Читать книгу BreinBliksem - Fanie Viljoen - Страница 6

Оглавление

Dis Vrydagaand. Ek SMS vir Kerbs:

2night, 12 bells. bring jou tools. ek maak die hel oop.

“Watse hel wil jy oopmaak?” grinnik Kerbs toe hy later by die hek inglip. Die reën sif neer en blink op sy baadjie.

“Hel?”

“Op die SMS, man.”

“Die hék, Kerbs!”

“Jy moet fokken leer spel, Burns.”

“As jy ’n job kry.”

Kerbs is nou al ’n jaar uit die skool en sit nog sonder werk. Die ou wat hom werk gee, sal in elk geval heeltemal van sy rocker af moet wees.

“Ja, right,” sê Kerbs.

Back to business: alles is georganise. Vroeër vanaand het ek drie van my ma se slaappille gesteel. Een vir die hond. (Hy het lekker aan die vienna gechow en is currently in doggy-droomland.) Een vir my pa. (Hy het lekker aan sy whiskey gesuip en hang nou rond in alcoholic heaven.) En die laaste een vir my ma – in haar koffie. Ek dink sy het een op haar eie ook gesluk, maar ek kon nie ’n kans vat nie. (Sy is seker nou op ’n lekker trip. Ons sien haar eers weer môremiddag.) My sussie, Kelly, spring die pille-party vry. (Sy is al weer by haar boyfriend.)

“Come on, ek reën nat,” sê ek vir Kerbs.

Hy stap na my ma se BMW in die driveway. “Is die alarm af?”

Ek druk die remote se knoppie en die ligte flikker een keer. Die deure spring ook oop, maar ons kan nie daardie pad vat nie. Dit sal nie reg lyk nie.

Vanaand is die regte aand om ons plan in aksie te sit: my ma het vergeet om die kar in die garage te trek. Sy wou nog gym toe gaan, maar dit het seker by haar gat uitgewaai. Die reën help ook; die bure sal lekker slaap. Niemand sal uitkom as daar ’n geraas is nie.

Kerbs staan gereed met ’n baksteen. Hy kyk vir my. Ek knik. Hy moer die baksteen deur die kar se passasiersvenster. Die glasstukke verskiet soos sterre en bly lê op die nat paving. Nou eers maak hy die deur oop.

“Weet jy wat jy doen?” vra ek.

“Sort of.”

Hy klim in die kar en druk ’n skroewedraaier langs die Kenwood front-loader CD player in. Dit sukkel, maar hy vat nie kak nie. Ek hoor hoe kraak die dashboard. Met die skroewedraaier se punt agter die CD player druk hy dit vorentoe. Die mounting snap. ’n Vinnige pluk en die player pop uit die dashboard soos ’n new-born baby uit sy mamma se maag. Kerbs knip die drade vinnig af.

“Jy moenie vir my kyk nie, jy moet check as iemand kom,” sê hy.

Maar ek kan nie help nie, mens moet hierdie tipe goed leer doen. Jy weet nooit wanneer jy die knowledge and skills nodig kry nie. (Outcomes-based education wat die community in die hol kom byt.)

Kerbs begin met die speakers. Na ’n ruk sê hy: “Nee, shit, ek gaan nie sukkel met hierdie goed nie, dit gaan ’n lifetime vat.”

“Oukei.” Ek trek my skouers op. “O ja, kyk in die cubbyhole. Die sonbril …”

Kerbs haal my ma se Police-sonbril uit en druk dit in sy bosak.

“Ek het haar selfoon ook daar ingesit. My ma vergeet hom partykeer in die kar. Sy sal nie weet dit was ek nie.”

Dis ’n Nokia. Klein tegnologiese wonder, wap enabled (maar nie die gebruiker nie) en hy kan foto’s neem, sound record, you name it.

“Oukei, het jy alles?”

“Yes.” Kerbs stop die goed in ’n swart gym-sak.

“Nou toe, dan moet jy waai.”

“See you, bru.” Kerbs klap my op die skouer. “Maak oop die hek.”

Hy glip weer by die hek uit. Dit reën nou harder. Ek kyk hoe die reëndruppels teen die BMW se leersitplekke afglip.

So much for the new car smell.

Kerbs se kar trek weg in die straat. Hy backfire een keer. Dit klink soos ’n geweerskoot.

Ek stap by die huis in. Alles is donker, maar ek ken die pad na my kamer toe. Hei, ek het dit mos al duisend keer geloop na lang, dronk nagte op straat.

Die skielike stem uit die sitkamer laat my skrik.

“Chris.”

“Pa?” sê-vra ek toe ek sy silhoeët sien beweeg teen die gordyne met die patiolig daaragter.

My hart begin te race.

“Hoekom het jy ons nie gesê jy gaan uit nie?”

Twee goed confuse my totally in sy woorde.

Numba one: Watse “ons” praat hy van? Van hom en my ma? Hulle is mos lankal nie meer ’n “ons” nie.

Numba two: Dink hy genuine ek was uit? Weet hy of weet hy nie?

Wat kon hy gehoor het? Wat kon hy gesien het?

Ek rewind die gebeure silently in my kop.

Geluide: Die klik van die hek wat oopgaan; ons stemme in die driveway; die baksteen wat die kar se ruit moer toe stuur; die kraak van die dashboard; die klik van die hek wat weer oopgaan; Kerbs se kar wat backfire.

Sien: Fokkol van die huis af – daar is te veel plante. Tensy hy uitgekom het. Kerbs was reg, ek moes nie vir hom gekyk het nie, ek moes maar gekyk het of daar nie iemand aankom nie.

Fast forward tot waar ons laas was.

Ek besef dis een van daai soapie-oomblikke waar die stilte ’n lifetime aanhou en een van die akteurs net sy koppie skuins draai en dit tyd raak vir ’n ad break.

Waar’s my ad break?

Oukei, time to decide.

Hy weet nie – ride the wave.

“Ek was net ’n rukkie uit. Ek het nie gedink Pa sou mind nie.”

“Jy en Kerbs?”

Dêmmit, weet hy?

Ek gooi weer ’n soapie response. “Kerbs?” Toets die water.

“Ek het sy kar hoor backfire.”

Nooit, bru, waar leer grootmense hierdie goed? Hy speel kat & muis met my. Wil hy hê ek moet met die hele sak stolen goods vorendag kom?

“Sit die lig aan dat ek jou kan sien.”

Pros & cons, dink ek dadelik. Con: hy kan dalk sien as ek lieg. Pro: ek kan sien as hy nie regtig weet nie.

Die lig is helder – soos die oordeelsdag.

Ons knip al twee ons oë tot hulle gewoond is aan die lig.

Ek sien die glas whiskey wat ek vroeër die aand vir hom geskink het. Hy het dit nie gedrink nie. Hy moes geweet het iets is verkeerd toe ek uit my eie vir hom ’n dop bring.

Hy sit met ’n amper vol glas drank in die hand. (Dié tyd van die nag?) Hy is duidelik gesuip. Sy hemp is oopgeknoop en gekreukel.

Hy het nie ’n broek aan nie.

Ek hardloop kamer toe.

Sluit die deur! Sluit die bliksemse deur!

Eendag gaan ek hom nog doodmoer, besluit ek.

Ek weet hy staan anderkant die deur.

En die stemme in my kop kom fast & furious.

BreinBliksem

Подняться наверх