Читать книгу In stede van die liefde - Etienne van Heerden - Страница 9

4

Оглавление

Edelweiss

Miss Edelweiss het ’n vaste roetine.

Soggens wikkel die vaalgrys Morrissie soos ’n liewenheersbesie oor die bult. Dis ’n tweespoorpaadjie waarmee sy van Hochschule na Matjiesfontein kom, al teen die treinspoor af. Die karretjie skarrel oor die klippers; sy ry hom al dertig jaar.

Jy kan jou horlosie stel wanneer daardie torretjie by die laaste turksvy verbywip, sê Freddie Gladdebek altyd. Teen daardie tyd van die môre het hy reeds stelling ingeneem by die Lord Milner se voordeur, reg vir die dag.

Hy is op sy pos, winter en somer, om ses-uur-dertig. Hy hoor alles wat buite en binne gesê word. Hy hoor wanneer eiers die pan tref; hy hoor wanneer ’n vleisbyl teen ’n karkas dawer, wanneer die blare van ’n geelwortel afgedraai word. Hy hoor die koekroller en deegflappe wat teen die tafelblad klap, en hy hoor die skinderstories van die skoonmakers en skottelgoedwassers en die ou ANC-vryheidsliedere wat die kok met die hoë wit hoed agter die stoof staan en sing. Die kok weet hoe om ’n AK-47 uitmekaar te haal en weer aanmekaar te sit. Maar hy’t nie ’n werk gekry in die nuwe regering nie; hy bak nou eiers en spek, vis, skaapboude in die oond en, op spesiale dae, Engelse broodpoeding met appelkooskonfyt.

“Dis hoekom ek my lewe gewaag het,” sê Jeremy Sizwe altyd, “om hier te kom deeg knie. En Thabo Mbeki kom eet nooit eers hier nie. Die hotel is nie larney genoeg vir daardie English gentleman met sy tweedbaadjie, pyp en poetry nie.

“Ek bid vir die dag dat Nelson Mandela en sy Mosambiekse ko­ningin hier inloop.

“Maar dit sal seker eers ná die Wederkoms wees.

“Of na goeie reëns.”

Vies raak die pastoor vir Jeremy Sizwe, die assegaai van die nasie, se godslasterings.

“Hy is nou wel ’n held van die vryheidstryd,” sê die pastoor, “maar hy’s nie bokant God se koninkryk verhef nie.”

Freddie hoor ook die geldlaai by ontvangs en die steun van die kluisdeur wanneer Eaglejohn Fieldhouse, hotelbestuurder, dit oopswaai. Dis die steun van grootgeld, dink Freddie altyd, kyk weg en stel sy ore eerder in op die duifswerms wat verbykom: hoe die lywe fluit deur die lug.

Hy dink aan die David Rawdon-derby wat voorlê, of die Verneuk­pan-derby, of die grote: die Suiderkruis.

Hy dink aan die stereostel en Diana Bedroom Suite wat die wenduif se baas sal wen.

En wanneer die Morrissie soggens aankom, trek hy sy regterhandskoen uit, stap na binne, kry die brekfisklok met sy swaar bel, bring dit na buite en kondig ontbyt aan.

Die slaperige stedelinge kom die trap af. Hulle kom sit onder die eetkamer se hoë plafon wat aan die kamer die akoestiek van ’n konsertsaal verleen. Fluisterend en babelas sit hulle en gesels oor die borde spek en eiers en teug aan glasies geel lemoensap.

Terwyl die kelners als moet uithaal om die tafels tevrede te stel, hou die Morrissie om die draai stil, weg van die Lord Milner se voorkant met sy balkonne en vensters en besoekers wat in hierdie kaalte elke beweging gretig waarneem.

Miss Edelweiss klim uit en in haar pofmoubloese met die Beierse stikwerk voor en die ligte rokkie lyk sy van ver af jonger as wat sy is; tenger en fyn, asof sy deur die wind weggewaai kan word. Dis net wanneer jy naderkom dat jy die plooie sien en besef sy stap aan in jare, en jy skrik effe, want die oë lyk soos dié van ’n steenbokkie in ’n motor se kopligte. Die are oor die spierwit arms is blou, en sy lyk nie soos ’n vrou wat haar lewe in Afrika slyt nie. Sy’s te bleek, te broos; die oë helderblou met die lig van ’n milder wêreld daarin. Maar weer eens, as jy digby is, sien jy dat die angste van hierdie geweste oor die helderblou van die Duitse irisse kom lê het. Miss Edelweiss se oë het ’n glinsterlagie. Die wydoop kyk van aanhoudende skrik.

Iedere môre maak sy die Morrissie se agterdeur oop en tel die bos­sie veldblomme versigtig uit. Dis meestal maar vygies en kalkoentjies en geraniums, en sommer doringboombloeisels of ’n klompie blare as dit erg droog is, en in die lente peerboombloeisels uit haar tuin op Hochschule.

Sy stap agter die hotel om na die kapel neffens die groot grasperk agter die koffiehuis. Die kapel sit op die rivier se wal, by klipplate en bloekomtakke wat laag hang; in stilte. Dis klein, met sitplek vir minder as twintig mense; dit maak om jou toe met ’n vertroude vertroosting. Daar is ’n klein orreltjie en ’n kateder uit swart hout. Voor die kerkie staan ’n standbeeld van ’n dogtertjie in ’n poel water, en neffens ’n peperboom hang ’n groot klok tussen wit pilare.

Miss Edelweiss gooi die vorige dag se blomme uit en tap nuwe water in die vaas wat sy self, jare terug, daar kom neersit het. Die vars blomme kom langs die besoekersboek by die ingang. Dis die soort kerk wat meestal deur reisigers besoek word, toeriste wat onbeholpe daar staan voor die houtkruis teen die muur. Of klein huwelike; meestal geskeides wat met ’n paar vriende hier weer kom probeer; of weduwees en wewenaars wat die laaste ent saam wil deur. Groot bruilofte vind nie hier plaas nie; dis te afgeleë, gewoon te klein; die atmosfeer hier is nie een vir bruising en viering nie. Jy kom hier sit as jy al geleef het.

Dan gaan sit sy. Niemand weet wat sy soggens daar in die kapel uitpraat nie, maar die konsensus is dis gewigtige sake. Vir die half­uur dat sy daar sit, keer die hotelpersoneel besoekers suutjies van die kapel af weg. “Daar’s privaat devosies aan die gang,” sê Miss Paai aan besoekers wat ná ontbyt soontoe wil dwaal. “Gee nog so ’n kwartiertjie.”

Waar hy op sy pos staan, kyk Freddie op sy goue horlosie (twintig jaar ononderbroke en getroue diens aan die Lord Milner, ook al weer lank terug) en verklaar: “Oor twintig minute is Gods huis oop.”

Aan die einde van haar devosies gaan Miss Edelweiss by die orreltjie sit. Sy vou haar hande met sulke bidpunte hier by haar neus saam, ruik aan die vingerpunte en sak dan oor die klawers.

Baie is af te lei uit die liedkeuse van die dag, en die hotelpersoneel spits ná al die jare steeds die ore om te hoor wat oor die grasperk aangesweef kom. In tye van nood – soos toe die Baviaansrivier soveel verlangse en nabye familie by Laingsburg weggespoel het – druk die stuk die gevoelens van Matjiesfontein se mense uit.

Die orrel praat vir ons, sê die mense graag; hy spreek ons droefnis en ons wense uit. So word Miss Edelweiss weervoorspeller en sterftebegeleier, aankondiger van geboortes en goeie reëns, waarskuwer oor sprinkaanplae en afdwaling van Gods weë.

En soms speel sy haar eie dinge uit, en niemand verstaan nie, maar hulle keer die besoekers weg en wag tot als bedaar het en jy weer die tortelduiwe in die bome kan hoor.

Wanneer sy klaar het, kom sy bleek en bewerig in die kapeldeur staan. As daar dan besoekers op die verste rand van die grasperk staan, bly sy eers in die kapel agter, vroetel met die blomme en die besoekersboek totdat Freddie bedagsaam kom en die mense met praatjies oor Lord Milner se porseleinhande weglok.

Dan glip sy weg, oor die klipplate in die rivierbedding, anderkant om, poskantoor toe.

Daar staan sy by die klerk, wat by Unisa ingeskryf is en die stil ure omstudeer. “Guten tag, Booichen,” sê sy aan Snaartjie se broer, Booitjie Windvogel. “Enige briewe van die eiland Sylt vandag, my seuntjie?”

Soos hy ses dae per week teenoor haar doen, maak Booitjie groot gebaar van kyk in die poshokkies agter hom. Hy draai na haar en verklaar plegtig: “Niks vandag van die eiland nie, Miss Edelweiss.”

*

En dis Miss Edelweiss se eerste instink om van die groepie verontwaardigdes voor die hotel weg te breek daar waar hulle staan en tol al om Snaartjie se verdwyning.

Sy wil om die hoek, oor The Mews se gras verby – sommer deur – die skrikkwikkies in die koel holte van die kapel in. Daar wil sy die flennie van die orrelklawers afhaal en haar deurmekaar by haar vingers laat uitvloei, totdat daar bedaring kom, totdat haar gemoed skoon is, en sy weer kan dink.

Maar nou is Eaglejohn Fieldhouse, die hotelbestuurder, daar. Vernaam en dramaties, ’n drama queen so uit die boek. Hy swaai sy manel (wat hy nie meer dra nie) en lig sy pluis (wat hy Freddie laat erf het) en streel oor sy hare (wat ook met die jare yler geword het). Sy verskyning is fier en beslis; hy’s gek na drama en verdriet – nou is hy in sy element.

Wat sy nie kon regkry nie, klaar hy met enkele vrae op. Hy is veral goed met sy werkwoorde, sien sy, en dit gee die gesprek rigting.

“Geloop – waar?”

Op teerpad toe, kom die antwoord, soos Snaartjie altyd doen. Eers die Windvogelduiwe versorg, haar taak vir hierdie tyd van die dag, toe op na die pad toe. Met die viool en strykstok, die gekke kind. Mos aljimmers die musiek saam.

Miss Edelweiss voel die verwytende blikke op haar.

“Gesien – wie?”

Die kinders wat daar agter die windpomp aan die rondspeel was; hulle kyk op, toe’s sy nog daar teen die pad, by die afdraai met die vlae, toe hoor hulle tussen die spelery deur een van daardie groot lorries naderkom, een van daardie gediertetrokke, en hy ry stadiger en hulle dink eers hy swaai af by die hoteldraai in, maar . . .

“Stilgehou?”

Hoe dan anders? Want toe die kinders opkyk van hul draadkarre en die paadjies wat hulle daar uitlê, toe is die lorrie weg en die pad is stil en dis net sonbesies en son en wind en die kale vlakte . . .

“Mejuffrou Windvogel weg?”

Hulle knik die koppe. “Skoonveld,” sê Freddie, en vee ’n traan uit die hoek van sy oog.

“Polisie! Onmiddellik! Telefoon!” roep Eaglejohn oor almal se koppe, ontvangs se kant toe. Maar Miss Paai sit nie daar op haar pos nie; sy is hier by hom.

“Sneller dan snel!” hits hy haar aan. Sy swart Raspoetin-oë blink; hy vee deur sy baard en troon bo almal uit.

Miss Paai skommel foon toe, met hom agterna.

Om Miss Edelweiss staan die mense en draai. Vorentoe lê die Suiderkruisderby. Die duiwe is vetgevoer en fiks; trillend van die energie sit hulle op hok. Wedywering tussen die families bou op. Die wedvlug word draer van ou vetes. Skinder maak wolk oor Platdakkies. Die dae word afgetel; duur saad is gekoop; als is reg. In die huise gaan dit tjoepstil; geen hok mag gesteur word nie. Die voor­vliegers, in kwarantyn, moet konsentreer.

En nou dít.

Hulle draai hul rûe op my, merk sy op. En sy vlug Morrissie toe. Inklim, ruite op. Troppie mense wat gesigte na haar draai. Verwyte. So gou? Is dit so gou dat dinge gebeur? Wegry, wieletjies wat maal in die stof; die torretjie wat wegwip, weg van ontsteltenis, Hochschule toe; dieper die onrus in.

*

As jy Piet Windvogel, Snaartjie se pa, wil verstaan, moet jy weet waarvandaan die draadspanner kom.

Hy wat al die Karooplase – van hier tot by Sutterland, ook tot by Touwsrivier, en ja, so ver as Laingsburg en nog verder – soos die palm van sy hand ken. Bykans elke kampdraad het hy gespan, op elke plaas het hy die een of ander tyd jakkalsdraad reggemaak of sparre vervang. Deesdae is hy die eerste man waaraan die boere dink met hul nuwe gewoonte om wildplase vir toeriste in te rig en bygevolg hoë koedoeheinings te span.

As iemand gehelp het om dié wêreld mak te maak, sê die mense, dan is dit daardie bitter ou draadtrekker met die skrefiesoë. Hy wat soos ’n akkedis in die son sit en uitrus, wat als sien en van als weet. Hy’t hulle almal getem: die rooijakkals, die gemsbok, die springbok en die duiker, die oewerkonyn en die volstruis – elke dier loop hom vas in Piet Windvogel se grensdrade.

Maar wil jy sy bedonnerdgeit verstaan? Onthou dan hy’s van die voormense wat hier jag gemaak het lank voordat die Boere en die Engelse ingekom het. Vir die Windvogels is iedere een wat nie oerbloed van die Karoo het nie ’n inkommer. En sy kwaatgeit, so word vertel, kom uit die feit dat hy, juis hy, ’n lewe maak uit die opspan van die Groot Karoo in blokke weiding – hierdie stuk woestyn waar sy mense eens vry hand gehad het, waar hulle so rats soos die bok en so los soos die rolbos was. Net die wind was hul rigting; die honger hul grensdraad – hulle het nie ogiesdraad en hakiesdraad en nieshoutpale en konsertinahekke geken nie. Nie die Toegang verbode-bordjies wat deesdae, met al die plaasmoorde, so oralster aan plaashekke hang nie. Dis voor die wit man die veld opgedeel en name gegee het soos Voetpad en Houdconstant en Soebatsfontein. Dis daardie geheue van vryheid wat in die man veg terwyl hy met sy tang stoei teen die taai bloudraad, terwyl hy die vel van sy hande stukkend werk aan ogiesdraad en ysterpale.

As jy mooi agter die kap van die byl kom, moet jy begryp dat Piet Windvogel, nes baie mense in hierdie land, sy voormense koppig verraai, dag vir dag, in die sweet van sy aanskyn en om brood op die tafel te sit. Want hoe, skinder die mense, kan jy oorleef in hierdie land as jy nie konstant jou voormense verraai nie? Kyk maar na die kok, Jeremy Sizwe van die Xhosas. Staan nou smôrens vir die einste wittes wat hom jare lank nie stemreg wou gee nie totdat hy in desperaatheid die wapen moes opneem, bacon and eggs en braai. So mak soos ’n lam. En die plaasboere wat hand om die blaas met die ANC-amptenare is wanneer diesulkes ’n slaggie opdaag en oor grondhervorming kom praat – daardie boere onderhandel stukkie vir stukkie dit wat hul voorouers as erfgrond geëien het, weg.

En ons, die Matjiesfonteiners, ons van die haai Karoo? Ons staan ook maar by die grafte en sê: ons is jammer, Ma’tjie en Pa’tjie.

Dís wat hierdie land is – een groot ekskuus aan die geskiedenis. Daar is nie ’n ander manier nie. Ons moet nou vorentoe; ons moet ons lywe swaai as ons anderkant wil uitkom; ’n haas voor die honde. Almal van ons.

Woorde wat net laatnag in Platdakkies gehoor word.

En daarmee saam dink die mense aan Piet Windvogel wat naweke sy opgekroptheid uitspook met sy bakleihond, Arieb, wat daar voor sy huis, net langs die duiwehok, op ketting lê. Naweke vat Piet sy ou bakkie en ry af De Doorns se plakkerskamp toe en daar stoot hy Arieb in teen die mongrels van die swart inkommers uit die Kongo en Zimbabwe. Tussen plakkershutte en op ’n oop stuk stofgrond, niemand weet mooi nie, jy hoor maar hier op Matjiesfontein van die hondedobbel. Daar baklei Piet die Saterdae wanneer daar nie wedvlugte is nie en kom terug met sy stukkende brak wat hy weer daar aan die ketting inolie en lawe en paai, en hom teen Donderdae weer begin koggel met ’n goiingsak om sy koerasie op te bou. Styf ruk die hond die ketting soos Piet Windvogel Arieb se woede uitspeel en die skuim drup soos die hond hom uitbaklei teen die sak waarmee sy baas hom piets terwyl hy hits en terg.

Piet kom in die paadjie aan nes Miss Edelweiss se Morrissie met ’n stofstert agterna oor die eerste bultjie wegwip.

Hy kyk die stof bitter agterna en tref die klossie mense nog voor die hotel aan.

“Wat is dit oor my kind?” vra hy. “Ek hoor julle daar van my duiwehok af.” Die oë is dun geknyp teen die son en sy hande hang soos krappe aan sy arms. Dik die vel en die naels so hard soos beitels. Veral die regterhand, wat soos ’n groot rivierkrap altyd oop knypers het, is van die draadtang hanteer altyd onrustig. Hulle sê as Piet Windvogel jou gorrel met daardie hand vat, skeur hy jou asem skoon uit jou keel.

Dis die hand wat die Bybel lig en in die lug hou wanneer Piet lekeprediker is en sy preekbeurt kom. Platdakkies se pastoor deel maar suinig preekbeurte aan lekepredikers in die gemeente uit, lugtig dat ’n gladdebek soos Freddie Portier of Piet Windvogel met sy bitter gehamer die gemeente van hom kan afrokkel.

As Piet die preekbeurt kry daar in die ou hete saaltjie in Platdakkies, is dit swawel en vuur en ’n geween en ’n gekners van tande. Piet se Bybel dawer van die waarskuwings; God is die groot draadspanner en jy moet jou kamp ken.

“Draadtrekkery,” snork Freddie by geleentheid ná so ’n preek as die lug na swawel ruik en die gemeente duiselig van die hellevaart in die helder son uitkom nadat Piet Windvogel klaargemaak het. Maar Freddie sê dit net teenoor sy gesin, en hy doen dit ook net in hierdie dae dat die Suiderkruisderby voorlê en jy dit nie kan verhelp dat allerlei kwaad vir die ander duiweboere in jou bors kom sit nie. Gewoonlik laat hy Piet Windvogel maar vuur spu en die Sondag daarna kom hy, Freddie Portier, met die mooiste liedere. “Ek is prediker van die vertroosting,” sê hy altyd, en laat die gemeente “Bly by my, Heer” drie keer oorsing totdat die trane van die wange loop en almal gepuur is van Piet Windvogel se donderweer. Maar nou, met die derby op koms, werk die duiwel met almal se koppe.

Donderweer is nou aan die blits en Piet Windvogel vra: “Waar’s my kind?”

Natuurlik, agterna, sou die stories oopwaaier soos ’n pronkduif se stert. Piet Windvogel se groot kommer was nie sy dogter wat weg is nie, sou die giftonge swaai. Hy was oor ’n ander saak bekommerd – oor die Suiderkruisderby, die grote. En Snaartjie was sy troefkaart in die derby; vanjaar sou hy wen, want Snaartjie was die ene agter die Windvogelswerm.

Hoe en wat, sou eers later uitkom; maar nou, eers, is dit die veglustigheid wat hom hande in die sye daar by die kelnerinne en skoon­makers laat staan.

“Afgeskep,” beduie hulle. “West Africans. Die lang manne.”

“Sy’t soos altyd viool teen die pad sit en speel vir die indraaikarre met haar bedelblikkietjie by haar voete, toe gooi hulle haar agterin die lorrie.”

“Die kinders het daar bo gespeel en als gesien, hoe sy geskreeu het soos ’n hoender op slag.”

Piet Windvogel kyk na die seuntjies wat daar rondstaan met hul draadkarre se stuurwiele in hul hande. Hulle lyk verskrik toe hy na hulle omdraai. “Wie’t wat gesien?” bars Piet Windvogel. Die krap voor hom uitgehou.

Benoud kyk hulle rond. “Wie’t wat gesien?”

Hulle kyk hom met groot oë aan en hy swaai vies om en begin oorstryk hotel toe. “Waar’s Mister Fieldhouse?” is sy laaste toesnou na die kelnerinne. Hy tref Eaglejohn en Miss Paai in die Lord Milner se kantoor aan. Eaglejohn het die telefoon teen sy oor en Miss Paai leun oor hom met die hotel se verweerde telefoonboek in haar hand.

“ ’n Lorrie. Ja, ’n vragmotor.” Eaglejohn lig sy oë ten hemele. “Wát?!”

Hy gooi die foon neer. Hy kyk na Miss Paai en Piet. “Vermiste mense moet eers twaalf uur weg wees voordat hulle ’n klag van vermis aanvaar.”

“Maar dis kidnap!” Miss Paai raap weer die foonboek op.

Piet Windvogel kyk na Miss Paai. Staaldraad in sy blik. “Dit het als met die kleinkitaar begin. Hier het julle dit nou.”

*

Snaartjie was sy dan.

En vir haar begin dit toe Miss Paai die dag ernstig met Eaglejohn Fieldhouse gesels oor die viool wat al ’n maand daar op kluis lê. “Mister Raspoetin, luister my uit. Die kind van die Windvogels kom elke dag ’n slag, en naweeksdae tot twee, drie keer, kyk of die ding nog daar lê,” vertel sy.

Eaglejohn laat die kind kom. Snaartjie word deur ’n skoonmaker geroep waar sy besig is om die Windvogelhok se boonste broeihokke skoon te maak. Tussen die wyfies wat met hul koppige, dun koppies op die eiers broei, is Snaartjie besig met die hark en die emmer. Die wurmpies mis wat verdroog en verkrummel, dwarrel soos as; die vars mis klou aan vere en die hark se punte.

Maar Snaartjie sien nie haar vaal voete nie. Sy hoor die simfonie wat sy die vorige middag in kamer veertien gesteel het. Bruckner is die man se naam, en die konsert was sy derde. Quasi Adagio, ­onthou Snaartjie, maar sy kon nog nie uitwerk wat dit beteken nie. Dis nou die persblou voorvlieger se naam. Laat haar pa-hulle hom maar op sy teelnaam roep – sy noem hom Quasi Adagio. Hy sit met vol krop koggelend daar op die hok se nok; kyk hoe trap-trap hy om die henne te verlei.

En die jonge, daardie mannetjiesduif wat ál op Quasi Adagio se stert sit as hulle Saterdaemiddae uit Sutterland se geweste inswiep, gedra deur die Karoowind en met die oop lug in hul skerp oë, wanneer haar pa hom naderhaas om hulle in te klok, daardie klein prins: ja, sy noem hom nou Allegro Energico.

“Energico,” prewel Snaartjie en toe is die skoonmaker daar: “Mister Eaglejohn soek jou in die dining hall.”

Snaartjie laat die hark val; dis nie oor werk of stoutigheid nie, weet sy.

Die viool!

Miss Paai het mos belowe sy sal met Mister Eaglejohn praat.

Sy gaan aan die bewe en vergeet byna om die hok se deur agter haar toe te maak en die yale te sluit. Binne die huis sit sy ’n strik in haar hare en gaps ’n veegseltjie lipstiffie uit haar ma se bedlaai. Sy vergeet om in die spieël te kyk voor sy loop, maar as sy dit wel ge­doen het, sou sy gemerk het dat die rooi stif te aangedik is en boonop skeef smeer neus se kant toe. En as sy die kas se sleutel gehad het en kon oopsluit om na die vollyfspieël wat aan die kas se binnedeur geskroef is, te kyk, sou sy gesien het dat haar ma reg is, dat sy komieklik lyk in haar ma se kerkskoene met die hakke, wat sy nou ondanks al die vermaninge aanhet.

Sy slof met die slingerpaadjie hotel se kant toe, agter die skoonmaker met die wit kappie en voorskoot en verestoffer in die hand aan. Tussen die bottelstukke en verroeste blikkies en karoobos waar­aan plastieksakkies wapper deur – na die Lord Milner wat, hoe jy hom ook al hier van Platdakkies af bekyk, altyd soos ’n bruidskoek daar uitsien.

Die skoonmaker, ’n inkommer van Beaufort-Wes wat met ’n Matjiesfonteiner getrou het, kyk haar meewarig aan. Snaartjie sien die glimlag, en die blik wat oor haar gesig en af na haar voete vee.

Jaloesie, dink sy. Mister Eaglejohn, haar baas, het mý geroep.

Sy word aangepor: “Haas jou, toe-toe, Mister Eaglejohn moet nog Laingsburg toe vir voorraad; netnou ry hy voor jy daar is!”

Sy gaan staan eers by die fontein voor die hotel. Sy sit haar vingerpunt in die water. Uncle Freddie Portier met die wit handskoene staan daar by die eetsaal, binne, en kyk ongeduldig na buite. “Kom,” be­duie hy aan haar. Sy haal diep asem, en steek die stuk plaveisel oor na die hotel se voordeur.

Toe sy die eetsaal instap, ruik sy Mister Eaglejohn se aftershave en tweed. Wanneer haar ma, Matjiesfontein se naaister, soms saans die Mister se klere sit en regmaak (knope aan die onderbaadjies, die geelwit onderbroeke se wasgate toestop), hang daardie geur in die Windvogels se voorkamer, en word daar gespot oor die ou Rus wat hom nou so Ingils hou met die tweed en aftershave.

Maar bang vir hom is sy. Die Mister sit by ’n tafel in die hoek, daar waar hy altyd sit wanneer hy die personeel inroep, een-een, om die hotel se sake te bespreek; wanneer hy raas (dikwels) of aanprys (baie min). Miss Paai sit ook by hom, en Freddie Gladdebek, Snaartjie se ma se neef, staan nou tussen die tafel en die venster, sy handskoenhande onskuldig voor hom gevou.

Vandat hy daardie dag die viool onder die mouterwiele uit gaan red het, soos hy graag sê, is hy baie eiendomlik oor die instrument.

Miss Paai sit kiertsregop, want al is sy die Mister se voorste werker (ontvangsdame, boekhouer, biegskouer vir die jong kelnerinne en, in Freddie se woorde, “prinsipaal van die voorportaal”), vat Mister Eaglejohn nie nonsens nie en handel hy dinge gou af. Logistiek, sê hy altyd, het hy in die oorlog geleer. En in die Russiese revolusie. Hoe om jou oog koersvas op jou bestemming te hou, het oorlogsduiwe hom geleer; daardie brawe voëls van Europa se seinregimente wat deur bomme en masjiengeweervuur en die onweerswolke oor Europa deur die linies heen geblits het met vertroulike inligting in klein silindertjies aan hul bene; hoeveel van hulle het nie gewond en skeef gefladder tot by hul base nie?

Iets geks het die wedvlugduif in hom, sê Eaglejohn soms, maar niemand verstaan wat hy bedoel nie. Sy, Snaartjie, wél. En Miss Edelweiss sê ook: iets mals moet jy in jou hê vir die viool.

Nou sit Mister Eaglejohn daar met sy swart Oog – so beskryf die boere sy blik – en Miss Paai beduie sag: “Sit, kind.” Sy beduie na die leë stoel teenoor die Mister.

Snaartjie plof op haar ma se hoëhakskoene nader, trek die stoel uit en ys toe sy die skuurgeluid oor die vloer hoor. Sy tel die stoel op, dis byna te groot vir haar, skuif dit, maak weer ’n geraas, bloos en vee oor haar gesig. Dan sit sy, maar dis skeef, en sy moet weer op om die stoel so te draai dat sy ordentlik vir die Mister kan sit en kyk.

Skielik kyk die Mister op. “Kan jy sing?”

Sy stem eggo oor die leë tafels. Freddie se vingerpunte op sy hand se rugkant word stil. Miss Paai se oë glip verras na Mister Eaglejohn toe.

“Ek is in die kerkkoor,” antwoord Snaartjie saggies. “Van die Wederdopergemeente Matjiesfontein. Sondae.”

Dis weer stil. Mister Eaglejohn vroetel met sy papiere. ’n Duifswerm kom met ’n vlerkgedruis laag oor die hotel verby, net buite die venster, oor die dak, en weg. Freddie snuif tevrede: dis sý swerm, die Gladdebek Racers; hy ken die fluit van hul vlerke. Die Mister gee ’n rokershoesie. Dan kyk hy na Miss Paai.

“Gee haar die viool op bruikleen vir drie maande. Bel Miss Edelweiss. Sê haar hier kom ’n lokasiekind vir lesse. Ek sal betaal uit my hipnosegeld. Sê haar die kind is ’n Windvogel.

“Sy moet goed verstaan dis Piet Draadspanner se kind.”

Hy kyk weer na Snaartjie; na die strik in die hare, die skewe lip­stif, die hoëhakskoene ’n nommer of twee te groot.

“Sy kan die hotelfiets leen om Hochschule toe te ry. Twee lesse ’n week, skoolvakansies ingesluit.” Hy draai na Snaartjie. “Oor drie maande kom jy na my, en as jy ’n behoorlike deuntjie kan speel, is die viool joue.”

Hy haal diep asem. “Die mense hier ken nie van die dinge wat jy in jou kop hoor nie. Ek en jy kom van dieselfde wêreld. Ons moenie te veel daaroor praat nie. Dit ontstig. Kommer jou nie dat jy anders is nie. Luister. Maak jou kop oop vir wat Miss Edelweiss vir jou te sê het. God sy dank.”

Hy huiwer ’n oomblik. “Oefen,” sê hy dan, en dis meer pleit as opdrag.

Dís wat sy later sou onthou. Daardie een woordjie. Oefen. En die uitdrukking op sy gesig.

Hy swaai sy hand soos sy verneem het hy tydens hipnoses doen en haar kop begin week raak.

Snaartjie spring op; uit dankbaarheid, maar ook om onder Die Oog uit te kom. Die stoel agter haar val dawerend om. Sy storm by die eetkamer uit en sukkel om in die skoene te bly. Sy vergeet van die viool en strykstok. ’n Damwal breek en waters bruis deur haar kop. Dis die simfonieë en konserte wat sy op dubbelbeddens in die Lord Milner se leë hotelkamers aangehoor het. Hulle haas hulle soos wind en water deur haar kop, oorkruis en deurmekaar, dringend en druisend; die een oor en onder die ander.

Sy trek die skoene uit en dra hulle in haar hand, nael by die trappies af, verby die fontein, uit by die hotelhek; sy hol om die hoek en oor die grasperk en deur die Baviaansdrif met die klipplate; sy hardloop tot sy later nie meer weet waar sy is nie en wat sy in haar kop hoor nie.

Agterna sou mense sê: dis die dag toe Raspoetin die musiek by haar kop ingetoor het; met daardie een swaai van sy hand; met daardie stem; met sy stink Oog.

Later gaan sit sy teen ’n miershoop. Sy is teen ’n rantjie, en ver weg, in die laagte, lê die hotel. Drie vlae beweeg vanmiddag lui aan die vlagpale. Die vlag van die nuwe Suid-Afrika, die vlag van Brittanje en die vlag van Rovos Rail. Die ou Suid-Afrika-vlag is vandag gestryk, en in die guns van Lewis Stores wapper daar ’n logo. Hulle is die borg van die Suiderkruisderby, en as deel van die ooreenkoms moet hulle vlag daagliks teen die paal op totdat die Diana Suite gewen en als klaar en verby is.

Iedereen wag egter nou eers die koms van die luukse Rovos Rail-trein af, op safari van Kaapstad na die Victoriaval in Zimbabwe. Die wêreld se rykstes betaal duisende dollars om op hierdie trein te ry, en as hy verbykom, staan die hele Matjiesfontein op aandag. Lewis Stores, Laingsburg, se bestuurder is erg tevrede, word in Platdakkies vertel: al daardie Amerikaanse miljoenêrs en Japannese rykes op die trein wat vanaand Lewis Stores se logo gaan bekyk.

“Nevvermaaind dat hulle nooit ’n dining room suite by hom sal kom koop nie,” spot die Matjiesfonteiners die hand wat hulle voed.

Hulle voel ieder geval almal bietjie op skou as daardie trein by die stasie insleep en die toeriste in hul kraaknuwe kakieuniforms met hoede en kameras uitklim. Die kniekoppe is wit en die oë vervaard (gaan hier Zoeloes met spiese of Moslems met sjaals wees, Sanjagters, bedonnerde Boere met mausers of ’n Skotse regiment in rokkies? Wat is hierdie Suid-Afrika?), want hierdie mense het lank laas soveel oopte gesien soos hier in die Karoo. Die hotel met sy versiersuikeraansig (of is dit ’n fort teen die Xhosas? ’n Sendingstasie in die niet? Waar is die tromme? Die mensvreterleeus?) vang hulle on­kant, ook die man met die pluiskeil daar by die ingang, die bedelende kindertjies langs die spoor, en die kelnerinne in hul wit kappies wat by die hotelvensters uitloer.

Iedere Matjiesfonteiner hoop op fooitjies, op ’n kameraskoot, op ’n laggie en ’n guns. Freddie Gladdebek is die een wat weet hoe om die mark te speel. “Showtime!” Hy spring in ’n rol in en almal se monde hang oop.

In ’n ommesientjie het Freddie die hele geskiedenis van Matjiesfontein uitgelê – die toeriste staan ademloos voor die verhale van die Khoi, van die jagtende, grotskilderende San (“interior decorators”, noem Freddie hulle), van die stugge trekboere en die Britse regimente, van die groot oorlogskamp en die sprinkaanswerm, van Olive Schreiner, die skrywer, en die dooie offisiere. Van Cecil John Rhodes. Van krieketspanne in wit truie en die Umkhonto weSizwe-kok wat nou Engelse ontbyte bedien aan die yuppies uit Kaapstad. Van Freddie se eie bloubloed (hy lig sy hemp om die wit met die are op sy pens te wys). Van Raspoetin, die gunsteling van tsarin Alexandra aan die Russiese Hof, wat hierdie spul nou bestuur, in bevel van daaglikse spyse, die vloei van drank en die geniet van voedsel, die lewe van legendes en die gasvryheid so eie aan Afrika. Sodat spook en lewende, vyand en vriend, kneg en heer, hier saam kan lewe onder vlae oud en nuut; onder die wye bloue lug van die Groot Karoo, fooi­tjies ingesluit, God sy dank.

Ook vir die Rooikruis iets, dankie, in die porseleinboksie met die gleuf.

En jy kan kyk na Lord Milner, die Anglofiel, se hande, in porselein, teen ’n klein dankoffer. Onder in die Milner Room.

Dankie, weer eens, en tot siens.

En o ja, as u behoef: Raspoetin die Rus, ook bekend as Mister Eaglejohn Fieldhouse, kan teen ’n klein fooi (net buitelandse valuta, asseblief) u met sy Oog ondersit en u help om die sweer te laat oopbars.

“Die sweer?”

Ja, die bloedvint. Dinge wat ons almal maar in ons saamdra en wat soos ’n pitsweer swel; hy kan oopmaak en die vuil peul uit en jy klim op die trein, gepuur.

Die Amerikaners skud hul koppe in onbegrip en kyk rond vir soeweniers; die Japannese loop eenkant en kiek met die nuutste digitale tegnologie. Die Britte kry ’n afstandelike trek op hul gesigte en gee ’n treetjie terug. Die Hollanders lag goedig oor die lokale kleur en gee nog ’n fooitjie.

Freddie word ’n bekende man, op baie foto’s in baie huise, op die kontinent en in die Amerikas. In Japan.

Daardie snaakse plekkie in daardie verwarrende land van Mandela, dit was elke sent werd. En daardie hotelgebou in die boendoe was die bonus.

Jy kon die spoke hul hande oor jou lyf voel beweeg. Die fluiste­ringe van stemme, die nag toe die trein doekvoet vertrek.

Jy het so min begryp van die wye en droewe land. Ineens, ’n hotel soos ’n filmstel. ’n Lewe en ’n legende. Geen tienduisend dollar aan Rovos Rail kon jou immuun maak teen die sagte por van Matjiesfontein se verlede nie.

*

Daar by die huis het die Windvogelswerm nou tot ruste gekom en sit hulle, soos die mense sê, op hul hakskene. Hulle wag vir haar, weet Snaartjie, om die aanddinge te doen: vars water in die drinkbakke, vreetgoed uitgestrooi, die hek goed op slot, die broeihokke afgesper; die laaste mooipraatjies en aanprysing. ’n Ent verder het die Gladdebekswerm ook neergestryk, op daardie komieklike toring van ’n hok wat Uncle Freddie pienk geverf het en wat, soos Snaartjie se pa sê, “soos ’n onstigtelike vinger des Satans die lug insteek”.

Maar die gevoelens en kwade wedywering van die Suiderkruisderby is nou ver van haar gedagtes. Sy sit daar en voel of alles om haar oopgaan; of alles moontlik word.

Lank sit sy so en hou die wolkies dop wat kom en gaan. Daar is ’n meerkat wat wegduik en weer uitkom, haar nuuskierig dophou, en dan weer induik. Dis asof sy vir die eerste keer die uitgestrektheid van die vlakte sien; die afstande.

Sy sit totdat dit heeltemal donker is en die Vrydagaand-Boeing van Johannesburg uit die noorde aankom. Dis ’n bekende merker: die rooi liggie wat knipperend uit die noorde kom, so hoog dat die motore dikwels nie gehoor word nie. Maar op ’n stil aand soos hier­die kom die vliegtuig met geluid aan: ’n dowwe, skaars hoorbare suising vul die lug.

Toe die Boeing bo haar kop oorkom, wonder Snaartjie Windvogel of daar iemand daarbinne is wat afkyk en haar daar sien sit teen die miershoop, op hierdie aand voordat sy van die viool besit neem.

Sy het net een skoen aan; die ander lê op die hotel se trap, in ’n lagwekkende herhaling van ’n storie wat Miss Paai eenkeer aan hulle voorgelees het toe hulle klaar was met die wiskundesillabus. ’n Storie oor ’n meisie wat soggens die as uit die vorige aande se vure moes skoonskrop.

Poestertjie, het die mense haar genoem, onthou Snaartjie. Ek is die prinses wat uit die as gaan verrys, dink sy.

Poestertjie van die Groot Karoo.

God sy dank, en ’n fooitjie vir die Rooikruis. Om Freddie aan te haal.

*

Bewend kom Miss Edelweiss op Hochschule aan.

Ek het die blik in hul oë gesien.

Ek is nie bestand nie.

Al wat nou troos, is haar versameling. Sy stoot die deur na die kamer met die uitstaltafels oop. Uitgesprei, in netjiese rye, lê wat die Matjiesfonteiners haar goetertjies noem, uitgestal. Daar is die bewyse van die verblyf op die kale vlakte van jong Britse seuns: die Coldstream Guards, die Seventeenth Lancers, die Middlesex Regiment en die Highland Brigade van generaal-majoor Andy Wauchope, die man wat sy dood by Magersfontein tegemoet gegaan het. Sy tel ’n baadjieknoop van die Ierse Fifth Royal op en draai dit in haar hand. Langsaan lê ’n La Crisse-kopergespe van ’n lank reeds verrotte gordel. Dit het sy maar ’n week terug ontdek, in ’n donga heel ver van waar die kamp glo gestaan het.

Dit voel of sy ’n ander jongman se uniform aanraak; of sy agter die knoop en die gespe die warm lyf van ’n lewende kan voel. Sy wil haar teen hom aandruk en oor haar verlange praat; ander reuke kom by haar op, ’n ander uniform. Kon dit so lank terug wees, en so ver van hier; en kan dit nog so digby voel asof dit net gister was?

In stede van die liefde

Подняться наверх