Читать книгу Onderwêreld - Fanie Viljoen - Страница 10

<h3>Boeke en Boggom</h3>

Оглавление

Ek druk my selfoon dood en staar ’n ruk lank net na Eckardt se sel daar in die kas. Sy hardloopskoene is weg, sien ek. Dan draf hy seker nog iewers buite. Ek weet hy is fanaties daaroor. Elke oggend vyfuur gaan draf hy. Soms in die middae ook. Maar hy was nog nooit laat nie. Het daar iets met hom gebeur? Ek probeer die gedagte na my agterkop skuif, maar soos ’n opgeblaasde bal wat jy nie onder die water kan hou nie, dobber dit weer na die oppervlak.

Naderhand trek ek net my skouers op. Hy sal wel die een of ander tyd terug wees. Dalk met ’n lekker storie om te vertel. Wie weet?

Ek stap uit die kamer uit, trek Eckardt se kamerdeur agter my toe en kies koers klaskamers toe. Eerste periode: Engels by Willem Wikkelspies. Ek is laat.

Pouse. Ek het Eckardt nog nie gesien nie. Ek hardloop gou terug na Huis Da Vinci om te kyk of hy nie terug is in sy kamer nie.

“Hei, what’s up? Hoekom so haastig?” vra TJ toe ek verby hom hardloop.

“Sal jou later sê, TJ,” antwoord ek vinnig.

“Hoe lyk dit met ’n pot skaak vanmiddag?” roep hy agterna.

Ek lig net my hand. Weet self nie wat dit moet beteken nie. Ek wil net eers gaan kyk of Eckardt orraait is.

Die koshuis is verlate. ’n Skoonmaker is in die ingangsportaal besig. Hy kyk op van sy besem toe ek verby hom loop. Ek het nie nou lus om trappe te klim nie, so ek druk die hysbak se knop. Die deur spring byna onmiddellik oop. Ek druk die knoppie vir die boonste verdieping en die hysbak begin met ’n ruk beweeg. Toe die deure weer oopgly, hardloop ek in die gang af na Eckardt se kamer. Hy is steeds nie terug nie.

Skielik biep my sel. Eckardt! dink ek dadelik, maar dan onthou ek sy selfoon is nog in sy kas. Dit kan nie hy wees nie. Ek kyk na die skerm. Die SMS is van Nicole:

Mis jou.

Net dit.

My duim beweeg vinnig oor die knoppies. Tik die antwoord: Luv u.

Toe dink ek eers daaroor na en vee die boodskap uit, tik eerder: Mis jou ook.

Eckardt se kamer voel skielik baie leeg. In die spieël bokant die bed sien ek nou dat ek ’n hengse frons op my voorkop het. Vrek, dit lyk byna soos my pa s’n. Ek probeer ontspan. Vryf my hande deur my hare, draai my gesig, diékant toe, dan dáárdie kant toe. Wonder of ander mense ook soms so vir hulleself staar.

Ek wonder of Eckardt dit doen.

Hy is ’n flippen intense ou. Mens besef dit as jy ’n ruk lank in sy geselskap is. Hy weet van goed wat die res van ons ouens nie ’n clue van het nie. Net soms skemer dit deur as jy met hom praat. Goed soos kwantumteorieë en hul invloed op kwantumrekenaars. Hoe rekenaars met die binêre syfers nul en een werk, maar dat daardie nul en een in kwantumrekenaars gelyktydig dieselfde staat kan voorstel. Qubits, noem hy dit. Wat ook al. Gaan glo die rekenaarwêreld op sy kop keer.

Ongelooflik die goed waarmee hy soms uitkom. En dis van lees. “Kennis kos nie geld nie,” sê hy. “Kennis kos tyd. Jy moet tyd maak, op jou watsenaam gaan sit en lees.”

Ek lees nie baie nie. Net as ek rêrig verveeld is. Gee my eerder ’n rugbybal wat ek onder my arm kan vasdruk terwyl ek ’n paar Affies-ouens systap op pad doellyn toe. As dit nie was dat my pa my so gedruk het nie, het ek ook nie ’n duiwel omgegee vir skoolwerk nie. Maar ek doen dit om hom van my rug af te hou. Nee, seker nie net daaroor nie. Ek doen dit omdat – ag, los dit liewer.

Eckardt is anders. Hy lees omdat hy wil. Hóéveel boeke al hierdie paar maande dat ek hom ken. Die boeke staan netjies gerangskik op sy boekrak. Dalk nog alfabeties ook, as jy nader gaan kyk.

Skielik vang my oog een van die boeke: Depression.

Nou vir wat sal hy só iets wil lees? Het hy ’n probleem? Ek probeer terugdink aan die baie kere dat ons saam was. Die onderwerp het nooit opgekom nie. Oukei, hy is nie juis ’n party animal nie. Altyd stil, op sy plek, half eenkant. Maar genoeg deel van die groep om nie soos ’n seer vinger uit te staan nie. Dis seker wat jy moet doen as jou ouers jou in jou finale skooljaar in ’n nuwe skool kom smyt. Die laaste ding wat jy wil doen, is uitstaan, anders wees. Dit kan nag word vir jou.

Skielik oorval ’n skuldgevoel my. Ek was amper die ou wat dinge swaar gemaak het vir hom. Bloot omdat hy nuut was hier by Lawson.

Maar dit het verander. Ek het gesien hy is eintlik ’n cool ou. Of liewer, dit was meer as dit. Ek het iets anders in hom gesien. Iets van my broer, John.

Wiskunde ná pouse. Die onderwyser is Bill Eden. Boggom, noem party ouens hom, omdat hy op sy beste na een van die Drakensberg se bobbejane lyk, al is hy Einstein reincarnated.

“Waar’s Eckardt?” vra hy onmiddellik toe sy oë oor die klas dwaal en op die leë stoel tot ruste kom.

Niemand antwoord hom nie.

Ek kan maar net sowel sê, reken ek.

“Ek het hom nog nie vandag gesien nie, meneer Eden.”

“Greg?”

“Hy was nie in sy kamer vanoggend nie.”

“Weet enigiemand waar hy is?”

Daar is geen reaksie.

Boggom se voorkop plooi. “Goed, ons was gister besig met die trigonometrie-oefeninge op bladsy 120. Ek wil hê julle moet dit klaarmaak dat ons kan aanstap na die volgendes toe. Ek is binne vyftien minute terug. Moet nou om vadersnaam nie die plek afbreek nie, manne.”

Toe hy uit is by die deur, begin die gesprekke oor en weer vlieg. ’n Stoeigeveg breek voor in die klas uit. Ek steur my nie daaraan nie, al weet ek dit gaan later voor my kop gegooi word: “Greg, jy is hoofseun en jy het dit nie gekeer nie.”

Plank kom sit op my lessenaar. “So, bru, dink jy hy’t ge-rock off?”

“Weet nie,” antwoord ek. “Maar ek dink nie so nie. Hy sou iets gesê het.”

“Dalk het sy pa-hulle hom kom haal iewers in die nag. Dalk ’n krisis by die huis.”

“Plank, jy klink nou nes een van daardie kamma-mense met hulle kamma-probleme in die sepies wat jy so kyk.” Jip, kan jy glo, ’n rugbyslot wat ’n sepieslaaf is. “Watse krisis kan dit nou wees?”

“Weet nie, G. Dalk het iemand ge-peg, who knows. Dit kan wees, hè? Sy pa-hulle kon hom maklik kom haal het. Wou dalk nie iemand pla daardie tyd van die nag nie. Dalk het hulle gedink hulle sal maar eerder net die volgende dag die skool bel en sê wat aan gaan. Dat hulle nie moet worry nie.”

“Jy dink?”

Plank se oë is vandag helderder as gewoonlik. Ook minder bloedbelope. Miskien dié dat hy vandag met sulke goed vorendag kan kom.

“Dis seker wat Boggom nou gaan uitvind het,” sê ek. “Iemand moet weet.”

Later kom Boggom terug. Die stoeigeveg voor in die klas het teen daardie tyd genadiglik opgehou en die klas is stil – een van die ouens het kywie gehou.

Boggom skuif sy das ingedagte reg en gaan aan met die klas asof niks gebeur het nie. Ek soek op sy gesig vir ’n teken. Wat het hy uitgevind? Ek word niks wyser nie, daarom gaan vra ek hom toe die klas verby is. Hy antwoord net: “Meneer Andersen neem kennis daarvan. Sulke goed het al vantevore met ander leerders gebeur.”

“Plank – ek bedoel Mark – sê Eckardt se ouers het hom dalk deur die loop van die nag kom haal. Dat hulle dalk vandag sou laat weet het.”

“Kan wees, Greg. Maar soos ek sê, los dit vir meneer Andersen. Hy sal met Da Vinci se koshuisvader ook gesels.”

Op pad na die volgende klas, spook die ding nog by my. Eckardt se selfoon het nog in sy kas gelê. En sy laptop staan ook nog in sy kamer. Sou hy dit gelos het as hy saam met sy pa-hulle weg is?

Onderwêreld

Подняться наверх