Читать книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter - Страница 6
2
ОглавлениеToe Johanan naby die lyk van die Fenisiër langs die wagtoring tot verhaal kom, is hy heeltemal alleen, afgesien van ’n paar soldate en opsigters wat verdwaas daar rondstaan. Hy voel so mislik van skok en afsku dat hy blindelings terugstap na die klipgroef.
Hy vat koers na die werkers wat nie agter Obed aangehardloop het nie. Hulle staan dig bymekaar, beduie en praat opgewonde. Al praat hulle nie hard nie, kan ’n mens hul blydskap aanvoel. Dis te verstane, dink Johanan. Hulle is meestal Kanaäniete, met enkele Israeliete tussen hulle. Waarom sal hulle dan nie bly en opgewonde wees nie? Hulle gaan immers vir hul afgod ’n tempel in die hart van Israel help bou. Die eerste sigbare teken dat Baäl in Israel erken word.
Uit die groep Kanaäniete stap Sihon na hom toe en kom vlak voor hom staan. Johanan soek in sy vriend se oë na vermakerigheid, vreugde of oorwinning. Maar hy gewaar niks daarvan nie; net ef fense opwinding, verbeel hy hom.
“Jy kan dit maar vra,” sê Johanan. “Wat soek ek hier? Waarom is ek nie saam na die poort nie?”
“Ek is bly jy’t nie gegaan nie,” antwoord Sihon. “Wat kan Obed uitrig teen die mag van die koning?”
Johanan kyk op na die massiewe vestingmuur van Samaria, met sy torings en borswerings, en daaragter die vierkantige torings van die koningspaleis, beskut en onaantasbaar.
“Ja,” antwoord Johanan, “wat kan Obed uitrig teen die mag van die koning? Teen soldate en strydwaens en ruiters?” Hy betrag die samedromming voor die poort. “En tog, ek moes gegaan het. Ek voel soos ’n lafaard … Deurdat ek nie saamgegaan het nie, sondig ek.”
“Dit is ’n bevel van die koning dat die tempel gebou moet word,” opper Sihon.
“Die Here is groter as die koning. As ek my hand optel om vir Baäl te werk, dan sondig ek teen die Here.”
“Wat gaan jy nogal doen?”
Johanan laat sy kop sak. “Ek weet nie, maar ek sal nie één klip bewerk vir Baäl se tempel nie.”
“Moenie dwaas wees nie. Koning Omri laat nie met hom speel nie, en Agab is nog vuriger as sy pa.”
Hulle hou die gewoel en gewerskaf daar voor die poort dop, luister na die krete van Obed en sy volgelinge.
“Hulle sal niks uitrig nie; lyk my die soldate keer hulle voor,” sê Sihon.
’n Afdeling soldate met spiese en gevelde swaarde versper inderdaad die poort en hou Obed en sy klipwerkers op ’n afstand.
Eers toe dit begin lyk of Obed en sy manne die soldate kaalhande gaan pak en party al begin klippe optel, slaag die poortwagter daarin om tussen die soldate deur te beur tot heel voor.
“Wat soek julle? Waar wil julle heen?” vra hy.
“Ons wil met die koning praat. Ons gaan nie vir Baäl werk nie! Waarom moet Baäl ’n tempel in Samaria kry?” skreeu hulle.
“En ons het die Fenisiër doodgeslaan!” roep een uit asof dit ’n kordaatstuk is. Hulle juig hom toe.
Die poortwagter is skoon oorbluf deur die woede en vasberadenheid van die menigte. Net een misstap en hier gaan bloed loop.
“Met die koning kan julle nie praat nie, want hy is baie siek,” probeer hy hulle troef.
“Dan wil ons met prins Agab praat!” roep Obed uit.
“Ek gaan vir Obadja haal, dan kan julle met hom praat.”
“Ons wil nie met Obadja praat nie, ons wil met prins Agab praat!” dreig Obed.
Die poortwagter is ’n versigtige man. Hy wil hom uitwurm uit hierdie situasie. Hy wil bloot die poort bewaak en nie betrokke raak by die storm wat vandag hier dreig nie.
“Obadja is hoof van die paleis,” antwoord hy derhalwe. “Hy kan vir julle die pad oopmaak na prins Agab.”
“Loop haal hom dan,” gebied Obed en swaai sy vuis.
So verlig was die poortwagter nog selde. Hy het al gehoor van Agab se humeur wanneer hy ontydig gepla word. En vir Agab is dit nou dalk ontydig.
Prins Agab en prinses Isebel ontspan in ’n koel bovertrek van die paleis. Isebel is moeg ná die lang reis van Sidon na Samaria.
Agab is aan die stil kant. Die vreugdegeluide wat van die binneplein af hoorbaar is, hinder hom. Dit pas nie mooi nie, dink hy.
Sy pa lyk nie goed nie. Lê soos ’n lyk onder die laken op sy groot bed, en hier buite vier die mense al bruilof asof die groot Omri niks makeer nie. Agab wou die troue uitstel, maar koning Omri wil niks daarvan hoor nie.
Toe dié gedagtes te hinderlik word, gaan skink hy van die wyn wat hy vooraf by die wingerdboer Nabot van Jisreël laat bestel het, in twee silwerbekers. Hy gee vir Isebel hare, kyk haar enigsins afgetrokke aan. “Op ons huwelik môre,” sê hy. “Mag dit meer word as bloot ’n politieke huwelik.”
“Jy’s naar,” antwoord Isebel gesteurd. “Dit is meer as ’n politieke huwelik. Jy’s my prins – jy’s aantreklik, ondernemend én kragdadig.”
“Kragdadig?”
“Ek het skaars my voet in die paleis gesit toe beveel jy namens koning Omri dat ’n tempel vir Baäl gebou moet word. Dit noem ek kragdadig.”
Agab glimlag onseker. “Jy’t dit dan ’n huweliksvoorwaarde gemaak.”
“Vind jy dit verkeerd? As jy die reg het om jóú god te aanbid, het ek tog seker die reg om myne te aanbid?”
“Dit betwis ek nie. Dit is net … wel, ek is net bang dat ek my daarmee skade kan berokken … Ek wil nie my volk van my vervreem nie. In elk geval, beskou dit as ’n trougeskenk.”
Hy kom langs haar sit, drink van sy wyn, laat dit in sy mond rondspoel. “Allawêreld,” sê Agab voldaan, “so ’n Jisreëliet kán darem wyn maak.”
“Heerlik,” beaam Isebel. “Jy’t self gesê duisende van jou mense aanbid die heilige Baäl.”
“Ja, en duisende verafsku Baäl.”
Sy stap na die venster wat uitkyk op die poort en die binne-plein. Hy betrag haar en sy prikkel hom opnuut – slank en statig, ’n vorstin by uitnemendheid, koperbruin hare, welig en ryk, olyfbruin vel …
“Jy gaan ’n groot vors word, Agab,” sê Isebel en voel die hitte van die mure teen haar gesig. “Jou volk het jou lief. Kyk hoe’t hulle na Samaria gestroom vir jou huwelik. Kom kyk hier.”
Agab stap na die venster, en Isebel sit haar hand om sy lyf. Saam kyk hulle af na die gewoel en gewerskaf op die plein.
“Hulle is nuuskierig om my bruid te sien,” sê Agab vrolik. “Hulle vier nou jou aankoms.”
Dié mense is so kru en aards, so anders as haar eie mense. Daar is alles fyn, beskaaf en presies. Só het sy grootgeword. Heimwee pak haar beet sodat sy van die venster wegdraai en nog ’n sluk neem van Nabot se wyn. Hoe sal Etbaäl se dogter oor die weg kom met hierdie ruwe klomp, wonder sy, en skielik voel sy neerslagtig. Sy sal hulle moet opvoed …
“Kom gesels met my,” sê Isebel en vly haar op die rusbank neer, kyk in die vertrek rond. Alles is stroef en verbeeldingloos, bloot dienlik; niks fraais, fyns en warms nie, geen atmosfeer nie. “Kom vertel my meer van my nuwe land.”
Agab bly doodstil voor die venster staan.
“Agab! Jy hoor my nie eens nie …”
“Jammer.” Hy draai om en kom na haar toe. “Wonder wat by die poort aan die gang is.”
“By die poort? Waarom?”
“Lyk my die soldate keer mense daar voor. Daar’s ’n gedrang.”
“En nou? Daardie frons?”
Voordat Agab nog iets kan sê, word aan die deur geklop. Hy gaan maak oop, en daar staan Obadja met sy ernstige oë, ontydige pankop en lang oorkleed.
“Obadja? Ek het gesê ons wil nie gesteur word nie. Prinses Isebel rus.”
“Ek moet met u praat oor ’n ernstige saak, prins Agab.”
“Waarom met my? Is ek die koning van Israel?”
“Ek kom nou van koning Omri af,” antwoord Obadja geduldig en onderdanig. “Hy’s baie swak, soos u weet, en hy’t gesê ek moet met u kom praat.”
Agab aarsel, soek by Obadja na ’n aanduiding van waaroor dit gaan, maar sy gesig is uitdrukkingloos, sonder ’n sweem van emosie. Hy kan soms nie verhelp om ergerlik te word omdat Obadja so ’n volmaakte amptenaar is nie. Hy kon nog nooit werklik tot die man deurdring nie. Hy wonder partykeer of Obadja ’n hart het.
“Kom dan binne,” sê Agab teësinnig.
“Kan ek … kan ek met u alleen praat?” vra Obadja taktvol en kyk na Isebel, wat nader gestaan het.
“Een ding moet jy dadelik verstaan, Obadja,” antwoord Agab bars, “in Israel is daar niks wat vir my aanstaande vrou verborge hoef te wees nie.”
Obadja buig ef fens, stap binne en druk die deur agter hom toe. Dit het Isebel nie ontgaan dat hy net terloops vir haar gebuig het nie.
“Daar was ’n ernstige voorval in die klipgroef, prins Agab,” sê Obadja sonder meer. “Meer as duisend werkers weier om klip te bewerk vir die Baältempel. Hulle het … hulle het die hoofopsigter, die Sidoniër, gestenig.”
Isebel gee ’n tree nader, bly dan staan, styf regop. Sy gluur Obadja aan asof hý die Sidoniër gestenig het.
“Hulle dring daarop aan om met u te kom praat, U Hoogheid.”
Agab streel oor sy baard en wag om oor die skok te kom. Obadja verpersoonlik vir hom die oorgrote deel van Israel, en hy wens hy kon deur die man sien sodat hy kan weet hoe diep dié ding loop wat vanoggend tot uitbarsting gekom het.
“Is hulle kwaad?” vra Agab.
“Hulle is baie opstandig, prins Agab.”
Agab stap na ’n ebbehouttafel en skink vir hom nog wyn. “Wat raai jy my aan, Obadja?”
Obadja huiwer. Hy ken die skadukant van Agab – sy lis, sy geslepenheid, sy wreedheid partykeer – en hy wil nie graag sy kop in ’n byenes steek nie.
“Kom, Obadja! Ek wag!”
Obadja se verknogtheid aan die Verbond en aan dié deel van sy volk wat weier om die knie voor Baäl te buig, dwing hom om te praat. Daarom antwoord hy reguit en duidelik: “Ek sou hulle ander werk gee, prins Agab.”
“Daardie klipwerkers is die koning ongehoorsaam en jy stel voor ek moet hulle ander werk gee?”
“Hulle glo as hulle Baäl dien, sondig hulle teen God,” antwoord Obadja. “Hulle beskou Baäl …”
Agab hou sy hand op. “Genoeg! Ek verstaan … Jy kan maar gaan. Stuur hoofman Jehu na my toe.”
Agab hou Nabot se wyn op sy tong, proe die volheid daarvan. ’n Regte yweraar, dié Obadja, dink hy. Kop in een mus met die profetestand. Dié dat hy alles oor die boeg van die godsdiens gooi. Hy’t geen begrip van die groot wêreld daarbuite nie, min insig in die politiek. Staan met sy kop in die wolke en vergeet dat daar ’n aardse mag ook is.
Obadja buig en gaan uit. Skielik is die vertrek opvallend stil.
“Wat ’n vreemde vent,” sê Isebel oplaas. “Onindrukwekkend, bekrompe, sonder visie, dit kan ek sien. Hoe kan hy hoof wees van die paleis van Samaria?”
Agab korrel afgetrokke aan ’n tros druiwe. “Obadja is nie gek na my nie,” beken hy.
“Kan dit jou skeel?”
“Jy verstaan nie, Isebel. Deur hom kan ek tot in die hart van Israel kyk. Obadja is soos ’n vlag wat wapper en vir jou wys hoe die wind waai.”
Hy stap weer na die venster en kyk af op die plein en die poort. Die singery en dansery, vrolike gewoel van mense, streel hom. Die meeste braaivure is al aangesteek en op ’n paar plekke word beeste op die spit gedraai.
Die klomp soldate in die poort en die gedrang van die skare voor die poort ontstel hom egter, sodat hy omdraai na waar die swaard van die een of ander verslane vyand teen die muur uitgestal word, bebloed nog, ’n simbool van die grimmigheid wat maar steeds aan Israel se grense prut.
Agab raak die ou donker bloed met sy voorvinger aan terwyl Isebel hom stip dophou. So groot en fors, dink sy. ’n Man onder die manne, op die oog af. Sy wonder watter soort mens hy werklik is. Tyd om hom goed te leer ken was daar nie, want koning Omri wou sy seun veilig getroud sien voordat hy tot sy vadere versamel word, en haar pa wou haar graag met Agab getroud sien om die band met voorspoedige Israel stywer te bind – en ter wille van veiligheid. Die koning van Aram kyk jaloers na die geldkof fers van Sidon en Tirus …
“Hoe sal ek Israel ooit verstaan,” kla Agab sonder om om te draai. “Een deel vier saam met my fees en die ander wil my hakskeensenings afsny.”
“Jy bekommer jou tog seker nie oor die gepeupel daar voor die poort nie?” sê Isebel laggend.
Agab kom vat sy drinkbeker en kyk in die wyn, rooi en swaar soos die bloed aan die ou swaard. “Daar ís ’n beroering in Israel, Isebel. Daar is dinge wat skaaf. En vandag het dit bloed uitgeskaaf!”
Hy drink sy wyn, sit die drinkbeker hard neer en luister na die geluide op die plein.
“Hulle het ’n Fenisiër gestenig,” herinner Isebel hom. In haar mooi oë, so lieftallig, gewaar hy tog die aanklag.
“Wat raai jý my aan om te doen?” vra Agab ef fens ergerlik. Sy is immers nog nie eens sy vrou nie … Hy dink aan die stories dat sy oor haar vader se hofhouding regeer het.
Isebel verroer nie ’n spier nie. “My vader sou ’n voorbeeld van hulle gemaak het. Hy sou hul voorlopers laat stenig het soos hulle my landgenoot gestenig het. ’n Bevel van koning Omri kan mos nie sommer oorboord gegooi word nie.”
Agab draai weg, beskou die trougeskenke, wat op ’n lang tafel uitgepak is, sonder dat hy hulle eintlik raaksien, want wat vanmôre gebeur het, laat hom weer dink aan die slepende kwellings van sy volk. Hy wéét die volk kla oor die hoë belastings, die diensplig en die dwangarbeid wat manne ’n groot deel van die jaar van hul daaglikse bedrywighede wegneem om in die leër te dien of in die arbeidspanne, weg van hul geliefdes, hul boerderye en hul bedrywe. Hy weet dat ’n groot deel van Israel mor omdat hy Baäl aanbid.
Hy weet ook van konings wat doodgemaak is omdat hulle hul volk woedend gemaak het …
“Hulle is mý mense. My eie mense. Israeliete,” sê hy sag maar nadruklik.
In die stilte wat op sy woorde volg, is die gebulk van ’n benoude bees hoorbaar, dringend en aanhoudend.
“Moord is moord!” antwoord Isebel. “Jou mense moet leer die koning se woord is die wet.”
Toe hy na haar omdraai, glimlag sy, maar die kilheid in haar oë ontgaan hom nie.
Dit ontstem hom, maar wat sy sê, is waar, dink Agab.
Weer word daar aan die deur geklop.
’n Rooiblonde jong man met ’n vos volbaard kom binne nadat Agab gaan oopmaak het, buig vir Agab en Isebel en bly binne die deur staan.
“Dit is Jehu, prinses Isebel,” stel Agab hom bekend. “’n Hoofman oor duisend.”
“En nog so jonk?” vlei Isebel vir Jehu. Met die eerste oogopslag hou sy van hom. Lank en stewig, met die helderblou rustelose oë van ’n yweraar en die houding van iemand wat nie sommer terugdeins nie. Hy lyk ongenadig sterk. Kan seker ’n jong seder op die grond afbreek, dink sy.
“Jehu,” sê Agab sonder omhaal, “gaan haal die leiers van die opstootjie in die klipgroef en bring hulle na die oudiënsiekamer.”
Sonder om ’n woord te sê buig Jehu twee maal en gaan uit.
Isebel kom nader en raak aan Agab se baard. “Nou het jy soos ’n koning opgetree,” sê sy lieftallig. “En ek hou van jou hoofman oor duisend; hy’t krag kan ek sien.”
Agab soen haar op die kneukels en verlaat die vertrek. Sy kyk hom agterna en wonder hoe inskiklik hy werklik is. Sy vermoed dat selfs sy sy binneste nie maklik sal kan binnedring nie. As sy Agab op háár paaie wil lei, sal sy hom aan haar moet bind, met liefdebetuiging, met haar liggaam, met lis, met enigiets.
Sy loop weer na die venster en kyk met teësin op die plein af. In die dansery is daar ’n wilde wulpsheid en in die rumoerige gewoel van die menigte ’n byna barbaarse losbandigheid. ’n Eenvoudige, liggelowige, onkundige, boerse spul, dink sy. Hulle moet bloot regeer word. En terwyl sy verder oor die bruin heuwels uitkyk na waar die Groot See sy wasigheid uitstoot, besef sy opnuut haar roeping – dwingend, plegtig soos ’n offerande aan Baäl.
Isebel is heeltemal alleen met haar gedagtes en vooruitsigte, want Agab se voetstappe het weggesterf in die gang.
Agab loop die slaapkamer binne waar die dokters, die leiers van die volk, die ampsdraers en edelliede om die yslike, versierde bed byeen is.
Koning Omri lê hoog teen die kussings, sy mond oop, die vel styf gespan oor sy gesig, oor die skedel byna deurskynend, sy oë op die plafon gerig. Maar dit is in sy hande, maer en ineengekrimp, dat Agab die koms van die dood gewaar. Al sigbare lewe is die f lou op en af beweging van die koning se geliefkoosde dassievelkaros.
Agab buig laag oor die sieke. “Vader Omri,” sê hy, skielik oorstelp van hartseer.
“Agab … seun?”
“Dit is ek, Vader. Hoe gaan dit nou?”
“Die asem is min … Sorg julle goed vir koning Etbaäl, vir prinses Isebel … vir al die ander?”
“Ons sorg goed vir hulle, Vader.”
“Niks moet hulle ontbreek nie.”
“Ja, Vader.”
“Agab …”
“Hier is ek, Vader.”
“Is die leiers van Israel almal hier in die kamer?”
“Op ’n paar na is almal hier, Vader.”
“Sê hulle moet nader staan.”
Agab beduie vir almal om nader te kom. Omri praat moeisaam, sag en hees, met ’n klein roggel in sy keel.
“Leiers van Israel, ek het gedoen wat my hand gevind het om te doen. Nou is ek aan die einde van my dae. Nog net een bevel het ek vir julle. Môre trou my seun prins Agab met prinses Isebel. Van daardie oomblik af is Agab koning van Israel. So moet dit wees, so sal dit wees, want ek kan nie meer regeer nie. Ek sal die troue bywoon om toe te sien dat dit so gebeur. Dit is al. Nou wil ek rus.”
In die stilte swaar van die geur van kruie en medisyne en halfverslane wierook kyk Agab om die beurt na elkeen, probeer hul gedagtes lees, maar die gesigte is almal stil en dood soos kleimaskers. Oorweldig deur wat sy vader gesê het, draai hy om en stap uit.
Die oudiënsiekamer is stil toe hy daar instap, maar alles spreek van sy vader se teenwoordigheid: die versierde koninklike stoel, sy skild en swaard teen die muur, die klein vergulde beeld van Baäl in die een hoek. En eenkant teen die muur, op ’n klein tafel, die twee kliptablette, simbool van die Wet, waar sy vader hom elke oggend verootmoedig het voordat hy daarna voor Baäl gaan kniel het.
Agab stap rusteloos in die vertrek rond en sy voetstappe beklemtoon die stilte. In elke klipvoeg van die mure, in elke glansende plaveiteël, in elke klein karteling van die koningstoel sien hy sy vader.
Sy oë brand toe hy voor die leë stoel gaan staan. “Ek sal regeer soos koning Omri regeer het,” sê Agab sag maar vasbeslote. “Ek sal Omri se troon beskerm!” sweer hy.
Toe hy voetstappe in die gang hoor, waag hy dit om op die stoel te gaan sit.
Hy voel gesterk, gesuiwer van alle twyfel. Hy weet nou wat om te doen met die probleem wat saam met Jehu in die gang aankom. Hy, Agab, het die versoek gerig oor die tempel, maar Omri het die bevel gegee. Hy sal sorg dat sy vader se bevel dat ’n tempel vir Baäl gebou word, uitgevoer word. Geen mens, Israeliet of Kanaäniet, vry man of slaaf, sal hom teen die troon van Omri verset nie. Veral nie nou nie.
Jehu buig in die deur. “Ek het hulle gebring, prins Agab.”
“Bring hulle hier, Jehu.”
Jehu se klompie soldate bring ses man die vertrek binne tot voor Agab. Hy kyk hulle aandagtig deur, maar ken nie een van hulle nie. Doodgewone manne. Behalwe die een met die ruie baard en die woeste bos hare. Hy het die voorkoms van ’n aanhitser. Sy broeiende oë verraai dit.
“Is jy die leier van hierdie manne?”
“Ek is nie ’n leier nie, prins Agab,” antwoord Obed eerbiedig. “Ek is maar net ’n opsigter oor die klipwerkers.”
“Julle is die opstokers van hulle wat die Sidoniër vermoor het?”
Obed staan ’n tree vorentoe. “Ons is nie opstokers nie, prins Agab. As ons aan iets skuldig is, is almal wat nou voor die poort staan ook skuldig.”
Agab aarsel ’n oomblik.
Dit is waar, dink hy, maar hy praat meedoënloos verder. “En julle weier om klip te kap vir die Baältempel.” Dan hard en dreigend: “Julle weier om ’n bevel van die koning te gehoorsaam. Het ek reg gehoor dat julle julle teen koning Omri verset?”
“As ons klip kap vir Baäl, dan sondig ons teen God. Ons sal ons hande klein werk vir koning Omri, maar ons mag God nie bedroef nie.”
Obed sê dit kalm, maar met soveel oortuiging dat dit Agab van stryk bring. Weer begin hy twyfel. Hoe diep loop dié verset in Israel? Hoe ver kan hy dit waag met sy Baäldiens? Jerobeam … die hele huis van die groot Jerobeam is van die aarde weggevee net soos die profeet Agija voorspel het. Maar toe ruik hy weer die doodsweet van sy vader, hoor hy weer Isebel se woorde, en skielik weet hy wat om te doen. Pleks dat hy sterk en genadeloos is, steier hy onder die woorde van ’n klipwerker, verwyt hy homself. Waarom weifel hy oor dié beslissing?
“En as ék sê julle moet klip breek vir die tempel?” vra Agab.
Obed sak op sy knieë neer, sy saamgeklemde hande na Agab uitgestrek. “Dit moet u nie van ons vra nie,” smeek hy.
“Ek vra dit nie; ek beveel dit!” bulder Agab.
Obed staan op, skud sy kop en kyk Agab reguit in die oë. Toe hy praat, weerklink sy stem eienaardig hard in die vertrek. “As u ons dwing, sal ons draal, ons hande sal dom wees, of so nie sal ons wegloop, elkeen na sy blyplek. Ons mag die Here nie versoek nie.”
“En julle ander?”
“Ons sê soos Obed sê, prins Agab,” antwoord hulle sonder aarseling.
Agab staan op. “Jehu, lewer hulle aan die sipier uit. Sê hy moet hulle opsluit. Laat jou adjudant hulle vat. Ek wil met jou praat.”
Toe die adjudant met die gevangenes uit is, beduie Agab vir Jehu om die hoë eikedeur toe te maak. Agab het uit die stoel opgestaan en hou aan die leuning vas.
“Jehu, sorg dat die ses belhamels voor sononder opgehang word – op die rand van die klipgroef waar almal dit kan sien.”
Jehu snak. “Maar prins Agab …”
“Jehu, as ’n mens ’n sweer aan jou lyf het, laat jy dit uitsny. Ek gaan nie toelaat dat daardie ses die bloed van die hele Israel besmet nie,” sê Agab skerp. “Almal moet sien wat word as die troon van Omri uitgetart word. Verstaan jy?”
“Ek verstaan, prins Agab. Dit is net … ek is net bang dat dit die ander werkers sal aanvuur …”
“Met jou leërafdeling sal jy die klipgroef omsingel en sorg dat my bevele uitgevoer word. Dié wat voor die poort saamdrom, dryf jy terug na hul werk. Dit is al, Jehu.”
Jehu stap stadig na die toe deur, maar voordat hy uitgaan, praat Agab weer.
“Jehu …”
Toe die jong krygsman omdraai, kom Agab na hom aangestap. Jehu is verbaas toe Agab hom stewig aan die skouers vat en vir hom glimlag. “Jy moet reg loop, Jehu,” sê Agab. “Ek het groot planne met jou. Groot planne, ja. Ek ken ’n krygsman wanneer ek hom sien.”
En toe Jehu die oudiënsiekamer verlaat, drafstap hy in die gang af, en glimlag selfs.