Читать книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter - Страница 7
3
ОглавлениеBy die klipgroef praat die werkers vanaand gedemp oor die ses galge wat swart uitstaan in die gloed waar die son lankal agter die heuwels weggesak het.
Die manne is verskrik omdat alles so vinnig en wreed plaasgevind het. Hulle kon hul oë nie glo nie toe die sipier en ’n aantal soldate laat in die dag vir Obed en sy vyf makkers van die stadspoort af aangesleep en hulle sonder omhaal opgehang het. Hulle het verslae toegekyk hoe die ses aan die galge worstel en stil word.
Koning Omri sou nooit so iets gedoen het nie, redeneer hulle. Dit is Agab se werk. Hoe kan hy Israeliete so behandel? As dit Kanaäniete was, is dit nog te verstane. Maar sy eie mense. Daardie wyf uit Sidon het hom opgesteek!
Party wil in hul woede en frustrasie maak en breek, maar hul makkers herinner hulle daaraan dat Jehu se leërafdeling rondom die klipgroef gereed staan.
Selfs die Kanaäniete, wat op hierdie onstuimige dag geen leed aangedoen is nie, is onrustig. As dit met Israeliete kan gebeur, hoeveel te meer met die Kanaäniete? Vir die Israeliet is daar een maat en vir die Kanaäniet ’n ander. Dit is nou maar eenmaal ’n ongeskrewe wet van die land.
Van Johanan en Sihon se hut van latte en gras, nie ver van die galge af nie, kan ’n mens sien hoe honger honde na die lyke opspring. Hulle praat nie veel nie. Sihon sit by die aandvuur en Johanan staan rusteloos rond. Dan is hy agter die hut, dan binne-in die hut, dan by die vuur.
“Johanan,” sê Sihon later, “Obed-hulle is dood, en klaar. Kom sit – waarom dwaal jy so?”
Johanan kom sit op ’n houtstomp teenoor Sihon.
“Wees vrolik, man, môre vier ons die troue van prins Agab.”
Sihon se lighartigheid ontstel Johanan. “Wat vandag hier gebeur het, kan jou nie skeel nie, nè?” sê hy verwytend.
Nou glimlag Sihon nie meer nie. Sy skraal blas gesig verhard.
“Ek voel aardig oor hulle wat gesterf het, maar aan die ander kant is ek bly oor wat vandag hier gebeur het.”
“Bly? Besef jy wat jy sê?”
Sihon krap houtjies op die vuur en praat bedaard, nie uitdagend of kwetsend nie. “Vandag het prins Agab ’n hou geslaan vir die ou Kanaän, vir die god Baäl, vir my en duisende soos ek. Mag die heilige Baäl hom seën. Hý het besluit dat ’n tempel vir Baäl gebou word, daarvan is ek seker.”
“Wat prins Agab vandag gedoen het, is verkeerd en sondig,” antwoord Johanan oplopend.
“Wat het prins Agab verkeerd gedoen?” vra Sihon. “Hy het ’n paar rebelle gestraf omdat hulle teen hom opgestaan het, omdat hulle ’n moord gepleeg het.”
“Hulle het nie teen die paleis gerebelleer nie, hulle het teen Baäl gerebelleer. En nou bring hy hulle om die lewe. Sy eie mense, Israeliete!”
“Bedaar!” vermaan Sihon. “Vanaand het die klippe ook ore. Onthou, almal voel nie soos jy nie. Luister ’n bietjie …”
Hulle hoef nie te luister nie. Die opgewonde geblaf van honde, die byna histeriese rumoer van die feesgangers binne die stadsmuur vul die aand.
Die sondigheid van Israel het ’n afskuwelikheid geword, dink Johanan. ’n Dolle dansparty, ’n gebraaide os wat verorber word, duisend kruike wyn wat uitgesuip word. Eintlik behoort hy Sihon te haat, want hy is deel van dié afvalligheid. Tog kan hy nie, want Sihon is soos ’n vreemde loot wat op hom geënt is, deel van hom en tog ook nie.
Johanan praat nie verder nie. Sihon wil hom egter nie los nie, want hy voel soos een wat vandag vry geword het. Hy is lus om te praat. Lus, selfs, om Johanan te terg en te toets. “Skaam jou, Johanan, jy gun my nie eens ’n tempel nie,” spot Sihon. “Ek kan die heilige Baäl op die hoogtes, onder bome, in die oop veld aanbid, maar ’n tempel mag ek nie hê waar ek kan of fer en aanbid nie.”
“Israel het net één lewende God – Jahwe. In Israel is daar nie plek vir Baäl nie,” antwoord Johanan.
Sihon praat kalm, want hy wil Johanan nie verkeerd opvryf nie. Tog móét hy vanaand, oor alles praat wat al so lank in hom roer en beur. Obed se sweephou en wat vandag gebeur het, het alles in hom oopgebrand. En al een met wie hy nou kan praat, is Johanan.
“Jy is ’n goeie Israeliet, Johanan. Vir jou is daar net een god – Israel se god. Vir jou is daar net een volk en dit is Israel. Daar is net een wet – Israel se wet. Israel is die uitverkorene onder die nasies. Israel is die regverdige, Israel is die goeie, Israel is die heerser. Al die mag is vir Israel, al die rykdom is vir Israel, al die grond is vir Israel, elke waterput behoort aan Israel … Israel, Israel! Net Israel! Net Israel wéét wat goed is, net Israel dóén wat goed is, net Israel gló wat goed is.”
Johanan luister met toenemende verbasing na Sihon. Hulle het saam potkleidiere gemaak, saam die lammerskaap opgepas, saam slingervel gegooi, en toe hulle groter geword het, saam die olyfpers gedraai, druiwemandjies na die parskuipe gedra, koring uitgewan op Nabot se dorsvloer. Maar nog nooit het Sihon só gepraat nie.
“Waarom praat jy vanaand asof ek jou vyand is?”
“Omdat dit tyd geword het dat ons mekaar verstaan. Vandag het iets aan ons elkeen gedoen. Vanaand weet ons dat ons nie meer slingervel gooi en voëlneste uithaal nie. Toe kon ons broers wees, want ons het nog niks verstaan nie. Nou het ons grootgeword en ons weet dat ons nie broers kan bly as die een ’n perd is en die ander ’n donkie nie.”
“Het ek jou al ooit te na gekom?” vra Johanan.
Sihon strek sy hande na die vuur uit asof hy na warmte soek. “Vandag het jy my te na gekom, Johanan. Met jou verset teen die tempel het jy my duidelik laat verstaan dat ek nie kan aanbid soos ek wil nie, dat ek nie kan glo soos ek wil nie.”
Sihon se gesig is strak, sy oë uitdagend toe hy weer praat. “Jy sê daar is net een god, maar hom kan ek nie aanbid nie, Johanan. Hy’s ’n wrede god, ’n onregverdige …”
“Nou sê jy te veel, Sihon! As jy só wil praat, gaan ek nie na jou luister nie.”
In die vuurgloed trek die glimlag klein donker plooie oor Sihon se gesig. “Mag ek nie eens meer praat nie? Wil jy ook my siel besit soos julle Israeliete ons Kanaäniete se lywe besit?”
“Jy gaan die Here nie belaster nie! Dit sal ek nie toelaat nie!”
Sihon laat dit daar en kom uit ’n ander hoek terug. Hy begin praat oor alles wat hy deur die jare in hom opgekrop het, en hou aan praat terwyl hul vuur laer en laer brand, die ander vure om hulle doodgaan en dit donker word oor die klipgroef, die ses galge, Samariaberg, oor die hele Israel en Juda. Hy vertel asof hy self daar was toe Josua die trotse stede van Kanaän verwoes het – Jerigo, Ai, Hebron, Hasor, Geser, Megiddo en al die ander – en nie ’n man, vrou, kind of dier lewend gelaat het nie. Sihon praat so hartstogtelik asof hy self ’n boogskutter was toe koning Dawid Jerusalem ingeneem en Kanaän f inaal onderwerp het.
“Die Kanaäniet wat nie gedood is nie, is weggedryf of het ’n slaaf van Israel geword,” sê hy met verbittering wat Johanan verstom. “So het die volk van Kanaän in sy bloed gesmoor, so is hy onderwerp. So het ons ons geboortegrond verloor tot vandag toe. Jou god het dit so laat gebeur, want hy het alles bestier. Dan wil jy nog hê ek, ’n Kanaäniet, moet hom aanbid.”
“Nie jy of ek kan God se weë verstaan nie. Hy is almagtig en alwetend. Hy het vader Abraham na hierdie land geroep toe dit nog feitlik ’n leë wildernis was,” antwoord Johanan.
Sihon se oë gloei van geesdrif. “Ek kan nie ’n god dien wat ek nie verstaan nie. Ek wil Baäl dien, want ek verstaan hom. Hy is goed. Hy bring die reën, hy bevrug die grond, hy laat die gras, gesaaides en bome groei, hy laat die ooie lam en die koeie kalf en hy vul die baarmoeder van die vrou. Hy seën die land.”
Johanan loop tot aan die rand van die klein ligkol en luister weer na die rumoer in die stad en voor die poort. En hy voel die vertwyfeling. Dit is nie net Kanaäniete wat so juig oor die koms van die Baälprinses en oor die tempel nie – ook Israeliete. Nadat die klomp jong profete die middag saam met die opstandiges van die stadspoort weggedryf is na die klipgroef het hulle al hardlopende en skreeuende die werkers gemaan om nie aan ’n tempel vir Baäl te help werk nie, het hoofman Jehu se soldate hulle kom gryp en hulle weggesleep. Maar hy het met sy oë gesien hoedat talle Israeliete die profete rondstamp, rondpluk, en vir hulle skreeu: “Weg hier, julle mal deugniete!” Vir hulle lag en selfs na hulle spuug.
Hy praat driftig in die donker. “Baäl is ’n nietige afgod sonder lewe, sonder mag, net ’n doofstom beeld.”
Asof Sihon Johanan se vertwyfeling aanvoel, antwoord hy voldaan: “Koning Omri dink nie so nie. Prins Agab dink nie so nie. Die duisende Israeliete wat Baäl aanbid, dink nie so nie.”
Johanan loop sommer dieper die donker in, maar Sihon se woorde agtervolg hom. “Jy sal moet verander, Johanan, want Israel is aan ’t verander. Luister hoe juig hulle vir Agab en prinses Isebel. Sy is die nuwe bondgenoot van Baäl en ons Kanaäniete. Israel is besig om hom los te wikkel uit sy stywe kokon. Deur vir ons ’n eie tempel te gee erken Israel dat hy nie alleen in Kanaän woon nie. En die dag wanneer daardie tempel klaar is, sal ons Kanaäniete weet dat ons ons eerste stukkie vryheid ontvang het.”
Johanan draai om vuur toe, kom hurk daar.
“Vryheid, vryheid, vryheid!” bars hy uit. “Wat kerm jy vanaand so skielik oor vryheid? Jy kan loop waar jy wil, jy kan werk waar jy wil, jy kan ’n grofsmid word as jy wil, of leerlooier, of koopman, of soldaat. Waaroor kwel jy jou dan? Daar is Kanaäniete wat hoog staan in Israel. Is Bidkar nie Jehu se adjudant nie?”
Sihon peusel aan ’n korsie brood. Toe hy praat, sny sy woorde deur Johanan: “Kan Bidkar koning van Israel word? Nee, want hy’s ’n Kanaäniet. Kan hy hoof van die paleis word, hoof van die stad, hoof van die leër? Nee. Kan ek, Sihon, ’n stukkie grond besit? Nee, want ryk Israeliete besit al die grond.” Hy kyk seëvierend na Johanan, maar huiwer voordat hy weer praat. “Kan ek met een van jou susters trou?”
Die vraag hang nog tussen hulle al het sy woorde reeds op die aandwind verdwyn.
“Kan ek?”
“Wat my betref, kan jy – as jy haar liefhet en vir haar kan sorg. Maar nie as jy net iets wil bewys nie.”
Sihon glimlag sinies. “Ek wonder darem … Jou hart klop anders. Jy is verdraagsaam. Maar meneer Nabot – wat sal hý sê?”
“Hy sal weier, want hy glo die Here wil sy volk suiwer hou.”
“Suiwer Israel,” sê Sihon neerhalend. “Net Israel is rein, net Israel se of ferrook trek regop tot in die hemel. Heeldag loop julle met basuine agter jul Here aan, bo-oor dié wat nie tot julle behoort nie.”
Sihon is nie meer Sihon nie, dink Johanan skielik ontnugter. Nie meer die sagsinnige, lydsame, geduldige, byna weerlose mens wat hy geken het nie. Iets het vandag in hom verander.
“Waarom praat jy vanaand só?” vra Johanan naderhand. “Was my pa dan nie nog altyd goed vir jou en jou mense nie? Het jou pa dan nie by my pa oud geword nie?”
“Goed, ja, soos ’n mens vir ’n hond goed is,” antwoord Sihon. “Jy maak ’n hond aan ’n lang riem vas en voer hom afgeroomde melk, broodkorsies en bene. Hy kan rondloop waar hy wil – totdat die riem styf trek. So is dit met ons Kanaäniete in ons erf land. Ons moet maar altyd buite Israel se tente sit en wag op gunste en gawes, maar vanaand gee ek nie om om nog te wag nie. Vandag het ons ’n tempel gekry. Dit is ’n begin … En Isebel sal vir ons die pad verder oopmaak. Ek kan dit voel.”
“Wil jy jou verlore Kanaän herower?” vra Johanan, en Sihon is verbaas om sy bedrukte vriend te sien glimlag.
“Nie herower nie; hom net met jou deel, hom saam met jou besit. Ek wil nie meer jou houtkapper en jou waterdraer wees nie; nie meer jou hond aan ’n riem nie. Ek wil voel my siel is vry en die land behoort ook aan my.”
Johanan soek weer na die galge teen die hang, maar hulle is onsigbaar. In die dowwe sterlig gewaar hy vae beweging. Seker Jehu se brandwagte wat moet keer dat niemand vannag hier uitkom nie.
“Ek het so baie gepraat en jou uitgedaag, en jy stry omtrent nie eens met my nie,” sê Sihon meewarig.
Johanan staan moeisaam op en kyk weer in die rigting van die stadspoort waar die menigte feesgangers steeds rumoer. “Ek ken Israel se tekortkomings,” sê hy. “Hul gemaksug, hul hebsug, hul verwaandheid, hul ongeregtigheid teenoor ander soms, hul sondige rykdom, hul onverdraagsaamheid. Ek hoef nie met jou daaroor te stry nie. Maar God is my God en Israel is my volk, met sy letsels en al.”
“Ek weet … ek weet. Ek ken jou hart. Daarom is jy my vriend. Daarom het ek my hart uitgepraat teenoor jou. Dit troos, al weet ek dat niks miskien sal verander nie.”
“Ek moes vir die Here getuig het,” sê Johanan by die dooie vuur. “Ek moes saamgegaan het na die poort. Hy wat nie die moed het om te getuig nie, is net so sleg soos ’n heiden.”
Dit knaag aan hom, daarom het hy nou weer daaroor gepraat, dink Sihon. Om met hom daaroor te stry, sal niks baat nie. Daarom sê hy gemoedelik: “Kom ons gaan slaap. Al die vure is al dood. En môre vier Samaria fees.”
Sihon gaan die hut binne en Johanan volg hom talmend. Hulle gaan lê op hul biesiematte en trek hulle toe met hul karosse, want ’n ontydige koue slaan uit die grond op.