Читать книгу Veldiep - Fanie Viljoen - Страница 5
2
ОглавлениеALLES IS OUKEI
Tim wag tot al die ouens klas toe is voordat hy van die paviljoen af opstaan. Hy stof sy sitvlak af en haal ’n paar keer diep asem, maar dit help nie veel om van die morbiedheid ontslae te raak nie. Só het hy nog nooit gevoel nie.
Hoe gaan hy deur die res van hierdie skooldag kom? Vier periodes strek voor hom uit. Afrikaans, Lewenswetenskap en ’n dubbelperiode Wiskunde – die kersie op die misbaksel van ’n dag.
Op die stoep voor die Afrikaansklas oorweeg hy dit nog om nie in te gaan nie. Dalk kan hy net iewers op die skoolgrond gaan sit totdat die dag verby is.
Dan kom die Afrikaansonderwyser se streng stem uit die klaskamer: “Kom, Tim, ek wag nie vir jou nie!”
Die onnie het sy kop seker bo die hoë vensterbank sien uitsteek.
“Flippit,” sê Tim sag. Nou het hy nie ’n keuse nie. Hy moet ingaan. Hy voel die onderwyser se oë op hom brand toe hy die klas binnestap.
“Maak julle handboeke oop op bladsy een-en-vyftig,” grom die onnie.
“Hei, wat gaan aan?” fluister Edgar toe Tim by die lessenaar inskuif.
Edgar en Tim ken mekaar al van laerskool af. Daar het hulle elke pouse saamgespeel, was hulle saam in elke skoolkonsert en saam by elke sportgeleentheid. En natuurlik saam in die moeilikheid wanneer hulle nie saam ’n plan gemaak het om dit te ontduik nie.
Edgar het in ’n stadium baie kom oorslaap. Tim het eers later uitgevind hoekom. “My pa-hulle baklei,” het Edgar sag in die donker slaapkamer gesê.
Net daardie drie woorde, en daarna ’n sug.
Die volgende dag kon Tim sien dit was ’n verligting om daardie swaarheid aan iemand te kon erken.
’n Maand later het nog ’n erkenning gekom. Dit was weer net drie woorde. “Hulle gaan skei.”
Tim het dadelik geweet wie die “hulle” was waarvan Edgar praat. Die egskeiding het aan Edgar gevat.
Elke keer wanneer Tim daaroor gevra het, het Edgar gesê: “Ek deal daarmee.” En hy het.
Vandag maak sy ma hom groot. Sy pa, ’n motortegnikus, betaal ’n skrapse onderhoud. Edgar sien hom elke tweede naweek, maar soms net een keer per maand, want hy het iemand anders ontmoet. Sy is nou prioriteit.
Intussen sukkel Edgar en sy ma voort, maar hulle deal daarmee.
Terug in die Afrikaansklas fluister Edgar weer: “Hei, Tim, ignoreer jy my? Ek vra wat aangaan?”
Edgar weet wanneer daar fout met Tim is.
Tim kan niks vir hom wegsteek nie. Tog probeer hy. “Niks, Ed, alles is oukei.”
“Ek hoop nie ek is eendag só oukei nie.”
“Ons praat later, reg so?”
Edgar kyk hom bekommerd aan. Hy knik.
Tim buk en haal sy taalhandboek uit sy tas. Bobaas-Afrikaans Graad 11. Die skrywers van die boek het gedink dis ’n bobaasidee om elke afdeling van die boek met “bobaas” te begin. Bobaassinonieme, bobaasafkortings, bobaaswoordsoorte.
Tim se boek lyk nog feitlik nuut. Hy praat mos elke dag Afrikaans, hy hoef dit nie nog te leer ook nie. Lusteloos begin hy deur die boek blaai.
“Een-en-vyftig,” fluister Edgar vir hom en wys die plek waar die onderwyser lees.
“Een-en-vyftig,” sug Tim. “Bobaasidiome.”
Toe die skooldag uiteindelik verby is, is Tim dankbaar om te kan ontsnap uit die bedruktheid van die klaskamers. Hy trek sy das los en maak die boonste knoop wat hom so wurg oop.
In sy kop woed ’n storm van gedagtes. Elkeen van hulle draai om Jess. Hy wil haar wegdink, maar so maklik is dit nie om van iemand ontslae te raak nie.
Hy trek al halfpad bushalte toe toe Edgar aangedraf kom. “Ons moet praat,” sê hy.
“Nie nou nie, Edgar. Ek gaan laat wees vir die bus.”
“Wat de hel is dit met jou, hè?” Edgar ruk hom aan sy tas se skouerband terug toe Tim vooruit wil loop. “Ek gaan nie soos ’n flippen desperate brak agter jou aanhol nie. Staan stil en vertel my. Jy het in die klas gesê ons praat later. Dit is nóú later. Praat!”
Tim sug. Hy draai na sy vriend toe. Hy het nie die woorde nie, en selfs al het hy gehad, kan hy hulle nie sê nie.
“Los my net ’n bietjie uit, oukei, Edgar?” vra hy sag. Hy probeer gerusstellend glimlag, want hy sien die kommer op Edgar se gesig.
“Is dit jou ma-hulle?” vra Edgar.
“Nee, hulle is oukei.”
“Iets by die skool?”
Tim skud sy kop. “Ek moet regtig nou gaan, die bus gaan ry en dan moet ek landgoed toe loop.”
“Dan is dit Jessica.”
“Drop dit net, oukei?” Tim voel of hy kan bars by die aanhoor van haar naam. Al die asem pers uit sy lyf soos die keer toe hy van sy perd, Apollo, afgeval het.
Dit het so vinnig gebeur. Hy het wind-uit op die grond gelê en geveg om asem.
Apollo het weggehol.
Na ’n ruk het klein teugies suurstof hortend begin deurkom. Dit was ook net betyds, anders sou Tim sy bewussyn verloor het, het hy later gehoor. Elke asemteug het hy dankbaar ontvang. Sy bors het geruk soos sy longe weer vol trek.
Hy het gedink hy gaan dood, maar dalk was dít nie hoe dood voel nie.
Dalk gaan ’n mens nie so maklik na die blou dak toe nie. Miskien wil ons net hê dit moet makliker wees, amper soos ’n noodknoppie wat jy druk wanneer jy uit hierdie lewe moet ontsnap.
Veral op dae soos vandag.