Читать книгу Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman - Страница 6

3

Оглавление

Toe Janie haar oë oopmaak, het hulle reeds voor Theo se rondawel met die toegegaasde stoep stilgehou. Daar is dieselfde manjifieke ou blinkblaar-wag-’n-bietjieboom waaroor sy twee weke gelede so in vervoering geraak het, en in die lamplig sien sy oral op die grond die groengeel stervormige blommetjies lê wat sy laas opgetel en huis toe geneem het om in ’n boek te pars en te bewaar.

Maar hierdie keer is dit anders as daardie heerlike naweek toe sy so halsoorkop op die aantreklike jong veldwagter verlief geraak het. Toe was alles wonderlik en opwindend. Nou is sy nie lus om uit die motor te klim en die hut binne te gaan nie. Sy is bang.

“Jy moet wakker word, Janie!” terg Katinka speels en raak liggies aan haar skouer. “Ons is by die huis. Terloops – my naam is Katinka …”

Janie kom vaak-vaak regop en maak die deur oop.

“Hoe voel jy?” vra Katinka besorg. “Is jy baie styf en lyfseer?”

“Die styfheid sal seker môre eers kom.”

Theo staan in die woonvertrek, besig om die groot gaslamp aan te steek, en kyk ondersoekend op toe Janie en Katinka binnekom.

Janie se hart klop in haar keel en sy is bang Theo hoor dit. In haar eie ore klink dit soos hamerslae.

“Ek wil graag dadelik gaan bad,” sê sy senuweeagtig. “Waar is my tasse?”

Theo beduie na die ander helfte van die rondawel wat as ’n slaapvertrek ingerig is.

“In die slaapkamer. Maar kom staan eers hier in die lig sodat ek na daardie skrape en kneusplekke kan kyk.”

Janie is onwillig. “Ek is smerig vuil. Ek wil eers gaan bad.”

Dit lyk asof Theo daarop gaan aandring om eers na die kneusplekke aan haar kop en die skrape aan haar arms te kyk, maar Katinka spring hom voor. “Dis beter dat sy eers gaan bad, Theo. Die roet en as moet afkom voordat ons kan sien hoeveel skade daar aangerig is. En die salf en ontsmettingsmiddel sal in elk geval afwas as sy later gaan bad. Sit ’n oomblik, Janie, dan bring ek jou slaapklere, ’n handdoek en ’n flitslig. Arme kind, jy is seker doodmoeg en ly nog aan skok na jou nare ervaring. Na die bad sal ek vir jou iets lekkers maak om te eet.”

Janie glimlag dankbaar vir die ouer meisie, verlig dat Katinka hier is om ’n buffer tussen haar en Theo te vorm, anders sou dit baie ongemaklik gewees het en sou hy seker weer met haar rusie gemaak het. Sy hou van Katinka. Die meisie is lief en bedagsaam en Janie hoop hulle twee gaan goeie vriende word. Sy het nie geweet dat die reservaat ’n laerskool vir die personeel se kinders het nie en dis goeie nuus dat die onderwyseres ’n persoon van omtrent haar eie ouderdom is.

Janie let vir die eerste keer op hoe Katinka lyk. Die meisie is mooi: lank en skraal gebou, met skouerlengte blonde hare. Selfs in die stowwerige ou seilbroek lyk sy aantreklik en selfversekerd en laat sy Janie selfbewus voel oor haar gehawende voorkoms.

Dis heerlik ontspannend om in die kokende water te lê en Janie voel nie lus om uit die bad te klim nie. Die warm water brand egter die skrape en stukkende plekke en arme Katinka sit op ’n bankie by die wasbak vir haar en wag. Katinka lyk self bleek en moeg en sy wil haar nie onnodig lank laat wag nie,

“Jammer ek het so lank gedraai,” maak Janie verskoning toe sy die badkamerdeur oopmaak, “maar hierdie was ’n bad waarna ek baie uitgesien het.”

Katinka was besig om haar hare voor die primitiewe spieël reg te druk, en sy draai om toe Janie uitkom. Sy kyk Janie ondersoekend op en af.

“Jy is mooier as wat ek gedink het,” sê sy. Haar stem klink effens ontevrede en sy dwing ’n laggie om haar mond. “Dis darem wonderlik wat ’n bietjie seep en water aan ’n mens kan doen. Jy is ’n pragtige mens, Janie, maar jy is nog baie jonk. Hoe oud is jy?”

“Negentien.”

Katinka lyk baie simpatiek. “Dis baie jonk om nou al gebonde te wees en die verantwoordelikhede van die getroude lewe te aanvaar. As jy vyf-en-twintig is, gaan jy stokoud voel; voel dat die lewe by jou verbygegaan het, dat jy nooit die sorgvrye dae geniet het waarop elke jongmeisie geregtig is nie – toe jy kon maak wat jý wou en jou geld jou eie was om ’n duur rok mee te koop sonder dat manlief frons en verwyt jy mors sy geld. Die juk gaan gou begin skaaf. Jy moes soos ek gemaak het en eers die lewe geniet het, eers oorsee gegaan het voordat jy jou bind. En wanneer ’n meisie ouer is en die lewe gesien het, is dit makliker om by die getroude lewe aan te pas. Jy voel nie meer gegrief en gekul as jy elke dag voor die stoof moet swoeg en skottelgoed was en huis skoonmaak, en nooit uitgeneem word of vertel word jy is mooi nie. Jy gaan jou lekker sorgelose jongmeisiedae in Johannesburg mis, Janie-kind.”

Janie het hierdie selfde bedenkinge al gehad, maar dit maak haar benoud om dit uit ’n ander se mond te hoor.

“Miskien is jy reg, Katinka. Maar Theo het darem belowe dat ons af en toe vir ’n naweek Johannesburg toe sal gaan vir ’n fliek en inkopies.”

“Moenie jou hart daarop plaas nie, Janie. Dit sal meer af as toe wees. Hier is baie opgehoopte werk en ou Flip is nie baie betroubaar nie. Theo is fanatiek toegewyd aan sy werk hier in Pafuri en hy gaan nie ’n maklike mens wees om mee getroud te wees nie.” Sy lag effens. “Ek skinder nie. Eintlik is hy seker ’n gawe persoon en ons vergewe hom omdat hy baie ander goeie eienskappe het, maar ons hier by Pafuri is ’n bietjie skrikkerig vir daardie haastige humeur van hom. Ek dink jy het ook al daarmee kennis gemaak, Janie …”

Janie knik verleë. Dit was seker vir almal duidelik dat sy en Theo haaks was en dit sal seker nie help om dit te ontken nie.

“Nadat ons van die veldbrand verneem het, was Theo haastig om daar te kom. Hy het amper in ’n olifant vasgery en ek het my kop teen die paneelbord gestamp … en raas gekry omdat my sitplekgordel nie vas was nie.”

Katinka glimlag medelydend. “Dit was onredelik van hom. Theo kan soms soos ’n maniak ry en hy moes self gesorg het dat jy veilig vasgegord was. Sies tog, jy het seker baie seer gekry en op daardie tydstip troos meer nodig gehad as raas. Dit was wreed van Theo. Ek kan sy nek vir hom omdraai. Om so te maak op die eerste dag van julle getroude lewe en ook jou eerste dag in die reservaat! Eerste indrukke is blywend en so iets kan veroorsaak dat jy nooit hier gelukkig sal wees nie.”

“Ek het die raas seker verdien. En dit was seker ook my eie skuld dat ek vanaand verdwaal het. Theo het gesê ek moet in die motor bly sit en ek het nie geluister nie.”

“Dit was onbillik van hom om te verwag jy moet ure lank in daardie warm motor sit. Ons ander het almal iets te drinke gekry, en sop en toebroodjies om te eet, maar arme jý moes droëmond daar sit. Theo het skoon van jou bestaan vergeet en ek het nie geweet jy is in die motor nie.”

“Dit was juis omdat ek dors gekry het dat ek water wou gaan soek. Maar ek het nie geweet die spruit is so ver nie.”

“Het jy van die spruit se water gedrink?” vra Katinka dadelik.

“Ja. Moes ek nie?”

“Dit maak nie saak nie. Daardie water is veilig. Almal drink altyd daarvan. Maar moet liewer nie vir Theo daarvan vertel nie. Jy ken hom. Hy sal weer sê daar was dalk kieme in en jy moes liewer eers gevra het voor jy van daardie water gedrink het. Ek dink dis wys om daardie feit maar te verswyg en hom nie rede te gee om verder met jou te baklei nie. Vir een dag het jy al meer as genoeg deurgemaak.”

“Ek dink dis goeie raad wat jy my gee,” lag Janie. “Ek bly tjoepstil oor daardie water. Was Theo baie kwaad toe hy by die motor gekom het en ek was weg?”

“Woedend. Ek het baie nuwe woorde geleer. Ek sal liewer nie al die name herhaal wat hy jou genoem het nie. Hy was ergerlik oor die oponthoud, want hy was haastig om by die kamp te kom en ’n boodskap na Messina se brandweer te stuur. Hy het toe maar met een van die toeriste laat weet die brand is onder beheer, maar jy was op daardie oomblik nie baie gewild nie. Ek was vies vir Theo dat hy voor daardie ander mense so lelik van sy jong vroutjie gepraat het. Om jou onthalwe het ek verneder gevoel en dis hoekom ek so bly was toe jy hom ’n rukkie later goed die waarheid vertel het. Jy moenie toelaat dat Theo jou boelie nie, Janie. Staan jou man en baklei net so kliphard terug, anders sal jy ondergaan. Of spring hom voor en klim in voor hý kan begin rusie maak, soos jy vanaand gemaak het.”

“Gaan ons lewe dan een lang geveg wees?” vra Janie. “Een na die ander ronde wat ten alle koste gewen moet word om myself van ondergang te red? Is dít die vooruitsig wat ek vir die volgende vyftig jaar of meer van getroude lewe het?”

Katinka lag oor die beteuterde uitdrukking op Janie se gesig en lê ’n simpatieke arm om haar skouers.

“Toe maar, so erg sal dit seker nie wees nie. Ek sal altyd daar wees en jy is welkom om op my simpatieke skouer te kom huil. Ek woon in ’n groot rondawel aan die noordekant van die kamp en as dinge vir jou ondraaglik raak, is jy welkom om by my te kom bly. Ek hou van jou, Janie. Jy is ’n oulike persoon en ek hoop ons twee gaan goeie vriendinne word. Hier is nie veel jong mense in Pafuri nie en die eensaamheid vang ’n mens partykeer,”

“Gesels jy nooit met die toeriste nie?”

“Soms. Maar ’n mens kan nie hegte vriende word met mense wat net ’n paar dae in die reservaat met vakansie is nie.”

“Walt!” onthou Janie meteens. “Ek wou jou nog oor hom uitgevra het, maar met al ons geselsery het dit my skoon ontgaan. Hy het ’n snaakse ding gesê …”

“Ou Walt praat altyd te veel. Moenie jou aan al sy praatjies steur nie. Watter snaakse ding het hy nou weer kwytgeraak?”

“Ek weet nie …” Janie is nie meer seker of haar verbeelding met haar op loop gesit het nie. “Dis net … hy het gesê hy is Theo se geliefkoosde neef en hy het dit in so ’n eienaardige stemtoon gesê.”

Katinka lag gemaklik. “Hy het nie juis veel kompetisie nie. Hy is Theo se enigste neef. Theo is ook ’n enigste kind en afgesien van Walt, is daar nie nog neefs of niggies nie.”

“Ja, hy het seker ’n grap gemaak. Maar hy het ook gesê Theo verkies om van sy aanwesigheid op hierdie aarde te vergeet.”

“As Walt mý familielid was, sou ek hom ook nie graag wou erken nie,” lag Katinka. “Hy vang altyd allerhande onvoorspelbare dinge aan en sy naam is kort-kort in die koerante met die een of ander moderne kunsuitstalling wat veronderstel is om die fondamente van die onestetiese aarde te skud, maar dan val dit plat. Walt sien homself as ’n tweede Picasso en hy geniet sy martelaarsrol.” Sy kyk nuuskierig na Janie. “Hou jy van Walt?”

“Ek was te moeg om behoorlik te oordeel, maar ek het die idee gekry hy is ’n gawe persoon. Hy verstaan beslis die kuns om jou soos ’n dame te laat voel – selfs al is jy vol roet en as en besmeer.”

“Jy is reg. Walt is oulik. Baie gaaf en vol pret. Ek en hy was saam in ’n oorsese toergroep en dit was lekker gesellig. Dis altyd aangenaam as hy na nóg ’n mislukte uitstalling Pafuri toe kom om sy wonde te lek, gratis te woon en dierestudies te maak. Ek geniet sy geselskap en jy sal ook. Dit breek darem die eensaamheid.”

“Hoe lank bly Walt gewoonlik?”

“Soms twee maande, soms langer. Partykeer laai hy ’n tent, slaapsak en voorrade in sy motor en verdwyn vir ’n week of twee om dieresketse te gaan maak. Hy het nogal baie talent, mits hy by realisme bly.”

“Hoe oud is hy?”

“Laat ek sien … Ons drie is amper ewe oud. Ek is vyf-en-twintig, Walt is ses maande ouer as ek en Theo is amper ses-en-twintig. Maar Walt gedra hom soms soos ’n onverantwoordelike kind. Hy pak sommer maklik sy goed in, koop ’n vliegkaartjie op skuld en gaan oorsee, sonder om hom oor sy finansies te bekommer. Theo sal betaal of dalk hardloop die perde reg. Jy moet liewer met Walt maats maak as jy in Johannesburg wil kom …”

“Theo sal my nie saam met Walt laat gaan nie.” Janie was ’n oomblik lank opgewonde oor die vooruitsig om binnekort weer in Johannesburg te kom, want sy is haastig daar weg en daar was berge goed wat sy nog vir haar uitset wou koop. Maar nou skud sy teleurgesteld haar kop.

“Hoekom nie?” vra Katinka. “Al is jy sy vrou, is jy nog jou eie baas en as jy vir Theo sê jy gaan vir jou vriende in Johannesburg kuier, kan hy jou nie keer nie. Jy is ’n volwasse persoon, geregtig daarop om ’n wil van jou eie te hê.”

“Ek wens ek was so selfversekerd soos jy,” sê Janie verlangend. “Jy sal nooit toelaat dat ’n man op jou kop sit nie, nè?”

“Nee, en dis miskien die rede waarom Theo en ek nie langs een vuur sit nie. Ek verseg om toe te laat dat hy my domineer en ek sal dit ook nie toelaat dat hy dit aan jou doen nie. Jy is te saggeaard …”

“Mensdom, vroumense, is julle met ’n konferensie besig of wat?” onderbreek Theo se stem hulle van buite af. “Hoekom bly julle soveel ure lank weg?”

“Daar was baie roet wat afgewas moes word!” roep Katinka laggend terug. “Gaan sit solank die koffiewater op. Ek kom …”

“Die koffie is al lankal gemaak en reeds yskoud. Wanneer kom julle?”

“Nes ons klaar is,” terg Janie vir Theo.

Hy brom iets, maar hulle kan nie hoor wat dit is nie.

Janie gryp dadelik haar nat handdoek en seep, dog Katinka keer.

“Daar is nie soveel haas nie. Moenie dat Theo sien jy skrik vir hom nie. Moenie spring die oomblik wat hy sy vingers klap nie.” Haar stem word effens gedemp. “En moenie vir Theo van ons gesprek oor Walt vertel nie. Hy sal nie daarvan hou dat ons sy familielede agteraf bespreek nie.”

Theo het toebroodjies en warm koffie gemaak, maar eers neem hy Janie na die lig toe en smeer salf aan al die skrape aan haar nek, arms en gesig.

“Hierdie stamp teen jou kop lyk nie goed nie,” sê hy ontevrede. “Was dit toe jy jou kop teen die paneelbord gestamp het?”

Janie is te bang om te sê dat dit toe was, ja, en gee voor dat dit gebeur het die keer toe sy haar teen ’n boomstomp in die donker vasgeloop het.

Dis blykbaar ook nie die regte antwoord nie.

“Hoe kan jy holderstebolder in die donker deur die veld hardloop? Sê nou maar ’n skerp tak het jou in die gesig gevang?”

“Dan … dan sou daar ’n diep skraap gesit het,” probeer Janie om uitdagend te antwoord, maar haar poging is nie baie geslaagd nie en Theo vererg hom net meer.

“En jy sou dalk bewusteloos daar in die veld gelê het en ons sou jou nie betyds gevind het nie. Is dit wat jy wou gehad het wat moes gebeur?”

Janie is skielik doodmoeg en moedeloos en nie meer lus om Katinka se raad te volg en net so kliphard terug rusie te maak nie.

“Miskien sou dit beter gewees het.” Haar stem bewe en die trane sit al weer baie vlak. “Verskoon my … ek is nie honger nie. K-kan ek nie maar gaan slaap nie?”

“Natuurlik kan jy.” Dis Katinka wat antwoord en verwytend na Theo kyk. “Kom, ek sal jou bed toe neem. Theo, dink jy nie ek behoort vannag hier te slaap nie? Janie mag my dalk nodig kry.”

Theo is ook skielik moedeloos en nie lus om te stry nie.

“Maak net soos julle wil,” sê hy kortaf. “Ek sal op die bank in die woonkamer slaap.”

Hy pluk ’n kussing en kombers uit die kas en dink blykbaar nie daaraan om sy jong vroutjie goeienag te sê en haar ’n aangename nagrus toe te wens nie.

Janie is dankbaar om tussen die koel lakens in te kruip en sy hoor skaars toe Katinka nag sê. Dis salig om uiteindelik in die bed te wees. Maar dit maak haar bang om alleen te wees met haar onstuimige gedagtes. Sy is jammer toe Katinka teruggaan woonkamer toe en aanbied om vir Theo ’n laaste koppie koffie te maak.

“Ja, hoekom nie?” glimlag Theo sinies. “Siende dat my vrou haar huishoudelike pligte ontduik en sulke swak geselskap is …

Janie hoor dofweg dat Katinka iets van die “goeie ou dae” sê en sy probeer luister wat Theo se antwoord is, maar die slaap het haar reeds begin oorval en sy bekommer haar nie veel waaroor daardie twee in die woonkamer gesels nie. Môre is nog ’n dag en môre sal sy miskien uitgerus voel en meer opgewasse wees teen die probleme waarin sy haar bevind. Môre sal die vooruitsig van ’n getroude lewe saam met Theo miskien nie soos ’n berg voor haar lê nie. Môre sal hy miskien na haar toe kom en sê hy is jammer en hy het haar baie lief, en sal sy haar arms om hom gooi en onthou hoe lief sy hom het …

Die rondawel is doodstil toe Janie laat die volgende oggend wakkerskrik. Sy lê nog ’n ruk lank met toe oë, onwillig om uit die bed te klim en met die dag te begin. Wie weet of sy nie dalk vanaand sak en pak in Johannesburg afgelaai gaan word nie?

Daar lê vir Janie ’n vriendelike briefie van Katinka op die tafel.

Hoop jy het lekker geslaap. Jou ontbyt is in die oond en as jy nóg honger voel, die yskas is vol kos. Ek is by die skool. Sien jou later vanmiddag. En dan is daar ’n naskrif wat Janie skepties laat voel, maar verlig ook. N.S. ’n Soentjie van Theo af. Hy moet ongelukkig vir die dag Messina toe gaan om onderdele vir ’n stukkende windpomp te kry en sal eers laat vanmiddag terug wees.

Janie is dankbaar dat sy Theo nie dadelik hoef te konfronteer nie. Sy is seker die onderdeel is net ’n verskoning. Hy het seker gedink dis beter dat hy sy vrou vandag vermy.

Janie trek een van haar nuwe wit langbroeke en ’n helder gestreepte bloes aan en wonder wat sy die hele dag met haarself sal aanvang. Katinka het vir haar genoeg kos gelaat sodat sy haar nie oor middagete hoef te bekommer nie. En dit sal seker ook nie help om al haar tasse en persoonlike goed uit te pak nie, want sy weet nie hoe lank sy hier in Pafuri sal wees nie.

Janie besluit om deur die kamp te stap en daardie gesinnetjie mak vlakvarke te gaan soek waaroor sy en Riana so in vervoering geraak het. Sy hoop hulle is nog hier. Theo het gesê die vlakvarke en rooibokke kom dikwels Njelele-kamp toe as daar ’n aanwas in die familie op pad is; in die kamp voel hulle beskut. Maar as die kleintjie daar is, is die roepstem van die wye veld te sterk en verdwyn hulle weer so stil-stil, en ’n ander toekomstige moedertjie daag op …

Dis nie lank nie voordat Janie bewyse sien dat die vlakvarke nog in die kamp is. Een van die asblikke is omgekeer en die inhoud op die grond deurgesnuffel. By die volgende vuurmaakplek lê ’n swart driebeenpot onderstebo, met modderspore in die stywe krummelpap getrap, om te verklik wie die skuldige was. Janie lag hardop. Theo het hulle vertel die kampwerkers vind die vlakvarke ’n kruis. Hulle mors en krap om en het ’n voorliefde vir die pap wat die mense gewoonlik elke oggend maak, om eers met suiker te eet en later in die aand met ’n stukkie vleis en sous.

By die volgende vuurmaakplek betrap Janie die skuldiges op heterdaad: dis ’n ma-vlakvark met ’n kleintjie, en nie ver van sy gesin af nie wei die trotse vader in die kikoejoegras wat Theo-hulle die vorige seisoen aangeplant het.

Janie verwilder hulle en red wat sy kan van die poetoepap en ’n halwe brood. Dan stap sy agterna met haar kamera. Vlakvarke is vir haar die oulikste goed, veral nadat Theo vir haar vertel het die varke word die Samaritane van die reservaat genoem. Wanneer ’n bok in die modder vasgeval is, sal ’n vlakvark hom glo met daardie paar lang omkrultande van hom gaan uitgrawe.

“Dis jammer hulle is magteloos om diere uit valstrikke te red,” het Theo verbitterd bygevoeg.

Riana het hom gevra wie so wreed sal wees om strikke te stel en Theo het teen die terroriste op die Rhodesiese grens uitgevaar, en teen die handelaars wat so gewetenloos is om gewere en ammunisie aan die terroriste te verruil vir die vleis en velle en olifanttande.

Hulle het gesien dis ’n saak wat Theo grief en hom gefrustreerd laat omdat hy so magteloos is om die terroriste te betrap.

“Ons het gereelde patrollies,” het hy hulle vertel, “maar die terroriste is slinks en ken die veld net so goed soos Flip en ek. ’n Nuwe set wat hulle het, is om agteruit te loop van die strikke af, sodat ons hulle spore nie kan volg nie. Dit het ons ’n tyd lank geflous en ek het in Pafuri self na die wilddiewe gesoek. Ek het maar onlangs uitgevind ek moet sorg dat ek weet waar die rye spore begin het voordat ek kan vasstel waar die terroriste se skuilplekke is. Maar as ek hulle die dag vang, is die duiwel los. Ek skiet hulle soos honde dood. Eers skiet en dán vra wat hulle in die reservaat gesoek het …”

Janie neem ’n paar foto’s van die varke en gesels ’n wyle met twee toeriste. Dan besluit sy dis waar wat Katinka gesê het – ’n mens gesels nie lekker met persone as jy weet dat hulle môre weg gaan wees en dat jy hulle nooit weer sal sien nie. En miskien het Theo se aggressie teen die toeriste haar bevooroordeeld gemaak. Hierdie twee buitelandse toeriste gedra hulle ook asof hulle die ganse Pafuri gekoop het, net omdat hulle ’n rondawel twee nagte lank bespreek het: gooi hulle sigaretstompies die hele wêreld vol, kla oor die hitte en die afwesigheid van al die moderne geriewe en die ongeteerde paaie. Hulle is ook nie geïnteresseerd in die voëllewe, bokke en kleiner wildsoorte nie. Al wat hulle wil sien, is ’n vangs.

“That’s the only reason we came to this bundu country of yours – to see a kill,” erken die vrou in haar drupdroog safaripak, met die uiloog-donkerbril en kamera op die heup.

Janie antwoord nie en maak haarself skaars, so vinnig as wat hoflikheid dit toelaat. Hierdie twee is seker ook daardie tipe toeris wat op hulle toeragenda kyk en sien dis Dinsdag, en besluit dan moet hierdie plek Afrika wees. Gaaf, so hulle het Afrika klaar gesien en kan daardie land op hulle lysie aftik …

Daar is ook ’n paar mak rooibokke in die kamp en Janie neem nog ’n paar foto’s. Dis waar wat Theo gesê het, besluit sy: ’n rooibok is enige tyd net so mooi soos ’n springbok, al wil die oorsese toeriste altyd weet waar is die springbokke dan – immers Suid-Afrika se nasionale boksoort wat al sinoniem met rugby geword het.

Janie begin verveeld raak en stap af na die Pafuri-rivier toe om te sien of daar nie diere is wat kom water drink het nie. Laas toe hulle hier was, het sy en Riana ’n paar blouwildebeeste vanuit die kamp gesien, en ’n manjifieke koedoebul wat ook wou afkom water toe, maar skrikkerig was en eers lank stilgestaan en die lug gesnuif het voordat hy fyntjies al met die wildpaadjie afgestap het.

“Koedoes is mooi, maar hulle is ’n lafhartige spesie,” het Theo vertel. “Hy is nie ’n vegter nie, sal eerder weghardloop as om sy kalf teen ’n roofdier te verdedig. Nuuskierigheid is egter sy groot ondergang. ’n Koedoe sal ’n paar treë weghardloop, maar dan vassteek en teruggaan om te sien of hy reg was – of dit werklik ’n leeu was wat hy geruik het. En die leeus weet dit. Hulle wag dat hy terugkom om sy nuuskierigheid te bevredig, en dan vang hulle hom. Leeus het ’n voorliefde vir koedoevleis … net soos die spul wilddiewe.”

Hoekom hoor sy gedurig Theo se stem? vra Janie haarself ergerlik af. Sy behoort bly te wees om ’n paar uur lank van hom te kan vergeet.

Jy sal nooit van hom kan vergeet nie, antwoord daardie lastige stemmetjie in haar binneste. Al maak hy met jou rusie of al jaag hy jou weg of laat jou op die trein terug Johannesburg toe klim, sal jy hom nooit kan vergeet nie. Hy is deel van jou. Want sien, jy het daardie man lief. Dis hoekom dit jou so bitter seer maak as hy met jou ergerlik of ongeduldig is of rusie maak. En dis hoekom jy so bang is hy het jou nie meer lief nie en berou hierdie oorhaastige huwelik …

Daar is geen diere op die oorkantste sandbank nie, maar wel iemand op ’n kampstoeltjie voor ’n esel, net duskant die kampheining. Janie voel dadelik minder verveeld en in ’n vrolike luim. Dis die soort geselskap wat sy vandag nodig het. Bewondering en vleitaal is beter as ’n vlakvark – dit kan berge versit om ’n meisie se moraal daar diep uit die modder te grawe …

Walt is aangenaam verras om Janie te sien. Hy spring dadelik op en bied haar die kampstoeltjie aan.

“Ek kan dit nie glo nie,” skud hy sy kop.

Janie lag. “Wat kan jy nie glo nie, Walt?”

“Dat jy nog mooier kan wees as wat ek gedink het jy gaan wees as al daardie swart roet afgewas is.”

“Ag, jy spot sommer,” bloos sy.

“Nee, ek is ernstig. Daardie neef van my is ’n gelukkige man. Soos ek gesê het, Theo het nog altyd ’n oog vir ’n mooi vroumens gehad. Terloops, waar is die gelukkige bruidegom?”

“Messina toe. Om die een of ander onderdeel vir ’n windpomp te gaan haal.”

“Hy mag goeie smaak in vroumense hê, maar hy is nie baie slim nie. Hoe kan hy sy mooi jong vroutjie so vroeg in julle huwelik reeds alleen laat?”

“Theo is nie baie lief vir my nie,” erken Janie verleë. “Hy het my nog nie vergewe omdat ek verdwaal het nie.”

“Hý het jóú nog nie vergewe nie?” Walt is ongelowig. “Ek sou sê dit moet andersom wees. Jý behoort hóm kwalik te neem omdat hy nie beter vir sy vrou gesorg het nie. Wat sou gebeur het as ek nie toevallig daar verbygekom het nie, Janie?”

“Dan sou ek seker nou nog daar in die middel van die pad gesit het, of dalk het die wilde diere my al opgevreet.”

“Moenie so ligsinnig wees nie, meisiekind. Weet jy, ek het my boeglam geskrik toe ek om die draai kom en skielik in die ligte van die motor ’n vroumens sien.”

“Ek ook,” lag Janie. “Ek het die dreuning gehoor, maar nie geweet daar is ’n draai in die pad nie, en my yskoud geskrik toe die paar ligte skielik amper bo-op my was.”

“Ek het gedink ek het jou raakgery. Ek het net gesien jy spring en toe val jy vooroor …”

“Dit het seker baie onelegant gelyk,” terg Janie.

“Ek het nie opgelet nie. Al waaraan ek kon dink, was hoe ek vir Theo sou moes sê ek het sy vrou omgery. Kan jy raai hoe groot my verligting was toe ek sien jy makeer niks nie?”

“Dit kon nie groter gewees het as mý verligting toe ek jou motor hoor aankom het nie.”

Walt haal ’n termosfles uit en bied vir Janie ’n koppie koffie aan.

“By gebrek aan iets sterker, laat ons jou noue ontkoming dan maar met koffie vier.”

“Dankie, dit sal lekker smaak. Ek was vanoggend lus om vir my koffie te maak, maar het nie geweet waar Theo die koppies en koffie en suiker bêre nie.”

“Wát? Is hy vanoggend weg sonder om vir sy vrou ontbyt te gee? Dis nie baie gasvry van Theo nie. Dit lyk my hy maak ’n gewoonte daarvan om jou agter te laat, sonder iets te ete of te drinke.”

“Nee, Katinka het vir my spek en eiers en brood agtergelaat, maar die koffie moes ek self maak en ek wou nie in Theo se kaste krap nie.”

“Dis nie Theo se kaste en Theo se koppies en suiker en ander goed nie; dis nou mos joune ook. Julle is mos in gemeenskap van goedere getroud, nie waar nie?”

“Ja, maar solank Theo vir my kwaad is, voel ek soos ’n indringer in sy huis. Ek het nog nie eers my tasse en ander besittings uitgepak nie. Ek het gedink dit spaar my die inpakkery as hy my vanaand op die Johannesburg-trein huis toe wil sit.”

Daarop het Walt nie ’n antwoord nie en hy speel ingedagte met die potlood waarmee hy besig was om sketse te maak.

“Mag ek kyk?” vra Janie met haar hand op die Rowney-sketsboek.

“As jy wil. Stel jy in kuns belang, Janie?”

“Ja. Self kan ek nie twee reguit strepe trek nie, maar na ’n mooi skildery kyk ek graag. Enige mooi ding trek my aan: ’n mooi rok, ’n mooi hoed, mooi skoene, mooi sketse en … seker ook ’n mooi man!”

Janie is aangenaam verras met die gehalte van Walt se werk. Uit Katinka se opmerkings het sy afgelei dat Walt nie veel talent het nie, maar hierdie sketse is uitstekend.

“Ek dink dis dieselfde koedoebul wat ek ’n paar weke gelede gesien het afkom water toe,” sê sy opgewonde. “Daardie manjifieke paar horings sal ek enige plek herken. Wanneer was die koedoe op daardie sandbank?”

“Eergisteroggend. Hy boer seker maar in hierdie geweste. Ek was gelukkig dat hy baie lank stilgestaan het om die lug deeglik te snuif voordat hy kom water drink het.”

“Ja, dis dieselfde koedoe: uiters versigtig en ’n regte ou bangbroek. Hierdie skets is uitstekend, Walt!” Sy blaai verder deur die boek. “Ja, dis net soos ek ook al ’n neushoringvoël gesien het … en hierdie likkewaan! Hoeveel ure het hy vir jou geposeer sodat jy so ’n pragtige skets van hom kon maak?”

“Ek het van ’n foto af gewerk vir daardie een.”

“Dis ’n goeie idee om foto’s te gebruik. Dan is jy seker jou detail is korrek. En dis minder wreed as die tegniek waarvan Audubon gebruik gemaak het. Hy is die wêreld se beste voëlkunstenaar maar hy het glo sy modelle doodgemaak en hulle dan op ’n tak of iets gemonteer om realisties te lyk, en dan het hy op sy tyd die voël geskilder.”

“Terwyl hy gehul was in die reuk van ’n voël wat besig was om te verrot …” spot Walt. “Jy weet baie van kuns af, Janie? Ek het nie gedink jy sou al ooit van Audubon gehoor het nie.”

“Ek sou ook nie, as ek nie ’n ruk gelede ’n televisieprogram oor hom gesien het nie,” erken sy.

“Wel, jy het darem nie die televisiestel afgeskakel toe daar ’n program oor kuns was nie, en jy het sy naam onthou. En jy sê jy hou van ’n mooi skildery …”

“En ’n mooi man!” terg Janie hom voordat sy haarself kan keer. Sy bloos bloedrooi en kyk verleë anderpad.

Walt lag gemaklik. “Jy is ’n aster so reg na my hart, mevrou Vermaak. Nog koffie?”

“Dankie. Maar wat van jou?”

“In my hut is kanne koffie. As hierdie gedaan is, gaan haal ons nog. Ek vind koffie baie stimulerend. Wanneer ek werk en, e … ook by ander geleenthede …” Hy lag toe Janie weer haastig anderpad kyk.

“Het iemand al vir jou gesê jy lyk onweerstaanbaar as jy bloos, Janie?”

“Nee …”

“Nie eers Theo nie? Sy tegniek moet taamlik verroes wees as hy jou nog nie so ’n welverdiende kompliment gemaak het nie. Ek is teleurgesteld in my familielid. Waardeer hy jou dan nie, astertjie?”

“Ja, maar ek glo nie ek lyk mooi met sulke pienk wange nie en Theo is nie die tipe man wat mooi goed vir ’n meisie sê nie.”

“O ja?” Walt se wenkbroue lig vraend. “Dan het hy baie verander …”

“Hoekom sê jy so?” Janie kyk ondersoekend na Walt.

“Nee, netnou praat ek my mond verby en sê dinge wat ek nie moet sê nie. Ek kan dit nie bekostig om Theo die harnas in te jaag nie. Ek kuier op sy koste hier. My vorige uitstalling het nie na wense verloop nie en ek is … effe platsak. Ek kruip hier weg sodat ons opsigster nie my woonstelhuur kan vra nie. Ek hoop net my besittings is nie op die sypaadjie uitgesmyt wanneer ek weer in Pretoria my gesig wys nie …”

“Jy oordryf seker?”

“Ja, dis wat Theo ook gesê het toe ek hom van my benarde finansiële posisie in kennis gestel het.” Walt se stem was lig, maar daar was ’n verbitterde ondertoon en Janie wonder of dit die rede was waarom Walt gesê het hy is nie Theo se gunstelingneef nie. Te oordeel aan Katinka, is Walt dikwels platsak en dis te verstane dat Theo vies word as sy neef gereeld by hom wil geld leen. Miskien wou hy hierdie keer nie help nie en dis hoekom Walt so half snaaks was gisteraand toe hy van Theo gepraat het.

Janie is verlig dat dit nie ’n ernstiger moeilikheid tussen die twee neefs is nie, want sy hou van Walt en wil graag met hom vriende wees, en Theo is heeltemal kapabel en verbied haar om met arme Walt te gesels. Sy is bly dis sommer net ’n kwessie van geld. Maar daar is iets anders wat Walt genoem het wat Janie se belangstelling prikkel en wat haar bekommerd stem. Sy wil baie graag ’n antwoord op haar volgende vraag hê.

“Het Theo baie nooiens gehad voordat hy met my getroud is?” vra sy en probeer om nie gespanne te lyk terwyl sy op die antwoord wag nie.

“Nie báie nie. Eintlik net een …”

Janie is dadelik bekommerd. Sy sou dit verkies het as daar rye ander nooiens was – soos sy in ’n grap vir Marina van Wyk gesê het. As daar slegs die een nooi was, sal sy altyd bang wees Theo het daardie ander meisie steeds lief, dat hy na haar verlang en sy vrou met haar vergelyk, dat hy spyt is hy het met háár getrou. Soms het sy juis agterdogtig gevoel omdat Theo so oorhaastig met haar wou trou, so asof hy iemand wou vermaak …

“Wie was sy?”

“Nee …” Walt hou sy hande, palms na Janie gekeer, in die lug. “Nee, ek praat vandag weer veels te veel. Kom ons verander die onderwerp.”

“Nee, asseblief …” Janie se stem is pleitend. “Kom ons praat nog ’n rukkie oor daardie een nooi van Theo, en dan belowe ek om jou nooit weer uit te vra nie. Was Theo aan die meisie … verloof?”

“Janie, Theo slag my lewendig af as ek sy privaatsake aan jou uitblaker. Dis baie beter as jy hom self na die meisie uitvra. Ek glo nie hy het iets om te verberg nie. Hy en die nooi het uitgemaak, hy het jou ontmoet, halsoorkop verlief geraak en met jou getrou. Nie dat dit onverstaanbaar is nie … ek self sou ’n ring aan jou vinger geplaas het as ek jou eerste gesien het. Theo en my smaak kom baie ooreen.”

“Moet asseblief nie die onderwerp verander en my aandag probeer aflei nie, Walt.”

Hy lyk seergemaak. “Dis nie slegs om jou aandag af te lei dat ek sê ek sou self graag met jou wou getrou het nie, astertjie. Dis omdat ek dit bedoel. Eerlikwaar, ek sou dolverlief op jou geraak het as jy nie Theo se vrou was nie.”

“Walt, het Theo met my getrou om daardie meisie te wys hy is nie oor haar verleë nie?”

“Ek glo nie. Theo het baie foute, maar vermakerigheid was nog nooit ’n eienskap van sy karakter nie.”

Janie kry die indruk dat Walt nie eerlik is nie.

“Hoekom is hy so oorhaastig met my getroud?” hou sy dringend vol.

“Omdat jy onweerstaanbaar is en hy jou so gou moontlik aan sy sy in Pafuri wou hê. Ek kan glo ’n man raak bra eensaam in hierdie verlate boswêreld. Kom ons gaan haal nog koffie, aster.”

Janie weet sy sal niks meer uit Walt kry nie. Hy is óf baie lojaal teenoor sy neef óf bang vir hom … miskien dat Theo sy finansiële hulp sal terugtrek.

Sy sal vir Katinka vra, besluit Janie. Katinka sal weet wie die meisie was en wat tussen haar en Theo verkeerd geloop het, en ook wat sy gevoel nog teenoor die meisie is. Katinka sal begryp waarom dit so belangrik is om vas te stel of daardie ou nooi nie dalk die oorsaak is van die gespanne atmosfeer tussen háár en Theo nie. Hy tree beslis nie teenoor sy vrou op soos ’n mens van ’n man kan verwag wat verlief is en nog maar net twee dae lank getroud is nie.

Walt se rondawel is een van die gewone toerisrondawels en baie kleiner as Theo s’n.

“Verskoon die chaos, asseblief. Ek is pas terug van ’n week in die veld en het nog nie aan die kant gemaak nie.”

“Dis in die haak.” Janie glimlag oor die formele foto van ’n resiesperd wat teen die muur hang en baie onvanpas in ’n wildreservaat lyk.

“Golden Sunset,” grinnik Walt. “Hy het my ’n fortuin uit die sak gejaag. My pa het gesê hy kán nie verloor nie en ek het al my geld op hom gesit, maar hy hardloop seker nou nog …”

Janie haal ’n kamera en ’n paar skoene van ’n stoel af en verneem of sy nie kan help om die koffie te maak nie.

“Nee, sit jy gerus as jy iewers ’n oop stoel kan vind. Ek sal die koffie maak. Jy lyk nie vir my na die huishoudelike tipe nie.”

“Jy is reg. Maar noudat ek getroud is, sal ek baie vinnig moet leer om die bedrywige-huisvroutjie-tipe te word. Of dalk is dit nie die moeite werd nie. Ek weet nie hoe lank ek nog getroud gaan bly nie …”

“Het jy gesê Theo sal eers laat vanmiddag van Messina af terug wees?” wil Walt weet.

Janie knik afgetrokke, haar gedagtes steeds by Theo. Sy wonder wat sy houding teenoor haar gaan wees wanneer hy tuiskom, en sy voel weemoedig. Alles het so goed gegaan en sy was so opgewonde oor die vooruitsig om met Theo getroud te wees!

Hy self was so uitgelate soos ’n kind. Eergistermiddag het hy vir haar wit rose gekoop en eergisteraand ’n enorme ruiker bloedrooi roosknoppe. “Sommer omdat ek dolverlief is, en om dankie te sê dat jy met my getrou het, my liefste,” het Theo gesê. En toe het hy haar styf vasgehou en gesoen en gesê hy is die gelukkigste man op aarde. Hy sal haar altyd liefhê en vir haar ’n goeie man wees.

Waar het dinge dan verkeerd begin loop? Het hy meer van sy vrou verwag? Het sy nie aan sy verwagtinge voldoen nie? Of het hy begin besef hy het haar nie werklik lief nie, dat hy liewer met die ander meisie moes getrou het? Was hy spyt dat hy met haar opgesaal sit en is dit die rede vir sy onverdraagsaamheid? Vergelyk hy dalk sy vrou met sy vorige nooi en vind dat hy ’n fout gemaak het?

“Haai, ou dromer!” roep Walt. “Ek vra of jy ’n toebroodjie en ’n stukkie koue vleis – die oorblyfsels van my ete gisteraand – sal eet?”

“Nee dankie, net koffie. Ek is jammer ek is sulke slegte geselskap.”

“Jy hoef nie goeie geselskap te wees nie. Jy kan net doodstil sit en mooi lyk, dan is ek tevrede. Sal jy toelaat dat ek jou eendag skilder, Janie?”

“Dankie. Ek sal baie gevlei voel. Maar as jy platsak is, moet jy nie van mý ’n skildery maak nie. Dit sal nie verkoop nie.”

“Nee, Janie,” sê Walt ernstig. “Dis ook nie ’n skildery wat ek ooit sal wil verkoop nie; selfs nie al is ek sonder kos om te eet nie.”

Walt se woorde laat Janie verleë voel en sy kyk deur die rondawel.

“Mag ek van jou ander werk sien?”

Walt wys vir haar van sy skilderye en verduidelik wat hy met die kwas probeer sê het, maar Janie verstaan nie alles wat hy aan haar probeer verduidelik nie. Dis te modern vir haar smaak en sy hou meer van die houtskoolsketse wat hy van die diere gemaak het.

“Sal jy asseblief daar in die lig gaan sit, Janie?” versoek Walt.

“Hoekom?”

“Omdat ek ’n paar voorlopige sketse van jou wil maak. Ek moet eers die vorm van jou gesig leer ken en die uitdrukking in jou oë op papier probeer vaspen, voordat ek met ’n olieverfskildery kan begin. Ek skilder nooit ’n model met ’n eerste kennismaking nie: sy moet eers deel van my word; elke detail van haar gesig moet in my geheue gegraveer wees.”

Na twee ure roep hy halt en kondig aan dat Janie maar kan ontspan.

Janie kom stram regop van die harde kombuisstoel voor die venster.

“Styf?” vra Walt.

“Nogal. Ek is nog stram en lyfseer van gisteraand.”

“Ek is jammer. Ek het daarvan vergeet en dit was onbedagsaam van my om jou so lank stil te laat sit.”

Walt lyk werklik boetvaardig en begin die stram spiere van haar nek en skouers te masseer.

Dit laat Janie baie ongemaklik voel. Sy gee ongemerk pad en hoop dat Walt dit nie sal agterkom nie.

“Ek hoop nie jy het hierdie lelike merk aan my voorkop ook in jou sketse gesit nie?”

“Nee, ek het nie. Jy is ’n goeie model, Janie. En daarmee bedoel ek nie dat jy lekker doodstil sit nie. Dit ook, maar jy is ’n pragtige meisie. Ek sal nooit reg kan laat geskied aan daardie dromerige grys oë met die digte swart wimpers en die hoë wangbene en die mobiele mond nie.”

“E … ek sal moet gaan,” stamel sy verleë en gee ver van hom af pad. “Dis amper vieruur.”

“Jy is soos ’n wildsbokkie,” sê Walt sag. “Altyd op jou hoede en baie skrikkerig. Moenie vir my bang wees nie, Janie.”

“Nee, ek – ek is nie vir jou bang nie,” jok sy. “Dis net … Ek probeer daardie sketse sien. Ek is nuuskierig om te sien hoe hulle lyk.”

“Die sketse is nog onafgerond. Wanneer ek klaar is, sal ek hulle vir jou gee sodat jy hulle in jou dagboek kan plak – om jou aan ’n sukkelende jong skildertjie te herinner wat by die eerste kennismaking dolverlief op jou geraak het.” Hy stoot die sketsboeke eenkant toe en gooi die potlood neer waarmee hy gewerk het. “Kom,” sê hy met ’n skewe glimlaggie. “Ek stap saam tot by jou rondawel.”

Langs die pad gesels hulle nie veel nie. Janie kan Walt de Witt nie heeltemal kleinkry nie. Is dit die kunstenaar in hom wat hom tydelik op al sy modelle verlief laat raak, of het hy werklik al daardie dinge bedoel wat hy gesê het? Is hy regtig op haar verlief, of moet sy hom nie ernstig opneem nie? Is dit wat Walt bedoel het toe hy gesê het sy model moet eers deel van hom word voordat hy haar kan skilder? Kunstenaars is mos meer intens as ander mense.

“O maggies!” sê Walt skielik en steek in sy spore vas. “Theo is reeds by die huis. Ons is in die moeilikheid, Janie …”

Sy skrik uit haar mymeringe wakker en kyk op. Walt is reg: Theo se Land Rover staan onder die blinkblaar-wag-’n-bietjie. En hy self staan met gevoude arms op die stoep, ’n grimmige uitdrukking op sy gesig.

Ettie Bierman Keur 11

Подняться наверх