Читать книгу BreinBliksem - Fanie Viljoen - Страница 11
ОглавлениеDis Dinsdag. Ek en Kerbs en Sky is in Mimosa Mall. Kerbs het net saamgekom om vir die girls se tiete te kyk. Bloem het mooi girls. En die mooi girls het mooier tiete. Kerbs het nogal ’n oog vir sulke dinge en is nie skaam om sy waardering uit te spreek nie.
“Jy gaan nog in ’n asblik of ’n ding vasloop as jy so rondkyk,” sê Sky vir Kerbs.
“Ja, of iewers oor ’n railing moer,” sê ek.
Sky lag. Hy weet ook enige iets is moontlik met Kerbs.
“Elke sport het sy beserings,” grinnik Kerbs net.
Ons loop ’n ruk op die mall se grondvlak rond en vat dan die roltrap eerste vloer toe, verby Exclusive Books, reguit Musica toe.
Ons stap in by Musica met sy industrial look. Daar is dadelik iemand by ons, ’n swart girl.
“Can I help you with anything?”
“Ja, ’n blow job,” haak Kerbs af. Sy loop vinnig weg, lekker die moer in.
“Fok, Kerbs, vir wat sê jy sulke goed?” vra ek.
Kerbs trek sy skouers op. “Wat weet sy in elk geval van Green Day?”
Ek sien hoe hou sy ons dop. Ek het al gewoond geraak daaraan. Plekke soos hierdie het mos maar hulle spy-poppies. Come to think of it, daar is eintlik oral mense wat jou dophou – party sonder dat jy van hulle weet. Soos in ’n movie theatre. Jy dink jy sit daar in die donker en niemand sien jou nie, maar jy is verkeerd, my bru. Hulle kan jou selfs in die donker dophou. Kyk maar as jy weer daar sit. Iewers brand daar ’n rooi liggie doer teen die dak. Dis ’n kamera, en hy check hoe vreet jy jou popcorn en suip jy jou Coke. Elke, elke move wat jy maak …
Sky kry die Green Day-CD waarvoor ons gekom het. Dis hulle nuwe een – American Idiot.
“Gaan jy eers luister?”
“Of course. Die goed is te blerrie duur om net te koop. Het jy gecheck, Burns? Toe die rand so swak was ’n paar jaar terug, toe skiet CD’s se pryse moer toe. En toe die rand sterker word, toe bly die pryse daar bo. Êrens is ’n fokker wat al ons geld pocket. Hulle dink die mense weet nie.”
“Shit, Sky, jy moet die goed van die internet download, man. Much cheaper,” sê ek en blaai deur ’n klomp Pink Floyd-CD’s. (Classic stuff.)
“Nee, hel, ek soek die originals.” Sky stap na die toonbank. “Can I listen to this?” Hy gee die CD vir die laaitie agter die toonbank. Dié trek die sellotape op die kante af. (Can you fucking believe it – die winkel keer diefstal met sellotape?)
Sky sit die headphones op sy kop. Ek dink aan miljoene kriewelende kopluise, ander mense se vuil olie-ore en die goed wat dalk al ’n lewe van hul eie gekry het op daardie headphones. Gross!
Kerbs kom nader geloop. “Ek wag buite,” sê hy. “Moet nou nie ’n jaar vat nie.”
Sky druk die volumeknoppie op die toonbank tot op die max. Ek weet hoekom. Die kak rapmusiek wat hulle in die winkel speel, is so oorverdowend dat jy skaars die musiek in die headphones kan hoor.
Sky druk die next track-knop.
Hy luister ’n ruk. Toe haal hy die headphones af.
“Ons moenie meer gaan nie,” sê hy.
“Wat? Waarvan praat jy?”
“BreinBliksem. Ons moet wegbly daar.” Hy lyk bang.
“Hoekom?” vra ek versigtig. En toe ek dit sê, weet ek ek moes liewer my bek gehou het.
“Ek het bloed gesien. Nou die aand in die Mystic. Jy weet, toe …”
“Ja …”
“Bloed, Burns. Daar gaan kak kom as ons gaan.”
“Fok, Sky, hoekom vertel jy dit vir my? Ek haat dit as jy kom met hierdie goed.”
Hy sit die headphones weer op. Kies die volgende track. Maar hy kyk nog na my. Met daardie blou oë van hom wat goed kan sien voor dit gebeur. Sy Sky Eyes.
En hy lyk bekommerd. Fokken bekommerd.
By die winkel se ingang gaan ’n alarm skielik af. Ek en Sky swaai al twee om. Ons weet dis Kerbs.