Читать книгу In stede van die liefde - Etienne van Heerden - Страница 7

2

Оглавление

Die wees viool

Sy luister nie na patroondoppies of boeliebiefblikkies nie, sê die mense. Nee, wanneer Miss Edelweiss soggens haar metaalverklikker vat en die vlakte bokant die Lord Milner begin veeg, al hoër op, dan sê die mense van Matjiesfontein: “Sy hoor weer stemme vandag.”

En as sy later net ’n wit spikkeltjie voëlmis in die vou van die kloof is: “Blou was daardie oë vanmôre toe sy na die duiwe opkyk. Die wind waai weer skoon dwarsdeur haar kyk.”

Tussen die veëry deur rus sy en hou die duifswerms dop wat bokant Matjiesfontein sirkel. Dan haal sy haar wit helm af, en die oorfone, sit die rugsak waarin sy haar vondse bêre langs haar neer, en kyk uit oor die landskap. Hier onder haar sak die rantjies weg in die laagte met sy groen varsveld. Hier loop net wild, geen skape nie. En daar sit die klos bome en die wit mure van die Lord Milner Hotel. Dit lyk soos ’n afgekalkte kasteel. Bo-op, triomfantlik, wapper vlae wat lankal nie meer deel van die land se simboliek is nie: die vlae van die Britse Ryk, van die ou Suid-Afrika, en van die Suid-Afrikaanse spoorweë.

En as ’n bygedagte, die vlag van die nuwe republiek.

Wanneer Suid-Afrika teen Wallis rugby speel, klim die Walliese leeu met sy kloupote teen die vlagpaal uit, en wanneer Rovos Rail, die luukse trein na die Victoriaval in Zimbabwe, verbykom, word die treinmaatskappy se vlag gehys. Met die jaarlikse Suiderkruisderby word die vlag van Lewis Stores, hoofborg, piepend tot bo gekatrol deur Freddie Portier, entertainment manager en deurwag. Met vanuit sy ruim buik die magiese woorde: “Showtime!”

Voor die hotel loop die treinspoor, en weerskant, weg van Matjiesfontein, verskiet dit. Agter die hotel lê Miss Edelweiss se geliefkoosde tuin. Eers die Baviaansrivier se klipdrif met sy spookbloekoms, en dan die Karootuin met sy palms, sy garingbome en turksvy, vygies en riet. En die botstil gelaat van die dam waar paddas loerend hang.

’n Dam wat haar altyd laat dink aan haar ma se gesig op haar sterfbed, jare gelede.

Wanneer sy so in die klowe sit, met die paar yster- en koperdinge­tjies wat sy deur die loop van die oggend opgegrawe het, is dit stil in haar. Sy kyk hoe die lewe daar onder aangaan. Karre haas op die hoofpad verby. Veral die groot sleeplorries met die perde vooraan wat soos sprinkaankoppe lyk, maak ’n groot gedreun wat in die kom bly galm lank nadat hulle verby is. Soms kom ’n donkiekar met karretjiesmense – die sigeuners van die Groot Karoo – stadig van noord of suid aan. Geduldig, al sukkelend op die gruisrand van die teerpad, vat dit ’n goeie twee uur om buite sig te verdwyn na waar dit ook al op pad is. ’n Trein kom stadig in, en op die stuk grondveld digby die perron skop kinders ’n bal rond. Dan sê sy aan haarself: “Hildegard, jy moet ophou met hierdie ding. Hoeveel jare al doen jy dit nie?”

Aan die begin was dit ’n gedoente. Toe sy die eerste keer met die verklikker hier aangekom het. Dis ’n plek dié met ’n agterdogtige oog op nuwe dinge. Daar gaan die Duitse vroutjie die veld in, daardie eerste dag; die mense sal dit nooit vergeet nie. Sy parkeer die Morrissie eers daar onder die peperbome by die Marie Rawdon-museum, sit ’n helm op haar kop wat uit die Boereoorlog kom en ’n Tommie-offisier s’n was (een van daardie krieketspelers wat die distrik aan die brand gekolf het), en loop met die snaakse ding wat soos ’n stofsuier lyk die veld in. Op en af.

Die kinders het eers gedink sy maak sprinkane dood, want dit was die jaar toe die swerms ’n morg wyd van De Doorns se kant opgetrek het, met elke sprinkaan wat iedere uur sy liggaamsgewig vreet. Daar was miljoene insekte in een so ’n swerm. Dit was die jaar toe die lug verdonker het soos Moses se plaag uitgesak het. Groot repe veld is skoongevreet. Die vleie het gelyk asof brandpaaie oopgebrand is. Asof iemand ’n vuurvreter van ’n mower of dorsmasjien deur die riet gestuur het. Alle raad is probeer, beamptes het kom spuit en veldbrande is wind-af gejaag die swerms in, maar die vreetgoed het oor die vlamme gekom.

Miss Edelweiss het aan die oorlog moes dink; die vlae bomwerpers met hul donker pense oor Dresden; die Messerschmitts oor Sylt, op pad Engelse kanaal toe. Die lug was dik en stink met gebraaide sprinkaan. Hulle’t bly kom, bly kom. Later is gesê die sprinkane het die gordyne van die vensters afgevreet, en die hotel se lakens van sy beddens; die hoenders se vere van hul lywe. Dit was die jaar toe die mense van die Karoo gesien het hoe lyk groot honger. Dit was ’n straf. Ook ’n waarskuwing oor hebsug. Kaalgat het die Sutterlandse pastoor wat gawes uit die kollektebord in sy eie sak gesteek het, gestaan toe hy een oggend op sy fiets deur ’n swerm oorval is en elke draad klere van sy lyf afgevreet is. Bakhand oor sy skraal piele­tjie moes hy langs die pad geleentheid bedel terug huis toe. God slaap nie.

“Hou julle se monde toe, hulle eet jul siele uit jul lywe uit,” het daardie pastoor wat Sondae Bybel onder die vlerk met sy dikwielfiets hier op Matjiesfontein aangekom het, gewaarsku. Die mense het doeke oor hul monde geknoop. Selfs in die hotel se eetkamer het die kelnerinne opgedis met wit vatlappe oor hul gesigte. Dit help vir die skinder, het Miss Edelweiss nog op haar eentjie gedink. Matjiesfontein was nog nooit so stil as in daardie jaar toe iedereen sy siel wou behou nie. Dank vader; ’n paar weke se genadige aflaat aan die geklets en agter-die-hand gefluister en weet-jy-wat? Daardie Karoo­siek, die praatlus, wat sy eie swerm maak en skaduwee gooi oor die vlaktes.

Toe sy daardie eerste dag daar verskyn met die snaakse ding in die hand, het mense gemeen sy probeer ook maar help. Die boere was desperaat. Die kinders wou nie uit die huise nie, want die lug was vaal van die woerende insekte. Stories het geloop van ’n skaapwagter wat Ceres se kant toe oorval is deur ’n honger swerm. Sy klere, eers, en toe sy vleis. Van sy beendere afgevreet. Toe die mense hom kom kry, was sy geraamte wit en droog. ’n Trein het teen ’n opgedamde wal sprinkane vasgeloop en kon nie hot of haar nie. Die passasiers moes vensters toemaak en benoud wag dat die sprinkaanbeamptes met hul mosterdgeel Land Rovers en spuitkanne kom om hulle te verlos. Teen daardie tyd was die lokomotief verstik aan die sprinkane. Sy oond vol braaivleis en sy ketel al koud.

Dis in daardie dae dat die vroutjie die vlakte instap met haar snaakse instrument: ’n Duitse nuwigheid, dalk. Hoeka is die Duitsers so lief vir skroefietjies en ystertjies en metertjies en allerhande maakgoed.

Dit was eers toe sy die aand rooigebrand terugkom met ’n sak vol blikkietjies en patroondoppies en gemorsies en klingelingdingetjies – so is geskinder – dat die mense begin besef het: Miss Edelweiss soek.

Maar wat soek jy, het die mense gevra, as jy optel-optel loop soos ’n Boesman-ouma wat veldkossies grou en hier en daar pluk en skoffel en buk en por? Wat soek jy tog as jy saans huis toe gaan met net ’n meelsak vol skroot en blikkiesgoed en afvalyster en roesgoed? Jy soek mos nie daardie goed nie? Jy tel hulle maar op om jouself te flous. Nee, jou soektog is nie na aardse oorblyfsels nie; dis na die reste van die gemoed.

Só som die Matjiesfonteiners Miss Edelweiss op, en laat haar be­gaan.

Sy’s nie die eerste een wat hier kom luister wat die verlede aan haar te verklik het nie.

*

En toe Snaartjie die dag verdwyn, is Miss Edelweiss die ene na wie die eerste hardloper gestuur word. ’n Kind met ’n skuimmondbood­skap en blink traanspore oor die wange: “Miss Edelweiss, die West Africans het Snaartjie Windvogel afgeskep.”

Glo in een van daardie groot trokke waarmee die blinkswart mense uit die noorde hier verbykom. Die trok is gelaai met seile wat dikpens gepak is met houtbeeldjies van olifante, van sitbankies met gevlegte riempies, met gekerfde nagmerriefigure wat galop uit die soort drome wat ook snags hier op Matjiesfontein loop. Dis kurio’s, en die mense uit die noorde is smouse wat op die Groentemarkplein in Kaapstad, op Die Braak by Stellenbosch en op die Dinsdagmark in Seepunt hul tentstalletjies oprig, hul grondseile sprei en hul rye en rye galopdiere en skreeuape en stilskrikbokke en ou, antieke mas­kers en skepgoed uitstal. Van lande met snaakse name: Benin en Sene­gal, Zimbabwe en Zaïre.

Daardie trokke kom weekliks hier verby, want die toeriste wat die Kaap besoek, het ’n dors na Afrika. Te bang om ver noord te gaan, koop hulle onder die wakende oog van stadskonstabels by toerismemarkte op die verste suidpunt.

Die hardlopertjie staan voor Miss Edelweiss, wat haar oorfone afhaal en haar klikker afsit.

“Wat sê jy, Tattie?”

“Die gediertelorrie het Snaartjie afgeskep . . .”

Miss Edelweiss drafstap die kloof af tot waar die kar geparkeer staan, boender die seuntjie en die verklikker in haar Morris en swaai die tjorretjie om. Sy ken die Matjiesfonteiners. Om en om sal hulle eers draai om die gebeurtenis en dit uitpluis en ’n skinderdraai gooi en dinge van gister en eergister bysleep en met een oog op ’n Bybel­versie en ’n ander op die tokkelos, die daggazol en die Voorsienigheid die probleem begin bekruip asof hulle hoop dit sal opspring en weghardloop.

Maar ware probleme, weet sy, maak eerder van jou die prooi in die jaglig se straal. Daar bly jy skrikoog sit, botstil voor die skiet­lamp, en jy wag vir die skoot om te klap.

Jy’s lam.

En hierdie probleem lyk vir haar na so ene.

Een wat die tyd gaan laat stol; een waarom die stories gaan bly draai en draai, net omdat dit ’n stilte en verskrikking van sy eie het.

“Kom ons ry, my seuntjie.”

Knorrend in sy eie stof wat hom by die driffies van agter inhaal en oor hom uitsif, hop die Morrissie terug Lord Milner toe. By die Engelse soldate se kampplek verby, waar die geroeste boeliebiefblikkies se deksels nog ’n honderd jaar ná die oorlog gesaai lê, verby die verknotte ou peperboom waar Olive Schreiner glo uit eie beweging haar hand aan Cecil John Rhodes gebied het en agterna, nadat hy haar aanbod van die hand gewys het, smoorkwaad teen sy Empiredrome gedraai het, daar waar die swart kat nou skuilhou. Oor die spoor en tot by die hotel. Wip-wip, met Tattie wat snuiwend langs haar sit.

Daar staan hulle al. Voor die hotel. Beduie, soos sy verwag het, na links, na regs, na mekaar, na ver, na naby, na noord, na suid; na gister en sy gisters voor hom, na môre ook, en oormôre. Na hul eie voorspellings en vrese staan hulle en vinger wys, die Karoomense. Na mekaar wys hulle, maar nooit na hulself nie. Só ken sy hulle.

“Die gediertelorrie het Snaartjie opgeraap, haar viool daarmee saam, o roep Sy naam . . .”

Die Wederdopertaal ontgaan Miss Edelweiss nie. Soos die opwinding na die Suiderkruisderby opbou, kom die kerktaal ook by. Dis elke jaar se ding. “God het ’n wil van sy eie,” waarsku die pastoor Sondae, “en duiwedobbel is ’n gekansvattery met wind en weer. God en die wedvlugduif sit nie op dieselfde nok nie.”

Eers stop sy uit die cubbyhole van die Morrissie ’n pepermentjie in Tattie se nat hand en troos: “Ons kry die kind terug, moenie kommer nie,” en sy staan voor die mense.

Daar is Freddie Portier, entertainment manager. In sy wit handskoene, met sy pluiskeil en sy houding wat die maniertjies van ’n koloniale onderoffisier, ’n butler en ’n lekeprediker kombineer; Freddie wie se lyf saans in die bad blou raak, soos hy self graag vertel, want sy oupa was wit en van Skotse bloubloed, ’n offisier van die seinregiment wat daar gekamp het waar die roesblikkies vandag nog lê.

Freddie gee nou hoog op: “Hoe weet ons daai trok swaai nie af van die N1, uit Montagu se kant toe nie? Ons moet Touwsrivier se konstabels laat weet; hulle moet die smokkelaars voorkeer voor hulle daar by die squatter shacks op De Doorns aankom; netnou verdwyn die kind tussen al daai blikplate en vure. En wie sê hulle’s nie klaar op pad Cereskaroo toe nie?”

Daar hoor sy al: “die smokkelaars”. Daar gaan ons, dink Miss Edelweiss.

“En wie sê hulle is smokkelaars?” Sy staan in die kringetjie wat verontwaardig daar drom en stoom. Sy ruik hotelpolitoer en seep, pyptabak en stof.

“Hulle’t die kind bedwelm met chloroform!”

“Die viool is saamgeraap!”

“Wie’t dit gesien?”

“Hulle’t ’n doek oor haar oë gespan en sy’s tussen die diere agterin ingegooi. Jirre!”

“Hulle gaan die viool saam met maskers op die mark smous!”

So gaan die stemme op. Met die noem van die viool wil hulle haar natuurlik betrek by hul ontsteltenis.

“Wie’t wat gesien?” vra Miss Edelweiss vir die kelnerinne in hul gestyfde uniforms en hul fraai kappies en hul dun koperhande. Hier is te veel skrik, sien sy. Hier is nie rede nie.

“Wat het regtig gebeur?”

Maar voor die huise daar op die kale vlakte, op die hotelstoepe, voor die poskantoortjie en daar op die stasieperron, loop die stories al. Sak die verhaal neer. Vreet die gerug oor die verdwyning van Snaartjie, die vioolkind, sy eie brandpad oop. Kry die storie mondjies.

En al maak jy watter vuur daarteen, die swerm sal hoër uitwolk, styg soos ’n tyding en oor die vlamme kom, en jou lakens van jou bed en jou gordyne voor jou vensters skoonvreet.

Jy sal kaal staan teen die wind.

Miss Edelweiss se blou oë staan wyd soos sy dit insien, oombliklik.

Ek, dink sy – en dis soos ’n voorbode – ek is die een wat ­kaalgevreet gaan word, nes daardie Sutterlandse pastoor op sy fiets.

En sy onthou die dag toe die viool opgedaag het.

*

Die viool het skaam gelyk daar waar dit op die plaveisel voor die hotel bly lê het nadat die motor met die man en vrou en seun vort is.

“Die wees viool,” sou Matjiesfontein se mense later sê, toe die hele treurige besigheid agter die rug was en mense met die insig van tyd kon terugkyk en vasstel: “Ja, dis waar dit begin het, daardie dag van die verlore viool, bloots agtergelaat daar op die grond.”

Met sy strykstok daarnaas het die viool op ’n gevaarlike plek gelê. Motors wat warm gery oor die paaie van die Groot Karoo aangekom het, het daar kom stilhou. Die karre kom ingewaai van die langpad en ken hul eie spoed nie. “Stadsmense, sonder sinnigheid.” So waarsku die Matjiesfonteiners altyd hul kinders, wat graag op die oop parkeerplek voor die hotel speel en voorruite vir ’n fooitjie skoonvee. Hulle is opgehits, daardie karre. Suf gereis. Warm lug deins bo die enjinkappe. Die wiele druis oor die gruisklippertjies.

Jy moet eenkant staan en respekte hê vir ’n wye wêreld aan die twee punte – weerskante – van die langpad, van die N1 Kaapstad en Johannesburg toe.

Jy moet jou engtes ken. So praat die Matjiesfonteiners in helder oomblikke oor hulself, oor die inkommers, die karre, en oor die afstande wat alom wyk.

Met die inry kyk die reisigers na die ry skakelhuisies en verwonder hulle aan die broekieskant van Tweedside Lodge. Hulle sien die peperbome, die gemesselde watervoor, die koffiehuis. Daar is, opvallend, die Laird’s Arms-kroeg en die ou poskantoor met sy heining van kartelyster. Die ou ligpaal uit Londen ingevoer. En snags, in die donker, die vlerkgeklap van verdwaalde posduiwe wat oor die afstande van vlaktes en jare aankom en in die donkerte ’n nok vir die voet probeer vind.

Want Matjiesfontein staan in die nêrens van jare. Dinge kom hiernatoe aan, en dinge gaan hiervandaan weg. Die treinspoor verskiet noord en suid, grondpaadjies waaier kronkelend na leegtes en bulte, of verskiet beslis, geteer en blinkgery, na noord en suid.

Wat bly, is die duifswerms wat bokant die dorpie se dakke in die oop lug uitwaaier en altyd weer terugkom, asof so ’n swerm ’n vlieër is met ’n draad vasgeanker aan die grond.

Ook die tyd kom en gaan, draai en keer terug, en later is jy nie meer seker wat verby is, wat nog aan die gang is of wat voorlê nie. Dis hoekom die mense agterna so gestry het oor wat presies wanneer met Snaartjie gebeur het.

En of dit wél gebeur het.

Die aangesig van die Lord Milner Hotel verras inkommers. Met sy wapperende vlae en sy gesig in die wind, is die hotel iets ­tussen ’n kasteel en ’n Victoriaanse fort. Regs, met die inkom, lê die stasiemuseum met sy opgestopte poppe in swierige hoepelrokke en onderbaadjies, ou telegraafmasjiene en koperklokke, en dan is daar die treinspoor wat na weerskante in die vertes van die halfwoestyn verloop.

Vir baie besoekers lyk dit na ’n rolprentstel – iets wat Amerika­ners hier langs die N1 Noord kom opstel het en agterna, as die storie vertel is, weer sal aftakel.

’n Inkomende motor sou die viool dus maklik kon miskyk en mens sou jou die melodieuse sug van snare en hout kon voorstel wanneer warm rubber daarmee klaarspeel. Maar gelukkig sien ’n gas vanaf die balkon op die eerste verdieping die viool lê. Hy beduie na die deurwag, Freddie Portier, wat by die hotelingang staan maar weens ’n hekpilaar wat sy uitsig versper, die viool en strykstok nie sien nie.

Met sy wit handskoene – die “vlekkelose handskoene”, soos hy self graag sê – stap hy verby die ingangspilare, tree oor die bruggie by die messelvoor, en buk oor die viool en strykstok.

Hy huiwer, laag gebuig. Want hoe raak mens so ’n instrument aan? Neem jy hom by die nek, of by die lyf? Hoe vermy jy skade aan die snare?

Uiteindelik raap die wit handskoene die viool aan kop en lyf op, en ook die strykstok, vinnig agterna. Bietjies stof kom aan die handskoene af, maar Freddie herinner homself aan die drie skoon pare wat vir die wis en die onwis by ontvangs vir hom gebêre word.

Hy bring die viool en strykstok na binne, en sy voete dawer oor die ingangsportaal se houtvloere. Hy gaan kloek by die ontvangs­toonbank oor die glimbruin instrument, en ’n paar gaste, Miss Paai die ontvangsklerk, twee kelners en ’n skoonmaker sluit by hom aan. Hulle bekyk die ding van alle kante. Freddie Portier bring dit na sy neus en ruik aan die hout. Sy asem laat ’n vogstreep wasem oor die viool se blad.

Dit was dus die begin, sou later gesê word: ’n gewone dag by ’n weliswaar merkwaardige hotel in die eenselwigheid van die Groot Karoo, vierhonderd tree van die snelweg geleë, teen ’n drif met klipbanke en reuse bloekombome; ’n hotel met ’n verlede van oorlog en vrede, van kamers vol liefde en twis; van duiwe wat kom en gaan, van treine wat nooit lank by die perron kom aanlê nie en die inwo­ners altyd herinner aan die lewe se nuk om altyd maar voort te gaan, elders.

’n Hotel waaroor duiwe vlieg en, veel hoër, vliegtuie met mense aan boord, na noord en na suid; onophoudelik, met ’n ritme wat hier onbekend is. Want Matjiesfontein het sy eie ritmes; die tydsaam­hede van die Groot Karoo wat op ’n ánder horlosie loop.

Die viool herinner aan die Lord Milner se oudste meubels. Nie iets waaraan jy sommer vat nie. Die bruin ouhout is goed opgepas, sonder ’n skrapie. Die snare, styfgespan, glinster. ’n Reuk van kougom en sonbrandolie omgeef dit, en ding mee met die geur van houtolie.

Geeneen van die mense in die voorportaal het al aan ’n viool ge­raak nie. Hulle maan mekaar om versigtig te wees. Moenie te rof aan die snare pluk nie; oppas dat jou armband nie die hout krap nie; hou so, versigtig nou; voel hoe lig . . .

Freddie Portier, wat agterna sou aanvoer dat hy die man is wat die viool gered het, waag dit om met die strykstok ’n haal oor die snare te gee.

“Showtime!”

Almal deins terug toe die huilgeluid vals deur die groot voorportaal galm.

*

Die motor wat die viool vergeet het, het uit die noorde gekom. Noord is op Matjiesfontein ’n spesifieke begrip: die reisigers wat van daardie kant inkom, is effe anders as die Kapenaars wat opreis uit die suide. Daar is iets saakliks, hards aan die Gautengers. Hulle skuil agter donkerbrille. Hulle besluit vinnig; soms te vinnig vir die kelners. Ongeduld en geringskatting. Geld en goeie fooitjies. Noord is waarna almal Saterdaemiddae staan en kyk as die Laingsburg- of Drie Sustersderby die duiwe eers in klein stippeltjies in die verskiet laat verskyn, en dan met son wat op vlerke blits hulle flapperend ingedawer laat kom tot binne-in die hok, hul kraalogies stip en opgehits en verskrik oor die groot inspanning en die leë winde en stil vlaktes.

Noord: Johannesburg, Egoli; die langpad: Afrika.

Die Mercedes het met ’n vaart van die N1 afgeswaai. Hulle’t skyn­baar nie die padteken verwag wat na die hotel beduie nie. Dis reisi­gers wat skynbaar vreemd is aan die geweste, of die afdraai ’n iets later verwag het. Gou rem getrap en rakelings ingeswaai.

“Sjooshhh . . .” sis die kinders wat in die veldjie tussen die Lord Milner se agtertuin en die snelweg gespeel en die groot kar sien in­kom het. “Ryk mense.”

Die passasiers was ’n egpaar met ’n opgeskote seun en ’n hondjie wat aan ’n leiriem beur. Met die uitklim het die hondjie water afgeslaan teen die lamppaal digby die hotelingang, en Freddie het met sy een handskoen onrustig oor die ander gevryf. Hy was reg om te keer as die hondjie se rug begin buig vir ernstiger sake.

Die inkommers het vir koffie en koek kom stilhou. Hulle tuimel sweterig uit die kar, word agterna vertel, en die seun druk sy wysvinger vieserig in die fonteinwater by die voordeur. Die ma waarsku hom dat voëls in die fontein mis. Sy is lank; ’n lat van ’n vrou. Die hondjie sukkel om te besluit tussen vriend of vyand: hy grom na die kelners en swaai dan weer sy stert vriendelik. Die kelners koggel hom met vingerklappe wanneer die vrou wegkyk; hy lek fonteinwater op met ’n uitasem tong.

Die man – hy dra ’n poniestert – bekyk sy motor se wiele, laat sy oë gly oor die drie ander voertuie wat voor die hotel geparkeer staan, lyk tevrede, en staan hand in die sy en verken die hotel se vooraansig. Met sy wysvinger veeg hy oor ’n pilaar wat effe verbrokkel, en sy hand registreer liggies die roes op die voorhek.

Hulle gaan die voorportaal binne, en lig hul koppe na die groot Victoriaanse skilderye teen die mure; die seun kyk teen die houttrap op. Hulle staan in die voorportaal rond op die wyse waarop toeriste soms besluiteloos en ingedagte op hul eie as draai. Hulle loer by die eetsaal met sy kaggel in; die man toets die toestand van die hout­vloere met ’n effense versit van sy gewig.

Hulle het nog geen oogkontak met een van die kelners of die bejaarde vrou, Miss Paai, wat by ontvangs sit, gemaak nie. Toe hulle uitstap koffiehuis toe, druk die man Freddie ’n fooitjie in die hand, sonder om na hom te kyk.

Later sou Freddie sê: “Bloedgeld. Daardie noot het gebrand deur my handskoen.”

Sommige mense meen die reisigers het eers poskaarte by die ge­skenkwinkel gaan koop, maar ander stem nie saam nie. By die koffie­huis onthou die kelnerinne die besoek goed: die inkommers het twee koffies, ’n Coke, ’n dik sny sjokoladekoek en ’n warm stuk appeltert met volroom-roomys bestel, asook twee skons met room en appelkooskonfyt.

Op bevel van die tam ma het die seun met die hondjie gaan ronddraf op The Mews, die stuk grasperk agter die koffiewinkel se patio, daar waar die mossies in die bome wip en waar kwikstertjies onder die tafels knikkend sit en wag op krummels.

Toe die koffie en eetgoed by hul tafel kom, moet die ma die seun vies uit die droë rivierbedding gaan roep waar hy op die klipplate onder die massiewe bloekoms speel. Sy raas oor die hondjie wat nie aan sy leiriem vas is nie, oor slange en verdwaal, en mense wat jy nie ken nie, en oor ooreenkomste wat voor die vertrek uit Johannesburg gesmee is en nou nie nagekom word nie.

Die kelners merk op hoedat die opgeskote seun – skaars tiener; hy met die Harry Potter-bril en bleek wange, wat later aangemerk sou word as die waarskynlike eienaar van die wees viool – stilletjies stukke sjokoladekoek van sy bord afsmokkel na die hondjie onder die tafel. Die ma trap die hondjie se leiriem met haar voet vas, maar hy kry goed geëet en lek ten slotte die hand wat die seun onder die tafeldoek tot by sy gesig bring.

Die man, wat sy donkerbril nooit verwyder het nie – selfs nie in die skemerte van die outydse koffiehuis met sy kraakvloere en hoë plafon nie – betaal kontant en laat die hoogste fooi agter wat in daardie maand by die koffiewinkel ontvang is.

Hy gee dit sonder vrygewigheid, sou die mense later onthou; as ’n soort bestraffing. Hoekom die kelners dit so aanvoel, is selfs vir hulle onduidelik, maar rondom die politiek van fooitjies spook daar baie gewaarwordinge by Matjiesfontein se mense. Hierdie fooitjie het, nes die noot op Freddie se wit handskoen, warm op die tafel bly lê.

Met die hondjie wat ’n laaste grom en stertswaai na die kelners gee, is hulle daar weg.

Hulle staan in die straat voor die koffiehuis en kyk oor die veld uit. Die seun met die bril volg die duifswerm wat laag oor die wer­kershuise uitwaaier, dan in ’n hegte bondel byna een lyf word; hy kyk hoe dit die lug inboog en ontplooi soos ’n hand wat oopgaan en dan in alle rigtings verskiet, net om weer daar doer, in ’n draai van die wind, saam te snoer tot een vinnige skaduwee. Sy bolyf beweeg liggies saam met die wieg en sweef van die swerm: hy’s die een wat musiek maak, is almal agterna eens. “Hy kon die ritme in die swerm sien.”

Dis ’n gesukkel om in die kar terug te kom. Die seun wurm homself in tussen strandballe en pantoffels en tennisrakette en klere. Die ma het nou ook weer haar donkerbril op. Kort-kort snuit sy haar neus in ’n snesie. Dis die stof van die plek, het sy glo teenoor haar man in die koffiehuis gesê – so sou een van die kelners later onthou. Sy’t ’n pilletjie saam met haar koffie gesluk.

Met ’n gedruis van wiele en te veel vaart vir dié stil plek gly hulle verby die skakelhuise en is hulle om die draai, die son wat op die Mercedes se ruite flits, en op met die entjie pad grootpad toe. Links en regs gekyk by die N1, afgedraai, vort, Kaap toe: ’n gesin met va­kansie.

Of dalk was hulle op trek.

*

Die viool en strykstok – so word agterna uitgepluis – moes uit die kar geval het terwyl die familie ná die etery in die koffiehuis weer in hul motor geklim het. Sommige mense skinder dat die seun die viool aspris langs die kar neergesit het kort voordat sy pa met ’n vaart vertrek het; almal op Matjiesfontein weet tog hoe stug die plaasseuns na Miss Edelweiss gaan vir vioolles. Wou die klein Harry Potter, met die vooruitsig van oefen op vakansie, dalk van sy viool ontslae raak? Dit net suutjies daar neergesit?

Maar iedereen onthou die gesin se gesukkel om weg te kom. Die kind en die hondjie moes hulle inwurm tussen al die goed in, en oral het kussings en boeke en draagbare CD-spelers uitgepeul – “ ’n winkel op wiele,” het een van die skoonmakers nog opgemerk.

Krisjan was die man se naam, verbeel een van die kelnerinne in die koffiehuis haar, maar sy is ook nie seker nie.

Die man agter die donkerbril; die ene wat so suinig baie gee.

Die hondjie was ná die snuiwery teen die donker Baviaansri­vier-walle en die spookwit bloekomstamme en die baljaar oor die groot, wye grasperk met sy kwikstertjies wat piepend opvlieg, heel ­buite weste. Hy’t gestoei in die hande van die seuntjie wat deur sy ongeduldige ma gepor is om die hond tog onder beheer en in die kar te kry, in hemelsnaam.

Daar sou baie Matjiesfonteiners wees wat daardie oomblik – toe die kar wegry en die viool en strykstok daar bly lê – as ’n vloek sou beskou. Die vertroude dinge sou wankel; die spinnerak van lewens, wat altyd maar broos gespan is en op die beste van tye tussen die droë takkies van ’n kriedoring bibber, sou breek; dit het begin met die kind van die Windvogels, die duiweboere; ja, met haar: haar naam was eers Saartjie.

“ ’n Kind van die winterson en somerskoelte,” is sy genoem. “ ’n Kind van die droom.” As jy Saartjie soek, was die antwoord op die vraag waar sy was maar altyd: “Stil by die duiwe.”

Sy had net een sonde in daardie dae voor die viool se koms. Later, voeg die Matjiesfonteiners haastig by, het al die ander sondes gekom. Sy was daardie eerste, enkele sonde juis daardie dag ook aan die pleeg. Sy had die gewoonte om daar vanuit die rigting van die platdakhuisies aan te kom, oor die vlakte te stryk, en die Lord Milner van agter te benader. Deur die rivierbedding, oor die klipplate en verby die bloekoms. Wanneer niemand sien nie, skiet sy soos blits oor The Mews se oop grasperk, met die kwikkies wat opskrik en dalk ’n verdwaalde hoender wat wegkekkel.

Sy gly die hotel aan die agterkant binne; soos ’n ligte windjie kom sy in, in ’n rok wat vir haar opgeskote lyf te armoedig is. Sy hurk in die sitkamer agter ’n sofa totdat Miss Paai by ontvangs ’n draai gaan loop en gaan loer dan in die besoekersboek watter kamers onbeset is.

Sy glip verby die marmerkoppe van die kroonprins en -prinses van Pruise, by die breë trap op. Op skool het sy geleer dat die prinses die oudste dogter van koningin Victoria was, die ou queen wat die Boereoorlog begin en die boeliebiefsoldate gestuur het om die boere se diamante af te vat; die Engelse soldate wat daar anderkant die museum uitgekamp het en van ver af geskiet het na die Boere wat op kommando in die rantjies verbygetrek het.

’n Suutjiesskaduwee is Saartjie, verby die kwaai skilderye en die donker meubels. Saggies toets sy die deurknoppe. Gaan by ’n onbesette kamer in, maak die deur agter haar toe en loop na die radio wat in die bed se styl ingebou is. Sy draai die knoppie na die klassieke sender en sonder om die getrekte gordyne oop te maak, gaan lê sy op die bed in die skemer kamer.

“Musiek sonder stem of vrolikheid,” sê die mense; dis waarna Saartjie Windvogel skelm lê en luister in die kamers van die Lord Milner; na harpe en viole en klaviere – geen mensestem hoorbaar nie. “Tjie-tjie-musiek” – die soort musiek wat Miss Edelweiss, die Duitse musiekjuffrou van die plaas Hochschule ’n paar myl die spoor op, die distrik se kinders probeer wysmaak.

Die skoonmakers verja Saartjie gereeld daar. Freddie het haar al die trap afgeskoert die voorportaal uit. Daar is ’n klag gelê by haar pa, die draadspanner en lekeprediker Piet Windvogel. Hy’t hard gepraat en glo die wilgerlat ook geswaai, maar niks kon die kind van die gewoonte afkry om so musiek te lê en steel nie. Uitgestrek lê sy op die bed en luister na die vreemde name van die komponiste en diri­gente; na die besonderhede oor konserte en opnames. Die treine kom en gaan daar buite en die duifswerms klim die lug in en die wind kom oor die vlakte gehaas en die wolke bol hoog bo die vlakte – al hierdie dinge hoor Saartjie in haar ore en sy vergeet van mens en wêreld.

Sy moes dié dag ook in een van die kamers gewees het. Want net toe die berig van die koffiehuis kom dat daar geen kredietkaart­rekord is nie omdat die man met die donkerbril kontant betaal het, en toe niemand ’n nommerplaat kon onthou of ’n verwysing kon opdiep uit die geheue nie, en almal besluit het dat die kar uit die hittegolwe gekom en weer in die hittegolwe weggery het, toe kom sy die trap af.

Haar oë trek stip op die blink hout van die viool.

Iets gee in haar mee.

Hulle sien haar egter nie, en toe Freddie die gepynigde geluid uit die viool voortbring, deins almal terug. Byna hardloop sy vorentoe. Die viool word by ontvangs gebêre, word besluit, en iedereen gaan terug na pligte.

Saartjie gaan staan by ontvangs en Miss Paai, wat daar sit en brei, kyk haar aan. Dis stil; buite kug-kug Freddie en stryk stoffies van sy handskoene af. Hulle hoor die materiaal skuur. Miss Paai se breipenne klik. Die groot horlosie tik stadig en daar agter, bo-op die kluis, langs die besoekersboek, lê die viool en sy strykstok by die ander items wat gaste hier vergeet het en wat ’n stigtelike tyd moet lê en wag op opeising voordat dit vir welsyn na die Rooikruis op Laingsburg of die Jehovasgetuies op Beaufort-Wes gaan.

Daar is ’n paar Ray-Bans, ’n goedkoop plastiekkam, ’n goue sigaretaansteker en ’n Dinky Toy-karretjie. En dan die viool. Soos ’n jong prinsie, dink Saartjie Windvogel, lê hy daar.

Miss Paai, wat voor haar aftrede skooljuffrou was in die geboutjie tussen die laedakhuisies en ook vir Saartjie se ouers in haar klasse gehad het, sou agterna sê: “Toe daai Windvogeltjie se oë op die viool val, was daar skielik ’n soort gelowigheid in haar kyk. ’n Liefde soos vir Jesus.

“Die kind was geroepe na die viool, soos ’n ma na hom kind; of soos ’n Kristen na die Here Vader.”

Dit was kort daarna dat die mense ophou praat het van Saartjie, en haar Snaartjie begin noem het. Eers spottend, maar later ernstig: Snaartjie Windvogel, die vioolkind.

In stede van die liefde

Подняться наверх