Читать книгу Brand - Fanie Viljoen - Страница 5
2
ОглавлениеArian lê later die middag uitgestrek op die sitkamerbank. Hy doen al die afgelope halfuur niks nie. Die halfure voor dit ook: niks. Hy is kaalvoet en dra weer gister se swart jeans en sy gunsteling- T-hemp met ’n brandende Mickey Mouse op. Netflix is aan op sy tablet, maar die reeks wat hy al heelmiddag vreetkyk, het teen episode vier simpel begin word, daarom dwaal sy aandag en word die klank net agtergrondgeraas totdat ’n kar se deur buite toeklap.
Oomblikke later kom sy broer, Janco, en suster, Liny, vol lewe ná die sportoefening by die voordeur in.
“Dankie tog ons is by die huis! Dit voel of my maag homself opvreet van hongerte,” sê Liny. Sy gly haar tas van haar rug af en laat val dit waar almal oor die ding sal moet trap om by die kombuis te kom.
Janco slinger sy swemsak in Arian se rigting waar hy op die naat van sy rug op die bank lê. Die sak met die paddapote, swembril en nat handdoek land met ’n slag op Arian se maag.
“Komaan, Janco!” Vies klap Arian die ding af.
“Ag sorry, bru. Ek het jou nie gesien nie.” Janco gee ’n onskuldige spotlag.
“Ha-ha, baie snaaks. Maak dan flippenwil jou oë oop.”
“Julle vloek nie in my huis nie,” sê hulle ma toe sy ook binnekom. Haar kort blonde hare is dieselfde kleur as Liny s’n. Fyn kommerplooie kreukel om haar oë en tussen haar wenkbroue. Sy is ’n ouditeur en sit heeldag en frons vir ’n spul syfers en belastingberekeninge. Saans bring sy die werk huis toe in daardie skootrekenaarsak wat nou aan haar skouer rem. Vanmiddag is haar hande ook vol Pick n Pay-sakke.
“Dis nie ek wat vloek nie, dis Arian,” sê Janco.
“ ‘Flippenwil’ is nie vloek nie,” kap hy terug.
“Dit ís in my huis,” sê sy ma. “Stop dit onmiddellik.”
“Jy het gehoor wat Ma sê, Arian.” Janco grinnik. “Stop dit onmiddellik.”
“En lê jy al weer, Arian?” vra sy ma toe sy verbystap kombuis toe. Sy wag nie vir ’n antwoord nie, want dis so duidelik soos ’n gebreekte selfoonskerm.
“Hy lê altyd,” sê Janco en klap Arian teen die agterkop. “As hy nog rustiger raak, beland hy in ’n koma.”
Arian kan opspring en hom terugklap. Maar hy doen dit nie. Hy mors nie sy energie nie.
Janco voel seker beter as hy ander mense kan slegsê of seermaak. Die onnies en kinders by die skool ken nie hierdie kant van hom nie, maar Arian ken dit. Hulle deel ’n kamer, netjies in twee gedeel met ’n stuk maskeerband. Arian se deel is by die venster, en Janco s’n by die muur sodat hy sy magdom sertifikate kan uitstal.
“Los tog vir Arian,” sê Liny en sug. Arian staan in elk geval op en stap kombuis toe. Liny is ook nou daar en krap in die yskas op soek na iets om te eet. “Ek is honger, Ma. Hierdie is regtig die verveligste yskas wat ek al in my lewe gesien het.”
“My jinne, Liny!” Arian se ma plak ’n bak margarine wat sy uit die inkopiesak haal hard op die kombuistoonbank neer. “Ek kom ook nou net eers by die huis, nes julle. Gee kans, ek gaan netnou kosmaak.”
Liny sug. Sy klap die yskas toe. Sy het darem ’n bakkie jogurt gekry. Sy gaan eet dit in die sitkamer, waar Janco nou die TV aangesit het en iets anders op Netflix soek om te kyk.
Die klank dryf na Arian en sy ma in die kombuis toe.
“Sit sagter, julle!” roep sy.
Die TV blêr voort.
“Ek gaan kamer toe,” sê Arian. “Roep wanneer ek moet kom eet.”
Hy is nog nie by die deur uit nie, toe is sy ma by hom. “Wag eers.” Sy trek hom aan sy mou terug. Haar oë word sag toe hy na haar toe draai. “Vertel my: hoe was jou dag?”
“Hoekom vra Ma sulke stupid goed?”
“Want ek stel belang.”
Hy haal sy skouers op.
“Het iets interessants gebeur?”
“Selfde ou goed.”
“Vertel my.”
“Ag, Ma-a-a.”
Sy sit haar hand op sy skouer. Kyk diep in sy oë en byt haar lip vas asof sy dink. Dan keer sy terug na die inkopiesak wat sy uitpak. “Wanneer sien jy weer vir juffrou Jonkers?”
“Môremiddag drieuur, dink ek. Ek weet nie.” Eintlik weet hy. Dit ís môre. Maar hy wil nie gaan nie. Dit help nie. Al daardie skoolberader-gebabbel tap sy energie.
“Sal jy vir Pa vra om jou te vat? Ek het ’n vergadering.”
Sy pa is ’n makelaar. Hy het nooit tyd vir sulke dinge nie. “En as Pa besig is?”
“Dan vra ons vir Ouma.”
Aa, Ouma – die matriarg van die familie met die streng gesig van ’n juffrou Rottenmeier. Arian weet van juffrou Rottenmeier omdat Liny op laerskool elke liewe Heidi-episode duisend keer gekyk het. Daardie temaliedjie pyn nou nog in sy brein.
“Ek sal sommer ná skool bly, dan hoef niemand my nêrens heen te vat nie,” keer Arian.
“Is jy seker?” vra sy ma.
“Dis oukei. Moenie worry nie.”
Sy ma lyk verlig. Haar seuntjie sal self by die skool-shrink uitkom. Hoe gaaf van die mal kind.
Dis seker hoe hulle hom deesdae sien: Janco en Liny is die supersterre, hy is die malle. Asof dit nou so crazy is om ’n paar doodles in jou huiswerkboek te krap. Oukei, dit was nie sommer enige doodles nie. Die Afrikaans-onnie het die goed aan die begin van die skooljaar gesien: ’n hand wat uit ’n poel vlamme reik asof iemand verdrink of brand. Langsaan was ’n kopbeen met ’n vraagteken tussen die oë. ’n Kis met die woord “loser” op. ’n Draak wat op ’n ou se bors staan en hom met sy vuurasem verkool. ’n Spraakborrel langs ’n gesig wat baie soos Arian s’n lyk met die woorde: Fade out or bail out?
Die skool het Arian se pa-hulle gekontak. Daardie aand het Arian sy pa en ma in die kamer agter die toe deur hoor stry.
“Dink jy ’n berader sal hom regkry?” het sy pa gevra. “Miskien het hy net ’n dekselse pak slae nodig.”
“Jy slaan nie aan hom nie, Herman.”
“ ’n Pak slae op sy tyd het niemand nog skade gedoen nie.”
“Vandag práát mens met jou kinders. Of jy kry iemand om met hulle te praat.”
“Praat, praat, praat. Wat sal dit help? Laities draai jy nie in watte toe nie, anders maak jy hulle vir die verderf groot.”
“Jy trek ook nie kinders voor nie. Dit is net so sleg.”
“Wie trek ek nou voor?”
“Janco en Liny.”
“Ek trek hulle nie voor nie. Dis Arian wat agterbly. Daar is ’n verskil. En jy moet ophou om so vir hom te skerm, Sonet.”
“As ek dit nie doen nie, wie gaan?”
“Nie ék nie. ’n Kind gaan my nie rondneuk nie. Ek het genoeg stres in my lewe.”
Hulle was ’n ruk lank stil, toe begin sy pa weer: “Daar is iets nie lekker met daai kind nie. Hy is ’n flentergat. Hy neem nie aan sport deel nie. Hy leer skaars. In my wêreld is daar nie plek vir sulke nonsens nie. Daardie mannetjie moet bykom en vinnig ook. ’n Pak slae sal help. Ek gee nie om of hy ’n tiener is nie.”
“Lig net jou hand vir hom op, dan …”
Sy ma se stem het sagter geword. Arian kon haar nie verder hoor nie, maar uiteindelik het sy pa toegegee: “Nou oukei, stuur hom na die berader toe. Laat sy maar kyk wat sy met hom kan uitrig. Ek is moeg vir hierdie twak.”
Daar is iets nie lekker met daai kind nie.
Sy pa was nie die eerste een wat dit gesê het nie.
* * *
Sy naam, vind Estie ná ’n hengse gesoek op Facebook uit, is Arian Foster, nie Adrian nie. Sy sit regop op haar bed en tik met haar vinger op die Add Friend-blokkie op haar selfoon. Nou moet sy net wag dat hy die vriendskapsversoek aanvaar. Tot dan kan sy kyk watter van sy inligting alreeds oop is.
Sy bring die selfoon nader om sy profielfoto beter te bestudeer. Die foto is nogal donker. Kop en skouers. Sy ken is vierkantig. Wangbene effe hoekig. Donkerbruin hare. ’n Uittartende kyk en ’n misterieuse trek om sy mond.
Sy blaai na die ander albums. Net een ander foto is oop en dis ewe donker, soos iemand wat nie geken wil word nie. Geen van sy persoonlike inligting is voltooi nie. Dalk wys dit as hy die vriendskapsversoek aanvaar.
Die volgende oomblik bars iemand kliphard in sang uit: “I want to break free!”
“Ag, flippit tog,” sug Estie.
Dis Charlene, haar pa se vriendin. Tannie Charlene, sê Estie se pa moet sy haar noem. “I want to break free from your lies, you’re so self-satisfied, I don’t ne-e-ed you …” Haar stem dawer bo die Queen-liedjie uit. Estie rol haar oë. Tannie Charlene is ’n haarkapper. Sy en haar pa het so ’n aan-af-verhouding. Sedert verlede jaar Kersfees is dit aan. Haar pa het vir tannie Charlene ’n nuwe selfoon gegee, en toe ontdek die vrou Spotify. Sy stream net Queen se musiek daarop. Asof dit nie erg genoeg is dat sy dit kliphard in die huis speel nie, blêr sy ook saam met die musiek.
Om die klanke uit te doof, sit Estie musiek van Bat for Lashes op haar selfoon aan. “Laura” is haar gunstelingliedjie.
“Your name is tattooed on every boy’s skin,” klink die woorde in haar ore toe sy teruggaan na Arian se profielfoto. Sy trek die foto groter en lê terug teen haar kussing. Lank staar sy na Arian se gesig en probeer iets in hom raaksien wat hy dalk nie wys agter daardie geheimsinnige kyk nie.
Die klop aan die deur en die oopmaak daarvan is soos een beweging. “Estie, kan jy die borde kom regsit? Die kos is amper reg.” Dis tannie Charlene.
Estie kon nog nie uitwerk wat haar pa in die vrou sien nie. Haar lang hare is in strepe van rooi, karamel en bruin gekleur. Haar lippe is altyd dieprooi. Sy is so oud soos Estie se ma nou sou gewees het. Sy gebruik duur gesigsrome en goed om die plooie weg te hou. Haar klere sit ook gedurig te styf. Dis tienerklere, enige swaap kan dit sien. Dis asof sy jonger probeer lyk as wat sy is. Sulke valsheid laat Estie se nekhare rys. Sien haar pa dit dan nie raak nie? En hy betaal vir alles: die rome, die grimering, die klere.
“Estie, die kos …”
Sy pluk die oorfone uit en druk haar selfoon onder die duvet in, maar tannie Charlene het dit gesien.
“Wat maak jy?”
“Niks nie, tannie.”
“Gee vir my jou selfoon.” Sy hou haar hand met die maer vingers en gemanikuurde naels uit.
“Hoekom?”
“Ek wil net ’n bietjie kyk.” Haar wenkbroue lig. Twee rye plooie verskyn op haar voorkop.
“Nee.”
“Estie, gee jou foon.”
“Dis privaat.”
Tannie Charlene trek haar skouers ergerlik terug. “Jy is nog ’n kind.”
“En tannie is nie my ma nie.”
“Niks is privaat nie.”
“Gaan kyk na jou eie selfoon.” Hierdie vrou met haar stywe klere en kamtige mooi maniertjies sal nie haar ma se plek vat nie. Estie wens partykeer haar pa wil die vroumens net los en klaarkry. Sy en haar pa kan alleen regkom. Hulle het nie hierdie vrou in hulle lewens nodig nie. Maar haar pa dink seker nie so nie. Estie sien hy dra nie meer sy trouring nie. Hy het dit altyd aangehad, selfs ná haar ma se dood. Nou lê dit in sy bedkassielaai. Estie het dit daar gekry.
“Wil jy hê ek moet jou pa roep? Hy kan kom kyk wat jy doen.” Haar bolip beweeg soos ’n rooi slang.
“Nee,” antwoord Estie sag.
“As ’n mens iets so vinnig wegsteek, is jy met onheilighede besig. Ek lees wat sê hulle op die internet. Hoe tieners na lelike goed kyk en kaalfoto’s neem. Die mense sê jy moet weet wat op jou kinders se fone aangaan.”
“Ek sê jou, jy is nie my ma nie. Ek is nie jou kind nie.” Estie sê dit harder, met meer byt.
Die ergerlikheid blits in tannie Charlene se oë. “Jy moet werklik dink aan jou woorde, Estie. Dit maak seer.”
Dit maak seer? Estie sou lag as sy nie so kwaad was nie.
Tannie Charlene buk vinnig verby haar, lig die duvet op en gryp die selfoon. Estie keer verniet. Tannie Charlene kyk na die foto op die skerm. Haar wenkbroue lig weer. “Ek was reg. Wie is hierdie?”
“Net ’n ou.”
“Sy naam?”
“Adrian … um, Arian.”
“Hoe ken jy hom?”
“Hy is in my skool.” Estie sê dit snedig, vou haar arms en val terug teen die kussing.
Tannie Charlene se vingers vee oor die skerm. “En hierdie ander mense?”
Estie sit weer regop. “Gee my foon, tannie.”
“Tweeduisend negehonderd en twaalf vriende … Wat! Ken jy soveel mense?”
“Ja.”
“Almal?”
Estie wil haar selfoon teruggryp, maar tannie Charlene ruk dit weg. Haar oë staan stokstyf van skok. “Hulle is seker nie almal in jou skool nie?”
“Tannie sal nie verstaan nie.”
“Wie is die mense, Estie?”
“Dis net mense.”
“Maar ken jy hulle?”
“Party.”
“Hoeveel van hulle?” Tannie Charlene wag vir ’n antwoord.
Estie rol haar oë. Sy sê nie ’n woord nie.
“Hóéveel van hulle?”
“Party,” herhaal Estie.
“Stuur hulle vir jou boodskappe?”
“Partykeer.”
“Watse boodskappe? Oor siek goed?”
“Tannie bedoel seks? Sê dit maar. Ek weet wat dit is. Ons leer daarvan in die skool. En ek hoor vir tannie en my pa –”
“Estie!”
Op ’n manier hou Estie daarvan om die skok op haar gesig te sien.
“Jy sê dit nie!”
“Tannie wou weet. En die antwoord is nee. Ek praat nie met my Facebook-vriende oor seks nie.” Estie kan sien sy glo haar nie.
“Ek sal met jou pa moet gesels.” Tannie Charlene gee die selfoon terug. Sy gee Estie nog ’n donker kyk. “Jy kan kom eet. Die kos is reg.”
“Ek is nie honger nie,” sê Estie vinnig. Sy vee tannie Charlene se vingermerke op haar selfoonskerm met haar T-hemp af.
“Jy moet eet.”
“Ek sal later.”
“Estie …” sê tannie Charlene. Sy laat die naam tussen hulle hang. Dan steek sy haar hand uit om aan Estie se wang te vat, maar Estie ruk weg. “Ek wil nie baklei nie.” Estie rol weer haar oë. “Jy weet jy kan met my kom praat as daar ’n probleem is.”
“As tannie my ma was, sou ek, dankie.” Estie skuif weg. “Los my nou.”
Die plakkaat van Arctic Monkeys waai op toe tannie Charlene die deur agter haar toemaak. Uit die kombuis sing Queen weer “I want to break free”. Estie druk die oorfone terug in haar ore. Sy staar na haar selfoon, maak seker al die vrou se vingermerke is af.
Dan gaan sy terug na Arian se foto. Lank staar sy daarna totdat die woede wegsyfer. Uiteindelik plooi ’n glimlaggie om haar lippe. Dis net effens, soos ’n Hallo-ek-sien-jou-glimlag.