Читать книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman - Страница 12

9

Оглавление

Ila was in die kombuis, waar sy en Mieta soetkoekies gebak het. ’n Paar keer in die loop van die middag het sy die veraf rammeling van donderweer gehoor, en toe daar weer ’n dreuning in die lug is, slaan sy nie veel ag daarop nie, behalwe om senuweeagtig van die oop vensters af pad te gee. Sy steek die laaste pan in die oond en stap dan met twee koppies tee voorstoep toe, waar Daniel Niehaus in sy rystoel sit.

“Vadie, ek het …” Ila bly verskrik stil. Sy het nie besef hierdie dreuning was anders nie – hierdie keer is dit ’n motor en nie die weer nie. Wat nou? dink sy paniekbevange. Omdraai en wegvlug? ’n Verskoning uitdink om die huis in te hardloop? Sy het gehoop om hom die eerste keer dalk alleen te kry sodat sy kan verduidelik hoe dit gebeur het dat Elizabeth Verster skielik Daniela Niehaus geword het. Sy het gehoop daar sal kans wees om eers gou met hom te praat, te verduidelik … Maar nou is dit te laat. Hy het reeds onder die frangipaniboom stilgehou en enige oomblik gaan hy uit sy motor klim en na die voorstoep toe stap …

Johan Retief het oom Kassie van Wyk se voorman op die buurplaas besoek en gedink hy sal by oom Daniel inloer aangesien hy in die omgewing is en sodoende ’n ekstra rit spaar. Hy het verwag dit sou ’n gewone roetine-besoek wees om die pasiënt se bloeddruk te toets, na sy hart te luister en moontlik bykomende kalmeerpille voor te skryf. Nie in sy wildste drome het Johan verwag om Elizabeth op Rietendal aan te tref nie. Hy kan sy oë nie glo toe hy die fyn blonde meisietjie met ’n skinkbord in haar hande by die voordeur sien uitkom nie.

Johan voel soos ’n klein seuntjie wat by ’n Kersboom staan en tussen al die liggies die geskenk sien wat hy al so lank begeer. Hy wil uit sy motor spring. Hy wil na Elizabeth toe hardloop en sy arms om haar nek gooi. Hy wil vir haar sê hy het al begin vrees sy is nie meer op Nelspruit nie, want hy het haar nêrens raakgeloop nie en die Hotel Alexander sê sy het geen adres gelaat nie.

Maar Johan doen geeneen van hierdie dinge wat sy uitbundige hart aanbeveel nie. Sy verstand het oorgeneem en dié vra wat Elizabeth op Rietendal soek. Al antwoord wat Johan kan vind, is dat sy Martin Niehaus se gas is. Dis te verstane, besef hy. Hy moes so iets te wagte gewees het. Hy het mos geweet, nadat hy hulle twee daardie dag by die Alexander gesien het, dat Elizabeth en Martin op intieme voet verkeer. Daardie prentjie van Elizabeth in Martin se arms het hy uit sy herinneringe probeer verban. Nou kan hy egter nie langer van die waarheid wegvlug nie. Nou moet hy dit erken: Elizabeth het ’n ander man lief. En Martin Niehaus nogal … Sy verdien ’n beter man as daardie inhalige en agterbakse vent met sy skynheilige gedienstigheid teenoor oom Daniel, sy aangepakte vriendelikheid teenoor sy stiefvader. Al wat Martin doen, is om die dae te tel totdat die ou man se laaste dag op aarde aangebreek het sodat hý die nuwe eienaar van Rietendal kan word. Tog jammer dat oom Daniel se eie dogter verdwyn het en blykbaar nie gaan terugkom nie …

Ila staan asof vasgenael. Haar bene voel lam en haar verstand voel afgestomp. Sy is nie in staat om die skinkbord neer te sit of ’n verskoning uit te dink waarom sy haar kombuis toe moet haas nie.

“Wat is dit, kind?” wil die ou man weet. “Is dit die weer wat jou ontstel? Jy het mos altyd al die gordyne toegetrek en die spieëls omgedraai as ’n donderstorm dreig. Toe maar, hierdie knaap is nog ver. Of dalk trek hy verby.”

“Ek het soetkoekies in die oond. Ek … ek dink hulle brand,” stamel Ila.

“Onsin. Ek ruik niks brand nie. Bly hierso. Ek wil jou aan dokter Retief voorstel. ’n Baie gawe jong man – beter as daardie stadskêreltjie van jou wat nie murg in sy pype het nie.”

“Nee, ek het hom reeds … ten minste, ek … e …” Ila weet nie wat sy wou gesê het nie. Sy kom ook nie verder nie. Johan Retief is reeds by die stoeptrappies en sy bly senuweeagtig stil.

“Môre, oom Daniel,” groet Johan beleef, dog sy oë is op die blonde meisie wat nog steeds met die skinkbord in haar hande staan. Hy het haar twee weke lank nie gesien nie en het al vergeet hoe mooi Elizabeth is. Vir die eerste keer merk hy die ry goue sproete oor haar parmantige wipneusie en die manier waarop die sagte, blonde hare in haar nek krul. Was sy afleiding dalk verkeerd? wonder Johan hoopvol. Is sy dalk oom Daniel se kuiergas? Of is sy miskien ’n familielid van die Niehaus-gesin – dié dat sy op Rietendal kuier? Johan wil net bly word, dan onthou hy: Mens omhels en soen nie ’n familielid so vurig soos wat Martin haar gesoen het nie.

“Vir wat staan jy soos ’n houtpop, Johan?” vra die ou man iesegrimmig. “Vat die skinkbord weg by Daniela sodat ek julle aan mekaar kan voorstel.”

Net die helfte van Johan se verstand registreer wat oom Daniel haar genoem het. Die ander helfte wonder nog hoekom Martin haar dan nie op die stasie gaan haal het nie aangesien sy nooi vir hom kom kuier het. Of het hulle mekaar eers later ontmoet, maar so gou op vriendskaplike voet verkeer dat hy die vrymoedigheid gehad het om haar te soen pas nadat hy haar ’n dag lank geken het? Elizabeth lyk na ’n ordentlike meisie. Sy is nie ’n klein flerrie wat …

Johan besef nou eers wat hy beveel is om te doen. Hy tree hoflik vorentoe om oom Daniel te gehoorsaam.

Toe hy die skinkbord by haar neem, raak sy hand toevallig aan Ila s’n. Sy ruk so vinnig weg dat Johan Retief byna die skinkbord laat val. Hy kyk ondersoekend na die hartvormige gesiggie. Hy kan nie verstaan hoekom Elizabeth so verskrik en vasgekeer lyk nie. Is sy bang vir hom? Hoekom lyk dit asof sy enige oomblik op die vlug gaan slaan?

Die ou man is onbewus van die onderstrominge in die atmosfeer, wat met net soveel elektrisiteit gelaai is as die donderstorm daar buite. Bottervingers en houtpoppe, dink hy ergerlik terwyl hy die twee jongmense aan mekaar voorstel. Hy wou gehad het hulle twee moet met die eerste oogopslag van mekaar hou, maar dit lyk nie of dit die geval gaan wees nie. Wat makeer Daniela dat sy haar gedra soos ’n standerdses-dogtertjie wat vir die eerste keer in haar lewe met ’n kêreltjie te doen kry? En Johan … Gewoonlik is hy so bedagsaam, maar dit lyk of hy vandag sy goeie maniere by die huis vergeet het.

Johan was op die punt om te sê hy ken mejuffrou Verster. Dan onthou hy egter dat die ou man haar netnou ook Daniela genoem het, en hy bly stil. Maar hy frons onbegrypend toe Elizabeth as Daniel Niehaus se lank verlore dogter aan hom voorgestel word. Daniela Niehaus … dink hy verbaas. Wat het van Elizabeth Verster geword? Dis nie dat sy oë hom bedrieg nie. Hierdie is een en dieselfde meisie as die een wat hy omgery het. Is hier iewers ’n misverstand?

“Aangename kennis,” stamel Ila, maar hy hoor haar nie. Hy merk egter die smeking in die mooi groot oë, hoewel hy nie verstaan wat dit is wat die meisie vir hom vra nie. Johan kan nie begryp hoekom hy onder die indruk was dat hierdie meisie se naam Elizabeth Verster is nie. Hy en die res van die hospitaalpersoneel het haar so genoem, en sy het hulle nie gekorrigeer nie. Hoekom nie? Is hier ’n gekonkel aan die gang – daarom dat die mooi, groen oë vra hy moet saamspeel? Doen hierdie meisie haar voor as iemand wat sy nie is nie?

“Hoe lyk jy so verbaas, dokter Retief?” Martin kom vinnig by die voordeur uitgestap, ’n joviale uitdrukking op sy gesig, maar sy oë waaksaam. “Is jy verbaas dat ’n lelike ou soos ek so ’n mooi suster kan hê? Sy is nie my eie suster nie, maar net my stiefsuster. Dis Daniela hierdie, wat uiteindelik die pad huis toe geken het. Ons is almal verheug om haar op Rietendal te hê, want ons het al begin vrees dat daar iets met arme Daniela gebeur het.”

Johan is verbaas oor Martin se onverwagte vriendelikheid. Gewoonlik ignoreer Martin Niehaus hom, vermy hom en maak hom uit die voete as hy aan Rietendal ’n besoek bring. Vanwaar vandag se ommeswaai in gesindheid? wonder Johan. Hy dink hy weet wat die rede daarvoor is. Afgesien van al sy ander karaktertrekke, is Martin Niehaus blykbaar ook jaloers en besitlik van geaardheid. Martin weet seker dat hy en hierdie meisie mekaar ken, en wil verhoed dat die vriendskap dalk verder vorder. Hy wil keer dat ’n ander man met sy nooi praat of miskien te vriendelik met haar is.

Martin Niehaus is verniet bang, dink Johan wrewelrig. Hy is geensins van plan om sy verhouding met Elizabeth of Daniela – of wat haar naam ook al is – op ’n stewiger grondslag te probeer plaas nie. Reeds daardie dag op die voorstoep van die Hotel Alexander het hy besluit om haar groen hartseer oë en haar hartvormige gesiggie te vergeet. Dit was slegs in ’n oomblik van swakheid dat hy haar later geskakel het toe hy by die hospitaal aangekom het. Tydens die telefoongesprek was die blondine nie baie vriendelik nie, en sy het ook nie moeite gedoen om hom terug te skakel toe hy ’n boodskap by haar hotel gelaat het nie. Suster Badenhorst het gesê nee, niemand het hom gebel nie, en beslis nie ’n juffrou Verster nie.

Nog iets wat Johan opval, is dat Martin Niehaus opgedaag het asof hy geroep is. Die blondine het soos ’n ver­skrikte hasie gelyk. Die oomblik toe Niehaus egter verskyn, het sy ontspan en verlig gelyk. Dit laat Johan dink – as hier ’n gekonkel is, het Niehaus iets daarmee te doen. Die blondine en Martin Niehaus is kop in een mus. Bedrieg hulle die ou man? Wil hulle hom om die bos lei en munt uit hom slaan? Of is sy werklik die lank verlore dogter wat huis toe gekom het? Maar dan weer eens: Hoekom haar eers as Elizabeth Verster voordoen? Nee, iets is hier nie pluis nie. Dis hoekom die groot, groen oë gesoebat het hy moet swyg, en dis hoekom Niehaus sy antipatie vergeet en die blondine kom help het.

Die Kersboom is nog daar, maar die liggies is almal uitgedoof, om Johan eensaam en teleurgesteld in die donker te laat.

Johan groet Martin kortaf. Hy ignoreer Ila en wend hom tot sy pasiënt. “Hoe gaan dit vandag, oom Daniel? Sal ek bietjie na die ou tikker luister?”

“Daar’s niks te luister nie. Hy tik beter as my Big Ben-wekker. Daniela se tuiskoms was goeie medisyne.”

“Dis gaaf, oom Daniel. Hoe lyk die bloeddruk?”

“Normaal. Ek voel perdfris. Daniela, sê Mieta moet nog ’n koppie tee vir Johan bring. En van daardie koek wat julle gebak het.”

Ila is dankbaar om te kan ontsnap. “Ek sal s-self nog tee gaan maak,” hakkel sy.

Ila is besig om die ketel aan te skakel toe Martin kort op haar hakke die kombuis binnekom.

“Was ek te laat?” wil hy bekommerd weet. “Het hy jou alreeds as Elizabeth aangespreek?”

“Dokter Retief en ek noem mekaar nie op ons voorname nie,” antwoord Ila sag.

“Nou goed, as juffrou Verster dan,” sê Martin ongeduldig. “Ek het nie sy motor hoor stilhou nie. Was ek te laat om te keer dat die ou man hoor ander mense ken jou as juffrou Verster?”

“Jy was betyds. Dankie dat jy my kom help het.”

“Daardie kwak … Hy kon ons kaarte lelik deurmekaar gekrap en al ons netjies geformuleerde planne laat misluk het. Het die ou man nie agtergekom Johan was verbaas om jou naam te hoor nie?”

Verbaas … Johan Retief was nie verbaas nie, dink Ila. Sy het daardie trek van minagting op sy gesig gesien. Hy verstaan nie mooi wat aan die gang is nie, maar hy weet iewers is ’n gekonkel en hy verag haar daarvoor.

“Nee. Ek sê mos nee. Wat torring en kerm jy so, Martin?”

“En nou?” vra Martin verbaas. “Hoekom is jy in so ’n slegte bui?”

“Martin, ek … ek wil kop uittrek. Ek is nie meer bereid om ’n leuenaar en ’n bedrieër te wees nie. Ek haat myself. Ek voel soos ’n skurk. Ek sien nie meer kans om my as Daniela voor te doen nie.”

“Sjuut, nie so hard nie,” waarsku Martin. “Ons is reeds halfpad. Ek het Koedoeskloof, Bergsig, die Simmentalers en ’n vet klomp kontantgeld. Ek kan jou helfte van die vyf-en-dertigduisend rand nou betaal as dit jou sal help om voort te gaan.”

“Ek wil nie jou geld hê nie. Ek sal in elk geval geen sent daarvan kan gebruik nie, want dit sal skandegeld wees. Mens kan jou eer en jou selfrespek nie met geld koop nie.”

Martin lyk peinsend, dan wil hy koel weet: “Het dokter Retief iets daarmee te doen dat jy skielik ’n gewete ontwikkel het?”

“Nee, natuurlik nie,” jok Ila. “En dis nie skielik nie. Ek wou van die begin af nie by jou gemene plan inval nie. Dis jy wat my omgepraat het. Maar nou wil ek kop uittrek.”

“Goed,” sê Martin kalm. “Ek sal jou nie weer probeer ompraat nie en ook nie keer nie. Skakel die ketel af en gaan sê vir die ou man jy is Elizabeth Verster, ’n wildvreemde meisie wat toevallig soos Daniela lyk en gedink het jy kan munt uit die transaksie slaan. Sê vir hom Daniela is dood, en sy sal nooit weer terugkom nie.”

Ila bly met haar hand op die elektriese skakelaar staan. Martin het gewen, besef sy. Hy is baie slim. Hy weet as sy so iets doen, sal die skok te veel vir die ou man se hart wees. En wat sal dit haar baat? Johan Retief sal nie meer van haar dink as sy skielik in hierdie laat stadium ’n eergevoel ontwikkel het en nie meer saam met Martin Niehaus wil konkel nie. Dokter Retief sal haar nog steeds verag, nog steeds niks met haar te doen wil hê nie.

Martin hou Ila dop, hoewel hy nie uitermatig bekommerd is nie. Ila se gesig is ’n spieël van wat in haar gedagtes omgaan. Reeds toe haar hand uitgegaan het om die ketel af te skakel, het hy geweet sy sal dit nie regtig doen nie. Daarvoor is sy te sag, te jammerhartig, te bang om die ou man seer te maak. Dis hierdie karaktertrek in Ila waarop hy van die begin af staatgemaak het. Dis hoe hy haar in die eerste plek omgepraat gekry het. Hy het daarop gehamer dat sy aan ’n sterwende ou man sielerus sal gee, dat Daniela se tuiskoms ’n eensame ou man gelukkig sal maak. Dit was Ila se jammerhartigheid wat die deurslag gegee het, veel meer as die vyf-en-dertigduisend rand wat hy belowe het om haar te betaal.

Ila skakel die ketel af. Sy stap egter nie voorstoep toe nie. Sy laat haar gesig in haar hande sak en begin huil. Toe Martin haar wil troos, stoot sy hom weg.

“Ek g-gaan kamer toe. Sal jy die tee maak?”

“Ek sal Mieta roep. Ek dink jy moet een van die ou man se kalmeerpilletjies drink, liefste. Jy het ’n noue ontkoming gehad en dit het jou ontstel. Drink ’n pilletjie, my skat.”

“Nee. Ek wil net in my kamer wees – al-alleen wees. En moenie my liefste noem nie.”

“Hoekom nie?” wil Martin weet. “As ’n man op ’n meisie verlief is, is dit die natuurlike aanspreekvorm. Hoekom mag ek jou nie so noem nie, my liefste?”

Dog Martin praat met homself. Ila het uit die kombuis gehardloop en hy hoor hoe sy haar kamerdeur agter haar toemaak.

Ila het langer as ’n uur op haar bed in die kamer gelê, haar kop onder die kussing ingedruk om haar snikke te demp. In die laatmiddagstilte kon sy hoor hoe die Simmentalers bulkend kraal toe kom. Daar was die klank van hoenders wat slaapplek vir die nag soek, en een keer het die rifrug gegrom en skerp getjank. Toe was daar weer stilte. Net die stemme onder op die voorstoep was hoorbaar waar Daniel Niehaus en dokter Retief nog sit en gesels.

Ila het kort-kort deur die badkamervenster geloer of die donkergroen motor nog onder die frangipaniboom staan. Toe sy pas na sesuur aan die stemme hoor dat dokter Retief aanstaltes maak om te vertrek, spoel sy gou haar gesig onder die kouekraan af. Sy drink ’n glas koue water, vee haar hare plat en glip met die trap af en by die agterdeur uit. Sy volg ’n dowwe voetpad agterom die melkery, by die hoenderhokke verby en tot by die laning seringbome weerskante van die motorpad. Die stamme van die bome is dik en breed genoeg dat niemand haar uit die huis sal kan dophou nie.

Ila het vinnig gehardloop. Sy het gehoop om eerste by die brug te wees sodat sy tyd kan hê om haar sinne netjies te formuleer en haar gedagtes agtermekaar te kry, dog sy het haar met die snelheid van die Mercedes misgis. Toe sy om die laaste draai kom, is die motor byna bo-op haar. Sy gooi haar arms in die lug en beduie dokter Retief moet stilhou.

Die sykant van die motor mis Ila rakelings. Die bande skree en die Mercedes kom wiegend in ’n stofwolk tot stilstand, die voorwiele op die brug en die linkervoorste buffer gevaarlik naby aan die relings.

“Vroumens!” roep Johan woedend uit. “Maak jy ’n gewoonte daarvan om voor motors in te storm? Wil jy hê ek moet van roekelose bestuur of van moord aangekla word?”

Ila steur haar nie daaraan dat Johan Retief haar ’n tweede keer amper doodgery het nie. Sy is net dankbaar dat hy wel stilgehou en haar die geleentheid gegee het om met hom te praat.

“D-Dankie,” sê Ila uitasem.

“Waarvoor? Omdat ek jou hierdie keer wéér nie morsdood gery het nie? Dit sou jou verdiende loon gewees het.”

“Ek weet, maar … maar ek moes jou stop. Ek moet met jou praat. Daar is iets wat ek wil verduidelik.”

Johan klim nie uit sy motor nie en hy skakel ook nie die masjien af nie. “Dit moet belangrik wees, want jy het so te sê jou lewe daarvoor gewaag. Maar jammer, ek stel nie in ’n verduideliking belang nie. Bere dit vir Martin Niehaus,” sê hy koud.

Die brug is smal en Ila staan reg in die middel daarvan, sodat Johan Retief nie kan ry nie.

“Ek wil jou vertel dat my naam Daniela Niehaus is,” sê sy desperaat. Asseblief, stuur sy ’n skietgebedjie op, laat hy haar glo. Laat hy nie dink sy en Martin is kop in een muis om die ou man te bedrieg nie.

“Dit het jou vader reeds gedoen en jou stiefbroer het dit beaam. Gee asseblief pad, juffrou. Ek het spreekure by die hospitaal en ek is laat.”

“Ek het gejok toe ek gesê het my naam is Elizabeth Verster,” hou Ila vol.

Johan is opnuut kwaad vir hierdie meisie omdat sy hom vir die gek gehou het. Hoekom sy vir hom so ’n spul leuens vertel het, weet hy nie, maar hy is ook vir homself kwaad omdat hy alles geglo het. Kastig Elizabeth Verster van Johannesburg … Was nog nooit op Nelspruit nie. Alles leuens, en hy was dwaas genoeg om dit vir soetkoek op te eet.

“Gejok? Ja, dit het ek agtergekom. Oppas, juffrou, jy gaan van die brug afstort as ek vorentoe ry.”

Die masjien brul en die Mercedes beweeg ’n entjie vorentoe, dog Ila gee nie pad nie. Gelukkig kan sy nie hoor wat Johan Retief sê toe hy weer die rem moet trap nie.

“Ek wil verduidelik hoekom ek gejok het. Ek was bang vir …”

“Ek gee nie om vir wié jy bang is nie, juffrou Niehaus. Ek sal verkies dat dit vir mý moet wees, want ek gaan nie huiwer om jou plat te trap wanneer ek oor die brug ry nie.”

Ila skrik. Hy lyk so kwaad dat hy heeltemal in staat sal wees om hierdie keer sy dreigement uit te voer. Sy gee ’n bietjie pad en hou aan een van die stukkende relings vas.

“Dis omdat ek vir Martin bang was,” verduidelik Ila. “Hy …”

Weer kry sy nie kans om haar sin te voltooi nie. “Bang?” val Johan haar minagtend in die rede. “Dit het nie vir mý en al die ander mense op die stoep van die Hotel Alexander gelyk of jy vir Martin Niehaus bang was nie. Inteendeel. Jy het soos ’n rankplant aan hom vasgeklou, asof jy hom nooit weer wou los nie.”

“Dis sodat hy moes dink ek hou van hom,” sê Ila desperaat. Sy weet dit sal nie vir dokter Retief sin maak nie en sy probeer verder verduidelik. “Ek wou nie hê hy moes agterkom ek is vir hom bang nie. Die oomblik toe hy sy arms om my nek gesit het, het ek duiselig gevoel. My kop het gedraai en ek het weer daardie suising in my ore gehoor.”

“Toe hou jy aan hom vas, want jy was bang jy sou flou word en omval,” merk Johan sarkasties op. “Dis nogal oorspronklik, juffrou, maar jy hoef nie aan my te verduidelik hoekom jy Niehaus so vurig omhels en gesoen het nie. Dit gaan my nie aan nie.”

“Ek het hom nié vurig gesoen nie! Ek moes myself dwing om my arms om sy nek te sit en hom vas te hou, om sy soen te beantwoord en …”

“Spaar my die onsmaaklike besonderhede, juffrou. Ek stel nie in die minste belang nie. Jou naam kan Sannie Poggenpoel wees wat my betref, en jy kon jou verbeel het jy was ’n drenkeling op die oop see en Niehaus was die lewensredder. Ek stel nie in al jou aliasse belang nie, ook nie in jou beweegredes waarom jy Niehaus in ’n seekatgreep beetgehad het nie. Oppas, ek wil verbykom.”

Die Mercedes skuur rakelings by Ila verby, so naby dat sy die verergde flikkering in sy bruin oë kan sien en oplet hoe styf sy hande om die stuurwiel geklem is. Hy kyk nie na haar nie, ook nie hoe ver hy van die relings af verbyskuur nie. Die oomblik toe hy verby die obstruksie is, ry Johan vinniger. Die masjien brul en die motor verdwyn in ’n stofwolk oor die brug en om die draai.

Ila bly in ’n ellendige bondeltjie teen die reling agter. Toe die stofwolke opklaar en sy die dieselmasjien nie meer kan hoor dreun nie, laat sy haar kop op haar knieë sak en huil asof haar hart wil breek. Sy was reg, dink sy. Sy was reg toe sy vir die ou man gesê het: as Johan Retief haar die volgende keer weer sien, sal hy nóg minder van haar dink. En sy was ook reg toe sy gesê het die man wat sy liefhet, sal nie genoeg belangstel om op Rietendal vir haar te kom kuier nie. Johan Retief stel nie in haar belang nie. Hy dink sy is lastig, dom en onnosel, ’n leuenaar, ’n bedrieër … En hy wil niks meer met haar te doen hê nie …

Ettie Bierman Keur 9

Подняться наверх