Читать книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter - Страница 9
5
ОглавлениеIn haar ontvangskamer in die paleis van Omri het Isebel alles laat inrig presies soos sy dit wou hê: ’n plat tafel in die middel van die vloer, twee stoele, ’n hoë vaas met blomme, vrugte, wyn …
Nou wag sy net op Jehu, die hoofman oor duisend, en sy voel vrolik omdat almal gaande is oor die onthaal in die paleis, en oor haar, koningin Isebel – selfs die droogste en behoudendste ou omies uit die afgeleë dele van Israel.
Sy lyk baie elegant in haar duifblou kleed van Tirreense weefstof. Toe Jehu binnegebring word, loop sy hom tegemoet en groet hom met die nodige sjarme.
Toe hulle by die tafel gaan sit, sluip die eerste skemering al in, want die son het taamlik laag gesak oor die hoogland van Efraim.
Die oomblik toe Jehu binnekom, kom Isebel agter dat hy nie op sy gemak is nie. Daar is iets stroefs aan hom. En nou, terwyl hy op haar versoek vir hulle wyn inskink, kry sy die indruk dat hy onhandig en verstrooid is. Dalk maar omdat hy ontuis voel in die teenwoordigheid van die koningin van Israel. Dié samekoms is buitengewoon, dink sy.
“U lyk gespanne, hoofman Jehu,” merk Isebel op. “Iets wat u pla?”
Wat ’n besonderse vrou, dink Jehu verbaas. Skerpsinnig en belangstellend. Daar is iets aan haar wat jou laat oopgaan vir haar. Dit is nie net haar skoonheid nie, dit is iets diepers wat jou oorweldig en weerloos maak. Sy het ’n opregtheid wat jou uitlok om geheime met haar te deel, soos met jou moeder.
“Ek ís gespanne, Majesteit,” antwoord Jehu. “En teleurgesteld.”
“Ek het gedink hoofman Jehu is bo alle spanning verhewe. Dit is mos die kwaal van gewone mense.”
“My soldate het ’n arbeider by die klipgroef laat ontsnap …”
Sy gooi haar kop agteroor, en haar skaterlag vul die klein vertrek. “Die befaamde Jehu verknies hom oor een kwartel wat weggevlieg het!” Sy neem haar wyn by hom. “Jy kan nou by daardie deur uitstap en tien ander dwangarbeiders in sy plek gaan kommandeer.”
“Dit is nie dit nie, Majesteit. Jehu maak nie foute nie, en dit is ’n fout dié. Koning Agab vertrou my en nou’t ek verbrou.”
“En nou?”
“Ek het ruiters uitgestuur om hom te gaan soek.” Sy hou van die hardheid in sy oë terwyl hy die drinkbeker ongeërg vashou. “Vang hulle hom, sal ek hom agter ’n perd deur Samaria sleep totdat daar nie ’n vel aan sy lyf is nie.”
Sy verkneukel haar oor sy grimmigheid, oor haar vermoë om reg te oordeel. Hy ís die man wat sy soek – hard, wreed, blindambisieus. En omkoopbaar, daarvan is sy seker. Hy gaan die instrument in haar hand word, dié Jehu.
“Wie is hy? ’n Kanaäniet?”
“Dis nog die ergste! Hy’s ’n Israeliet, seun van die ryk boer Nabot van Jisreël,” antwoord Jehu. “Self wederstrewig, dié Nabot, so hoor ek.”
Isebel drink fyntjies aan haar wyn, kyk Jehu stip aan. “Hoofman Jehu …”
Haar stem is ’n bevel en haar gesig het verander. Die oë is nou broeiend.
“U Majesteit?”
“Ek is nog maar pas in Samaria, maar ek weet al dat daar te veel verraaiers in Israel is. Hulle vreet soos rysmiere aan die troon van Omri, die troon waarop koning Agab nou moet sit.”
Jehu voel ongemaklik onder haar meedoënlose aanblik sodat hy onbeholpe vra: “Hoe bedoel U Majesteit?”
“Die hoofopsigter oor die dwangarbeiders word vermoor, ’n Israeliet loop weg uit die klipgroef, ’n gesiene man versuim om die bruilofsfees by te woon. Dit is minagting van die koning.”
So wrokkig sê sy dit dat Jehu op sy hande afkyk asof hy ook skuldig is.
En toe, nog skerper, sinister: “En dan is daar nog die profete …”
Sy probeer sy reaksie peil. Hy lyk onseker, ontredder selfs. Maar diep in hom skuil nog iets wat sy nie nou kan vasvat nie. Al wat sy weet, is dat hy met die leer wil op, dat hy eenvoudig van gees is, en dit maak hom plooibaar. Op die bruilofsfees het sy hulle almal deurgekyk en sy weet dat hy die enigste bruikbare een is. Geen diplomaat nie, maar bruikbaar.
In die paar oomblikke van swyende konfrontasie tussen hulle stroom die gedagtes deur Isebel, want sy voel oneindig meerderwaardig teenoor hom. Jy ken my nog nie, goeie, eenvoudige Jehu. Ek spruit uit die glorieryke kultuur van Fenisië, waar baie wêrelde mekaar ontmoet, ek kom uit ’n hof waar die wyses, die rykes en die geleerdes uit al die windstreke bymekaarkom. Ek is Isebel van Sidon, die fanatikus, die yweraar vir Baäl. Ek is die diensmaagd van ’n fyner kultuur en ’n praktiese, lewenskragtige godsdiens. In jul onverfynde leefwyse en jul stroewe, eenselwige, verbeeldinglose godsdiens het ek ’n heilige renons. Ek gaan dit alles verander. Ek gaan Israel bevry van sy hardvogtige god en hom wegvoer uit sy boerse kultuur. Ek gaan Israel se luike oopmaak vir die winde van die groot wêreld. En van Agab gaan ek ’n vors maak wat regéér – alleen regeer. Hy sal die enigste gesag wees. Teen hom sal daar geen verset wees nie, deur wie ook al …
Sy het dit alles so intens beleef dat sy haar verbeel sy het dit hardop vir Jehu gesê, maar Jehu sit net daar, die drinkbeker skeef in sy hand.
“Die profete, Majesteit?” vra hy versigtig.
“Hulle het die volk teen koning Agab aangehits, Jehu; jy weet dit tog. Die koning is erg ontsteld.”
Sy lei hom iewers heen, dink Jehu onthuts en soek naarstig na die regte woorde.
“Die profete moes dit nie gedoen het nie,” beken hy onbeholpe.
“En nou? Wat nog?” hou sy vol.
“Amon het hulle in die gevangenis laat gooi,” antwoord hy ligweg, asof hy so alles wil afmaak.
“Dit is nie genoeg nie, Jehu,” sê Isebel met ’n toegeneë glimlag.
Jehu word bewus van ’n onheil, ’n dreigement. Sy is besig om hom te wurg met haar sjarme. Hy soek wild in sy onervare jong gemoed na ’n kans om te ontvlug, maar vergeefs. “Hoe bedoel U Majesteit?” is al wat hy kan vra.
Sy glimlag steeds, trek ’n druiwekorrel van die tros af. Waar is sy vuur en ywer vir die troon van Israel? wonder sy.
Sy leun vooroor en glimlag nie meer nie. Haar blik ontsenu hom nog meer. “Die profete moet uitgeroei word, Jehu,” sê Isebel so kalm asof sy ’n beker water vra.
Jehu staan stadig op. “Uitgeroei word? Maar hulle is profete van Israel!”
Isebel byt ongeërg aan die druiwekorrel. “Hulle is nie profete nie; hulle is opstokers. Loop deur Israel en hits die volk aan teen die troon. Jy weet dit tog.”
“Dan moet hulle verhoor word, U Majesteit. Hulle kan nie sommer net uitgeroei word nie.”
“Verhoor word? Deur wie?”
“Deur die ampsdraers. Dit is hoe dit in Israel gedoen word.”
“Verhoor word!” smaal sy. “Ek weet en jy weet hoe dit sal uitloop … Die ampsdraers sal hulle in die gevangenis laat opsluit, of hulle laat gesel, of hulle bloot vermaan. Daarna sal hulle vry wees om weer soos molle onder die grond aan die wortels van die koninkryk van Israel te knaag.”
Sy wag op sy verweer, maar toe hy niks sê nie omdat hy nie weet wat om te antwoord nie, word ook hulle opgeneem in die stilte wat oor die paleis en die omgewing neergedaal het nadat die feesvierendes vertrek het.
Isebel weet dat sy Jehu op sy knieë het. Nou moet sy net die swaard teen sy keel druk. Sy glimlag neerbuigend. “Hoofman Jehu, ’n besonderse jong man soos jy met ’n groot toekoms in Israel, gaan tog seker nie so dom wees om die volksleiers bo die koning van Israel te probeer stel nie?”
“Maar koning Omri het altyd die volksleiers …”
“Koning Omri is koning Omri, maar koning Agab is koning Agab,” praat sy hom dood. “Agab gaan Israel regeer, nie die volksleiers nie. Daar kom groot veranderings in Israel, Jehu. Jy moet deel wees daarvan, anders dwaal jy in die woestyn. Agab het jou nodig; hy moet op jou kan reken.”
Sy het hom afgeslag, dink Jehu. Sy braai hom aan die spit oor ’n oop vuur, en hy het niks meer oor om hom mee te verweer nie.
“Wat verwag u van my, Majesteit?” vra hy radeloos.
In die toenemende skemering wat die streep sonlig teen die een muur al byna heeltemal verdring het, staan Isebel op en gaan staan met haar rug teen die deur asof sy Jehu f inaal wil inhok.
“Hoofman Jehu, ek het jou uitgekies om die profete uit te roei. Jy moet hulle doodslaan so ver as wat jou swaard kan bykom.”
“Nee,” antwoord Jehu hard, bewus van die woede wat in hom opstoot. “Dit kan ek nie doen nie. Nee, dit moet u nie van my vra nie. U kán dit nie vra nie, want u regeer nie die land nie.” Hy skaam hom. Waarom kniel hy voor die vreemde vrou? Hy, Jehu, die patriot?
Sy bitsige verset verbaas haar nie. Sy het dit verwag. Sy praat paaiend. “Ek weet dat dit vir jou nie maklik gaan wees nie, Jehu. Ek weet jy’s ’n goeie Israeliet. Ek wil ook nie hê daar moet bloed aan jou hande wees nie. Jy moet skoon bly vir die take wat op jou wag.”
“Hoe kan ek bloed vergiet en dan skoon bly?”
“Jy moet net die opdrag gee. Laat Bidkar, jou adjudant, die werk doen. Hy’s immers ’n Kanaäniet.”
Jehu gaan weer sit en soek wanhopig na ’n laaste verweer teen dié vrou wat soos ’n honger beer op sy spoor loop.
“U kan my nie so ’n bevel gee nie,” sê hy weer. “So ’n bevel kan ek net gehoorsaam as dit van koning Agab kom.”
Sy het nie verwag dat hy so kwetsbaar sou wees nie. Ook in sy laaste vesting is hy aan haar doodsteek blootgestel.
“Koning Agab stem saam met wat ek jou beveel het,” mislei sy hom, koelbloedig en opsetlik.
Die woorde dawer deur Jehu onderwyl hy die vliegies dophou wat bo die druiwetrosse, dadels en olywe draai, aanhoudend, asof hulle nie die wil of die krag het om uit hul klein baan los te breek nie.
“Dit is verkeerd!” sê Jehu heftig. “Heeltemal verkeerd!” Hy staan op asof hy die vertrek wil verlaat, maar bly tog staan, kompleet of sy hom met onsigbare krag gevange hou.
“Ek verstaan nie jou teësin nie,” vervolg Isebel. “Jy’t netnou nog gesê as jy Nabot se seun vang, sleep jy hom agter jou perd deur Samaria. Waarom? Omdat hy gesondig het teen die troon van Israel. Voorwaar, as die jong man een maal teen die troon gesondig het, het die profete honderdvoudig teen die troon gesondig.”
Wat sy sê, kan hy nie weerspreek nie, en tog … Hy duisel, gryp sy drinkbeker en drink dit leeg. Die profete ís skuldig aan aanhitsing, maar wat sy vra, stuit hom teen die bors. Dit is iets waarmee hy nie in sy hart kan vrede maak nie. Sy gemoed is heeltemal leeg en hy kan aan niks meer dink om teë te werp nie.
Hy het Isebel nie eens hoor nader kom nie. Eers toe sy langs hom staan, skrik hy op. “Hoofman Jehu, ek voorsien dat as jy hierdie taak goed uitvoer, jy hoof gaan word van die strydwaens. Sal jy daarvan hou? Ek is seker koning Agab sal jou wil beloon.”
“Ek sal daarvan hou, Majesteit,” sê Jehu toe hy opstaan. “Maar dis ’n duur prys om te betaal.”
“Ek weet, ek weet. Ons moet maar almal soms ’n prys betaal, Jehu. Nie een van ons kom sonder ’n letsel los nie. Het jy dan vergeet van jul koning Dawid?”
Verbasend, dié mens wat so alles van Israel weet, dink hy. Gaan sy nie aan Agab se sy ’n rigter van Israel word nie?
“Jy moet ver vooruit kyk, Jehu. Leërhoof Joël is oud en sieklik …”
Joël – oud en sonder drif, amper ’n strooipop. Eintlik ’n gevaar vir Israel, dit weet Jehu. Isebel het ’n visioen in hom opgetower. Die spanning verslap, die twyfel sak weg.
“Ek sal nou met Bidkar gaan praat,” sê Jehu. Sy stem klink vir hom soos dié van ’n vreemdeling. Hy buig en stap na die deur. Net toe hy wil uitgaan, praat Isebel weer.
“Dankie, hoofman Jehu. Ek sal jou trou nie vergeet nie. En laat dit maar tussen ons bly; ek wil nie hê koning Agab moet regstreeks betrokke raak nie.”
“Ek verstaan, U Majesteit.”
Toe stap hy uit in die skemer gang, want hulle het nog nie die muurfakkels aangesteek nie. “Hoof van die strydwaens,” weerklink dit in Jehu se binneste. “Hoof van die leër …”
Isebel gaan sit weer by die tafel, verlustig haar in die oorwinning. Soos sy die trotse Jehu onderwerp het, so sal sy nog die hele Israel aan haar wil onderwerp.
Sy moet net haar lied reg kies, met die f luit vooruit loop en Israel sal volg.
Toe stap sy uit om ’n slag by Omri se siekekamer te gaan inloer.