Читать книгу BreinBliksem - Fanie Viljoen - Страница 12
Оглавление“Bloed, Burns,” sê Sky in my droom daardie aand. Ons dryf in ’n boot op die water. Ek kan nie die land sien nie. Somehow weet ek dis daar iewers, maar ek kan dit nie sien nie. Ver weg hoor ek musiek speel. Ek dink dis “Night falls like a grand piano” van Wonderboom.
“Bloed, Burns,” sê Sky weer. Hy lig sy hande op, sy palms na bo. Hy hou sy hande na my toe uit. Sy vel span wit en dan begin bloed stadig deursyfer na die oppervlak. Die bloed maak ’n boggelrug op sy handpalm. Hy draai sy hand om. Die bloed drup in die boot.
Drup, drup, drup.
Die rooi strepe loop teen die perspex-binnekant van die boot af.
“Wat doen jy?” vra ek.
“Ek toor,” sê Sky.
“Wat toor jy?”
“Ek toor met jou kop.”
Ek weet nie wat hy bedoel nie. Op ’n manier maak dit dalk sin. Nee, dit beteken niks. Sky kan nie toor nie. Ek wil hom vra wat hy bedoel, maar iets keer my. Dalk sy oë wat nou swart geword het. Soos black holes waaruit jy moet wegbly.
“Waar’s Kerbs?” vra ek.
“Hy raak van haar ontslae. Maak seker hulle kry haar nie.”
“Wie?”
“Jy weet.”
Sky wys met ’n bloederige vinger na die water. ’n Druppel bloed gly teen sy vinger af, hang ’n ruk aan die punt en drup dan in die nagdonker water.
En die water word helder.
Ek sien Kerbs se gesig opkyk uit die water.
Hy lag vir my.
Dan lyk dit of hy iets vir my sê. Ek hou my oor nader aan die water om te hoor. Sy hande skiet uit na my toe, kry my aan die kop beet en ruk my uit die boot.
Die water is doodskoud. Kerbs se vingers druk teen my slape. Sy bene vou oor myne. Ek probeer skop om boontoe te gaan. Dit help nie. Kerbs is almagtig sterk. My asem raak op. Ek probeer loskom uit Kerbs se greep. Ek dink ek hoor hom lag. Dis ’n weird geluid, amper soos ’n hond wat doodgery word. Ons sink dieper. My hart raak stil …
En ek weet iewers is daar land. Al kan ek dit nie sien nie.
Ek weet dis net ’n droom.
Alles.
Sky kan nie toor nie.
“Man, fok vir Sky. Ek is gatvol vir hierdie siener-kak van hom.”
Ek is in Kerbs se flat. ’n Deurmekaar nes van vuil skottelgoed, vuil onderbroeke, vuil alles. Dit pla hom blykbaar nie. Hy sê hy sal nog eendag ’n girl goed spyker en haar dan vra om sy plek skoon te maak. Soort van as compensation. Ek wil nog daai girl sien, maar dis hoe Kerbs se kop werk. Hy leef in ’n wêreld van sy eie, soos ’n mier op ’n sugar high in ’n suikerpot.
Kerbs sit oorkant my op die bed, sy rug teen die muur. Hy vat nog ’n sluk van sy bier. Ek het hom vertel wat Sky gesê het. Maar stilgebly oor my droom. Hy like nie sulke goed nie. Ek ook nie. Ek haat dit as mense vir my hulle drome vertel. Asof dit some or other deeper meaning moet bevat.
Ek glo nie aan drome nie.
Maar hoekom pla hierdie een my so?
“As hy wil bly, laat hom bly. Ons sal regkom sonder hom. Check, ek het die geld gekry.” Hy haal ’n rol note uit sy broeksak.
“Hoeveel?”
“Sewehonderd bucks.”
“Is dit genoeg?”
“Who knows? By the way, ek hoop nie jy mind nie. Ek het jou ID-nommer vir hulle gegee by die pandjieswinkel.”
Dis soos ’n baksteen wat jou in die nuts tref. “My wat?!”
“Jy is mos ook in die ding.”
“Ja, maar … Shit, Kerbs, hoe kan jy dit doen? En hoe ken jy my ID-nommer?”
“Jy moenie jou goed so laat rondlê nie.”
“As ek in die kak kom, Kerbs, gee ek hulle jou naam ook.”
“Ag nee, man, dis mos nie hoe dinge werk nie. Ons ouens cover mos vir mekaar.” Hy sak terug op sy bed. Daar is ’n skewe smile op sy bakkies. Hy weet watter buttons om te push. Hy druk die bierbottel weer teen sy lippe, maar drink nie daarvan nie. “Ek het daai CD wat ek gesteel het ook sommer gepawn. Vrot vibes.”
“Hoe’t jy toe weggekom vir security?”
“Ways and means, my bru.”