Читать книгу Onderwêreld - Fanie Viljoen - Страница 9
<h2>Log File: Die dag voor die laaste skooljaar begin</h2>
ОглавлениеDie Sterkfonteindam raak agter ons weg. Ons steek die grens oor van die Vrystaat na KwaZulu-Natal, af-af met die Oliviershoekpas, verby Little Switzerland. Daar is ’n legende wat sê dat ’n Boere-pa en sy seun ’n draak hier gesien het; hoog teen die pieke van die berg tussen die wolke. Dis waar die naam vandaan kom. Drakensberg. Maar dit word ook uKhahlamba genoem, want nog ’n legende sê dít is die donderende geluid wat Zulu-krygsmanne se spiese maak as hulle dit op hul koeivelskilde slaan en die eggo’s van die berghange terugkeer.
Terug op Heilige Grond, dink ek daardie dag toe ek en my ma by Lawson Kollege se skoolhekke inry. Dit is maande voor die dag dat ek Eckardt se selfoon in sy kas kry. Dit is die dag, vroeg in Januarie, toe ek vir Eckardt die eerste keer ontmoet het.
My laaste skooljaar het aangebreek. Jy dink dit kom nooit nie. Maar dan, op ’n dag, is dit daar en jy besef dit was eintlik bitter gou.
“Wat is jou planne vir die pylvak?” kom my pa se vraag van die vorige aand weer by my op terwyl ek daar in die 4 x 4 langs my ma sit. Pa se streng oë het my vasgepen.
“Pylvak?”
“Donder, tog, Greg, jy is in die beste skool in die land en jy weet nie wat ‘pylvak’ is nie?”
“Ek weet, dis net …” Ek het my rug reguit getrek. My eintlik vererg.
“Jy het nie planne vir die jaar nie.”
“Sal dieselfde wees as verlede jaar. Pa weet tog.”
“Dis nie goed genoeg nie,” het hy die woorde deur sy lippe geforseer. “Verlede jaar is verby. Wat doen jy dié jaar?”
“Ek is hoofseun en –”
“En wat?” Ek het hom nie geantwoord nie. “As ek vanjaar by Turret Media dieselfde doen as verlede jaar, haal my mededingers my in en kan ek volgende jaar deure toemaak.”
Turret Media. My pa se magtige mediamasjien. Sy lewe draai om die plek, en hy reken myne moet ook.
Ek het geknik. “Ek sal daaroor gaan dink.”
“Jy moes al lankal. Ek het beter verwag van jou,” praat hy met my asof ek een van die direkteure van Turret is. “Ruggraat! Kry een! Nie soos …”
Dis toe dat my ma opgestaan en geloop het. Pa het ophou torring. Die atmosfeer in die sitkamer was skielik gelaai. Ons het almal geweet wat hy wou sê.
Dit was gisteraand.
Gelukkig is my pa nie nou hier nie. Dis net ek en my ma in die kar. Ek maak my sitplekgordel los en leun met my kop teen die venster langs my om by die venster uit te kyk. Weerskante van die geteerde pad is ’n laning bome wat met hulle lae takke oor ons reik. Groen grasperke, netjies gesny, soos krieketvelde. Plek-plek is daar tuine met rooi, oranje en geel blomme. Verder weg is die skool se sportterrein, die moderne skoolgeboue en nog verder, die koshuise. Almal vernoem na die een of ander man wat ’n voorloper was in sy tyd: Pierre Curie, Albert Einstein, Leonardo da Vinci, Ludwig van Beethoven en Greg Owen. Oukei, ek lieg oor die laaste een. Die ander koshuis is vernoem na Le Corbusier, die Franse argitek wat geboue gesien het as “masjiene waarin mense leef”.
En as agtergrond vir die enorme skoolterrein lê die pieke van die Drakensberg: Cathedral Peak, Mnweni Needles, Devil’s Tooth, Amphitheatre en nog ’n spul ander. Nicole spot soms met my dat ek in die Drakensberg-seunskoor is, maar die Drakies se skool is ’n hele ent suid-oos van hier af.
Lawson is ’n skool vir die super-rykes se seuns. ’n Prestige-kollege wat omtrent twaalf jaar gelede opgerig is deur ’n ou ballie met die naam Thomas Lawson. (Sy kleinkind, TJ, is ook vanjaar in Matriek.) Oupa Lawson het sweerlik meer geld as verstand of redenasievermoë gehad. Ek meen, vir wat sal jy ’n seunskool hier in die middel van verdwaal-se-gat kom bou? Maar, so vertel die skoolhoof, doktor Alec Pienaar, altyd: “Thomas Lawson het ’n droom gehad: om ’n teelaarde …” (ja, wragtig, dit was Thomas se eie woorde) “. . . teelaarde te skep waarin die sakeleiers van die toekoms gekweek kan word.” Wat hy nie gesê het nie is dat die “sakeleiers van die toekoms” hulle empires sal moet bou met die geld wat hulle pappies in die verlede geërf, verdien of gesteel het. Reuke van korrupsie wat altyd maar vlak lê onder ’n paar van hierdie sakeleiers se Italiaanse snyerspakke. Maar ons praat nie daaroor nie, nes ons nie oor geld praat nie. As jy geld het, hou jy jou bek.
So, dis waar ek nou is. Lawson Kollege. En die plek is relatief nuut as jy dit vergelyk met ander skole van sy soort: Grey Kollege van Bloemfontein, Afrikaans Hoër Seunskool van Pretoria, Paarl Boys High. Gevolglik het die skool nie ’n vreeslike geskiedenis om op te steun nie. Sekerlik ’n hartseer feit as dit kom by die opstel van prospektusse en sulke goed. ’n Ryke geskiedenis regverdig mos klasverskille. Maar ten spyte hiervan is daar ’n waglys langer as die N1 tussen die Kaap en Pretoria om in die skool te kom. Maar as jy jou pampoenbril afhaal en realisties na hierdie waglys kyk, sou jy besef dat die meerderheid name daarop nie naastenby kwalifiseer vir die ongeskrewe kriteria wat gestel word nie. Dit maak die lysie aansienlik korter, maar nietemin ’n keerwal om “ongewenste elemente” uit te hou, soos my pa sal sê.
My oog vang vir ’n oomblik die bord met die aanwysings langs die pad. Kantore en skoolgeboue, reguit vorentoe. Swembad, skiet- en tennisbaan, rugby-, krieket-, sokker- en hokkievelde links. Koshuise en perdestalle, regs. Ek grinnik elke keer as ek dit sien: koshuise en perdestalle regs.
My ma volg die pad na die koshuise. Daar staan reeds ’n klomp motors, blink in die oggendson. En ek lieg nou nie – driekwart van hulle is splinternuut asof hulle vanoggend van die motorhandelaar se vloer afgetrek is. Nuwe jaar, nuwe wiele.
Oral is daar beweging. Seuns wat tasse uit motors haal en by die trappe opdra na die koshuise – nuut geverf ná die vakansie. Ouers staan rond met hulle designer-sonbrille en deel stywe-stil glimlagge met mekaar. Net enkeles waag dit om te gesels. En elke jaar is dit dieselfde onderwerpe: Lawson se kanse om vanjaar weer as topskool te eindig in Suid-Afrika, atletiekrekords wat behoort te spat op die nasionale atletiekkampioenskappe, bla-bla-bla.
Ek haal my sonbril af voordat ek die motor se kattebak oopmaak. Ek hoor hoe my ma iemand groet en hulle ’n oomblik lank gesels. “Rina, jy lyk goed,” sê die ander vrou. Ek luister nie verder nie, slinger net my laptop se band oor my skouer en kry die tasse beet, een in elke hand.
“Tonight, VRL meeting,” sê die onderhoofseun, Kwanele Twala, en klap my op die rug. “Seven o’ clock. Don’t be late.”
“Wie het dit gereël?”
“I did,” kap hy terug.
“Vir wat? Ek is hoofseun, het jy vergeet?”
“So why didn’t you organise it then?” Hy loop weg. Ek het lus en … nee, wag.
“Probleme?” vra iemand agter my. Mark Gibbons, a.k.a. Plank. ’n Tawwe ou, voorryspeler in rugby en, anders as wat mens sou verwag, slim ook. Maar omtrent altyd op ’n plug. Vandaar sy konstante glimlag.
“Niks wat ek nie kan handle nie,” antwoord ek.
“Hoe lyk’it?”
“Bullet-proof, Plank, en jy?”
“Cool, man,” antwoord hy. “Reg vir die laaste jaar van vriendelik-verpligte breinspoeling?”
“Wens dit was al verby, Plank,” sê ek en probeer my greep verstewig om die handvatsels van die swaar tasse wat my vingers oopdwing.
“Net ’n heart-beat, my bru, dan laai jy daardie tasse weer in die kar en skud jy die stof en memories van hierdie plek van jou voete af.”
“Wyse woorde, Plank. Hoop jy’s reg.”
Tussen die motor en Huis Da Vinci groet nog ’n paar ouens my. Maar ek het nie nou lus vir how’s-your-mothers nie. Daar sal later baie tyd wees daarvoor. Nou moet ek eers hierdie twee tasse in my kamer kry.
“Gee vir my een,” sê my ma agter my.
“Dis oukei, Ma, ek sal regkom.” Ek kan nie dat die ander ouens sien my ma help my om tasse te dra nie.
“Maar Greg, kyk net hoe swaar kry jy. Gee my dan net jou laptop … uh, skootrekenaarsak.”
Ek skud my kop, sit een van die tasse neer en hou die swart leersak na my ma toe uit. Sy sal nie rus as ek haar nie laat help nie, weet ek. En daar is seker een ding wat erger is as jou ma wat jou tasse dra: jou ma wat die heeltyd neul en kerm dat sy jou wil help. Asof jy vir die eerste keer skool toe gaan. Dit klink nou of ek kla. My ma is eintlik baie nice. Ek weet sy wil net die beste hê vir my. Help waar sy kan. Dit kom uit haar hart uit. En al lyk dit nie altyd so nie, wil ek ook hê sý moet net die beste kry. Eintlik kry ek haar jammer, want ek weet, as ek my goed neersit, en sy help uitpak het, moet sy terugry Jo’burg toe. Na daardie groot huis in Sandhurst, waar sy bedags alleen gaan wees. Waar sy net die huishulpe en die televisie as geselskap sal hê, soms my pa moet vergesel na die een of ander stywe werksfunksie, of, as sy genoeg moed bymekaarskraap, ’n vrouevergadering bywoon waar die skyn en venyn agter facelifts weggesteek word.
“En nou, Greg? Kry daardie tasse jou onder?” vra ’n man by die koshuis se voordeur. Dit is Pete Andersen, die skool se adjunkhoof. “Hoop nie jy het laat slap lê die vakansie nie? Ons gaan jou nodig kry met die atletiek, maar gelukkig is die 100 meter jou sterk punt, nie gewigstoot nie!”
“Meneer hoef nie daaroor te worry nie,” glimlag ek my fake smile wat ek hou vir geleenthede soos hierdie wanneer ek met onderwysers te doen kry.
My kamer is, soos die res van die Matrieks s’n, op die boonste verdieping van die koshuis. Heel onder is die graadagts, dan neges, en so aan. My ma maak dadelik die venster oop. Sy het ’n ding omtrent vars lug.
“Sit eerder die aircon aan, Ma,” sê ek en beduie na die remote control teen die muur.
Sy maak die venster weer toe en maak soos ek gevra het. Ek hou haar ’n ruk lank in stilte dop terwyl sy die eerste tas oopknip. Haar hande bewe.
“En nou?”
Sy kyk op, teen die muur vas. “Jou pa,” sê sy sag ná ’n ruk stilte. “Hy is nie regtig so hard nie … Hy ís lief vir jou. Jy weet dit, nè, Greg?”
“Natuurlik.”
Sy draai haar kop na my toe. Die hartseer lê vlak. “Jy sal nie ook, soos John …”
“Ma, moenie worry nie.” Ek trek haar nader en druk haar teen my. “Ek is oukei.”
“Dankie. Dankie.” Ná ’n ruk maak sy haar arms los en vat ’n oomblik lank my hande, kyk daarna. Sy glimlag. “Ietsie ekstra vir jou,” sê sy en haal ’n klomp honderdrandnote uit haar handsak.
“Ek kry mos sakgeld.”
“Ek weet.” Sy haal haar skouers op.
Daarna kom die uitpakkery. My ma wil dit doen. Ek laat haar begaan, trek net die kamerdeur toe dat die ander ouens nie sien nie. Terwyl sy besig is, stap ek met die gang af, verby die badkamer wat ek met drie van my buurmanne moet deel. Elke vier kamers op hierdie vloer het een. Dis geriefliker as een groot gemeenskaplike badkamer, soos ek die vorige jare gehad het. Maar ek sou een vir myself verkies het. Die gang loop aan die onderpunt, by die trap en hysbak, dood in ’n formele sitkamer – ook net vir Matrieks – waar ons gaste kan ontvang. Die plek het leersitplekke, dik rooi matte en donker houtpanele teen die mure waar moderne skilderye hang. Daardie plek sal my maar min sien, dink ek. Dit herinner my te veel aan my pa se studeerkamer.
Die informele sitkamer – ons noem dit sommer die Hang-Out – is langs die formele sitkamer. Toegerus met ’n groot plasmatelevisie, DVD-speler met ongelooflike surround sound, klein biblioteek en gemaklike banke waar jy net kan chill as die stres van die skool vir jou te veel word. ’n Deel van die Hang-Out is afgeskort. Hier staan vyf rekenaars waarop ons skooltake of whatever kan doen. Ek verkies om my eie saam te bring. Elke kamer het ’n netwerkpunt waar jy jou laptop kan inplug en ongestoord kan werk.
Op hierdie verdieping is daar nie ’n studeerlokaal soos wat die ander grade het nie. Elke ou swot in sy kamer. En niemand kom check jou op nie. Matrieks is veronderstel om ’n verantwoordelikheidsin te hê. Maar laat jy slap lê, dan is die vernedering groot om jou dae te gaan omsit in die graadelfs se studeerlokaal.
“Greg!” Dis Ma se stem agter my.
“Ma?”
“Ek het gewonder wat het van jou geword.”
“Sorry, Ma, ek kyk net bietjie rond. Ons kon mos nooit sien waaroor die Matrieks van die vorige jare so te kere gaan nie.”
“Ons het die koelsak in die motor vergeet. Daar is ’n paar eet- en drinkgoedjies in wat ek vir jou saamgebring het vir jou yskas. Sal jy dit gou gaan haal, asseblief?”
Ek sit net af na die trap toe, toe ek ’n vreemde gesig tussen die ander ouens raaksien. Donkerkop, ongeskeer. Strak gesig. Sy oë kyk ’n oomblik lank na my van onder sy donker wenkbroue, flits dan weer weg. Hy stap af met die gang. Oor sy skouer hang daar ’n laptopsak. In een hand hou hy ’n stuk gevoude papier en ’n sportsak vas, in die ander ’n tas.
En ek kan dit sommer ruik: ’n nuweling. Kan jy nou meer? In ons laaste jaar. Sy pa moet connections uit ’n ander wêreld hê.
“Is jy seker jy is op die regte vloer?” vra ek toe ek hom inhaal.
“Ek kan tel,” sê hy, terwyl sy oë ’n oomblik lank op my vasgenael bly. Moeilikheid, sien ek. Hierdie ou soek moeilikheid.
“Ja, maar kan jy tot vyf tel? Hierdie vloer is net vir Matrieks.”
“Zero’s en One’s is al wat jy nodig het,” sê hy.
Ek frons, weet nie wat hy bedoel nie. Ek kan sien hy weet dit.
“Wie’s jy?” vra ek.
Hy bly ’n oomblik stil en kyk my net aan, sê dan: “Eckardt. My naam is Eckardt.” Toe draai hy om en loop verder die gang af.
Hy kan nou wegloop, dink ek, maar ons sal mekaar weer sien. Dalk nog later vanmiddag. Hy moet nie dink hy kan hier aankom met ’n houding nie. Ek en ’n paar van my pelle sal hom gou uitsort. Nes ons die graadagts gaan uitsort. Hardegat word sagtegat.