Читать книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman - Страница 9

6

Оглавление

Dit het minder as twee weke geduur. Op die agste dag verklaar Martin dat Ila meer soos Daniela is as wat Daniela self was.

“Hoekom dit nog ’n week uitstel? Ek dink jy is reg om volgende Sondag Rietendal toe te gaan.”

Ila skrik. Sy byt haar onderlip senuweeagtig vas.

“Miskien is jy reg. Hoe gouer hoe beter, anders keil my senuwees my te veel op. Maar ek is so bang ek begaan ’n flater wat my verraai. Vra my nog ’n klomp vrae – sommer deurmekaar – om seker te maak ek het my huiswerk deeglik gedoen.”

“Beskryf die kombuis, die sit- en eetkamer, die ou man se slaapkamer en jou eie …”

En: “Hoeveel trappe het die wenteltrap? Hoe diep is die swembad? Wanneer is die tennisbaan aangelê? Watter soort bome staan aan die noordekant van die huis? Waar is die badkamers geleë …?”

En: “Wie was jou onderwyser op skool? Wie het Afrikaans doseer? Wat was jou geskiedenisonderwyser se bynaam? Wie was ou Brilletjies?”

En: “Wat was jou ma se name? Jou stiefma s’n? Die kleur van hulle hare en oë? Watter een van die twee was bang vir donderweer en spinnekoppe? Wanneer is jou verjaarsdag? Jou pa en ma s’n? Myne …?”

En: “Die dag toe die oukêrel vir jou die Volkswagen gekoop het – wat was jou reaksie? Hoeveel perdekrag het die motor gehad …?”

En: “Beskryf vir Mieta. Hoe het sy jou altyd genoem? Hoekom kon sy Snuffels nie verdra nie? Vertel my wat het gebeur toe jou kat die roomkoek opgeëet het …”

Die vrae is kort na mekaar en soos geweerskote afgevuur. Op almal antwoord Ila korrek, sonder huiwering en sonder om haar notas te raadpleeg.

“Wat was jou kat se naam?” wil Martin oplaas weet.

“Watter een?”

“Die Siamese een.”

“Daniela het nooit ’n Siamese kat gehad nie.”

“Mooi. Ek kan jou nie eers uitvang nie. Goed, die gemmerkat …”

“Floors.”

“Hoekom het jy hom daardie naam gegee?”

“Daniela het gesê hy is sommer ’n dom kat – ’n regte Floors.”

“Watter soort hond is Snuffels?”

“ ’n Rifrug. Oom Daniel het die hond met haar sestiende verjaarsdag vir Daniela gegee – met ’n blou strik om sy nek.”

“Korrek. Jy is ’n uitstekende leerling. Maar ek dink jy moet afleer om van Daniela en oom Daniel te praat. Leef jouself so in jou rol in dat jy van ‘ek’ en van ‘Vader’ praat, of liewer Vadie, soos sy hom altyd genoem het. Is dit al teetyd? Sal ek vir ons ’n skinkbord tee na jou kamer toe bestel?”

Martin keer Ila toe sy haar koppie optel om haar tee te drink.

“Nee, onthou, Daniela het altyd suiker in haar tee gegooi – twee lepels vol.”

“Soet tee maak my naar.”

“Jy sal daaraan moet gewoond raak, skatlam. Twee lepels suiker in daardie koppie tee, en roer dit …”

“Kon sy nie intussen …”

“Nie sý nie – ek. Probeer dit aanleer en nou reeds oefen.”

“Goed, ék kan. Kon ek nie intussen opgehou het om suiker in my koffie en tee te drink nie? Miskien sodat ek nie moet vet word nie.”

“Jy het jou nooit oor jou figuur bekommer nie. Jy was van nature skraal gebou.”

“Goed, dan sal ek seker maar aan soet tee en koffie moet gewoond raak. Martin, is jy seker oom Daniel … e … my vader sal bly wees om my te sien? Is hy nie nog kwaad en verbitterd nie?”

Martin was besig om die velle papier te bestudeer waarop Ila Daniela se handskrif geoefen het. Hy knik goedkeurend en kyk dan op.

“Ek verseker jou die ou man sal ’n gemeste kalf slag, skatlam.”

“Moenie my skatlam en liefste noem nie.”

“Hoekom nie? Dis wat ek Daniela in die verlede genoem het. Ek sal jou graag méér wil noem, as jy my dit sal toelaat. Het ek al vir jou gesê ek dink ek is geleidelik besig om op jou verlief te raak, skatlam?”

“Ja, jy het – omtrent gemiddeld nege-en-sestig keer per dag. Moenie verspot wees en dit vir my nog moeiliker maak nie, Martin.”

“Verspot?” Martin lyk afgehaal. “Ek sê vir die nooientjie ek het haar lief, en sy sê ek moenie verspot wees nie. Hoekom is jy so onromanties, my liefste?”

“Ons twee is slegs vennote, onthou? Moet niks meer van my verwag nie.”

“Hoekom nie? As die ou man omkap, is ek nie so ’n slegte proposisie om mee te trou nie, weet jy? Aantreklike jong boer, skatlam, sjarmant, verstaan die kuns om ’n dame te hanteer …”

“Ek sou meer van jou gehou het as jy beskeie was, en stil; skaam en teruggetrokke.”

“En brandarm?” vra hy sag en insinuerend.

Ila kyk vinnig na Martin, dan laat sy haar oë sak.

“Ons twee is voëls van eenderse vere,” sê Martin. “Jy kan maar stry, dit help nie. Ek weet hoe belangrik geld vir jou is. Hoekom anders het jy ingestem om jou as Daniela voor te doen? Ek sluk nie heeltemal daardie sentimentele storietjie dat dit uit jammerte vir die oukêrel is nie. Nee, ek dink die trekpleister was daardie vyf-en-dertigduisend rand waarvoor jy my geruk het.”

“Dis jý wat die bykomende vyfduisend rand aangebied het.”

“Slegs omdat jy nog steeds huiwerig was om in te stem. Ek dink dit was jou idee, my skat, om soveel geld moontlik uit die maskerade te maak. Is ek reg?”

Ila ignoreer die vraag. Dit sal nie deug om met Martin rusie te maak nie. Sy besluit om die onderwerp te verander.

“Is jy seker oom Daniel … my pa … het my vergewe? Wie sê hy sal my nie die deur wys as ek Sondag op Rietendal aankom nie?”

“Ek sê mos, ek het hom al twee keer in daardie rigting gepols. Dit sal sy blyste dag wees as jy by die voordeur instap. Ou Mieta sal jou kop deeglik was, maar die ou man sal jou met ope arms verwelkom. Dit sal nie eers vir hom ’n vreeslike skok wees om jou te sien nie. Hy het mos nooit geglo jy was op daardie Boeing nie en hy wag dat jy moet terugkom.”

“Ek dink nietemin jy moet hom voorberei op my koms. Hy is oud. Dit mag dalk te veel vir hom wees as ek onverwags daar opdaag.”

“Ons hou by ons oorspronklike plan, behalwe dat ons die telefoonoproep ’n paar dae vervroeg. Ons verander dit na Saterdagaand. Ek sal Saterdagaand voorgee dat jy uit die bloute geskakel het om te sê jy is op Nelspruit en ek moet jou gaan haal. Moenie bekommerd wees nie. Ek kan goed toneel speel – amper so goed soos jy. Ek sal vreeslik geskok en verdwaas lyk, en my hande sal bewe … Die ou man sal niks vermoed nie. Hy sal te opgewonde wees om veel op mý te let. Hoe laat Sondag moet ek jou kom oplaai? Agtuur die oggend?”

“Dis bietjie vroeg. Onthou, dit gaan vir my ’n lang en uitputtende dag wees.”

“Die ou man sal wil hê ek moet voor dagbreek al ry. As die son opkom, sal hy al op die voorstoep vir jou sit en wag. Gelukkig sal dit nie elke dag se ding wees nie. Die afgelope tyd slaap hy laat en is hy saans saam met die hoenders in die bed. Soms rus hy ook in die middae, as hy hartkloppings kry. Hy sal nie tyd hê om jou baie te pla nie. Maar … e … Ila, net om aan die veilige kant te bly … Ek wil nie vir jou voorskryf nie. Maar … e … ek dink jy moet alles baie diep wegsteek wat jou aan Elizabeth Verster koppel.”

Ila voel nog steeds gegrief omdat Martin Niehaus daardie eerste aand in haar handsak gekrap het. Sy wens sy was in ’n posisie om hom daaroor uit te trap – daaroor en oor die keer toe hy haar op die hotel se stoep in sy arms geneem het. Hoekom moes dit toevallig juis wees toe dokter Retief daar verbygestap het? Johan Retief het die afgelope week niks van hom laat hoor nie. Die boodskap dat sy hom moes bel, was blykbaar nie dringend nie, want hy het nie teruggeskakel nie. En suster Badenhorst sou tog seker vir hom gesê het daar was ’n dame wat na hom gesoek het …

Ila erken nie dat sy weet Martin verwys na die sigaret­aansteker, die beursie, boek, briewe en ander persoonlike besittings wat in haar handsak was nie.

“Ja, ek sal alles wat my enigsins kan verraai, diep onder in ’n laai wegsteek – ook hierdie notas oor Daniela wat jy opgestel het.”

“Dis beter dat jy die aantekeninge vernietig.”

“Nee, ek kry hulle dalk nodig as ek iets vergeet het. Gaan ons regtig Sondag ’n verband om my regterarm draai?”

“Ja, anders raak die oukêrel agterdogtig as jy nie onmiddellik al die voertuie op die plaas uittoets nie. Hoe ver is jy met daardie tydskrifte oor motorwerktuigkunde wat ek vir jou gekoop het?”

“Ek het almal deurgelees, maar ek verstaan niks van suiers en silinders en vonkproppe en al daardie goeters nie. Daniela kon mos intussen ’n dame geword het, wat meer in mooi klere en haarstyle en grimering belangstel as in motorkarre.”

“Nee, nie sý nie. As jy kan, hou die gesprekke weg van motors, anders gaan jy vasbrand. Ek het vergeet om jou te vra: het jy, afgesien van Alta Smit, intussen al ander bekendes raakgeloop?”

“Ek weet nie. As daar was, het ek hulle nie herken nie. Daar was wel ’n paar mense wat my gegroet en gevra het hoe dit gaan.”

“En wat het jy gedoen?”

“O, maar gemaak soos met Alta Smit – saam gesels, maar hulle al die praatwerk laat doen. Ek het gedink dis veiliger. Wie is oom Kassie van … van Zyl of van Wyk, dink ek? Ek kan nie onthou nie.”

“Oom Kassie van Wyk. Jy behoort die naam te ken. Dis in jou notas onder die afdeling ‘Bure en vriende’. Die Van Wyks boer op Van Wyksrus, ons buurplaas. Wat het die ou oom jou gevra?”

“Ag, net hoe dit gaan, en gesê hy is om my pa se ontwil bly dat ek terug is. Weet almal van die rusie wat Daniela en haar pa gehad het?”

“Ek glo nie. Die ou man het voorgegee jy is oorsee en toe het jy besluit om ’n paar jaar in die stad te werk om ervaring op te doen. Waar jy moontlik kan, hou by die waarheid. Vertel vir die ou man jy was in Johannesburg en jy het vir Maria Meintjies gewerk, ensovoorts. Dit kon ook met Daniela die geval gewees het.”

“Ja, ek het ook so gedink. Is jy nie bang jou pa vind uit dat ek onder die naam van Elizabeth Verster by die hotel geregistreer is nie?”

“Die ou man kom nooit op die dorp nie. Hy sal nie uitvind nie. Wie het jy ontmoet wat jou as Elizabeth Verster sal herken?”

“Net … net dokter Retief en ’n paar verpleegsters.”

“Ja, dis jammer. Ons sal met Johan ’n plan moet maak; hom dalk in die geheim inlaat en hom ’n deel van die winste aanbied.”

“Hy sal nooit omkoopgeld aanvaar nie.”

Martin se wenkbroue lig verbaas. “En hoe weet jý, skatlam? Elke man het ’n prys. Johan Retief ook. Ek sal sy stil­swye koop.”

Ek is nie so seker dáárvan nie, Martin Niehaus, dink Ila. Sy sien egter ook dat dokter Retief probleme mag skep. Nie wat haar dubbelspel betref nie. Hy sal weet watter skok dit vir sy pasiënt sal wees as hy uitvind dis ’n vreemde meisie in plaas van sy eie dogter. Nee, dokter Retief sal haar nie verklap nie. Maar wat sal hy daarvan dink dat sy haar as iemand anders voordoen om geld uit die maskerade te maak? Ila weet Johan Retief sal haar verag. Hy sal nóg ’n veel laer dunk van haar hê as wat op die oomblik die geval is. Hoe gaan sy verduidelik? Hoe gaan sy verhinder dat Johan haar verafsku en dink sy is ’n materialistiese en goedkoop flerrie?

“En nou?” vra Martin. “Wat lyk jy so bekommerd, meisie? Het jy aan iets gedink wat ek vergeet het?”

Nie vergeet nie, dink Ila – nie gewéét nie. Martin weet nie dat sy met die eerste oogopslag halsoorkop verlief geraak het op die aantreklike swartkop-dokter wat niks met haar te doen wil hê nie. Dis ’n brokkie inligting wat sy liewer moet verswyg. Martin hou vol dat hy ’n gevoel vir haar ontwikkel het. Dis moontlik, aangesien sy hom aan Daniela herinner en hy blykbaar ’n voorliefde vir blondines het. Dog Ila weet nie of hy regtig besig is om op haar verlief te raak en of hy toneel speel net om haar goeie gesindheid te behou en te keer dat sy kop uittrek nie. Soos sake nou staan, is dit reeds ingewikkeld genoeg, sonder dat sy erken sy het ’n ander man lief en Martin sodoende dalk jaloers maak. Soos sy reeds uit eie ondervinding geleer het, is Martin Niehaus nie ’n man wat ’n mens moet kwaad maak nie. Hy is ’n onvoorspelbare man, veral as dit by sake van die hart kom … Dan moet ’n mens versigtig wees om hom nie vyandig te stem nie.

“Bekommer jy jou omdat jy nie geweet het wie oom Kassie van Wyk is nie?” vra Martin. “Miskien moet ons weer die lys bure, huisvriende en familie deurgaan. Wie is Sonja en Mercia?”

“Oom Kassie se twee dogters wat soms op Rietendal kom tennis speel het. Martin, ek is nie sportief aangelê nie. As jou pa my op die tennisbaan sien, sal hy dadelik weet ek is nie Daniela nie.”

“Nog ’n rede waarom ons daardie verband om jou arm gaan draai.”

“Kan my arm máánde lank seer bly?”

“Jy het hom sleg verstuit toe jy in jou werkgeefster se huis van die trap afgeval het. So iets neem lank om te genees. Ek beskou dit nie as ’n probleem nie. My grootste bekommernis is Johan Retief.”

Myne ook, dink Ila. Sy wil nie hê dat Johan Retief haar as ’n materialistiese klein flerrie moet verag nie. Dit maak baie saak wat hy van haar dink. Dis bitter jammer dat hy haar as Elizabeth Verster leer ken het. Was dit nie vir die ongeluk nie, kon sy haar van die begin af as Daniela Niehaus aan hom voorgestel het. As hy haar die eerste keer op Rietendal ontmoet het, was daar geen probleme nie. Maar nou ken hy haar reeds as Elizabeth … Al raad wat Ila kan sien, is om hom te probeer oortuig sy is regtig Daniela. Maar sal hy haar glo? Hy sal wil weet waarom sy haar dan aanvanklik as iemand anders voorgedoen het en hy sal dink sy vertel ’n klomp leuens. Of, as sy hard genoeg probeer en sy simpatie probeer wen, sal sy aan hom kan bewys sy is werklik die vervreemde dogter wat berou gekry het, wat na haar vader verlang het en hom tot elke prys weer wou sien?

“Wat is dit, Ila?” vra Martin fronsend. “Hoekom lyk jy elke keer so ingedagte as ons van Johan praat?”

“Ek … e …” Ila kan nie dadelik aan ’n antwoord dink nie. Sy het nie agtergekom Martin hou haar dop nie. “Ek …e … is bang hy kom agter my arm is nie regtig verstuit nie. Onthou, hy is ’n dokter.”

“Hy sal niks kan bewys nie en ek sal ’n plan uitdink om hom tevrede te stel. Ons twee sit ongelukkig nie langs dieselfde vuur nie, maar moenie jou oor daardie snuiter van ’n perdedoktertjie bekommer nie. Ek sal hom hanteer. Ons laat die bure en vriende vir môre. Beskryf vir my die buitegeboue op die plaas, en veral die motorhuise.”

Ila raadpleeg vlugtig haar aantekeninge en die skets van die werf, dan begin sy soos ’n resitasie voordra:

“Die grondpad van die hek gaan oor ’n brug en kronkel dan onder ’n laning seringbome verby tot by die vier motorhuise. By die eerste een staan ’n reuse-frangipaniboom. Rooskleurig. Geplant deur Daniela se oupa. Die motorhuise is al vier witgepleister, met twee trapgewels aan weerskante en ’n grasdak …”

Ettie Bierman Keur 9

Подняться наверх