Читать книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman - Страница 11
8
ОглавлениеDie volgende oggend, toe Ila vir hom koffie in die bed bring, lê Daniel Niehaus bleek en natgesweet agteroor teen die kussings. Sy asemhaling is moeisaam en daar is ’n grysblou kring om sy mond.
“Vadie!” roep Ila ontsteld. “Voel u nie lekker nie? Wat makeer?”
“Niks nie. Trek oop die gordyne, Daniela, en gaan haal vir jou ook koffie sodat jy by my kan kom sit en gesels.”
“Ek dink dit is gister se baie gesels wat Vader vermoei het.”
“Bog! Ek is g’n moeg nie. Ek gaan vandag vir jou die plaas wys.”
“Daar is nog baie tyd, Vadie. U kan dit môre doen.”
“Baie tyd, sê jy, Daniela? Nee, my kind, jy is verkeerd. Tyd is een ding wat ek nie het nie.”
Toe Ila by Martin gaan verneem of hulle nie die dokter moet ontbied nie, skud Martin sy kop. “Dis nie nodig nie. Daardie perdedoktertjie sal wel die een of ander tyd vanself hier aangesit kom. Voel jy beter as gisteroggend, my skat?”
“Ek makeer niks nie. Ek is oor my pa bekommerd.”
Martin kyk vlugtig oor sy skouer waar Mieta is. “Ek is oor my pa bekommerd …” koggel hy. “Jy klink meer soos Daniela as Daniela self.”
“Dis jy wat gesê het ek moet my in my rol inleef en nie van oom Daniel praat nie. Is daar nie pilletjies wat my pa vir die hartkloppings moet neem nie?”
“Daar op die kas …” beduie Martin. “Daar is ’n bottel pille wat die perdedokter voorgeskryf het.”
“Hy is nie ’n perdedokter nie. Die hospitaalpersoneel dink baie van dokter Retief se bekwaamheid.”
“Jy is pragtig, my skat, as jou groen oë blits en daar twee rooi kolle op jou wange is. Jy het my nog nie eers ’n goeiemôre-soentjie gegee nie, weet jy?”
“Ek is nie nou in die luim vir ’n flirtasie nie, Martin. Hoeveel van hierdie pilletjies moet hy neem?”
“Drie. Wanneer sal jy in die luim wees?” terg Martin. “Vanaand, as ek volmaan bestel en ons tweetjies sit styf teen mekaar op die relings van die brug? Die sterre en die maan wat in die kabbelende water weerkaats word …”
Ila is besig om die pilletjies uit te tel. Ingedagte sê sy: “Daardie brug is nie veilig nie.”
Martin se oë vernou. “Hoe weet jy dit, skatlam?” vra hy vinnig.
Ila plaas die botteltjie terug op die kas, skink vir haar ’n koppie koffie en sit dit op die skinkbord saam met ’n glas water.
“Ek het opgelet toe ons gisteroggend oor die brug gery het,” sê sy kalm. “Daar is van die relings wat los is en die balke onder die brug lyk bra wankelrig. Ek sal nie romanties voel nie, veral nie as ’n storm besig is om op te steek nie.”
“Hoekom? Dit was mos Daniela en haar ma wat soos katte op ’n warm stoof te kere gegaan het as daar ’n storm opgesteek het. Of ly jy – saam met al jou ander fobies – ook aan ’n vrees vir donderstorms?”
“Nee, ek gee nie om vir donderweer nie. Al waarvoor ek bang is, is groot honde.”
“Ek sal Snuffels uit jou pad hou. Sê my, Ila … Hoekom was jy netnou so kwaad toe ek neerhalend van die perdedoktertjie gepraat het?”
“Was ek?” skerm Ila. “Ek kan nie onthou dat ek vies was nie.”
“Jy was hoogs ontstoke. Jy het baie vinnig vir Johan Retief ’n lansie gebreek. Hoekom?”
“Ek voel skuldig oor arme dokter Retief. Ek het hom baie moeite en ergernis aangedoen, en hy was baie goed vir my in die hospitaal.”
“Is dit al?” Martin lig vraend ’n wenkbrou. “ ’n Skuldige gewete teenoor die doktertjie?”
“Dis al.” Voordat Martin verder kan uitvra, tel Ila die skinkbord op en laat hom alleen in die kombuis. Sy het amper haar mond verbygepraat, dink sy toe sy met die wenteltrap na die boonste verdieping toe opklim. In die toekoms sal sy versigtiger moet wees. Martin Niehaus is uitgeslape.
Ila het meer met die koppige ou man bereik as wat Martin en Mieta en al die ander tot dusver kon regkry. Hy het ingewillig om die oggend in die bed deur te bring mits sy by hom sit en gesels – net gesels, nie soos ’n ou vrou torring en kerm nie …
Na middagete kondig Daniel Niehaus egter aan dat hy gaan opstaan. En basta teëpraat. Dis hoog tyd dat hy vir sy dogter haar erfenis gaan wys.
“Vadie, dit kan tot môre wag,” probeer Ila keer. Gister was ’n uitputtende dag en vanoggend voel sy nog steeds moeg en oorspanne. Sy het gehoop Daniel Niehaus sou vanmiddag ’n rukkie slaap sodat sy ’n uur of twee vry kon hê om in haar kamer in te gaan en alleen wees om tot verhaal te kom en haar voete te vind. Te veel het met haar gebeur sedert sy op Nelspruit aangekom het. Dit voel asof daardie selfde trein waarvan sy afgeklim het, oor haar geloop het. Sy het tyd nodig om alles te deurdink en haar reg te ruk.
Die ou man se fletsblou oë is deurdringend op haar gerig. “Jy is soos ’n stuk styf gespanne doringdraad. Wat skort met jou, Daniela?” vra hy skerp. “Stel jy dan nie meer in die boerdery belang nie? Het jy in vyf jaar soveel verander dat jy nie meer in Rietendal belangstel nie? Hoekom wil jy nie die plaas gaan besigtig nie?”
Ila besef dat sy ’n flater begaan het. Sy probeer dit haastig toesmeer.
“Ek het vroeg vanoggend self ’n draai oor die plaas geloop en al die ou bekende plekkies gaan opsoek. Ek was by die dam, die rivier en die brug … Maar dis nie waarom ek huis toe gekom het nie, Vader – nie net om my erfenis te besigtig nie. Ek het teruggekom Rietendal toe omdat ek na my vader verlang het. Dis vir u wat ek weer sou sien, en ek wil nie dat Vadie u ter wille van my moet vermoei nie.”
“Jy weet ek doen nooit iets ter wille van ander mense nie. Ek was lank genoeg in hierdie kamer vasgehok. Nou wil ek uit.”
Ila hou haar seer been en arm voor as ’n verskoning om die pas te vertraag. Daniela se pa wys vir haar die nuwe melkery, die roomafskeier en koelkamers vir die sitrusprodukte, asook die Simmentaler-bul wat hy ’n paar jaar gelede gekoop het om die Rietendal-stoetery te verbeter. Ila bewonder alles, vra die korrekte vrae en lyk genoegsaam beïndruk, maar toe die ou man aankondig dat hulle nou die bakkie gaan neem om na die lemoenboorde te gaan kyk, probeer sy keer.
“My knie en enkel is bietjie moeg, Vadie.”
“Nou wat gaan tuimel jy die trappe af in daardie Meintjies-vroumens se huis?” vra die ou man ergerlik. “Dit lyk my die stadslewe het jou sag gemaak, Daniela. In die ou dae was jy soos ’n ribbok. Jy sou nie oor jou voete geval het om byna jou nek te breek nie. Maar … e …” Hy knipoog en kyk afwagtend na Ila. “Ek kan verstaan dat jy nie brand om agter die stuur van die bakkie in te skuif nie. Maar wat as ek voorstel ons ry met die Jaguar?”
Ila lag. “Ek het die Jaguar lankal uitgetoets. My arm is te seer dat ek hom kon bestuur, maar ek het die masjien laat vuur en my verbeel ek sit agter sy stuur op Kyalami. Dis ’n vinnige perd wat Vader daar het – baie woema onder daardie kap.”
Die ou man is opeens bewoë. “Jy was altyd so lief vir daardie lawwe uitdrukking. Nou eers begin ek werklik besef jy het huis toe gekom, Daniela. Maar jy lyk moeg en gespanne, my kind. En jy het maer geword. Was jy ongelukkig in Johannesburg?”
“Ja, ek was ongelukkig,” antwoord Ila sag. “Ek het na u verlang. Ek het geskryf, maar nooit antwoord gekry nie. Toe … toe het ek besef u is baie kwaad vir my, u wil my nie meer op Rietendal hê nie. En toe … toe het ek maar ’n nuwe lewe in Johannesburg begin.”
“Geskryf?” Die ou man se kop ruk op. “Ek het geen brief van jou ontvang nie.”
Dit was die pyn in die ou man se oë wat Ila laat praat het voordat sy gedink het. Sy besef te laat sy moes niks van briewe gesê het nie. Martin het nie gemeld dat Daniela aan haar pa geskryf het nie. Sy het sake nou onnodig ingewikkeld gemaak. Dis egter te laat om haar woorde terug te trek. Sy moet nou deurdruk en net hoop die ou man vra nie vir Martin wat van daardie briewe geword het nie.
“Ek het twee keer geskryf,” verduidelik sy ongemaklik. “Die eerste keer om die … die … argument wat ons gehad het duideliker toe te lig, en die tweede brief was net om te sê dit gaan goed en u met … u verjaarsdag geluk te wens.”
Die ou man lyk peinsend. “Dit blyk dat jou briewe onderskep is en … en ek dink ek weet wie daarvoor verantwoordelik was.”
Daarop het Ila nie ’n antwoord nie. Sy is egter nog steeds bitter spyt dat sy so impulsief was om die ou man met twee briewe te probeer troos, te laat glo sy dogter het nie weggegaan en hom vyf jaar lank totaal vergeet nie, dat sy darem probeer verduidelik en sy verjaarsdag onthou het.
Daniel Niehaus is lank stil terwyl hy op sy kierie leun. Dis asof hy sy kragte moet versamel voordat hy met ’n growwe stem sê: “Ek het vyf jaar tyd gehad om die saak te bepeins en te wonder of dit mý skuld was dat jy weggeloop het. Moontlik moes ek jou geglo het daardie … daardie aand. Ek moes jou nie ’n histeriese vroumens met ’n te ryke verbeelding genoem het nie. Was jy baie verbitterd teenoor my, Daniela? Het jy my verwyt?”
Ila kan sien wat dit die trotse Daniel Niehaus gekos het om te erken dat hy miskien verkeerd was. Dis asof hy tien jaar ouer geword het, asof die oë weggesink lyk en die skraal figuur nog meer geboë is.
“Wat help dit om oor die verlede te praat?” vra Ila sag. “Wat verby is, is verby. Ons vergeet daarvan, Vader. Kom, ons moet ingaan. Dis koel en die wind is nie goed vir u nie.”
“Dis goed vir my, want hierdie wind gaan reën bring. Dis droog. Rietendal het reën nodig, Daniela …” Die ou man aarsel. Hy sluk ’n keer, begin dan weer. “Daniela, wat het jy vir Martin Keller gesê wat is die rede waarom jy na Rietendal toe teruggekom het?”
In haar gedagtes hoor Ila Martin se stem: “Hoewel ek die van Niehaus aangeneem het, is ek nie goed genoeg om Rietendal te kry nie, want vir die ou man sal ek altyd Martin Keller bly – ’n indringer, ’n parasiet, ’n vreemdeling, die stiefseun met die uitlandse naam …” Sy het gedink Martin oordryf, maar nou sien sy dit was nie die geval nie. Vir hierdie man sal sy stiefseun altyd ’n Keller bly, nooit ’n volwaardige Niehaus wees nie, nie goed genoeg om Rietendal te erf nie …
Ila se gedagtes is nog by Martin en sy kyk nie na die ou man nie toe sy antwoord. “Ek het gesê dis omdat ek na my pa verlang het en nie vroeër geweet het hy is siek nie.”
“Ja, liewer om mý ontwil. Dis beter so, my kind,” antwoord die ou man duister. Hy brei nie verder uit nie. “Martin het geglo daar het … iets met jou gebeur. Wat was sy reaksie toe hy jou sien? Was hy baie ontsteld? Dalk – nie bly nie?”
“Dit was vir Martin ’n skok,” antwoord Ila eerlik. “Hy was aanvanklik ontsteld, ja.”
“Ek kan dit glo. Het hy jou weer die hof probeer maak sedert jy terug is, jou weer gevra om met hom te trou, dalk homself weer aan jou … e … opgedring?”
Ila weet hulle is nou op gevaarlike terrein. Sy is nie seker watter antwoord om te gee, watter antwoord die arme ou man tevrede sal stel nie.
“Ons kan later oor hierdie dinge praat, Vadie. Dit lyk of die wolke begin saampak. Ons moet liewer in die huis gaan,” en Ila plaas haar arm om die geboë skouers.
Dis ’n bewys van die deernis wat Daniel Niehaus teenoor sy dogter voel dat hy nie oudergewoonte die helpende arm afskud en verklaar hy is nie ’n invalide nie en in staat om sonder hulp te stap nie.
Maar onder die frangipaniboom by die motorhuise steek die ou man vas, die fletsblou oë bekommerd en ’n dringende klank in sy stem
“Ek gaan vanaand vertroulik met Martin praat. Ek gaan vir hom sê dat ek in my testament Koedoeskloof en Bergsig aan hom bemaak, plus die Simmentaler-stoetery en genoeg kontant om van beide Koedoeskloof en Bergsig beter plase as Rietendal te maak. Maar ek is bang dis nie genoeg nie, Daniela. Martin is nou ouer, verstandiger en minder impulsief, maar bly uit sy pad, Daniela. Vermy hom. Sorg dat jy nooit alleen in sy geselskap is nie.”
Ila knik, hoewel sy nie seker is hoe sy die ou man moet verstaan nie.
“As ek nie by kan wees nie, sorg dat daar altyd ’n derde persoon by julle is. Ek het gedink dit sal goed wees om Sonja of Mercia te nooi om ’n ruk hier te kom kuier – of een van jou ander vriendinne.”
“Dis nie nodig nie, Vader,” antwoord Ila stil. “Ek is nie vir Martin bang nie. Ook ék is nou ouer as vyf jaar gelede. Ek is op my hoede en … en ek dink ek weet hoe om Martin te hanteer.”
Die ou man is egter nie tevrede nie. Hy lyk nog steeds bekommerd en daar is ’n strak trek om sy mond.
“Of … Ek wil nie my neus in jou privaatsake steek nie, Daniela. Jy kan my verwyt dat ek vyf jaar gelede nie genoeg belanggestel het nie en jou verstoot het. Ek weet ek het dit verdien. Ek het die reg verbeur om oor jou liefdesake uit te vra, maar … maar is daar nie dalk ’n goeie vriend in Johannesburg wat kan kom kuier om as ’n veilige buffer tussen jou en Martin Keller te dien nie?”
“Nee, Vader, daar is niemand nie. Maar ek het nie ’n kêrel nodig om my teen Martin te beskerm nie.”
“In vyf jaar … Het Martin jou so die skrik op die lyf gejaag dat jy nie meer in kêrels belangstel nie, my kind?”
Die ou man lyk opreg geïnteresseerd en nog steeds baie bekommerd. Ila weet dis die verkeerde ding om te sê, maar sy wil nie hê hy moet so ongelukkig lyk nie. “Daar is miskien … iemand,” erken sy.
“Ek is bly. Kan hierdie man nie op die plaas vir jou kom kuier nie?”
“Ek weet nie of hy genoeg belangstel nie, Vadie.”
So iets kan die ou man nie glo nie. Sy kind, sy pragtige Daniela, wat in die verlede net haar vingers kon klap om die kêrels soos ’n swerm bye na ’n heuningkoek aan te lok …
“Nou wat is dan met die vent verkeerd?” wil hy kwaad weet.
“Niks, Vader. Ek waardeer u lojaliteit en u vertroue in my, maar ek dink die fout lê by my.”
“Bog! Die man moet sy kop laat lees. Jy is ’n prys waaroor die kêrels sal vuisslaan.”
“Hy dink nie so nie, Vader,” sê Ila weemoedig.
“Nie? Nou wat dink die vent dan?”
“Hy dink ek is ’n … ’n goedkoop meisie. En as hy my beter leer ken en … en my volgende keer weer sien, sal hy nog minder van my dink.”
Daniel Niehaus is baie verontwaardig. Niemand moet sy dogter te na kom nie. Nadat hy die destydse rusie met Daniela oorpeins en na lang oorweging besluit het dat Daniela miskien reg kon wees oor die dinge waarvan sy haar stiefbroer beskuldig het, was hy baie verbitterd teenoor Martin. In sy redelose woede wou hy Martin van die plaas af wegjaag en agter tralies laat sit, maar dan was hy opnuut met vertwyfeling vervul. Dan het hy gewonder of Daniela nie dalk Martin se houding verkeerd vertolk het nie. Martin was verlief op Daniela. Hy wou met haar trou. Hy sou nie iets gedoen het om die verhouding tussen hulle te vertroebel nie.
En in sy vertwyfeling het Daniel Niehaus sy belofte aan Christa onthou. Christa Keller, wat moeilike dae geken het, siek was, wat sulke hartseer oë gehad het, wat so bekommerd oor haar seun was … Hy het haar belowe: “Ek sal mooi vir jou kind sorg. Ek sal goed wees vir Martin.” Dan het sy hart week geword. Dan het hy geweet – ondanks alles wat gebeur het, kan hy nie sy belofte aan ’n sterwende vrou verbreek nie. Sy was … siek en Martin aard miskien na sy moeder …
Soms ook, wanneer hy snags wakker gelê en met sy selfverwyt geworstel het, het hy gewonder of Daniela haar nie dalk met Martin se bedoelings kon misgis het nie. Sy was jong en onervare, skaars agtien jaar oud. Sy het moontlik oorhaastige gevolgtrekkings gemaak, sonder dat sy genoegsame rede daartoe gehad het of, soos hy daardie aand vir haar gesê het, het aan ’n te ryke verbeelding gely en ’n grondige rede gesoek om nie met Martin te trou nie. Sy was nie verlief op haar stiefbroer nie. Sy wou nie met hom trou nie. Sy het haar pa daarvan beskuldig dat Rietendal belangriker is as sy eie dogter, en sy kon so ’n storie uit haar duim gesuig het om Martin in onguns te bring sodat haar pa nie meer sou wou hê dat sy met hom moes trou nie.
Die sielewroeging wat hy deurgemaak het, en die vertwyfeling of hy Daniela dalk verontreg het, het hulle merk op Daniel Niehaus gelaat. Hy het in vyf jaar oud geword. Sy gesondheid is geknak. Sy hart is gedaan en as sy tyd aangebreek het, sal hy tevrede wees om te gaan. Maar eers wou hy Daniela weer sien, al sou dit dan ook vir die laaste maal wees. Hy wou haar sien en weet sy is gelukkig; dan sou hy tevrede wees.
En ja, dit is hom gegun om sy dogter weer in hierdie lewe te sien. Daniela het huis toe gekom. Maar sy is nie gelukkig nie. En hoe kan hy haar alleen agterlaat tensy hy weet daar is ’n man wat haar liefde beantwoord, wat haar sal beskerm en na haar omsien?
“Wat bedoel jy met daardie geheimsinnige woorde?” wil Daniel Niehaus weet. “Die vent dink jy is ’n slegte meisie en as hy jou volgende keer weer sien, sal hy minder van jou dink?”
“Ek kan nie verduidelik nie, Vader. Ek het reeds te veel gesê. Kom ons vergeet daarvan.”
“Het jy hierdie man lief, Daniela?” hou die ou man vol.
Die blos op Ila se wange en die wyse waarop sy haar oë neerslaan, is vir hom genoegsame antwoord.
“Wie is hierdie vent? Ek wil hom ’n ding of twee gaan vertel. Waar woon hierdie onnosele en stiksiende dwaas?”
Onder ander omstandighede sou Ila miskien geamuseerd gewees het omdat die ou man dokter Retief dieselfde name noem as wat hy háár genoem het. Nou voel sy egter te hartseer omdat hy blykbaar van haar bestaan vergeet het. Agt dae lank het sy bly hoop Johan Retief sou weer met haar kontak maak, maar die telefoon op haar bedkassie het nooit gelui nie. Suster Badenhorst het seker vir hom gesê dat ’n juffrou Verster na hom gesoek het, maar hy het nie die moeite gedoen om haar terug te skakel nie. Hy het blykbaar ook vergeet van die dringende boodskap wat hy vir haar by die Alexander gelaat het. Of dit het nie meer saak gemaak nie.
Daniela se pa sien dat die kêrel se gebrek aan belangstelling ’n pynlike onderwerp is wat sy nie verder wil bespreek nie.
“Sal ons weer na die nuwe vuurwa gaan kyk?” stel hy voor, maar frons toe hy fyn tjankgeluide uit die motorhuis hoor. “Wie was so agterlosig om Snuffels in die garage toe te maak? Is dit Martin? Gisteraand het hy weer die arme hond in die melkery toegesluit. Wat is dit met hom dat hy so ingedagte is?”
“Nee, ek dink dit was ek,” sê Ila vinnig. “Ek was vanoggend in die motorhuis, en ek het nie gesien Snuffels kom agter my aan nie.” Martin is iewers in die huis, weet Ila. Hy is nie naby nie. Wat gaan sy doen as die ou man sê sy moet die rifrug laat uitkom?
“Die hond het oor jou getreur, Daniela. Na jy weg is, wou hy nie eet of drink nie. Een dag het hy sommer net weggeraak. Ek dink hy het na jou gaan soek. Maar na ’n week was hy terug – sonder jou.”
Die plukkers is in die Valencia-boorde besig, maar Martin het vir sy stiefpa gesê hy het dringende boekhouwerk wat hy tuis moet afhandel. Hy wou naby wees indien Ila dalk sy hulp nodig kry. Hier, waar hy by die sitkamervenster skuil en tevergeefs probeer afluister het waaroor Ila en sy stiefpa praat, hoor hy die gegrom en getjank vanuit die motorhuis. Hy weet ’n krisis het opgeduik en hy besef Ila se dilemma. Dekselse brak, dink hy ergerlik. Pleks dat hy die hond ’n dosis arseen ingejaag het voordat hy hom in die motorhuis toegesluit het.
Martin sien dat die ou man na die motorhuisdeure beduie. Hy sê blykbaar vir Ila om oop te maak en die hond uit te laat. Martin weet daar is nie tyd om te verspeel nie. Hy kom regop van agter die gordyne, gooi die sitkamervenster oop en roep: “Daniela, telefoon! Sonja wil met jou praat.”
Ila het gehoop dat Martin haar en Daniel Niehaus van iewers sou dophou. Hy het haar probleem besef en vinnig tot haar redding gekom.
“Verskoon my, Vadie, Sonja het seker by oom Kassie gehoor ek is terug,” sê Ila toe sy verlig omdraai.
Martin wag vir Ila in die gang. “Is daar regtig ’n oproep vir my?” vra sy.
“Nee, natuurlik nie. Ek was net bang die oukêrel kom agter dat jy doodbang vir die hond is en raak agterdogtig. Waaroor het julle so baie gepraat? Ek het probeer afluister, maar ek kon geen woord uitmaak nie.”
“Ons het meesal oor die Jaguar gepraat, en oor Daniela se Volkswagen. Ek het gesê dat ek platsak was en dit verkoop het.”
“Het jy nie dom flaters begaan toe julle oor masjiene en motors gepraat het nie?”
“Ek hoop nie so nie. Ek het gesê die vuurwa het baie woema, en al die dinge bygevoeg wat ek in daardie motortydskrifte gelees het.”
“Woema … Ek het daardie gunstelingwoord van Daniela al vergeet. Sy het dit tot vervelens toe …” Martin bly skielik stil. Hy verstyf en daar is ’n eienaardige flikkering in sy blou oë. “Hoe het jy van daardie woord geweet?”
“Jy het dit vir my geleer. Jy het seker net vergeet. Ek sal jou gaan wys dit staan in my aantekeninge onder die opskrif ‘Taalgebruik en gewoontes’. Jy het gesê Daniela het altyd van woema gepraat, en van al die perde onder ’n masjienkap. En sy het die gewoonte gehad om die kap altyd met haar elmboë toe te knip om nie vingermerke op die bakwerk te laat kom nie. Sy was altyd daarop gesteld dat ’n motor moet blink.”
Martin haal sy skouers op. “Ja, ek het seker net vergeet dat ek daardie woordjie vir jou geleer het. Dit was seker in my onderbewussyn, en ek het dit vir jou gesê sonder dat ek dit besef het. Dis nie belangrik nie.” Hy buk vooroor om ’n soentjie op Ila se mond te druk. “Moenie soos ’n vasgekeerde wildsbokkie lyk nie, liefste. Ek staan nie met ’n haelgeweer in my hande nie. Dit was ook nie nodig om jou huiswerk soos ’n resitasie op te sê nie. Dis nie dat ek jou wantrou of nog steeds dink jy is dalk Daniela nie. Dis omdat ek onder druk verkeer en bang is ons plan misluk. Vergewe my as dit voorgekom het of ek jou probeer uitvang. Moenie vir my kwaad wees nie, astertjie.”
“Ek is nie kwaad nie, Martin. Ek weet dit was nie jou bedoeling om my uit te vang nie. Maar net soos jy, is ek ook onder druk en dalk onnodig sensitief. Ek was bang ek het die woord verkeerd onthou of ’n ding gesê wat jy my nie geleer het nie.”
Martin streel oor Ila se hare, gee haar ’n laaste soentjie en wil dan weet: “Het die oubaas oor die rusie tussen hom en Daniela gepraat?”
“Nie veel nie. Hy het net kortliks daarna verwys en verskoning gevra as hy dalk bietjie humeurig was.”
Martin verstyf. Daardie spiertjie pluk-pluk weer aan sy mondhoek en hy vra gespanne: “Humeurig? Het hy gesê waaroor hy vir Daniela kwaad was? Oor … e … iets wat sy hom miskien van my vertel het?”
“Ek het nie mooi verstaan nie, maar Daniela se pa was blykbaar kwaad omdat sy nie met jou wou trou nie.”
“Dis al?”
“Ja, dis al. Daniela se pa het geweet jy sou vir haar ’n goeie man gewees het en dat jy die plaas goed sou bestuur as sy dit sou erf.”
“Het hy gesê hoekom Daniela nie met my wou trou nie?”
“Ja, dit was omdat sy jou nie liefgehad het nie en gevoel het agtien is nog te jonk om al aan ’n man gebonde te wees.”
“Was dit al rede wat Daniela genoem het?”
“Dis al rede, ja. Watter ander rede kon daar gewees het?”
“Niks waarvan ek weet nie. Het die oubaas iets gesê dat ek en Daniela die middag tevore gaan bergklim het?”
“Nee. Het julle? Jy het my nie gesê nie. Jy het gesê dat Daniela die dag voor sy weg is baie afsydig was, dat sy niks met jou te doen wou hê nie. Jy moenie dinge vir my verswyg nie, Martin, anders begaan ek dalk ’n flater wat my verraai.”
“Ek steek niks vir jou weg nie. Ek het nie gedink dis nodig dat jy van die bergklimmery weet nie. Dis nie belangrik nie. Die ou man weet blykbaar ook nie daarvan nie.”
Martin merk nie dat Ila hom onderlangs dophou nie. Hy blaas sy asem verlig uit en hy dink: So, vyf jaar se bekommernis was verniet. Daniela het niks gesê nie. Die ou man weet nie wat daardie middag by die kloof gebeur het nie.
“Oppas, die oukêrel is by die voorstoep,” waarsku Martin. “Gaan in die studeerkamer en maak of jy met Sonja praat. Onthou, sy is oom Kassie van Wyk se jongste dogter. Sê vir die ou man sy het gebel om te hoor of sy kan kom tennis speel.”
Ila knik. Sy draai weg, maar toe sy met die gang opstap, roep Martin haar met ’n dringende fluisterstem terug. “Dis die verkeerde kant toe! Jy loop nou kombuis toe. Die studeerkamer is mos regs met die gang af.”
“Jammer,” mompel Ila onderlangs terwyl sy haastig omdraai. Sy is net betyds. Toe sy die studeerkamer se deur saggies agter haar toestoot, kom Daniel Niehaus by die voordeur in.