Читать книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter - Страница 10

6

Оглавление

In die warm aandwind rus die boer Nabot en sy huisgesin op hul biesiematte op die dak van hul huis by Jisreël. Omdat dit so warm is, het hulle die aandete hier genuttig – roosterkoek, bokmelkkaas, olywe, dadels en granate – en deurentyd oor die gebeurtenisse in Samaria gepraat; nie hard of opgewonde nie, half f luisterend soms, asof bloot praat ’n oortreding is.

Nou praat hulle nie meer nie. Hulle lê en sit net daar en wag, elkeen met ’n eie angs, luister asof hulle verwag dat die wind iets na hulle toe sal bring.

Nabot, gehard van ’n leeftyd se werk en swoeg, kyk oor die lae muurtjie na die vuur by die kafkleihuisie van sy opsigter, die Kanaäniet Sabad, en sy gesin. Hy wonder of hy nie gelukkiger sou wees as hy soos Sabad tevrede kon wees met die klein gawes van elke dag nie. Goeie, getroue, onderdanige Sabad. Nabot ruik die geur van vlas wat nog laas hier op die dak gedroog is, hoor die ruising van sy olyfboord, maar dit streel hom nie. Hy sit hier met angs en teenkanting waarvan hy nie ontslae kan raak nie. Hoe kan hy hom tog teen Agab verset?

Hy staan ongeduldig op, soek in die leë donker.

“Vanjaar het ons droogte,” sê Nabot om sy aandag en dié van die ander weg te lei van die wag hier op die dak.

“Die reën sal nog kom, Vader,” verseker sy oudste hom. Bloot Joag se stem laat Nabot rustiger voel hier by sy kinders Sagaria en Amasa, en sy dogters, Abia, Jerusa en Migaja. Wie is hy om te vrees en te kla as vader Jakob ook ’n geliefde seun moes afgee? Maar ai, Johanan … Dié is so na aan sy hart.

“Waar’s Moeder?” vra hy skielik. Hy het nie eens agtergekom dat Josabat wie weet hoe lank nou al, sonder om te eet, met die trap afgeklim het ondertoe en in die voordeur gaan sit het nie.

Josabat se oë het aan die donker gewoond geraak, en sy soek voortdurend oor die werf tot by die donker kolle waar die parskuipe en die olyfpers onder afdakke staan, verder tot waar die veekrale moet wees. Sy luister die donker in, probeer selfs deur die suising van die wind hoor of sy nie ’n klippie hoor spat of ’n takkie hoor breek of ’n voet hoor sleep nie.

Die nag vorder oor die hoogland, oor die vallei van Jisreël, ooswaarts oor die bergstreek van die See van Kinneret en oor Nabot se opstal. Ook Sabad se vuur is nou dood, en daar is nêrens meer lig nie, sodat dié op die dak ook padgee om te gaan slaap.

“Kom slaap nou, Josabat,” sê Nabot toe hy onder kom. “Jy kan nie weer die hele nag wakker bly nie.”

Sy antwoord hom nie en hy weet dat hy maar alleen kan gaan slaap.

Teen die kosyn geleun, haar hande slap in haar skoot, bly sy sit.

Die aandster is later onder en nog sit sy. Dit moet al lank ná middernag wees, maar steeds wag sy.

En tog, al is sy waaksaam, laat die beweging hier vlak by haar haar skrik.

“Wie’s daar? Johanan?” roep sy gedemp.

“Moeder?”

Josabat spring op en struikel teen Johanan vas. “Waar was jy die hele tyd?” vra sy ontsteld. “Hulle soek na jou. Kom in, kom in …” En sy trek hom die huis binne.

In ’n ommesientjie is almal wakker en in die lig van ’n olielamp wat iemand opgesteek het, swerm hulle om hom. Sagaria maak gou al die luike toe. Hulle raak aan Johanan, hou hom vas, vat aan sy gehawende klere.

Telkens waarsku die senuweeagtige Josabat as iemand te hard praat of lag.

“Waar het jy heeltyd gedwaal?” vra Nabot. “Jehu se ruiters was ’n paar dae gelede al hier om na jou te soek.”

“Ek het snags gevlug en bedags weggekruip, Vader,” antwoord Johanan. “Ek het maar stadig gekom, met ’n ompad, want ek het geweet hulle sal hier kom soek. ’n Paar keer het die ruiters byna bo-oor my gery.”

“En byna dood van honger en dors,” sê Josabat.

“Ek is honger en dors, Moeder. Vandat ek nou die nag uit Samaria gevlug het, het ek maar min geëet. Ek het maar van veldkos gelewe; was bang as ek by ’n plek aanloop, sal hulle my herken.”

Hulle kyk hoe hy die klein kruikie met lang, gulsige hale leeg drink terwyl Josabat en die dogters rondspring om kos reg te kry.

“Waarom het jy dan weggeloop, seun?” vra Nabot. “Ek het by die ruiters probeer vis, maar hulle wou nie praat nie.”

Johanan het by die tafel gaan sit, speel met die waterkruik in sy hande, nadenkend. “Ek sien nie kans om klip te kap vir die Baältempel wat die koning wil bou nie, Vader.”

Nabot kom staan langs Johanan, vryf sy hare nog meer deurmekaar. “Jy’t reg gemaak, seun. Jy’t jou soos ’n man gedra – ja, soos ’n man! Ons is trots op jou.” Hy gaan sit met ’n glimlag teenoor Johanan. Maar dan verdwyn die glimlag. “Ja’k, ons het gehoor van die tempel, van die oploop en alles. Dis ’n gruwel. Agab loop sommer uit die staanspoor verkeerd.”

Abia bring ’n bak water sodat Johanan sy gesig kan was. Dis vaal van die stof wat aan die ou sweet kleef. Jerusa trek sy skoene uit en Migaja verwyder sy stowwerige bokleed.

“Ons is bly om jou te sien, maar jy moes nie hierheen gekom het nie,” sê Nabot kopskuddend. “Hulle sal jou beslis weer hier kom soek.”

Toe stuur hy die teësinnige Joag, Sagaria en Amasa buitetoe om op verskillende plekke te gaan wag hou.

“Waarheen moes hy gegaan het?” vra Josabat.

“Jisreël is nie veilig nie,” werp Nabot teë. “Soos ek Jehu ken, sal hy nie rus voordat hy Johanan gevang het nie.”

“Die Here sal sorg, die Here sal hom beskerm,” antwoord Josabat beslis.

“Ek het net kom groet, Vader. Ek weet ek kan nie hier bly nie. Net kom hoor wat Vader wil hê dat ek moet doen.”

Josabat hou op met werk en kom na Johanan toe. “Ai, my kind, nou moet jy soos ’n misdadiger vlug. Moes jy nie maar die werk gedoen het nie? Dit wil tog nie sê jy dien Baäl nie.”

“Nee!” kap Nabot teë. “Nee! Die Here hoor my, ek en my huis sal geen vinger verroer ter wille van Baäl nie! Nie ’n vinger nie!”

En toe sag en innig: “Knap gedaan, ou seun. Jy’t vir die Here getuig.”

“Jy praat groot woorde, Nabot van Jisreël,” vermaan Josabat. “Jy’t gehoor wat Agab met die man Obed en die ander gemaak het. Wil jy hê Agab moet teen ons kom uitvaar? Hy’s nou koning.”

“Koning?” vra Johanan.

Nabot kyk voor hom op die tafelblad. “Hulle het boodskappers gestuur om te sê koning Omri het hom koning gemaak voordat hy gesterwe het,” sê hy aangedaan. “Ai, my! Omri was ’n groot man, ’n groot koning. Nou ja, hy het wel gesondig met sy Baäldiens, maar hy was ’n vader vir Israel. Hy het groot dinge vir die volk gedoen. En nou is Agab koning.”

Almal kom ’n oomblik tot stilstand in stille hulde aan koning Omri.

“Dan het jy seker ook nie gehoor van die profete nie?” vra Nabot later.

“Wat van die profete, Vader?”

Nabot wil antwoord, maar sy gemoed skiet vol sodat hy vir Migaja beduie om te praat.

“Hulle het al die profete uit die gevangenis gesleep en hulle ’n ent buite Samaria met die swaard doodgeslaan,” vertel sy.

“Dit is nie al nie,” voeg Abia by. “Hulle het ruiters uitgestuur om die profete by hul stanings aan te val en uit te moor. Hulle het die tente en die altaartjies verwoes – alles …”

Nog voordat Abia behoorlik klaar gepraat het, val Jerusa in. “’n Handelaar het vanoggend kom vertel dat die mense geskreeu en gekerm en gesoebat het. Daar teen die helling buite Samaria was daar glo net bloed en verminkte lyke.”

“Maar wie? Wie’t dit gedoen?” vra Johanan.

“Dis daardie Bidkar,” antwoord Josabat met afsku.

“Bidkar? Jehu se adjudant?”

“Mense het hom en ’n klompie soldate by die gevangenis gesien,” vertel Migaja.

Johanan skud sy kop. “Jehu is ’n handlanger van koning Agab en Isebel. Dit het ek gesien.”

Nabot hou sy hande op.

“Stadig, julle praat te hard …” En toe skalks aan Josabat: “Nou toe! Julle staan net daar. Maak kos vir Johanan om te eet en saam te vat. Jehu se ruiters kan elke oomblik weer hier kom afklim.”

Die vroue spring weer aan die werk.

“Maar waarom? Wáárom? Hulle was tog profete van die Here!” sê Johanan.

“Omdat hulle op daardie uitspattige, heidense fees teen Agab se sondigheid gepraat het,” antwoord Nabot met weersin. “Ek skaam my vir Israel. Mense van Jisreël wat daar was, sê die feesgangers het hulle soos vrate en wynsuipers gedra.”

“Ja, en jou pa was na die bruilofsfees genooi en hy’t nie gegaan nie,” kla Josabat daar voor die herd. “Dit sal ons voor die kop gegooi word, dit sê ek julle!”

“Ek eet en drink nie saam met ’n heiden nie!” antwoord Nabot.

Johanan sak terug met sy rug teen die muur. “Wat is in Israel aan die gang?” vra hy verwese.

Nabot staan op, haal die wynsak van die muur af en drink ’n paar groot slukke. “Ek sal jou sê wat aan die gang is. Israel is besig om God te uit te daag soos van ouds in die woestyn.”

Hy gaan luister by die luik, maar al wat hy hoor, is die wind buite. Dit maak hom nog meer ongerus. “Julle moet klaarmaak,” vermaan hy Josabat en die dogters. “Johanan moet vort; ons kan nie versuim nie.”

Abia bring vir Johanan kos en hy begin haastig eet. Nabot gaan sit weer by sy seun. Hy kan nie uitgepraat raak oor alles wat uit Samaria rugbaar geword het nie. Al dié dinge lê soos ’n wolk om hom.

“Iets het in Jehu gevaar,” sê Nabot. “Ek weet self nie wat nie.”

“Dis daardie vrou,” meen Josabat so deur die werk. “Daardie … Hoe’s haar naam?”

“Isebel, Moeder?” help Jerusa.

“Isebel, ja. Hulle sê sy’s van kleins af so ’n gifding. In die hof van Sidon het sý glo die wet neergelê.”

“Nooit anders nie; ja, dit is sy,” beaam Nabot. “Sy’t vir Jehu omgekonkel, daarvan is ek seker. Omgekóóp, as julle my vra. Ek kan nie glo dat hy die profete van Israel sou laat vermoor nie.”

Nabot hou Johanan dop wat so smaaklik eet. “Jehu het baie om van rekenskap te gee,” sê hy ná ’n rukkie. “Die dag sal kom dat die Here hom hard sal aanspreek.”

Hy skuif nader aan Johanan en praat vertroulik, asof selfs Josabat-hulle nie mag hoor nie.

“Ek het klaar besluit waarheen jy moet gaan. Hier is die weiveld baie swak en die reën bly weg. Daarom het ek die aanteelvee weggestuur na die waters van Merom. Ek het Sabad gestuur om te gaan veld soek en hy het kom sê dáár het hy die beste veld aangetref.”

“Die waters van Merom?” vra Johanan sonder geesdrif.

Josabat kom fronsend nader. “Die waters van Merom? Maar dis die wêreld uit, anderkant die See van Kinneret, in die ver wêreld van Dan. Wanneer sien ek dan weer my kind?”

Nabot stamp sy dik vuiste teen mekaar. “Moet dit nie vir my nog moeiliker maak nie,” sê hy. “Soos ek Jehu ken, sal hy laat soek van Dan tot Berseba. Hoe verder Johanan padgee, hoe beter.”

Johanan sê niks, eet net verder.

“Ek sal bly wees as jy by die kleinvee kan wees, seun. Op die oomblik is net Sabad se kinders by die vee, en dit sal nie goeie werk afgee nie. Ek kan nie vir Joag, Sagaria of Amasa daar hou nie, want die oes lê voor. En hulle kan dalk net nog een van die seuns kom haal om in jou plek klippe te kap – of dalk al drie, net om my te straf.”

Johanan sit daar met die leë bord in sy hand. Hy voel lus om teë te praat. Daar in die ver wêreld saam met ’n paar kinders … Hy het nie sin daarvoor nie. Maar hy sê niks. Hy kon sy vader nog nooit weerspreek nie. En sy vader het reg – hoe verder hy kan padgee, hoe veiliger. Vader Nabot maak selde ’n fout. Daarom is hy ’n leier in Jisreël en daarom is daar soveel mense wat na hom opsien vir leiding. Selfs vreemdes kom partykeer by hom raad vra.

“As Vader so sê,” antwoord Johanan naderhand.

Die teësin waarmee hy dit sê, ontgaan Nabot nie. Hy kyk skerp na Johanan. “Ek wil nie hê jy moet in Jehu se hande val nie, kêrel. Jy het jou boog gespan vir die Here; ek wil nie hê hulle moet op jou trap nie.”

“Ek verstaan, Vader.”

“Buitendien, die ooie moet binnekort lam, en daardie Kanaänitiese snuiters kan nie daarmee vertrou word nie.” Hy vat Johanan aan die arm. “So gou ek kan, gaan ek na Samaria om met Obadja te praat. Ek wil nie hê jy moet soos ’n dief wegkruip nie.”

Nabot staan op, trap rusteloos rond, slaan met sy vuis teen die luik. “Elke jaar betaal ek belasting,” sê hy wrewelig. “Elke jaar lewer ek van my beste wyn aan die paleis. Ek het vir koning Omri die wapen gedra. Al my seuns het nog elke jaar getrou hul diensplig en hul gedwonge arbeid verrig, en nou word my kind agtervolg asof hy ’n misdadiger is omdat hy nie vir ’n afgod wil werk nie. Ek sal dinge gaan regmaak in Samaria.”

Josabat sit die sloop neer waarin sy besig is om vir Johanan padkos te pak en kom staan vlak voor Nabot.

“Ek bid jou, bly weg uit Samaria,” sê sy. “Netnou gryp hulle jou ook. En dan? Nabot, daar’s ’n roofdier los in Samaria.”

“Moenie my probeer keer nie, Josabat,” sê hy. “Ek sál na Samaria gaan.”

Sy oë is so driftig dat Josabat maar liewer omdraai om Johanan se kos klaar in te pak.

“Hoe ver is julle?” vra Nabot.

Josabat rol self die slaapgoed op; die nuwe velslaapmat wat sy gemaak het, haar beste jakkalsvelkaros. Die dogters het ’n velsak met water gevul, en toe is alles skielik klaar.

“Wil jy dan nie eers skoon klere aantrek nie, my kind?” vra Josabat.

“Daar is nie tyd nie,” sê Nabot. “Johanan moes al weg gewees het.”

Hy haal sy boog en pylkoker van die muurpen af en gee dit vir Johanan, asook sy skedemes. “Die beste boog in Israel,” sê Nabot met ’n stroewe glimlag. “Hy dryf ’n pyl dwarsdeur ’n eikeboom.”

Jerusa bring vir Johanan ’n slingervel en ’n velsakkie met ronde klippe, en toe staan hulle daar bymekaar, sonder om te praat, wag op die oomblik wat hulle nie wil belewe nie. Totdat Nabot kortaf sê: “Kom, Johanan. Daar’s nie tyd nie.”

Johanan swaai die watersak en die slaapgoed oor sy skouers, vat die kossak en die pyl en boog en groet sy susters haastig. Nabot is reeds buite en Josabat wag by die deur. Toe hy haar groet, hou sy hom styf vas.

“Jy moet versigtig loop,” f luister sy, “en vra elke dag die Here se genade.”

“Moenie bekommerd wees nie, Moeder,” antwoord hy dapper. “Ek sal versigtig wees. Ek het veilig tot hier gekom; ek sal veilig verder gaan.”

Hy maak hom van haar los en gaan by die deur uit, die donker in. Die vroue bly net daar staan. Toe Josabat die trane voel kom, draai sy om en gaan blaas die lamp dood.

Johanan groet sy broers wat uit die donker nader gekom het, en toe lei sy vader hom van die huis af weg tot onder die ou terpentynboom.

Daar gaan staan Nabot om nog weer te praat. “Ou seun,” sê hy in die wind wat nou sterker waai, “daar is ’n pestilensie in Israel …” Hy trek Johanan aan die skouer nader, praat vlak by sy gesig. “Het jy gehoor van Elia?”

“Al van hom hoor praat, Vader,” antwoord Johanan sonder opwinding.

“Hulle sê hy’s ’n egte profeet, ’n ware man van God.” Nabot druk Johanan se skouer nog stywer. “Ek wil hê jy moet met hom gaan praat. Hy woon in Tisbe in Gilead.”

“Tisbe? Maar dis heel uit my pad!”

“Jy móét dit doen vir die Here.”

“Hoe kan ek met ’n profeet gaan praat? Ek is nog ’n bogkind.”

“As jy oud en sterk genoeg is om jou teen die koning te verset, dan kan jy maar met ’n profeet gaan praat. Onthou, jy doen dit vir Israel. Gaan vertel vir Elia alles wat in Samaria gebeur het en sê vir hom Nabot van Jisreël laat weet hy moet oorkom en Agab kom bestraf.”

Al is hy moeg, voel Johanan die ywer, die opwinding, in hom roer. Hy het iemand hoor sê Elia is anders as ander mense en dat hy vir niemand bang is nie. “Ek sal gaan. Ek sal my bes doen, Vader,” sê hy beskeie.

“Die Here seën jou en sal jou beskerm, my seun. Nou moet jy loop. Soek voor dagbreek vir jou ’n skuilplek. Loop reguit na die Jordaan. Teen môrenag moet jy deur die rivier probeer wees. Daar sal jy veiliger wees. Van Tisbe af hou jy al anderkant die Jordaan langs, by die See van Kinneret verby tot by Merom. Ons vee staan daar by die boer Josia, ’n godvresende man uit die stam Naftali.”

“Ek sal maak soos Vader gesê het. Stuur gou tyding nadat Vader in Samaria was.”

Toe groet hulle mekaar. “Sê vir Elia Israel het hom nodig,” versoek Nabot nog vir laas. Hy kyk Johanan agterna, maar sien hom nie. Luister, maar hoor hom nie.

Die koning se wingerd

Подняться наверх