Читать книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman - Страница 4

1

Оглавление

“Jy is dwaas, Janie. Impulsief en oorhaastig. Hoe kan jy met ’n man trou wat jy skaars twee weke ken?”

Janie glimlag en haar grys oë is blink en gelukkig.

“Wanneer ’n meisie so dolverlief soos ék is, tel sy nie die tyd nie, Okkie. Sy trou so gou moontlik met die man, voordat hy kan ontsnap of ’n ander meisie haar voorspring.”

“En gaan begrawe haarself duisende kilometer ver in die gramadoelas?”

“Pafuri-wildreservaat is nie duisende kilometer weg nie. Dis presies seshonderd-een-en-dertig kilometer van Johannesburg af en is die mooiste plek op aarde.”

“Dis omdat jy net vir ’n naweek daar was en alles deur ’n rooskleurige bril gesien het.” Okkie se stem is skielik dringend en hy neem Janie se hand in albei syne. “Jy is ’n stadsmens, my liefste. Jy is lief vir fliek en partytjies en mooi klere. Sal jy in ’n verlate en verafgeleë stuk bosveld kan aanpas? Sonder winkels en teaters en televisie en interessante mense? Gaan jy nie binne ’n paar dae bitter verveeld wees en na die stadsliggies terugverlang nie? Wat gaan jy die hele tyd met jouself aanvang?”

“Jy vergeet dat Theo daar sal wees,” sê Janie sag. “Ek het hom lief, Okkie, en al het hy my gevra om in die noordpoolgebied saam met hom te gaan woon, sou ek dit gedoen het.”

Okkie los Janie se hand en stoot die bordjie wat hy met koek en southappies volgelaai het, vererg eenkant toe op die lessenaar.

“’n Maand. Dis die langste wat jy dit daar sal uithou en dan hardloop jy baie vinnig terug stad toe – minus meneer Veldwagter Vermaak.”

“En kom huil op jou skouer? Ek glo nie, Okkie. Theo Vermaak is ’n wonderlike persoon. Jy sal van hom hou. Agterna sal jy sê …”

“Ek glo nie,” val Okkie haar koel in die rede. “En ek glo ook nie ek sal langer by die partytjie bly om hierdie vreeslike wonderlike ou te ontmoet nie. Ek is met die Reitz-kontrak besig en het nog baie ander werk wat voor vyfuur vanmiddag afgehandel moet word. Ons is nie almal so gelukkig soos jy wat vandag net halfdag werk nie.”

“Jy kan nie nou al loop nie,” probeer Janie keer. “Ons gaan nog eers vonkelwyn skink.”

“Vonkelwyn? Vonkelwyn is onvanpas wanneer ’n mens die grootste fout van jou lewe maak. ’n Mens vier nie so ’n halsoorkop verlowing nie.”

Okkie wag nie op ’n antwoord nie en stryk die kantoor uit.

Janie wil agterna gaan, maar een van die senior tiksters kom langs haar sit.

“Ek kon dit nie verhelp om Ockert se woorde te hoor nie, maar moenie jou aan hom steur en toelaat dat hy jou laaste paar uur by ons bederf nie, Janie. Hy is baie kleinlik. Hy is nie grootmoedig genoeg om te aanvaar dat jy ’n ander man bo hom verkies nie. Moenie gaan mooipraat nie. Hy sal wel nou-nou terugkom om te kom kyk hoe hierdie kêrel lyk wat binne twee weke meer kon bereik as wat hy in ’n hele jaar kon regkry. Ek het nog nie eers daardie yslike klip aan jou vinger behoorlik bekyk nie …”

Janie hou haar linkerhand uit, maar om haar mond is daar ’n hartseer trek. Sy en Okkie was baie goeie vriende en sy sal altyd ’n sagte plekkie in haar hart vir hom hê. Dis jammer dat hulle vandag op hierdie voet uitmekaar moet gaan. Om eenuur kom Theo haar haal en sy weet nie wanneer sy weer in die stad sal kom of kans sal hê om haar vriende en kollegas by die kantoor op te soek nie.

“Dis ’n lieflike ring, Janie,” sê Mercia bewonderend. “Dit moes ’n fortuin gekos het. En ek stem nie met Ockert saam nie. So ’n warrelwindromanse is baie meer opwindend as ’n lang, uitgerekte verlowing en troudatum wat jare voor die tyd al bepaal is. Kan jy glo dat jy binne ’n paar uur mevrou Theo Vermaak sal wees?”

Janie voel hoe ’n opgewonde tinteling deur haar are bruis en draai die blinknuwe ring om en om aan haar vinger. Alles het so vinnig gebeur dat sy dit self byna nog nie kan glo nie.

Twee weke gelede het sy en ’n vriendin op ’n ingewing besluit om vir die naweek na die Pafuri-wildreservaat toe te gaan aangesien nie een van hulle twee stadsjapies al in enige wildtuin was nie en Riana pas tevore ’n ou tweedehandse motortjie gekoop het wat sy graag op die lang pad wou uittoets. En dit was daardie selfde dierbare rooi motortjie wat haar hierdie ring aan die vinger besorg het …

’n Halfuur anderkant die ingangshek en veertig kilometer duskant Njelele-kamp het die rooi besie skielik om die draaie traag begin reageer. Eers het Riana gedink die motor gly in die sand en toe weer dat sy maar net nie aan ’n sinkplaatpad gewoond is nie, maar na nog omtrent twintig minute se ry het sy begin wonder of die motor nie dalk ’n pap band het nie. Hulle het stilgehou en gesien dat Riana se derde raaiskoot reg was. Die linkerkantse voorband het gelyk asof hy onder ’n padroller deurgeloop het.

“Ek dínk ek weet hoe om ’n ander wiel aan te sit,” het Riana vol twyfel gesê. “En daar behoort seker iewers in die motor ’n noodwiel en gereedskap te wees.”

Na ’n lang gesoek en afpakkery van al hulle bagasie het hulle wel op ’n noodwiel afgekom, dog hulle kon nie die skroefmoere loskry nie en na ’n paar afgebreekte vingernaels en vuil kolle aan hulle wit langbroeke het sy en Riana die stryd gewonne gegee. Die rooi besie was nie baie gewild nie.

“Wat nou?” wou ’n moedelose Riana weet. “Sedert ons in die wildtuin is, het ons nog geen enkele ander motor gesien nie! Sit ons nou maar in die Kalahari-Ferrari met die hoop dat hier weldra ’n barmhartige Samaritaan sal verbykom wat kan help? Wie se briljante idee was dit in elk geval om buite seisoen na ’n verlate wildreservaat toe te kom?”

“Joune. Ons is dertig kilometer van die ingangshek af en omtrent vyf-en-twintig kilometer van Njelele-kamp af, dus help dit nie om te begin aanstap nie,” het Janie vanuit die koelte van ’n maroelaboom opgemerk. “Ons sal hier moet wag, maar dis te warm in die motor. Kom sit hier onder die boom.”

Hulle het ’n kombers onder die maroelaboom oopgesprei. Eers was hulle ’n bietjie skrikkerig oor die moontlikheid van leeus in die omgewing, maar na ’n rukkie het hulle ’n trop rooibokke rustig aan die oorkant van die Pafuri-rivier sien wei en toe was hulle meer gerus. Die skrikkerigheid het plek gemaak vir ’n begeerte om iets te drinke te kry, want dit was warm en die koffie wat hulle die vorige aand op Potgietersrus gedrink het, het soos jare gelede gevoel.

“Daar was ’n T-aansluiting ’n kilometer of wat terug,” het Janie hoopvol onthou. “Sal ek daarheen loop en kyk of daar nie dalk ’n motor verbykom nie?”

“As jy wil.” Riana was nie baie optimisties nie en ook nie lus om saam te stap nie.

By die T-aansluiting was geen mens of dier of motor te sien nie, maar na ’n ruk wel ’n stofstreep in die verte. Nadat sy dit ’n minuut lank fyn dopgehou het, het Janie besluit dis ’n voertuig wat in haar rigting aankom.

“Riana!” het sy opgewonde geroep, hoewel Riana te ver weg was om haar te hoor. “Jou barmhartige Samaritaan is op pad en ek hoop dis ’n groot, sterk man met bultende spiere wat kleingeld van daardie skroewe sal maak!”

Dit wás ’n man – ’n bruingebrande jongman met die epoulette van ’n veldwagter op sy breë skouers – wat tien minute later met ’n Land Rover in ’n stofwolk langs Janie tot stilstand gekom het. Hy het egter eerder grimmig as barmhartig gelyk.

“Wat soek jy buite jou motor, juffrou?” het hy onvriendelik gevra.

“Hulp.” Janie het stralend geglimlag, dog dit het geen versagtende uitwerking op die beampte gehad nie.

“Juffrou, ken jy nie die regulasies van die reservaat nie? Jy mag onder geen omstandighede uit jou motor klim nie.”

“Maar hierdie is ’n krisis. Ons het ’n pap band en kon nie die skroewe aan die wiel loskry nie. Toe stap ek tot by die aansluiting sodat ons ’n dubbele kans kon hê om ’n motor voor te keer.”

“Klim in,” het die beampte kortaf beveel.

’n Blik na die kil blou oë het Janie skielik laat huiwer.

“W-waarheen gaan u my neem? Ons kan my vriendin nie alleen daar laat nie. Sy sal nie weet wat van my geword het nie.”

Hy het vir die eerste keer die ghriesstreep oor haar wang en die moeë lyne om die gevoelige mond raakgesien en die grimmige gesig het ’n oomblik lank versag. Die toeriste in die reservaat is ’n noodsaaklike euwel wat maar verdra moet word en hierdie mooi donkerkop-meisietjie is seker nie méér onnosel as daardie aggressiewe Amerikaner wat verlede week ook uit sy motor geklim het en nader aan die olifant gestap het om ’n beter foto te kan neem nie. Hierdie enetjie is nog baie jonk en sy het gedink ’n pap band is genoegsame rede om die motor te verlaat en hulp te gaan soek.

“Toe maar, ek gaan jou nie agter tralies sit nie, juffroutjie,” het hy effens geglimlag en die deur vir haar oopgemaak. “Ek sal daardie band gou gaan omruil. Maar jy het ’n dom ding aangevang. Net anderkant daardie koppie het ek ’n leeuwyfie gesien. Ek sê nie sy was in hierdie rigting op pad nie, maar kan jy my blameer dat ek omgekrap was om net om die volgende draai ’n toeris te voet langs die pad te kry? En dít nogal ’n jong meisie?”

“Ek kan verstaan dat u kwaad was,” het Janie in ’n klein stemmetjie geantwoord en toe effens uitdagend bygevoeg: “Maar net hier anderkant die rivier wei ’n trop rooibokke ewe rustig en dit het my gerus gestel dat hier nie leeus naby is nie.”

“Die leeus is windaf; die bokke kan hulle nog nie ruik nie. En leeus is ook nie die enigste gevaar in die veld nie. Is dit jou motor, daardie rooietjie?”

“My vriendin s’n.”

Dit het Theo Vermaak presies vyf minute geneem om die wiel om te ruil en met Riana te raas omdat die loopvlak van haar motor se bande so weggeslyt is.

Riana het haar skouers opgehaal.

“Dis hoe die motor aan my verkoop is. Voetstoots. Is dit nog omtrent vyf-en-twintig kilometer tot by die kamp en is daar berge yskoue koeldranke by die restourant, meneer Vermaak?”

“Drie-en-twintig, en daar is geen restourant op Njelele nie.”

Riana se gesig was ’n studie van skok en ongeloof.

“Maar iemand het dan vir my gesê in elke kamp is daar ’n moderne restourant en ’n supermark en ’n swembad en … en alles.”

“In die Kruger-wildtuin, ja, hoewel dit slegs Pretoriuskop is wat ’n swembad het. Ek is bevrees Pafuri is nog nie gevestig genoeg om dieselfde geriewe aan toeriste te bied nie. Dis meer die avontuurlustige toeriste of diegene wat die natuur in ’n ongerepte toestand verkies, wat Pafuri toe kom in plaas van om na die Kruger-wildtuin toe te gaan.”

“M-maar waar gaan ons eet?” het Janie verslae gevra. “En wát gaan ons eet en drink?”

“Het julle nie gasstofies en julle eie voorrade saamgebring nie?”

“Nee. Niemand het gesê ons moet nie. Is daar géén winkels in die kampe nie?”

“Daar is net twee kampe en albei het die minimum geriewe.”

“En hoe ver is die naaste dorp?” Janie het baie bekommerd begin raak.

“Messina is vier-en-vyftig kilometer van die ingangshek af.”

“Maar … maar dit sal ure vat om nou eers terug te draai en Messina toe te gaan, en dan het ons geen tyd vir die wildtuin oor nie.”

Janie het so ontsteld gelyk dat Theo gelag het.

“Ek sal kyk of ons ’n plan kan maak. Ek het ’n klompie voorrade en ’n stofie en ’n pot of ’n pan wat ek vir julle kan leen.”

“En koue koeldrank?” het Riana hoopvol gevra.

Theo het vir hulle koeldrank op die toegegaasde stoep van sy rondawel gegee en toe hy sien hoe onhandig die twee stadsjapies met die geleende gasstofie sukkel, hulle genooi om by hom te eet. Niks spesiaals nie, sommer net braaivleis en as die twee asters so voel, kon hulle slaai en ’n paar toebroodjies maak.

“En agterna sal ons opwas ook,” het Janie met blink oë belowe. “Dis die minste wat ons kan doen na al jou moeite.”

“Julle is met vakansie; moenie té hard werk nie, astertjie.” Theo het haar tergend met die wysvinger op die neus getik en na buite gestap om te gaan kyk hoe die vuur vorder.

Janie het gewag totdat sy hom buite hoor werskaf voordat sy die mes neergesit het waarmee sy besig was om tamaties te sny, en na Riana gedraai.

“Is hy nie ’n fantastiese ou nie?”

“Hy is baie oulik,” het Riana droogweg geantwoord. “Maar ek glo nie dit sal help as ék my flikkers begin gooi nie.”

“Hoekom nie?” Dit was vir Janie baie belangrik om die antwoord te hoor.

“Omdat daardie man oë vir geen ander meisie as Janie Marais het nie.”

Skielik was Janie lus om te jubel en te sing en haar arms om Riana te gooi en buitetoe te hardloop en dieselfde met Theo Vermaak te doen. Meteens was die wêreld ’n wonderlike plek. Sy het ook gedink – gehoop – hy hou darem so ’n klein bietjie van haar, want sy hou báie van hom … miskien ’n bietjie te veel, want hy was ’n man wat sy maar ’n paar uur tevore ontmoet het.

“Dink jy so, Riana?”

“Ek dink beslis so. As ek die tekens reg lees, is daardie veldwagter ’n baie verliefde man.”

“En ék is ’n baie verliefde meisie,” het Janie blosend gelag. “’n Dolverliefde aster!”

Dit was die begin van ’n wonderlike en onvergeetlike naweek. Na ete het Theo hulle genooi om na die renosters te gaan kyk wat hulle ’n paar maande gelede van Hluhluwe aangekoop het, maar gewaarsku dat die pad daarheen baie sleg is. Die diere is nog nie vir die publiek te sien nie en plek-plek sal hulle sommer deur die veld moet ry.

“Is renosters nie gevaarlik nie?” het Riana gehuiwer.

“Die swart renoster wel. Dié is baie aggressief. Maar hierdie is agt wit renosters wat ek ’n jaar of langer in die kamp wil hou om aanpassing te vergemaklik en te sien of hulle hier sal aard. Wat sê jy, Janie? Is jy ook so ’n ou bangbroek soos jou vriendin, of wil jy gaan renosters kyk?”

Ek sal tot by die uiteindes van die aarde gaan en na énigiets – selfs na ’n stuk klip of ’n ou boomstomp – gaan kyk, solank jy net saamgaan! wou Janie uitroep, dog sy het stemmig gesê: “Dankie. Ek sal graag saamgaan. As dit nie moeite is nie?”

“Geen moeite nie. Ek was in elk geval van plan om vanmiddag ’n draai by die kamp te gaan maak en as julle saamkom, sal dit soveel aangenamer wees. Plig en plesier gemeng.”

Die renosters was indrukwekkend, en tien minute se ry van Njelele af het hulle ’n kameelperd gesien. Net om die volgende draai het hulle op ’n reuse-olifantbul afgekom wat besig was om ’n mopanieboom uit sy pad te stoot. ’n Snaakse soort voël met ’n lang geel snawel het bo vanuit ’n droë boom die onnodige kragvertoon sit en bekyk en het nie baie beïndruk gelyk nie.

“Dit lyk of hy teen sy neus af kyk,” het Janie gelag. “Watter soort voël is dit, Theo?”

“’n Neushoring. En kyk, daar ver sirkel ’n klomp aasvoëls. Die leeus het seker verlede nag daar gevang.”

Riana het na ’n rukkie se soek die swart stippels raakgesien, maar vir Janie het die lug ’n ononderbroke blou gebly.

“Dáár, blindemol …!” het Theo gelag en toe sy hulle nog steeds nie kon sien nie, sy arm om haar skouers geplaas en haar eers ’n ligte drukkie gegee voordat hy met sy wysvinger in die regte rigting gekorrel het.

“Hulle sê daar is twee soorte mense in die wildtuin.” Theo se stem was tergend. “Die soort wat sê: ‘Daar, daar!’ en die ander soort wat vra: ‘Waar, waar?’ Dit lyk my jy behoort aan die tweede groep. Kyk mooi … al met my vinger langs …”

Toe Janie die voëls uiteindelik raakgesien het, het Theo ’n soentjie as beloning op haar voorkop gedruk.

“Jy sal regkom, astertjie. Ek sal jou moet leer hoe om diere te soek – hoe om nie net te kýk nie, maar om te sién ook, anders sal jy nie hier by ons gelukkig wees nie.”

Janie het vinnig na Theo gekyk, dog hy was reeds besig om die Land Rover se enjin aan te skakel en sy kon nie sy gesig sien nie. Hoekom het sy stem so half … anders geklink toe hy nou-nou gepraat het? Of was dit slegs haar verbeelding?

Theo het opgekyk en haar vraende blik op hom betrap. Dit was sy beurt om verleë en effens ongemaklik te klink.

“Of praat ek te gou, Janie?”

Die ligblou oë was pleitend en Janie het blosend by die venster uitgekyk, na doer ver waar die aasvoëls nog steeds bokant die leeuvangs gesirkel het.

Daardie aand by die vleisbraaivuurtjie het Theo sy vraag herhaal en hierdie keer was daar nie aasvoëls om na te kyk nie en ook nie ’n vriendin op wie se teenwoordigheid Janie kon terugval om haar verleentheid te verberg nie. Riana het die broodrolletjies in die kombuis gaan haal en sy en Theo was alleen by die hardekoolvuurtjie.

“Janie, ek dink ek het jou liefgekry daardie oomblik toe ek jou langs die pad sien staan het,” het Theo sag gesê.

Janie het nie dadelik geweet hoe om te antwoord nie en haar toevlug tot ’n tergende opmerking geneem.

“Dit het nie gelyk of jy op daardie oomblik van my gehou het nie. Jy was woedend en het met my geraas.”

“Dis omdat ek oor jou veiligheid bekommerd was, my allerliefste ou nooientjie. Jy het ’n onbesonne ding aangevang en dis hoekom jy raas gekry het. Julle moes in die motor gewag het totdat hulp opgedaag het.”

“Al was dit ’n halwe dag in hierdie warm son?”

“Al was dit ’n héle dag in hierdie bloedige son! As jy ooit weer so iets aanvang, trek ek jou oor my skoot.” Theo se liefkosende stemtoon het egter sy woorde weerspreek en hy het haar sag nader getrek. “Ek het jou lief, my donkerkop-domkop-astertjie. Ek weet dis baie gou en miskien moes ek gewag het, maar môre gaan julle terug Johannesburg toe en ek wil weet of ek volgende naweek kan kom kuier en ’n verloofring aan jou vinger steek.”

“Ek sê – kan jy glo dat jy binne ’n paar uur mevrou Theo Vermaak sal wees?” herhaal Mercia in ’n harder stemtoon en Janie kom stadig terug aarde toe. Soos sy al so dikwels in die verlede vir almal gesê het, het alles so vinnig gebeur dat sy dit self byna nog nie kan glo nie. Maar dan voel sy die breë goue band van haar verloofring wat sy nog altyd om en om aan haar vinger sit en draai, asook daardie heerlike tinteling wat deur haar are bruis.

“Amper nie,” lag sy. “As dit nie vir Riana en haar dierbare rooi motortjie was nie, het ek nie van Theo se bestaan geweet nie en sou ek seker ook vandag aan daardie Reitz-kontrak moes gewerk het.”

“Hoe lyk hy?” vra een van die ouer tiksters nuuskierig. “Is hy mooi?”

Daar is skielik ’n ondeunde vonkeling in Janie se oë.

“Nee, Marina. Ek glo nie ’n mens sal Theo juis as beeldskoon kan beskryf nie. Hy is ’n korterige mannetjie en miskien ’n bietjie oorgewig, maar hy het belowe om na ons troue ’n streng dieet te volg.”

“O …” Die ouer meisie se belangstelling het skielik afgeneem. “E … hoe oud is hy, Janie?”

“’n Raps duskant die sewentig, maar ’n mens sal dit nooit raai nie. Theo dra sy jare baie goed en is nog nie te erg witkop nie. Ten minste, die paar haartjies rondom sy pankop is nog ’n herkenbare donkerbruin. En sy gesondheid is uitstekend. Dis net die liddorings wat ’n bietjie lol, maar hy sê die nuwe pleisters op die mark verrig glo wondere. Hy het blou oë en hy is ’n fantastiese man, Marina. Ek weet ons gaan baie gelukkig wees.”

“E … ja.” Marina probeer om nie simpatiek te lyk nie. Janie is so jonk en lewenslustig en altyd vol grappies en lief vir partytjies en mooi klere. Sy is maar negentien jaar oud. Sal sy gelukkig wees saam met ’n man wat soveel jare ouer as sy is en boonop daar ver in ’n verlate bosreservaat woon? Sou Ockert Smuts haar nie ’n beter lewe kon bied as hierdie veldwagter op wie sy om die een of ander onverklaarbare rede so halsoorkop verlief geraak het nie?

“Sal ons solank die vonkelwyn begin oopmaak, juffrou Marais?” vra een van die firma se junior vennote. “Hoe laat kom jou aanstaande?”

“Dankie, meneer Van Wyk. Theo behoort nou enige oomblik hier te wees.”

“Janie,” sê Marina dringend, “behoort jy nie ’n maand of twee te wag om dubbel seker te maak dat jy hierdie man liefhet nie? Jy en Okkie was dan sulke goeie vriende …”

“Ons was net goeie vriende, ja, en niks meer nie,” glimlag Janie. “Vir Theo het ek lief en ek wil daardie strop om sy nek kry voordat hy kan ontsnap. Ek is seker daar is rye ander meisies wat toustaan om hom gevang te kry.”

“As jy so sê …” aarsel Marina en stap dan kombuis toe om haar baas met die glase en vonkelwyn te gaan help.

“Het jy darem ’n adres waarheen ’n mens vir jou kan skryf?” vra Mercia in die ongemaklike stilte wat volg.

“Daar word een keer per week pos by Njelele – dis die hoofkamp – afgelewer en dit sal gaaf wees as jy wil skryf. Afgesien van Theo en die bobbejane en ape sal daar vir my seker nie veel geselskap wees nie. Ek sal baie na julle klompie verlang.”

Marina kom met ’n skinkbord glase van die kombuis af en skrik toe sy ’n vreemde jongman in die gang aantref.

“Jammer, meneer, ons is nie altyd in so ’n wanorde nie, maar ons is met ’n kantoorpartytjie besig. Kan ek help? Vir wie wil u spreek?”

“Juffrou Marais. Janie.”

“U is gelukkig dat sy nog op kantoor is, meneer. Dis juis van háár wat ons vandag afskeid neem. Sy het almal verras en uit die bloute aan ’n wildvreemde veldwagter – van alle dinge – verloof geraak.”

“O, is sy darem nog verloof?” vra Theo geamuseerd. “Dis goeie nuus. Ek het haar vier dae laas gesien en was bang dat sy dalk van plan kon verander het.”

Marina se mond gaan oop, maar daar kom geen geluid uit nie. Die dekselse Janie … Sy moes geweet het die lawwe meisiekind hou hulle almal vir die gek. Amper het sy haar mond verbygepraat. Hierdie man is presies die teenoorgestelde van die beskrywing wat Janie gegee het en sy kan verstaan dat daar seker rye ander meisies toustaan om hom gevang te kry. Hy is ’n aantreklike mansmens. Daardie blou oë en blonde hare wat deur die son gebleik is, tesame met die paar breë skouers …

“Vermaak is die van,” onderbreek Theo haar gedagtes en steek ’n hand uit.

Marina ly nog aan skok en is dankbaar toe hy die skinkbord by haar neem.

“E … Marina van Wyk,” stamel sy verward. “Aangename kennis, meneer Vermaak.”

“Theo,” korrigeer hy glimlaggend. “Is daar nog glase of iets anders wat ek kan help aandra, Marina?”

“Dankie, maar daar is niks meer nie. Die mense is almal in die algemene kantoor. Ons hoop maar daar daag nie onverwags kliënte op nie …”

Janie het pas haar nuwe adres vir ’n paar van die mense neergeskryf en is besig om ’n stroewe Okkie se notaboekie by hom te neem, toe sy Theo in die deur van die kantoor sien staan.

“Meneer Wonderlik het gearriveer,” merk Okkie sarkasties op, hard genoeg dat Theo dit kan hoor.

Daar is ’n blos op Janie se wange en sy spring dadelik op, dog die blik in Theo se oë laat haar aarsel. Sy ken hom nog nie goed genoeg om te oordeel nie, maar die uitdrukking op sy gesig is dieselfde as daardie eerste dag toe hy haar te voet in die veld gekry het en so woedend was.

“H-hallo, Theo,” stamel Janie, skielik weer so skaam en verleë in sy teenwoordigheid soos daardie aand by die hardekoolvuurtjie.

“Middag, Janie,” groet hy koel en sit die skinkbord op die naaste lessenaar neer. “Stel jy my nie aan jou … vriend voor nie?”

“Ja, natuurlik.” Janie voel dat sy rooi word.

“Ockert Smuts,” spring Okkie haar voor. “En ek neem aan jy is Vermaak – die man wat my nooi gesteel het?”

Janie verwens vir Okkie en probeer desperaat aan iets dink wat sy kan sê om die gespanne oomblik te verlig.

Theo se blou oë flikker gevaarlik, maar sy stem is kalm toe hy antwoord. “Aangename kennis, Ockert. Ek is jammer om jou te weerspreek, maar ’n nooi behoort eers aan ’n man wanneer sy sy ring aan haar vinger dra. Jy het miskien nie hard genoeg probeer nie, my vriend.”

Eers dink Janie dat Okkie meer gaan kwytraak en hou haar asem op, dog dan draai hy sonder ’n verdere woord om en stap die kantoor uit.

“E … ek is bly jy is hier, Theo,” praat Janie senuweeagtig. “Het jy maklik ons kantoor gekry? En was daar parkeerplek naby?”

“Ja, dankie,” antwoord Theo kortaf.

“Hoe lyk dit met ’n bietjie vonkelwyn, mense?” vra Marina in ’n harde stem en Janie glimlag dankbaar vir die ouer meisie. “Theo, siende dat jy die skinkbord vir my gedra het, mag jy eerste neem …”

Nadat Marina gepraat het, is die ongemaklike oomblik skielik verby en is almal haastig om Theo te ontmoet en geluk te wens.

“’n Raps duskant die sewentig, oorgewig, pankop en liddorings …” sê Marina vies vir Janie. “Ek het reeds een van die klerke gevra om solank meneer Snyman se lekker sagte leunstoel vir jou stokou en kranke verloofde reg te kry, sodat hy gemaklik kan sit. Al wanneer jy die waarheid gepraat het, was toe jy gesê het dat hy blou oë het en dat hy onweerstaanbaar aantreklik vir lede van die teenoorgestelde geslag is.”

Janie glimlag effens. Haar grappie van netnou is skielik nie meer vir haar snaaks nie. Okkie se houding het haar ontstel en sy weet dat Theo haar oor Ockert Smuts sal uitvra. Dis iets waarna sy nie uitsien nie en vir die eerste keer voel sy effens onrustig. Was Okkie nie miskien reg nie? Is sy nie dalk dwaas en oorhaastig nie? Sy weet self dat sy Theo nog nie goed genoeg ken nie en netnou het sy geskrik vir daardie ontoegeeflike uitdrukking op sy gesig. Is dit nie dwaas om met ’n man te trou wat jy skaars twee weke ken en eintlik nog vir jou ’n vreemdeling is nie? Sy hoor weer Marina se stem wat vra of sy nie liewer ’n maand of twee moet wag om dubbel seker te maak dat sy hierdie man liefhet nie. Sy en Okkie was dan sulke goeie vriende …

Dit was Marina se raad toe sy gedink het Theo is amper vier keer jou eie ouderdom, sê Janie vir haarself. En dan sien sy vir Theo waar hy gemaklik met ou oom Snyman staan en gesels. Sy sien die ferm ken met die effense kuiltjie langs die mooi, gevoelige mond en die breë skouers en die bruingebrande hand wat die glasie vonkelwyn vashou, en dis alles vir haar dierbaar bekend. Sy is sommer laf en miskien ’n bietjie dwaas. Die gevoel wat sy vir Theo het, is dieper as wat sy nog ooit vir enige ander man – Okkie inkluis – gehad het. Sy het hom lief en om sy vrou te wees, is iets wat sy met haar hele hart begeer. Sy het daardie blondekopman lief. Of hy nou smoorkwaad is, of brommerig, of rusiemakerig of jaloers of kortaf … dit maak nie saak nie: hy bly Theo Vermaak, die man met wie sy om vieruur in die huwelik tree en saam met wie sy vir die res van haar lewe gelukkig gaan woon.

“Nog ’n worsrolletjie, jou lawwe meisiekind?” bied Marina aan.

Janie skud haar kop.

“Ons eet vanmiddag by die Phoenix en ek is bang ek het dan nie ’n eetlus nie. ’n Klomp southappies in my maag, tesame met die skoenlappers wat nou erg begin fladder, sal veroorsaak dat ek niks kan eet nie.”

“Wil jy hê ek moet saamkom landdroskantoor toe en jou hand vashou, Janie? Siende dat jy nie ’n ma het om dit te doen nie …”

“Dankie, Marina. Ek terg sommer; ek is nie regtig senuweeagtig nie. Theo sal darem daar wees om my hand vas te hou.”

“En jy verkies sy hand bo myne? Ek blameer jou nie. Hy is ’n oulike ou. Het hy nie dalk ’n tweelingbroer wat ék kan kry nie?”

“Ongelukkig nie. Theo is net so arm aan familielede as wat ek is. Daar is net ’n neef – ’n Walt de Witt of iemand – wat glo skilder. Dis omdat ek ’n weeskind is en Theo albei sy ouers ’n jaar gelede verloor het, dat ons besluit het om stil voor die landdros te trou.”

“Dis die beste ding. Met hierdie inflasie en die stygende lewenskoste wil ’n mens nie ’n duur onthaal gee nie. Maar ek sien jy het darem ’n splinternuwe rok aan …”

“Jy ken my en my onmoontlike voorliefde vir nuwe klere. Ek weet nie wat Theo gaan sê as hy die berg tasse sien wat in sy arme motor gelaai moet word nie. Ek het gesê hy moet my liewer met een van die reservaat se vragmotors kom haal, maar hy het verkies om met sy motor te kom.”

“En hy is reg ook. Hoe sal dit lyk as die bruid in ’n vragmotor vertrek?”

Om kwart oor een kom Theo na Janie toe. Hy het blykbaar tyd gehad om af te koel, want sy glimlag is weer die bekende liefkosende een wat Janie se hart uitgelate teen haar ribbes laat bons.

“Is jy reg, my lief? Ons moet gaan eet en hierdie mense het seker baie werk wat wag.”

Janie voel skielik vol heimwee toe sy haar handsak en hoed optel en seker maak dat die laaie van haar lessenaar almal leeg is. Hier het sy baie ure lank gesit en werk en die horlosie dopgehou dat dit vyfuur moes word … en wie weet wanneer sy weer hierdie klomp mense van die kantoor gaan sien?

“Moenie,” sê Theo sag. “Ek sal vir jou ’n goeie man wees en jy kan binnekort kom kuier.”

Janie sluk aan die knop in haar keel en begin die naaste mense groet. Sy wil vir hulle dankie sê vir al hul vriendelikheid en belowe om te kom kuier, maar sy is bang sy begin huil en dan voel Theo sleg.

“Dankie vir … vir alles,” sê sy onbeholpe en hou Theo se hand baie styf vas. “Julle moet mooi bly …”

In die motor oorhandig Theo ’n bos blomme en sy sakdoek aan haar.

“Dankie, dis pragtige blomme. Moenie so omgekrap lyk omdat ek … h-huil nie, Theo. Dis sommer niks nie. Alle m-meisies huil wanneer hulle gelukkig is.” Janie streel bewerig oor die groot bos wit rose.

“Is dit so? Ek het min ondervinding van vroumense en nou voel ek baie beter. Ek het gedink jy huil oor daardie Smuts-kêrel wat my wou vermoor en op hierdie oomblik seker in sy kantoor staan en ons deur die venster dophou. Ek was bang dis oor hóm wat jy hartseer is.”

Theo se stem klink kalm, maar Janie word nie mislei nie. Die man is nog baie kwaad en dit sal takt kos om hom weer goed te kry.

“Watter Smuts-kêrel?” vra sy fronsend. “O, jy bedoel ou Okkie?”

“Presies. Ek bedoel ou Okkie,” maak hy haar sarkasties na. “Of is daar nóg ’n Smuts-ou wat ’n aanspraak op jou het?”

“Natuurlik nie. En Okkie en ek was net goeie vriende. Dis al.”

“Goeie vriende kyk ’n man nie middeldeur as hy aan hulle goeie vriendin verloof geraak het nie. Is die man verlief op jou? Het hy jou gevra om met hom te trou?”

“Ja, maar … maar ek het nee gesê. Theo, dis ons … troudag en … en ek voel hartseer omdat ek weg is by die kantoor. Daardie klomp mense was vir my amper soos fa-familie. Verlede nag kon ek nie slaap nie en nou het ek ’n h-hoofpyn en … en alles. Moenie met my rusie maak nie. Asseblief?”

Sy kyk pleitend na hom en dadelik versag Theo se gesig. Hy neem haar in sy arms, ongeag of iemand vanuit die kantoor hulle dophou of nie.

“Ek is ’n nare bees: selfsugtig en wreed en ongevoelig. Jaloers en onredelik …” Met elke woord soen Theo haar saggies, eers op die voorkop en dan op elke wang en uiteindelik op die sagte, bewende mond.

“Ek wou nie met jou rusie maak nie, my liefste. Dis omdat ek jou so lief het dat ek bang is om jou te verloor. Elke ander man hou vir my ’n bedreiging in. Ons twee ken mekaar nog net twee weke en ek is jaloers op daardie Ockert omdat hy jou soveel langer as ek ken. Jy behoort aan my en ek deel jou nie met ’n ander man nie. Ek is jammer, my skat. Ek sal probeer om nooit weer met jou rusie te maak nie.”

Theo hou Janie ’n armlengte van hom af weg.

“Nou is daar nóg ’n sakie waaroor ek sekerheid wil hê voordat ons trou … Nee, moenie so bang lyk nie,” keer hy toe hy sien hoe groot Janie se oë rek. “Ek terg jou sommer. Maar ek wil weet hoekom jy my nog nooit ‘liefste’ of ‘skat’ genoem het nie. In die begin was dit ’n formele ‘meneer Vermaak’ wat na baie mooipraat darem naderhand ‘Theo’ geword het, en ek het in ademlose spanning gewag, maar jy het nie verder as my voornaam gevorder nie. Hoekom nie?”

Janie bloos en verberg haar gesig in die blomme.

“Nee, dis vroumens-taktiek om só te maak en dis onregverdig. Kyk na my.”

Sy is egter te verleë en skud haar kop.

“Janie …!” Theo plaas sy wysvinger onder haar ken en dwing die blosende gesiggie op. “Is dit dan so moeilik om daardie woordjies te sê?”

“Ek is skaam …”

Theo lag en skakel die motor aan, skielik haastig om die ete afgehandel te kry en hierdie pragtige meisie sy eie te maak en saam te neem Pafuri toe.

“Het ek al vir jou gesê jy lyk soos ’n droom in daardie ligroos rok? Soos ’n droom wat waar geword het … As jy nie so moedswillig was nie en vir my gesê het watter kleur jou trourok gaan wees, sou ek vir jou ligroos rose gekoop het.”

“Wit rose is beter. Hierdie rose se naam is Vrede.”

“Dis ’n baie gepaste naam.”

By die volgende rooi verkeerslig neem Theo haar hand in albei syne en druk ’n teer soentjie op haar gewrig. Hy het hierdie skraal ou meisietjie met die verleë glimlaggie lief en hy hoop om haar gelukkig te kan maak. Hy hoop om haar so goed moontlik te kan beskerm, maar skielik wonder hy of dit werklik gepas was om vir klein Janie wit rose te gee. Daar gaan nie vrede wees wanneer hy met ’n bruid aan sy arm in Pafuri aankom nie …

Die motoris agter hulle blaas ergerlik sy toeter toe die lig groen word en Theo nie dadelik wegtrek nie. Theo brom iets onderlangs en grinnik dan vir die geskokte uitdrukking op Janie se gesig.

“Jammer. Oor een uur en vyftig minute sal ek ’n nuwe blaadjie omslaan en ’n uiters voorbeeldige man vir my vrou wees,” lag hy en skud die vae gevoel van onheil van hom af. Die verlede behoort tot die verlede en hy skuld niemand iets nie … “Sien jy nog kans om met my te trou?”

“O ja …”

“En in ’n wildreservaat te woon?”

“Ek kan nie wag om in Pafuri te kom en huisvrou te speel nie.”

“Binne ’n paar maande – sodra ons op daardie wilddiewe se spoor kom en hulle almal agter tralies het en my werk minder is – neem ek jou met vakansie.”

“Dis nie nodig nie. Ons hele lewe saam gaan soos een lang wittebroodsvakansie wees.”

Theo sit sy arm om Janie en druk haar styf teen hom vas, ongeag of die verkeerslig dalk reeds weer na groen oorgeslaan het en of daardie ongeduldige motoris nog agter hulle is. Dis nie elke dag dat ’n man na sy eie troue op pad is nie …

Ettie Bierman Keur 11

Подняться наверх