Читать книгу In stede van die liefde - Etienne van Heerden - Страница 10

5

Оглавление

Hoofweg

Nadat hy op ’n Sondagaand of Maandagoggend vir Christine en Siebert gegroet het voor sy werksweek in Johannesburg, ry Christian dikwels op die N2 verby Kaapstad Internasionaal se afdraai. Hy ry Kaapstad toe, waar hy sonder Christine se wete ’n woonstel in Seepunt aanhou. Hy skakel sy handelaar so gou hy daar is, kry binne veertig minute wat hy wil hê, sluit die deur agter die man met die vinnige, onrustige hande, die Adidasse waarin hy voortdurend sy wysvinger druk om die waai van jeukende voete te krap. Agterna begin Christian in ’n staat van hoë opwinding op en af in sy woonstel loop.

Hy kom nie net hierheen om homself te verruk en sy lyf te troos nie. Dis ook hier waar hy in glashelder kokaïenoomblikke lang briewe aan Christine sit en skryf. Briewe van spyt en beskuldiging; van bieg en argumenteer. Briewe wat hy nooit pos nie, maar noukeurig in ’n leergebonde lêer versamel.

Dalk is dit nie briewe nie, dink hy een somersaand voor die balkondeur wat na die bedrywighede van Hoofweg, Seepunt, oopmaak, en waardeur hy neerkyk op remligte, die wisselinge van robotte, die roesemoes van laataandrestaurant- en klubgangers. Honderd meter weg begin die stuk straat waar die Nigeriërs met hul goue kettings om die nek patrolleer, op die straathoek, voor die escort agency en die drankwinkel en hotel met die 24-uur-kamers waar meisies van so jonk as Siebert se ouderdom en vroue te huur is. Onrustig op en neer, elke motor aan die deurkyk. Die voetsoldate wat hier die voorste linies van die Kaap se groot dwelmempire bewaak.

Uit die straat onder die balkon, as ’n damp wat opslaan, styg die stomende geure van kerrie uit die Indiese restaurant, die reuk van pasta en water van die Italianer. Ou urine, aangeslaan teen hoeke en op sypaadjies uitgeplas; teer en uitlaatgasse. Dis ’n geur wat hy diep inasem. Dis die Kaapstad wat hy liefhet. Dalk meer liefhet as die geure van dommelende Stellenbosch. Hier in Seepunt, met sy geheue van Joodsheid, sy kosmopolitiese leefwyse, hier waar skakelhuise uitkruip teen Leeukop en deur ou gesinne, studente, kunstenaars en kafee-eienaars bewoon word en die see saans plat en blink agter die stringe gekleurde liggies teen Kusweg af lê, hier is die Kaapstad wat vir hom ’n stad van moontlikhede en verglyding is; ’n stad teen die skuinste (baie beweer: op die afdraand), besig om sy woelige gemeente die see in te tiep. Hier is die gevoel dat sintuie ­ontmoet, verskillende verledes saamvloei. Dat dinge wars is; dat musiek hier hoort, dawerend en jazzerig en uitlokkend. Dat ’n breekspul wag.

Ná die rotmotorinsident sou hy skryf:

*

Seepunt –

My liewe Christine

Toe die rotmotor langs my inskuif en ek die rooi bandana sien, was my eerste gedagte dat jy hierdie briewe sou vind.

’n Stuk koerant wat dans in die wind, dis ek, Christine.

Ek weet nie waar om my lê te kry nie. Onder die wiele van die minibusse wat daar onder verbyjaag? Of by die deur van die pizza­winkel? Daar by die robot, waar die man met die goue horlosie huiwer?

Die rotmotor se straal het als oopgeboor. Van my werkslewe tot by my lyf tot by jou. Africart.com se besluiteloosheid en die ewige gestryery om die ronde tafel. Moet ons ons fokus op ernstige kuns laat vaar en die kuriomark binnevaar? Moet ons ons oorgee aan die vervlakking en Amerikanismes wat die land se kulturele lewe die glans van Afrika-kitsch gee?

Daardie geeks op my betaalstaat se tegnowêreld gee nie ’n snars om vir die idealisme waarmee ek africart.com begin het nie. Vir hulle is ek die ou man met sy kop diep gebêre in koffietafelboeke. Vir hulle is die lewe een groot digitale supermark. ’n Rave. Maar nou het ons tot ’n vergelyk gekom: dis die jaar van beslissing. Ek sal met die komende besoeke aan New York en ander stede finaal moet besluit of daar nog ’n niche vir ons in die internasionale kunshandel is. Terselfdertyd het ek die geeks verseker (met net ’n halwe hart) dat ek my oë sal oophou vir afsetgebiede vir Suid-Afrikaanse kurio’s.

Eintlik speel ek net vir tyd. Die spel is klaar verloor. Die wêreld skuif immers van erns en aandagtigheid na videobeeld en interaktiwiteit. Die laaste palet en kwas is dalk al iewers in iemand se hand. Wat voorlê, is ’n lewe agter glas, digitaal en onophoudelik, met CNN in jou handpalm, altyd en oral.

Die details van my werkstres bring ek nie huis toe nie; dit het my pa my geleer. ’n Man moet dit vat en nie jou gesin belas nie. Sy woorde.

Wat my lyf betref, is hierdie woonstel (via ’n vriend gehuur; laat hy maar naamloos bly) die hart van die wagkamer.

’n Ingryp in die hart is nie soos enige ander operasie nie. Hulle kan jou rugstring – glo ’n baie pynliker operasie – blootlê. Of jou lewer oorplant. Hulle kan in jou ingewande vroetel waar hulle wil. Maar die hart is die bloedvuis waar die siel skuil. In die varksnoet.

En ek bevind my, ná daardie ses ure onder narkose, met my lyf, my brein en organe afgekoel tot ’n kilte wat ek nou nog in my gebeente voel, ek bevind my van toe af in ’n wagkamer.

Dis ’n wagkamer wat jy en ander net vermoed. Mense leef weg daarvan, dink dit weg. Bedwelm hulself met godsdiens of werk of ander verslawings om nie hier te wees waar ek is nie. In my staat van afwagting sit ek hier. Ek het die laaste trein se roet geruik.

Christine; vergewe my hierdie woonstel, hierdie verrukking.

Immers vergewe ek jou.

Dalk sal jy ná my dood lees, en my beter begryp: die woelige sy­paadjies en ongeduldige straatverkeer van my gedagtes. Jy vermoed en jy vermy, ek weet. Dit is ’n gemoed wat te veel is vir een mens om met grasie te dra.

Ek neem jou kwalik. Natuurlik. Die geheim van hierdie woonstel is my protes. My verrukking wanneer ek myself bederf, is ’n aanklag. Dit was asof die man met die rooi bandana jou agent was. Toe die rewolwer in sy hand blink, het ek geweet: jy’t hom ge­stuur.

Maar nes dit die geval met hierdie briewe is, het jy, my liewe Christine, van niks geweet nie. Onthou jy die briewe wat ek destyds uit Paul Roos se koshuis aan jou geskryf het? Hoe het ek nie gebars om aan jou allerhande dinge te sê nie, maar ek had nie die woorde­skat vir my begeerte en my gevoelens oor jou nie. Fatsoen het my gesensor. Ek het maar gehou by die dinge wat voor die hand liggend was: skoolbedrywighede, popmusiek, atletiek, my ding oor die sterrekunde wat ek toe gehad het, die ding oor die ópkyk, onthou jy? Antropos, het meneer Van Rooyen ons geleer; die mens is die dier wat opkyk.

Opkyk na God, het hy bedoel. Maar ek wou opkyk na die Melkweg, deur die skool se teleskoop; ek wou sterrekundige word. Dit was voor die groot konstellasies digitale lig van die internet en die web. Ek is gebore vir ’n ander kosmos, maar toe het dit nog nie bestaan nie. Hoe moes ek weet ek sou leef voor ’n venstertjie van glas waardeur ek sou instaar na die mensdom se bedrywighede?

Dit is steeds so; al óm die eintlike dinge praat ons. Ek weet dit sal jou verras. Ons is immers praters, ek en jy. Eindelose gesprekke, met jou altyd trots daarop dat ons in ons vele stryery en die agternauitpluis wat soveel ure neem, dinge tot op die been oopvlek.

Maar nie tot op mý been nie, Christine.

Jy sit op die pawiljoen en sien my hardloop, maar jy weet eintlik verder niks.

Hier in Seepunt laat hierdie woonstel my dryf, verdiepings hoog bo die straat. Bo alles, eintlik; ’n geheime ruimte waarvan niemand weet nie. Hier gooi ek als af. My klere, my goeie maniere. My grappe en my opinies. Bloots sit ek hier, net in my vel, en ek is verras oor wat in my opkom en wat van my uitgaan.

Ek is ’n tuin van aardse luste, Christine, en jou suinige hand oor my lyf ken nie die begin of die einde van my verrukkings nie.

Ek sal jou hopelik eendag kan vertel. Eendag wanneer jy wakker word uit jou slegte droom.

*

My geveg met my geeks was ’n geveg met myself. Africart.com moes, wat my betref, ’n onderneming met ’n gewete wees. ’n Besigheid wat Afrika-kultuur sou bewaar eerder as kommodifiseer. Terselfdertyd moes ons egter geld maak en oorleef.

Ek was kwaad vir die geeks omdat hulle my met die onafwendbare gekonfronteer het. My kommer het begin toe hulle nog op die skoolbanke gesit het, in 1995, toe die Unidroit-verdrag in Rome tot stand gekom en ek africart.com gestig het. Toe het ek die aard van smokkelhandel beter begin begryp. En begaan geword. Dit was meer as ’n polities-korrekte kommer. Ek het destyds werklik gevoel dat dinge hier in Afrika om my weggeneem is; dinge wat my lewe sou kon verryk nes die kunswerke van Europese stede hul inwoners se lewens verryk.

Totdat een van my inhoudsbestuurders, Tracey met die tongring, eendag nonchalant ’n artikel deur die versamelaar Ortiz voor my op die lessenaar gegooi het. Ja, ’n lessenaar. Hulle sit in trosse by oop werktafels, maar ek het bly vashou aan dié laaste bastion. Al spot hulle dikwels dat dit soos ’n skoolhoof se werkstasie lyk daar in die neste van africart.com se daaglikse chaos.

In die artikel voer Ortiz Picasso op as synde bo geografiese grense. Hoe durf enigeen die kuns van Picasso binne een nasiestaat of selfs kontinent vaspen?

En wat van strominge soos die Dadaïsme, Pop-kuns, straatkuns? Die Dadaïsme, byvoorbeeld, is gebore in New York, via die Franse kunstenaars Duchamp en Picabia. ’n Vertakking het natuurlik ook in Zurich ontspring, waar Tristan Tzara seminaal was, en die Duit­sers Hülsenbeck en Janco.

Wie hoort nou binne watter grense?

Net daar skiet Tracey my en my gedateerde getob af. The global village.

Ortiz praat van die permanente onstabiliteit van die lewe. Die onvoorspelbaarheid. Die onvaspenbaarheid.

Die klik-klik van Tracey se tongring teen haar tande het dit sekerlik ook vermoed.

*

Christine, maar as jy hier sit, in Seepunt, in Hoofweg, hier bokant die getoeter en die tjierts van bande en die stemme en die brul van motorfietse en die gekrys van seemeeue tussen die geboue, vervaag die Stellenbosse angs tot niet. Hier geld ander spelreëls. Hier is, waag ek my om te sê, ’n ander soort eer. Straat-eer? Die eer van die skemer? Kan al die mense wat ek buite op die trappe aantref, as eerlik beskou word? Seker nie in hoërskoolterme nie.

Maar hier’s ander kodes. Ons kom van oral. Hier is Mosambie­kers en Rwandese, Indiërs en Boere. ’n Russiese bruid wat met die internet na Worcester gelok is en weggehardloop het van haar man. Hier is Chinese meisies wat skaars Engels kan praat, bedags in restaurante werk en snags aan pale ontklee. Hier is ’n ou tante wat in liederlike armoede leef, een van die laaste lede van Seepunt se ouer garde wat in hierdie geweste uithou en wag om te sterf in ’n totaal nuwe land. Hier’s ’n soort gedeelde desperaatheid wat as kil histerie alles moontlik maak. Dalk is dít die erekode in Hoofweg, Seepunt: leef en laat leef.

Ek wens ek kon jou voorstel aan my buurvrou. Sy’s nie skaam nie, en los dikwels haar deur oop. Ek stap daar verby, en sien die bed met die sneesdoekies, die opgevoude handdoeke op die laaikas daarnaas, en ek ruik die bedompige geure wat daar uitkom: KY-jellie en rubber en sweet. Babapoeier en vlieëgif.

Die radio blêr soggens by haar en sy’s gemoedelik besig met ’n mop en ’n emmer. Op haar gangteëls of in die benoude klein kombuisie. Sy’t smetvrees, dis klaarblyklik.

“Hi!” groet sy. Sy’s van Swaziland, en het ’n ruk in Duitsland in ’n klub gewerk, vertel sy my. Lank en mooi. Prominente gelaatstrekke. Iets van Pierre Matossy se Danseur dogon in haar. Die cliché van Afrika-misterie. Die bedwelming van blinkswart. Die ewige jeune femme africaine, liefling van soveel tentoonstellings. Oor en oor geliefkoos deur die nat kwaste en blink beitels van wit mans.

Sy is ook maar op iets soets. Wát, weet ek nie, maar sommige nagte, as dit stil raak langsaan, hoor ek die geluide van ’n vasgekeerde dier.

Steun-angs – ek het geen ander woord daarvoor nie.

Die man met die jeukvoete sien ek anderdag voor haar deur, vlugtig. Hy kyk weg; hy groet my en gesels net as my deur vir hom oopgaan en hy hier binne is. Ek het hom ook al op straat teëgekom. Hy is een van die baie anderpadkykers in Seepunt.

Mense wat intimiteite agter geslote deure deel, maar in die openbare domein vreemdelinge is. Die skyn van anonimiteit op straat. Binne, die sagte aai van ’n hand oor vel, die naald wat diep en heerlik byt. Die verrukking, soos weerlig. Soos seks, Christine, soos bungy-jump of ski agter ’n boot; soos iets wat jy jou nie kan indink nie; ek en my soortgenote, okapi’s in die dieretuin, elke boud verskillend gestreep.

*

Siebert se storie oor bende-inlywing spook by Christian. In sy onrustige drome in die woonstel sit ’n rotmotor agter die gesinsmotor waarmee hy, Christine en Siebert Wildernis toe ry, kort ná die hart­omleidings. Dis helder oordag, hulle jaag oor die bulte van Swellendam met die lug wat oop en blou is. Maar agter die motor sit die jagstraal wat so sterk soos die son is.

Hy is terselfdertyd versigtig, want een van kokaïen se neweeffekte is paranoia. Ook ’n soort truspieël. So anders as Christine s’n, maar net so opdringerig.

Hy tel sy selfoon op en sit dit weer neer. Hy moet raad vra. Hy staan by die woonstelvenster en kyk oor die straat uit. ’n Seevoël hang voor die balkon, sien hom en swenk weg. Alles om my word simbole van myself, dink Christian. ’n Seevoël wat in die genade van die wind hang. ’n Koerant wat deur die wind oor die teer aange­skuif word. Die bergies wat teen die nagwind skuiling gesoek het en soggens op restaurantdrumpels begin roer wanneer die eerste taxi’s loop en die straat nog aan die werkers met besems en dromme en slopemmers behoort. Hy herken homself in die bondels wat knorrig roer wanneer ’n besem hulle aanpor en ’n kafee-eienaar oor hulle moet tree om sy saak oop te sluit. Is dit ’n voorspelling? Is dit waartoe dit gaan kom? Hoe die winde waai?

Hy draai om en tel die selfoon weer op. Bernard Fagan is ’n kundige oor die Kaapse onderwêreld; hy doseer kriminologie aan die universiteit. Bernard beantwoord die foon met die vaak toon van ’n leser wat diep uit ’n teks ontwaak.

Wanneer hy egter hoor waaroor dit gaan, kikker hy op. “In die dae voor die ANC oorgeneem het, was die inlywingsrituele van bendes soos die 26’s, die 27’s en die 28’s in klip geskryf,” vertel hy. “Vaste rituele wat in tronke afgespeel het en waaroor niks ooit na buite uitgelap is nie. Maar ná 1994 het die grense na Afrika oopgegaan en nuwe verdowingsmiddels het op die mark begin verskyn. Moderner bendes soos The Firm en die Americans het kannibalisties opgetree. Die ou rituele opgevreet en met nuwe konvensies gekom. Die ou mitologieë het begin verdwyn.”

Christian kyk oor die straat uit. Hy is versigtig om so min moontlik op die balkon uit te gaan. Dit mag net wees dat ’n verbyganger opkyk en hom herken. Of ’n motoris wat by ’n robot luier en opkyk teen ’n ongewone hoek en daar staan Christian. Iemand wat hom ken. Christian het al daar onder in die straat gaan staan en opgemik boontoe na sy woonstel en hy weet presies waar die sperstreep is. Net duskant die balkondeur se drumpel. En van elfuur die oggend val die reep son daar soos ’n soeklig.

Die ou Kaapse bendes, vertel Bernard verder, het al verder die platteland begin inbeweeg, na die stranddorpe wat aan die Wes- en Suidkus uitstrek en groter dorpe die binneland in. Afsetgebiede vir verdowingsmiddels en straatprostitusie.

“Toe beweeg die Nigeriërs en ander Wes-Afrikane in dele van Kaapstad en sy voorstede in. Hulle sper hul eie gebiede af en loop hulle in die proses tromp-op teen die ou Kaapse bendes. Selfs ons wat navorsing oor hierdie dinge doen, weet deesdae nie aldag wat aan die gang is nie.”

Christian val Bernard in die rede: “Bernard, hou die ding net tussen ons. Asseblief. Tussen ons. Reg so? Reg so?”

Daar is ’n oomblik stilte. Christian snuif. Dan vra Bernard, steeds op sy besadigde toon: “Is alles in die haak met jou, Christian? Is alles reg?”

Christian adem diep in. Moet probeer om nie so angstig asem te haal in die sel nie. “Ek is reg, Bernard. Ek is sterk. Ek wil net nie hê mense moet praat nie, jy weet?”

Daar is ’n effense huiwering. “Ek verstaan. Ek hou dit privaat. Moenie bekommerd wees nie . . .”

Christian kug. “Jy’t gesê . . .?”

“O ja. Ewenwel, ja, die Kaapse nagwêreld gis soos suurdeeg. Heeltemal onvoorspelbaar. As jou seun korrek is, moet jy jou maar skaars hou.” Haastig voeg Bernard by: “Nie dat jy jouself moet toelaat om op loop te gaan nie, Christian. Maar ek moet jou sê dat dit heel ongewoon is dat jy toegelaat is om lewend weg te ry en dat die ritueel nie volvoer is nie.

“Waarskynlik het ammunisie opgeraak of was daar fout met die skietding.

“Hulle sou jou motor se registrasienommer geneem het. Bende­protokol vereis dat daardie man jou weer moet opspoor. Dis lewensbelangrik vir hom. Dis vir ons van buite moeilik om hierdie rituele te begryp, maar sy turf kan letterlik sit in plaas van joune as hy jou nie kry nie.”

Bernard kug. “Normaalweg sal hy jou dus soek tot hy jou kry. Kyk, dit gaan nie spesifiek oor jou, Christian Lemmer, nie. Maar dit gáán oor jou. Jy’s die een wat jouself met die flikker van jou ligte aangebied het.”

Christian loop op en neer in die woonstel. Woorde wel in hom op, kort, blitsige sinne. Glashelder sien hy nou die patroon. Maar hy hou hom in, en luister. Hand op die voorkop, selfoon teen die oor, op en neer. Asem weg van die foon.

“Is jy nog daar?” Bernard se bekommerde stem. Nie iemand om reguit uit te vra nie; die situasie word in koele, akademiese fraserings gegiet. Bernard, sy ou kamermaat van koshuisdae, nou so ver van Christian se wêreld verwyderd.

“Ja-ja, ek is nog hier. Ek is sterk. Ek is sterk.”

“Wat ek gesê het, Christian, is onderhewig aan die volgende.”

Christian wil hom aanjaag. Hy wil Bernard uit sy kampusdomme­ling opwek. Vinniger, man! Kom by die punt! “Ja-ja?”

Die soetgoed wat deur sy are jaag. Hy voel soos ’n Benz op volspoed op die oop pad. Whoosh! Silwer, vaartbelyn. Jags.

“Onderhewig aan die volgende,” herhaal Bernard, asof hy voor ’n woelige klas staan. “En dalk is dit goeie nuus vir jou, Christian. As die ritueel enigsins verwant is aan die inlywingsrituele van die ou tronkbendes, sou hierdie jongman met die bandana waarskynlik self reeds moes boet vir wat as ’n mislukte aanval beskou sou word. Dan is hy waarskynlik self reeds vermoor. Iemand wat sy eie inlywingsritueel nie kon volvoer nie.”

Christian kug en snuif. Moet die koffietafel haaks skuif. Hy probeer terwyl hy luister. Die kussings uitpof. So vinnig lyk ’n woonstel onversorg.

“Is jy nog daar . . .?”

“Yep-yep!”

“Enigiets is deesdae moontlik, Christian. As ek jy is, sou ek vei­ligheidshalwe laaglê. Vat ’n ander roete Stellenbosch toe. Vermy daardie pad.”

Christian vuur ’n vraag uit. “Nee, nee,” antwoord Bernard. “Christine en Siebert sal nie in gevaar wees nie. Dis na jou wat hulle soek. Jy is die plaasvervanger. Dis simbolies. As plaasvervanger is jy eintlik onvervangbaar, as jy die ironie sal begryp.”

“Yep-yep. Yep.”

“Jy moet nie dalk ’n oorsese besoekie of twee bring nie?” vra Bernard versigtig.

“Ja, ja. Ek het konferensies wat opkom. En moet vir die besigheid . . .”

“Dis handig, ja. Dat dinge bietjie afkoel, Christian.”

“Berlyn, ja. Wene. En . . .”

“Presies. Die bendes het ’n beperkte aandagspan. As hy jou nie gou kry nie, neem die chaos waarbinne hy lewe in ieder geval oor. Hy beweeg aan, na ’n volgende krisis. Lees bietjie wat oor die bendes geskryf is in Ted Leggett en Jonny Steinberg se boeke. Dis sal jou help begryp. Dis waar ek my inligting kry.

“Maar soos ek gesê het, hy’s dalk self reeds dood.”

Bernard praat troostend, asof hy met ’n seun gesels. Maar sy woorde hang ’n groot truspieël in Christian se gemoed uit. En hy sukkel om te onderskei: hoe realisties is sy kommer, of is dit die paranoïese agtertoekyk van die coke junkie?

Aan Christine skryf hy: Daar het jy dit, Christine. Ek is nou Die Plaasvervanger. Ja, ek moet boet vir als wat die bruin mense van die Kaapse Vlak aangedoen is. Die platstoot van Distrik Ses en die opbreek van gesinne. Die neerplak van families op die sanderige, windverwaaide Kaapse Vlakte. Hierdie nuwe regering wat nie sy oë oophou vir die mense van die Kaap nie. Die woede teen als wat gebeur het – dit het ek in die bandanaman se oë gesien.

Veralgemenings, ek weet.

Maar dis waar Bernard die bendes sosiologies plaas. Woedemense. Bendebedrywighede as die woedebui van die onderklas.

Ek sal oor my skouer moet kyk.

*

Seepunt –

Christine

Ek dink sedert die rotmotor baie na oor woede.

Ons het elkeen seker die reg om primordiaal woedend te wees. Om uitgepluk te word uit die klotsakwarium van die baarmoeder, en skielik die aanraking van hande te ervaar. Oorverdowende ge­luide buite die beskutting van die beenbekken en baar en maagwand en spiere en vel van die moeder. Om opeens aan swaartekrag onderwerp te word. Om op te hou swem; om die skuur van materiaal en hoekige dinge teen jou vel te voel.

Ons kom woedeloos die wêreld in, maar ons is onmiddellik smoorkwaad.

En jy’t dan nog verdere woede: oor die verraad van jou moeder. Dis te veel kwaad vir een mens om te dra, Christine. Ons hele verhouding is eintlik ’n geveg teen daardie woede van jou.

Miskien is my aandrang op verrukking ook woede. Dalk is ons almal in hierdie land sinds jare verslaaf aan woede. Oor die aard van verslawing en die persoonlikheid van die verslaafde is al baie geskryf. ’n Hele land kan sigself verslaaf, soos die Duitsers daar in Berlyn hulle destyds agter Hitler aan verslaaf het. Die liefde is ’n verslawing. Die kuns. Werk. Die motors met steamers wat hier onder die woonsteldeur om en om in Hoofweg ry, is voertuie van ver­slawing. Daardie seksverslaafdes is verknog aan die opwinding van die jag, die oerwoud van die binnestad. Die robotligte as seine van waarskuwing, neonflikkers tussen geboue. Die nag se straatlampe en die verbyskuif van restaurantingange, petrolstasies, kafees en don­ker winkelpanele, en kort-kort die hoere. Oneindig die keuse. En die hand, of die mond, of die heup – so gewillig as wat nodig is.

Kokaïen – veral die versnitsoort wat die man met die jeukvoete na my bring – verruk opwindend. Dit verhoog die hartklop, die bloeddruk styg en die farmakologiese werking verruk die sinne.

Dis ’n stimulant, Christine, ’n alkaloïede, en dit verskerp die fisieke en emosionele wêreld. Dit verskuif die grense en versnel nie net jou hart nie, maar ook jou gees. Jy word so bésig. Alles is skielik so helder. Jou logika vlym. Uit my stroom hierdie briewe. Ek sien dinge opnuut. Ek hou my in en probeer als netjies op papier kry, sodat jy sal verstaan.

Ek is ’n ribbok op volspoed.

Ek is ’n woedende atleet, en ek hardloop soos ’n veldbrand, met ’n wil.

Maar in my briewe aan jou beteuel ek my. Rustig, sê ek aanhoudend aan myself. Mooi loop met die woorde. Omsigtige verklarings. Eerder dan langdradig, maar neem haar stadig daardeur.

Die plant waarvandaan coke kom, Christine, is die Suid-Amerikaanse Erythroxylon coca, en die blare is in die ou tyd eksklusief gereserveer vir Inka-adellikes. Selfs ou Shakespeare, sê hulle, was daarop. Ek hoor dat ’n mens tot 1916 kokaïen oor die toonbank by Harrods in Londen kon koop.

Freud, die vader van die proses wat jy deurgaan, was natuurlik ook ’n man wat ’n lyn of twee gesnuif het. Het jy geweet? Seker nie. Maar in my internetsoektogte om jou te probeer begryp, het ek daarop afgekom. Sigmund skryf in die lente van 1884 aan Martha Bernays, sy geliefde, dat hy in die haas onbekende middel coca belangstel. Later stuur hy die einste coca aan haar sodat sy ’n bietjie daarvan kan gebruik wanneer sy olik voel. Hy gebruik dit self om sy skaamheid, sy fobie vir openbare byeenkomste en sy terneergedrukt­hede te beveg. Eers ná die einde van die negentiende eeu raak hy van die gewoonte ontslae.

Ja, Christine, soms dink ek ek en jy is die laaste van die Freudiane. Gaan kyk maar op die web wat deesdae oor ou Freud, sy coca en sy teorieë geskryf word. Nou ja.

Gepraat van woede. Snags – en smiddaens ook – heeldag, come to think of it, hoor ek die woedende geklop van my buurvrou se bedstyl teen die dun muur tussen my badkamer en haar slaapkamer. Ek sien dan en wan ’n kliënt hier aankom. Die stoomdruk van ingehoue woede en frustrasie laat die hande oop en toe vuis. Die vinnige, jagse oë. Hulle wag voor haar deur asof voor die skoolhoof se kantoor. Asof op die rand van ’n afgrond.

Manne onder druk; gereed om te ontplof.

Waarvoor is hulle kwaad?

Vir die hand wat liefhê weerhou?

Erek daar by die Swazi voel hulle hul koning van die speelgrond en moe­der se enigste grootseun.

*

Die Swazi het vanoggend ’n blouoog. Toe ek met bewende hande my woonsteldeur oopsluit (dit was kort ná my aankoms-selfoonoproep “vanuit Johannesburg” aan jou), toe kom sy ook na buite. Geen poging om dit weg te steek nie.

“Ek het nodig om met jou ’n whisky te drink,” smeek sy. Sy hou haar deur oop. Ek gaan na binne.

Ek het met opwinding Seepunt toe gekom vanoggend. Vir jou en Siebert gegroet, die lughawe-afdraaipad op die N2 verbygejaag. Nie met die triomfantlikheid waarmee ek vroeër altyd daar verbygery het na my rendezvous met my soetgoed nie, maar met ’n hooggelaaide dringendheid.

Christine, jy was vanoggend onmoontlik. Maar dit moet ek toegee – ek sou dit nooit kon hou by ’n vrou van saai konvensie nie. Op my sterfbed sal ek jou graag eendag, ná al die verwyte, formeel wil bedank vir die Noag-ark van jou gemoed. Dit was ’n oneindige stoet. Van die mooiste loeries tot die lelikste spinnekoppe. Van grillerige liaan-ape tot die fyn steenbok. Dis wat jy uitadem. Daardie surrealistiese uitstroom van fauna. Skoenlappers borrel by jou uit. Of ’n gifslang, ’n kapel, duik uit die swart holte van jou maag op my af. Jy was onvoorspelbaar. Soos die aandelebeurs. Op en af. Soos die gety. In en uit. Soos die sonbesies: priemend, aanhoudend. Jy’t my bly lok met jou buie. Ek had jou altyd ontsettend lief. Jy was my hysbak, sal ek sê. Op en dan weer, dikwels buite beheer, af. Die skag in. My begeerte na jou het nooit afgeneem nie. Dit was ons geheim: hoe verder jy weggebuig het in jou buie, hoe meer het dit my uitgedaag.

Ek is ’n predator, ja.

Maar gisteraand en vannag en vanoggend.

Ek moes dringend in Seepunt kom.

Toe nooi die Swazi my in. Ek het self gevoel of ek ’n blouoog het. Die geweld van jou psige het my soms ’n kishou geslaan. Dronkgeslaan. Ek steier die woonsteltrappe op, bekommerd oor my bloeds­omloop (ja, die cholesterol en die pille wat nie akkordeer nie!), en daar is die Swazi in haar sweetpak, sonder grimering.

Jy’t laas nag in my arms lê en sidder asof demone jou beethad. Ek het nie meer raad nie.

Dan staan die Swazi daar met ’n onooglike oog en sy’s opgepof in die gesig en sy is gestroop van haar hoertige kleredrag, haar airs en haar lokkende vals wimpers. Sy’s ’n taamlik gewone swart vrou wat des moers geslaan is deur haar pimp.

Net ’n oomblik, sê ek; ek kan nie lank bly nie.

Ek wil nie met jou sake doen nie.

Ek weet, ek weet. Ons is bure, is ons nie!

Hy slaan my weer. Ek sien nie genoeg mans nie. Ek adverteer in die smalls, maar die mans wil die jong kinders hê wat van Athlone en Ravensmead ingebring word. Die Cape Flats gangs probeer die Nigeriërs hier uitdryf. Ek word te oud. Kyk maar, die mans gaan al jonger.

Ek knik. So sy werk vir die Nigeriërs. Hulle is versigtig om nooit hier te kom nie. Stuur net die Adidas-man na haar. Ons sit in die slaap-sitkamer. Op die vensterbank is die harige angoravel wat jy jare gelede op motors se dashboards gekry het: helder oranje. Volstruisvere in pers gedoop staan in ’n pot. Glansplakkate van naakte modelle. Die snesies en pakkie handdoeke. Verder ’n ghetto blaster en ’n stapeltjie CD’s. People Magazine. Haarkrullers. Ou stoele, maar met stukke materiaal oor die leunings gegooi om die vergaan weg te steek.

Sy skud haar kop.

Ek moet uitkom. Ek moet teruggaan. Dis van kind dra dat my tiete so hang. Ek het haar self melk gegee.

Sy gaan aan die huil. Die mans wil regop tiete hê. Nie iemand wat al kinders gehad het nie. “My baba!” ween sy en skud haar kop en sis met haar asem deur haar tande. Sy klem die snesie in haar hand en begin met haar lyf vorentoe en agtertoe wieg. Sy gaan histeries raak, sien ek. Ek herken die ademstote wat ek altyd, deur die muur, gedink het vals aanhitssteune is om kliënte so gou moontlik tot hul klimaks te dryf. Of woede-uitbarstings.

Haar voet begin ritmies en inderdaad woedend teen die vloer stamp. Dit het ek ook al gehoor, en ’n ander interpretasie daaraan gegee. Blou plakkies. Naellak op die toonnaels wat afdop. Vuil in die groottoonnael se hoek.

Ek vlug uit. Na my woonstel. Die sakkie bewe in my hand. Ek mors. Dalk moet ek begin rook aan die goed. Rocks. Hulle sê dit gaan dan vinniger. Inniger ook. Die Adidas-man beveel dit aan. Maar dis die einde. Ek vryf dit eerder aan my tandvleise. Wanneer my neus te veel bloei. Ek hoor haar steungeluide langsaan, die stamp-stamp van haar voet teen die vloer. Buite druis die stad. Deur die glasdeur sien ek verkeer beweeg en mense wat loop.

Sy het nie eens gesien dat ek uitvlug nie.

*

Woede. So arbitrêr, so heeltemal onverwags, teen my as plaasvervanger.

Ek wens ek kon sê dis onverdiend.

Maar ek kan nie, Christine.

Soos jy altyd sê, daar is geen patroon in God se ongenade nie.

Waarom moes juis jý uitgesoek gewees het vir wat met jou gebeur het?

En waarom moes die jongman met die rooi bandana nou juis oorkom wat hom oorgekom het – waarskynlik ’n uitgetorringde lewe in die mees karige omstandighede, daar in die buurte waar Mandrax op straathoeke gerook word en waar gesinne mekaar snags in ’n waas van woede en alkohol toetakel.

Woede; die groot, argelose natuurkrag. Hy wel in die klein enke­ling se siel op en kom soos ’n tornado.

Het jy al gedink hoeveel woede sit in die mond wat gehoorsaam om die penis sluit?

Die Republiek van Woede.

*

Seepunt –

My liewe Christine

I greet you from the other side. Ons lewe die lewe van ontsmette Stellenbossers. Daar in Pleasantville, die mooiste en slimste dorp op die kontinent van Afrika.

Oorlog is ’n erotiese gebaar. Drang. Onderwerping. Inpalm. Eenword.

Erotiek, ten beste, is ’n geveg om die grondgebied van die ander in te palm.

Ons is predatore. Die professore – die goeies – jag in troppe op die uiterste grense van hul jagveld. Die slegtes draai soos hiënas om die afgevrete karkas van hul vakgebied. Die sakemense is die mooi­ste luiperds; ten minste eerlik oor hul geldlus. Geld as vleis. Hulle’s almal in op die jag: prokureurs dien lank nie meer die gereg nie. Medici dien lank nie meer medisyne nie. En argitekte is nie meer daar vir die huwelik tussen landskap en bousel nie.

Iedereen is uit op die jag. Dis wat gebeur met ons splinternuwe land; hierdie land wat deur die wêreld as held voorgehou word. Ons reënboognasie.

Eintlik is ons bar en primitief in ons mooiste drange.

Christine, ek sal dit nooit met jou, of met enigiemand anders, kan bespreek nie. Die woord verglyding kom so dikwels by my op. Dis wat hierdie tyd is. ’n Tyd waarin dinge gewoon aan die beweeg gegaan het. Die magma-lae van die geskiedenis, gesmelte lawa onder die oppervlak. Dit prut en stadig skuif die vastrapplek. Later is daar net enkele eilande in die molm. Holtes vir ons voete. Ons vergly. Vir my ’n situasie nie sonder opwinding nie.

Christine, soms dink ek dat jy die lewe buite jou kou nie meer begeer nie.

Noukeurig afgebakende grense; die hoekpale van fatsoenlikheid. Dit sien ek om my in ons dorp. Weet die mense wat op hul drumpel aangaan, in hul bure se huise, in die township anderkant die robotte, daar waar die fietsryers van hul fietse afgestamp en van hul selfone en blink fietsryhelms beroof word?

Soos woedende, gehokte likkewane slaat die brawe Stellenbosse burgers hul sterte teen die wande van hul kou wanneer iets gebeur wat buite orde is.

En bou hulle, soos Mandela, oor en oor die huis van gevangenskap. Ek verwys na die huis wat hy ná sy vrylating op sy geboorte­dorp laat bou het, ’n presiese replika van sy gevangenishuis op die perseel van Victor Verster, Paarl; die huis waaruit hy vrygelaat is.

En onthou: ek is een van dié Stellenbossers. Ek is die skaam olifant met die voetboei. En dalk, soos die geval was met die kritiek teen sy stad wat ou Freud daar in Wene alewig uitgespreek het, sal ek eendag besef dat my klagtes oor Stellenbosch eintlik ’n liefdesverklaring is.

*

My liewe Christine

Op ons vlug terug na Suid-Afrika ná daardie slordige vakansie kry ek my eerste teken van angina. Dit sou ek eers jare later, daar in Panorama se harteenheid, besef. A-tipiese angina. Ek dag dis ’n spastiese kolon. Geen pyn in die linkerarm, speldesteke in die hand of pyne in die onderkaak nie. Geen drukking op die bors asof ’n olifant daar sit nie.

Nee, ’n sooibrandagtige teenwoordigheid. ’n Soort angstigheid. Die gees wat lank voor die liggaam snuf in die neus kry.

Rys het oor my skoot gestrooi en jy’t dit tydsaam met duim en wysvinger van my hemp afgepik, twee korrels in jou mond gesit en die res netjies op die skinkbordjie op my skoot gepak.

Min het jy geweet wat in die bors van jou man aan die gang was.

Ek sit hier en kyk uit op die straat waar winkeliers en restauranteienaars deur hul rituele gaan. Brode word ingedra, vleis word afgelewer, vensters word afgevee, want die Seepuntse nag het mis en seesproei gebring. Urine en papierfrommels word van die sypaad­jies afgespuit met tuinslange. Die minibussies het soggens ’n vrolik­heid aan hulle en die getoeter is uitbundiger as die geïrriteerde, aggressiewe geluide van later die dag wanneer die spanning toeneem om genoeg ritte in te palm en die verkeer druk raak en die nag begin toesak.

Die Swazi het netnou op haar balkon verskyn en na my kant toe gekyk waar ek by die venster sit. Sy’t haar vuil ou japon aangehad, met ’n kopdoek oor die kop. Sy kom oor vir koffie, het sy gesê, om tienuur. Ek ken haar al; dit sal nader aan twaalfuur wees.

Nee, ek kan jou nie vra wat jy alles in jou ronddra as vrese of geheime of geheime vrese nie. Miskien sal ek en jy graf toe gaan met ons afsonderlike geheime. Dalk weet jy nie dat ek weet nie, of dalk weet ek nie dat jy weet nie.

Daar is ook die ander moontlikheid: dat ons albei weet maar dink die ander een weet nie dat ons weet nie.

Ek en jy het ’n groot vrag gekry om te dra, Christine. ’n Mens se geheue dam stadig in jou op. Jy kry tyd om gewoond te raak daaraan. Om jou daarmee te versoen. Maar toe die trein uit sy tonnel bars daar in Gordonsbaai het ons, in een dag, ’n totaal ander geheue gekry. En nie eens met mekaar daaroor kon praat nie. Jou verhouding met jou terapeut was heilig. Ek durf nie verklap wat ek weet nie.

Alles het verander. Stadig moes ons elke spoor weer naloop, van daardie oggend op Coetzenburg, toe ek jou tong uit jou mond gesteel het. Elke gebaar, elke woord moes ons nagaan. Als het verander. Dit was asof ons ’n tweede lewe gelei het waarvan ons nie geweet het nie. En dit was ons egte lewe. Die ander ene – die een wat ons gedag het ons lewe is – was ’n verweer. ’n Ontkenning.

’n Nuwe geskiedenis; in ’n oomblik herskryf.

En ons het gesteier. Wie sou nie?

Ek het my hart verloor. En jy? Ek weet nie; ek probeer jou nog leer ken, by die eerste woede verby.

Vir die Swazi kan ek niks vertel nie. In hierdie gebied word ook nie vrae gevra nie. As jy niks uithaal oor wie jy is en waaroor dit vir jou gaan nie, word jy nie gevra nie. Hier is te veel mense wat met groot seer en eensaamheid rondloop. Jy kry die gevoel die lywe wat op straat loop, die gesigte agter vensters, die figure in motors of op trappe, is gewoon net die pionne van ’n groot, treurige spel, ’n ander werklikheid agter die uiterlike, ’n drama wat hom afspeel terwyl die pionne deur hul daaglikse lewens gaan.

Dis die groot reservoir van menslike emosie wat lê hier agter die lywe en gesigte, die etes en die motors, die gesprekke en die fluite, die spuug op die sypaadjie en die aai van hande oor die lyf.

Dis ’n gety net so ongerus en aanhoudend soos die getye wat daar onder, ’n straatblok en strook sand ver, teen die land aanbondel.

Suig en inkom, suig en inkom; die twee getye van Seepunt: die Atlantiese Oseaan, en die oseaan van trane.

*

Dit kom nou by my op terwyl ek vir die Swazi tee bedien. Sy noem my Christian, Christen op sy Engels uitgespreek, synde ’n gelo­wige in Jesus Christus.

“Is jy ’n Christen?” vra sy.

Ek skud my kop.

“Maar jou naam sê jy’s een.”

“Dis maar net ’n naam.”

“Is jy familie van die man wat die hart oorgeplant het? Christiaan Barnard?”

“Nee.”

“Maar jy deel sy naam.”

“Dis toevallig. My van is Lemmer. Christian Lemmer.”

Iewers het sy opgetel dat ek doktor voor my naam skryf. Seker by die opsigter. Nou word ek Doktor Christian. Dit klink soos die held in ’n sepie.

Haar naam is Sheba. Sy het my formeel meegedeel dat dit haar werksnaam is. Dit is die naam wat in die Argus se snuffels verskyn, tesame met al die beloftes wat vroue soos sy maak. Sy het ook drie ander name, het sy geheimsinnig gesê; nee, eintlik vier.

Die tweede naam is haar geboortenaam, haar swart naam. Daar in die dorpie op ’n heuwel in Swaziland was dit die naam wat vir haar gebruik is.

En op skool en in die middae wat sy in ’n kafee in die wit dorp gaan werk het, het sy ’n wit naam gekry. Dit was die derde naam.

Toe sy weggeraap is deur die manne wat jongmeisies na Swaziland se casino’s gelok het in die dae toe dobbel, swart vroue, pornografie, John Lennon se “Imagine”, die skryfwerk van Joe Slovo en die algemene stemreg nog in Suid-Afrika verbied was (ek moes glimlag by haar inryg van verbode items), het sy ’n vierde naam gekry.

En dan was daar die vyfde naam, wat die man wat die vader van haar dogtertjie is, haar gegee het. Hy is vort, die blonde man, terug na Duitsland; hy het aan ’n waterskema gewerk en sou haar agterna saamneem na Hamburg, vir ’n beter lewe.

Hy’t haar leer kokaïen eet, vertel sy. En daar het sy seks leer gee in ruil vir soetgoed. En sy rits die name op ’n ry af, in volgorde van aanmelding tydens haar lewe: Thandi Masuku, Beauty (in die kafee, waar sy meestal die swart toonbank bedien het: goed soos BB-pyptabak, pruimtwak, suiker, koffie, drop, paraffien, meel en ander lewensmiddele). Toe word sy Jane, Queen of the Jungle, daar by die casino (eers agter in die parkeerplek; later ’n kamer in die hotel); en dan Schatzi, die liefling van die blonde Duitser met die allemintige vool.

Sy bedien haar verhaal met humor, dié Sheba. Vir my pas Sheba perfek by haar, in hierdie wêreld van kitsseks en soetgoed en meeue wat voor die venster hang en skaamteloos na binne kyk vir iets om te aas.

Thandi word my confidante, Christine, en ek vertel haar van my droom die vorige nag oor ’n okapi. Die volgende oggend gaan sy na die internetkafee hier af in Hoofweg en gaan soek ’n prentjie van ’n okapi op Google want sy’t nog nooit van dié boksoort gehoor nie. Sy kom triomfantlik terug met “Noem my Okapi” en ja, wragtig, ’n dag later is daar in die snuffels ’n advertensie waarin ene Okapi, die skaamste van die skames, haar liefde en lyf aanbied teen ’n billike tarief. Slegs, egter, aan uitvoerende bestuurders.

Sy wys my trots die advertensie en ek besef dat my mitologie met dié van Sheba/Okapi/Schatzi ensovoorts begin vervleg. Ek begin inburger hier in Seepunt, Christine, en soms speel ek met die gedagte om my permanent hier te vestig.

Maar ek weet dat dit die begin van die einde sal wees. Die soetgoed is nie goed vir die kardiovaskulêre sisteem nie. Dis ’n understatement. En sou ek rocks begin rook, sal daardie rush die bloeddruk in die buitenste ruim gaan blaas. Daarna is daar nie weer omkyk nie. Ek sal nie lank hou nie. Voor ek my kom kry, gaan ek met ’n paar geldnote oorstap na Okapi. Nee, nee, Christine; ek het jou ook te lief. Dis fantasieë van ontvlugting. Selfvernietigende hoëvlugte. Jy weet hoedat een deel van my om die baan beur en die ander deel swik.

Okapi sit oorkant my en drink lusteloos aan haar koffie. Die vorige nag het sy besoek ontvang van die man wat namens die Nigeriërs in beheer van haar is. Sy is regtig in die moeilikheid, want snags word kwêlavragte jongmeisies – “Kinders! Party van hulle!” roep sy uit – Groen- en Seepunt ingery en vroue soos sy is nie meer boaan die mans se verlanglyste nie.

Haar hanteerder pas druk toe. Die woonstel kos hulle baie en sommige weke verdien sy skaars genoeg om haar lus vir soetgoed te betaal. Sy moet kliniek toe en dis medisynes en dan moet daar nog maandeliks geld inbetaal word in haar dogtertjie (haar vel is amper so wit soos joune, vertel sy my) se rekening in Swaziland. Die kind gaan haar tienerjare binne en hulle dra mos net labels. Sy’s mos half-Duits en moet goed lyk.

Ek knik. Ja, ek het ook ’n dogtertjie, kom dit by my uit; ek kan tog nie vir Siebert hier opdis nie! En inderdaad, hulle is duur, en hul behoeftes groot. Portuurdruk, sê ek, maar sy ken die begrip nie en kla oor die gangsters (sy spreek dit Afrikaans uit, soos op die Vlakte) wat op die skoolmeisies toesak en God is haar getuie, haar kind gaan in ’n boetiek of bank werk en nie die lewe van haar moeder lei nie.

Watter soort werk dink sy doen jy? vra ek aan my vriendin. Ons sit gesellig saam. Soms is daar stiltes, maar dis nie ongemaklik nie. Ons is twee siele wat op die derde verdieping van die leuen woon. Die grond onder ons voete wieg asof op water. Ons het geen gordyne voor ons vensters nie en ons deure staan altyd oop vir boewery. Ons woonstelblok eggo met leë beloftes en kanse, liegstories en buie. Ons is in ’n hel van ons eie. Die Republiek van Soetgoed. Die Columbia van die gees.

Sy dink ek is ’n hairdresser, vertel Okapi, en gaan onmiddellik voort, asof sy ’n inspirasionele bevlieging kry. Ek kan jou hare doen! Nee, skud ek my kop, dis nie nodig nie. Ek sal! Sy gaan na haar woonstel, bring ’n plastiekskottel (hoeveel mans het nie hul gereedskap daarin afgewas nie, kom dit by my op) en tap dit vol lou water.

Ek moet oor die tafel buk en sy rangskik haar handdoeke met hul geur van wierook en goedkoop parfuum om my skouers. Buite wieg die seevoëls in die gleuf straat tussen geboue. Jy het ’n glimp van die see hiervandaan, skaars ’n meter breed tussen geboue deur.

Terwyl daardie ander gety onrustig wieg tot aan die einder, veeg Okapi teer hande deur my hare. Lou water drup teen my nek af. Die geklots van water, die seepskuim en die geur van warmte en sjampoe laat my my oë dankbaar sluit.

In stede van die liefde

Подняться наверх