Читать книгу BreinBliksem - Fanie Viljoen - Страница 8

Оглавление

Eendag was daar ’n mamma Burns, ’n pappa Burns en ’n sussie Burns. Hulle het saam in ’n huis in Bloemfontein gebly. Langenhovenpark, to be precise. Hulle was gelukkig. Soos die mense wat jy in sjampoe-advertensies sien op die TV.

En toe kom ek. Vetterig, bloederig, skoppend en skreeuend. Dalk het ek al daardie dag geweet dis ’n moerse fout om gebore te word. Ek moes liewer gebly het waar ek was. (Presies wáár sal ek nie nou kan sê nie, maar ek reken ek sal die antwoord in die afterlife hê, so vra my weer daardie dag.)

Ek dink my geboorte het alles opgefok. Miskien omdat ek nie beplan was nie. Dit gee mens nogal ’n moerse gevoel van trots om te weet dat jy “nie beplan was nie”. Dis asof jy al ’n gatecrasher was nog voordat jy kan onthou.

Kerbs sê die beste deel van my het teen my pa se been afgeloop. Ek reken Kerbs is nie ver van die waarheid af nie. Ek dink my pa sal saamstem.

Ek was ’n hardegat laaitie. Op vier het ek een van die girls by die kleuterskool gebyt. Daar was baie bloed. Dit het oor haar arm gestroom en haar pienk, icing sugar-like rokkie rooi gedye. My onderwyseres, juffrou Gerda, kon nie besluit of sy moes flou val of met my raas nie. Sy het sulke weird geluide gemaak soos ek scheme ’n vark sal maak as hy gekastreer word. Ek het my gat afgeskrik vir haar, ek dog sy gaan vrek. En van die skrik slaan ek my melktande in die sagte vel net onder haar knie. En ek byt. En toe eers shut-up sy.

Juffrou Gerda en die icing sugar girl moes al twee gaan vir klem-in-die-kaak-inspuitings. My ma kon nie glo dat ek so iets sou doen nie. Sy het my tog geleer dat jy nie mense byt nie. Ek is gevra om die skool te verlaat. Van toe af moes ek by die bediende, Anna, bly.

Anna het nie ’n woord Afrikaans verstaan nie. Op vyf het ek besluit om haar te leer. En ek is trots om te sê al my harde werk was nie verniet nie – sy vloek nou nog soos ’n Gautenger in ’n traffic jam.

My sussie is ’n jaar ouer as ek. Negentien. Sy was eens die modelkind en het onderskeidings gekry vir al haar vakke tot graad 9. En toe besluit sy: what the fuck. En sy gooi haar bene oop. Veertien boyfriends, twee blou-oë en een aborsie later vat sy ook nie meer kak van my pa-hulle nie.

Kelly het verlede jaar klaargemaak met matriek. Sy sê daar was niks aan nie. Jy moet basically ’n moroon wees om deesdae nie jou matriek te kry nie. Die Onderwysdepartement probeer moerse hard om nie die leerders teleur te stel nie. En net vir ingeval dinge nie gaan soos dit moet nie, het sy eendag vir die skoolhoof vertel dat haar oumagrootjie swart was. Dit beteken sy wat Kelly is, is ’n histories agtergeblewene, daarom moet hulle harder probeer om haar te laat slaag. En hulle het ook.

Kelly werk nou by ’n pizzaplek en ruik die meeste van die tyd na deeg en gesmelte kaas.

My ma en my pa is soos ’n wipplank. Toe die een onder was, was die ander een bo. En toe die een bo was, was die ander een onder. Ek praat nou nie van seks nie, ek praat van hulle werk.

My pa was ’n eiendomsagent. Dit het nogal goed gegaan met hom, hy was ’n paar keer die topverkoper by Aïda. Die pay was goed, maar nie genoeg nie. Toe besluit hy om sy eie eiendomsagentskap te begin. Die mense het seker nie gedink dis snaaks om ’n huis te koop by ’n plek met die naam “Burns Housing” nie. Needless to say, die plek het gevou soos ’n fortune cookie.

Toe gaan try hy die corporate ding en gaan werk by ’n bank. Saambou. ’n Paar jaar later staan Saambou se personeel voor ’n toe deur. Almal het die rumours gehoor, maar niemand wou dit glo nie. Werksoek daarna was ’n bitch. Regstellende aksie en die pale male-sindroom het die deure toe gehou.

En toe kom die back breaker.

My ma, wat jare lank as persoonlike assistent by ’n beleggingsmaatskappy gewerk het, het intussen die corporate ladder begin klim. Saans swot sy dat jy net Unisa-boeke sien waai. En deur die dag kruip sy gat by die base en woon elke denkbare konferensie by. En toe ons weer sien, is my ma se paycheck meer as my pa s’n.

Dit was ’n recipe vir disaster. Hulle marriage was down the drain. Geen man se selfbeeld handle sulke goed met grace nie.

Hy gryp na strooihalms en probeer om begrafnispolisse te verkoop om sy ken op te hou. Sy verdien net elke maand meer in bonusse. Sy koop ’n BMW. Hy moet downgrade na ’n second-hand Mazda.

Maar hulle bly saam onder een dak, in aparte kamers. En ek en Kelly sien hoe hulle vir mekaar kyk. En ons weet: die shit is in die fan.

BreinBliksem

Подняться наверх