Читать книгу In stede van die liefde - Etienne van Heerden - Страница 6
1
ОглавлениеDie rotmotor
Steil en voggelade stoot die aandwind oor Johannesburg Internasionaal. Die vliegtuig sidder met die opstyg.
Die vaart druk Christian teen sy sitplek terug. Hy trek die rek om sy poniestert los en skud sy bruin hare uit. Oorkant hom sit die waardin vasgegespe. Haar kop swaai lui heen en weer teen die rugleuning terwyl die wind die vliegtuig wieg. Haar oë is stip teen die ruim se dak. Sy is gewoond daaraan om die sakemanne wat op ’n Vrydagaand op pad Kaapstad toe is, se oë te ontwyk.
Christian is versot op die opstyg. Melankolie oorweldig hom wanneer hy mensgemaakte metaal voel beur teen die natuur. Dit vertroos hom: die dood as vaste punt.
Om hom sit sommige passasiers met geslote oë, oënskynlik ontspanne. Maar klein plooitjies om die ooghoeke verraai afwagting en ingehoue asem. Enkeles sit in die straal van hul sitplekliggie geanker met die aandkoerant voor hulle oop, hul oë stip op een berig.
Christian kyk by die venster uit. Die lughawe val onder die vliegtuig weg. Daar onder kantel die onafgehandelde verbouings wat skynbaar altyd halfklaar bly. Blinknuwe instaplokale neffens gelapte aanloopbane. Klein geboutjies wat hurk naas die groot gebaar van ’n internasionale lughawe wat skynbaar inderhaas vir Afrika se Renaissance ingerig word. Om ’n nuwe brandweerwa drom ’n troppie verweerde, vaalrooi voertuie asof hulle wag dat die fier sirene ’n stormloop moet lei.
Soos al die verweerde draers in hierdie vlugklas, word die vliegtuig slegs vir binnelandse vlugte gebruik. Die Ribbok kreun deur ’n dwarswind, wip deur ’n trog. Reën druis teen die bakwerk. Om Christian word die verouderde tegnologie ’n besprekingspunt. Koerante word uitgeskud en oopgemaak. Die oë is afwagtend op die waardin: wanneer sal sy die trollie begin deurstoot?
Die stad verdwyn nou onder mis en reën. Christian sug en kyk na sy naels. Van die middaguur af bol cumulus oor die stad. Die vog het laatmiddag, net voordat hy lughawe toe vertrek het, in ’n stortbui uitgesak wat die strate skoongewas gelaat het. Die remligte van plate motors by verkeersligte het in die glinsterlagie op die teer weerkaats.
Die paaie was nes Christian daarvan gehou het. Verraderlik glad weens olie wat in die droë weeksdae uit Johannesburg se swak versorgde voertuie drup. Uit die enjinblokke van minibusse, gesteelde motors met omgeboude enjins en getinte vensters, die sukkelende vragmotors wat, om kapers te ontmoedig, sonder logo en aanduiding van inhoud deur die verkeer beweeg.
Kwaito het by die deure van minibusse uitgedawer. Die taxijoggies wat die skuifdeure oophou, het fluitend en jillend na voetgangers wat moontlik wou saamry, geroep. Die bussies vleg roekeloos deur die verkeer, bedag daarop om soveel moontlik ritte in te palm voordat die spitsuur taan en oorvloei in die nag.
By robotte staan smouse met goedkoop Taiwannese klerehangers, sambokke uit rubber gesny, gieters en tuingereedskap, en sonskerms vir motors. Daar is ook mans wat vir kwaadgeld op die kruisings luier, vonkprop verskuil in die vuis. Net ’n aks van ’n handbeweging en ’n motorruit verbrokkel in kristalle, het Christian gelees. ’n Aktetas of handsak word gegryp, voete klapper deur die verkeer, weg. Daar is ook werkloses, wat skynbaar van tyd en rigting vergeet het, en teen hierdie uur nog wag op ’n laaste opdrag.
Wanneer die Ribbok weer bokspring, hou Christian en die waardin se oë mekaar ’n oomblik lank vas in satiriese uitdaging. ’n Vrou vir risiko’s, dink Christian, en vee sy hand tydsaam deur sy hare. Vir avonture in die blink klubs van Soweto en Athlone. ’n Mooi Zoeloemeisie wat sekerlik haar gedagtes koester oor die sakemanne wat Vrydagaande haar oog probeer vang op die aandvlug Kaap toe.
Hy draai sy kop na die donker ruit. Strome mis, weet hy, tap nou teen die vliegtuig se bakwerk af. Die loods en sy medevlieënier sit sienderoë blind voor die glasruite, dun teen die oopte. Christian skud The Star oop. Sy linkerduim se venusbult is nog sonder gevoel. Die chirurg het gesê dat dit nog ’n aantal maande so sal wees. Maar by tye, sag soos die horinkies van ’n skoenlapper, fladder gevoel weer in Christian se dooie streke. In die linkerduim, die linkervoorarm, die regterkuit en sy borsplaat, waar hy deesdae weer die spuitwater uit ’n stortkop kan verduur ná ’n halwe jaar se gril.
Dan bars die Ribbok bo die wolkbank uit. Die sterre, digby, is skerp. Weswaarts gloei die horison soos ’n perlemoenskulp. Die waardin se gespe klik los, gevolg deur ’n reeks verligte klikke.
Mettertyd kom die vertroude gerinkel van die dranktrollie in die paadjie af. Sy ruik na handeroom en ’n effe goedkoop parfuum wanneer sy oor Christian leun.
“Spawater,” bestel hy. Hy snuif en vryf oor sy neus. “En ’n whisky. On the rocks.”
Terwyl die ruim gevul word met die gesellige geklets van passasiers wat by die toilette toustaan, dink hy terug aan die weke kort ná die operasie. Wippend, pynlik maar geesdriftig, op die gesins-kamersofa voor sy klankstelsel met “Dolby digital surround sound en supercool subwoofer power” – soos klein Siebert graag aan sy maters verklaar – wat bulder sodat die huis se mure skud en die hond na sy mandjie vlug.
Dit was in ’n buierige, melankoliese kitaarsolo van Bruce Springsteen waarin hy homself herken het. By die gedagte aan blou jeans en gevaarlike vroue. Aan die oopskeur van nagstrate. Aan idees en nuwe projekte wat soos aanloopbane voor ’n Boeing se neus strek en wink.
Springsteen dryf dit soos ’n loeiende sirene teen opgedamde middagverkeer in. Soos ’n vliegtuig, beurend teen tam, pakkende vog.
Teen die aandwind in, dink Christian. Dis ek. Ek met die ritssluiters wat my kuitspier binne hou, my voorarm toerits. Met die vertikale snit oor my bors, hier waar my skild behoort te wees, waar ek my skouers moet oopgooi na die wêreld.
*
Suisend verskiet die Ribbok deur die hemelruim. Die turbulensie bo Johannesburg is vergete. Hulle gly oor die stil gelaat van Afrika.
Deesdae is Christian se hart ’n benoude konyn, gehurk in sy bors.
In sy drome kort ná die hartomleidings was dit erger. Die hart was ’n snoet, aan die kop van ’n vark wat snorkend agter hom aandraf.
En toe hy sy arms na Christine lig in ’n gebaar van versoening, om aan haar te sê dat hy haar liefhet, het sy hande in twee swerms vlieë ontplof, draaiend om die stomp, leë polse.
Die loods kondig aan dat passasiers wat teen ruite sit, kan afkyk om daar onder in die donker Karoo die ligspatsel van Matjiesfontein en die befaamde Lord Milner Hotel te sien. Ons is byna daar, sê hy gesellig en om Christian bestel sommige passasiers nog ’n laaste drankie. Hy leun teen die venster. Die koel glas teen sy gesig is ’n vertroosting. Weliswaar daar onder ’n vegie lig, ’n paar helderder ligte: Matjiesfontein. Sou iemand daar onder opkyk na die vliegtuig, wonder Christian, en my dalk sien afkyk? Hy onthou die geur van die ou hotel tydens die koffie drink en koek eet toe hy, Christine en Siebert die dag daar aangedoen het; die dag toe Siebert sy viool daar laat agterbly het. Dit was die laaste stop voor Stellenbosch en die nuwe lewe; die lewe wat hy nou lei.
En Christine se lewe, gebuk daar oor die geraamte in Groenpunt.
Hy veeg oor sy gesig wanneer hy die vliegtuig subtiel voel daal, en onthou hoedat hy ná sy operasie vir die eerste keer weer in die see geswem het. In die wilde, wit sjampanje van Wildernis se branders het hy ingesteier, nog duiselig van narkose en lomp van seer. Gehap soos ’n Labrador na die bruisende skuim.
Dis Edvard Munch se Die skreeu wat by Christian spook wanneer hulle insak by Kaapstad Internasionaal. Hande wat vroetel aan bloederigheid en saag aan been. Oplig en uittel uit die diep dam van die bors.
Hy is die naamlose figuur op ’n hangbrug tussen sy blaaie. ’n Gil dawer binne die wande van sy toraks.
Op die web het Christian gelees dat jy onder narkose tóg die trauma van ’n operasie registreer. Jou brein volg die hap van skêre en die wegbuig van been, die ryg van naalde. Selfs die gesprekke van diegene wat aan jou werk, ontgaan jou nie. Jy gaar dit op in ’n geheue wat jy nie weet jy besit nie.
Maar met sy tred, wanneer hy afstap onder die buik van die Ribbok uit, is niks verkeerd nie. Dis atleetbene wat Christian dra, gevorm deur atletiek op skool en universiteit. Hy’t ’n mooi rug en netjiese skouers, en hy gooi sy geil hare met ’n swaai van die kop die wind in.
Hy lig sy hand na die speelse bruin oë van die grondwaardin en dink: sy weet nie dis ’n leë hand nie, ’n hand aan ’n arm waaruit die arterie verwyder is en die pols gesteel is; ’n hand aan ’n lyf met ritssluiters wat gloei in water.
Hy knipoog vir haar en sy knik. Sy ken hom al. Hy’t altyd iets te sê wanneer hy op ’n Vrydagaand hier te midde van die ander saai sakemanne arriveer. ’n Weggooi-opmerking oor die mooi Kaap, of ’n stelling oor die weer. Hy’s die atletiese sakeman met die effense magie, die hare soms los en uitgekam en ander kere in ’n poniestert. Soms dra hy selfs ná sononder donkerbril, en hy’t altyd dieselfde skootrekenaartas oor sy skouer.
Hy stryk vinnig by die aankomsaal in. Die eerste asemteue van die vogtige Kaapse somerslug het die geur van ’n vrou se oksel op ’n warm somersaand.
Hy voel die oë van ’n paar vroue op hom rus wanneer hy uitstap sonder dat hy hoef te wag vir bagasie. Hy vleg deur die mense wat op hul tone agter die versperrings op passasiers wag.
Hy reis lig, want hy hou alles wat hy benodig in twee wonings aan: die huis op Stellenbosch, die woonstel in Sandton.
Wanneer Christine ’n hemp sien waarvan sy dink Christian sal hou, koop sy twee.
Hy huur die nuwe luikrug-BMW by Avis se toonbank. Met die sleutels in die hand vleg hy vinnig deur die mense. Hy dink aan die vorentoe beur en die effe na links oorhel van die vierhonderdmeter; die verrassing van pyn en inspanning wanneer jy die agterste lengte inkap. Terug by jeugmiddae op Coetzenburg se tartanbaan, daardie bene wat alles uithaal oor ure en dae en weke heen, en die persoonlikheid wat oor die jare heen gevorm word.
Vir Christian was herstel ’n wedren. Maar daar is geen pawiljoene meer nie, en Christine is nie meer ’n opgeskote skoolmeisie wat met rooi wange kyk hoe hy stomend die laaste honderd meter inkantel nie.
Hy’s nou in ’n dimensie waarvan die ander sakemanne wat die gehuurde motors om hom beman, nie weet nie.
Hy plaas sy rekenaar in die bagasiebak van die hardegat BMW’tjie. Beter so, want ’n ligte, geoefende kappie teen die ruit terwyl jy by ’n robot luier en jy verloor maande se werk en ’n hele infrastruktuur.
Die karretjie is wakker en Christian draai die ruite toe wanneer hy die Avis-area verlaat. Hy skakel in op Kfm: ’n kitaarsolo van Carlos Santana. Die N2 is nie te besig nie. Hy swaai by die snelweg in en skiet weg, met sy kopligte op volsterkte. Bedag op voetgangers wat uit die plakkersbuurte oornael of soms ’n verdwaalde bees of perd wat oor die teer dwaal, gee hy vet.
Wanneer hy bestuur, sak hy weg in wat hy sy dinktyd noem. Sy gedagtes swenk nou na Siebert. Siebert is veertien, en op sy hardegatste. Wanneer Christian deesdae aan hom dink, gebeur ’n ontstellende ding: die frase “jou klein fokker” duik in sy gedagtes op. Dis ’n ongemaklike verskyning, hierdie frase wat so uit die dieptes opduik: die kind as baba, as klein tjokkertjie, die seuntjie wat oulik die driewieletjie trap, die onbeholpe puber. En nou die vrywillige banneling in die kamer op die tweede verdieping, onder die nok van die huis, verlore iewers op die web. Onbereikbaar, nors.
Wanneer Siebert wel sy kamer verlaat, verkry hy ’n prostese, ’n ekstra ledemaat: ’n rollerboard waarmee hy snags laat, wanneer die hele buurt slaap, sy spring- en draaitoertjies eindeloos oefen in die straat voor die huis. Christian hou hom soms dop vanaf die donker slaapkamer se balkon, daardie pofbroekfiguur wat komieklik spring en val, om net weer hardnekkig op te staan, keer op keer.
Te veel soos ek, dink Christian dan, met die slapende Christine agter hom, die aandwind wat die gordyne saggies laat bol en die dou wat die grond- en plantgeure uit die Stellenbosse riviergrond laat opwasem.
Klop-klop, karplaks!
In die BMW skud Christian sy kop en gun homself een van sy mees bevredigende fantasieë. Hy dink aan sy kliënte. Hulle sit nou, op hierdie oomblik, in internetkafees met ’n papierbeker koffie in die een hand en die ander hand ongeduldig op ’n muis. Hulle sit laataand nog in staatsdienskantore voor die verligte glasskerm, besig om geluidloos, verslaaf, te sweef. Of hulle sit naas goudvissies en dawerende TV’s in gesinskamers. Hulle dwarrel soos stofdeeltjies wanneer ’n sonstraal ’n skemer kamer binneval. Hulle swerf nadenkend; naamloos en nêrens.
Sy gedagtes vloei oor in wat môreoggend op Stellenbosch wag. Hy ruik reeds die koffie wat Christine bring. Sy’t Diana Krall baie saggies aan die draal deur die huis met een van haar fyn, ironiese nommers. Die balkondeure is oop en die groen kroon van die eikeboom is stralend en geurryk. Eekhorings wip knikstert tussen die takke. Hulle val met dik, wollerige sterte deur die lower.
Maar by Wildernis se wit branders is Christian op hande en knieë in die vlakwater. Brekende borreltjies dryf op die plaat water wat stadig terugtrek en aan sy hande en bene suig. As ’n stroom hom nou moes beetkry, sou hy nie kon uitstap nie. Wandelaars op die groot, oop strand kyk verras na die groot man wat soos ’n kleuter in die vlakwater rondkruip.
Hy ruk uit sy gedagtes toe hy links moet draai na Stellenbosch. Hy kan die landerye om hom voel oopmaak. Hy’t die ruit nou afgedraai en die wind stoot in sy gesig. Regs van hom lê wingerde in donker voë en links, verder weg en agter Port Jacksons, plakkerskampe en die treinhuisies van Delft, klim die ligplate van Loevenstein en Welgemoed teen die Tygerberg uit. Hy is bewus, na agter, van die wit skuim by Macassar, Valsbaai met Hangklip wat sy voet in die onrustige nagwater neersit, en duskant die Strand en Somerset-Wes die donker figuur van Helderberg, skaars sigbaar teen die sterre.
Hy ruik Kaapse fynbos, en in die gleuf wat deurtrek na die Valsbaaise kus dryf die soutgeur van laaggety, die oopgetrekte rotse by Gordonsbaai. Sy gemoed lig, hy verlang na Christine en Siebert, en daar voor strek Stellenbosch se ligte al teen die hang van die berg uit. ’n Berg wat hy as skoolseun uitgehardloop het, vry en rats soos ’n ribbok.
*
Die motor wat van voor af aankom, ry sonder kopligte. Christian, wat die soutgeur van Valsbaai diep in sy sinusholtes intrek en gemaklik agter die BMW’tjie se stuurwiel sit, flikker sy ligte vir die donker voertuig wat van Stellenbosch se kant aankom.
Ergerlikheid stoot in sy bors op. Deesdae kom die kwaad vinniger. Dis ’n goeie teken, sê die kardioloog. Iedere mens gaar sy kwaad in ’n spesifieke orgaan op: die lewer, die dikderm, die maag. Die gif van opgekroptheid, wat die gekose orgaan aftakel. In Christian se geval was dit in die varksnoet, daardie orgaan waaraan hy deesdae probeer dink asof aan ’n appel: mooi volrond, rooiwang, ryp.
Met ’n geur van nuwe lewe.
Hy moet, anders kan hy nie aangaan nie.
En dis skielik daar: die humeur. In vergaderings, op die oop pad, voor die rekenaar; tuis by Christine en die kleineman. Mense is versigtiger vir hom deesdae, merk hy op. Die gemoedelike Christian wat klein stekies kon wegveeg met ’n verwaande argeloosheid, wat met ’n wuif van die hand kon sê: “Let it ride” – hy is nie meer nie. Meer gestroop nou. Die stophorlosie skielik ’n ander, groter tyd aan die meet.
“Fokkers,” sis hy toe die motor soos ’n rot in ’n donker tonnel op hom afkom. Hy flikker weer sy ligte – effe te nadruklik, sou hy agterna toegee – en druk die toeter. Dan doof hy sy kopligte in ’n heerlike oomblik waarin tyd stilstaan en die twee motors oor die donker pad na mekaar aanskiet. Wanneer hoendervleis oor sy arms uitslaan, ruk hy hom reg, en gooi die BMW se ligte op volsterkte.
“Ek sal julle smelt, bliksems,” prewel Christian, en in sy agterkop: SA skolekampioen oor die vierhonderd meter. Weliswaar in dae lank vergete, maar darem. In warm somersmiddae voor vol pawiljoene met roomysetende meisies (Christine was een van hulle; pienk tong om die ronde roomys).
Dit was die dae voor Christian Angola toe is as kanonvoer teen Fidel Castro se Kubane, ingestoot in die treurige Afrika-Viëtnam van PW Botha en Ronald Reagan se CIA, Augustino Neto en die skaakspelers van Moskou.
Dis toe, dink Christian dikwels, dat my are begin toegaan het. Daardie vetterige weermagbredies in varkpanne; die propaganda; die luissuig aan die ondermaag van die bees, ’n Apartheidsrepubliek in Afrika.
Toe die motor by hom verbysjor, sien hy dat dit een van daardie Cape Flats specials is. ’n Ou model, uit die jare tagtig, versier met goedkoop, swierige wieldoppe. Die bakwerk is vol skrape en duike en agter die getinte donkerblou vensters is die insittendes onsigbaar.
Agterna sou hy onseker wees: ’n Toyota? ’n Datsun dalk? Selfs ’n ou Sierra?
Hy haal nou diep asem en probeer die spanning uit sy bors wegdink. Met sy wil dreineer hy die bloeddruk uit die dam tussen sy ribbes. Diep in en stadig uit; ruit effe oopdraai. Hierdie naweek moet hy meer uitvind oor die jogaklasse wat naweke op Coetzenburg aangebied word. Christine moet ook gaan, alhoewel hy die idee van ’n kruisbeensittery op ’n besige Saterdagoggend tog effe gek vind. Maar hulle moet iets . . .
Sonder dat hy dit bewustelik registreer (sou hy agterna sê) merk hy in die truspieël hoedat die Toyota (of Datsun? Of Sierra?) se remligte soos twee uitroeptekens blits. Die rotmotor draai om. ’n Jaglig op die buffer boor deur die wingerd en die heuwels en vir ’n oomblik blerts dit wit op ’n ry werkershuisies.
Dan sit hulle agter hom: twee kopligte, dof en leweloos, en dan die een borende soeklig. Skeeloog, nader aan die regter- as die linkerkoplig. ’n Besliste aandrang op die stil pad met geen teken van ander voertuie nie. ’n Straal op hóm gerig.
Hy’s verras deur die spoed waarmee die borende straal naderkom. Deesdae, het hy in die Cape Argus gelees, is die nanagsport van die Kaapse Vlakte informele motorwedrenne op die stil hoof- en deurpaaie. Ou motors, wat van buite soos skedonke lyk, se binnegoed word gedokter en reggeruk totdat hulle die vermoëns van ’n renmotor het, en snags kyk selfs die verkeerspolisie anderpad wanneer die jaagduiwels hul kampioene kies en verby slapende woonbuurte blits.
Het hy in so ’n resiesbaan beland?
Die motor sit nou teen sy agterbuffer. Die lig boor in Christian se truspieël en gooi ’n spatsel oor sy gesig. Hy gee vet, druk die BMW’tjie tot die uiterste, maar die rotkar bly op sy hakke. Ineens, geoefend, swenk die motor in die baan vir aankomende verkeer in, en kom sit rats langs Christian. Christian voel paniek in sy bors hamer.
Die motor trek effe voor die BMW, maar swaai nie voor Christian in soos ’n verbysteker sou nie. Hy bly voortjaag in die verkeerde baan. Op die agterruit, in letterwerk wat sierlik en uitdagend is: Don’t fuck with me.
Dan trek dit weer langs Christian in sodat die motors neffens mekaar ry. Die getinte ruit draai af en die jongman wat in die passasiersitplek sit, dra ’n donkerbril en ’n rooi bandana om die voorkop. Hy’t ’n moulose frokkie aan en die boarm met die draak op agterpote wat oor die ronding van die deltoïde getatoeëer is, is maer en gespierd.
Die rewolwer verskyn skielik: swart; lig wat daarop blink. Die BMW se voorruit spat uiteen en vlokke glas bars teen Christian se gesig en vloei verby sy keel. Kristalglas waaier rooiblink in die remligte. Dis asof hy deur ’n swerm bye gery het.
Hy spuug die stuk glas wat tussen sy lippe beland het weg en proe bloed. Iets anders skop by Christian in. Sy reserwe, noem hy dit. ’n Gevoel van beslistheid. Van daardie eerste vierhonderddraai. Van die atletiek van sy heupe; die pomp van arms; die ken wat die wind klief. Hy was al hier. In die oop deur van ’n Puma-helikopter wat skuinsweg laag oor bosse vlieg, die loods wat skeef en gewond oor die kontroles hang; hy, Christian, in die oop deur met koeëlgate in die bakwerk om hom en die smaak van bloed op sy lippe. Eers agterna, ná ’n plofferige landing in stof en krakende masjinerie, het hy uitgevind dat die bloed nie syne was nie, maar dié van medesoldate; bloed en limf tydens die vlug uit hul liggame losgeskiet en in wind opgekarring teen sy gesig aan.
’n Flits: in die direksiekamer; daardie een groot vernedering die dag: die ander, hul skouers gebuig om hul borse te beskerm, hul sagte binnedele. Die skinderbekke en minderes; die gangpolitici; die koffiekan-amptenary. Knoeiend, tropdiere. Hulle wat nie sonder ander kan nie, vir wie die lewe ’n spanspel is.
Hy’t hulle aangevat: wenlint toe; oop baan voor; hy hoor nie die asems weerskante nie. Daar’s net een asem: syne.
Hy was al hier; in ’n operasiesaal onder ligte; iewers diep weg maar tog bewus; pratend met homself: Kom, kom, kom; jy kan, nog eenmaal beur; jy’t krag, jy’t krag. Hande tel jou hart uit; maar jy’t krag. Daar’s ’n sug in jou buik, die sug van oorgawe; maar iets anders klop weerbarstig in jou. Iets durender, sterker as bloed: jy, jou ek.
“Christian!” roep hy met die tweede skoot, wat met ’n plofgeluid die agterste passasiersruit laat uiteenspat. “Christian!”
*
Hy is nou effe voor. Hulle jaag oor die donker stuk pad. Die skedonk skuif agter hom in, en by tye vat-vat sy voorbuffer aan die BMW. As een fout gemaak word, sal die twee motors bollemakiesie. Christian se lyf verwag reeds die stamp en die verlies van beheer, die stil halfsekond van vryvlug, dan die verskriklike slag en die knars van glas en yster en die kishou met stof wat dwarrel, grond wat skeur en lywe wat knak en breek en oopbars.
Maar opeens verloor die rotmotor belangstelling. Die jagstraal wat borend op Christian was, doof uit. Die jagwoede is uitgespeel. Hoeveel opgekropte woede en frustrasie, opgebou oor generasies heen, sit nie in so ’n lig nie, sou Christian later aan Christine sê. En toe skielik die einde van die spel. Dalk was die jongman met die rooi bandana se aandagspan te kort vir ’n uitgesponne jag. Of dalk was die prooi nie meer interessant genoeg nie.
Die BMW breek vry en die donker motor, ligte nou weer uitgedoof, word klein in die truspieël.
Iets loop oor Christian se wange – trane! – en sy hande op die stuurwiel, veral die een waaruit die chirurge die pols gesteel het, voel lig en bewerig, asof hulle nie daar is nie. Stukkies glas wat nog in die vensterrame vassit, bibber in die wind. Hy trek sy oë op skrefies teen die wind en die huil en jaag blindelings voort.
Daar is byna geen ander motors op die pad nie. Polisie toe gaan? wonder hy toe hy met die Adam Tas-brug Stellenbosch binnekom. Maar wat sal dit tog help? Hy was al ’n keer tevore, met ’n inbraak, in daardie aanklagkantoor met die verveelde beamptes wat ook geen behoorlike aandagspan had nie. Die prosedure van meer as ’n uur om ’n eenvoudige vorm in te vul. Die onderlinge wete dat niks gedoen sal word nie; die onafwendbaarheid van die kriminele oormag.
Nee, eerder huis toe, na Christine. Terwyl hy opsetlik stadig deur die dorp ry sodat hy bedaard kan tuiskom, ontvang sy sy selfoon-oproep met skrik.
Sy wag in die oprit. Haar hand is teen haar gesig toe sy die BMW sien. Christian klim uit en glasbrokke reën van hom af, val op die plavei. Sy wil hom omhels, maar haar hande gly oor glaskristalle. Sy kom versigtig teen hom staan, en huil. Hy ruik die dampgeur van ontsteltenis wat uit haar hare stoom. Hulle staan in die kopligte. Die enjin sis. Daar was skynbaar ’n derde skoot, wat hy nie gehoor het nie. Dit het die verkoeler deurboor en water ontsnap borrelend.
Christian voel iets agter sy borsbeen fladder. Dis nie Christine se hart nie. Dis binne hom, agter die ritssluiter. Dis ook nie sy hart nie. Dis iets anders wat daar vasgekeer sit; wat moet uit.
Iets met vlerke.