Читать книгу Onderwêreld - Fanie Viljoen - Страница 14
<h7>Die pion gooi sy toys uit die cot</h7>
ОглавлениеTeen die Saterdagoggend het die nuus soos ’n griepepidemie versprei na die laer grade. Almal probeer inligting uit die matrieks kry, maar omdat dié nie regtig iets sê nie, maak die ouens hulle eie stories op. Ek is aan diens in die Da Vinci-eetsaal. Dwaal net lusteloos daar rond en wens die spul wil nou hul freerange eiers en ander organiese kos eet en loop.
“Hulle het hom gekry, ouens. Vir Eckardt.” ’n Opgewonde stem agter my. Ek draai vinnig om. “Opgehang aan ’n boom. Sy tong so uit –”
Ek gryp die graadagt-ou aan die skouer. Hard. “Waar hoor jy dit?”
“By Jones,” sê hy, stil geskrik.
“Wie is Jones?”
Hy wys met sy vinger. Ek voel hoe woede my lyf oorneem. Dit is so erg dat ek ’n oomblik net eers moet stilstaan en asemhaal. Kalmeer. “Sê vir Jones ek ruk sý tong uit as hy weer sulke bog versprei.”
Ek stap buitentoe en gaan sit op die trap voor die koshuis. Eckardt se deur was vanoggend gesluit toe ek daaraan voel. Vir ’n oomblik het dit my laat dink aan ’n grafsteen. Die wit verf soos marmer. Ek weet waar die koshuisvader en die terreinbestuurder ’n loper hou vir die kamers, maar ek het nie gebodder om dit te gaan haal nie.
Ek kyk uit oor die plein. Tom, die terreinbestuurder, stap verby. Hy en ’n assistent is besig met die laaste voorbereidings vir die rugbywedstryde wat negeuur begin. Toe hy sien ek kyk na hom, lig hy sy hand. Sy lippe vorm ’n groet. Ek knik net my kop. Ek ken hom nie regtig nie. Die vorige omie het afgetree, dink ek. Hierdie een is seker in sy dertigs. Whatever, nie ons soort mense nie, soos my pa sal sê.
Ek dink dit skaars, toe skrik ek. “Clones, hè, almal van ons – clones van ons pa’s,” het Eckardt gesê. Is hy reg? En as hy reg is, gaan my toekoms ook soos my pa s’n lyk? Daardie ewige rat race die wêreld vol, om soveel geld as moontlik te kry. Maar die ou wat die rat race wen is steeds ’n rot, is hy nie?
Vanoggend staan daar al klaar ’n paar motors op die plein geparkeer. Dit is dié van ouers wat kom kyk hoe hul kinders vanoggend rugby speel. Selfs dit maak my die duiwel in. Nie die ouers nie, maar Lawson Kollege wat die wedstryde later vanoggend teen Durban Boys High net flippenwil laat aangaan asof niks gebeur het nie.
Weer daardie woede wat my vuiste laat saamtrek. Hoe kán hulle? Is hulle só gesteld op die skool se image dat hulle een van die leerders se verdwyning gaan stilhou en vir die wêreld voorhou dat alles oukei is? En dat hulle óns ook gebruik in hierdie spel van hulle. Wanneer gaan hulle dan met die waarheid uitkom?
Ek kyk na die man wat nou sy nuwe BMW parkeer op die plein. Hý weet nie wat hier aangaan nie. Of sou sy seun hom al vertel het? Dalk vind hy netnou uit as hulle mekaar sien?
TJ kry my op die trap. Netjies uitgevat in sy skoolklere, soos die skoolreëls vereis van leerders wat nie Saterdae aan sport deelneem nie. Hy stamp sy vuis teen myne toe hy groet.
“Hei, bru, as jy so alleen hier sit? Jy weet ons mag nie so rondhang op die trappe nie.”
Ek trek my skouers op. Hy kom sit langs my, knyp sy oë toe teen die oggendson.
“Ek dink maar.”
“Eckardt?” vra hy.
“Jip.”
“Bad ding hierdie.” Stilte. “Dok Pienaar het vanoggend gekom. Wil die matrieks glo sien voor die wedstryde begin.”
Ek knik my kop ingedagte. “Dink jy nie dis tjol nie, TJ?” vra ek en draai my kop in sy rigting.
“Wat?”
“Hierdie ding dat hulle alles wil stilhou, man, flippit.”
TJ is ’n groot skaakspeler. Rêrig passievol. “Jy moenie vergeet nie, Greg,” sê hy, “ons ouens is pionne, jy lyk nes die pion langs jou. Heeltemal vervangbaar. En iewers in hierdie skaak-game kan iemand besluit hy gaan jou offer.”
“Vir wat?”
“Wie weet? ’n Groter beloning? Om die game te wen?”
Ek dink ’n ruk daaroor na. Toe TJ opstaan en by die koshuisdeur instap, besluit ek: ek gaan dit nie toelaat nie. As hulle dink ’n pion kan nie terugbaklei nie, maak hulle ’n fout. Vandag sal hulle een sien baklei.
Die eerste rugbywedstryde het al op die A- en B-rugbyvelde begin toe ’n onderwyser die matrieks nader roep. Dok Pienaar staan en wag vir ons. Hy vryf sy hande en op sy gesig is daar ’n vet alles-is-oukei-glimlag. “Almal hier?” vra hy en sy valse glimlag trek nog breër. Hy kyk ons aan asof hy, netjies uitgevat in sy sportbaadjie, vanoggend een van ons is. Ons beste pel. Hy wil iets by ons hê, weet ek.
Dok wag totdat al die seuns om hom stil is voor hy begin praat. “Manne, julle lyk goed vanoggend! Magtig, dit voel amper of ek voor ’n Springbokspan staan.” Hy gee ’n klein laggie. Polish net ons ball, weet ek. Ek lag nie saam met die ander ouens nie. “Ek glo julle is reg vir daardie piesangboere? Wat ek van hulle gesien het, het my nie juis beïndruk nie. Hulle lyk maar klein teen julle ouens. Gaan julle hulle vandag trap?”
“Hur-rah!” roep die ouens vasberade uit een keel.
“Ek het so gedink. Onthou, ek verwag nie dat jy jou beste doen nie. Sportmanne wat hul ‘beste’ doen, is verloorders. Dis nie goed genoeg vir my nie, en ook nie vir Lawson Kollege nie. Ek soek jou hart en jou siel. Determinasie. Visie. Oorwinning.” Toe bly hy ’n oomblik stil. En ek weet hier kom dit nou. Die eintlike rede hoekom hy ons wou sien. “Maar voor julle begin speel, is daar ’n ander kwessie. Die … um … ongemaklike situasie van een van die leerders wat gedros het.”
Wat! skree dit in my. Eckardt het nie gedros nie.
“Meneer Andersen het al met julle manne gepraat. En ek verstaan daar is ’n klomp stories wat rondlê. Maar dit is presies wat dit is: net stories. Alles dui daarop dat Eckardt Wilken bloot net weggeloop het sonder om vir enigiemand te vertel. Nietemin, ons moet seker maak of dit die geval is. Dit is in die skool se beste belang. Maar ons moet nie ’n klomp spoke opjaag in die proses nie. Daarom vra ek julle manne se samewerking. Ons hou hierdie ding eers tussen ons. Intussen probeer ons ons vermoede bevestig. Manne, dis ’n ernstige ding hierdie. Ek is glad nie ten gunste van sulke onbehoorlike gedrag nie, maar ek gaan ook nie toelaat dat dit julle manne se matriekjaar opmors nie. Daarom gaan ons sportdag voort soos beplan en –”
Dis op daardie oomblik dat ek voel hoe al die opgekropte woede in my oorstoot. Voor ek kan keer, spoeg ek die woorde uit: “Ek dink dis pateties!”
Dok Pienaar is dadelik stil. Sy kop draai in my rigting. Sy blik solied. Net so verander sy hele houding. Word dit rigied. Sy glimlag verstar, lippe trek dun en reguit. Asof ’n vloekwoord enige oomblik op sy tong kan ontplof.
Maar hy hou hom in, sien ek. En hy sê net: “Greg?”
“Ek kan nie glo dat julle dit nog wil ontken nie, Dok. Ek meen, face dit: Eckardt is weg, maar hy het nie weggeloop nie.”
“Hoekom sê jy so, Greg? Is daar iets wat ek moet weet?”
“Hy … hy sou my vertel het as hy wou wegloop.”
“Greg, ek ken julle jong outjies. Al dink julle ek weet nie, ek weet wat in julle koppe aan die gang is. Hier het niks sinisters gebeur nie. Eckardt het bloot net weggeloop, dis al.”
“Nou hoekom moes ons gister die skoolterrein deursoek?” kap ek terug.
“Ons moes seker maak dat hy nie nog op die skoolgronde is nie. Dat hy nie dalk seergekry het nie.”
“Ek het meneer Eden al Donderdag vertel dat Eckardt nie in sy kamer was die oggend nie. Hoekom het ons eers ’n dag daarna op die skoolgronde vir hom gaan soek?”
Dok Pienaar raak nou meer ongemaklik, sien ek. Sy ysere gluur sny deur my. Maar ek gee nie om nie. Ek gaan net aan: “En wat is die storie van ’n brief wat die skool gekry het?”
’n Beheerste stilte, toe, met ’n koue stem: “Daar is nie ’n brief nie.”
“Ja, right. Ek glo dit nie. Dok, met alle respek, ek dink julle steek iets vir ons weg. Ek dink hier is groot fout. En dit is die kollege se plig om iets daaromtrent te doen. Nou! En as julle nie nou dadelik begin nie, sit ek nie my voet op ’n rugbyveld nie.”
“Greg, laat ons mekaar goed verstaan,” sê Dok, nou so kalm dat dit mens eintlik bang maak. “Ek gaan nie dat jy my dreig nie. En ek gaan ook nie dat jy my afpers nie. Lawson Kollege is ’n gerespekteerde instelling met ’n goeie reputasie. ’n Droster soos Eckardt Wilken gaan dit nie verongeluk nie. Daarvoor sal ek sorg. Verstaan jy my? En as jy met my verskil, gaan sit dan maar in jou koshuiskamer en huil oor hom. Ek gaan jou nie dwing om te speel nie. Daar is ander ouens wat net so goed soos jy is op vleuel.”
Dok Pienaar hou ’n oomblik op met praat. Ek kyk hom direk in die oë. Ek gaan nie dat hy my intimideer nie. Hulle het die situasie verkeerd hanteer, en hy weet dit blerriewil.
“Dok, dan loop ek nou!” Die woorde was skaars gesê, toe is ek al jammer, maar ek draai nie terug nie. Ek loop na Huis Da Vinci toe. My treë voel onvas. Binne my wil dit gelyk skree van frustrasie en juig omdat ek my man gestaan het teen Dok se slapgattigheid. Maar bo dit alles is daar die vrees wat tussen my derms rondwurm, want ek weet daar is nou ’n groter draak wat ek sal moet aandurf … ek sal aan my pa moet kan verduidelik wat ek gedoen het.
Terug in die koshuis. Die plek is verlate en pynlik stil.
Magteloos. Dis hoe ek nou voel teen die skool en teen Dok Pienaar. Ek het my toys uit die cot gegooi, maar uiteindelik beteken dit niks. En Dok is reg, daar ís ander ouens wat vleuel kan speel vir die eerste span. Dalk nog beter as ek.
Ek voel verdwaal in my koshuiskamer. Nie een van die ander ouens het saam met my gestaan teen Dok nie.
Is ek dan hulle leier?
If you think you’re a leader but nobody is following you, you’re merely going for a walk.
My pa se gunsteling-sêding – uit ’n selfhelpboek, sekerlik.
So dalk ís ek bloot op ’n uitstappie. Wat gee ek om?
Ek trek my sportklere uit. Krul op op die bed. Lê net daar. Toe kom die vraag: Greg, wat kan jý doen omtrent Eckardt se verdwyning?
’n Tyd lank dink ek daaroor. Die antwoord vra vir konkelwerk. Die skool wil nie hê ons moet ons ouers vertel nie. Maar hulle het niks gesê van die media nie. En ek het mos contacts in die pers. As ek hulle ’n tip-off kan gee … Anoniem.
Ek ruk om na my laptop. Sit regop in die bed. Dit sal werk, ek weet dit sal. En al wat ek daarvoor nodig het, is een van die fiktiewe email-adresse wat Eckardt my help skep het.