Читать книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman - Страница 9

6

Оглавление

“Jy was al my gesoebat werd, klein Ollie,” sê Janie vir die olifantjie en vryf haar neus teen sy slurp. “Oom Theo probeer so min moontlik by die huis wees en ás hy hier is, praat hy skaars met my. Jy is vir my goeie geselskap.”

Die olifantjie voel-voel met sy slurp in Janie se nek. Dis kielierig, maar sy verduur dit, bang om Ollie se gevoelens seer te maak. Toe hy egter ’n slurpvol sand opsnuif en gereed maak om dit oor haar te blaas, lig sy haar wysvinger vir hom.

“Nee, jy moenie stout wees nie, anders kry jy raas! Jy onthou wat gebeur het toe jy oom Theo se wag-’n-bietjieboom probeer omstoot het, nè? Jy en ek het albei lelik deurgeloop. Kom ons gaan kyk wat maak die vlakvarke …”

Ollie laat toe dat sy aandag afgelei word van die lekker speletjie wat hy in gedagte gehad het, maar hy hou nie van die varke nie en ook nie van die idee dat sy nooi elke oggend vir hulle ’n blik pap gee nie. Hy eet nie self daardie stywe wit korrelrige goed nie, maar hy gun dit ook nie vir die indringers nie en deel nie graag sy nooi se aandag met die varkgesinnetjie nie.

“Jy gaan maak dat daardie varke baie lastig word, Janie,” sê ’n stem agter haar.

Sy neem eers die blik van die gulsige pa-vark weg sodat die kleintjies ook kan eet voordat sy antwoord.

“Hallo, Katinka. Nee, ek gee elke dag vir hulle pap sodat die helpers nie moet kla die varke steel hulle kos nie.”

“Ek weet, maar jy moenie. Verlede jaar was hier ’n massiewe ou beer wat baie aggressief geraak het en een van die toeriste geskraap het toe dié te naby gekom het om ’n foto te neem. Verwilder hulle liewer sodat hulle padgee uit die kamp.”

“Ek sal hulle nooit kan verjaag nie. Ek sal te sleg voel.”

“Jy sal nog slegter voel as daar weer ’n toeris is wat kla en as Theo hulle moet doodskiet,” sê Katinka koel.

Janie weet nie of sy haar dit verbeel nie, maar Katinka is die afgelope tyd minder vriendelik teenoor haar, veral wanneer hulle alleen is. Wanneer Theo by is, is sy dadelik weer haar ou hulpvaardige en vriendelike self, maar Janie is deesdae nie meer op haar gemak in die ouer meisie se geselskap nie. Eers het sy haar oor Katinka se houding bekommer, maar toe besluit dat dit die hitte en lang ure smiddae op die atletiekveld is wat haar prikkelbaar maak.

“Doodskiet?” vra Janie geskok.

“Dis wat sal gebeur as die vlakvarke vir die toeriste gevaar inhou. Net soos Theo verlede jaar daardie ou alleenlopende olifantbul moes doodskiet, sal hy met die varke ’n plan moet maak as jy aanhou om hulle te lok. En ek weet hoe so iets arme Theo omkrap. Nadat hy die ou olifantbul van kant moes maak, was hy dae lank siek en dwalende. Jy weet self hoe jammer hy vir die diere voel en dis hoekom hy gedink het ek kan die saak op ’n meer taktvolle wyse aan jou stel.”

“Het Theo jou dan gevra om met my te praat?” vra Janie stadig. Sy merk nie op dat die pa weer nader gekom het en die laaste krummels uit die blik opgelek het nie.

“Ja. Hy sê jy sal tog nie luister as hý met jou praat nie. Jy sal moedswillig wees en net mooi die teenoorgestelde ding gaan doen as wat hy jou gevra het.”

“Ek het nie geweet Theo maak ’n gewoonte daarvan om sy vrou met buitestanders te bespreek nie,” sê Janie styf. En dan het hy die vermetelheid gehad om háár aan te sê om die skyn van ’n gelukkige verhouding tussen hulle te bewaar, maar hý loop agter haar rug en skinder van sy vrou!

“Ek is nie ’n buitestander nie,” antwoord Katinka. “Ek ken Theo al van kleins af. Ons het saam grootgeword. Sy ouers se plaas het aan die reservaat gegrens. Gedurende die kwartaal het hy by ons geloseer en naweke en skoolvakansies het ek op hulle spogplaas gekuier. Ons was soos broer en suster. Miskien is dit nie reg van Theo om sy huwelikslewe met my te bespreek nie, maar omdat hy en ek so geheg aan mekaar is, het hy seker nie gedink dis dislojaal van hom nie. En … julle s’n is mos nie eintlik ’n regte huwelik nie.”

Katinka stoot vir Ollie weg toe hy om haar voete snuffel na iets om te eet, maar sy hou Janie onderlangs dop.

“Is dit wat Theo gesê het?” Janie trek Ollie nader en druk hom styf teen haar vas, asof sy in die ronde geplooide lyfie gerusstelling soek. Asseblief, vra sy woordeloos, moenie dat Theo vir Katinka vertel het presies hoe sake tussen ons twee staan nie.

“Theo het gesê julle huwelik is ’n mislukking,” sê Katinka reguit. “Hy het gesê julle twee moes nooit getrou het nie. Maar jy het gekom in ’n stadium toe hy baie verward en eensaam was, en hy het vir jou jammer gevoel en gedink dalk kan julle vir mekaar iets beteken. Jy was vir hom mooi en so ooglopend dolverlief op hom dat dit hom gevlei het en …”

Janie hoor nie die laaste deel van wat Katinka sê nie. Daardie een woord het in haar gedagtes bly steek.

“Vir my jámmer gevoel?” vra sy stadig.

Katinka glimlag effens. “Ja, teen hierdie tyd ken jy seker ook vir Theo al so ’n bietjie. So ’n groot manlike ou, maar dan het hy so ’n klein hartjie wanneer dit by ’n mank bokkie kom, of ’n ander dier wat beseer is, ’n diertjie wat in ’n strik gevang is of deur ’n veldbrand van die res van die trop geskei is. Sy grootste ideaal was altyd om veldwagter te word, of as hy miskien nie so ’n pos kon kry nie, om vir veearts te studeer. Hy is baie lief en jammer vir diere wat swaarkry.”

“Diere, ja, maar ek … ek is sy vrou …”

“Jy is jonk en weerloos en jy lyk altyd so verskrik en bang, so asof jy teen die wrede ou lewe beskerm moet word. Dis vanselfsprekend dat Theo vir jou jammer gevoel het. En dan is jy boonop nog mooi. Ek kan begryp dat jy Theo se kop laat draai het en dat hy dit nie oor sy hart kon kry om onvriendelik te wees toe hy agterkom jy is doodverlief op hom nie. Toe jy met die patetiese storietjie kom dat jy ’n arme weeskind is wat deur ’n onsimpatieke tante grootgemaak is, dat jy baie eensaam en verlore gevoel het toe jy uit die skool is, kon hy nie anders as om jou jammer te kry en ’n helpende hand uit te steek nie. Ek neem hom ook nie kwalik nie, want Theo was in daardie stadium self eensaam en ongelukkig, maar ek dink hy was darem ’n bietjie erg impulsief en oorhaastig. Dis goed en wel om vir ’n meisietjie jammer te voel, maar ’n man kan tog nie met elke mank bokkie in hierdie wêreld trou nie, kan hy?”

“Dink jy …” Janie sluk en begin dan weer. “Katinka, dink jy Theo het slegs uit jammerte met my getrou?”

Katinka plaas ’n simpatieke arm om Janie se skouers. Janie moet haarself dwing om nie eenkant toe te staan of die arm af te skud nie. Dis miskien die enigste eienskap wat sy en Theo in gemeen het – ook sý haat dit om bejammer te word. As sy dink wat Theo dalk vir Katinka gesê het: “Foei tog, die arme ou meisietjie het soos ’n ryp pruim in my skoot geval. Sy was dolverlief op my! Hoe kon ek haar gevoelens seermaak? Ek het miskien so effentjies van haar gehou en gedink sy sal dalk vir my ’n goeie vrou uitmaak, maar ek het my misgis. Sy irriteer my en ek het ’n hekel in haar, maar hoe kan ek vir haar sê om weg te gaan? Ek is bang sy spring sommer van ’n gebou af of vang iets onverantwoordeliks aan.”

“Ek is bevrees hy het, Janie,” sê Katinka sag. “Soos ek netnou gesê het, was Theo baie verward en … miskien ook verbitterd. Dalk wou hy sy vorige verloofde wys hy is nie oor haar verleë nie, of dalk het hy gevlei gevoel dat jy hom nodig het en onmiddellik op hom verlief geraak het. Dit het seker sy ego gestreel. Theo is ’n trotse man. Dit was vir hom ’n bitter pil toe die meisie hulle verlowing verbreek en weggegaan het. Hy het gevoel almal skinder agteraf oor hom en bejammer hom, en toe dink hy seker dis ’n goeie idee om presies ’n maand nadat hy afgesê is met ’n splinternuwe nooi aan die arm by Pafuri op te daag, te verklaar dis sy vrou en almal stof in die oë te skop. Niemand kan nou sê hy treur nog steeds oor sy vorige verloofde nie. As sý hom dan nie wou hê nie, daar is baie ander visse in die see wat gespring het vir die kans om mevrou Theo Vermaak te wees. Hy kon kies en keur en hy het die mooiste een uitgesoek – ’n stadsnooientjie met ’n engelgesiggie, pragtige figuurtjie en mooi moderne klere.”

“Maar … met my trou net om … haar te vermaak?” vra Janie verslae.

“Nee, ek sê mos nie dis ál rede nie. Theo was vir jou jammer en jy het gekom op ’n tydstip toe hy eensaam was en iemand soos jy baie nodig gehad het. Theo sê hy was nogal redelik erg verlief op jou en hy het hoop gehad daardie verliefdheid gaan oor in die ware liefde wat ’n man vir sy vrou behoort te hê, maar dinge het nie so uitgewerk nie. Hy sê hy kan dit nie by die huis uithou nie. Sy gewete pla hom en hy is gefrustreerd en jy doen jou uiterste om hom uit te tart en kwaad te maak. Daarom sorg hy dat hy so dikwels moontlik in die veld is. Maar hy kan tog nie die res van sy lewe in ’n Land Rover in die veld deurbring nie, kan hy? En ook nie op ’n ongemaklike ou rusbank in die woonkamer nie …”

Janie kom nie agter sy is besig om Ollie se ore om en om te vou en te styf vas te druk nie. Eers toe hy luidkeels protesteer, skrik sy en stoot hom ingedagte eenkant toe.

In die begin het sy gedink Katinka is sommer lus om katterig te wees, miskien omdat sy jaloers is op ’n negentienjarige meisie wat reeds getroud is of dalk mooier klere as sy besit, of miskien dat Katinka prikkelbaar voel omdat sy by die skool te hard werk en te min afleiding het – gedink Katinka suig alles uit haar duim of maak haar eie afleidings.

Maar nou weet sy dat Theo sy vrou met die ouer meisie bespreek het. Sý het vir niemand vertel dat sy ’n weeskind is en dat tant Johanna onsimpatiek was nie; ook nie dat sy verlore gevoel het toe sy uit die skool is en begin werk het nie. Theo moes dit alles vir Katinka vertel het. Hy het seker haar raad gevra oor hoe om van ’n onwelkome vrou ontslae te raak en toe het hulle natuurlik saam besluit dis die beste dat Katinka met Janie moet praat. Sy is miskien met meer takt geseën en moedswillige Janie sal eerder na haar luister as na haar man. Die oomblik wat hý mos met haar praat, tart sy hom uit en doen net mooi die teenoorgestelde ding as wat hy haar gevra het. Janie kan in haar gedagtes Theo se stemtoon hoor toe hy daardie woorde vir Katinka gesê het. Dis tipies hy en op daardie oomblik was daar seker ’n frons tussen die kil blou oë en ’n ergerlike trek om sy mond.

Daar is egter iets wat haar hinder, ’n stuk wat nie in die legkaart pas nie. Hoekom het Theo daarop aangedring dat sy in Pafuri bly en die indruk skep dat hulle huwelik gelukkig is?

“Katinka,” frons sy, “een aand, omtrent drie weke gelede, toe Theo en ek weer bitterlik rusie gemaak het, was hy onder die indruk dat ek na Johannesburg wou teruggaan; na Okkie toe. Dit was nie die geval nie, maar dis nie nou ter sake nie. Wat ek nie kan verstaan nie, is waarom Theo nie daardie dag die kans aangegryp het om van my ontslae te raak nie. Dan sou sy gewete hom mos nie gepla het nie. Dan sou dit mos ék gewees het wat uit vrye wil weggegaan het. Hoekom wou Theo my nie na Okkie toe laat gaan nie?”

Katinka kyk vinnig op, maar dan is sy skielik met oordrewe belangstelling in klein Ollie en die vlakvarke geïnteresseerd.

“Okkie? E … wag, laat ek net gou hierdie blik wegneem voordat jou troeteldier homself verongeluk.” Sy tel die blik op en plaas dit bo in ’n doringboom, buite bereik van Ollie. Toe sy weer praat, is haar stem gelykmatig. “O ja, Okkie … Theo het van hom gepraat, maar die naam het my ontgaan.”

“Of Ockert dan,” voeg Janie by. “Theo noem hom nooit op sy bynaam nie. Hy voel seker dis te familiêr, want hy het ’n hekel aan arme ou Okkie. En eintlik is Okkie skadeloos. ’n Doodgoeie ou …” Terwyl Janie praat, hou sy Katinka onderlangs dop. Iets in die meisie se reaksie op die noem van die naam was nie heeltemal reg nie. Dit het gelyk asof sy die naam nog nie voorheen gehoor het nie en dit het Janie hoop gegee. As Theo haar in sy vertroue geneem het en oor die verhouding tussen hom en sy vrou gepraat het, sou hy tog sekerlik Okkie Smuts se naam genoem het. Dus, miskien het Theo haar nie alles vertel nie. Miskien het Katinka tóg ’n paar eie afleidings gemaak, gesien hoe dinge tussen die jonggetroudes staan en twee en twee bymekaar gesit.

“O ja, Theo het my van daardie telefoonoproep van Ockert vertel waaroor julle so hewig rusie gemaak het. Hy het gesê dit was net mooi die laaste strooi om sy liefde vir jou dood te maak. En toe het hy ook besef daar is eintlik nie rede om jou jammer te kry nie. Jy was nie so eensaam en kêrelloos soos jy voorgegee het nie.”

Janie draai haar kop stil weg, bang dat Katinka die pyn in haar oë moet lees. ’n Oomblik lank het die hoop opgevlam dat Theo darem ’n greintjie lojaliteit en ordentlikheid teenoor sy vrou oorgehou het en nie elke stukkie detail van hulle rusies aan Katinka oorvertel het nie, maar nou sterf daardie hoop ’n stille dood. Theo het niks weerhou nie. Katinka weet seker ook dat Theo sy vrou daarvan beskuldig het dat sy met Walt flankeer, dat sy haar soos ’n goedkoop flerrie gedra.

“Ek het nooit voorgegee ek is kêrelloos sodat Theo moet dink ek is eensaam en verstote en my moet bejammer nie,” antwoord Janie, maar sy wonder of sy nie dalk onwetend daardie indruk by Theo geskep het nie. Reeds gedurende daardie eerste naweek in Pafuri het sy agtergekom dat die aantreklike veldwagter soms onredelik besitlik kan wees en dis waarom sy hom nie van Okkie en Peet en al die ander ouens vertel het wat saam met haar werk en saam met wie sy gereeld uitgaan nie. Dit was seker verkeerd van haar, want dis waarom Theo so ontstoke was toe Okkie hom uit die bloute ingeklim en daarvan beskuldig het dat hy sý nooi gesteel het.

“Maar hoekom het hy gekeer dat ek weggaan van Pafuri af?” herhaal Janie. “Dit sou mos die ideale oplossing gewees het.”

Katinka huiwer ’n oomblik en dan skud sy haar kop. “Ek weet nie,” sê sy reguit. “Theo is ’n meer ingewikkelde persoon as wat ons dink. Hy het seker die een of ander obskure rede gehad. Wat presies was sy argument waarom jy hier moes bly?”

Theo se woorde daardie aand is in Janie se geheue gegraveer en sy herhaal amper woordeliks alles wat Theo vir haar gesê het.

Katinka is ’n lang ruk stil. Sy het op haar hurke gaan sit en is ingedagte besig om met ’n stokkie in die sand voor haar te krap en allerhande patroontjies te teken.

Janie wens skielik sy het die gawe besit om ’n persoon se handskrif te kan ontleed. Party mense sê jou persoonlikheid kan ook ontleed word deur die krabbelpatrone wat jy maak wanneer jy byvoorbeeld met ’n telefoongehoorbuis in die hand sit en wag om deurgeskakel te word, of wanneer daar ’n vertraging op die lyn is. Dieselfde ontleding kan seker ook gedoen word wanneer jy ingedagte met ’n stokkie in die sand voor jou voete sit en teken. Sy sou graag wou geweet het wat alles deur Katinka se gedagtes gaan en wat haar gevoel vir Theo is. Soms kry sy die indruk Katinka Labuschagne is ook op Theo verlief, hoewel sy gesê het hulle is soos broer en suster.

Katinka kyk skielik op. “Ja, dis soos ek vir Theo ken. En soos ek netnou gesê het, hy is ’n trotse man met ’n wrewel daarin om bejammer te word. Ek kan dit glo dat hy wil keer dat die mense agteraf sê: ‘Sies tog, nou het hy nóg ’n nooi verloor. Arme man …’ Iemand soos Theo sal so iets nie kan verduur nie. Ja, dis natuurlik die rede waarom hy jou verbied het om weg te gaan en beveel het om die skyn van ’n normale verhouding tussen julle te bewaar.” Sy gooi die stokkie weg en staan op.

“Maar, Janie, dink jy dis reg dat trots ’n man se hele lewe verwoes? Dat hy teen sy sin by ’n vrou bly net omdat hy bang is vir wat die mense sal sê? Hy weet dat daardie ander meisie hom met ope arms sal terug ontvang as hy sy vinger lig. So, waarom laat hy jou nie gaan en vergewe daardie ander meisie nie? Almal weet tog sy treur oor hom en sy maak geen geheim daarvan dat sy nog steeds op hom verlief is nie. Om die waarheid te sê, niemand verwag dat julle huwelik sal voortbestaan nie. Annatjie het net gister vir my gesê dis duidelik julle twee speel toneel, dat julle huwelik ’n klug is. Theo kan maar erken hy het daardie ander meisie nog steeds lief en wil van jou skei.”

Dit maak Janie bitter seer om te dink dat selfs Annatjie – Annatjie Weideman wat so ’n liewe mens is – van haar skinder, en sy besef wat Theo bedoel het toe hy gesê het in Pafuri moet jy nie verwag om jou privaatlewe vir jouself te hou nie. Die mense het nie veel afleiding nie en dis almal se geliefkoosde vermaak om die ander personeellede te bespreek.

“Katinka,” sê Janie, skielik ergerlik. Omdat sy self so seergekry het, voel sy lus om ’n ander ook te kwets. “Vandat ek hier gekom het, hoor ek van ‘daardie ander meisie’. Het sy nie ’n naam nie?”

“Sy het ’n naam,” antwoord Katinka stadig. “Maar ek dink dis beter dat jy nie weet wie sy is nie. Jy het al genoeg seergekry. Jy is ’n liewe mens en ek wens ek kon jou die hartseer spaar.”

“Dankie, maar dis nie nodig om vir my jammer te voel en my gevoelens te probeer spaar nie. Ek sou sê dis in elk geval ’n bietjie laat daarvoor. Wie is die meisie? Ken ek haar?”

Katinka lyk verlig toe ’n stowwerige rooi motor stadig tussen die rondawels aangery kom en sy ’n verskoning het om die onderwerp te verander. Sy wuif vrolik.

“Kyk, hier is Walt – terug van sy uitgebreide sketstoer.”

Selfs onder gunstige omstandighede sou Janie nie bly gewees het om Walt de Witt te sien nie en nou is sy ergerlik. Sy beantwoord skaars sy groet.

“Stapels sketse gemaak?” verneem Katinka belangstellend.

Walt haal sy skouers op. “Kwantiteit, ja, maar nie kwaliteit nie.” Hy kyk tergend na Janie. “Ek het gedurigdeur jóú gesig voor my gesien. My voëls het almal dromerige grys oë, omring deur swart wimpers en ’n perskeblos op hulle wange.”

Katinka giggel, dog Janie toon geen emosie nie. Sy wens Walt wil ry. Wat gesels hy so lank?

“Waar is die bruidegom?” wil Walt weet.

“Theo-hulle is besig om ’n draad te span aan die noordelike grens van die reservaat,” verduidelik Janie teësinnig. “Het jy hulle nie langs die pad gekry nie?”

“Nee. Ek was suid. Punda Miha se kant toe.” Hy kyk vraend na Katinka. “Waarheen is jy op pad, Tinktinkie?”

“Rondawel toe. En moet my asseblief nie daardie verspotte naam noem nie,” antwoord Katinka iesegrimmig. Sy groet en stryk aan na die eindpunt van die ry, waar haar rondawel is langs dié van haar pa en ma.

Walt se wenkbroue lig vraend. “Waaroor was die haas? Ek sê skaars hallo, toe sê Tinktinkie tot siens.”

“Miskien was ook sy nie baie lus om met jou te gesels nie.”

Janie se skimp word egter nie gesnap nie. Walt kyk haar goedkeurend op en af.

“Jy lyk mooi met jou hare in twee bossies bokant jou ore gebind, en jy moet altyd denim dra. Dit pas jou. Kom jy vanaand partytjie hou?”

Sy vinnige verandering van onderwerp betrap Janie onverhoeds. Terwyl sy nog aarsel, sê Walt geamuseerd: “Jy hoef nie vir die groot slegte wolf bang te wees nie. Dit gaan ’n doodonskuldige partytjie wees om my verjaardag te vier. Almal kom.”

“Verjaar jy? Ek het nie geweet nie. Baie geluk.”

“Nee, ou Walt is mos nie belangrik nie. Niemand onthou wanneer dit sy verjaardag is nie …” sê Walt met ’n oordrewe seergemaakte uitdrukking op sy gesig.

Janie lag. “’n Mens kan nie iets vergeet wat jy nie geweet het nie. Kom al die ander mense ook partytjie hou?”

“Hier gaan so min aan in Pafuri, jy sal die mense nie met stokke en swaarde van ’n partytjie kan weghou nie. Wanneer verwag jy die gelukkige bruidegom terug?”

“Moenie altyd van die ‘bruidegom’ praat nie,” sê Janie geïrriteerd.

“Groot ekskuus. ’n Mens moet seker nie met siekte spot nie. Wanneer kom jou man terug? Of objekteer jy ook teen so ’n onvanpaste benaming?”

Janie verkies om Walt se insinuasie te ignoreer. “Môre,” jok sy kalm. Theo sê nooit vir haar wanneer hy vertrek of wanneer hy terug sal wees nie.

“Môre eers?” Walt klink uiters teleurgesteld, dog sy oë lag. “Ag, dis ’n jammerte! Nou loop hy my verjaardag mis en sit jy met mý geselskap opgeskeep. Het jy al tyd gehad om te dink, astertjie?”

“Waaraan?” vra Janie koel.

“Aan my aanbod om saam te gaan Parys toe. Nee,” keer hy, “moenie so verontwaardig lyk nie. Ek weet in die binneste van daardie warmbloedige hart van jou het jy baie lus om saam met my te gaan. Toe, erken dit?”

Janie skud haar kop en kyk doer ver oor die veld, waar ’n paar aasvoëls besig is om wye sirkels in die blou lug te maak.

Walt draai haar kop na sy kant toe en grinnik toe hy sien dat sy bloos.

“Erken maar dat jy van my hou, astertjie …”

“Ek weet nie waarvan jy praat nie, Walt,” sê sy koel. “Sal jy my asseblief verskoon? Ek het baie werk wat wag.”

“Watse werk?” terg hy. “Weer vleis in die oond? Of watter werk is daar hierdie keer wat wag?”

“’n Boek wat deurgelees moet word,” antwoord sy en stap weg sonder om op Walt se antwoord te wag. Sy hoor hoe hy lag en in sy motor klim, maar sy kyk nie om nie.

Ek gaan beslis nie na sy partytjie toe nie, besluit Janie. Ek hou nie van Walt nie. Hy maak my bang. En Theo sal in elk geval woedend wees as hy daarvan te hore kom dat ek weer in Walt se rondawel was – al was daar baie ander mense en al het ek skaars met hom gesels. Ek sal maar liewer vir die soveelste keer met ’n boek in die bed klim en myself wysmaak ek is ’n ou tannie van oor die honderd jaar wat nie smag na geselskap en ’n bietjie opwinding nie …

Janie wag totdat Walt se motor om die draai verdwyn het en dan stap sy met kloppende hart na Katinka se rondawel toe. Daar is iets wat sy wil gaan vra en sy sal nie weer toelaat dat Katinka haar ontwyk of ’n antwoord skuldig bly nie. Almal het lank genoeg in raaisels gepraat en sy het die volste reg om te weet. Sy moes lankal op die volle waarheid aangedring het, maar sy was bang. Sy het verkies om soos een van Theo se volstruise te maak: haar kop agter ’n klip in te druk en te maak of die gevaar nie bestaan nie.

Katinka lyk nie baie verbaas om haar te sien nie. Sy sit op die toegegaasde stoep en nooi Janie met ’n skewe glimlaggie om binne te kom en te sit.

“Jy laat jou nie deur onderbrekings en my onvriendelikheid van stryk bring nie, nè? Hoekom probeer jy dit vir jouself moeiliker maak, Janie?”

“Ek wil graag weet,” fluister Janie.

“Ek het gedink dit sal vir jou eie beswil beter wees as jy nooit die volle hartseer ou storie hoor nie, as jy net weggaan en van ons hele klomp vergeet …”

“Nee.”

Katinka sug en bied aan om koeldrank te gaan skink. “Om vir my onvriendelikheid te vergoed,” sê sy verleë. “Ek het soos ’n skurk gevoel. Miskien was ek verkeerd, maar ek het gereken dit sal dit vir jou makliker maak as … as ons twee nie vriende is nie; as jy nie van my hou nie …”

Terwyl die meisie in die kombuis besig is, gaan Janie op die puntjie van ’n stoel sit en haar oë dwaal onwillekeurig deur die vertrek. Katinka het goeie smaak, maar sy verkies die egte bosveldatmosfeer wat Theo met riempiesbanke, dierevelle, grasmatte en Sakkie Eloff-skilderye in hulle eie rondawel geskep het. Katinka se woonkamer het ’n Europese karakter en sy raai dat daardie twee etse en die marmerbeeldjies oorsee gekoop is en ’n fortuin moes gekos het. Dis nie namaaksels daardie nie.

Janie staan op om na ’n naam by die etse te soek en dan sien sy skielik die geraamde foto van Theo op die Italiaanse Dama-tafeltjie staan. Die inskripsie is in netjiese blokletters: Aan Tinka, met al my liefde …

Sy hoor Katinka binnekom en vlieg skuldig om, maar die ouer meisie het reeds gesien waarna sy kyk.

“Dis ’n mooi foto van Theo daardie, is dit nie?” vra sy met ’n glimlag. “Dit het mooipraat en stoomroller gekos om Theo by ’n ateljee te kry. Hy het vir my ’n paar kleiner foto’s van homself gegee, maar ek wou graag hierdie groter een hê.”

Janie neem die glas koeldrank meganies, haar gedagtes in ’n warboel. Hoekom het Theo daardie foto vir Katinka gegee? Met al my liefde … Dis nie sommer vriendskaplike liefde nie, is dit? Dis nie die liefde of groete wat ’n mens onderaan ’n brief of in ’n Kerskaartjie skryf nie, is dit?

“Katinka …” Janie neem ’n sluk lemoensap en begin dan weer. “Katinka, jy en Theo was … baie goeie vriende, nie waar nie?”

“Nie wás nie; is nog steeds,” antwoord Katinka sag, maar sy kan Janie nie in die oë kyk nie. Sy maak nat kringetjies op die tafeldoek met haar glas, peuter met haar horlosieband en spring dan op. “Ek wil vir jou die ander foto’s wys wat ek van Theo het …”

Janie kyk na ’n foto van Theo voor ’n pragtige grasdakhuis met ’n gewel, en na ’n foto waar hy op ’n perd sit, en een waar hy in ’n baaikostuum staan en besig is om iets grappigs te sê vir die persoon wat die foto geneem het. En onderaan elke foto staan in dieselfde netjiese blokletters: Aan Tinka, met al my liefde, en soentjies …

“Dit was Theo-hulle se huis op Soetdorings. ’n Pragtige huis en ’n lieflike ou plaas. En dis ou Mercurius daardie. Ek weet nie hoekom Theo die perd daardie naam gegee het nie, want hy was nie vinnig nie, net baie sterk. Hy het ons albei menigmaal op sy breë ou rug gedra. En daardie foto is by Theo-hulle se swembad geneem, een vakansie toe ek weer by die Vermaaks gekuier het. Hy wou keer dat ek die foto neem, gesê sy hare is deurmekaar! My straf omdat ek nie wou luister nie, was om kop eerste in die water gegooi te word.”

Janie het dit lankal geweet, maar sy was bang om dit te erken. Al het niemand dit vir haar vertel nie, kon sy dit agterkom in Katinka se houding teenoor Theo, die manier waarop sy na hom kyk wanneer sy met hom praat, die uitdrukking op haar gesig wanneer Theo ter sprake kom …

Janie se hand bewe toe sy die foto’s in ’n netjiese stapeltjie maak en op die tafel neersit.

“Jy en Theo was verloof.” Selfs in haar eie ore klink haar stem hees en onnatuurlik.

“Ek wens ek kon dit ontken,” antwoord Katinka sag. “Ek wens ek kon vir jou sê dat Theo en ek net goeie vriende was, dat daar niks tussen ons is nie en dat dit vir jou is wat hy liefhet, Janie. Jy is so jonk en weerloos. Dit sou vir jou beter gewees het as jy en Theo mekaar nooit ontmoet het nie. Jy sou met Okkie of iemand getrou het, iemand wat jou na regte kon waardeer, en julle sou gelukkig gewees het. Dis ’n bitter ding vir ’n vrou om met ’n man getroud te wees wat haar nie liefhet nie, om elke dag saam met ’n man te lewe en te weet wanneer hy na sy vrou kyk, sien hy ’n ander meisie, wens hy dis sý wat oorkant hom aan die ontbyttafel sit, wat elke dag met hom deel …”

“Hoekom het jy weggegaan, Katinka? Hoekom het jy hom nie liefgehad en met hom getrou nie?” Janie is verlig dat haar stem ietwat kalmer klink.

Die meisie haal haar skouers op, maar daar is ’n trek van pyn op haar mooi gesig.

“Dit het alles te maklik gekom en wanneer iets op ’n skinkbord aan ’n mens gegee word, waardeer jy dit nie. Theo en ek het saam gespeel as kinders, maats gewees, vriende gewees. Die liefde het vanself gekom toe ons ons kinderskoene ontgroei het. Ons het jare gelede al besluit ons gaan eendag trou en almal het dit so aanvaar. Ons twee is altyd saam na partytjies uitgenooi, sy ouers en myne was tevrede, almal het gesê ek is ’n gelukkige meisie en ek het dit so aanvaar.

“Maar … maar ek het gevoel iets haper. Theo was die eerste en enigste kêrel wat ek ooit gehad het. Ek het nooit met ander ouens uitgegaan sodat ek ’n maatstaf gehad het waaraan ek hom kon meet nie. Ek was nie seker of die gevoel wat ek vir hom gehad het, liefde was en of ek maar net aan hom gewoond was nie. Ek was bang ek trou met hom en dan ontmoet ek eendag ’n ander ou en vind uit wat liefde werklik is. Ek wou nie so iets aan Theo doen nie. Ek wou vir ’n ruk van hom wegkom om heeltemal seker te maak voordat ek met hom trou.”

Katinka neem ’n slukkie lemoensap en kyk pleitend na Janie.

“Dink jy dit was onredelik van my? Dink jy nie dit was ten beste dat ek weggegaan het om van my gevoel seker te maak nie, eerder as om met Theo te trou en later om te draai en te sê ek was nog te onvolwasse om te weet of ek hom liefhet?”

“Ek weet nie. Seker, ja,” antwoord Janie onsamehangend. Sy het tyd nodig om die feit in te neem dat Theo hierdie meisie liefhet, om daardie feit te assimileer en te verwerk en te besluit wat haar te doen staan.

“Dan was daar iets anders wat my laat voel het ek is nog nie ryp vir die getroude lewe nie,” praat Katinka verder. “Ek het my hele lewe lank in Pafuri gewoon. Afgesien van die skoolvakansies wat ek op Soetdorings deurgebring het, was ek twee keer in Durban, een keer in Kaapstad en ’n paar naweke saam met my ouers Johannesburg toe. Dit was die omvang van my ervarings. Ek het gevoel ek is ’n rou bosvelder, ek weet niks van die wêreld nie. Soos ’n jong meisie maar altyd droom, het ek ook beplan om eendag oorsee te gaan, die lewe te geniet, die wêreld en sy mense te leer ken, meer gesofistikeerd en wêreldwys te raak en nie te dink ’n klein en onbenullige ou wildreservaatjie is die begin en die einde van die wêreld nie.

“Ek wou eers die reislus uit my bloed kry en ’n mens met ’n wyer algemene kennis word, voordat ek tevrede sou wees om myself aan ’n man te bind en die res van my lewe in Pafuri te woon. Ek het gevoel die lewe gaan hier by ’n mens verby, daarom wou ek ’n paar weke oorsee gaan om te sien hoe die res van die wêreld is en terselfdertyd perspektief kry oor my gevoel vir Theo.”

“Maar hy het dit nie so verstaan nie.” Dis meer ’n stelling wat Janie maak as wat dit ’n vraag is.

“Hoe het jy geweet?” vra Katinka met ’n skewe glimlaggie.

“Ek ken darem ook vir Theo. Het hy gesê jy is moedswillig en jou daarvan beskuldig dat jy met ander ouens wil flankeer?”

“Ja, dit alles het hy gesê en meer ook. Hy het gesê ek het hom nie lief nie; ek moenie verwag hy gaan droëmond by die huis sit en wag totdat dit my eendag behaag om terug te kom en sy vrou te wees nie. Miskien moes ek tóé reeds besef het hy bedoel dit ernstig, letterlik. Maar miskien het ek ’n streep moedswilligheid in my. Ek kan dit nie verdra dat iemand my voorsê wat ek moet doen en my lewe probeer reël nie. Dalk, as Theo mooigepraat en gesoebat het ek moet bly, sou ek geluister het. Maar hy is nie daardie tipe persoon nie, nè?”

“Nee. Theo soebat nie. Hy is te trots.”

“En ek miskien ook. Dalk was ek nooit van plan om regtig oorsee te gaan nie. Miskien sou dit maar by jongmeisiedrome gebly het. Maar toe Theo kwaad word en met my rusie maak en sê hy gee nie om of ek ooit terugkom nie, het dit my gesterk in my kwaad. Ek het net die volgende naweek stad toe gegaan, my plek op die vliegtuig bespreek, vir my tasse en klere gekoop en met ’n sakvol brosjures en toerplanne na Pafuri toe teruggekom.

“Al een wat na my planne geluister en saam opgewonde geraak het oor die vreemde en eksotiese plekname, was Walt. My pa en ma het reguit gesê ek moet ’n sielkundige gaan raadpleeg. Om ’n man soos Theo Vermaak deur my vingers te laat glip, was ondenkbaar. Dit het my vies gemaak, laat voel asof ek die kans moet aangryp om Theo gevang te kry, want ek sal nooit iets beters kry nie.

“In my drif het ek gesê ek is nie oor Theo verleë nie. Ek sal oorsee vir my ’n man uitsoek. Of dalk trou ek nog met Walt de Witt! Hy het tog visie, ideale … ’n talent wat hom miskien ver gaan bring. Hy sal nie tevrede wees om sy hele lewe lank op ’n stuk stowwerige bosreservaat te sit en vergaan nie. Theo is oninteressant, oud voor sy tyd. Hy is met doringbome en wilde diere getroud. Ek verlang iets meer van die lewe as om met ’n onbenullige ou veldwagtertjie getroud te wees en sal myself binne die eerste maand van getroude lewe bitterlik verveel.

“My pa het gesê Theo het baie geld en sal my na ons troue oorsee neem. Dit het vir my koud en berekenend geklink, so asof Theo se baie geld die deurslag moet gee. ‘Sal hy?’ het ek gevra. ‘Sal daar nie altyd die een of ander verskoning wees van drade wat gespan moet word of renosters wat gaan kalf en damme wat gebou moet word nie? Sal ek nie horingoud wees en nog steeds in daardie beknopte rondawel sit en wasgoed was en kouse stop voordat ek my jong lewe geniet het en Parys en Rome en al daardie plekke gesien het nie? Nee dankie, ek wil nie honderd jaar oud wees voor ek dertig is nie,’” het ek gesê.

“Daar was hewige rusies. My ma en pa en Theo was al drie teen my. Hulle kon nie verstaan dat ek gefrustreerd gevoel het nie, en Theo het my nie vergewe vir al die dinge wat ek teen Pafuri en die lewe van ’n veldwagter gesê het nie. Al een wat begryp het, was ou Walt. Hy het geweet ek moet eers daardie hunkering na verre plekke uit my gestel kry voordat ek tevrede sou wees. Arme ou Walt het gedink hy doen die regte ding en bewys my ’n guns deur met Theo te gaan praat …”

“Maar dit was net mooi die verkeerde ding?” vra Janie. “Theo het gedink jy verkies Walt bo hom?”

Katinka was so verdiep in haar eie vertelling dat sy skrik toe Janie praat.

“Dis presies wat Theo gedink het. Hy het Walt daarvan beskuldig dat hy die vergesogte idee in my kop geplant het. Dis mos hy wat altyd sê: Sien Parys en sterf. Dis ook hy wat sê dat ’n mens eers oor die water moet gaan en sien hoe die ander helfte leef, voordat jy die geheim leer ken oor hoe om die lewe te geniet.

“Theo het verder gegaan en gesê Walt en ek het agter sy rug gekonkel en Walt het sy verloofde afgerokkel. Walt is self nie ’n baie geduldige man nie en hy het sedert sy kinderdae ’n grief teen Theo. Hy het die berugte Vermaak-humeur van sy ma geërf en hy het hom vererg. Hy het gesê ja, hy en Katinka het mekaar lief. Hý kan haar waardeer. Hy is nie van plan om haar tussen die vaal gras en miershope te begrawe nadat sy van verveling dood is nie. Hulle twee gaan saam weg en nie hy óf Katinka hoop hulle sien Pafuri ooit weer nie.”

Katinka spring op en stap heen en weer deur die rondawel, soos Theo daardie dag – hoeveel jaar gelede? – gedoen het. Dit voel vir Janie asof sy die afgelope uur vyftig jaar ouer geword het.

“Theo kon my dít nie vergewe nie,” gaan die meisie voort. “Nie Walt nie. Enige ander man miskien, maar nie Walt de Witt nie. ‘Walt is ’n parasiet,’ het hy uitgeroep. Hy is iemand wat ’n grief teen die wêreld het omdat sy ma nie die ou familieplaas geërf het sodat hy die lewe van ’n rykmanseun kon voer nie, iemand wat uit die oog verloor het dat dit gebruiklik was dat die oudste seun die familieplaas erf, en gerieflikheidshalwe vergeet dat sy neef die een som geld na die ander kastig aan hom leen sonder om te vra wat hy daarmee aangevang het. ’n Mens soos Walt het geen skaamte nie. Hy beskou dit as sy neef se plig om die geld vir hom te gee en hom universiteit toe te stuur, want hý het mos die Vermaak-plase geërf, terwyl die arme De Witts moet meet en pas vir hulle daaglikse behoeftes.”

“Is Walt se ouers dan arm?” vra Janie. Sy stel nie werklik belang nie, maar sy moet haar aandag in ’n ander rigting probeer stuur, al praat hulle dan oor Walt. Selfs dít is beter as om oor Theo en sy liefde vir Katinka te gesels.

“Gemiddeld. Oom Bertus de Witt verdien ’n redelike salaris op die myne, maar hy mors sy geld op perde en ook hy vra dikwels vir Theo om ’n lening.”

“En gee Theo dit vir hom?”

“Ja, gelate en sonder om te murmureer. Theo het eendag vir my gesê hy moes al so dikwels aanhoor hoe onregverdig die lewe is, dat hy self al skuldig voel omdat hý, en nie die De Witts nie, vir Soetdorings besit. Veral omdat hy verkies om veldwagter te wees en die bestuur van die spogplaas van die distrik aan sy drie voormanne oor te laat en net af en toe oor te ry en ’n ogie te hou.”

Janie het gewonder wat die werklike oorsaak vir die vete tussen Theo en Walt is. Theo het baie foute, maar sy het geweet hy is nie ’n kleinlike persoon wat sal toelaat dat geld ’n verwydering tussen twee families bring nie, en sy het geraai dit gaan veel dieper as ’n kwessie van geleende geld wat nooit terugbetaal word nie. Noudat Katinka vir haar die storie vertel het, kan sy verstaan waarom Theo so ’n hekel aan sy neef het, waarom hy so woedend was toe sy en Walt bevriend geraak het. En nou verstaan sy ook die sinspelings op ’n wedloop tussen hulle twee. Theo het bedoel dat die geskiedenis homself herhaal: eers sy verloofde en nou sy vrou …

Katinka tel ’n Dawid-beeldjie op en streel ingedagte daaroor.

“Carrara-marmer. Ek het die beeldjie in Florence gekoop. Dis al wat ek van my oorsese vakansie teruggebring het – soeweniers en foto’s waarna ek nooit weer gekyk het nie. Daar was geen aangename herinneringe nie en ek het ook geen illusies meer oor myself gehad nie.

“Binne twee weke het ek geweet dat ek vir Theo Vermaak wou hê en dat ek met hom moes getrou het, in plaas van hardkoppig te wees en eers die wêreld te wil sien voordat ek my aan Pafuri en ’n man bind. Maar ek het ook gevoel ek het nou die onkoste aangegaan om oorsee te kom en ek sal miskien nie gou weer die geleentheid kry om al die plekke te sien nie, en ek kan net sowel nog ’n rukkie aanbly en heeltemal seker maak van my gevoel vir Theo.

“Ek het vir Parys tot siens gesê, en vir Walt en die groep langhaar-kunstenaars met wie ons die pension gedeel het, en ek het deur Duitsland en Italië getoer. Maar die verlange na Theo en Pafuri was te groot. Ek het my toer met drie weke kortgeknip en ’n kabel vir Theo gestuur om my op Jan Smuts-lughawe te kom ontmoet en sommer die verloofring saam te bring wat ek aan hom teruggegee het.

“Maar dit was my pa wat my op die lughawe kom haal het en … en hy het vir my vertel dat Theo by ’n nooi in Johannesburg gaan kuier het en dat hy die Woensdagmiddag met haar gaan trou …”

Janie is so versink in haar eie ellende dat sy haar nie in ’n ander se skok en selfverwyt kan indink nie.

“Ek is jammer, Tinka …”

Katinka moet haar oë ’n paar keer vinnig knip. “Theo het my ook altyd so genoem … in die goeie ou dae. Nee, Janie, jý hoef nie jammer te wees nie. Jy is die onskuldige een en op die einde gaan jy die lydende party wees. Indirek is dit alles mý skuld. E … wat gaan jy doen?”

“Doen?” Janie staar haar onbegrypend aan en dan eers snap sy wat die ouer meisie bedoel. “Ek het nog nie gedink wat my te doen staan nie. Dit was vir my … ’n skok. Ek dink diep in my onderbewussyn het ek geweet dat jy die ander meisie is, maar dit het my nogtans onverhoeds gevang en ek het tyd nodig om te besluit.”

“As ek dalk kan help …” aarsel Katinka. “As jy dalk geld dringend nodig het, of iemand om jou stasie toe te neem of … of ’n boodskap vir Theo te laat …”

“Dankie, maar ek het ’n bietjie spaargeld. Ek was van plan om ’n tweedehandse motortjie te koop. En … en ek sal eers mooi moet dink watter boodskap om vir Theo te laat. Ek s-sien hom dalk … nooit weer nie. Nee,” keer sy moedig toe Katinka ’n simpatieke hand na haar uitsteek, “moenie my troos nie. Ek is ’n swakkeling en as ek simpatie kry, huil ek net al hoe harder. Ek moet seker huis toe gaan …”

“Janie, gaan jy nou alleen in daardie rondawel sit en oor alles nadink en … huil?”

“Ja, ek is bevrees ek gaan my siek huil,” erken Janie. “Jy sien, ek het hom net so lief soos jy.”

“Ek kan jou nie alleen in die rondawel laat sit nie,” sê Katinka beslis. “Jy slaap vanaand hier by my. Ek het twee beddens.”

Daarvoor sien Janie nie kans nie. Om nog ’n hele aand in Katinka se geselskap deur te bring en hier te slaap en môreoggend wakker te word en te moet hoor hoe lief sy en Theo mekaar het … Nee, dan gaan hou sy honderd maal liewer vanaand saam met Walt-hulle partytjie. Dalk doen dit haar goed en keer dit dat sy haar kop op haar arms laat sak en onbedaarlik aan die huil gaan en nie weer ophou nie.

Janie dwing ’n brawe glimlaggie om haar bleek mond.

“Ek gaan nie regtig op ’n bondeltjie sit en huil nie. Dankie vir die aanbod, maar ek het Walt belowe ek kom vanaand saam met hulle partytjie hou. Kom jy ook?”

Die feit dat daar vanaand ’n partytjie is, is vir Katinka nuus. Sy sê egter niks nie en belowe om Janie daar te sien, hoewel sy nie in die minste van plan is om te gaan nie, selfs al kom nooi Walt haar ook. Hy sal dit in elk geval nie doen nie, want hy weet sy sal haar voete nie weer in sy rondawel sit nie.

Die mate van aangetrokkenheid wat sy eens op ’n tyd tot die sjarmante jong skilder gevoel het, het binne twee weke oorgewaai, nog lank voordat sy in Parys vir hom tot siens gesê het. Nou het daar net vriendskap oorgebly, maar nie genoeg daarvan om haar by Walt te laat gaan kuier as sy verwag dat Theo vanmiddag haar pa per radio sal kontak om te verneem of die voorrade gekom het, en vanaand Njelele toe sal ry as hy hoor dat die draad en ysterpale wel op vandag se trein was nie. Nee, laat Janie dan maar saam met Walt gaan partytjie hou, wát hy ook al vier. Sy sal vir Theo wag …

“O ja, amper het ek vergeet,” sê Katinka vir Janie toe sy saam met haar deur toe loop. “Theo het eergisteraand sy trui hier vergeet. Neem dit maar huis toe. Theo is ’n regte ou vergeetkous. Hier by my is van sy sakdoeke en ’n hemp en mansjetknope en ek weet nie wat alles nie. Net ’n oomblik, dan gaan haal ek die trui gou. Die ander goed sal ek later soek.”

Ettie Bierman Keur 11

Подняться наверх