie ’n spier nie. Sy gesig is ’n koue masker. Maar iets binne-in hom sterf … iets wat nooit sal kan herleef nie. Selfs sy stemtoon verander nie.

“Hoekom?”

“As jy onskuldig was, sou jy nie gelieg het nie.”

“Wanneer het ek gelieg? Waaroor?”

“Juis deur die waarheid te weerhou.”

“Watter waarheid?”

“Dat daardie vrou jou herken het. Dat sy jou drie keer as die skuldige uitgewys het.”

“En jy glo haar?”

“Ja. Ek móét. Ek kan nie anders nie. Hoekom sal sy jóú uitwys as dit nie jy was nie?”

Hy skud sy kop verdwaas; die oë wat na haar kyk, het ’n treurigheid in die dieptes. “Ek weet nie. Dis die één vraag wat seker eendag onbeantwoord saam met my na die graf sal gaan. Ek weet regtig nie.”

“Dan probeer jy nog steeds voorgee …”

“Ek gee niks voor nie, my vrou. Ek het nie die krag óf moed om enigiets voor te gee nie. Ek stel net ’n feit en jy hoef dit nie te glo nie: Ek weet nie hoekom sy my as die skuldige uitgewys het nie.”

“Natuurlik omdat jy die skuldige is!” Haar stem is skril. Nou val die kille doodsheid van haar af, en dit is ’n vrou wat, aangespoor deur vernedering, met al die woede waartoe sy in staat is vir hom skreeu: “Jy kan jou onskuldige praatjies aan die dominee en jou kinders opdis, maar nie langer aan my nie! Noudat ek wéét, skuif alles so goed inmekaar. Jy kan my nie langer mislei nie.”

“Jy verstaan hierdie legkaart blykbaar beter as ek. Gee jy om om die stukke vir my ook inmekaar te skuif sodat ek kan sien hoe dit werk, en dit dan probeer verstaan?”

“Nee, ek gee nie om nie, Daniël Pohl. Dit sal ’n plesier wees! Dis al ’n geruime tyd dat jy snaaks optree. En die rede daarvoor sou ek nie eens in my wildste nagmerrievlugte kon droom nie. Toe begin jy my kritiseer, ook in die bed. Ek moes seker kon raai dat daar iemand anders was. Wie my mededinger was, sou ek nog minder in my wildste verbeeldingsvlugte kon raai. Toe begin jy ongemanierd en blatant onbeskof raak. Dié gedrag het jy natuurlik aangeleer by die soort geselskap waarin jy jou die afgelope tyd bevind. En noudat jy vasgetrap is, probeer jy dinge verdoesel. Noudat sy – of een van die klomp – jou uitgeken het, is jy die onskuld vanself. Jy weet kastig glad nie hoe sy jóú as die skuldige kon uitwys nie – ewe min as waar daardie duik aan die Mercedes vandaan kom. Jy wou tot vir my of Johan die skuld gee!”

Daniël staan met sy rug na haar gekeer by die venster en uitstaar. Dan sê hy stilweg: “Ek wou niks op julle rekeninge plaas nie. Ek het net gevra of julle nie iets daarvan weet nie.”

“Natuurlik, ja. Net gevra! Jy weet glad nie waar dit vandaan kom nie, teen watter brug of stootwaentjie jy dit gestamp het nie!”

Stilte. Dis amper asof hy sy polshorlosie kan hoor tik.

“En natuurlik is dit heel toevallig dat jy so skielik besluit het om liewer van die gestampte Mercedes ontslae te raak en ’n goedkoper motortjie aan te skaf. Alles so toevallig … net soos die feit dat jy by die eerste kafee stilhou en sigarette koop om ná jare weer te begin rook. Nadat jy besef het waarmee jy besig is. En jy verwag ek moet al hierdie snert soos soetkoek opeet? Gaan jy dit van die regter ook verwag?”

Hy draai terug en kyk na hierdie vrou wat hy in die beginjare van hul huwelik so hartstogtelik liefgehad het, wat vir hom drie kinders gebaar het. Dan skud hy sy kop. “Nee, Rina. Van die regter verwag ek nog iets. Mag God hom help om ’n regverdige oordeel te vel. Maar van jou … van jou, my vrou, verwag ek niks meer nie. Niks.”

Daniël stap by haar verby na buite, en sy blik val op die fiets wat eenkant staan. Johan moes tog vanmiddag tennis gespeel het … Dan gewaar hy sy seun waar hy by sy kamervenster staan en uitkyk. Hy was dus nie tennis toe nie. Johan het al hierdie bitter woorde gehoor. Hy stap om die blomakkertjie, gaan staan onder sy seun se kamervenster. Hy kyk op, vas in sy seun se ontnugterde oë.

“Ek is jammer, my seun. Pa is innig jammer oor al hierdie dinge. As ek kon, sou ek dit verhoed het. Maar ek weet nie hoe nie, want … Pa se gewete is nog altyd skoon. Johan, dit maak nie saak wat jou ma en die getuies teen my sê nie. Dis skoon voor God.”

Toe hy omdraai en stadig wegstap, sien hy Maryke uit Jan se motor klim. Die kommer en spanning is so helder op die jong gesig afgeëts dat hy dit in die ronding van sy handpalms neem en innig soen toe sy by hom kom.

“My arme dogtertjie … Hoe het dit met die toets gegaan?”

“Goed, dankie, Pa. Hoe … gaan dit hier?”

“Jou ma is binne. Jy moet maar na haar toe gaan. Sy het baie om jou te vertel.”

“Wat om te vertel?”

“Hoe die legkaart inmekaar pas volgens haar. Jy moet maar self oordeel of dit wel so is. Vir my bly dit ’n deurmekaarspul waarvan ek nie kop of stert kan uitmaak nie.”

“Watter legkaart …?”

“Soos sy dit uitlê, pas alles inmekaar, moet ek erken. Maar daar is een stukkie wat nêrens wil inpas nie – my skoon gewete. Dit pas nêrens in jou ma se legkaart in nie.”

Maryke kry haar ma nie in die sitkamer, kombuis of hoofslaapkamer nie. Eindelik spoor sy haar tot haar verbasing in die vrykamer op, besig om klere in die kaste weg te hang.

“Wat maak Ma?”

“Ek hang klere op.”

Maryke kom fronsend nader, ’n onheilsgevoel in haar binneste. “Ek kan dit sien. Dis Ma se klere.”

“Ja.”

“Ma …”

“Ja, my kind?”

Maryke sluk. “Ma, wat is aan die gang?”

“Jy weet tog. Die hele storie is in die koerant as jy dit wil weet.”

“Ma.” Sy kry haar aan die arm beet, dwing haar tot stilstand. “Ek bedoel … wat is met Má aan die gang? Hoekom dra Ma die klere oor na die vrykamer?”

“Omdat ek nie langer ’n bed deel met ’n man wat vrouens op straat molesteer en kinders vir die pret doodry nie.”

“Ma!”

Die oë kyk uitdagend vas in haar dogter se geskoktes. “Goed. Dis seker ’n bietjie kras. Hy het dit seker nie vir die pret gedoen nie, net uit frustrasie omdat ’n vrou vir hom nee gesê het.”

“Ma! Hou asseblief op!”

“Jy het daarmee begin. Verskoon my. Daar is nog ’n klomp goed wat …”

“Nee!” Hierdie keer spring sy voor haar ma in. “Hoe durf Ma sulke dinge kwytraak … en dit oor Pa!”

“My liewe kind, wag eers totdat jy al die feite van hierdie smerige saak ken, dan praat ons weer. Dis baie edel van jou om soveel vertroue in jou pa te stel, maar moet asseblief tog net nie dieselfde sentiment van my verwag nie.”

Maryke se gesig verstyf. Sy lyk skielik heelwat ouer as twintig. “Ek sou dink ’n man se vrou, veral as hy al feitlik ’n kwarteeu saam met haar leef, behoort dié een te wees wat die nodige vertroue in hom het.”

Die ouer vrou se lippe smaal. “Julle kinders met al jul wysheid! Omdat julle op universiteit is, het julle die wêreld se kennis in pag. Julle ken die lewe, weet presies wat reg en verkeerd is. Julle is volleerd, ook wat die lewe betref. Maar julle besef nie dat ’n mens die lesse van die lewe tot die dag van jou dood leer nie.” Die oë is bitter. Die stem ook. “Julle besef nie dat ’n mens feitlik vyf en twintig jaar lank met ’n mens kan saamlewe en hom nog nie ken nie. En op ’n dag ontdek jy ’n … faset van hom wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Soos wat ek vandag moes uitvind dat ek Daniël Pohl nog nooit geken het nie; dat hy ’n totale vreemdeling vir my is.”

“Soos hy seker vandag dieselfde van Ma moes uitvind. Kom sit, Ma. Asseblief. Kom sit hier op die bed by my en vertel my hoekom … hoekom is Ma vandag skielik ook vir my ’n vreemdeling? Ek ken nie hierdie mens voor my nie. Dis nie my ma hierdie nie, nie soos ek haar al twintig jaar ken nie. Ma …?”

Dan kom die bitter trane en harde woorde. Maryke luister bleek en woordeloos hoe haar ma die legkaart – waarna haar pa verwys het – stuk vir stuk inmekaar laat pas.

“Neem jy my nog kwalik dat ek na ’n ander kamer oortrek, dat ek nie kans sien …?”

“Nee. Maar nie om die rede wat Ma dink nie. Ek besef net dit sal ’n klug wees as Ma en Pa vanaand een bed moet deel. Want as ’n man en vrou saam op een bed slaap, beteken dit net een ding: hulle is ’n eenheid, en dit is Ma en Pa nie meer nie.”

“Dis nie my skuld nie, Maryke.”

“Nee, Ma. Dis nie Ma se skuld nie. Maar is dit Pa s’n?”

“Ek het jou nou net die hele storie vertel! Maar jy was nog altyd nader aan jou pa as aan my. Jy wíl dit nie glo nie!”

“Ek erken saam met Pa: Ma se legkaart pas goed inmekaar. Maar wat van die een stukkie wat nêrens inpas nie? Die legkaart kán nie reg wees nie.”

“Watter stukkie?”

“Pa se skoon gewete.”

“Ag, Maryke! Gló jy dit regtig nog ná …”

“Ek glo dit, want my pa het nog nooit vir my gelieg nie. Twintig jaar lank het hy my nog nooit teleurgestel nie. Ma het hom vyf jaar langer as ek geken as ’n man van sy eer. Hoekom glo Ma hom dan nie?”

“Maar die bewyse …”

“Ondanks bewyse. Ek wil nie weer klink soos ’n universiteitstudentjie wat dink sy is volleerd en alwetend nie, Mamma, maar geloof is net iets werd as jy ook ondanks alles kan glo. Ek wéét Pa het dit nie gedoen nie. Hy het dit nie gedoen nie, Ma!”

Rina staan op, skud haar kop. “Ek is dankbaar dat jy so voel, Maryke. Jou pa sal voorwaar iemand soos jy in die nabye toekoms nodig hê … iemand wat hom glo. Maar ek kan nie. Ek kán nie, Maryke! Moet dit asseblief nie van my verwag nie.”

Rina loop verwese by die deur uit, af met die gang. Maryke staar voor haar uit, staan dan op toe haar ma met ’n nuwe bondel klere inkom. Daar is niks meer tussen hulle te sê nie.

“Johan …”

Hy lig nie sy kop van die boek af op nie. “Ja?”

“Groet jy nie?”

“Hallo, sus.”

“Johan …” Sy stap nader, sit haar hand onder sy ken en dwing hom om na haar op te kyk. “Ag, Johan, jy glo mos nie dat Pa skuldig is nie, nè?”

“Nee. Ek kan nie glo hy het dit gedoen nie, maar …”

“Maar wat?”

“Dis … moeilik.”

“Moeilik om te glo Pa het dit nie gedoen nie?”

“Dis nie wat ek bedoel nie. Dis moeilik vir ons almal … die lewe, bedoel ek. By die skool …” Sy knik. Sy verstaan. “Pa sê God is sy getuie dat sy gewete skoon is. Ek glo hom. Pa is nie ’n man wat sweer nie.”

“Ja.”

“Maar gaan hy loskom? Al die leidrade wys in Pa se rigting.”

“Ek weet. Hoe … by wie het jy dit gehoor?”

“Ma en Pa het vanmiddag baklei. Hulle het gedink ek speel tennis. Ek kon nie help nie. Ek het gehoor … gehoor hoe Ma alles opnoem.”

“Hoekom het jy nie gaan tennis speel nie?”

Hy skud sy kop. “Ek speel nie meer nie.”

“Johan!”

“Ek kan nie, Maryke! Jy het nie die vaagste benul … die atmosfeer, die kyke.”

“Maar jy is die skool se kampioen!”

“Nie meer nie. Roelf du Toit het my gister liederlik geklop. Ek kan my aandag by niks bepaal nie!”

Sy sug. Dit kan sy ook goed verstaan. “Wat het jou sportonnie gesê?”

“Niks. Maar ek kan nie anders voel oor die saak nie.”

Maryke draai om. “Ma is aan die oortrek na die vrykamer. Ek sal gaan kyk wat daar vir aandete te maak is.”

“Ek is nie honger nie. Asseblief, sus, ek kom nie tafel toe nie. Sê maar ek leer.”

Sy knik. “Goed, boetie.”

Maar op die ou end kom niemand by die etenstafel aansit nie. Vir die eerste keer vandat Maryke kan onthou, is nie een van die gesinslede aan tafel toe sy die koue vleis en slaaie opdra nie.

Later moet sy dit maar weer afdra. Ma het gesê sy is nie honger nie, sy gaan bad en slaap. Pa het van buite af ingekom en gesê hy het slaap meer nodig as kos. Hy is tot die dood toe moeg.

“Roep maar jou ma en Johan. Ek gaan lê.”

“Johan leer. Hy wil nie eet nie. En Ma het reeds gaan lê … in die vrykamer.”

Pa en dogter se oë ontmoet mekaar. Dan draai Daniël om.

“Nag, my kind.”

“Nag, Pa.”

Hy druk die slaapkamer se deur agter hom toe, skakel die lig aan en kyk lank na die groot, leë dubbelbed voor hom. Toe begin hy uittrek, gaan lê op sy kant, en skakel die lig af … en weet dat sy pad vorentoe ’n alleenpad gaan wees.

Ena Murray Keur 17

Подняться наверх