Читать книгу Ena Murray Keur 17 - Ena Murray - Страница 6

3

Оглавление

Dis ’n steeds verslae en verslane man wat opkyk toe die seldeur oopgaan en die prokureur binnestap.

“Daniël …” Ook die prokureur se oë is vol verbystering.

Die aangesprokene vee moeg oor sy oë, skud sy kop. “Dis die grootste onsin … Ek weet nie wat aangaan nie. Dis heeltemal belaglik! Ek het daardie vrou nog nooit in my lewe gesien nie! Vandag was die heel eerste keer …”

Maar sy het jou tog drie keer as die skuldige uitgewys … Casper de Bruin hou sy gedagtes vir homself. “Natuurlik is dit twak.”

“Jy moet my hier uitkry!”

“Natuurlik! Ek sal dadelik die nodige reëlings tref. Jy moet net sê wie jy as jou advokaat wil hê.”

“Advokaat? Waarvoor?”

Casper lyk bekommerd. Daniël Pohl is nog in ’n toestand van skok. “Jy gaan ’n advokaat nodig hê. Dis ’n moordsaak …”

“Twak, man! Ek is mos nie skuldig nie! Daar gaan geen saak wees …”

“Daar gáán ’n saak wees, Daniël. Maar kom ons los dit eers. Ek sal solank reël vir borgtog.”

Hy staan op, en Daniël kyk verwilderd na hom. Dis duidelik dat hy nog nie in staat is om weer logies en rasioneel te dink nie.

“Hulle kan my nie hier hou net op grond van wat ’n vrou te vertel het nie! Genade, man, daar is geen bewyse nie! Hoe kan daar wees? Ek weet niks van hierdie gemors af nie.”

“Natuurlik, Daniël. Natuurlik. Bedaar nou. Ek sal jou vandag nog hier uitkry. Moenie bekommerd wees nie.”

Hy stap uit; die kommer vreet aan hom. Dis duidelik Daniël het nie die vaagste benul wat op hom wag nie …

Die seldeur kraak agter Casper toe. Daniël sak magteloos met gebalde vuiste terug, staar na die toe deur. Dis halftien op ’n sonnige Donderdagoggend … en hy sit in ’n sel! Dis ongelooflik! Sulke dinge gebeur net nie!

Maar dit gebeur tóg, verseker sy oë hom terwyl dit ongelowig oor die kaal mure speel. Dit hét gebeur! Hy, Daniël Pohl, is opgesluit in ’n sel vir ’n misdaad wat enige normale mens sal laat sidder. Hy van alle mense!

Maar hy het dit nie gedoen nie! Hy weet daar niks van nie!

Tog … daardie donker oë het hom drie keer uitgesoek; met haat vasgepen waar hy magteloos en heeltemal weerloos gestaan het. Elke keer was daar die drukking van haar hand op sy linkerskouer. Hy sluit sy oë, herbeleef dit asof hy hom in ’n nagmerrie bevind.

Daardie eerste keer toe hy haar hand op sy skouer gevoel het … Hy kon ’n oomblik lank nie verstaan wat aan die gang is nie. Hoekom raak die vrou aan hóm? Toe het hy in haar oë gekyk; die swart haat daarin gelees. Sy oë het geflits na speursersant Lukas se kant … en die strak gesig en uitdrukkinglose oë het die besef van die werklikheid soos ’n koue golf oor hom laat spoel. Hierdie vrou wys hóm uit as die skuldige!

Sy mond het oopgegaan in protes, maar verbystering en ongeloof het gekeer dat daar ’n geluid uitkom.

Die speurder het nader gestap. “Hierlangs, asseblief.”

“Sersant, luister … wat is aan die gang? Wat het daardie vrou bedoel deur my …?”

“Ons kan later praat. Meneer, gaan neem asseblief u plek in.”

Daar het ’n nuwe ry mans gestaan. Hy het teruggekyk na die speurder. Dié het geknik in antwoord op die vraag in sy verdwaasde oë.

“Ja. Dit word drie keer gedoen. Neem nou u plek in.”

Hy het gevoel soos ’n vlieg in ’n spinnekop se web. Met ’n wurggevoel in sy keel het hy tussen die mans gaan staan. Die vrou se oë het heen en weer gedwaal en dié keer het hy nie na vuil kolle teen die muur gesoek nie. Hierdie keer het hy haar donker blik gevolg … en toe hy haar sien nader stap, het hy die ruk in sy linkerskouer gevoel nog voordat sy daaraan geraak het.

“Jy lieg! Wat probeer jy doen?”

Hy dink hy skreeu dit uit, maar dit was net ’n skor kreungeluid.

Die speurder was onmiddellik by. “Dankie, mevrou.”

Sy bene het lam onder hom gevoel toe hy die derde keer sy plek in die ry moes inneem. Die lamheid het deur sy hele liggaam begin sypel, want hierdie keer het hy nie gewonder aan wie se skouer sy gaan raak nie …

Toe het dit in hom losgebars. “Jy lieg! Sy lieg! Ek het niks hiermee te doen nie! Ek het haar in my lewe nog nooit gesien nie!”

“Dit ís jy! Jy het my kind doodgery, jou …”

Sersant Lukas het haar net betyds vasgegryp en haar vingernaels het rakelings by sy wang verbygeskuur. Die histeriese vrou is uitgelei … en hy na die sel.

Hy weet nie mooi wat die afgelope uur, voordat Casper verskyn het, deur sy gedagtes gegaan het nie. Hulle was soos losgelate wilde perde … onbeheers en onsamehangend. Hoe kán daardie vrou sê dis hy! Sy moet tog voor haar siel weet sy het hom nog nooit gesien nie! Rina gaan ’n hartaanval kry as sy hiervan moet hoor. Nie dat sy dit sal glo nie. Nee, dit sal sy darem nie glo nie. Sy mag hom verdink van ’n verhouding met ’n ander vrou, maar so iets … Nietemin, dit gaan vir haar ’n groot skok wees … soos vir almal. En wat van die kinders, sy vriende, al sy werknemers … Natuurlik sal niemand glo dat dit enigsins waar kan wees nie. Hulle ken hom immers. Hulle weet Daniël Pohl sal hom nooit met sulke goed ophou nie. Nee, natuurlik nie. Maar nietemin … Dis ’n groot gemors waarin hy beland het. As daardie vrou net nie so oortuigend was nie. Tot haar histeriese tirade hier op die end … Maar hoekom? Hoekom hóm wil vaspen terwyl sy voor haar siel weet hy is onskuldig? Hy skud sy kop.

Dis met verligting dat hy Casper ’n ruk later weer die sel sien instap.

“Kom. Alles is reg. Ons het borgtog gekry. Jy moet jou net elke voormiddag tussen nege en twaalf kom aanmeld.”

“Kom aanmeld? Luister, ek is nie ’n misdadiger nie!”

Casper sug. “Kom ons loop net eers, Daniël. Of wil jy hier bly sit?”

Toe hulle by die motors kom, spreek hulle af om mekaar by Casper se kantoor te ontmoet. Daniël klim agter die stuur van sy eie motor in. Dit staan nog steeds waar hy vroeër die dag geparkeer het. Hy trek weg, knip sy oë teen die verblindende son. Nou, met die oop wêreld om hom, en in die helder sonskyn, lyk alles des te meer ongelooflik …

Hulle neem plaas in die prokureurskantoor en Casper vra weer: “Het jy al gedink wie jy as advokaat wil hê?”

“Maar sal ek werklik een nodig kry?”

“Daniël! Dis ’n moordsaak dié! Jy gaan deur die hoë regbank verhoor word. Jy het ’n man nodig wat in staat is om al hierdie getuienis …”

“Watter getuienis? Hulle het geen bewyse teen my nie, behalwe dat ’n vrou my verkeerdelik vir iemand anders aangesien het.”

Casper leun vooroor. Hoe gouer Daniël dit aan die verstand gebring word in watter penarie hy verkeer, hoe beter.

“Geen bewyse nie, sê jy? Daar is dodelike bewyse teen jou. Laat ek hulle vir jou opnoem. Een: Jy is ten tyde van die grusame gebeure in die onmiddellike omtrek van die toneel van die misdaad gesien. Twee: Jy het ’n motor van presies dieselfde fabrikaat en kleur as die een wat by die misdaad betrokke was. Drie …”

“Het gehad. Ek het dit verkoop.”

“Wanneer?” vra Casper.

“Gisteroggend. Ek het gevoel …”

“Liewe hemel, Daniël! Besef jy dat dit nóg ’n dodelike sterk punt teen jou vir die aanklaer gaan wees? Dis dan nommer drie: Jy verkoop jou motor net twee dae nadat die misdaad gepleeg is …”

“Hoekom nie? Dis my motor en ek kan daarmee doen wat ek wil.”

“Hoekom hét jy dit verkoop?”

“Wel, ’n kleiner motor het soveel ekonomiese voordele …”

Casper grynslag grimmig. “Daardie rede moet jy nie eers probéér in die hof aanvoer nie.”

“Hoekom nie? Dit ís tog die rede!”

“Daniël, hoeveel jare ry jy nie al met ’n Mercedes nie?”

“Wel, seker so twintig … enigiets in die twintig jaar.”

“En op ’n mooi dag besluit jy jy het te veel uitgawes met die motor, jy wil een hê wat goedkoper is om in stand te hou.”

“Ja. Dis reg.”

“Het jy finansiële probleme?”

“Nee.”

“Hoekom het jou Mercedes jou dan gepla? En dit nogal net mooi ’n dag of twee nadat ’n grusame misdaad met dieselfde soort motor gepleeg is …”

Hy kyk sy ou vriend skerp aan. “Casper, moenie my kwaad maak nie. Jy weet dit was nie my motor wat betrokke was nie.”

“Ja, Daniël, maar wat ék dink en weet, is nie van belang nie. Dis wat die regter gaan dink en weet wat van die allergrootste belang vir jóú gaan wees. Ek probeer net vir jou wys hoe die aanklaer en die regter dit gaan opsom en tot watter logiese gevolgtrekking hulle gaan kom. Want dit ís logies. Jy kan nie stry nie. Eers is jy ten tyde van die misdaad in die onmiddellike omgewing gesien. Jy ry in ’n silwergrys Mercedes wat betrokke is by die saak. Sonder om in ’n finansiële verknorsing te wees, verkoop jy daardie motor – die soort waarmee jy al twintig jaar lank ry – net ’n paar uur ná die misdaad. Vierdens het jou Mercedes ’n vars duik aan die linkermodderskerm wat …”

“Wat ek nie weet waar dit vandaan kom nie. Tot die laaste oomblik wat daardie motor in my besit was, het dit nie ’n enkele duik of skrapie gehad nie.”

“En vyfdens, my vriend: Jy word drie keer uitgewys as die skuldige deur die vrou wie se kind doodgery is en aan wie die onwelvoeglike voorstel gedoen is. Daniël, dit lyk sleg. Ek stel voor ons maak so gou moontlik kontak met Con Conradie. Hy is die enigste advokaat wat jou uit hierdie gemors kan kry – as dit enigsins moontlik is.”

“Jy is mal, man. Dis ’n man wat in duisende praat, nie honderde nie!”

“Ek weet, en die keuse is joune, maar … Daniël, ek sal jou aanraai om ten alle koste net die beste te kry. Besef jy jy kan ’n hele paar jaar hiervoor kry. En moenie weer vir my sê ek is mal nie. Jy bevind jou in ’n uiters benarde posisie. Jy moet dit liewer begin besef en aanvaar.”

Daniël staar die prokureur aan terwyl die erns van die saak eindelik ten volle tot hom begin deurdring. Meer reguit kon Casper dit nie gestel het nie.

“Hoe de duiwel beland ’n mens in so ’n gemors?” vra hy, sonder om regtig ’n antwoord te verwag.

Maar Casper antwoord hom tog. “Toeval. Omstandigheidsgetuienis wat …”

’n Sprankie hoop vlam op by die end van die tonnel waarin hy hom bevind. “Ja. Omstandigheidsgetuienis. Daar is nie regtig bewyse nie …”

“Mense is al opgesluit bloot op grond van omstandigheidsgetuienis. Mense sit al jare lank in die tronk al was daar nie regtig bewyse teen hulle nie.”

“Maar ek het dit nie gedoen nie!”

“Ons sal dit moet bewys.”

“Maar ek het dan gedink ’n mens is onskuldig totdat daar onomstootlik bewys kan word jy is skuldig.”

“Ja. Maar die saak aan die ander kant is sterk. As die vrou jou net nie so pertinent uitgeken het nie …”

“Sy het my nie uitgeken nie, Casper! Sy kon nie, want ek was nie die man in die silwergrys motor nie!”

“Maar sy sê jy is!”

Daniël sug. Hy laat sak sy gesig vertwyfeld in sy handpalm. “Wat moet ek doen?”

“Ek het jou reeds gesê. Kry Con Conradie so gou moontlik in die hande.”

Hy knik, neem sy hand voor sy gesig weg. “Goed. Bel hom.”

’n Ruk later sit hulle in die advokaat se kantoor. Con Conradie se uiterlike is misleidend. Hy lyk na ’n goedige oupatjie, maar daar is baie mense, ook staatsaanklaers, wat bang is vir hierdie oupatjie.

Die grys oë kyk stip oor die bril terwyl hy stilswyend sit en luister. “Het jy dit gedoen, meneer Pohl?” kom die vraag eindelik afgemete.

’n Oomblik lank is dit grafstil. Dan gaan Casper se hand vinnig uit na sy vriend en hou hom terug. “Stadig, Daniël.”

“Het jy dit gedoen, meneer Pohl – en moenie vir my lieg nie!”

Daniël se gesig verbleek. Sy lippe beweeg skaars. “Nee. Ek weet van hierdie hele ding niks af nie.”

“Goed. Kom ons begin van voor.”

Daniël is ten volle bewus van dit waarin hy hom bevind toe die advokaat begin lostrek. Conradie loop geen draaie met hom nie.

“Daardie duik aan jou motor … Hoe kan jy nie weet hoe dit daar gekom het nie? Jy het dit ook nie vir iemand geleen nie. Niemand het dit vir jou êrens geparkeer nie. Dis net jy wat ooit agter die stuurwiel inklim, maar daar sit ’n duik aan die motor waarvan jy niks weet nie!”

“Ek sweer ek weet nie! Ek sweer ook dat daardie motor nie ’n duik gehad het toe ek dit laas gesien het nie. Dit moes by die motorhawe gebeur het!” is Daniël se heftige verweer.

Die advokaat beduie summier na die telefoon op die lessenaar. “Skakel die nommer. Ek sal self met die eienaar praat,” beveel hy.

Daniël luister met ’n knop op sy maag na Conradie se aandeel in die gesprek wat volg. Eindelik word die gehoorbuis terug op die mikkie geplaas.

“Die eienaar van die motorhawe ontken beslis dat die motor enige skade daar kon opdoen. Hy sê hy het die motor self by jou gaan haal en dit tot by die motorhawe bestuur, meneer Pohl. Daarna is dit gewas en gepoleer en toe in die vertoonlokaal getrek. Geeneen van sy mense sou dit gestamp het nie. Hulle sou dit dadelik opgemerk het.”

Conradie se oë vernou. “Ek wil nie onnodig pessimisties wees nie, meneer Pohl. Maar dinge lyk maar sleg vir jou …”

Toe Daniël Pohl die deur saggies agter hom toetrek, merk Conradie teenoor Casper op: “Daar is een geluk by die ongeluk. Toe die speurders die motor ondersoek het, sou hulle nie verdere verdoemende getuienis kon kry nie. Die motor was reeds deur die skoonmaakproses. Enige moontlike rafels van die kinderkombersie of kalk van die brugreling sou afgewas gewees het.”

Casper kyk sy geleerde kollega bekommerd aan. “Dan dink jy daar kon dalk vóór die was ’n rafel of iets dergeliks aan die motor gevind word?”

Conradie skud sy kop. “Sê my liewer wat jy dink. Daniël Pohl is jóú vriend. Dink jy hy kon dit gedoen het?”

Casper lyk eers geskok, dan verander die uitdrukking in sy oë.

“Nee, ek sou so iets nooit geglo het nie.”

Die advokaat hou hom fyn dop. “Maar as alles daarop dui dat hy dit wel gedoen het? Dan word dit tog ’n moontlikheid, nie waar nie? Al is dit ook hóé vergesog.”

Casper skud sy kop heftig. “Nee! Daniël Pohl is nie ’n soort mens wat so iets sou doen nie.”

“Wat? ’n Onwelvoeglike voorstel aan ’n vrou doen of ’n kind doodry omdat hy gefrustreerd is?”

“Albei! Magtig, Con, die man se lewe was tot in dié stadium onbesproke!”

“Ek moet nog die mens ontmoet wie se lewe absoluut onbesproke is, Casper. Daar is altyd die een of ander keerpunt. Op ’n mooi dag is dit nie meer onbesproke nie. Daniël Pohl is nie ’n bonatuurlike wese nie. Hoe is sy huwelik?”

“Ek weet nie. Op die oog af lyk alles goed. Ons is nie intieme huisvriende nie. Daarmee bedoel ek ons lê nie heeldag by mekaar nie. Ons kontak met mekaar is beperk tot sosiale geleenthede.”

“Dan weet jy glad nie wat aangaan in sy huwelik nie. In die sosiale lewe dra almal maar maskers.”

Casper frons. “Wat is die verband tussen sy huwelik en die feit dat ’n kind doodgery is?”

“Niks. Dit hou nie werklik verband met die kind nie. Maar ’n gelukkig getroude man sal nie sommer ’n onwelvoeglike voorstel aan ’n vrou langs die straat doen nie. En alles het dáár begin: by haar weiering om toe te gee.” Dan kom dit reguit: “Ek het geen hoop om hom los te kry nie, Casper. Ek hoop maar net ek kan hom so ’n lig moontlike tronkstraf laat kry – en minder as tien jaar sal dit nie wees nie.”

Daniël weet gelukkig niks van sy briljante advokaat se algehele pessimisme nie. Nadat hy die kantoor verlaat het sodat Casper alleen met Conradie kan gesels, is hy reguit terug na Daniël Pohl Beperk. Hy kan die verbaasde blikke op hom voel toe hy binnestap. Vanoggend teen nege-uur se kant het hy gesê hy sal net ’n paar minute lank uit wees – nou kom hy eers in die namiddag teen sluitingstyd hier aan … Gelukkig hoef ’n werkgewer nie aan sy werknemers verduidelikings te verskaf nie. Hy probeer so ongeërg moontlik lyk en stap deur na sy kantoor. Sy sekretaresse volg hom …

“Het iemand na my gesoek, juffrou?”

“Nee, meneer, net ene advokaat Stockenström. Hy het ’n brief hier gelaat. Daar is dit op u lessenaar.”

“Goed, juffrou. Dankie.” Toe sy uit is, skeur hy dit oop. ’n Tjek van duisend rand is by die kort nota ingesluit: Die balans sal ek jou die einde van die maand laat kry. Moet net nooit weer aan ’n prokureur opdrag gee om vir my ’n brief te skryf nie. Sulke optrede sou ek nooit van jou verwag het nie.

J.L. Stockenström

Hy vererg hom nie eens nie, stop die tjek met die nota en al in ’n laai. Daar is veel belangriker dinge om hom oor te ontstel as advokaat Stockenström se gebelgde trots.

Toe hy die huis binnestap, loop hy teen Johan vas wat op pad uit is met ’n tennisraket in die hand.

“Waar is jou ma?”

“Sy is hier, Pa. Ek dink sy’s in die slaapkamer.”

“Hoe gaan dit met die tennis?”

“Goed, Pa. Ek is seker ons gaan vanjaar die beker wen.”

“Mooi so!”

“Dan waai ek maar eers, Pa.”

“Tot siens, Johan. O … e … net ’n oomblik. Die Mercedes wat ek ingegee het … Die mense by die motorhawe sê daar is ’n duik aan die linkermodderskerm waarvan ek niks weet nie. Het jy dalk in ’n stadium die motor sonder my medewete gebruik en weggetrek? En moenie vir my lieg nie. As jy dit gedoen het, sê so. Ek gaan nie met jou daaroor raas nie. Ek wil net weet waar daardie duik vandaan kom.”

“Nee, Pa. Op my erewoord. Ek het nog nooit aan die Mercedes geraak nie.”

Daniël sug gelate. “Goed dan. Ek glo jou. Geniet die tennis.”

Hy bly nog ’n rukkie staan nadat Johan uit is. Hy moet kamer toe gaan en sy vrou vertel in watter pekel hy beland het, maar hy weet dit gaan nog ’n groter beproewing wees as die feit dat hy hom van nou af elke oggend by ’n polisiekantoor moet aanmeld.

Hy skud sy kop. Sy verstand wil nog nie regtig registreer wat gebeur het nie. Telkens kry hy die gevoel hy sal aanstons wakker skrik en besef dis alles net ’n nare droom.

Maar dit is nie. Dit vertel die televisie hom toe hy dit aanskakel om na die nuusuitsending te kyk. Dis die aaklige werklikheid. Voor hom op die skerm sien hy die bekende Houtbrug en die kommentator vertel: “… ’n wit man in sy veertigerjare is deur die polisie in hegtenis geneem. Hernieude geweld het in Guguletu uitgebreek en daar moes van traangas …”

Rina se stem verbreek skielik sy konsentrasie. “Wil jy iets drink?” Sy kom staan voor hom, haar gesig strak.

Hy skud sy kop. “Nee, dankie. Skakel asseblief die televisie af. Ek wil met jou praat.”

Sy voldoen aan sy versoek en gaan dan sit.

Waar moet ek begin? wonder hy verward.

Sy vou haar hande gespanne saam en kyk hom reguit aan met uitdrukkinglose oë.

“Rina, ek wil verskoning vra vir my gedrag die afgelope tyd. Ek is jammer. Ek gaan jou nie toegooi met allerhande ekskusies en redes nie, maar ek wil net dit vir jou sê: Daar bestaan nie ’n ander vrou nie. Daardie idee moet jy asseblief uit jou kop kry. Ek kan eerlik voor die Vader getuig dat ek nog nooit aan jou ontrou was in die byna vyf en twintig jaar wat ons getroud is nie. Asseblief, my vrou, glo my!”

Die stywe gesig begin ontspan, die uitdrukkinglose oë skiet vol trane. Net die Vader voor wie Daniël pas getuig het, weet deur watter hel sy gegaan het sedert die gedagte by haar posgevat het dat daar dalk ’n ander vrou in haar man se lewe is. Later was dit glad nie meer net ’n vae vermoede nie, maar ’n vaste oortuiging. Selfs nie eens haar grootste vyand wens sy dié geestesmarteling toe nie.

“Maar wat is dan verkeerd, Daniël? Iets móét verkeerd wees. As jou vrou behoort ek te weet. Ek is magteloos om jou te help as jy my in die duister hou. Is dit iets wat ek gedoen het? Sê dit dan vir my! Ek weet ons huwelik is nie meer wat dit was nie, maar ons dra tog seker albei skuld daaraan. Ons kan dit saam probeer verander …” Sy sien hoe hy sy gesig in sy hande verberg. Haar stem breek toe sy smekend vra: “Daniël, wat is dit!”

Hy laat sak sy hande en sy skrik vir die verwilderde uitdrukking in sy oë. Dan sê hy sag: “Kom sit hier by my, Rina. Hier langs my.”

Sy gehoorsaam, en hy druk haar teen hom vas. Hulle was in maande nie so na aan mekaar soos op hierdie oomblik nie. Was dit nie vir hierdie ander ding nie, sou hulle so ’n goeie kans gehad het om nou ’n brug na mekaar te bou.

“Ek moet jou iets vertel. Ek het onskuldig in ’n verskriklike gemors beland. Onthou jy nou die dag … toe ek weer begin rook het?”

“Ja?”

“Ek het daardie oggend besluit om na Stockenström te ry en reguit met hom te praat oor sy agterstallige paaiemente. Toe ek oor Houtbrug is, het ek daarteen besluit. Waarom moet ek bakhand voor die man gaan staan vir my eie geld? Maar ek was ontsteld en ontstoke …”

“Ek onthou dit, en ek was verkeerd. Ek het gesê jy moet liewer die geld afskryf …”

“Het ek maar na jou geluister! Wat is ’n paar duisend rand vergeleke met ’n mens se lewe en die geluk van jou gesin?”

Sy kyk hom fronsend aan. “Dit klink erg. Wil advokaat Stockenström nou ’n kabaal opskop omdat jy ’n prokureur se hulp ingeroep het? Dit was tog jou goeie reg!”

“Stockenström het niks met die saak te doen nie. Houtbrug wel.”

“Houtbrug? Waarvan praat jy, Daniël?”

“Van die ding wat op daardie brug gebeur het – die kind wat in ’n stootwaentjie doodgery is.”

“Maar …” Die frons tussen haar oë verdiep. “Hoe kan dit jóú raak?” Sy knip haar oë verward. “Hulle het vanmiddag oor die nuus gesê ’n man is reeds in hegtenis geneem. “

“Ja.”

“Nou ja! Watse Houtbrug-storie is dit dan nou?”

“Ek is die man wat in hegtenis geneem is, my vrou.”

’n Halfuur later is net Rina se snikke hoorbaar. Al wat hy kan doen, is om magteloos daarna te sit en luister. Hy het haar eers net die noodsaaklike feite vertel. Eers moet sy aan die gedagte gewoond raak dat haar man in so ’n gure saak betrokke is. Later kan hy meer detail gee. Nou weet sy net dat die agterdog grootliks weens die motor so sterk op hom rus en omdat hy ten tyde van die misdaad in die onmiddellike omgewing opgelet is. Hy kan haar nie nou al vertel dat die betrokke vrou hom drie keer as die skuldige aangewys het nie. Nie nou al nie …

Sy skud haar kop verdwaas, lig haar nat gesig na hom op. “Maar, Daniël, hulle kan jou mos nie bloot op grond van so iets vaspen nie! Jy het mos darem nie die enigste silwergrys Mercedes in die stad nie!”

“Maar dit was my Mercedes wat in die omtrek gesien is, Rina! En daar is ’n duik aan die motor wat verraai dat dit onlangs in ’n botsing betrokke was.”

“’n Duik? Maar wanneer …?”

“Dis wat my dronkslaan. Ek weet van geen duik wat die Mercedes opgedoen het nie. Ek het Johan reeds gevra, maar hy ontken dat hy ooit sy hande op die motor se stuurwiel gehad het. Dis net ek wat daarmee ry, behalwe as jy dit dalk in ’n stadium gebruik het sonder my medewete en toe ’n ongelukkie oorgekom het. Het jy, Rina?”

Sy laaste hoop word onmiddellik geblus. “Nee, natuurlik nie! Ek het mos my eie motor. Maar kon iemand dit nie gestamp het waar dit êrens geparkeer gestaan het nie?”

“Nee. Die duik is blykbaar van so ’n aard dat so iets heeltemal buite die kwessie is.”

“Maar hoe …?”

“Ek weet nie, Rina! Ek wéét nie! Maar ek is in hegtenis geneem vir daardie misdaad en is op borgtog uit. Ek moet my elke oggend by die polisiekantoor aanmeld. Môre sal dit die koerante vol lê wie die man is wat in hegtenis geneem is. Ek het die beste en duurste advokaat in die land, Con Conradie, gekry. Natuurlik sal hulle die fout agterkom en die saak teen my terugtrek, maar intussen … Al die publisiteit kan onnoembare skade aanrig – aan die onderneming, die kinders. Rina, daar wag ’n moeilike tyd op ons. Jy moet daarop voorberei wees.”

“Die kinders … Dit gaan ’n verskriklike skok wees.”

“Ja. Ons sal hulle seker dadelik moet vertel voordat hulle dit in die koerante lees of oor die nuus hoor. Vanaand nog.”

Sy oë gaan pleitend, hulpsoekend na haar. “Maar wat sê ’n mens? Hoe vertel jy jou kind so iets oor ’n telefoon? Hoe vertel jy jou kind so iets terwyl jy hom vas in die oë moet kyk?”

“Ons sal hulle móét laat weet. Miskien moet ons hulle maar liewer net vra om dadelik huis toe te kom.”

“Ja. Dalk is dit die beste. Sal jy die dogters bel?”

“Goed. Ja, ek sal. Maar wat van Johan? Jy sal hom self moet vertel wanneer hy netnou terugkom. O, Daniël, ek gló dit nie! Sulke dinge kan mos nie met óns gebeur nie!”

“Ek weet. Ek het dit al ’n honderd keer vir myself gesê: So iets kan mos nie met Daniël Pohl gebeur nie! Maar … dit het.”

’n Rukkie later praat Rina met haar oudste dogter oor die foon.

“Delia, Ma bel eintlik net … Jy moet asseblief dadelik huis toe kom.”

“Hoekom, Ma? Is iets verkeerd?”

Sy sluk swaar. “Ja, my kind. Dis baie dringend. Jy moet so gou moontlik kom.”

“Wat is verkeerd, Ma? Is iemand siek? Het iets gebeur?”

“Nee, my kind, ons … Niemand is siek nie, maar iets het gebeur. Kom tog net sodra jy kan, Delia! Vanaand nog!”

“Maar, Ma, ek kan onmoontlik nóú hier weg! Pieter-hulle is nog altyd in die boord en …”

“Kom alleen.”

“Pieter sal nooit toelaat dat ek alleen in die donker ry nie. Ma weet dit. Ek sal môre kyk of ek deur die dag ’n plan kan maak. Wat is dit dan, Ma? Hoekom kan Ma my nie oor die foon …?”

“Delia, jy kan nie môre eers kom nie. Luister na my! Ek en jou pa moet jou vanaand nog sien, vannag nog, vóór môreoggend. Môre sal dit te laat wees.”

“Te laat vir wat? Ma jok vir my. Is Pa siek, of … was iemand in ’n ongeluk? Wat het gebeur, Ma?”

“Ek kan jou nie nou vertel nie. Kom net huis toe, Delia? Kom asseblief net vanaand nog huis toe!”

Dan is Maryke aan die beurt.

“Ek skryf môre ’n belangrike toets, Ma. Ek kan nie nou huis toe kom nie. Ek is besig om my voor te berei. Wat gaan aan?”

“Vergeet maar van die toets, my kind. Jy sal dit nie môre skryf nie.”

“Maar ek móét! Dit tel vir die eindeksamen! Ma …”

“Maryke, jy moet vanaand nog huis toe kom! Dis ’n bevel!”

“Maar …”

“Geen maars nie!” Dan bars die snikke uit die oorvol boesem los. “Kom net huis toe, my kind! Kom huis toe!”

Skielik is Johan by. Hy staar verbaas na sy snikkende ma wat die telefoon neergooi en sy pa wat haar teen hom vastrek, sy gesig so wit soos ’n laken.

“Ek gaan eers jou ma versorg. Dan wil ek met jou praat, Johan. Jy gaan nie weer vanaand uit nie.”

“Maar wat is verkeerd? Het iets gebeur …?”

“Netnou. Ek sal netnou verduidelik. Laat ek eers jou ma in die bed help.”

Eers toe Daniël seker is dat die kalmeerpille hul werk begin doen, laat hy sy vrou, wat met stywe oë voor haar uitstaar, in die bed agter. Hy stap na sy seun se kamer, druk die deur agter hom toe. Met sy seun se vraende blik op hom gerig, bid hy instinktief: Here, gee my die regte woorde. Ek weet nie hóé ek dit aan hom moet vertel nie.

“Daardie duik aan die Mercedes waaroor ek vroeër vanmiddag met jou gepraat het … Ek weet jy het niks daarmee te doen nie, my seun. Ek glo jou. Maar daardie duik het my in groot moeilikheid laat beland …” Hy aarsel, maar móét dan voortgaan en met die wrange feite vorendag kom.

Aan die einde van sy relaas lê Daniël sy hand smekend op sy seun se skouer. “Johan, laat dit wat nou met my gebeur het, ook vir jou ’n les wees. ’n Mens dink mos altyd dis dinge wat met ánder mense gebeur. Maar dit kan ook met jóú gebeur. Dis wat ek bedoel het toe ek vir jou gesê het ’n mens moet só lewe dat jou gewete skoon is. Dis ’n bitter swaar ding wat my getref het, maar ek glo ek sal daaroor kom en dit oorleef, want ek wéét my gewete is skoon. Onthou dit. Pa se gewete is skoon.”

Dis die identiese woorde wat hy later die aand gebruik toe sy twee dogters, sy skoonseun en Jan Reynders, Maryke se vriend, hom verslae en sprakeloos sit en aankyk.

“Wat ek vroeër vanaand aan Johan gesê het, sê ek ook aan julle. Ek hoef julle seker nie van my onskuld te oortuig nie. Volgens die advokaat is daar getuienis teen my, maar een ding weet ek: my gewete is skoon.”

Later is die mans ’n oomblik alleen. Delia en Maryke is by hul ma in die kamer. Daniël benut die geleentheid om hulle die verdere verdoemende getuienis teen hom te vertel. Die ander twee trek hul asem geskok in.

“Maar hoe kan sy sê dis Pa as dit nie Pa was nie? Wat kan dit haar baat om ’n onskuldige man aan te wys? Die moordenaar van haar kind bly dan juis skotvry. Besef sy dit nie?” vra ’n diep bekommerde Pieter Schellink. Hy wil liewer nie dink aan wat hierdie saak vir hulle almal inhou nie. Wat gaan sy ouers hiervan sê?

“Daar is so baie dinge in hierdie saak wat my dronkslaan, Pieter. Ek kan jou nie sê hoekom sy my drie keer ná mekaar as die skuldige aangewys het nie, want ek weet voor my siel ek was nie die man in daardie Mercedes nie. En tog … Sy was so oortuig van haar saak en het baie beslis en selfversekerd voorgekom. Dit het voorwaar gelyk asof daar by haar nie die geringste twyfel bestaan dat ék die skuldige man is nie. En daardie duik aan my motor … Nee, my verstand staan stil. Ek het besluit om hierdie besonderhede vir eers vir die ander, selfs vir Johan, weg te steek. Ek vertel julle maar alles sodat julle kan weet dinge lyk eintlik baie sleg.”

Pieter wil dit nie hardop sê nie, maar hy kan homself ook nie keer nie: “Wat is … wat is die moontlike vonnis vir so ’n geval?”

Daniël is eers stil. Liewe hemel, waarvan praat ons?

“Con Conradie sê enigiets van tien jaar tronkstraf tot lewenslank. Dit hang alles af …”

’n Ruk later kom die twee susters te voorskyn. “Sy slaap nou. Pa, ek sal bly as … Pieter kan vir my klere …”

“Nee, Delia. Dis nie nodig nie. Jou plek is by jou man en kind. Ek sal in die volgende dae dikwels tuis wees. Erlank is betroubaar. Hy sal die sake kan hanteer. Nee. Gaan terug saam met jou man.”

“Pappa, ek kan maar …”

“Nee, Maryke. Dankie, maar jy moet ook teruggaan.” Hy trek sy dogter teen hom vas, ’n uitdrukking van pyn op sy gesig. “Gaan skryf môre daardie toets, my kind. Dis vir jou toekoms. Laat ons so normaal moontlik voortgaan soos mense met ’n skoon gewete – want ons is nie skuldig nie. Julle hoef nie jul koppe in skaamte te laat sak of êrens te gaan wegkruip nie; watter bewyse daar ook al teen my gevind word, ek het dit nie gedoen nie.”

Dis makliker gesê as gedaan. Dit vind elke lid van die Pohl-gesin in die dae wat volg maar te deeglik uit.

Soos almal verwag het, is al wat koerant en nuusbulletin is die volgende dag vol van hierdie sappige, sensasionele storie.

Daniël Pohl is die man wat betrokke is by die Houtbrugsaak.

Wie is hy? Watter Daniël Pohl? Maar natuurlik, die een van Daniël Pohl Beperk. Dit kan tog nie wees nie! Dis ongelooflik!

So begin ’n hel vir die Pohl-gesin, ’n smeltkroes wat jare sou duur; verwonde jare wat hul letsels vir altyd op elkeen sou laat.

Ena Murray Keur 17

Подняться наверх