Читать книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman - Страница 7

4

Оглавление

“Onthou jy daardie vliegramp by Windhoek vier jaar gelede?” vra Martin. “Die Boeing-747-makrostraler wat pas voor landing neergestort het?”

Ila knik.

“Onder die oorledenes wat in die ramp omgekom het, was ’n jong dame, ’n mejuffrou Danette Niewenhuys.” Hy bly ’n oomblik stil om die betekenis van die naam by Ila te laat insink.

“Dit … dit klink amper soos Daniela Niehaus.”

“Dis reg. Dit het luitenant Piet Wessels dadelik opgeval en ook vir mý aan die dink gesit. Ons het geredeneer dat, as Daniela ’n ander naam gebruik het sedert sy van die plaas af weg is, sy een sou gekies het wat naby aan haar eie naam was. Volgens die speurder is dit die algemene neiging wanneer iemand ’n skuilnaam kies. Dis glo sielkundig. Dit laat ’n persoon sy gevoel van eie identiteit behou. Jy herken die nuwe naam al is jy ingedagte of al word jy onverwags aangespreek. Jy behou dieselfde voorletters, ensovoorts.”

“Dis logies, ja. Maar het jy nie Windhoek toe gegaan om seker te maak nie?”

“Ek het, hoewel bitter teen die ou man se sin. Die lyke was egter onherkenbaar vermink en verkool, en daar was geen persoonlike besittings om Danette Niewenhuys aan Daniela te koppel nie. Wat ek egter wel uitgevind het, was dat mejuffrou Niewenhuys ’n skraal geboude jong dame was met blonde hare, volgens een van die oorlewende passasiers wat ’n paar rye agter haar in die rampvliegtuig gesit het. Ek het vir die man ’n foto van Daniela gewys, maar hy kon nie met sekerheid sê of dit dieselfde dame was wat voor hom in die ry by die vertrektoonbank gestaan het en drie rye voor hom op die vliegtuig gesit het nie.”

“Kon jy nie hierdie Danette Niewenhuys se adres naspoor nie?” wil Ila weet.

“Dit was ’n posadres in Johannesburg. Die poskantoor-owerhede kon my egter nie help nie. Dit was óf ’n fiktiewe posbusnommer óf die lugdienspersoneel het die adres onakkuraat afgeneem die dag toe sy die vlug bespreek het. Die paadjie het daar doodgeloop. Nóg ek nóg die polisie kon vasstel of dit wel Daniela op daardie vliegtuig was, en die ou man het my verbied om verder navraag te doen. Hy het volgehou dat Daniela nie op daardie Boeing was nie. Selfs toe daar later geen reaksie op die radioberigte en koerantadvertensies was nie, het hy nog steeds geglo dat Daniela lewe en dat sy eendag Rietendal toe sal terugkom.”

Daar is ’n knop in Ila se keel. Die arme, eensame ou man wat weier om te glo dat sy dogter dood is, wat op haar terugkeer wag …

Sy kom agter dat haar oë branderig voel. Sy sluk pynlik. “Hoekom het Daniela weggegaan?” vra sy sag.

“Omdat sy nie met my wou trou nie.”

Ila frons onbegrypend. Weggeloop en nooit weer van haar laat hoor nie, net omdat sy nie met haar stiefbroer wou trou nie.

“Sy was baie jonk,” verduidelik Martin. “Agtien. En soos die meeste agtienjariges was Daniela hardkoppig en eiesinnig, oordrewe gesteld op haar eie onafhanklikheid, gedurig in opstand teen gesag. Sy het gesê ek en haar pa moenie haar lewe probeer reël nie, sy is vry om sélf te kies met wie sy wil trou. Sy het my daarvan beskuldig dat dit meer om die halsbandjie as om die hondjie was, dat ek met haar wou trou net om Rietendal in die hande te kry, dat dit eintlik Rietendal is wat ek liefhet, nie vir háár nie, dat ek alles sal doen net om die plaas in te palm …”

“Maar jy sê jy het haar regtig liefgehad?”

Martin kyk nie na Ila nie. Sy oë is gevestig op die suikerlepeltjie waarmee hy afgetrokke sit en speel.

“Ek was dolverlief op haar. Vandat ek as tienjarige seuntjie saam met my oorlede moeder op Rietendal kom woon het en vir die eerste keer daardie paar parmantige blonde vlegseltjies en die wipneusie gesien het, was ek verlief op haar. Ons was lekker maats. Saam kleiosse gespeel, saam ouer geword, saam volwasse geraak. In die begin het ek gedink my stiefsussie het van my gehou, later selfs dat sý ook besig was om verlief te raak. Dis waar ek my groot flater begaan het. Ek moes nooit van liefde en trou gepraat het nie. Sy was soos ’n jong perd wat aan die halter gerem het. Sy het gesê dat sy liewer ’n non in ’n klooster sou word as om met my te trou, ek en haar pa is net eenders, altyd Rietendal, Rietendal; die plaas is belangriker as sy; Rietendal is wat ek wil hê, nie vir háár nie.”

“Het jou stiefvader geweet jy het haar lief?”

“Almal het dit geweet.”

“Kon hy Daniela nie oortuig dat jy nie die plaas wou hê nie?”

“Hy het probeer. Dit was ons tweede flater, miskien ons grootste. Daar was ’n bittere rusie en harde woorde tussen Daniela en haar pa. Sien, sy het geweet dit was haar pa se ideaal dat ons twee eendag sou trou, maar sy het hom verwyt dat dit meer ter wille van die plaas was as met die oog op sy eie dogter se geluk. Moet sy met my trou net omdat ek goed vir Rietendal sal sorg? Moet sy haar hele lewe vir ’n stowwerige ou stuk grond opoffer? Agtien jaar lank was sy vasgekluister aan die saai plaaslewe. Sal sy dan nooit kan ontsnap nie? Haar pa het mooigepraat en Daniela probeer oortuig dat ek haar opreg liefhet, maar sy wou niks weet nie. Daardie selfde nag het sy haar goed ingepak en weggeloop. Dit was vyf jaar gelede.”

Dis nie alles die waarheid nie, dink Ila. Daar is dinge wat Martin verswyg, omdat dit hom nie pas om dit vir haar te vertel nie. Terwyl hy gepraat het, het hy haar nie in die oë gekyk nie. Hy het die hele tyd met die suikerlepeltjie gespeel, en Daniela het Rietendal liefgehad. Sou sy Rietendal ’n stuk stowwerige ou grond genoem het en gesê het sy was vasgekluister aan die saai plaaslewe?

Martin kyk onverwags op en betrap Ila se peinsende blik op hom. Sy word rooi en skielik is dit haar beurt om met haar koffielepel patroontjies op die tafeldoek te maak.

“Dit klink of jou stiefsuster ’n impulsiewe persoon was,” merk sy op om die ongemaklike stilte te oorbrug.

“Daniela was impulsief, koppig en eiesinnig, miskien omdat sy nooit die sagte invloed van ’n moeder geken het nie. Haar eie moeder is met haar geboorte oorlede en sy wou haar stiefma nie aanvaar nie. Miskien sou my ma geleidelik haar vertroue gewen het, maar sy was ’n baie sieklike vrou. Sy het aan haar senuwees gely, en sy het nie genoeg tyd gehad om Daniela se vriendskap te wen nie. My moeder is twee jaar na haar huwelik met Daniel Niehaus oorlede.

“Dalk was die probleem dat Daniela so ’n beeldskone entjie vroumens was. Soos die geval met alle mooi meisies, het dit meegebring dat Daniela bedorwe was, selfsugtig, egoïsties en …”

Martin bly opeens verleë stil. “Ek skimp nie op jou nie, Ila. Jy is miskien mooier as wat Daniela was, maar ek is seker jy is nie egoïsties en selfsugtig nie.”

“O ja?” terg Ila. “Wie sê ek is nie baie lief vir myself nie? Hoekom dink jy wag ek in ademlose spanning op hierdie voorstel van jou wat glo vir my groot finansiële voordeel gaan inhou? Wat wil jy my vra om te doen? Ek is baie nuuskierig.”

Martin sit die suikerlepeltjie neer. Hy neem Ila se hand in syne, haal ’n slag diep asem en sê dan kalm: “Ek wil hê jy moet Daniela Niehaus word.”

Diep in haar onderbewussyn was Ila moontlik so iets te wagte, maar toe sy die woorde hardop uit Martin se mond hoor, kan sy haar ore nie glo nie. Sy skud haar kop beslis en trek haar hand uit Martin s’n.

“Totaal onmoontlik.”

“Hoekom?”

“Omdat … wel, omdat so iets onmoontlik is. Ek … ek lyk miskien ’n bietjie soos hierdie suster van jou gelyk het, maar in geaardheid verskil ons seker. Dit sal nie werk nie. Ek kan nie glo jy is ernstig nie. Is jy?”

“Heeltemal. Is dit al wat jou kwel – dat Daniela se geaardheid anders was as wat joune is? Dis nie ’n probleem nie. Ek sal jou onder hande neem, jou afrig, jou leer om Daniela se persoonlikheid aan te neem. Al persoon wat jy sal moet mislei, is die ou man. Dié is al half kinds en seniel. Hy sal Daniela nie meer goed kan onthou nie.”

“Maar die plaas en alles – ek sal die plaas en die huis nie ken nie.”

“Ek het daaraan gedink.” Martin haal ’n plan van die huis en die werf uit sy sak, saam met ’n pak foto’s en ’n paar ou briewe. Hy sit dit op die tafel voor Ila neer, maar sy weier om daarna te kyk.

“Jy het voorbereid gekom, nè? Jy was baie seker dat ek dit sal doen.”

Martin haal sy skouers op. “Jy is platsak en jy sit sonder werk. Ek het belowe om jou ruimskoots vir jou dienste te vergoed. Hoe klink dertigduisend vir jou? Hierdie is ’n geleentheid wat jy nie deur jou vingers kan laat glip nie.”

“Maar dis … so iets is bedrog. Lyk ek na ’n oneerlike persoon?”

Martin beantwoord nie Ila se vraag nie. “Volgens dokter Retief is die ou man se dae getel. Hy kan dit nie meer lank maak nie – na mý mening hoogstens nog ’n paar maande. As jy die ou man sien, sal jy met my saamstem. Al wat hom nog so hardnekkig aan die lewe laat vasklou, is sy ideaal om Daniela nog een maal te sien. Dal sal hy gemoedsrus hê en tevrede wees om te gaan. Jy sal nie baie lank op die plaas hoef te bly nie. As dit langer as ’n paar maande duur, sal ek ’n plan maak. Ons kan altyd sê jy het dringende sake in Johannesburg wat jou teenwoordigheid vereis, of so iets. Die besonderhede kan ons later uitwerk as dit nodig blyk te wees.”

Sy woorde klink so kil en berekenend dat dit Ila hoendervleis gee. Sy besef opnuut dat hierdie ’n baie vasberade en doelgerigte jong man is wat niks in sy pad sal laat staan as daar iets is wat hy wil hê nie, ’n man wat vir niks sal stuit nie, ’n persoon wat jy eerder vir ’n vriend as ’n vyand sal wil hê. En sy visier is op Rietendal ingestel …

“Gedurende die volgende twee weke sal ek jou deeglik inlig – tot in die fynste besonderhede – oor hoe die huis van binne lyk, die kamers, meubels, matte, skilderye, ensovoorts. Ek sal jou inlig oor die werf, die buitegeboue en die res van die plaas. Ek sal jou staaltjies uit Daniela se verlede vertel wat die ou man sal onthou – dingetjies waaroor hulle saam gelag het, waaroor sy hom altyd geterg het, hoe sy hom aangespreek het … Ek sal jou sê wat Daniela se stokperdjies was, haar voorliefdes, waarvan sy nie gehou het nie, haar gunstelingkossoorte, musiek, leesstof en klere­drag. Jy sal dit gou in jou kop kry. Al probleem wat ek kan sien, is miskien Daniela se handskrif. Dis hoekom ek daardie briewe saamgebring het wat Daniela een vakansie aan haar pa geskryf het – sodat jy haar handskrif solank kan begin oefen, veral haar handtekening. Dié mag jy dalk nodig kry. Dis …”

“Wag,” keer Ila. “Jy is te haastig, Martin Niehaus. Ek het nog nie ja gesê nie.”

“Miskien nie, maar jy sal. Ek het jou lankal opgesom, skatlam. Dertigduisend is nie te versmaai nie en as jy wil kibbel, sal ek dit selfs na vyf-en-dertigduisend rand opstoot. Dis my hoogste aanbod – ’n fortuin vir slegs drie of vier maande se werk, as ’n mens dit werk kan noem. Dit sal ’n gratis vakansie op ’n luukse plaas wees. Daar is ’n swembad, ’n tennisbaan, uitgestrekte tuine, ’n rivier, berge as jy van bergklim hou, ryperde, motors … Die ou man is steeks om vir my sy motorsleutels te leen, maar vir Daniela sal hy sy splinternuwe Jaguar op ’n skinkbord aanbied. Haar gelyke agter ’n motor se stuurwiel het ek nog nooit teëgekom nie. Al was sy ’n meisiekind, het sy van kleins af op die trekkers en vragmotors geboer. Ek dink op dertien kon sy ’n motor soos ’n professionele renjaer bestuur. Haar ideaal was om eendag met ’n Ferrari op Kyalami te jaag. Sy was ’n regte klein rabbedoe, altyd met daardie parmantige wipneusie vol ghries en olie, soos sy aan masjiene gepeuter het om …”

“Daar sneuwel jou onsinnige plan alreeds,” val Ila hom in die rede. “Ek is nie die rabbedoe-tipe nie en ek is nie in die minste meganies aangelê nie. Ek het nie eers ’n rybewys nie. Om die waarheid te sê, was ek in my lewe nog nooit agter ’n motor se stuurwiel nie.”

“Dit mag dalk lol. Jy sal baie vinnig moet leer bestuur.”

“Binne twee weke?” Ila klink skepties. “En dan bestuur soos sý bestuur het? Ek glo nie. Ek kan ghries aan my hande nie verdra nie, en ek is bang vir raserige masjiene met al daardie skroewe en goeters en dinge.”

“Skroewe en goeters en dinge …” herhaal Martin. “As die ou man jou dit hoor sê, sal hy dadelik weet jy is nie Daniela nie. Ek weet nie of ek jou sal kan leer om soos sý te bestuur nie. Ons sal ’n verskoning moet uitdink, moontlik ’n verband om jou gewrig draai en sê dis verstuit. Anders sal die oukêrel wil weet hoekom jy nog nie die nuwe Jag uitgetoets het nie.”

“Ek kan nie sulke leuens vertel nie. Dis te oneerlik. Daniela se pa is oud en sieklik. Ons het geen reg om hom so te bedrieg nie.”

“Nou goed dan,” sê Martin kalm. “Vergeet jou vyf-en-dertigduisend rand. Vergeet ook van ’n arme siek ou man wat met ’n gebroke hart gaan sterf. Dis binne jou vermoë om hom gelukkig te maak, maar as jy te selfsugtig is om aan hom rus en vrede te gee gedurende sy laaste tydjie op hierdie aarde, kan ek jou nie dwing nie.”

Ila is lank stil, dan sê sy sag: “Dit was gemeen van jou, Martin Niehaus. Dis nie uit selfsug wat ek nie met jou wil saamwerk nie.”

Martin druk ’n ligte soentjie op Ila se vingers. “Ek is jammer, meisie. Dit was onvergeeflik van my om die ou man se eensaamheid en hartseer as ’n wapen te gebruik.”

Dieselfde branderige gevoel is weer in Ila se keel toe sy aan die arme sieklike ou man dink. Sy eie dogter het hom verlaat en al wat oorgebly het, is ’n stiefseun wat die dae tel totdat hy sy laaste asem uitblaas, totdat hy die plaas in die hande kan kry … en intussen wag die ou vader vir sy dogter, glo hy dat sy nog leef en dat sy betyds sal terugkom …

“Ila …” Martin se stem klink vreemd en hy staar haar ondersoekend aan.

Sy vee met die agterkant van haar hand oor haar oë. “Ek … ag, ek weet ek is oordrewe sentimenteel. Ek ken hom nie eers nie, maar tog voel ek hartseer oor die arme ou oom. Ek sal dit … sê my eerlik, sal dit baie verkeerd wees om plaas toe te gaan en hom gemoedsrus te gee? As ek inwillig, sal dit die rede wees; nie die geld wat jy my sal betaal nie. Dié wil ek nie hê nie, selfs al stoot jy die omkoopbedrag op na vyftigduisend rand. Skandegeld – dis wat dit sal wees; die dertig silwerlinge van Judas Iskariot …”

“Dis baie edel van jou,” spot Martin, “om ’n fortuin van die hand te wys … en ek dink dis ’n bietjie melodramaties om jouself met Judas Iskariot te vergelyk. Jy verraai niemand nie. Miskien, Daniela, maar dit maak nie saak nie, want sy is dood.”

Hoe kan hy so ongevoelig van haar praat? dink Ila. Hy het dan voorgegee dat hy Daniela liefgehad het … Sy glo nie Martin Niehaus ken die betekenis van die woord liefde nie.

Ila dink aan iets wat sy Martin netnou al wou gevra het. Sy verstaan nie mooi hoe hy dit uitgewerk het nie. Dit behoort hom mos beter te pas as die vermoede bestaan dat Daniela in ’n vliegramp omgekom het. Wat sal die verskyning van sy stiefdogter en die regmatige erfgenaam van die plaas in Martin in die sak bring?

“Ja, nou kom ons by die kern van die saak,” sê Martin in antwoord op haar vraag. “Hiervoor sal ons na ’n betrou­bare prokureur toe moet gaan om ’n wettige en baie duidelike ooreenkoms op te stel, anders is die versoeking dalk groot om my in te loop, skatlam. Jy is ’n mooi entjie vroumens, maar ek moet vir myself sorg. Ek moet sorg dat jý nie dalk op die ou end met Daniel Niehaus se skatte sit, in plaas van ék nie. Ek het ’n baie goeie prokureursvriend wat sal swyg mits hy ’n aandeel uit die transaksie kry. Derek Strydom sal vir ons ’n kontrak opstel wat vir albei partye bindend is. Ek onderneem om jou die som van dertigduisend rand – of die bedrag waarop ons besluit – te betaal vir … e … ons sal maar stipuleer vir sekere dienste wat gelewer is. Op jou beurt onderneem jy om die volle en allesinsluitende boedel van wyle Constant Salmon Daniel Niehaus onvoorwaardelik aan my te sedeer. Jy doen ook onvoorwaardelik afstand van enige voordeel wat jy hoegenaamd uit die boedel mag trek, hetsy nou of in die toekoms, hetsy as enigste dogter van die oorledene, hetsy as erfgename van genoemde Daniel Niehaus. Ek dink so ’n kontrak behoort ons albei tevrede te stel en teen mekaar te beskerm.”

Martin Niehaus het alles goed deurgedink en die slim set deeglik uitgewerk, mymer Ila. Hy het gou gespeel. Hy het haar maar gisteroggend die eerste keer op die stasie gesien. Of straks het die plan tóé reeds by hom posgevat, daarom dat hy haar met alle geweld hotel toe wou neem en baie bang was sy ontglip hom.

Sy is bly sy het nie ingewillig nie. Daar is ’n heerlike warm gevoel van opwinding in haar binneste. As sy ingestem het dat Martin haar hotel toe neem, sou sy nie gisteroggend vir dokter Johan Retief ontmoet het nie. Weliswaar ’n redelik kras en pynlike kennismaking, maar dit was die moeite werd. Hy moet net asseblief nie vir haar kwaad bly nie en hy moet haar groot asseblief kom besoek. Miskien, as sy hom skakel en sê sy voel nog steeds duiselig of sy dink daar het komplikasies ingetree …

“Sien jy kans om binne twee weke Daniela te word?” vra Martin. “Ek sou jou graag meer tyd toegelaat het, maar ek weet nie hoeveel tyd ons het om te verspeel nie. Die ou man mag enige dag omkap. As jy ná sy dood as die lank verlore erfgename opdaag, sal ons dit moeilik vind om jou identiteit te bewys. Voor sy dood is dit geen probleem nie. Niemand sal enigsins daaraan dink dat jy ’n bedrieër mag wees nie. As die ou man jou self aanvaar het, sal niemand agterdogtig wees nie. Jy moet net Daniela se handtekening oefen om moontlike probleme by die eksekuteurs te voorkom wanneer jy later dokumente sal moet onderteken. Wat sê jy, astertjie? Gaan ons twee vennote word?”

Martin sien dat Ila haar kop begin skud. Hy het verwag daar sal aanvanklik besware wees, maar hy is oortuig dat Elizabeth Verster uiteindelik sal instem. So ’n groot bedrag vir so ’n snip van ’n meisiekind – dis ’n aanbod wat sy nie sal kan weerstaan nie.

“Met dertigduisend rand sal jy die wêreld kan sien, al die plekke besoek waarvan jy tot dusver net in boeke en manuskripte gelees het. Selfs as toerleidster by Panorama-toere kon jy seker maar net die Krugerwildtuin en binnelandse plekke besoek. Begeer jy nie om Europa te sien nie, Ila? En wat van Amerika, Australië, die Ooste? Dis alles binne jou bereik as jy my aanbod aanvaar.”

Martin steur hom nie aan Ila se teëstribbeling nie. Hy laat glip die pak foto’s, die briewe en die plan van die huis in haar handsak.

“Om solank te bestudeer terwyl jy wik en weeg,” sê hy. Hy stap saam met haar oor die voorstoep van die hotel tot by die voordeur. Dan plaas hy sy hande op haar skouers en trek haar nader.

“Hopelik sal dít jou help om tot ’n besluit te kom …”

“Martin, my kop is seer en ek voel nie lekker nie. Het jy vergeet ek is deur ’n motor omgery? Asseblief, moenie …”

“Wat is dit met die nooientjie?” vra Martin geamuseerd. “Al wat ek wil doen, is om haar ’n broederlike soentjie te gee – op die wang … Dis nie nodig dat jy so wegrem nie, meisie. Of … is jy bang vir my?”

“Nee, natuurlik nie. Maar ek … ek voel nie lekker nie.”

“Seker jy is nie bang vir my nie?” Daar is ’n vreemde klank in sy stem.

“Doodseker,” herhaal Ila bewerig. Sy dwing haarself om stil te staan.

Martin se hande gly oor haar boarms, oor haar rug en sluit dan vaster om haar middel.

“Weet jy wat jy aan my doen, liefste?” fluister hy gesmoord, met sy mond teen hare. “Jy laat die bloed deur my are bruis, vinniger selfs as toe ek Daniela in my arms gehou het.”

“Asseblief … Jy het gesê op my wang …” hakkel Ila. Sy verag haarself omdat haar bene skielik lam voel en haar hart in haar keel klop.

Martin lag saggies. “Eers ’n steeks perdjie, nou weer ’n houtpop … Is daar nie ’n middeweg nie, Blondie? Dis nie vir ’n man lekker om ’n meisie te soen as sy haar verbeel sy is ’n stywe besemstok nie.”

Ila se knieë voel bewerig en haar kop draai. Sy kom agter dat sy aan Martin se arm vashou om nie haar ewewig te verloor nie.

“Dis beter,” fluister Martin. Die donker kop buk nader en sy mond soek hare. “Ek is nie ’n man wat met ’n wang tevrede is nie, Elizabeth Verster …”

Ila probeer haar kop wegdraai, dog daar is ’n veraf suising in haar ore, soos in die hospitaal toe sy wakker geword het en half deurmekaar was. Dit klink soos ’n waterval, soos water wat oor kranse in ’n afgrond stort en soos iets wat dreun … ’n dreuning en motorbande wat skreeuend op ’n teerstraat gly …

Ila se kop ruk op en Martin se lippe raak net aan die hoek van haar mond. Haar oë beweeg oor die stoep, na die motors in die bedrywige straat voor die Hotel Alexander. Sy het ’n bekende dreuning gehoor, een wat sy nie sal vergeet nie, ’n dreuning wat sy dadelik as dié van ’n diesel-Mercedes herken …

“Wat is dit, astertjie?” wil Martin weet. Die meisietjie is baie bleek in die gesig. Dalk voel sy regtig nie lekker nie …

Ila antwoord nie. Oor Martin se skouer sien sy net betyds ’n vinnige verdwynende motor, en sy het haar nie met die klank van die masjien misgis nie. Dit is ’n nuwe Mercedes – met Johan Retief agter die stuurwiel, ’n baie haastige dokter Johan Retief te oordeel na die manier waarop hy weggetrek het en met skreeuende bande tussen die verkeer invleg.

Die suising in Ila se ore vervaag. Haar kop draai ook nie meer nie. Sy voel nie meer asof sy naar en duiselig op die rand van ’n gapende afgrond staan nie. Sy druk haar hande teen Martin se bors om hom weg te stoot.

“Jy misgis jou, Martin Niehaus,” sê sy koel. “Ek is nie een van jou ander nooiens wat voor jou sjarme swig die oomblik wat jy die kraan oopdraai nie. Ek is nie van plan om soos ’n ryp pruim in jou skoot te val as jy jou vingers klap nie.”

“Vanwaar dié onverwagte ommeswaai? Een oomblik was jy soos klei in my arms, die volgende oomblik weer die stokstywe besemstok. Ek kon sweer jy wou graag gehad het ek moes jou soen. Nou lyk jy soos iemand wat ’n spook gesien het.”

“Nie ’n spook nie. Allesbehalwe …”

“Het ek iets gesê wat jou kwaad gemaak het?”

“Nee, ek het ’n uitputtende dag agter die rug. Ek is moeg en ek wil gaan rus.”

“Mag ek môreaand weer kom, Ila?”

Terwyl Martin die blonde meisie gespanne dophou, merk hy die wisseling van emosies op haar gesig – eers onwilligheid en teësin, dan onsekerheid gevolg deur ’n mate van twyfel en uiteindelik instemming …

“Ja, goed,” antwoord Ila so sag dat Martin dit byna nie kan hoor nie.

“Sal jy intussen my aanbod oorweeg?”

Ila knik en draai vinnig weg. Toe sy by die voordeur instap, hoor sy hoe Martin Niehaus fluit-fluit na sy motor toe loop waar dit voor die hotel geparkeer is – twee plekke weg van waar dokter Retief se groen Mercedes gestaan het …

Ettie Bierman Keur 9

Подняться наверх