Читать книгу Onderwêreld - Fanie Viljoen - Страница 13
<h6>Log File: Lux hominum vita</h6>
ОглавлениеOp die plein tussen die vyf koshuise is daar nog ’n mangat waar een van die waterafvoerpype verbyloop. Dit is hierdie ysterdeksel wat Kwanele nou oplig. Die metaalgeluid galm deur die nag. By die koshuisvensters staan die ander ouens en kyk. Hulle weet wat aan die gang is, want hulle is ook al daardeur.
Ek raak bewus van Eckardt, iewers tussen al die ouens, terwyl ons wag vir die Trappers. Hy staan hier tussen ons, maar op ’n manier is hy eenkant. Arms gevou. Sy oë vasgenael op die donker gat in die grond.
Skaduwees trek lang swart strepe oor die plaveisel. Stemme slaan vas teen die geboue.
Ons wag, asems opgehou totdat … die eerste bleek vingers oor die rand van die mangat vou. ’n Kop verskyn. Kwanele hou sy hand uit, vat die Trapper s’n vas, trek hom uit. Die jong seun kom staan voor my en vir ’n oomblik lank kyk ek hom vas in die oë. Dan gee ek hom die geheime Lawson Kollege-handdruk. En uit die Trapper se sak haal ek die klein flitsliggie. Die een wat ons in al die Trappers se sakke sit as hulle geblinddoek en in die rondte getol word, voordat hulle in die mangat wegsak. Maar op daardie stadium is jy so gedisoriënteerd en bang dat jy dit nie eens agterkom nie. Jy word in die donker tonnels losgelaat, maar jy word die gereedskap gegee om jou te help om jou pad te vind.
Die verbasing op die Trappers se gesigte is een wat hom daarna herhaaldelik gaan afspeel, weet ons almal. Ek glimlag. “Lux hominum vita,” sê ek. “Lig is die lewe vir die mensdom.” Toe haal ek die doek wat om die Trapper se oë vasgebind was en wat nou los om sy nek hang, af. Ek vou dit op en sit dit in die Trapper se ander hand. “Om te onthou dat ons hier is om mekaar te help. Nou en in die toekoms.”
Toe begin die seuns wat by die vensters uithang die skoollied te sing. Die klanke van hulle stemme laat die hoendervleis op my arms uit-
slaan.
Een ná die ander verskyn die res van die Trappers; die ritueel wat hom herhaal. Groep vir groep. So word hulle deel van ons.
Maar nie almal vind hulle pad nie. Toe die son die rand van die berg in die ooste begin omlyn, is daar ses seuns kort.
“Ek sal hulle gaan soek,” sê ek.
Ses seuns wie se lot vanaand bepaal is. Hulle het nie hulle pad gevind nie. Hulle sal ook nie die jaar by Lawson uitsien nie. Daarvan sal ons seker maak. In die donker sal ek die verwarde siele se flitse uit hulle sakke haal en hulle sal dit nie eens weet nie. Die blinddoeke sal hulle self vir my gee. En hulle sal nie eens weet wat dit beteken nie.
Hulle sal die ouens wees wat gebrandmerk is. Hulle sal Trappers bly totdat hulle ouers hulle binnekort weer kom haal. Want om hier nie deel van die groep te wees nie, sal vir hulle hel word.
Ek sak in die donker weg, my armspiere dra my liggaamsgewig maklik. Toe ek die water onder my voete voel, en my asemhaling in die sementpyp na my toe terugkeer, hoor ek iets agter my. Nog iemand het saamgekom. Ek ruk my flits in die rigting van die geluid.
“Ek kom jou help,” sê die ou. Dis Eckardt.
Dae later, moeg van die atletiek en ’n vergadering met Dok Pienaar en meneer Andersen, is ek alleen in my kamer, sit ek voor die laptop. Langs my bed lê ’n klomp ongewaste skool- en atletiekklere. Ek moet hulle nog in die wasgoedsak druk, want die mense wat ons wasgoed doen, kom dit netnou haal.
Ek stel die aircon bietjie koeler, die warm lug word hier tussen die berge vasgevang. “Wat doen jy?” vra iemand. Ek draai om en sien vir Eckardt in die deur staan. “Kan ek inkom?”
“Ja, sure,” antwoord ek. Vryf my oë. “Ek is op die net. Surf bietjie.”
“Hoop nie jy is op die porn sites nie?”
“Sal dit nie waag nie. Nie by dié skool nie, anyway. My pa sal uitfreak as sy skouperd iets doen wat hom ’n skorsing kos.”
“So, het jy ook een van daardie pa’s?”
“Jy ook?”
Eckardt trek sy skouers op. “Seker nie so erg nie. Maar wat dink jy maak ek hier? Clones, hè, almal van ons – clones van ons pa’s. Dis wat hulle hier met ons doen, issit nie? Hulle breinspoel ons sodat ons mooi kan glimlag, die regte dinge doen en sê.”
“En in pappa se voetspore kan volg,” voltooi ek die sin.
“Ek sien jy weet,” sê Eckardt.
Daar is ’n ruk stilte waarin nie ek of Eckardt weet wat om te sê nie. Ek klik daarom maar net op een van die links op die site waarop ek nou is. Voltooi my besonderhede op die blad om te registreer om DVD’s te kan invoer van Amerika af.
“Baie gevaarlik wat jy nou doen, nè?” sê Eckardt.
“Hoekom?”
“Kyk daar onder op jou skerm.” Hy wys met sy vinger na ’n leë blokkie. “Sien jy, geen slot nie? Dit beteken enigiemand kan sien wat jy nou doen– ás hulle wil sien waarna jy kyk, bygesê.”
“Tjol, man,” grinnik ek.
“Nee, genuine. En selfs al was daar ’n slot, beteken dit ook nie jy surf veilig nie. Jy moet na die site se sertifikaat gaan kyk.” Ek het nie ’n clue waarvan Eckardt praat nie. “Maar dis boring stuff,” sê hy. “Het jy tyd, dan gaan wys ek jou ’n paar ander goed?”
“Ja, sure. Het tog nie nou lus vir huiswerk nie.” Ek begin net saam met Eckardt na sy kamer toe stap, toe ek van die wasgoed onthou. “Wag eers!” roep ek. Storm weer terug kamer toe, bondel die spul vuil klere in die wasgoedsak. In die gang lig ek die wasgoedgeut se klap op en gooi die sak in. Verder af in die gang hoor ek die geluid van die televisie in die Hang-Out.
Eckardt sit reeds voor sy laptop toe ek sy kamer binnestap. Sy venster is oop. “Ek hou nie van aircons nie,” sê hy verskonend. “Lus vir iets om te drink?” vra hy. “Kyk sommer in die yskas. Ek dink daar is nog twee biere agter die blikkies koeldrank.”
Ek buk by die klein yskassie. Skuif die koeldranke weg, en wragtig, daar is die verbode vrugte. Twee yskoue Castles. Ek weet ek is veronderstel om so iets te rapporteer, maar ek besluit: what the hell, 4 x 4’s kan mos nie net altyd veilig op die teerpad bly nie, hulle moet af en toe rowwe terrein aandurf.
Ek druk die yskasdeur toe en stap terug na Eckardt. “Sê my, Greg,” vra hy toe ek een van die biere na hom toe uithou, “het jy al ’n computer try hack?”