Читать книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman - Страница 8

5

Оглавление

Ila staan voor haar kamervenster en kyk na die verkeer onder in die bedrywige straat. Daar is voetgangers en fietse en houtlorries, hoog gelaai met lemoene en bloekompale, en baie motors … Maar nie een van hulle is ’n donkergroen Mercedes nie en nie een van hulle hou weer voor die hotel stil nie.

Was Johan Retief in die hotel om dalk ’n pasiënt te besoek, of het hy op die voorstoep gesit? wonder Ila. Sy het hom nie opgemerk nie, maar sy was nie in ’n toestand om na die ander mense op die stoep op te let nie. Sy het nie rondgekyk nie, want sy het hom nie daar verwag nie. Hoekom het hy so haastig vertrek? Hy moes haar en Martin by die voordeur sien staan het en hy het haar seker herken, maar hy het nie nader gestap om te verneem hoe dit gaan nie. Vanoggend was dokter Retief besonder vriendelik en baie besorg oor haar welstand. Vanoggend wou hy haar met alle geweld hotel toe neem en verseker dat sy haar pilletjies gereeld neem. En vanmiddag ignoreer by haar en trek weg asof tien duiwels hom agtervolg. Hoekom het hy nie net gegroet en gevra hoe dit gaan nie?

Sou jý? vra die stemmetjie in Ila se binneste. Sou jy – selfs as was dit in jou professionele hoedanigheid as geneesheer teenoor ’n pasiënt – ’n meisie gevra het hoe dit gaan terwyl ’n ander man besig is om haar vurig te omhels en te probeer soen?

Ila se wange word rooi terwyl sy besef hoe die toneeltjie op die stoep vir ’n buitestander moes gelyk het. Dit het Johan Retief seker baie ongemaklik laat voel. Geen wonder hy was taktvol genoeg om haar te ignoreer en hom uit die voete te maak nie.

Daardie dekselse Martin, dink Ila wrewelrig. Hoekom moes hy haar juis dáár – reg by die voordeur en so te sê reg onder dokter Johan Retief se neus – in sy arms neem? En hoekom het sy haar nie dadelik losgewikkel en Martin gouer weggestoot nie? Dokter Retief weet sy het slegs gisteroggend op Nelspruit aangekom, en hy weet natuurlik dat Martin haar nie op die stasie gaan ontmoet het nie. Wat moet hy van haar dink dat sy so gou ’n vreemde man toelaat om haar te omhels? Dokter Retief het seker die afleiding gemaak dat sy ’n goedkoop klein flerrie is. Hy sal nie verder in haar belangstel nie, selfs nie eers as pasiënt nie …

Dis ’n ontstellende besef. Ila stuur haar gedagtes so gou moontlik in ’n ander rigting. Sy dink aan Panorama-toere en aan die twee prokureursfirmas by wie sy vergeefs om werk aangeklop het. Sy vrees dieselfde gaan gebeur as sy by die bank probeer of ’n betrekking as ontvangsdame by die een of ander hotel of motel soek. Hulle sal vra of sy vorige ondervinding het en wat haar kwalifikasies is. Op albei vrae sal sy moet antwoord: “Geen.” Die bietjie tikwerk – met twee vingers – wat sy vir Maria Meintjies gedoen het, sal nie as ’n kwalifikasie of as ondervinding in aanmerking kom nie.

Dis nie vir Ila nodig om haar beursie oop te maak om te tel hoeveel geld sy nog oor het nie. Sy weet. Sy weet baie goed hoe kritiek haar finansiële posisie is. Die nuwe klere wat sy ’n paar dae gelede gekoop het, tesame met haar treinkaartjie, die onverwagse hospitaalonkoste, plus haar hotelrekening, laat haar totaal platsak. Sy het met slegs ’n paar rand in haar sak Laeveld toe gekom. Sy het nie geweet presies wat sy van plan was om te doen nie. Sy het gehoop sy sou sekerheid kry sodra sy op Nelspruit aankom. Maar dis nie die geval nie. Te veel dinge het gebeur. Te veel dinge is nie soos sy gehoop het nie … Sy was nie daarop voorbereid dat sy sou sukkel om tydelik ’n werk te kry nie. Hoekom is daar ’n oorvloed aan toerleidsters? Hoekom het Panorama nie liewer ’n dringende tekort aan dames gehad nie?

Wat gaan sy doen? wonder Ila. Waarvan gaan sy leef totdat sy iewers werk gekry het? En word nuwe werknemers nie eers aan die einde van die maand betaal nie?

Ja, ek weet wat jy wil sê, spring Ila die tergende stemmetjie in haar binneste voor.

Maar hoekom nie? torring dit aan haar. Martin se voorstel is ’n geskenk van die gode. Om Rietendal toe te gaan as Daniela Niehaus … Sy skerm weg en sê sy durf nie. Hoekom erken sy nie dat dit is wat sy graag sal wil doen nie? Dan is al haar probleme mos opgelos … Hoekom van die waarheid wegvlug? Hoekom, as sy tog weet dat sy op die ou end sal instem?

Ila vleg haar hande inmekaar terwyl sy radeloos voor die venster bly staan. Dis oneerlik om onder valse voorwendsels Rietendal toe te gaan. Maar wat anders staan haar te doen? En, soos Martin haar talle kere verseker het, sal sy niemand daardeur skade berokken nie. Daniel Niehaus is haar grootste oorweging en Martin was reg. Hy sal verheug wees om sy vervreemde dogter op die plaas terug te verwelkom. Hy is oud en sieklik en ’n gebroke man. Hy sal seker nie meer lank lewe nie. Het sy die reg om ’n arme eensame en sterwende ou man die rus en vrede gedurende sy laaste paar maande op aarde te ontsê?

Ila skud haar kop. Sy is besig om die waarheid te verdraai om haar te pas en haar skuldige gewete te salf. Daniel Niehaus se toestand is kritiek. Hy het ’n swak hart. As Martin per ongeluk sy mond verbypraat of laat blyk dat sy nie Daniela is nie, sal dit sy einde beteken. Eers die vreugde omdat sy dogter huis toe gekom het, en dan die skok as hy besef dat dit in werklikheid ’n wildvreemde meisie is wat toevallig net soos Daniela lyk … Nee, dit sal wreed wees. Sy sal hom vanselfsprekend probeer oortuig dat sy wel Daniela is, maar die gevaar bestaan dat hy haar nie sal glo nie. En sy kry miskien nie eers die kans om te probeer regmaak wat sy en Martin verbrou het nie. Die skok is dalk te veel vir sy hart en dan is dit te laat …

Maar tog – as sy haar rol slim genoeg speel, hoef hy mos nooit van die dubbelspel uit te vind nie, redeneer Ila. Martin het gesê die doel heilig die middele. Op hierdie oomblik, terwyl haar gedagtes in ’n malende warboel van vertwyfeling is, besef Ila dat daar nog nooit voorheen ’n spreekwoord was wat beter by die omstandighede gepas het nie.

Sonder dat sy besef wat sy doen, draai sy van die venster af weg en tel die pak foto’s en ou briewe op. Dis ’n pragtige ou opstal. Dubbelverdieping-gewelhuis met ’n grasdak en breë toegegaaste stoepe. Op sommige van die foto’s kan sy ’n gedeelte van die tuine en die swembad sien en ook die tennisbaan, die dam en ’n deel van die wasige blou berge waarvan Martin gepraat het. Geen wonder verpleegster Ansie Nel het na Rietendal verwys as die spogplaas van die distrik nie.

Martin het kortliks beduie watter die slaapkamervensters is. Ila kry ’n knop in haar keel toe sy na die een op die punt kyk. Agter daardie venster wag ’n eensame ou man op sy dogter se terugkeer. Hy glo sy lewe nog. Moet sy onwrikbare geloof dan beskaam word? Moet hy vergeefs wag en sterf sonder dat sy droom bewaarheid is?

Ila vee met ’n bewerige hand oor haar oë. So baie vrae, waarop die antwoorde so bitter moeilik is. Die allerbelangrikste is: Sal dit baie verkeerd van haar wees om onder valse voorwendsels na die plaas toe te gaan?

In haar onderbewussyn weet sy wat die antwoord is. Die doel heilig mos die middele, nie waar nie? En haar doel sal wees om aan ’n sterwende ou man van tagtig rus en vrede te gee. In haar hart sal sy wel die hele tyd soos ’n agterbakse bedrieër voel, maar Daniel Niehaus sal dit nie weet nie. Nóg hy nóg sy stiefseun sal weet wat in haar hart omgaan.

Meteens lui die telefoon op haar bedkassie.

“Mejuffrou Verster?” vra dokter Retief met sy diep stem. Dit klink nie warm en vriendelik soos vanoggend toe hy so besorg oor haar welstand was nie. Sy stem klink soos gister toe hy haar as ’n onnosele en stiksiende dwaas uitgeskel het.

Ten spyte daarvan begin haar hart met uitgelate bokspronge teen haar ribbes bons. Hy het haar darem weer geskakel … Dankie tog dat hy nie besluit het om haar heeltemal te ignoreer nie. Dalk het hy nie gemerk dat Martin haar probeer soen het nie, en miskien wil hy haar vir koffie nooi. Ila se oë dwaal na haar kas terwyl sy solank wonder wat sy gaan aantrek ingeval die wonderwerk gebeur – haar nuwe blou rok of die liggroen broekpak? Martin het gesê die kleur pas haar mooi. Of moet sy ’n wit rok aantrek sodat sy koel en fris …?

“Juffrou Verster, is u daar?”

Ila kom nou eers agter dat sy nog nie geantwoord het nie.

“Is dit … is dit dokter Retief wat praat?” vra sy uitasem, asof sy daardie stem nie uit tienduisend sal herken nie …

“Hoe klink u so snaaks? Voel u nie wel nie, juffrou Verster?”

“Nee. Nee, ek makeer niks. Ek voel piekfyn.” Hy moenie dink sy is miskien te siek om te gaan koffie drink of uiteet nie. Sy is nie honger nie, maar sy sal die kos inwurg net om by hom te wees.

“Dis goed,” sê Johan Retief kortaf. “Ek was ongeveer ’n uur gelede by die Alexander, maar dit bespaar my die moeite om weer te gaan aangesien u gesond voel.”

“Dan hét hy genoeg belanggestel om haar te kom besoek, jubel dit in Ila se hart.

Ek voel honderd persent beter, in die sewende hemel van geluk! wil Ila uitroep. Beskeie sê sy: “Dankie vir die belangstelling en die moeite wat u gedoen het, dokter.”

“Dit was geen moeite nie. Ek was toevallig in die omgewing.”

Ila se hart weier dat daar ’n emmer koue water op hom omgekeer word. Goed, hy was miskien toevallig in die omgewing, maar hy het darem ’n biétjie spesiale moeite gedoen om haar op te soek. Dit bewys dat hy begerig was om haar te sien en dis darem ’n troos.

“Ek het dit as my plig beskou om u te besoek. Hoewel u reeds uit die hospitaal ontslaan is, beskou ek die nasorg van pasiënte as ’n belangrike aspek van my werk.”

Nasorg … En hy beskou haar maar net as nóg een van sy talle pasiënte. Sy is nie belangriker as die baie ander nie.

Daar heers ’n ongemaklike stilte. Ila is bang hy lui af.

“Ek het u nie gesien nie, dokter Retief,” sê sy die eerste die beste ding waaraan sy kan dink. Dit was egter nie ’n baie intelligente opmerking nie, want sy wil hom nie aan daardie voorval op die stoep van die hotel herinner nie.

“Nee, want u was te besig,” merk Johan kil op.

Ila herken nie die rooi vlag wat voor haar wapper nie. Sy sien nie die gevaartekens in die pad nie, en sy weet nie dat sy nou slapende honde behoorlik wakker gemaak het nie. Sy het Johan Retief die opening gegee waarop hy gewag het.

“Besig?” vra sy vriendelik. “Nee, ek was nie besig nie, dokter Retief. Hoekom het u nie gegroet en ’n rukkie gesels nie?”

“Omdat ek nie van die geselskap hou waarin jy verkeer het nie,” antwoord hy koud.

“M-Martin?”

“Ja, Martin Niehaus. Maar smaak verskil natuurlik en die fout mag by mý lê. Moontlik sal ek meer van Niehaus hou as ek hom so goed ken soos jý hom blykbaar ken.”

Skaakmat, dink Ila. Wat kan sy sê? Dat sy Martin glad nie so goed ken as wat hy insinueer nie en dat sy nie van Martin hou nie? Maar dan sal hy dalk vra of sy enige Jan Rap en sy maat toelaat om haar te soen, al ken sy hom nie en al hou sy nie van die betrokke man nie?

Ila is nie ’n bedrewe skaakspeler nie. Sy weet egter dat aanval jou beste taktiek is. Om terug te val en op die verdediging te bly, sal jou nie die spel laat wen nie.

“Hoekom hou jy nie van Martin Niehaus nie?” vra sy reguit.

“Ek glo nie dis ter sprake nie, juffrou Verster. Ek beskou dit ook nie as goeie maniere om ongunstige kritiek teenoor jou medemens uit te speek nie.”

Johan weet dit klink uiters vroom en skynheilig. Wie is hy om homself as ’n sedepreker of ’n heilige voor te doen? Hy het dan nog ’n kort rukkie gelede moordgedagtes gekoester. Hy wou Martin Niehaus ’n opstopper gee en Elizabeth se nek omdraai. Die woorde is egter gesê en hy kan hulle nie terugtrek nie.

Hy weet in elk geval nie hoekom hy Elizabeth Verster geskakel het nie. Toe hy ’n uur gelede by die Hotel Alexander weg is, was hy so kwaad vir die meisiemens dat hy haar nooit weer wou sien nie. Maar skaars vyf minute later tel hy die gehoorbuis op en kan hy nie wag dat die telefoniste van die hotel hom na kamer tien toe moet deurskakel sodat hy weer Elizabeth se stem kan hoor nie … Hoe rym dit? Wil hy die meisie nooit weer sien nie of begeer hy om nou in sy motor te klim en vir haar te gaan kuier?

“Ek sien,” antwoord Ila.

Johan vra nie wát sy sien nie. Hy is bang sy sien die tipe persoon wat homself as so edel van inbors beskou dat hy die vermetelheid het om vir ’n pragtige klein blondine sedepreke af te steek.

“Drink u elke drie uur die tablette wat ek voorgeskryf het?” vra hy formeel. Hoekom skuil hy altyd agter ’n professionele houding? dink hy ergerlik. Elizabeth is nie een van die verpleegsters by die hospitaal wat hy probeer vermy of ontmoedig nie. Sy werk is in elk geval ook nie meer so allerbelangrik as wat hy tot dusver gereken het nie. Dis skielik nie meer vir hom voldoende nie. Daar het ’n leemte ontstaan. Daar is nou plek vir ’n meisie …

“Ja, dokter,” antwoord Ila soos ’n gehoorsame dogtertjie.

“Met ’n halfglas water, soos ek aanbeveel het?”

“Ja, dokter.”

“En dit voorkom hoofpyn?”

Ila is bang sy klink soos ’n grammofoon wat vashaak. “Ja, dokter … dit verlig die hoofpyn, ja.”

“U sê daar is geen nagevolge as gevolg van die stamp teen die kop nie?”

Ila is bly dat sy hierdie keer darem nee kan antwoord. Maar sy was dom. Pleks dat sy gesê het ja, daar is allerhande soorte nagevolge, sy is dodelik siek, sy dink sy ly aan akute harsingskudding en hy moet dadelik uitjaag hotel toe. Dit klink asof Johan Retief enige oomblik die gesprek gaan beëindig, asof hy slegs uit pligsbesef en … Wat het hy dit genoem? O ja, nasorg … Dit klink asof hy net om dié redes na haar welstand uitvra. Dit klink asof hy nie kan wag om tot siens te sê en die gehoorbuis met ’n sug van verligting neer te plak nie.

“Ook geen vertraagde skokreaksies wat later ingetree het nie?”

“Nee, dokter.” Nou is sy lysie vrae seker afgehandel en gaan hy tot siens sê …

“Reg, juffrou, dan verkeer u nie meer op die krukkelys nie.” Dit was Johan se poging om die gesprek geselliger te maak, maar hy weet hy het nie in sy doel geslaag nie. Dis omdat hy nooit susters gehad het nie, besluit hy, en omdat hy van sub-A tot standerd tien in ’n seunskool was. Dis hoekom hy so skaam is vir meisies, hoekom hy nie weet hoe om hulle te hanteer nie en hoekom sy tong in knope gedwing word as hy met ’n meisie gesels. En met blonde Elizabeth Verster is dit tien maal erger as gewoonlik …

Ila voel net so ongemaklik soos Johan. “Mag ek dan maar my normale bedrywighede voortsit, dokter Retief?” vra sy formeel. Wat anders kón sy antwoord op sy verklaring dat sy nou perdfris en gesond is?

Die woorde “normale bedrywighede” was ’n ongelukkige keuse. Dit herinner Johan aan die toneeltjie op die stoep van die Hotel Alexander. Martin Niehaus met sy arms in ’n seekatgreep om Elizabeth … Johan is opnuut woedend vir haar en baie kwaad vir homself omdat dit hom so diep seergemaak het. Wat gaan dit hóm aan as Elizabeth daardie Niehaus-vent se geselskap blykbaar geniet? vra hy hom af. Sy is seker vry om te kies wie sy wil soen en aan wie sy wil vashou asof sy ’n drenkeling op die oop see is wat die lewensredder beet het. Hoekom wou hy Martin Niehaus wegruk en hom ’n opstopper gee? Martin het seker alle reg om Elizabeth te omhels, veral aangesien sy hom blykbaar heeltemal toegeneë was …

“Ja, juffrou,” sê Johan koel. Sarkasties voeg hy by: “Mits jou normale bedrywighede nie te … e … stremmend vir die gestel is nie, of moet ek sê vir die hart?”

Ila snap nie dadelik waarop hy sinspeel nie. Sy is te besig om ’n manier uit te dink om hom weer by die hotel te kry, al is dit in sy professionele hoedanigheid.

“Ek het omtrent ’n uur gelede weer daardie selfde dowwe kolletjies voor my oë gesien, dokter Retief. Ek was ook duiselig en daar was ’n suising in my ore. Ek dink komplikasies is besig om in te tree en …”

“Spaar my die komplikasies, juffrou,” val Johan haar kortaf in die rede. “Jou toestand kan nie baie kritiek wees as jy ’n uur gelede in staat was om so energiek aan uitputtende amoreuse bedrywighede deel te neem nie.”

“Amoreuse be … Ek kan verduidelik wat gebeur het.”

“Ek stel nie in jou verduidelikings belang nie, juffrou Verster.”

“Dis nie soos dit gelyk het nie.”

“Hoe het dit gelyk? Ek vrees ek het nie opgelet nie, juffrou. Ek was haastig, want daar het ’n dringende blindederm-operasie op my gewag.”

“Dis omdat ek duiselig gevoel het en bang was ek verloor my balans. Dis hoekom ek …”

“Ek is bevrees ek het nie tyd om langer met u te praat nie. My pasiënt het my aandag nodig.”

Nadat hy reeds die gehoorbuis neergesit het, dring dit eers tot Johan deur wat Ila gesê het van die dowwe kolletjies en die duiseligheid. Wou sy die gesprek uitrek of was dit die waarheid? Is daar werklik komplikasies, of wou sy ’n ver­skoning hê waarom sy so styf aan Martin Niehaus vasgehou het? Hy weet nie, maar watter een van die beweegredes dit ook al was, dit is belangrik. Hy trek weer die telefoon nader om die Hotel Alexander se nommer te skakel.

Daar is egter ’n dringende noodoproep vir dokter Johan Retief. Die ongevalle-afdeling soek na hom. Daar was ’n motorongeluk op die Witrivierpad …

Teen die tyd wat hy weer in die privaatheid van sy kantoor kom, stel die ontvangsklerk van die Alexander hom in kennis dat mejuffrou Verster ’n rukkie gelede haar kamersleutel ingehandig het en blykbaar uit is. Waarheen, of hoe laat sy terug sal wees, weet hy nie.

“Vra haar om dokter Retief te skakel sodra sy inkom,” sê Johan.

Ila drentel langs die hoofstraat af, maar sy sien nie die mense om haar nie en ook nie die ware wat in die winkels se vertoonlokale uitgestal is nie. Sy kom nie agter dat sy by Panorama-toere se kantoor verbystap nie en sy let nie op na die veelkleurige advertensieplakkate van die Krugerwildtuin en die Blyderivier-canyon nie. Sy het te veel ander dinge om aan te dink. Veral die insinuerende verwysing na haar energieke amoreuse bedrywighede grief Ila opnuut. Hoekom wou Johan Retief haar nie kans gee om te verduidelik nie? Hy maak sy eie gevolgtrekkings en dan val hy haar in die rede as sy wil verduidelik … Hy dink tog seker nie regtig sy het Martin helder oordag, en ten aanskoue van al die ander mense op die stoep, omhels en gesoen nie? Of … of is dit soos dit vir hom voorgekom het?

Ila weet sy kan die saak nie daar laat nie. Sy sal ’n geleentheid moet soek om aan Johan Retief te verduidelik wat die omstandighede was. Al sien sy hom nooit weer nie, al stel hy nie belang nie, kan sy nie toelaat dat hy onder ’n verkeerde indruk bly nie. Hy moet haar nie as ’n goedkoop meisie en ’n flerrie beskou nie. Ander mense miskien, maar nie hý nie. Ander mense kan maar sleg van haar dink, maar nie dokter Retief nie.

Het sy al daaraan gedink dat sy hom beslis weer sal sien as sy op Rietendal is? vra Ila haar af. Daniel Niehaus is mos sy pasiënt en hy kom seker dikwels op die plaas, seker elke tweede of derde week. Gaan dit die finale deurslag gee – die feit dat sy dokter Retief gereeld sal sien as sy Rietendal toe gaan?

Ila weet sy behoort nie so oor ’n byna wildvreemde man te voel nie. Die gedagte dat sy die aantreklike jong geneesheer elke tweede of derde week sal sien, laat haar hart egter vinniger klop. Is sy besig om halsoorkop verlief te raak?

Net toe Ila by die apteek verbystap, keer ’n jong meisie haar voor.

“Daniela! My wêreld, vreemdeling! Dis ’n verrassing om jóú weer na al die jare te sien?”

“Hallo,” groet Ila verleë. Dis ook maar goed ’n mens se gedagtes is nie leesbaar nie, anders het almal geweet sy loop helder oordag en drome droom oor ’n man wat nie in meisies belangstel nie. Of kan buitestanders dit op ’n mens se gesig sien as jy pas agtergekom het jy is dolverlief?

“Waar was jy al hierdie jare, Daniela? Ons het almal gewonder wat van jou geword het. Jy onthou my mos, nè? Alta Smit, wat saam met jou op skool was. Ek weet ek is twee keer so vet as wat ek in matriek was, maar ek is nog dieselfde ou maltrap. Jy het nie veel verander nie, behalwe dat jy maerder geword het en jou pragtige lang hare afgesny het. Hoekom?”

Dis ’n stortvloed woorde. Ila weet nie waar om te begin antwoord nie. Die arme meisie is wel effens geset, maar dit sal seker nie hoflik wees om saam te stem dat sy binne vyf jaar twee keer groter geword het nie.

“Jy het ook nie veel verander nie, Alta,” sê Ila skamerig. “Ek sou jou dadelik herken het, maar ek was ingedagte. Hoe gaan dit met jou?”

“Nee, ek skop darem nog. Waar was jy al hierdie tyd?”

“In Johannesburg. En jy?”

“Hier en daar, maar meesal hier. Ek werk in die bank. Kassier. Is jy net met vakansie, of is jy vir goed tuis?”

“Ek het nog nie vas besluit nie, maar ek dink ek het vir goed huis toe gekom. My pa is nie gesond nie.”

“Jy moet vir hom kom kuier. Ek woon nog steeds by my ouers in Magnoliastraat. Haai, ek moet wikkel! Daar is so baie dinge waaroor ek met jou wil gesels, maar ek moet vyfuur by die haarkapper wees.”

Dit het maklik gegaan, dink Ila toe sy aanstap. Sy moes dit te wagte gewees het dat mense haar sal herken. Nou is sy vas. Nou sal sy Daniela Niehaus moet bly. Sy kan nie een oomblik Daniela wees en die volgende oomblik weer Elizabeth nie. Wat sal Alta Smit en ander mense daarvan dink as hulle toevallig uitvind dat sy as Elizabeth Verster by die hotel geregistreer is?

Nee, sy is nie van hierdie spesifieke oomblik af gebonde nie, besef Ila. Haar bekommernis oor ’n arme siek ou man, haar medelye, die benarde toestand van haar finansies en die wete dat sy dokter Johan Retief gereeld op Rietendal sal sien, het reeds die deurslag gegee.

By die Hotel Alexander oorhandig die ontvangsklerk weer aan Ila ’n velletjie papier met ’n boodskap saam met haar kamersleutel.

Ila kan nie gou genoeg by die telefoon kom nie. Is hy jammer omdat hy netnou so kortaf was en weer met haar rusie gemaak het? wonder sy. Wil hy verskoning vra, of … of het hy tog besluit om haar vir koffie te nooi?

“Jammer, maar dokter Retief is besig en het uitdruklike bevele gelaat dat hy nie gesteur mag word nie, juffrou,” sê suster Badenhorst. “In verband waarmee wou u hom gespreek het?”

Sy klink kil en koud, asof Ila haar in haar werk gesteur het.

“Dis ’n persoonlike oproep,” antwoord Ila.

“Dit spyt my. Dokter ontvang geen persoonlike oproepe by die hospitaal nie. Dis ’n reël wat hy nooit verbreek nie.”

Suster Esther Badenhorst geniet dit om Ila af te haal. Sy weet wie dit is wat na Johan soek. Dis daardie blondine wat gisteroggend so haar flikkers vir hom gegooi het. Die klein snip moenie dink sy kan Johan van onder hulle neuse kom steel nie. Johan behoort aan húlle. Al die verpleegsters – sy inkluis – sukkel al lankal om sy belangstelling te prikkel. Hierdie vreemde meisie met die wit hare moenie dink sy gaan met die prys wegstap nie. Sy is ’n buitestander, ’n stadsjapie en boonop nog uit Johannesburg …

Hoekom het hy dan gevra sy moet hom skakel? dink Ila vies. Of het hy geweet die suster sou haar so kortaf behandel? Is dit hoekom hy die boodskap by die hotel gelaat het? Juis omdat sy afgehaal moet voel as sy met hom probeer kontak maak en dit nie kan regkry nie? Gebruik hy die onvriendelike suster as ’n doeltreffende buffer teen lastige en onwelkome telefoonoproepe?

Ila weet Johan Retief sal nie so kleinlik wees nie. Iewers is daar seker ’n misverstand.

“Kan u my asseblief dokter Retief se huisnommer gee?” vra Ila.

“Dit spyt my, ek ken nie sy privaatnommer nie. Ek glo ook nie dokter Retief het ’n telefoon by sy huis nie.”

Johan moet net nie uitvind sy het ’n stokkie probeer steek voor hierdie moontlike toekomstige romanse nie, dink die suster bekommerd. Sy sal maar sê dit was nie sý wat aan diens was toe die dametjie geskakel het nie.

Ila plaas die gehoorbuis teleurgesteld terug op die mikkie. Voor haar strek ’n lang en eensame aand. Sy sal maar daardie foto’s van die huis en die werf bekyk en die ou briewe lees. Dan sal sy vir haar ’n tydskrif gaan koop en vroeg in die bed klim sodat sy môre fris kan voel as Martin Niehaus kom kuier.

Ettie Bierman Keur 9

Подняться наверх