Читать книгу Veldiep - Fanie Viljoen - Страница 10
7
ОглавлениеPELLE HOEF NIE ALLES TE WEET NIE
Koponderstebo beur Tim die volgende dag deur die kinders in die skoolgang.
“Skies, julle,” sê hy ongeduldig vir die spul graadagts wat in sy pad staan en lag en gesels. Hulle drom alewig voor die klasse saam. Hy voel sommer geïrriteerd, al besef hy dat hy dit ook maar soms doen.
Alles krap hom vandag om.
Dalk voel hy so vies omdat hulle so gelukkig lyk. Dis mos nie reg dat ander mense vrolik kan wees terwyl hy so swaarkry nie?
“Ek sê mos, skies!” roep Tim harder. Die meisie voor hom draai om. Dis nie een van die graadagts nie.
Dis Jessica.
“Tim.”
Die manier waarop sy sy naam sê, bring ’n vloed van herinneringe terug. Hy wil nie hê die herinneringe moet vir hom mooi wees nie, maar hulle is.
“Jammer,” sê hy gou en probeer verby haar stap, maar sy tree voor hom in toe sy verkeerde kant toe plek maak. Nou voel hy eers verleë. Hy wil weer sê hy is jammer, maar sy stem steek in sy keel vas en sy hart dreig om deur sy ribbekas te slaan en sy swakheid vir haar bloot te lê.
Die mooi herinneringe van oomblikke gelede is nou ’n stortvloed van bitter waarvan hy moet wegkom.
Hy draai sy lyf skuins en systap Jessica met die vraende kyk in haar oë.
Haar mond gaan effens oop asof sy nog iets wou gevra het, maar hy vlug al weet hy nie waarheen nie.
Dis hoe sy lewe van nou af gaan wees. Hy sal heeltyd op sy hoede moet wees sodat die hartseer en verleentheid hom nie oorweldig nie.
“Het jy gehoor wat het een van die meisies in ons skool aangevang?” vra Edgar skielik langs Tim. Hy het sy skooltas oor sy skouer, ’n krieketkolf onder die arm en ’n sportsak in sy linkerhand.
“Nee?”
“Lees jy nie jou emails nie?” vra Edgar. “Ek het vanoggend vir jou die link gestuur. Sy het ’n ding op YouTube gelaai, en toe beland dit op haar Facebook en Twitter. Skielik tweet en post almal in die skool dit. Dit was soos ’n freakin’ veldbrand.”
“Watse video is dit?”
“ ‘Is ek mooi of is ek lelik?’ Het jy al daarvan gehoor?”
Tim skud sy kop.
“Meisies van regoor die wêreld sit video’s op YouTube waarin hulle vir mense vra of hulle mooi is,” verduidelik Edgar.
“Ag, nee, dis siek.”
“Ek weet. Jy moet sien hoe dit geboemerang het. Ek dink nie sy is eens by die skool vandag nie. Van die ouens het dodelike opmerkings gemaak.”
“Daar is ’n klomp trolle op die internet. ’n Mens moet nie alles glo wat jy sien nie.”
“Dit is seker so.” Edgar haal sy skouers op. “O ja, voor ek vergeet: Kom jy vanmiddag krieket kyk? Ek dink ons gaan vandag gatskop op meer as twee maniere.”
Tim skud sy kop. “Ek is besig,” maak hy gou verskoning.
“Besig met wat?”
“Sommer met goed.”
“Watse goed?”
“Ek hoef jou mos nie van alles te vertel wat in my lewe aangaan nie,” sê Tim kortaf.
“Dis oor jou en Jess, nè? Wat is dit met julle?”
“Ek wil nie daaroor praat nie, Edgar, oukei?”
“Het julle uitgemaak?”
“Ek sê mos ek wil nie daaroor praat nie, verstaan jy nie?” kap Tim terug.
“Jammer, my bru.”
“Los my nou net ’n bietjie uit, oukei? Jis, jy is soos ’n lastige vlieg.”
Hy stap weg en los Edgar verslae agter.
Dit was dalk te erg, besef Tim toe hy die onderkant van die trappe bereik. Hy draai om en kyk op na Edgar wat steeds aan die bopunt van die trap staan. “Ek is jammer, Ed. Ek moes dit nie gesê het nie.”
Edgar knik. “Cool.”
Tim glimlag, maar dis ’n seer lag wat in sy bors af pyn. “Geniet die krieket, ek kom kyk anderdag weer.”
Amber sit in die Mugg & Bean-koffiewinkel van die winkelsentrum. Die koffie voor haar op die tafel word al koud. Af en toe peusel sy aan ’n krummel of twee van haar kolwyntjie. Ingedagte kyk sy dan om haar. Die plek is nie so besig nie, dis net sy, ’n besigheidsman en ’n ou tannie en haar kleinkind. Verveelde kelners hang by die toonbank rond.
Haar ma het haar vanoggend by die skool afgelaai, maar Amber het gewag totdat sy ry, toe glip sy weg na die winkelsentrum toe. Sy gaan nooit weer skool toe nie! Nie eens al druk iemand ’n kanon teen haar kop nie.
Almal weet vanoggend van haar.
Flippen video. Flippen simpel flippen video!
Sy het gedink sy gaan antwoorde kry, toe hoor sy net beledigings.
Dis alles op haar selfoon, maar sy hoef nie weer te kyk nie. Dis asof die woorde met ’n vurige yster in haar kop gebrand is. Dis getatoeëer aan die binnekant van haar oë.
Vra jy nog? Het jy nie ’n spieël nie? Jy is so lelik soos ’n slang.
Ek vry eerder my hand.
Disney World het gebel. Hulle soek een van hulle hekse.
Hahaha, Amber! Lekker een.
Jou oë sit te naby aan mekaar en dit lyk of ’n bus op jou gesig geparkeer het. Wil jy nog weet?
Kry ’n nuwe haarkapper, poppie.
Na drie biere sal jy beter lyk.
Parra!
“Wil jy nog iets bestel?” vra die kelnerin skielik langs haar.
Amber skrik. “Dalk ’n bietjie later.”
“Ek los weer vir jou ’n spyskaart.”
Amber knik en probeer glimlag. Sy tel die spyskaart op en staar onsiende daarna.
“Gaan jy nie skool toe nie?” Die kelnerin beduie na haar skoolklere en die tas langs die tafel.
“Nie vandag nie. Ek is …” Sy kan nie eens aan ’n verskoning dink nie. Haar kop is te deurmekaar.
“Ek kom netnou terug. Neem jou tyd. Ons is nie besig nie.”
“Dankie.” Amber sien hoe haar hand liggies bewe. Sy sit die spyskaart neer. Dan vat sy haar selfoon, maak die YouTube-app oop, en sonder om weer na die video te kyk of die nuwe opmerkings te lees, haal sy die video af. Daarna deaktiveer sy haar Facebook-profiel en raak sy ontslae van haar Twitter-profiel.
As dit maar so maklik was om haar kop skoon te kry.