Читать книгу In stede van die liefde - Etienne van Heerden - Страница 8

3

Оглавление

Tartanbaan

Tartan het ’n vaart. Dit bevry die lyf; gee die bene vleuels. Eers die sagte meegee onder die sool, die skietgee; dan die veerkrag.

Só droom Christian kort voor die wakker word. Sy kuite ruk op die laken soos hy om die draai op Coetzenburg stoom. Sy hande – een onder die kussing, die ander op die laken langs sy gesig – is reguit en plat, vingers teenmekaar. Hy kap die wind egalig voor hom weg, en skrik skielik wakker.

Stadig kom hy van Coetzenburg se gras- en sweetgeur terug. Dit is oggend, en die geluide uit sy seun, die veertienjarige Siebert, se kamer is nukkerig.

Christian draai om. Sy uitgestrekte arm val op koue laken. Christine is al op. Eers dink hy dat sy al weg is Groenpunt toe na die uitgrawing, en dan onthou hy: Saterdag. Ja, daar hoor hy dit onder die balkon – sy’s weer van douvoordag met die tuinvurk onrustig aan die por in die geurige akkers om die eikeboomstamme.

Hy druk hom op sy handpalm orent. Skuif drie kussings agter sy blaaie in. Sy hande is stram. Toe hy die vorige aand voor die garagedeur stilgehou het, was sy vingers styf om die gehuurde motor se stuurwiel. Toe die eerste skote uit die rotmotor klap, het sy hande om die stuurwiel gesluit.

Christian kyk na die donkergroen lower van die eikeboom voor die balkon se oop glasdeure. Hy’t skaamteloos ingekoop in die ge­wel en groen van Stellenbosch. Soos baie sakemanne wat hul gesinne uit Johannesburg wou wegkry om huis te kom maak in die Boland terwyl hulle self weekliks heen en weer tussen Kaapstad en Johannesburg pendel. Ná ’n dolle week in Egoli word hy Saterdagoggende lomerig wakker. Die geluide en geure van ’n Bolandse dorp. Die geskarrel van eekhoringpootjies oor bas; die vogtige geur wanneer sproeiers lui hale oor krismisblomme gee. En dikwels, net ’n skeutjie op die wind, die koffie-en-room-geur van koffiewinkels daar in die straatjies met sambrele, sontafels en boekwinkels. Agter die nuwe ingesteldheid op toerisme, verder as die luierende toerbusse om Die Braak en die wandelende stringe Europeërs op die lang sypaadjies, strek die weidsheid van wingerde, die dynserigheid van vroeg­oggendberge. Die majestueuse Pieke, Simonsberg in sy pers glorie; die landgoedere met kelders waar wyn rustig verouder.

’n Helikopter kom flitsend soos ’n naaldekoker van Kaapstad se kant oor. Die son blits op die glaskoepel en Christian kan die loods se donkerbril sien. Draaiend en tollend huiwer die heli in die blou en groen kom mistigheid voor die berge. Dan sak dit agter kantelende wingerde in, en verdwyn.

Die geklapper van die heli se lemme – eens ’n bymotief by die simfoniese orkes van geur en geluid en historie – laat stoot angs soos sooibrand deur Christian se bors. Die vinnige berekening, eers: angina wat as sooibrand presenteer? Maar nee, nee, dis die week in die blink to­ring. Die wind wat loei deur die mond van die parkeergarage toe hy gistermiddag uit die buik van die betonstruktuur uitgery het.

Christine weet tog hy wil haar daar by hom hê wanneer hy ná so ’n week wakker word. Hy wil saam met haar na sy geliefkoosde Leonard Cohen-lied luister. Maar sy hou nie van Cohen se musiek nie. Hy voel homself swaar aan sy heupe, gooi die laken vies van sy onderlyf weg en staan op. Elke kalenderdag het sy inskrywing. Dit is sy lot. Vandag: skolesport op Coetzenburg.

Christian sug. Eintlik wou hy vanoggend vroeg Jonkershoekvallei met die fiets uitgery het. Van sy voordeur tot by die bosboustasie in net oor die twintig minute. Hy moet sy oog op die varksnoet hou; op die ongehoorsame hart, die benoude vuis in sy linkerbors.

Maar die onsportiewe Siebert het ses weke gelede aangekondig dat hy aan die atletiekbyeenkoms gaan deelneem. Mens sana in corpore sano, onthou Christian toe Siebert die nuus meedeel, en onthou ook dat hy ’n jaar of twee gelede ’n skootrekenaar beloof het as Siebert aan georganiseerde sport sou begin deelneem. Siebert se protes dat sy skaatsplankryery ook ’n sportsoort is, het Christian vinnig laat reageer: “Niks wat ná middernag gebeur, kwalifiseer as sport nie – dalk eerder sports.”

En verder gesê: “Ek gee nie om of jy eerste of laaste kom nie. Maar as jy onafgebroke vir ses weke oefen, ten minste vyf keer per week vir meer as ’n uur op die baan, fartlek met tydtoetse, kry jy jou rekenaar. ’n Nuwe Pentium 4 Hewlett Packard, met DVD, Windows XP en dalk ’n CD burner. Met Photoshop en als verder.

“Maar ek wil elke naweek jou oefenrooster sien. Jy skryf jou tye op en wat jy doen. Jy’t goeie bene, maar jou hamstrings moet jy regkry. Kyk na jou vaart. En jou wind. Twee keer ’n week af van die baan. Vat die lang bergpad, hy is twee komma sewe myl. Op jou ouderdom het ek hom vyf maal ’n week gedoen, soggens voor skool.

“En los die bril. Dra jou kontaklense.”

Met die oproep van Christian se skooldae het Siebert – soos altyd – ergerlik begin lyk, sodat Christian moes byvoeg: “As die byeenkoms verby is – en ek sê weer: al kom jy laaste – vat ek jou self na Incredible Connection in Tygervallei en ons kry daai laptop.”

Hy’t omgedraai en weggestap, maar kon nie verhelp nie; hy moes byvoeg: “Gaan kry Sebastian Coe se biografie in die studeerka­mer. Onder C, by die biografieë. Net langs Churchill. Of dalk tussen Chopin en Churchill.”

Sekere plekke, weet Christian uit sy baie reise, dwing ’n bepaalde mitologie aan sy inwoners op. Hy’t op so ’n dorp grootgeword – Grahamstad. Waar die sterk kontingent Engelse inwoners ’n Oxford-in-the-veld-mitologie aan die dorp opgedwing het. Hy onthou uit sy kinderjare hoe sy pa as grootkop in Oos-Kaapse rugby en voorsitter van die Afrikaanse sakekamer op Grahamstad dikwels gepraat het. “Hier tussen die katedrale en die nes van kommuniste by die universiteit moet ons ’n werf oopkap.” Hy sien nog sy pa in sy rugbybaadjie aan die etenstafel. “Ons moet die Engelse wys dat ons hoër kan spring as hulle, beter balbeheer het, slimmer is op skool. Ons is gebore om te wen in Afrika.”

Stellenbosch is ook ’n dorp met ’n eie mitologie. Benewens die bedwelming van ouwêreldse argitektuur, die wynkultuur en ou en deesdae baie nuwe geld, is daar ook die aandrang op die IK, op die verhoog, op die atletiekbaan. Dis ’n dorp wat tegelykertyd versink in ’n dommelende verlede en vorentoe beur, van een blink rekord ná die ander. Die skole se jaarlikse prysuitdelings is ’n viering van die land se slimste kinders. Balletdansers, redenaars, internasionale atlete, violiste. ’n Skare ouers wat verstom sit voor die uitstal van soveel blink prestasies.

Christian is krities oor die dorp se prestasiebewustheid, maar in sy studeerkamer is boeke oor die hurkwegspringtegniek, dybeserings, oor sportsielkunde en die geskiedenis van atletiek naas die biografieë van die wêreld se grootste baanatlete.

Christian hardloop self in die resies.

Sport verskaf metafore vir die sakewêreld; vir die hele lewe, is hy lief om aan Siebert te sê, alhoewel hy terselfdertyd sy tong kan afbyt. Hy’t soveel gesien sedert die dae toe hy hier skoolseun op Stellenbosch was: die lyke wat in putte in Angola met kalk bestrooi word; die treurige plakkerskampe; die maer prostitute onder die bloekombome op pad Kaapse lughawe toe.

Des te meer betrap hy homself dikwels dat hy dink: Siebert moet hom hier inlyf – by die tydelike geloof in die gesonde lyf en die gesonde gees; by die prestasie-wisseltrofee; by die yuppielewe om die koffietafeltjies en die vredige wynroetes.

Daar is te veel, daarbuite, wat in hierdie land aan die opvrot is. Die virusse van geweld en kriminaliteit, van verwaarlosing en korrupsie. Dis ’n stink, massiewe land; ’n genadelose en inspannende plek. Dis ’n land om van weg te vlug. Dis ’n land wat Christian haat en liefhet, soos ’n tiener sy vader.

Laat Siebert eers, as proviand, die basiese dinge hier kry. In Paul Roos-Gimnasium, by die huis, en later aan die universiteit, waar dinge nog klaarblyklik in orde is. Laat hom leer hoe om die lint te breek. Hoe om te presteer. Om met grasie te wen.

Hoe om kampioen te word en te bly. Dan kan hy later uitgaan en homself aan die rumoer toets; hom – soos sy pa – in die chaos inwerp.

Christian gaan af kombuis toe om lemoensap te skink. Dit staan reeds daar met ysblokkies wat teen die glasbeker se rand rinkel en by die tuit saamdrom. Hy gaan staan voor die sitkamervenster en kyk na Christine se boude wat halfmaan terwyl sy by ’n akker hurk. Die sagte buig van haar skouers, die regterarm wat met die vurkie du-du, die linkerhand met die ring wat ’n krul hare agter die linker­oorskulp inveeg, vinnig. Sou sy omkyk: die sjokolade-oë.

Hy voel iets soos spyt in hom roer; hy wil na haar gaan.

Maar hy draai terug kombuis toe. Haar kop laat hom dikwels dink aan ’n netjies opgevoude toutjie wat jy in ’n laai bêre. As jy ’n week later die laai weer ooptrek, het die tou onverklaarbaar ver­knoop.

*

Siebert staan agter hom. Eers die kuggie, dan die seun. Hare wat noukeurig onversorg lyk; slordigheid gekonstrueer. Vir Christian ’n interessante konsep. Die atletiekklere is die nuutste, en die waterbottel wat aan die wys- en middelvinger hang, lyk na ’n stuk toerusting wat ’n ruimtereisiger byderhand sou hou.

“Gaan jy in daardie kniebroek hardloop?”

Christian kan onmiddellik sy eie tong afbyt. Siebert lyk bleek. Hy het nie sy pa se sin vir mededingendheid geërf nie. Hy swaai om. Die kuite is goed gevorm, daar is potensiaal, maar die bene lyk belaglik in die broek wat na Christian se konserwatiewe skatting twee groottes te groot is. “Dis ’n wonder die kind kry geloop in daardie tent,” het hy al per geleentheid aan Christine gesê. “Hy lyk soos ’n hanswors.”

“Wanneer laas het jy na ’n foto van jouself in jou tienerjare ge­kyk?” was Christine se reaksie. “Daardie beeslekkuif en Beach Boy look. En die eina kortbroekie. Was daar nie nog ’n kam in die sokkie ook nie? En ’n potjie Brylcreem in die kas? Onthou jy jou geel bell bottoms?”

“Jy moet iets eet voor ons ry!” roep Christian nou vir Siebert agterna. “Ek hoop jy’t die week gereeld jou pasta ingekry?”

Die deur na die TV-kamer dwar in sy kosyn en die volgende oom­blik dawer MTV daaragter.

Christian kyk op sy horlosie en skakel Avis. “Nee, ek het nie die saak by die polisie aangemeld nie.” Hy krap in sy nek. Sy kop sing; dalk bloeddruk. Moet oppas, die druk van verandering. Deesdae is al konstante vir mense van sy geslag en generasie die sekerheid van voortdurende verandering. Diep intrek; hou. Stadig uit. Stadig.

Gisteraand was dit drie Jamesons en ’n lang, uitputtende gesprek met Christine. En ’n vierde whisky – ’n vinnige, en ’n dubbele – nadat Christine reeds op was kamer toe. Alkohol werk negatief in op sy hartspier. Drie-uur snags word hy wakker met hamerslae in sy bors. Ligte voorspooksels van angs. Die nadors kry hoewe. Donker perde. Hy moet versigtig wees.

Hy was ontstig, want dit was weer Christine en die onvoorspelbare verlede. En tydens die gesprek drie angstige sms’e uit africart.com se kantore oor probleme met die vuurmuur. “Moet ons alewig so in die truspieël kyk?” het hy aan Christine gevra terwyl sy duime oor die selfoon se toetse bons. Hy moet africart.com aan die vorentoe beur hou verby die dotcom-seepbel. Met Suid-Afrikaanse kuns smous in ’n wêreld wat versot is op kurio’s en videobeelde. ’n Kunsmark wat deesdae versadig is aan die Suid-Afrikaanse verhaal – so anders as die jare onmiddellik ná Mandela se vrylating toe als Suid-Afrikaans witwarm was. En die web nuut en wild.

Dan nog Christine en haar verlede wat soos ’n rotmotor agter hulle sit.

Daardie een borende straal.

Siebert staan hom nou en dophou. “Ek hardloop oor ’n uur en moet nog opwarm.”

“Ek kom. Gaan sê vir jou ma ons gaan Coetzenburg toe.”

In die motor is Siebert erg opgewonde oor die verhaal van die rotmotor. “Wow!” sê hy, en kyk met bewonderende oë na sy pa.

Nou is ek ’n bit actor in een van daardie Playstation-speletjies van hom, dink Christian.

En Siebert vertel hom dis ’n inlywingsritueel wat een van die Kaapse bendes gebruik. “Het Pa nie die e-mail gekry wat almal warn teen die nuwe initiation rite nie? Daai e-mail het seker vier keer in my inbox opgepop.” Siebert vertel hoedat ’n nuwe bendelid op een van die Bolandse paaie moet gaan ry met ’n kar sonder ligte. Die eerste motor wat sy ligte vir hom flikker, agtervolg hy en skiet die bestuur­der dood. Maak nie saak wie die bestuurder is nie. Hy is bloot ’n plaasvervanger vir al die bendelede wat al in die stryd gesneuwel het – teen ander bendes, teen tronkbendes, teen die polisie.

Hy kyk na sy pa. “Pa sal moet oppas. Pa moet spam lees. Dis die coolste mails.”

“En net ek weet nie hiervan nie,” sê Christian. Geen wonder jou rekenaar gee so baie moeilikheid nie, wil hy byvoeg. Al die gemors­pos wat jy oopmaak. Waarna kyk jy als? Maar hy laat dit daar. Hulle ry oor die bruggie by die Eersterivier en kyk na die bontspul leerlinge wat vir die byeenkoms opruk.

“Gaan jou maats nie vir jou lag omdat jy aan iets so common soos atletiek deelneem nie?”

Weer eens ’n flater. Siebert spring uit die motor, marsjeer pawiljoene toe sonder om te groet of om te kyk. Christian kan homself skop. Waarom torring hy altyd aan die seun? Die vorige naweek, toe Siebert van ’n partytjie terugkom, het die vraag uit Christian gewip: “Het jy al ’n squeeze?”

Siebert het nukkerig gebly tot die Sondagaand, toe Christian lug­hawe toe moes vertrek. Christine was vies. Sondagoggend het hulle drie bot oor ontbyt gesit in die tuin van Boschendal.

Dalk is daar te veel aan Siebert wat my saai en oud laat voel, dink Christian. Hy lok my uit. Uit bewondering vir sagtewarerowers op die web het Siebert This is a Warez Den op sy slaapkamerdeur geverf, en by Boschendal por hy weer aan sy pa oor die Freenet en gratis webtoegang; Open Source, die web as demokratiese ruimte. Siebert het nie mooi formulerings vir wat hy wil sê nie, maar spuug kort, anargistiese frases oor die skons en geklopte room uit. Dis cool dat die web gratis is.

“Mense soos Pa beroof humanity van sy eerste groot kans op freedom.”

“Kan julle twee manne nie ’n skietstilstand oorweeg nie?” was Christine se versoek daar onder die akkerbome, met die tortelende duiwe wat lui in die sonnetjie baai. “En die internet net vir ’n dág uitlos nie?”

Christian bly in die motor op die rivierwal sit. Siebert se aanvalle teen Christian se houding oor die web roep by hom sy eindelose gevegte met die geeks wat in Johannesburg vir hom werk, op. Hy sug terwyl die rivier rustig voor hom verbykabbel. Die internet en web het so vinnig en onvoorspelbaar gegroei dat hy nie kon byhou nie. So sê daardie Tracey met die tongring. Africart.com is gestig in die jare toe die web nog in sy idealistiese kinderskoene was. Groot drome van virtuele gemeenskappe wat die egte wêreld – die meat world – sou vervang. Dit was ’n utopiese ruimte van protes en kontrakultuur. Gou het bemarkers egter begin oorneem; grootkapitaal het die web letterlik gekoop nes eiendomsontwikkelaars lappe aarde vir geldgewin aanskaf.

Met sy geeks baklei Christian, ridder van die utopiese web, oor die groot stryd tussen inhoud en sakegerigte interaktiwiteit; kontra­kultuur en die mark se eise. Terwyl hy die wêreldwye debat oor kuns graag volg en besin oor africart.com se rol om Afrikakuns te bevorder, het hulle hul neuse teen die grond. Honger. Geldmaak.

Hy’t probeer kompenseer deur byderwetse werkspasies te skep, ontslae te raak van die omgekeerde deure op bokkies waarmee africart.com begin het. Nou neste van aktiwiteit, rekenaars wat in trosse gerangskik is, glasmure; almal sit vir mekaar en kyk; die jongmense hou daarvan. Die vibe is deursigtig, sê hulle. Geen baas wat agter ’n muur knoei oor jou nie. Die kantoormure wemel van kontemporêre kuns; gereeld word die mees opwindende kunstenaars in die omgewing genooi om hul werke uit te stal daar teen africart.com se mure – of installasies in die voorportaal te bou.

Elke keer wanneer Christian ná ’n reis weer die kantore binnekom – so voel dit vir hom – is daar ’n ander rangskikking van skroot en afvalplastiek voor hom wanneer die hyserdeur oopgaan.

Maar die jongklomp se oë blink en hy laat begaan. Hy gaan sit dan by sy lessenaar en tik ’n e-pos aan sy skildervriend in Antwerpen, beloof ’n besoek. Hy fynkam die web vir naderende konferensies oor die kunshandel; hy skakel ou vriende in die akademie.

Ek vergrys, dink Christian, en skud sy poniestert. Ek verlang na ’n koffiewinkel in Wene; die vlae van Fifth Avenue; die gragte van Amsterdam.

Waar hy in die motor sit, snuif hy en verbeel hom hy sien die stertflits van ’n forel. Net hier, daar teen die water, het hy en Christine as studente kom sit en vry. Warm somersmiddae met die reuk van kappertjies in blom, rivierwal-kikoejoe en spoelklip. Die geur van Christine se parfuum en haar begeerte na hom.

Hy vryf oor sy gesig. ’n Omgekeerde supermarktrollie met Checkers triomfantlik daarop geskrywe, lê nou waar hy en Christine gesit het. Deesdae slaap bergies hier. Die munisipaliteit is skynbaar magteloos om die haweloses op die sandwalletjies waar die stroom draaie maak, weg te dryf. Hul rommel verdring die naaldekokers en die krappe. Hul gevloek op mekaar doof die kaats van middagson op die water uit.

Soggens, wanneer hy verbyfiets, dwaal die rivierslapers koponderste­bo hier rond. Die dorp slaap nog, maar die verstotenes is op, verdwaas deur die vorige nag se spiritus, dagga of onderlinge gevegte.

Christian sug. Dit is ’n ander wêreld as die een toe hy en Christine jare gelede tydens ’n interskoolbyeenkoms ontmoet het, skaars honderd meter van waar hy nou sit. Dit is 1972. Christian, in die maroen frokkie van Paul Roos-Gimnasium se atletiekspan, kyk na die meisie met die mooi bene en arms en weemoedige oë en vra: “Waar kom jy vandaan?” Sy’t weggekyk, en in haar stilte, en in daardie oomblikke, is hul lot gesmee. Sy’t haar roomys met ’n mooigevormde pienk tong gelek. Vroue se tonge was altyd vir Christian belangrik. Vandat hy in hulle begin belangstel het, hou hy hul tonge dop. Leun hy selfs soms tydens ’n gesprek ongeskik nader om die tekstuur, kleur en vorm van ’n vrou se tong te bekyk. Sy voorkeur gaan uit na smal, pienk tonge wat gesond lyk en klaarblyklik saam met die tande geborsel word.

Sy’t nie ’n antwoord gegee nie, al het hy dieselfde dag weer gevra. Dit sou ’n verhouding word wat berus op die oopmaak van deur ná deur.

Eers later, baie later, sou sy sê: “Ek dink ek kom van Matjiesfontein.”

“Met Christine probeer jy op water loop,” sou Christian ’n keer oor die selfoon aan een van haar terapeute laat val.

*

Dit was ’n mooi somersdag, daardie dag toe hy sy rekord opgestel het. Op die pawiljoene word liedere gesing wat hy nou weer, hier waar hy in sy motor sit en oor sy neus vryf, hoor. Min het in die afgelope drie dekades getaan aan die sportmalheid van die Stellenbosse hoërskole. Baniere is destyds geswaai, nes nou.

Maar in daardie dae, as jy wit en jonk was tydens die republiek se mees selfversekerde era, was alles moontlik; selfs waarskynlik. Van waar hulle destyds op die pawiljoen gesit het, kon hulle die duikers by Coetzenburg-swembad sien oefen. Van die hoogste duik­plank glip sierduikers se gladde lywe die water in. Die veer van die duikplank maak ’n klapgeluid wat tussen liedere en afkondigings gehoor kan word. Hier voor sit die wit kinders met hul rosette en baniere, dan is daar die baan met die beamptes met hul wit hoede, met fluitjies en meetbande; die maroenrooi, splinternuwe tartanbaan. Agter lê die uitgestrekte rugbyvelde en die swembad, met die tollende, perfekte lywe. En heel agter, die eerste blou gewelf van die Bolandse berge.

Die Eersterivier wat digby die tartan verbyvloei, het water diep uit die Jonkershoekberge getrek. Jy kon die water ruik wanneer die wind draai. Mense het graag gesê: dis die vinnigste rivier in die Suidelike Halfrond. Of dit waar is, weet Christian nie. Dit was destyds die tyd van boikotte en isolasie. Suid-Afrikaanse atlete kon nie internasionaal meeding nie. Apartheid sou kort daarna tot misdaad teen die mensdom verklaar word. Die hoogste louere was in te oes hier, op Coetzenburg se tartanbaan, of op Pretoria se Pilditch. Eie mitologie is geskep. “Waar Stellenbosch vandag is, is Suid-Afrika môre,” was die universiteit se slagspreuk. Dalk is die storie van die rivier se spoed waar; dalk nie.

Dit was die wêreld wat Christian en Christine sou beërwe. ’n Land van leuens.

*

Nou staan die jong Christian op daardie volmaakte somersdag in 1972 uitgelate voor Christine. Sy bolyf is terselfdertyd slank en gespierd. Hy’t die postuur van iemand wat pas uit die wegspringblokke kom. Daar is ’n vorentoe kromming, die gesig effe af en die oë onder geligte wenkbroue vorentoe gerig. Sy oë lyk altyd of hulle iewers ver agter iemand fokus. Die een arm voor die ander, voltyds vasgevang in die kwartsekond nadat hy uit die blokke gekom het. Die lint in sy oë; die vierhonderd voor hom.

“En wat jy nie die arme Siebert in die proses aandoen nie!” hoor Christian dikwels by Christine.

Wat sy natuurlik eintlik wil sê, is: Wat jy nie aan mý doen nie. En (terwyl sy in die truspieël kyk): Wat jou pa aan julle gedoen het; aan jou en jou ma.

Wanneer Christian terugdink aan die deining skoolkinders op die pawiljoen, romantiseer hy. Hy’s ’n jong ribbok, skouers gekrom oor eie krag soos hy daar in die blokke insak. Hardloopbene met mooi kuite en lang voeë waar die dyspiere heg. Dun enkels. Die somer het sy vel goed gedoen. Ná die opwarmingsoefeninge sit ’n dun lagie sweet oor sy lyf. Hy glinster, en hy weet dit.

Toe die skoot klap, is hy eerste uit die blokke. Ritme dra hom. Hy’t al ander baannommers probeer, maar in die vierhonderd is daar ’n noodwendigheid. Sy lyf herken die afstand. Hy’s hiervoor gebore, soos sommige digters vir die sonnet en party prosaïste vir die kraginspanning van die kortverhaal. So’t sy afrigter, wat ook Latynonderwyser was, gesê.

Tartan is pas geïnstalleer en dis die eerste skolebyeenkoms op die veerkragtige tekstuur. Dis die era van wit atlete wat die internasionale arena verbied is en voor tuisskares meeding: Danie Malan en Dicky Broberg in die agthonderd, March Fiasconaro in die vierhonderd. Andries Krogman se koppige skouertjies werk die lang afstande en groot John van Reenen werp die diskus met minagting.

Dis Christian se helde en hy vlieg nou self wanneer hy uit die skuinslê van die eerste draai kom en hom op die gelyktrek maan om sy kragte te spaar en takties te hardloop. Hy’t ’n pawiljoenvol ondersteuners, want hy’s die homeboy. Die ander skole se atlete het in klein bussies opgedaag, met min ondersteuning. Selfs die diens­onderwysers in hul wit jasse voel ’n besondere spanning in die lug aan. Die hoogspring en spiesgooi word ’n wyle gestaak terwyl almal Paul Roos se topatleet dophou. Rekords – selfs op skolevlak – is vir die klein, geïsoleerde republiek aan die suidpunt van Afrika belang­rik. Iedereen hou asem op.

Hy hardloop uit die skande toe hy ’n kwartier gelede, net voor opwarmingsoefeninge, skielik vir Christine gegryp en haar verby haar roomys probeer soen het. Met sy warm, ongeskikte tong het hy deur die roomys probeer stoei. Sy’t hom vervaard weggestamp en vies oor haar mond gevee, ’n streep roomys op die agterkant van haar hand.

“Jou vark?!” Dit was meer verraste vraag as uitroep, en sy sou hom dit in die jare wat kom meermale toeroep; Christine, sprakeloos voor sy opportunisme en giere. Sy’t haar roomyskeël op die gras neergegooi en weggehardloop pawiljoen toe: mooi, vol kuite, ’n lang rug en swaannek, poniestert wat op die skouers wip.

Christian hol weg van sy oortreding. Sy tong het haar deur die roomys geproe. Die smaak was reg. Sy ondersteuners is soos die wind in sy rug. Hy hardloop met dissipline; daardie eerste uitbundige uitvaart vergete. Sy redding is dat hy meestal weet hoe om hom op die baan te beteuel. Hy weet sy’s daar, die meisie met die souterige smaak agter die soet. Hy voel haar oë op hom en hy weet sy’t hom ook geproe.

Hy’s vertroud met die baan en die omgewing: die presiese ligging van bome en berge en pawiljoene op die periferie. Dinge wat hy nie sien nie, maar hom anker. Toe-oog het hy hom die wedloop die vorige aand lê en indink: die oor en oor indink van wen. Soos die sekondewyster die horlosie se gesig ken, só ken Christian hierdie baan.

Met karatekappe vee sy hande die windweerstand voor hom weg.

En Christine sien haar toekomstige man die lint breek en die dobbelsteentjie wat sommige mense die lewe noem, gaan lê op daardie oomblik stil. Tot net voor hierdie oomblik toe hy deur die lint flits, het die steentjie gerol en gerol, deur sewentien jare heen, jare van afwagting. En toe is Christian daar, soos familie, so bekend was hy onmiddellik aan haar; so onafwendbaar. Deur die driewieljare rol die dobbelsteen, deur die verlate skoolgronde. Deur die jare op hoërskool rol die steentjie, jare van nêrens wees en verlang.

“Christian,” sê sy aan haar terapeut (vertel sy eendag agterna aan hom). “Opeens was Christian daar. Altyd aan die hardloop, altyd aan die wen. Hy’t eenvoudig sy tong in my mond gesteek en is nooit weer uit my lewe uit nie.”

Die terapeut het nie gereageer nie, en ná ’n ruk het Christine die stilte verbreek. “Christian, net so naamloos soos ek.”

Toe sy later hierdie toneel aan Christian beskryf het, het sy haar hand op syne gesit. Maar hy’t sy hand weggeskuif. Hy’t nie daarvan gehou dat sy hom met haar terapeut bespreek nie.

*

In sy motor teen die rivier sug Christian. Hy moet aanstaltes maak. Om hom arriveer ander Stellenbosse ouers. BMW’s en viertrek-Jeeps en Ravs staan met hul neuse in die eikelower gedruk. Vroue se blonde koppe en gymversorgde lywe wip uit. Jy sal nie skat hulle is oor die veertig nie. Naweke ry sommige van hulle tot so ver as Gordonsbaai en terug per fiets. Die pa’s het kortmouhemde aan en gesels oor selfone.

Christian kug. Al die keurigheid. ’n Mens is deel daarvan, al besef jy dit nie. Hy kyk op sy horlosie en besluit om tog nog ’n bietjie te wag. Laat hierdie mense net eers hul weg na die pawiljoen vind, die skoolhoof se hand druk en gaan sit om hul kampioenkinders die volgende beker te sien inpalm. Hy sit sy donkerbril op en sak terug in sy sitplek. Snuif.

Kalm word. Die rivier kyk. Dink aan die water; die sandbankie dertig jaar gelede; die kappertjiegeur. Stadig kom die welbehae van ou herinneringe weer by hom op. Hoe anders, dink hy, hoe anders as wat die geval is met vandag se kinders met hul vrye gewoontes, het hy en Christine mekaar nie in daardie dae die hof gemaak nie!

In tye van onderdrukking is die oog wat dophou oral. Die erotiek was gedemp en aarselend. Ingehoue die vryery. Elke skuif van die handpalm oor vlees is ’n heerlike oortreding. Christine sug teen sy oor. Haar “mag nie” is die groot aanhitser.

Skielik besef Christian dat dit stil om hom geword het. Al die ouers is al pawiljoen toe. Die Mercedes langsaan se bakwerk tik soos dit begin uitsit. Hy sluit die motor en stap na die draaihekke wat pawiljoen toe lei. Siebert se item behoort oor ’n kwartier aan bod te kom. Hy ruik die geure van ’n skole-atletiekbyeenkoms. Room­ys en sweet, son op tartan en die reuk van Coetzenburg se kikoejoe as dit op ’n hete somersoggend onder lui sproeiers lê.

Hy hoop nie hy loop hom vas in die skoolhoof of een van die onderwysers nie. Siebert is nie ’n baie gewilde leerder nie, en die onderwysers het altyd vraagtekens in die oë wanneer Christian in hulle vasloop. Hy benader die pawiljoen van agter. Jy moet hier af met trappe en dan weer op om by die sitplekke uit te kom. Onder die pawiljoen is die reuk van sweet, kaal voete, ontsmettingsmiddels en urine sterk by die waskamerdeure. Bo Christian dreun die pawiljoe­ne. ’n Hand vat oor sy bors en keel. Hy gaan staan ’n oomblik stil, alleen hier in die kelder. Miskien is dit die opgedamde benoudheid hier onder die beton. Dalk die herinnering aan sy onlangse gesprek met Siebert, toe die seun oor Christian en Christine gesê het: “Wat soek julle by mekaar? Julle fight deesdae onophoudelik.” En Siebert gee dit op as rede vir sy eie nukkerigheid en sy nagte op die www.

“Jy help nie juis om dinge makliker te maak nie. Partykeer dink ek jy rol aspris ’n handgranaat tussen ons in sodra dit begin beter gaan,” kap Christian terug en Siebert het sy kop by sy skouers inge­trek, bitter en kwaad. Die klop-klop van die skaatsplank snags – dis die klank van die afgelope somersnagte op Stellenbosch. Die eggo van geïrriteerde, gefrustreerde wieletjies, en Siebert se kuite wat die stil nagstraat werk.

“Ek wens hy kry nou ’n meisie. ’n Warm vry sal al die gif uit hom trek,” het Christian ’n keer aan Christine gesê.

Bo Christian dawer dit. Hakskene klapper op beton, hande klap, stemme gil, lywe wieg. Sy hart dawer saam. Hy skud sy kop en kyk na die sementtrappies voor hom. Roomysstokkies lê daar gestrooi, kougom in variasies van ligpienk tot vaalgetrap, en sigaretstompies ’n dag of wat tevore in die hoek ingevee deur ’n werker wat nooit kom klaarmaak het nie. ’n Groen hoedjie; ’n roset. Hy begin trappe klim en kyk op. ’n Gleuf blou lug, en die swaaiende, blink jurk van ’n spandirigent met opgehewe rooi wange. Elke matriekklas het sy entertainer; sy jolly boy. Beleef waarskynlik sy lewenshoogtepunt hier met gekke liedjies met militaristiese ondertone. Gaan waarskynlik vind dat die lewe toenemend anderpad kyk.

Christian klim by sy gedagtes verby en stoot sy kop die gedruis in. Die skool is in kleurespanne verdeel. Baniere wapper in die wind. Honderde kele is gesper na atlete wat ooplê op die tartanbaan. Christian sien gladde vel en blink knieë. Op die veld staan die baanbeamptes wat soos roomysverkopers lyk, en agter die agterste ooppawiljoen, op B-veld, staan die reuse tent met die wapperende ANC-vlae.

Die regerende party hou in hierdie dae ’n dinkskrum op Coetzenburg. Afrika val die Boland binne. ’n Week gelede het die dorpskoe­rant, Eikestadnuus, inwoners gevra om vriendelik te wees met die mense wat van heinde en verre Stellenbosch gaan binnestroom.

Behandel hulle net so vriendelik soos wat u toeriste of enige ander besoeker sal verwelkom. Die burgemeester se woorde.

Christian baan sy weg opwaarts en gaan sit heel agter, agter die groen span. Besef ná ’n rukkie hy’t ’n fout gemaak en moet weer af en óm, om agter Siebert se blou span te gaan sit. Hy hoop nie Siebert het die vergissing gesien nie. Klein lontjies laat die opslagplek ontplof.

Miskien sal hy minder sigbaar wees as hy ’n blou papierhoedjie opsit. Voor hom wieg die see sonbruin skouers. Hy tel ’n weggegooide hoedjie op en trek dit oor sy kop. Hy kyk na die vredige velde van Coetzenburg agter die gek linte en tierlantyntjies waarmee die spanne hulself uitrus.

Weet hierdie bedorwe kinders – oorstelp met besittings, geld en hul eie talente – wat op hulle wag? So wonder Christian, die kam­pioen van ’n vergete gister.

*

1972. Skolekampioen, vierhonderd.

Die meisies merk hom op. Woensdagmiddae as die koshuisseuns die dorp mag invaar, sit hy in die Wimpy Bar in Pleinstraat met ’n bord slaptjips en ’n Fanta.

John Lennon se “Imagine” speel oor die luidsprekers. Die SAUK mag dit nie oor die radio speel nie, maar die Wimpy se bestuurder draai die 7 single hier vir die dorp se koshuiskinders. Ook Percy Sledge, die swart sanger (“Come softly to me”). En Neil Diamond met die lang hare (“Red, red wine”).

Christian sit lekker in sy lyf daar. Sy hande is kort-kort oor sy bobene. Die lang, harde spiere troos hom. Oorkant in die hoek sit ’n tafel Bloemhof-meisies. Die twee tafels ignoreer mekaar. Verskillende planete, maar die swaartekrag van hormone hou hulle in ge­spanne ewewig.

Gerugte sypel deur – en een van Christian se maats sit hom dit nou weer en vertel – dat daar op Pniel, die sendingdorpie anderkant die Helshoogtepas op pad na Franschhoek, ’n matriekseun is wat glo saam met sy atletiekonderwyser beter tye oor die vierhonderd aan die opstel is as Christian.

“Ag, kak,” sê Christian en klop sy voet op ritme van “Jeremiah was a bullfrog” teen die tafelpoot. “Op ’n grondbaan!”

Dis tye van segregasie. In Pniel woon net bruin mense. Soggens bring die bus hulle oor die berg om in Stellenbosch te kom werk; in wonings as huishulpe, in winkels as skoonmakers; in tuine as tuinwerkers. Swart en wit speel sport op aparte bane. Word apart kampioene. Christian en die bruin atleet sal nooit op die baan ontmoet nie.

“ ’n Kleurlingoutjie! Kak.” Christian lag.

Sy pa het ook in die weeklikse brief uit Grahamstad aan hom geskryf: “Die Kleurlinge het wind. Hul voorgeslagte kon dae deur draf agter ’n gekweste bok aan. Maar hulle’t nie spoed nie. Hy sal jou dalk klop in die duisend-vyfhonderd. Maar jy’t die bene vir die vierhonderd. Vergeet nou van hom en fokus op die kampioenskap.”

Christian vryf oor sy bobene. Wanneer hy die strooitjie hou en sy gesig na sy Fanta bring, ruik sy hand na Deep Heat en draadtrek en tamatiesous. Sy maats weet dit nie, maar hy bekommer hom, en lê saans en kyk na die atletiekbekers by sy koshuisbed.

Sy afrigter vertel hom meer. Hy’t die bruin onderwyser van Pniel toevallig ontmoet by die petrolpompe. Die man het na hom gekom en gesê: “U is mos Paul Roos se afrigter?” En hom vertel. Die mannetjie is wêreldklas. Die Sendingkerk probeer nou vir hom ’n sportbeurs kry Amerika toe.

“Daai Boesmantjie hol glo soos die wind,” sê meneer Van Rooyen, wat graag oor antieke Rome en gladiatore praat.

Christian krom sy bolyf. Hy’t sy eerste brief aan Christine geskryf, en daarin gevra: “Hou jy van Percy Sledge? Hier by die skool is ons nou net klaar met Macbeth. Ek het nogal gehou van die storie. Ons skool gaan dit by Maynardville kyk. Gaan julle ook? Skryf terug.”

Hy sak agter sy skouers in. Hy kyk op. Voor lê die eerste draai.

*

Een middag trap hy met sy fiets die Helshoogtepas op. Dis ’n helder, oop dag, en sy bene kry ’n tydsame, afgemete ritme teen die pas uit. Christian het pas gehoor van endorfiene, wat die brein met ritmiese oefening afskei. Hy is verslaaf aan beweging, besluit hy, geboë oor die stang van sy fiets. Die stadige, verbete verbybeweeg van bloekomboomstamme links en Botmaskop wat stelselmatig uit sig skuif.

Soms toeter ’n motor aanmoediging, maar meestal is hy alleen, met die skril sonbesies en sy eie sweetgeur. Hy is sewentien, en verlief op homself. Hierdie seun van Pniel staan in die weg van Christian se verhouding met sy eie lyf. Dit kan nie.

Hy hoef hom nie oor gevaar op die eensaam bergpas te bekommer nie; dis drie dekades voordat Bolandse koerante berigte sal dra oor fietsryers wat hier of by Stellenbosch se swart woonbuurt, Kayamandi, van hul fietse en selfone beroof word en soms ’n messteek op die koop toe kry. Uitry in bondels van drie ryers of meer sou eers later nodig word, so vinnig moontlik verby daardie met kinderte­keninge versierde townshipmuur waaragter die kapers skuil.

Christian trap met ’n bors wat diep teue trek. Uiteindelik breek hy bo uit, met bene wat pyn en hart wat hoog skop. Voor hom, glimmend in die son, lê Simonsberg. Wingerde strek teen die hange uit. Die vallei gee mee voor hom, tot in die newels van mistige afstand, en die teerpad gly singend onder sy wiele in. Die wind glip oor sy rug en deur sy hare. “Joeiii!” gil Christian afdraand en wanneer hy onder by Kylemore deur die leegte is en weer vars voel, is hy tevrede dat sy herstelvermoë goed is. Dis die toets vir fiksheid.

Hy bons oor die nou paadjie Pniel toe, en vrugtevragmotors skuur rakelings by sy regterskouer verby. Links strek die beboste hang met die geur van dennebome en regs, onder in die leegte, flikker die rivier­water met sy nat boomwortels, rivierklip en palmiet, en oop sandbanke waar ’n reier wei.

Koel slaan die riviergeur teen sy regtersy op, en dan is hy by Pniel se begraafplaas met die bossies vars blomme op elke graf verby. Die huisies het outydse stoepe. Dogtertjies met bobby socks speel in die strate, en by die algemene handelaar staan ’n man in ’n voorskoot en kyk nuuskierig na die wit kind wat hier ingery kom. Hy hou die seun dop wat opry tot by die groot kerk wat oor die dorp uitkyk en op die trappe gaan sit met sy fiets wat langs hom lê. Die kind het atletiekklere aan, Paul Roos s’n. Sou hy nie weet dis ’n bruin dorp nie?

Die seun sit daar, met ’n onrustigheid in hom. Hy ruik die vel aan sy boarm, soos hy altyd maak wanneer hy troos soek. Die geur van Deep Heat stoom uit sy warm spiere op. Hy wag, en die dorp gaan sy gang. Hy sal iemand moet vra. Daar by die handelaar gaan mense in en uit, en elkeen wat na buite kom, staan eers ’n rukkie en opkyk na die kerk se trappe. Hy weet nie hoe om sy vraag te formuleer nie. Hy voel soos ’n oortreder. Asof hy die mense kom beloer.

Wat sou sy pa sê as hy hom nou hier sien? Vir sy pa is daar geen saak met die bruin atleet nie. Hy is buite die gesigsveld. “Die politiek sorg vir die Kleurlinge,” het hy oor die foon gesê. “Laat hulle teen hulself meeding. Leer julle dit nie in daardie duur skool nie?”

In sy pa se gesprekke met hom is daar onderdrukte frustrasie. Stoom onder druk. Atletiek is vir hom die tweede prys. Hy’t Christian as vleuel gesien in die sterkste skolespan in die WP. Rugby is die Afrikaner se sport. Atletiek het iets Engels daaraan.

Wanneer Christian om die vierhonderd se laaste draai kom, verbeel hy hom dikwels dat hy uit die hoek van sy oog sy pa in sy rugbybaadjie sien staan in die skaduwees van die pawiljoen; eenkant, alleen.

Christian klap met sy vuiste teen sy bobeenspiere. Hy is aan die afkoel. Miskien moet hy net vra: waar is die skool? Maar dan sal daar sekerlik ’n teenvraag kom. “Wie soek kleinbaas?” Moet hy dan maar net inry daar by die nou straatjies waar die ou mense op stoepe sit en hoenders pik-pik om huise? Verby al die voordeure wat oopstaan?

Christian sien nie kans nie. Daar is ’n skeiding wat diep en volkome loop. Hy trap die dorpie uit. Terug, stadig en afgetrokke. Langsaam klim hy weer die pas uit, en gly ingedagte aan die ander kant af, deur die swaaie van die pad, met die loom nagevolg van inspanning in sy lyf.

Dit is laatmiddag. In die verte lê Tafelberg in rosige dynserigheid.

*

In die skoolgange, in die druk beweeg van klasse, hoor hy dit in die verbygaan: “Syster van Pniel.”

Hy kyk vinnig oor sy skouer, want gepaard met dié frase was daar ’n ander stem: “Die vierhonderd se beste skoletyd.”

Hy is op skool omring van jaloerses – iets wat hy sy lewe lank sal moet verduur. En nou is dit veral die stilte oor die bruin seun wat die graad van jaloesie aandui. Die maats wat vroeër met hom oor die ander atleet gepraat het, is deesdae stil. Dalk is dit oor die implikasie wat iedereen tref: swart teen wit, op dieselfde atletiekbaan.

Ek wil teen hom hardloop, sou Christian aan sy onderwyser, die kenner van klassieke beskawings, kon sê. Wat die antwoord sal wees, weet Christian nie. Hy is net seker dat dit in die buurt van ongeloof en verontwaardiging sal val.

Die volgende Sondagmiddag trap hy weer die pas uit. Dis wat hom Christian maak. Hy gaan nie opgee nie. Die Suidooster druk van agter, en dra hom warm en onrustig die pas oor. Koue sweet lê oor Christian se lyf. Hy’t ’n klein rugsakkie op sy rug. ’n Bottel water, opgerolde tameletjie, ’n paar glukosepille, sonbrandmiddel, stophorlosie. Deep Heat-buisie. Sweetband. ’n Skoon frokkie.

Sy hart klop vinnig toe hy Pniel binnery. Hy swenk beslis by ’n straatjie in. Hoenders nael voor hom weg. Hy hou by ’n vrou stil en vra dadelik: “Waar is die plek waar die skoolkinders atletiek oefen?”

Sy beduie hier af, daar by die perskeboordjie verby, afdraand, oppas vir die duwweltjies en die fietswiele, dan links tussen die bome deur, daar’s die oop veldjie wat die boer vir die gemeenskap gegee het.

Christian staan en kyk na die ruwe grondbaan en die laerskoolkinders wat op die gras sokker speel. Die voetspore op die baan – watter is Syster s’n? Hy gaan sit eenkant onder die bome en die sokkerspel ontaard in ’n konsert. Die vreemdheid om ’n wit mens hier te sien, en om deur hom dopgehou te word, laat die kinders gillend allerlei akkels uithaal. Dit val en doen handstande en wawiele en skop kamma mis.

Hy draai van hulle weg. Die wind het byna gaan lê, en son sypel deur die blare. Hy hoor water oor klippe murmel, en baie ver weg motors op die verbypad.

Skielik is hy daar. ’n Hardloper. Jy sien dit in die tred en die rug. Die een hand roer onrustig teen die dy. Hy’t sy oog op die ligte windjie. Die kinders spaander uitmekaar en Christian sak in die gras weg. Die seun het hom nog nie gesien nie. Christian hou hom dop. Die dun, besliste kop. Rooi broek. Ligte, seningrige arms. Nie baie gewig aan die bolyf nie, niks om hom terug te hou nie. Hy’s kleiner as Christian. Goeie bene, lank in die dy; dun enkels. Die son skyn koper oor sy vel en druppeltjies pêrel teen sy slape. Hy’t al opgewarm, dalk gedraf tot hier, en stroop sy T-hemp af. Oor sy rug, van links onder die ribbe tot hoog teen die regterskouer, lê ’n haal; ’n glinsterende litteken.

Eers later jare sou Christian besef dat daardie haal met eerste oogopslag vir hom die sweephaal was wat Stanley Syster gedryf het. En nog later sou hy besef dat hy ook so ’n haal oor die rug het. Wie dit aan hom gegee het, weet hy nie. In sy geval is dit onsigbaar, maar dis die merk van die werkverslaafde, die uithaler. Hy weet net nou, daar onder die bome, dat hy Stanley Syster verstaan. Hulle hardloop dieselfde resies.

Terwyl Christian hom ongesiens dophou, begin Stanley deur sy oefenrondtes gaan. Eers ’n lui draf, met losskud van skouers en hande, die kop wat draai. Iemand wat tuiskom in sy eie lyf, en hom instel op die baan en die omgewing. By die reuk van grond en kikoejoe en verrottende blare, by die windjie en die blou dag.

Dan strekoefeninge, hopeloos verkeerd gedoen; gevaarlik, selfs, vir die spiere. Fartlek-oefeninge. Verrassende vaart. Mens sal hom moet dophou van die tweehonderdmerk af. Dan, uiteindelik, die eerste insak by die wegspringplek waar die grond al klipperig ge­trap is. By die wit kalkklip in die gras. Stanley skiet weg asof hy uit blokke kom, en hy hol asof hy die duurste skoene aanhet. Die kaalvoete vreet gruis en klein stoffies hang by elke voetspoor. Papnat die lyf, die haal oor die rug glinster meer met elke tree, asof dit iedere keer ’n nuwe sweepslag kry.

Ná die rondte draf hy lossies verder, die asem wat nou stoot, die maagspiere wat werk vir die longe. Hy skud sy kop om sy nekspiere los te kry, en skiet dan opnuut weg. Weer en weer om die baan, ’n verbetenheid wat Christian herken as sy eie.

Later draai Christian saggies op sy rug. Die lang gras vou oor hom. Daar lê hy en luister na die hale wat spoed opbou en bedaar, die sleepvoete soos Stanley sy lyf ná elke rondte losskud; dan weer die dowwe plof soos van geweerskote.

Hy wil sy hande oor sy ore sit. Skaamte oorweldig hom.

*

Daarna is Christian nooit weer alleen op die tartan van Coetzenburg nie. Die skaduwee wat aan sy lyf hel, se naam is Syster. Wanneer hy laatmiddag om die boonste draai kom en die lae middagson skuins oor sy skouer val en sy pompende skaduwee van agter by hom verbyskuif en voor hom uithardloop, maak hy sy oë toe en haal alles uit.

Ook snags, in sy koshuisbed, maak hy sy oë toe.

Ek móét teen hom hardloop. Is dit sonde, Vader, om die beste te wil wees? Die beste tussen ál die ander, op een en dieselfde baan?

*

Sy bors is oop, oper as ooit, toe hy teen die einde van die atletiekseisoen Helshoogte weer uitry. Sy bene voel die bult skaars. Hy vlieg oor die berg se rug en suis die groen kom van Banhoekvallei in. Wingerde, werkershuise en telefoonpale blits by hom verby. Jillende kinders dans op ’n damwal en wuif na hom.

Dis ’n windstil dag, en hy’t alles gepak: sy waterbottel, twee stukke sjokolade, vrugte wat hy by die huishoudster van Prima Novakoshuis afgebedel het. Hy swaai die straatjie in, vind sy weg versigtig deur die duwweltjieranke wat oor die grondpad oopwaaier, en stoot sy fiets onder ’n groot eikeboom se takke in.

Hy wag, opsigtelik in die son, in die middel van die baan. Later begin hy strekoefeninge doen. Hy dink: ek het die baan nie vooraf getoets nie. Hy sal ’n voordeel hê. Ek moet oppas vir die boonste draai. Daar kon ek sy voete hoor gly – die sand is los daar. Nie neerslaat nie. Die kuite nou voorberei vir die vreemde oppervlak. Goed instel op die ongelykte. Jy kan hier ’n spier rek. Binnebaan probeer kry wanneer Syster kom. Nee, vat eerder buitebaan; dis die moeilikste. Klop hom só dat wen waarlik wen is.

Hy gaan sit en wag. Die bedompige grasreuk laat hom aan Christine dink. Hy’t haar by Maynardville gesien. Paul Roos, onstuimig ná die uur se busrit Kaapstad toe, het in ’n blok gesit, en toe die blok langsaan deur ’n Kaapse meisieskool gevul word, stelselmatig ry vir ry, met skaam meisies wat voor die maroen vierkant seuns moet verbytou, het hy regop gesit. Dáár!

Sy’t sy oog gevang, gebloos. ’n Ligte kopknikkie. “Jammer vir die soenery,” het een van sy briewe gelui. “Ek was opgewerk vir my item. Ek raak so voor ek moet hardloop. Ek verloor kop. Jammer. Vergewe jy my?”

Pouse het hy haar bygeloop nog voor sy behoorlik uit haar sitplek was. Onder die bome van die opelugteater-tuine het hulle gaan stap, tyd was min.

“Kan ek vir jou kom kuier? Ek kan met die trein kom?”

“Nee!” Sy was byna verskrik.

“Maar hoe dan?”

Sy’t haar weggehaas tussen die mense deur: tantes met kniekom­bersies onder die arm, duur juwele; mans in tweedbaadjies en hande agter die rug, soos prins Philip. Oral word die stuk bespreek. Christian soek haar tussen die mense, op en af vleg hy deur die paadjies en oor grasperke, en toe hy sit, net toe die ligte uitdoof, en omkyk, is haar sitplek leeg.

Hy wil opspring, maar die “Christian!” van meneer Van Rooyen druk hom terug in sy sitplek. ’n Akteur is reeds op die verhoog, en Christian sit binnensmonds en swets. Hy kan haar ook nie bel nie; hy weet niks van haar nie. Net briewe laat sy toe. Al wat hy reeds weet, is hoe haar roomysmond proe. Dis al.

Hy droom: hy plaas haar in Bloemhof se koshuis, net ’n entjie van Paul Roos s’n. Hulle gaan saam fliek op ’n Saterdagmiddag. Haar skouer skuur liggies teen syne. Daar is egter, selfs in die gedroomde toneel, iets wat bly ontwyk. Hulle stap deur die dorp, selfbewus in skoolbaadjies. In die Wimpy buig hulle oor ’n Coke en ’n Fanta, en eet tjips uit dieselfde bord. Sy lag vir die manier waarop hy sy skaars sente op die tafel uittel en sy gulsigheid as hy sy tjips in tamatiesous doop. Haar hand skuur teen syne.

Dis net ’n droom. “Hoekom hardloop jy?” vra sy in een van haar kort, skaam briewe. “Omdat jy ’n wenpaal is wat bly geepad,” skryf hy terug en hoor vir drie weke niks van haar nie. Hy besluit dat hy meer takties sal moet hardloop in dié wedloop.

Haar vraag oor waarom hy hardloop, pla hom. Die baan, besluit hy, is die een onveranderlike.

“Ek is verslaaf daaraan,” skryf hy later aan haar. “Dis al.”

Hy’s daar. Stanley Syster. Christian se hart gaan aan die spaander soos ’n vlakhaas op vaart. Hy staan op uit die gras. Stanley swaai om. Van naby is sy wenkbroue ruig, sy oë git. Hy skrik. Die wit seun, hier waar wit mense nooit kom nie.

“Ek is van Paul Roos.” ’n Verklaring van rykdom. ’n Lewenswyse anderkant die draad. As Stanley hom bly aankyk: “Die wit seunskool op Stellenbosch.”

Daar is nog geen reaksie nie. Stanley se oë gly oor Christian: die maroen frokkie; die bene van ’n hardloper. Christian staan nader, en voel die gruisklippertjies van die baan onder sy skoene. Plek-plek sak hy in waar die grond sag is. Miskien sal kaalvoet ’n voordeel wees. Maar hy weet: sy voete is te sag. Hier’s dalk duwweltjies . . .

“Wat soek jy?”

Hulle staan ’n rukkie so. Christian sou dikwels aan hierdie oom­blik terugdink. Dit sal hom herinner aan daardie eerste oomblikke met Christine. Hier ook: Skaakstukke wat in gespanne posisies stol en ’n spel wat vries, soos op ’n foto.

Hy trek sy asem diep in. “Ek wil teen jou hardloop.”

Stanley Syster se asem plof hoorbaar by sy lippe uit. Hy buk en begin strekoefeninge doen. Hier is geen behoorlike afrigter nie, registreer dit weer by Christian. “Ek hoor jy’s goed,” sê hy aan Stanley.

Skielik swaai Stanley om en stap na die witgeverfde klip. Met sy toon trek hy ’n dwarsstreep op die grond. Dis ’n uitdaging. Iets van die vuisgeveg op die speelgrond, die tradisionele streep in die sand, die uitlokking om jou voet daaroor te durf sit.

Later jare sou Christian onthou: die sening wat die toon aan die voet bind; die nukkerige bol van die kuit. Die een, hardegat bewe­ging.

En skielik die boegoereuk van sweet; hul albei s’n.

Hulle tree aan.

Alle klank verdwyn. Die wind het gaan lê. Christian het die buitebaan. Sy sole sak weg hier in los sand en uitgeskopte gate.

“Go!” skree Stanley Syster en die wind suis om Christian se ore.

*

Christian veeg oor sy oë. Die aankondiging vir die vierhonderd vir seuns onder veertien word gemaak. Siebert is nêrens te siene nie.

Christian wil eers opspring en rondkyk, maar onthou sy blapse vroeër die oggend.

As die atlete by die wegspringblokke hul sweetpakbroeke begin uittrek en die laaste strekoefeninge doen, vlie hy op. Hy kyk oor die deinende see kleurlinte en papierhoedjies.

Hy baan sy weg na benede. Oor elmboë wat ingehaak is, verby songladde velle en blink oë wat met “Sorry, oom” opdraai na hom; oor wiegende lywe wat nou die Meksikaanse golf doen. ’n Gety Coke-suigende kinders.

In die voorste ry, voor die dirigent met die pluiskeil se gekke spronge­tjies, skreeu Christian in ’n klasmaat van Siebert se oor. Die seun se sweet ruik na dié van ’n man, maar sy asem is die ene kougom en Coke. Onder, áf, beduie hy. En moet weer skreeu sodat Christian kan hoor: “Ek het hom laas onder die pawiljoen gesien.”

By die wegspringblokke is die atlete nou almal sonder sweetpakke. Hulle bons op elastiese kuite en skud hul hande lossies om hul skouers te ontspan. Die vierhonderd is Paul Roos se prestige-item, al jare lank. “En die rekord,” hoor Christian vaagweg bo die gedruis, “word nog gehou deur . . .”

Hy hardloop onder die pawiljoen in. “Meer as dertig jaar gelede . . .” dryf die luidspreker hom as hy in die koel sleurstroom van wind beland wat hier onder deur die tonnel kom en die reuk van Jeyes Fluid en koue beton dra.

“. . . opgemerk vandag hier saam met sy seun, Siebert van die Bloues . . .”

Die stem doof uit wanneer Christian die doolhof binnegaan. Kleedkamers met hopies afgestroopte frokkies en sweetpakke. ’n Paar duur Nikes, in ’n hoek gesmyt. Rugsakke. ’n Motorfietshelm en ’n yo-yo. Reukweerderkannetjies en waterbottels. Niemand hier nie. Die toilette. ’n Seun skud af by die krip, verras oor die uitasem man met die poniestert, en glip weg. ’n Toe deur. Christian op sy knieë, loer deur die gleuf onder die deur.

’n Beeld kom by hom op. Hy is op sy knieë in sy koshuiskamer, in sy sweetpak. Hy is besig om die bekers weg te pak, onder in sy kas, heel agter. Agter die ou duikbril en paddavoete, agter die stukkende radio en die ou skoene.

Hy’t pas oor Helshoogtepas teruggetrap Stellenbosch toe, terug koshuis toe. Langs die baan in Pniel het Stanley Syster in die lang gras bly sit. Agter die ou drafskoene, ágter die sweetpakbroeke in, skuif Christian die bekers met sy naam voelbaar onder sy vingerpunte ingegraveer op die koue silwer. Liegbekers.

Die nuwe bekers wat laat in sy matriekjaar bygekom het, is ook terstond kas toe. Agter die truie en die hemde. Ver agter, weg.

*

“Siebert. Siebert. Kom uit.”

Hy kyk na die splinternuwe paar Adidasse, die mooi bene van sy seun. Dis stil. ’n Kraan drup en veraf druis die Meksikaanse golf.

Dan klap die skoot, en Christian weet hulle lê oop vir die oorhel na links; die eerste, bepalende draai.

In stede van die liefde

Подняться наверх