Читать книгу Veldiep - Fanie Viljoen - Страница 12

9

Оглавление

SJOKOLADE MAAK ALLES REG

“En as jy soos ’n lui kat op jou bed lê, Marli?” vra Tim later toe hy terug by die huis kom. Hy voel altyd beter nadat hy by Apollo was. Die kaste in sy kop is weer ’n bietjie reggepak, soos sy sussie altyd sê. Tot die volgende keer se deurmekaarspul.

“Hei, Marli! Ek praat.”

“Los my, ek lees,” sê sy gou. Daar is iets vreemds aan haar stem.

Hy kyk na die boek se voorblad. The Fault In Our Stars deur John Green. “Dis mos ’n vreeslike hartseer storie. Die ou gaan aan die einde dood.”

“Bly stil, Tim!”

“Dit vat nie ’n Einstein om dit uit te werk nie. Die ou en die meisie in die boek het dan al twee kanker. Een van hulle moet groet. Ek het die fliek gesien.”

“Ek ook, maar die boek is beter.”

“Huil jy al?” Hy duik langs Marli op die bed neer.

Sy probeer wegrol. “Jy stink.”

“Ek weet, ruik my hande – pure perd!” terg Tim.

Hy hou sy hande uit, maar Marli trek haar kop weg.

“Ag nee, sies, man,” keer sy.

“Ek sal netnou gaan stort.” Hy lees ’n paar reëls saam in die boek. “Jy moet dit vir my leen wanneer jy klaar is.”

Sy knik ingedagte.

“Sjoe, jy sal nie raai wat ek vanoggend gesien het nie,” sê Tim dan.

“Bokke,” sug Marli. “Die hele landgoed is vol van hulle. Pa kla hulle vreet sy tuin op.”

“Ja, daar was bokke, maar ek was by die sebras en kameelperde ook. Dit is ongelooflik om so naby te kon kom. Hulle skrik nie so erg wanneer mens op ’n perd is nie.”

“Oukei …” Marli se aandag is steeds in die boek.

“Hulle skrik nog minder as jy op ’n draak aangery kom. Hulle is ma-a-al oor drake.”

“Oukei.”

“Jy luister nie eens wat ek sê nie.” Tim druk sy stink hande weer voor haar neus.

“Jig, jy is ’n vark.” Marli klap hom sommer met die boek.

Hy lag.

Sy ook naderhand.

“Ek gaan gou stort voor ek nog ’n hou met ’n tranetrekker kry.” Tim rol van die bed af en spring op sy voete. “Gaan draai jy solank pa se arm om ons mall toe te vat. Ek koop vir jou vir ’n milkshake of ’n wafel en roomys. Jy kan later my voete soen omdat ek jou oulikste en beste boetie op aarde is.”

“Jy’s g’n!” roep Marli speels.

Tim lag net. “Toe, gaan praat met Pa!”

Die winkelsentrum is gepak met Saterdag-kopers toe Tim-hulle daar aankom. Hulle slenter van Musica na Exclusive Books na Incredible Connection. Maar dis toe hulle die roltrap na die boonste vlak neem, dat Tim ’n gesig tussen die mense herken.

Chantel.

“Kom, ons loop anderpad,” sê hy gou vir Marli.

Hy wil haar nog wegstuur, maar sy keer: “Kyk, daar is Chantel Botha. Sy is ook by die modelskool.”

Flippit, nou het Chantel hulle gehoor!

Glimlaggend kom sy nader. Haar oë blink. “Hei, Tim, agtervolg jy my? Eers vanoggend by die stalle en nou in die mall.”

“Ken julle mekaar?” vra Marli.

“Ja, van die stalle af. Chantel het ook ’n perd.”

“Perde,” korrigeer sy hom. Sy skiet haar hare oor haar skouer. “Wat maak julle hier?”

“Ons kom milkshake drink,” sê Tim. “En jy?”

“Ek shop terwyl ek vir my ma wag. Sy het vir haar ’n Persiese tapyt kom koop wat sy al heelweek begeer. Sy hou nie op praat oor die ding nie. Mens sal sweer dis van goud gemaak. Ha, dalk is dit! Dis baie duur, maar my pa gee nie om om sulke goed vir haar te koop nie.”

“Jissou, sy is gelukkig,” sê Marli.

Chantel trek haar gesig asof dit niks is nie. “Ons hele huis is mos vol stuff wat ons nie eens gebruik nie. Party goed staan nog so toe in hulle bokse. Dis seker ’n fortuin werd.”

Tim trap ongemaklik rond. Hy haat dit wanneer mense so met hulle geld spog.

“So, julle sê julle gaan milkshake drink?” Chantel se blik beweeg weer goedkeurend oor Tim. “Miskien moet ek sommer saamkom.”

“Nee, jammer,” keer Tim vinnig. “Ek en Marli wil ’n bietjie skinder.”

Sy suster kyk hom vraend aan.

“Oukei, hou jou maar snaaks.” Chantel lag effens. “Milkshake is in elk geval nie goed vir mens se figuur nie. Onthou dit sommer, Marli. As jy ’n goeie model wil wees, moet jy van soetgoed wegbly. Kyk na jou lyf. Ek sien hier loer alreeds ’n vetrolletjie.” Sy tik op Marli se maag.

“Ons loop nou,” sê Tim. “Lekker koop, Chantel.”

“Sien jou weer by die skool of die stalle, Tim.”

“Cool.” Tim trek vir Marli aan die arm weg in die rigting van Fego’s.

“Chantel is nogal oulik,” sê sy suster.

“As jy so dink.”

“Sy is. En sy is ’n goeie model. Jy moet haar sien.”

“Nee, dankie.”

“Hoekom nie?”

“Kom ons gaan drink daardie milkshake.”

Voor hulle by die restaurant kom, steek Marli by die Levi’s-winkel vas. “Wag eers.” Sy kyk na die nuwe klere in die venster. Die winkelpoppe staar strak die verte in. Die klere sit styf aan hul lywe. Ingedagte vat Marli aan haar middellyf. “Dink jy ek sal goed lyk in daardie toppie?”

“Nee, jis,” sê Tim sonder huiwering. “Dit wys te veel lyf.”

“Is dit oor daardie vetrol waarvan Chantel gepraat het?”

“Is jy simpel?” vra Tim. “Jy het g’n ’n vetrol nie. Moenie alles glo wat ander mense sê nie. Daar is niks fout met jou nie.” Hy vat haar aan die skouer en stuur haar weg van die klere af. Die restaurant is net ’n entjie laer af in die winkelsentrum se gang.

“Ek hoor jy en Jess het uitgemaak,” sê Marli toe hulle uiteindelik in Fego’s sit.

Tim roer nie.

Die kelner sit spyskaarte voor hulle neer. “Kan ek solank vir julle iets bring om te drink terwyl julle na die menu kyk?”

“Net water met suurlemoen vir my,” sê Marli.

“Ek gaan eers kyk,” sê Tim.

Die kelner knik en stap weg.

“Hoe lank weet jy al van my en Jess?” vra Tim beheersd. “Ek het nie vir jou gesê nie.”

“Lankal, seker van die dag nadat julle uitgemaak het,” antwoord Mali skrikkerig. “Jess het haar relationship status op Facebook verander, maar ek kon in elk geval sien iets is fout met jou. Eers het ek net nie geweet wat nie.”

Sy speel senuweeagtig met ’n servet in die houer voor hulle. “Jy kon my maar vertel het.”

“Dis nie so maklik nie, Marli.” Hartseer wel weer in Tim op. Hy moet sy kop wegdraai. Hy het geweet dit sou moeilik wees, maar hy het nie gedink dit sal só erg wees nie.

“Dis oukei, boe.” Marli en Tim het mekaar altyd “boe” en “sus” genoem toe hulle jonger was. Deesdae sê sy dit net as ’n manier om te wys sy gee om wanneer daar die dag regtig fout is.

“Sus,” sê Tim sag. Hy sit sy hand in hare en gee dit ’n drukkie, maar al probeer hy hoe hard, kan hy nie vir haar kyk nie. Hy kan eenvoudig nie vir haar sê hoe dit voel as jy vir iemand lief is, en hulle het jou nie terug lief nie.

“Is julle gereed om te bestel?” kom die lastige kelner weer vra.

“Ja, hoeveel tjoklit het julle in hierdie plek?” vra Marli.

Die kelner frons.

“Ag, moenie worry nie. Bring sommer twee tjoklit-milkshakes, en twee stukke tjoklitkoek. Ekstra groot vir dié ou.” Sy beduie na Tim. “Hy gaan dit nodig kry.”

Veldiep

Подняться наверх