Читать книгу Onderwêreld - Fanie Viljoen - Страница 16
<h9>Sleeping beauty kry dinge aan die roer</h9>
ОглавлениеDie email glip cyberspace binne soos ’n koeël uit ’n pistool met ’n silencer. Stil en dodelik. Right on target.
Die sportdag is skaars verby toe ek sien hoe ’n motor na die skool aangery kom. Die enigste een wat aankom, terwyl al die ander besig is om weg te ry. Ek kan nie seker wees dit is hulle nie, maar ’n krieweling trek deur my lyf, laat my nekhare regop staan. En ek wonder … is dit ’n verslaggewer van een van my pa se koerante?
Daar is groot opgewondenheid in Huis Da Vinci se gange. Lawson Kollege het Durban Boys High verpletter. In die Hang-Out begin iemand ’n rugby-CD kliphard speel. Ja-nee, geld kan ook nie goeie smaak koop nie.
Ek mik net deur toe om ’n draai op die ander verdiepings te gaan maak, te sien of alles orraait is daar, toe TJ en Plank aangestorm kom. Hulle bondel my terug in my kamer in. “Hei, my ou, jy moes dit gesien het,” sê Plank, sy arm om TJ se nek en sy vuis in die lug. “Ons het mincemeat van hulle gemaak!”
“Twee ouens is sin bin toe, maar dit het ons nie gekeer nie,” val TJ vir Plank in die rede. “Lawson rules! Ons flippen rule!”
“Geluk, ouens,” sê ek flouerig, skielik spyt dat ek nie deel kon wees daarvan nie. In die Hang-Out bars ouens los met die skoolkreet. Voete stamp teen die vloer, vuiste hamer teen deure. Dit sal nie help om hulle te probeer stilmaak nie.
“Hei, het jy nie ’n bier nie?” vra Plank bo die rumoer.
“Jy weet ons mag nie bier inbring skool toe nie,” sê ek met my hoofseunstem.
“Ag, te hel met dit, man! Ons is hero’s.”
“Superhero’s!” lag TJ.
“Dissit, hoor jy, Greg? Ons is superhero’s! En ons het lus vir ’n bier.”
Ek lag net, trek my skouers op. “Ek het niks, check maar daar in die yskas.”
Plank doen dit sommer ook. Pluk die yskasdeur oop en begin die binnekant deurkyk. “Naught, bru, wat is dit hierdie? Iced tea? En bottels water?”
“Ek het jou mos gesê, Plank.”
“Kyk in sy asblik, TJ, dalk het hy alles hier alleen in sy kamer sit en uitsuip terwyl ons ons longe uitskree vir die eerste span.”
TJ kry die asblik beet, maar daar is niks in nie.
“Dumpster diving,” kom Eckardt se woorde by my op. Dis wat party hackers doen as hulle na inligting soek oor ’n maatskappy. Hulle gaan krap in die asblikke agter die geboue.
“Mense dink mos as jy ’n ding weggooi is hy weg,” het hy gesê. “Not true. En hackers weet dit. Jy kan allerhande goed in ’n asblik kry wat jou kan help hack: Maatskappye se ou telefoonboeke, emails, ou handleidings. Asblikke is die geheime inligtingshoofweg!”
“Hei! Greg!” roep TJ my uit my dagdroom. “Wat is dit met jou? Ek praat! Lyk my hy’s rêrig al gespat.”
“Sorry, TJ, wassit?” vra ek.
“Ek vra wat het jy die heeltyd met jouself aangevang hier alleen in die koshuis?”
“Beauty sleep,” lieg ek. Ek kan tog nie vertel van die email wat ek gestuur het nie. Of van die hacking-boeke wat ek lê en lees het nie.
“Sorry, dit het nie gehelp nie, ou Greg,” grinnik Plank. “Jy’s nog moer lelik, my ou.”
“Dis nie wat Nicole sê as sy in my arms lê nie.”