Читать книгу Veldiep - Fanie Viljoen - Страница 11

8

Оглавление

STADIGE SATERDAG

Die naweek kon nie gou genoeg gekom het nie. By die huis doen elkeen vandag sy eie ding teen sy eie pas. Tim se ma noem dit ’n Stadige Saterdag. Sy het so twee van hierdie Saterdae per maand wanneer elkeen in die huis vir homself moet sorg, en sy ’n bietjie eie bederftyd inruim.

Tim is vroeg al wakker en uit die huis op pad perdestalle toe. Dis sý bederftyd, sy dinktyd.

Die son bak in sy nek en die lug ruik vars na die vorige nag se reën. Hy trek aan die T-hemp se soom wat aan sy nek begin kleef. Die moue span styf om sy bo-arms. Later vandag wil hy by die landgoed se buitelug-gim ’n draai gaan maak om ’n bietjie te oefen.

Hy het ook ’n hoop huiswerk vir die naweek gekry, maar miskien doen hy dit môreaand. Stil Sondagaande is perfek vir huiswerk.

Dis môre se probleem. Hy gaan die naweek nie nou al staan en omdink en beplan nie.

Die stalle is vanoggend besiger as gewoonlik. ’n Hele paar ruiters maak reg om uit te ry veld toe. In die oefenkamp leer ’n vrou ’n meisie perdry. Die perd lyk dooier as ’n donkie, maar die ruitertjie lyk steeds senuweeagtig.

Tim ken die afrigter. Hy sien haar gereeld hier met die kleintjies.

“Môre, tannie Zita!” Hy waai vir haar.

Blykbaar sien sy hom nie. Haar volle aandag is by haar leerlingruiter.

Tim glimlag effens. Hy was niks bang vir perde toe hy klein was nie. Totdat een van hulle hom afgegooi het, daarna het hy geleer: dit gaan nie oor bang of nie bang wees nie. Dit gaan oor respek vir hierdie majestueuse diere.

Soos hy Apollo se stal nader, word Tim se pas stadiger. Iets is nie pluis nie. Die staldeur staan oop. Hy frons. Hy is seker hy het dit toegemaak, en selfs al het hy vergeet, sou Moeketsi of een van die perdeversorgers die slot toegetrek het.

Nee wat, hy is verniet bekommerd, dalk is een van hulle daar binne besig. Of miskien is Apollo al na die weikamp uitgeneem.

Tim stamp die modder aan sy skoene op die sement af en stap die stal binne.

Apollo is daar, en iemand staan by hom, maar dis nie een van die versorgers nie.

“Chantel?” sê-vra hy. “En wat maak jy hier?”

“Ek het vir Apollo kom kuier,” antwoord sy en vee haar hare uit haar gesig. “Ek het vir my perde appelskyfies gebring en daar was ’n paar oor.” Sy beduie na haar hand.

Apollo se lippe krul om die appel terwyl dit in sy kouende bek verdwyn.

“O, um … dankie,” sê Tim. “Moet hom net nie bederf nie. Hy kan ’n blikskottel wees.”

Chantel glimlag. Sy vee haar hande teen mekaar af. “Ek dink hy hou van my.”

“Hy sal van enigiemand hou wat vir hom eetgoed bring.”

“Hy is werklik ’n mooi perd. Jy kan trots op hom wees.”

“Ek is, dankie.”

Stilte.

Tim weet nie wat om verder vir Chantel te sê nie, maar dan besef hy hy staan in die deur sodat sy nie kan uitgaan nie. “O, ekskuus,” stotter hy en staan eenkant toe.

Chantel glimlag.

Sy stap deur toe, maar op pad raak sy liggies aan Tim se hemp. “Ek is jammer,” sê sy sag.

“Ekskuus?”

“Oor jou en jou meisie,” sê Chantel. “Ek hoor julle het uitgemaak. Dis nooit lekker nie. Sê as daar iets is wat ek kan doen. Vir jou of vir Apollo.”

“Ek is oukei, dankie,” sê Tim. Dis ’n leuen, maar hy ken Chantel nie goed genoeg om meer te vertel nie.

Daar is boonop ’n ander ding wat aan hom kom krap: Weet die hele skool nou al van hom en Jess?

Veldiep

Подняться наверх