Читать книгу BreinBliksem - Fanie Viljoen - Страница 10

Оглавление

Dis Saterdagaand. Ek en Kerbs is op ons tweede bier. Ons is by die Mystic Boer in Kellnerstraat. Die plek is vol. Lywe skuur teen mekaar. Een van Linkin Park se songs speel. Ek probeer uitfigure watter een, maar ek kom nie op die naam nie. Ek sien hoe Kerbs se been beweeg op maat van die musiek. Hy weet seker nie eens daarvan nie, check net die girls uit wat verbykom badkamer toe, bar toe of buitentoe.

Ons sit op die rooi bank voor die muur met die silwer sinkplaat. Nice spot. Naby die bar. Daar anderkant speel die ouens pool. Af en toe hoor jy die geklap van die poolballe bo die musiek. Die Voortrekker-omies op die plakpapier hou wag oor ons. Ek wonder baiekeer wat hulle sou gedoen het as hulle nou hier was. Sou hulle ons join vir ’n bier? Hulle lyk so uitgeteer, dalk sou hulle eerder ’n Mystic pizza wou hê.

Sky Eyes kry ons in die halfdonker. Sky is my ander pêl. As jy ’n girl is en jy moet kies tussen my, Kerbs en Sky, sal jy seker vir Sky kies. Hy lyk die meer presentable van ons drie. Iemand wat jy aan jou ma sou kon voorstel. En hy het die looks – blonde hare, blou oë. Dis weird dat hy nog nie ’n meisie het nie.

“Ek het nou amper ’n carwatch gefloor,” sê Sky. Hy val langs my op die bank neer. “Fokken ballie vertel my ek moenie te veel suip nie.”

Ek en Kerbs lag, maar ons weet Sky praat net. Hy sal nie so iets doen nie. Sy hart is te sag.

“Het jy vir hom gesê jy drink net Red Bull? To give you wings!”

“Fok jou.” Sky staan op. “Ek gaan ’n bier kry.” Hy stap bar toe.

Sky probeer een van die barmanne se aandag trek. Hulle skarrel kop onderstebo van die Coke-masjien, na die drankbottels, na die till. Dan eers maak hulle oogkontak met ’n volgende customer.

Teen een van die mure van die Mystic is die plakkaat opgeplak:


En dis waarnatoe ons gaan. Waarvoor ons die geld nodig het. Waarom ek en Kerbs by my ma se kar ingebreek het.

Kerbs gaan die goed verkoop. Hy het contacts vir sulke goed. Hulle sal hom nie screw nie.

“Ek het dié tipe goed al duisend keer gedoen, bru, don’t worry.”

Maar somehow is ek geworried. Wat as dinge verkeerd loop?

Sky Eyes kom terug met sy bier.

“Hei, fok, waar’s ons s’n?”

“Kry julle eie. Lyk ek soos ’n bierbrouery?” Hy val weer tussen ons neer.

“Oukei,” sê Kerbs. “Ek sal my eie kry. Ek drink anyway nie daai stront nie. Ek drink Black Label en ek pis Castle.”

Kerbs wil beduie en val amper van die bank af. Hy is nie net klaar gesuip nie, hy’s nog gerook ook. Ek en Sky lag toe hy probeer opstaan en sy balans verloor. Sky gee hom ’n skop onder die gat. Hy strompel kroeg se kant toe.

“Hoe lyk dit met jou money matters, Sky?” vra ek toe Kerbs weg is.

Sky moet vir homself sorg. Die radio en goed is vir my en Kerbs se BreinBliksem-fondse.

“Ek sal die geld hê, daar’s nie stres nie. My outoppie sal provide.”

Sky is ’n lucky bliksem. Ek dink sy pa-hulle prop hom so in met geld dat hy moet wegbly van die huis af. Al is hy meer presentable as ek of Kerbs, bly hy ’n social embarrassment vir sy pa-hulle. As hy klaar is met matriek hierdie jaar, staan ’n flat naby die universiteit klaar gereed vir hom. Geen worries meer vir sy mammie en pappie nie, want hy is permanent uit hulle huis en onder hulle oë uit. (Dan gaan ons party dat dit kak.)

“Ek sal die vleis bring. En bier,” sê Sky.

“Sal hulle ons laat ingaan met bier? Moet jy dit nie daar koop nie?”

“Shit, I hope not. Ons vat maar saam net vir in case.”

“En ’n bietjie lagtwak.”

Sky kry ’n smile. “Dit gaan ’n moerse jol wees, Burns.”

Ek sien hoe Sky se smile skielik wegval. Dis of sy gesig lam word. Shit, nee, nie hier nie. Nie nou nie. Sy oë dop om. Sy lyf begin ruk. Die bierbottel val uit sy hand en rol oor die vloer.

“Kerbs!” skree ek bo die geraas van die mense en die musiek. “Fok, Kerbs!”

Die mense begin om ons bondel. Kerbs breek deur hulle.

Sky lê op die vloer. Sy lyf ruk. Ek druk hom vas. Kerbs kry sy kop beet. Maak sy mond oop. Druk sy tong af.

“Is hy oukei? Moet ons ’n dokter kry?” vra iemand.

“Nee, hy sal nou reg wees,” sê Kerbs.

“Sky, hoor jy my?” vra ek.

Hy antwoord nie.

Die rukkings raak stiller.

Soos waves wat hulle klaar uitgewoed het op die strand.

Sy oë gaan stadig oop. Ek skrik toe ek die scared look in sy oë sien. En ek weet dit het weer gebeur.

Dit was nie net ’n aanval nie. Daar was nog iets.

Ons help vir Sky regop. Hy vryf sy gesig. Sy nek. Hy lyk nog effens deurmekaar, bietjie van balans af. Ek sit sy arm om my nek om hom op sy voete te hou. Hy vat aan die agterkant van sy broek. Dis nat. Van die bier op die vloer, hoop ek.

Die nuuskieriges skuifel geselsend weg, kyk nog ’n keer of wat om na ons.

“Kom’s fokkof,” sê Sky. Ons stap tussen die mense deur. Sky maak sy mond oop en toe, asof hy iets bitters proe. Dan sê hy: “Shit, Kerbs, wanneer laas het jy jou hande gewas?”

BreinBliksem

Подняться наверх