Читать книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter - Страница 5

1

Оглавление

Toe die basuingeskal aangehef word, los die werkers in die klipgroef almal hul gereedskap en kyk op na die stadspoort van Samaria. Die menigte voor die poort gaan so aan die juig en skreeu dat die basuine skaars hoorbaar is.

Alle oë is gerig op die optog wat teen die ronde heuwel opkruip na die stadspoort, waar die skare hoe langer hoe opgewondener word. Uit die rumoer styg gaandeweg ’n ritmiese geroep op: “Isebel … Isebel … prinses Isebel!” Die skare begin die optog tegemoethardloop, strooi blomme in die pad.

’n Lang en indrukwekkende optog dié. Vooraan die gewapende ruiters wat hul perde spoggerig laat kopspeel en dwarspassies uitvoer, die lanse f litsend in die son; dan die drie versierde waens met kappe van Tirreense purper, getrek deur lewendige swart hingste en beskerm deur die manne van ’n hoofman oor honderd; dan ’n lang streep voetgangers in priesterlike klere, vier-vier langs mekaar, baie plegstatig; dan swaar gelaaide oskarre, en kamele met hul drywers, alles in netjiese gelid; en heel agter ’n hoofman met honderd lansiers en een met honderd boogskutters.

Voordat die rumoerige skare by die voorpunt van die optog aansluit, kan die werkers in die klipgroef die kleinerige man in sy koningsklere op die voorste wa uitken en langs hom die lang, statige vrou; regop soos ’n standbeeld. Hulle wuif, die man vriendelik en die vrou stywerig. Dit maak die skare histeries sodat die ruiters en die voetsoldate hul hande vol het om dié wat nader storm van die waens weg te hou.

In die klipgroef het Johanan en Sihon ook hul hamers en beitels neergesit. Hulle verkyk hulle aan die skouspel. Dit lyk of die hele hang van die heuwel na die stadspoort aanskuiwe.

“Wat ’n pakkaas!” smaal Johanan versigtig-sag. “Lyk my Isebel het die hele Sidon na Samaria saamgebring.”

“Prinses Isebel,” vermaan Sihon sy maat. “Onthou, môre word sy die vrou van prins Agab van Israel.”

“Moenie sonde soek nie, Sihon …”

Sihon terg nie verder nie. Hy weet hoe kriewelrig sy vriend kan raak, en die opsigters is gewoonlik die ene ore. Tog wil hy Johanan nie heeltemal los nie. Hy voel lus om ’n bietjie aweregs te wees. “Onthou, prinses Isebel is die dogter van koning Etbaäl van Sidon. Sy is gewoond aan rykdom; daarom het sy so baie bagasie,” sê hy bedaard.

“En ’n hele kasarm priesters op die koop toe,” kla Johanan harder as wat hy behoort te doen. “Sy waag baie om met so ’n boel Baälpriesters in Samaria aangesit te kom. Die vermetelheid!”

“Los dit,” keer Sihon. “Ons kan nie hier staan en stry nie.” Hy loer na die geselpaal daar eenkant. “Een ding kan ek jou sê: Ons gaan nog heelwat van prinses Isebel hoor. Hulle sê sy’s ’n voorslag.”

Johanan wil weer praat, maar toe gewaar hy die opsigter hier kort by hulle; ’n groot, iesegrimmige man wat hom altyd gedra asof hy al Israel se sondes op iemand wil wreek. Die twee gryp dadelik hul hamers en beitels.

“Aan die werk!” bulk Obed, die opsigter. “Verkyk julle jul ook aan die Baälkaravaan? Pleks dat julle klippe kap.”

Sihon kom orent en vee die sweet uit sy oë. “Ons het maar net gekyk na koning Etbaäl en prinses Isebel …”

“Daardie Baälfeeks met haar priestergespuis!” bulder Obed. “Wat is daar aan haar te sien? En aan haar verpotte pa?”

“Sy is die bruid van prins Agab.” Sihon sê dit half uitdagend sodat Johanan ontsteld na hom loer. Sou Sihon meen dat die koms van Isebel alles klaar verander het?

Obed se growwe gesig word rooi. “Jy terg my, jou vervloekte Kanaäniet!” Hy slaan Sihon ’n hou oor die linkerskouer sodat die voorslag van die karwats die vel op sy rug oopkloof.

Sihon bly doodstil staan, maar sy vuis klem om die steel van die hamer. Gou spring Johanan tussen hom en Obed in. Sihon se asem jaag, maar hy sê niks verder nie. Vir ’n Kanaäniet is dit ’n wet van die lewe om stil te bly en te verduur. Só is hy grootgemaak.

“Waarom slaan jy hom?” vra Johanan. “Hy praat mos die waarheid. Isebel gaan nog koningin van Israel word.”

“Stil!” gebied Obed. “Of wil jy ook ’n hou oor jou harspan hê?”

“Aan mý slaan jy nie. Ek is ’n Israeliet, Nabot van Jisreël se seun.”

Obed meet Johanan met die karwats. “Israeliet ofte nie …”

“En hoe dink jy wat sal met jou gebeur as ek vir die hoofopsigter gaan vertel wat jy oor prins Agab se bruid gesê het?”

Obed gluur Johanan en Sihon aan, maar sy houding verslap stadig. “Bewerk daardie klippe,” kners hy, draai om en stap weg om sy gesag op ’n ander plek te laat geld.

Sihon druk met sy vereelte hande op die growwe kant van sy klip, probeer die woede in hom bedwing.

“Hy’t jou rug oopgeslaan,” sê Johanan. “Wat het jou besiel om so te praat?”

Sihon skud sy natgeswete kop. “Laat hom maar slaan,” sê hy. “Hy slaan net die haat dieper in my in … Slae is goed vir ons Kanaäniete; dit help dat die vuur in ons nooit geblus word nie.”

“Waarom het jy hom getart? Ek ken jou nie so nie.”

“Omdat ek vandag amper vry voel. Isebel se koms het ’n nuwe pad oopgemaak. Sy bring ’n nuwe geluid in Israel. Haar naam het haar vooruitgeloop na Samaria. Sy sal haar stem verhef ter wille van Baäl en ons Kanaäniete.”

“Sihon,” sê Johanan besorg, “jy moenie met vuur speel nie.” Hy knabbel met sy beitel aan die klip, maar weet dit skaars.

Sihon antwoord nie. Hulle praat nie verder nie, werk net aan die vierkantige klippe.

Die poort het nou die optog en die skare ingesluk. Die enigste beweging voor die poort is dié van die handelaars wat onder hul afdakkies rondspring om munt te slaan uit die menigte nuuskieriges wat van heinde en ver gekom het om koning Etbaäl van Sidon en sy dogter Isebel te verwelkom.

Binne-in die stad moet daar groot opwinding wees, want telkens klink ’n dawerende gejuig op, gedra deur die warm, dor wind uit die heuwelland van Israel.

Vir Sihon is dit ’n genoeglike geluid. Hy glo vas dat dit die voorspel is tot iets opwindends. Maar Johanan luister met vertwyfeling en onrus.

Toe hulle weer rug reguit maak, merk Johanan dat die haal oor Sihon se rug bloederig glinster. Hy gaan haal Sihon se jurk. “Trek dit aan,” sê hy. “Die son is nie goed vir jou wond nie.”

Sihon trek dit aan en kreun toe die growwe weefstof die seerplek aanraak. “Waarom is alle Israeliete nie soos jy nie?” sê hy vir Johanan.

“Het ons dan nie saam grootgeword nie?”

Sihon blaas op sy hande. “Ek wens alles was nog soos toe ons jonk was, toe ons saam skaap opgepas het. Maar hoe ouer ons word, hoe meer ons van die wêreld en die mens verstaan, hoe meer loop ons paaie uitmekaar.”

“Dit hoef nie so te wees nie,” antwoord Johanan.

Sihon kyk met ’n trekkie weemoed na sy vriend. “Jy is nou eenmaal ’n Israeliet en ek ’n Kanaäniet, en nie een van ons kan daar iets aan verander nie.”

Meer durf hulle nie praat nie, want Obed, gedryf deur sy magtelose verset teen wat hierdie dag se gebeure beteken, kom weer aangeloop; nie om te dryf nie, nie om te dreig nie, maar bloot om te praat. Hy kom staan voor hulle met die karwats oor sy skouer. Johanan en Sihon kyk nie eens op nie, werk bloot rustig voort.

“Het julle gehoor?” sê Obed nadat hy ’n rukkie rondgestaan het. “Hierdie boel Baälpriesters wat sy saamgebring het, gaan in die paleis eet … Verbeel jou! In die paleis van Samaria. Agt honderd en vyftig stuks.”

Hy wag dat hulle iets moet sê, maar nie een praat nie. ’n Warm prikkeling gaan deur Johanan se lyf en hy slaan die beitel ’n keer mis. Onmoontlik, dink hy. So dwaas kan koning Omri en prins Agab nie wees nie. Seker weer ’n skinderstorie wat op die mark uitgebroei het. Maar Sihon se hart juig, al hou hy hom kalm.

“Baälpriesters in die koningspaleis van Israel!” sê Obed hard. “Mag die Here ons bewaar. En wie sal moet betaal vir hul vrete en drinke? Die belastingbetalers van Israel. En ons haal juis die kromme note om te betaal vir al koning Omri se bouwerke.”

Hy kom hurk vlak by Johanan asof hy met sy blote nabyheid van hom ’n uitspraak wil afdwing. Maar toe die twee steeds niks sê nie, praat hy sag, half intiem: “Sal my nie verbaas as Agab vir Baäl ’n tempel laat bou nie …”

Johanan kom vinnig orent en selfs die eenvoudige Obed gewaar die spanning in sy lyf. Maar Johanan sê niks. Obed kyk met naïewe afwagting na hom op.

“Jy staan net daar en sê niks,” kla Obed. “Jy, die seun van Nabot van Jisreël.”

“Ek glo dit nie!” bars Johanan uit. “Ek glo niks wat jy sê nie. Alles ouvroustories.”

“Ons sal sien,” antwoord Obed belangrik. “Hoe dink jy, waar gaan daardie Baälkasarm aanbid, waar gaan hulle of fer as hulle nie ’n tempel het nie? Of meen jy hulle gaan net in die paleis rondsit en met hul tone speel?”

“Ek glo dit nie!” herhaal Johanan driftig.

Obed vat ’n klipsplinter en slaan Sihon op die kneukel daarmee. “En wat sê jy, Kanaäniet?” vra hy moedswillig. “Jy bid seker dat Isebel van Sidon vir Agab om haar pinkie moet draai.”

Sihon kom ook orent. Die woorde wat hy vir hierdie ruwe, gevoellose man moet sê, stoot in hom op: Ja, ek bid dat Baäl die hele Israel sal verower soos hy al ’n deel van Agab se hart verower het; ja, ek bid dat Isebel Kanaän weer groot en vry sal maak soos dit was voor Josua en Dawid dit gevat het; ek bid dat sy so sterk en slim sal wees dat sy met Agab sal werk soos met ’n toutjiespop.

Dit is ’n gebed. Hy bid dit met oop oë daar in die bloedige son van die klipgroef. Maar sy lippe bly styf toe, want teen sy rug voel hy deurentyd die vuurstreep van die sambok.

“Praat! Ek weet wat in jou harspan omgaan, maar ek wil dit hóór.” tart Obed, want in sy frustrasie soek hy ’n slagof fer om te teister, al is dit bloot met woorde.

“Waarom moet ek praat? In dié land het ’n Kanaäniet g’n sê nie.”

Obed glimlag tevrede. “Dis reg, ’n Kanaäniet het g’n sê nie. Dink maar wat jy wil; dit is minder as ’n swaelspatsel.”

Al drie kyk verbaas op toe die ramshoring in die klipgroef opklink, want dit is nog nie middag nie. Johanan is verlig, want hy weet nie hoe lank Sihon nog sy humeur gaan beteuel nie.

Obed staan vinnig op. “En nou?” vra hy uit die veld geslaan.

Soos miere wat ’n soetigheid agtergekom het, swerm die werkers in die rigting van die wagtoring aan die kant van die klipgroef – meer as twee duisend Israeliete en Kanaäniete wat hul jaarlikse termyndwangarbeid hier moet verrig.

Johanan en Sihon volg Obed na die samedromming by die wagtoring. Hulle is van die laastes wat daar aankom, maar hulle druk en beur deur tot naby die voet van die toring.

Op die vierde trap van die wagtoring, waar almal hom goed kan sien, staan die hoofopsigter van die werkers, ’n lang en indrukwekkende Fenisiër wat koning Etbaäl aan koning Omri geleen het omdat hy alles van bouklip weet. Hy is ’n genadelose man wat gesag handhaaf deur vryelik gebruik te maak van die geselpaal.

Daarom vrees die manne hom. Daarby is hy ’n hovaardige man wat kennelik op die werkers neersien, hulle beskou as slawe wat bloot moet werk en eet en stilbly. Daarom verafsku die manne hom ook.

Die Fenisiër hou sy hande op en die skare word stil, so stil dat ’n skielike gejuig in die stad weer duidelik gehoor kan word. Hy praat hard sodat almal hom kan hoor. “So sê Omri, koning van Israel: Môre sal daar nie gewerk word nie. Dan vier Samaria die troue van prins Agab en prinses Isebel. Dan kan julle rus en eet en wyn drink …”

Die toejuiging is allermins geesdriftig. Johanan staan doodstil. Hy kan aanvoel dat hier iets verkeerd is. Die manne is gespanne en onseker. Sihon voel dit ook aan en juig halfhartig.

Die Fenisiër gebied weer stilte. “So sê Omri, koning van Israel, verder: Daar sal nie nou verder gebou word aan die vestingmuur van Samaria nie. Daar moet eers ’n tempel gebou word vir die heilige Baäl …”

’n Ruising van afkeer trek deur die skare. “Dis nie koning Omri wat so beveel nie!” roep Obed uit. “Agab sit daaragter. Dis sy trougeskenk vir daardie Baälprinses!”

In die toenemende gedruis van stemme hoor Johanan weer sy vader, Nabot, se woorde daardie dag toe hulle vir die eerste keer gehoor het dat Agab met Isebel gaan trou: “Agab sal Israel teruglei na die woestyn. Hy sal die toorn van die Here op ons neerhaal.”

“Stilte! Stilte!” skreeu die Fenisiër en strek sy hande weer uit asof hy so wil keer dat die skare nog digter om die wagtoring saamdrom. “Die bouklippe vir die tempel moet kleiner wees, fyner afgewerk as dié vir die muur. Oormôre sal julle geleer word hoe om dit te doen.”

En toe, hard en gebiedend, met die arrogante gesag van ’n vors wat nie weerspreek durf word nie: “Dit is al. Aan die werk!”

Die gemor van ’n deel van die skare word ’n kreet van verset. Hulle dring nog digter saam om die wagtoring sodat Obed, die opsigter, tot op die onderste trap gedruk word.

Obed is ’n man wat net wit en swart ken. Vreugde laat hom altyd jubel, hartseer laat hom altyd huil, en woede verblind hom soos ’n gekweste beer.

“Ek sal nie vir Baäl werk nie!” skreeu Obed.

“Ons sal nie vir Baäl werk nie!” weerklink sy kreet uit die skare.

Vir Obed voel dit of die uitroepe van die werkers ’n krag is wat hom die trap op dra. Hy klim stadig boontoe en alles wat hy al so lank opgekrop het, stroom deur hom: ’n Fenisiër wat Israeliete in die klipgroef dryf en teister, Fenisiese boumeesters, Fenisiese skrynwerkers, Fenisiese messelaars, Fenisiese goud- en silwersmede wat die paleis versier, en hý moet met ’n karwats sy eie mense aandryf net om elke dag te kan eet. Hy dink nou aan niks; nie aan die gevolge of straf of pyn nie. Al wat hy voel, is wrewel, jaloesie en haat vir alles en almal van buite wat besig is om Israel te vergiftig.

Die Fenisiër het iets in Obed se houding, in sy oë, gewaar wat hom die klompie soldate laat ontbied wat hom vergesel het. Maar die soldate is so vasgevang in die gedrang dat hulle nie eens hul swaarde kan trek nie.

“Dit is ’n bevel van die koning!” roep die opsigter uit, maar die opstandiges hoor hom nie, wil hom nie hoor nie. Hulle hou aan met raas en dreig totdat Obed sy hande uitstrek. Toe word hulle stil.

“Jy buig ook voor Baäl,” beskuldig Obed die Fenisiër. “Jy’s ’n slawedrywer … Jy behandel ons soos drek!”

Dit maak die skare waansinnig. Hulle swerm met die trap op, party probeer teen die toring opklim. Ander gooi die Fenisiër met klippe, want al die dae se swoeg in die hitte en koue, die min kos, die nagte van koud slaap, die pyn van die sweepslae, die seer hande en stywe spiere trek op hierdie oomblik saam.

Dié wat van onder af stoot, druk Obed die trap op. Die Fenisiër retireer hoër op en trek sy swaard uit wat hy altyd dra juis vir ’n geval soos dié. Nou is hy op die klein platform bo-op die wagtoring. Hy staan uitdagend daar, sy wapen gereed.

“Nog een tree en jou kop rol,” dreig hy Obed.

Maar Obed gee nie nog een tree nie. Hy slaan die hoofopsigter ’n woeste hou met die sweep deur die gesig. Die oomblik toe die man sy gesig wegruk, is Obed en sy makkers op hom. Hulle slaan hom, trap hom, skop hom in die maag, op die niere. Toe gryp hulle hom en gooi hom van die wagtoring af. Dié daar onder gee vinnig pad, en die Fenisiër breek sy rug op ’n halfklaar bouklip.

En toe hy nog kreun en roer, met bloedskuim om sy mond, tel hulle klippe op en stenig hom.

Obed is oorweldig. Hy staan triomfantelik op die wagtoring, hou sy arms omhoog om stilte te vra. Die skare kom tot bedaring. “Gaan ons vir Baäl ’n tempel bou?” vra hy met vorstelike gewigtigheid.

“Nee!” bulder ’n groot deel van die menigte en kom weer in beroering.

“Dan moet ons dit vir die koning gaan sê,” beveel Obed. “Dié wat nie vir Baäl wil werk nie, volg my!”

Hy storm die trap af en vat koers teen die helling op na die poort van Samaria. ’n Menigte werkers stroom agter hom aan, juigend, baldadig.

Die koning se wingerd

Подняться наверх