Читать книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter - Страница 8

4

Оглавление

In die pragtige troonsaal van die paleis van Samaria het die konings van Juda, Edom, Sidon, Tirus en van die onderhorige Moab tesame met die leiers en maghebbers uit al die streke van Israel byeengekom vir Agab en Isebel se troue.

Die aankoms van elke koning is met basuingeskal aangekondig en tussendeur het Fenisiese musikante op hul siters, harpe en tamboeryne strelende en stemmige musiek gespeel.

Hulle het koning Omri op ’n baar binnegebring en hom voor sy troon op die voetstuk neergesit. Toe die basuine sy binnekoms aankondig, het almal opgestaan om hulde aan dié moedige man te betoon.

Die koning het egter nie die middelpunt van die aandag gebly nie. Al die koppe het na Isebel gedraai omdat sy die hele byeenkoms met haar skoonheid oorweldig het. Toe sy in die deur verskyn in haar lang wit gewaad van Tirreense sy, met die klein goue kroon op die hoë koperige haretooi, en net die groot donker oë sigbaar bo die fyn kantsluier, het selfs die musiek opgehou terwyl sy aan haar vader se arm statig tot voor koning Omri se baar gestap het waar Agab, donker en rysig, op haar gewag het.

Ter wille van koning Omri was dit ’n kort plegtigheid. Nadat die egband gelê is, het hulle die koning se seremoniële swaard aan hom gegee. Hy het dit met bewende hande na Agab uitgehou.

“Agab van Samaria, ek verklaar jou tot koning van Israel,” het Omri verbasend duidelik gesê.

’n Howeling het die swaard vir Agab aangegord. Agab het sy vader se koue hand ’n oomblik in al twee sy hande vasgedruk. Daarna het Isebel nader gekom, en Omri het haar wang vlugtig aangeraak. “Wees vir Israel ’n vorstin,” het hy gesê. Daarna het al die konings gekom en sy hand gedruk. Ook die vernaamste leiers.

Toe was die plegtigheid afgehandel. Hulle het koning Omri na sy kamer teruggeneem. Die ander het agter hom aan die troonsaal verlaat om die huwelik van koning Agab en koningin Isebel te vier, die dag te deel met die menigte wat wagtend voor die paleis saamgedrom het.

Agab en Isebel het in die paleispoort voor die juigende menigte verskyn. Die toejuiging het Agab opgebeur ná die probleme van die vorige dag. Hy het hom verstom oor die skare voor die paleis.

Hulle het uit die uithoeke van die ryk gekom, het Amon, die stadshoof, vertel. So groot het die gedrang binne die mure van die stad geword dat baie mense hul bokveltente en matjiesgoedbeskuttings buite die mure moes opslaan.

“Sorg dat niks hulle ontbreek nie, Amon,” het Agab beveel. “Ek wil hê hulle moet feesvier.”

Samaria hét feesgevier. Op veel groter skaal as selfs die vorige dag. Daar is gebraai, gebak, geskink, gesing, musiek gemaak, gedans en jolyt gehou soos nog nooit tevore nie.

Ook teenoor die werkers in die klipgroef het Agab sy hart versag. Hulle moes behandel word soos al die ander. Derhalwe het waens geslagte osse, stapels brood en ’n menigte kruike wyn kom af laai. Selfs die manne wat Obed die vorige dag na die poort gevolg het, het dié feesmaal meegemaak.

Ook in die paleis is daar feesgevier. Agab kon met meer gemoedsrus daaraan deelneem, want volgens die dokter was koning Omri ef fens beter en het hy selfs uitgevra oor die feesvierings.

Agab het dié viering deeglik laat reël. Hy het beveel dat die heel beste voedsel en drank voorgesit moes word. Hy het opdrag gegee dat die hele volk na Samaria en elke voorman in Israel na die paleisfees genooi moet word: die hoof van die leër, die hoofmanne oor duisend, die stadshoofde van Israel, die leiers van Samaria, die edelmanne, die hoofbelastinggaarder en dies meer. Ook die hoofpriester van Baäl, wat uit Sidon saamgekom het.

Maar Agab het nie een profeet van Israel laat nooi nie.

Daarteen het Obadja hom kalm maar nadruklik verset.

“Waarom moet ek hulle nooi wat my gedurig in die rug steek?” het Agab geantwoord. “Hulle is ’n spul dwepers. Daar is nie meer een groot profeet in Israel oor nie.”

“Wat van Elia van Gilead, U Hoogheid?”

Agab het byna ’n oorval gekry. “Elia van Gilead!” het hy uitgeroep. “Hy’s nou éérs ’n opstoker, na wat ek hoor.”

“Maar ’n feesviering sonder ’n profeet van Israel,” het Obadja verwytend volgehou. “En dit terwyl ’n Baälpriester genooi word. Dit is ongehoord.”

“Moet jou nie kwel nie, Obadja,” het Agab probeer troos. “Al nooi ek ’n profeet sal hy nie kom nie, want vir hulle is alles sonde – selfs vreugde ook.”

Net soos Agab het Isebel haar ook daarvoor beywer om van die viering in die paleis iets groots te maak. Sy was goed bewus van haar taak, want sy het besef die room van Israel sou na die paleis kom. Sy en Agab wou deur hoë verering en vorstelike gasvryheid, wellewendheid en sjarme ’n stille bondgenootskap sluit met die voorstes van Israel. Met kos en wyn wou hulle die lojaliteit koop van almal met invloed.

Isebel het haar persoonlik bemoei met die bereiding van die feesmaal. Sy het die spysenier van die paleis ontbied en hom haarfyn voorgesê wat sy voorgesit wou hê. Toe die man kla dat hy nie vertroud is met party van die Fenisiese geregte waarop sy aangedring het nie, het sy hom beveel om gebruik te maak van haar eie spysenier wat sy uit Sidon saamgebring het. Sy het toegesien dat die heel fynste serviese en die beste silwer-, goud- en glasware voorgesit word.

In die stilligheid het Isebel haar voorgeneem om die eenvoudige siele van Israel, soos sy hulle vir haar voorgestel het, te oorweldig en te onderwerp deur die oormaat en swier van die paleis. Soos hulle op hierdie dag uit die koningsborde sou eet, sou hulle voortaan uit die hand van Agab en Isebel moes eet.

Baie van die landelikes wat nie gewoond was aan die prag en praal van die paleislewe nie, was uit die veld geslaan toe hulle die eetsaal binnekom. Hulle het skoorvoetend tussen die pragtig gedekte tafels beweeg terwyl paleispersoneel hul sitplekke aangewys het, hulle verkyk aan die vloere van sipreshout, die dak van sipreshout gestut deur sederhoutbalke, en teen die mure die beskot van eikehout met fraai versiersels: palmtakke, blomgroepe, vlieënde voëls, bul- en ramskoppe.

Die fyn, wilde ruik van vars hout het hulle gestreel soos die geur van wierook.

Toe Agab en Isebel binnekom, indrukwekkend in hul koningsgewaad, staan die aanwesiges eerbiedig op en buig. Sowel Agab as Isebel verwelkom hulle met ’n toegeneë glimlag en ’n vriendelike wuif van die hand, sodat hulle onmiddellik meer tuis voel.

Isebel oorheers dadelik die feestelike byeenkoms met haar lang tabberd van Oosterse sy en kosbare juwele gefatsoeneer deur die kundigste hande in Tirus en Sidon, haar hele voorkoms donker-mooi. Almal kyk haar bewonderend aan oor die glinstering van goud, silwer en glas, oor die glimmende koperbakke vol vars vrugte.

Selfs toe die hoofdisse binnegedra word – speenlammers op die spit gebraai, skottels bees- en skaapvleis gemeng met geskroeide graan, gebraaide wilde-eend en f isant, tesame met groentes en onbekende lekkernye wat Isebel self bedink het – bly sy nog die middelpunt met haar hartlikheid en innemendheid.

Die paleispersoneel kom vul die drinkbekers met wyn, en die feesmaal in die paleis kom rustig op dreef terwyl die volk daarbuite mekaar byna vertrap om genoeg kos in die hande te kry nie net om saam fees te vier nie, maar ook om vir môre en oormôre iets te ete te hê.

Agab en die gaste kyk verbaas op toe Amon, die stadshoof, die eetsaal laat binnekom, want Amon is ’n groot en aansienlike man wat oral aandag trek.

Die vrolike gepraat breek meteens af toe Amon reguit na Agab stap, een maal buig en in die koning se oor f luister. Agab spoel sy vetterige vingers in die albasterbakkie af terwyl hy aandagtig luister.

’n Groot groep jong profete, vertel Amon, beweeg tussen die feesgangers en rui hulle op om nie aan die “goddelose” feesvierings van prins Agab deel te neem nie, om nie ’n heidense prinses in Samaria te duld nie, om hulle te verset teen die bou van ’n Baältempel. Amon vertel ook dat ’n groep profete vroeër die dag die klipwerkers probeer opsweep het. Hy het hulle probeer ompraat om die feesgangers met rus te laat, maar hulle weier. Daarom het hy dit goedgedink om dadelik te kom sê, al is die tyd ongeleë.

Agab hou hom doodkalm, maar daar is ’n trilling in sy donker baard.

“Al weer die profete,” sê hy woedend maar sag, net vir Amon se ore. “Ewig die profete.” En toe, ná ’n kort stilswye: “Wat het geword van dié wat die klipwerkers opgerui het?”

“Hoofman Jehu het hulle gevang en laat opsluit, Hoogheid.”

“Jehu!” antwoord Agab voldaan. “’n Man so na my hart. Hy speel nie.” Hy trek Amon nader en f luister in sy oor: “Laat hulle ook vang, Amon, en sluit hulle op.”

Amon verlaat die eetsaal vinnig en word nuuskierig agterna gekyk.

Obadja draai sy drinkbeker, waaraan hy nog nie sy lippe gesit het nie, fronsend in die rondte. Hy vertrou die vrede nie. Amon is ’n gedienstige man wat bloot bevele uitvoer sonder om vrae te vra of standpunt in te neem, en dit lyk of Agab nie die pad van sy vader gaan loop nie. Koning Omri sou Obed-hulle deur die ampsdraers laat verhoor het; Agab het hulle sonder verhoor laat teregstel.

Agab kan die spanning en onsekerheid aanvoel wat Amon se teenwoordigheid in die eetsaal veroorsaak het. Daarom kom hy dadelik op die been. Die toejuiging van die gaste sowel as die rooi wyn van Jisreël, waarvan hy al ’n bietjie baie gedrink het, laat hom sterk en voortvarend voel, maar omdat hy ook in die toejuiging ’n geringe onsekerheid gewaar, praat hy rustig en bedaard.

“Besoekende vorste, leiers van Israel, ek en my bruid, prinses Isebel, groet u. Ons verwelkom u in die paleis van Samaria.”

Die toehoorders klap hande en juig.

“En my vader stuur sy groete …”

Toe spring hulle op en juig dawerend. “Koning Omri! Koning Omri! Die Here behoed koning Omri!”

En die oueres wat Omri gehelp het om sy teenstander Simri te verslaan, die Arameërs terug te dryf en Moab te onderwerp, vee onhandig die trane uit hul oë en hou hul drinkbekers bewend omhoog. “Koning Omri, die leeu van Samaria!”

Die toejuiging laat Agab besef dat hy nog maar ’n saailing is in die skaduwee van sy vader.

Hy weet ook nou hoe om verder te praat. Hierdie manne sal hy nog moet omhaal. Hy hou sy hand omhoog, en hulle gaan teësinnig sit.

“U weet wat my vader gedoen het. Hy het hierdie groot vestingstad vir Israel aangelê. Hy het Israel en Juda weer versoen sodat hulle byna soos een volk geword het. Hy het ’n verbond gesluit met die konings van Tirus … en Sidon …” Agab kyk met ’n betekenisvolle glimlag na Isebel af.

“Koning Omri!” juig hulle weer.

“Hy het die Arameërs van ons grense af teruggedryf. Hy het stede en vestings gebou, hy het Israel ryk en sterk gemaak …”

“Die Here seën koning Omri! Lank lewe koning Omri!” onderbreek hulle weer Agab se woorde.

“Ek sê dít vanaand hier aan die leiers van Israel … Ek sal in my vader se spore loop.”

Dié slag juig hulle vir Agab, nie oor wat hy is nie, maar oor wat hy wil word – ’n voortsetting van Omri. Dié toejuiging streel en bemoedig hom. Hy strek weer sy hande uit en toe dit stil word, sê hy: “Die ryk wat my vader Omri opgebou het, sal ek nog verder uitbou. Ek sal Israel nog groter en sterker en ryker maak. Dié wat my daarmee help, sal in die voorspoed en grootheid deel.” Hy bly ’n oomblik stil en kyk aandagtig na elkeen asof hy hul lojaliteit wil peil. “Dié wat in my pad staan, sal ek voor my wegvee!”

Dié keer staan hulle soos een man op en klap hande en juig Agab toe. Hy praat soos die leeu van Samaria nog altyd gepraat het, hy wil Israel lei soos Omri hom gelei het.

Agab lig sy drinkbeker hoog. “Ons drink op koning Omri,” roep hy uit. “Ons drink op die toekoms van Israel!” Toe bly hy bewoë staan terwyl hulle sy vader se naam uitroep en hul bekers swaai en juig.

Agab gaan tevrede sit. Hy meen sy paar woorde het hul harte aangeraak. Hy weet nou dat die gees van Omri in hulle vaardig is – en solank hy daaraan vashou, is hy veilig.

Maar sy voldoening is nie volkome nie. Dit is sy en Isebel se geleentheid dié, en tog juig hulle vir sy vader asof hy hier teenwoordig is. Sy eiewaan kriewel in hom sodat hy onvergenoeg na die halfgeëte f isant op sy bord afkyk.

Maar toe staan Joël, die bejaarde hoof van die leër, op. “Ons drink op koning Agab en koningin Isebel,” sê hy, “en ons wens hulle ’n lang en geseënde huwelikslewe toe. Mag hulle ’n sieraad wees vir die huis van Omri.”

Hulle juig vir Agab en Isebel en drink die heildronk. Tog voel Isebel ook nie heeltemal gelukkig nie. Wat hulle gedoen het, is eerder wellewend as opreg, dink sy. Sy voel aan daar is ’n sekere afstand tussen haar en hulle wat hier sit. Sy sal hulle óf aan die neus moet lei óf hard op hulle moet trap. Hulle sal moet leer dat die koning die koning is, dat die koning die wet is – soos aan die Oosterse howe die geval is. Dié manier van Israel, dat die “volk” die seggenskap het, is gevaarlik. Sy sal die pad vir Agab voorberei om volstrek koning te wees, onaantasbaar, soos haar vader.

So mymer Isebel. Sy sal heel bo begin. Dit behoort nie moeilik te wees om die liewe siele wat vanaand hier bymekaar is aan Agab te bind nie. Goedgelowige ou manne, behep met hul ereposisies in die hiërargie van Israel, ambisieuse jong manne wat goed weet dat Agab nou die man is wat eer en mag uitdeel.

Daarom leun Isebel oor en f luister vir Agab: “Moet ons nie ’n slag tussen ons gaste beweeg nie? Kennis maak en gesels? Almal het byna klaar geëet. Terloops, wat het daardie man kom sê?” Sy vra dit met ’n glimlag van reine onskuld.

“’n Klomp profete rui die mense teen my op,” antwoord Agab vertroulik.

“Maar dis aanhitsing! Dis koningskending!” f luister Isebel driftig.

“Sodra die feesvierings oor is, sal ek die ampsdraers vra om hulle te verhoor en te straf. Die ellendelinge! Klomp wolwe in skaapsklere.”

Isebel staan ergerlik op. “Kom,” sê sy nogtans lieftallig, “stel my aan jou volksleiers voor.”

Toe sy aan Agab se arm deur die eetsaal beweeg, voel Isebel opgetoë en selfversekerd. Sy stap met ingebore grasie en sy weet alle aandag is op haar gevestig. Aan die hof van haar vader het sy al die fynere kunsies van vorstelike verkeer aangeleer. Sy weet wat om te sê, wat om te vra, hoe om te glimlag, hoe om te vlei. En veral hoe om deurgaans met haar skoonheid te betower. Al hierdie dinge is vir haar vanaand middele tot ’n doel, en sy gaan hulle gebruik soos nog nooit tevore nie.

Isebel gesels vrolik, verneem na die mense se welstand, vra uit oor hul werk, sê hoe graag sy alles wil leer van Israel en wat nog meer sodat die voormanne van Israel, wat haar aanvanklik met agterdog bejeën het en haar vir ongenaakbaar en arrogant aangesien het, later teenoor mekaar moet erken dat sy hulle verras en verbly het met haar vriendelikheid, belangstelling en warm menslikheid.

En haar skoonheid! Die nabyheid van haar liggaam is byna oorweldigend.

“’n Ware koningin,” waag een van die ouer leiers dit.

“’n Ware vorstin sal sy vir Israel wees,” meen ’n ander.

En party kyk enigsins jaloers toe hoe sy, ef fens opsy, ’n bietjie langer met die jong Jehu gesels.

“Daar is ’n saak waaroor ek graag persoonlik met u wil praat, hoofman Jehu,” sê Isebel. Al sê sy dit so lief ies, snap Jehu dadelik dat dit ’n bevel is. “Ek sal u laat weet wanneer ek gereed is … Eers wanneer die bruilofsfees verby is.”

“Tot u diens, U Majesteit,” antwoord Jehu enigsins oorweldig. Hy het egter nie tyd om te wonder oor haar buitengewone opdrag nie, want Agab sluit hom by hulle aan.

“Snaaks,” sê Agab afgetrokke, “Nabot van Jisreël het nie opgedaag nie. Wou hom graag aan jou voorstel, my lief. Die beste wynmaker in Israel en ’n leier in die streek Jisreël.”

“Dalk is hy verhinder,” sê Isebel.

Dan kon hy laat weet het, wil Agab sê. Pleks daarvan spreek hy Jehu aan. “Ek wil jou bedank dat jy so vinnig opgetree het teen die jong profete wat die werkers in die klipgroef opgerui het, hoofman Jehu. Ek hou van besliste, kragdadige optrede. Is die werkers darem tevrede?”

“Doodtevrede, U Hoogheid,” antwoord Jehu. “Toe ek daar weg is, het hulle vrolik feesgevier.”

By die klipgroef word daar inderdaad vrolik feesgevier. Die manne sit en lê in groepe om die vure, eet en drink en vergeet van hamers, koubeitels, blou naels en skrynerige hande – vergeet selfs van die tempel vir Baäl en die galge waarvan die lyke verwyder is.

Dit gebeur nie aldag dat hulle soveel vleis kan eet en soveel wyn kan drink as hulle wil nie.

Net een man vier nie fees nie. Sihon, die Kanaäniet, dwaal van groep tot groep en soek. Verneem hier, verneem daar. Deurkruis die werkerskamp van hoek tot kant, en soek.

Want daardie môre vroeg toe hy wakker word, was Johanan nie in die hut nie. Al sy besittings was nog daar; sy velwatersak, sy slaapmatjie, sy klein siter. Maar Johanan het spoorloos verdwyn.

Die koning se wingerd

Подняться наверх