Читать книгу Brand - Fanie Viljoen - Страница 7

4

Оглавление

Terwyl die klasse die volgende dag vir die derde periode ruil, sien Arian die Facebook-meisie tussen die ander kinders. Sy lyk nes haar profielfoto: skouerlengte hare en sielvolle, amper hartseer oë.

Groet haar, sê iets vir hom.

Nee, hy ken haar nie, daarom knik hy net sy kop effens en stap verder voordat sy met hom kom praat.

Mense se koppe raas as hulle dink ’n Facebook-vriendskap is dieselfde as ’n werklike vriendskap. Dalk haal hy vanmiddag vir Estie af. Facebook is in elk geval ’n pot snot. Jy gee mense die geleentheid om in jou private lewe te kom krap. Hy wil nie so geken word nie. Hy hou van sy privaatheid. Dis hoekom dit so ’n helse pyn is om ’n kamer met sy broer te deel. Liny is gelukkig om haar eie kamer te hê.

Die dag sleep verby, maar uiteindelik kom dit ook tot ’n einde.

“Hei, boet,” roep Janco toe hy Arian ná skool in die gang stormloop, “vat my tas saam huis toe.”

“Is jy simpel?” vra Arian. “Dra jou eie flippen tas, Superseun.” Hy wil aanloop, maar Janco keer hom.

“Komaan, ek het swem.” Hy gooi die tas oor Arian se oop skouer. “Ek wil nie die ding heeltyd saamkarring nie.”

“Ek stap huis toe!”

“Dankie, ek skuld jou!” Janco trek al onder in die gang waar dit wegdraai swembad toe.

“Hei, Janco!” roep Arian weer, maar sy broer kom nie terug nie. Arian vloek saggies. Hy gly die tas van sy skouer af en laat val dit op die stoep. Dan skop hy dit sommer nog muur toe, draai om en loop. Hy sal Janco later laat weet die ding is voor die mediasentrum.

Sonder om verder aan die tas te dink, kies Arian kortpad oor die vierkant. Verby die saal, dan volg hy die laning bome na Hoërskool Staatsberg se hekke toe. In sy kop draai gisteraand se vreemde droom en die vuur wat hy in die veld gemaak het. Hy sien vir Estie by die skoolhek rondhang asof sy vir haar ma-hulle wag. Sy het haar selfoon in haar hand en haar tas oor haar skouer. Effens selfbewus trek sy haar vingers deur haar hare.

Dit sal net ordentlik wees om haar te groet, sê daardie binnestem van vroeër vandag weer. Maar hy is nie lus vir mense nie en doen dit nie.

Koponderstebo stap Arian padaf. Dis ver, maar hy is dit al gewoond. Wanneer hy so stap, kry hy kans om te dink. Vandag is dit aan Janco. Arian kan nie glo hy en Janco was sulke groot pelle toe hulle jonger was nie. Hulle kon ure lank onder ’n boom karretjies speel, of saam aan ’n boomhuis bou. Soms het hulle op hul rûe op die grasperk voor die huis gelê, hulle voete teen mekaar, en in die lug fietsgery. Om en om het hulle voete teen mekaar s’n gedruk. Janco se bene was altyd sterker, maar dit was groot pret. Agterna het hulle ma hulle saam in die bad gegooi.

Janco het altyd in die water gepie. Hy doen dit glo nou nog wanneer hy swem. “Jy klim g’n uit om toilet toe te gaan as jy oefen nie, is jy simpel?” het hy al vir Arian gesê. “Alle swemmers doen dit, dude.” Arian gee nie om of alle swemmers dit doen nie, dit bly plein flippen gross.

Oor die jare het dinge verander tussen hulle. Daar was nie een spesifieke insident wat die kloof tussen hulle gekap het nie. Die broederskap het so geleidelik weggekalwe, dalk omdat Janco die swakheid in Arian gesien het. Of dalk …

Arian knyp sy oë toe. Daar is dinge wat ’n mens net moet wegdink. Wegsluit in jou omdat dit jou diepste hartseer raak.

Toe hy weer sy oë oopmaak en die wêreld om hom ’n werklikheid word, besef hy hy is in Aalwynstraat, voor die ou huis wat hy al ’n paar keer in die verbyloop gesien het. Die plek staan seker al twee jaar lank leeg. Hy stop by die hekkie en kyk op na die dubbelverdieping se rooi dak. Die verf dop van die mure af en plek-plek loop diep krake hoekig met die sementlyne tussen die bakstene langs. Voëlneste peul onder die dakbalke uit. Die geute is verstop met blare en lankal deurgeroes. Die stoep lê toe onder die sand en die tuin is ’n ramp.

Arian staan nog ’n rukkie en kyk. Hy het laas jaar gehoor hulle gaan die plek sloop, maar hier staan dit nog. Sy oë dwaal weer oor die ou plek. Dan tref dit hom: Flippit, hy het skoon vergeet van die afspraak met die skoolberader. Hy het nie regtig daarvoor lus nie, maar hy wil ook nie sy pa-hulle op sy case hê nie. Vinnig kyk hy na die horlosie op sy selfoon. As hy nou terughardloop skool toe, kan hy dit nog maak.

“My pa noem die huis in Aalwynstraat ’n oogseer,” sê hy later die middag vir juffrou Patricia Jonkers, die berader. Sy ma kry die horries as sy hoor hy praat met haar oor die vrot ou huis en nie sy vrot ou kop nie. Dis wat sy ma-hulle wil regmaak: sy kop wat weird prentjies uitdink. Maar hy wil nie so in hom laat rondkrap nie. Dis hoekom hy eerder oor die huis praat.

“Daar bly nou al lank niemand nie,” sê hy vir juffrou Jonkers. “Ek wonder partykeer hoe die huis moet voel.”

“Hoe sou jy voel as jy die huis was, Arian?” vra sy. Haar bruin oë rus gemoedelik op hom. Die son blink op juffrou Jonkers se swart krulhare en die geblomde kopband wat sy so graag dra.

’n Gevaarlig flits in Arian se kop. Dit was ’n strikvraag. “Ek sou niks voel nie. Gee nie om nie.”

“Werklik nie, Arian?”

“Dis net ’n huis. Huise voel nie regtig nie. Ek dink maar net sulke simpel goed.”

Juffrou Jonkers bly stil. Dit laat Arian ongemaklik voel, asof hy die stilte moet volmaak. Naderhand draai hy sy kop weg. “Die huis is dalk hartseer. Dis hoekom sy mure so kraak,” sê hy uiteindelik.

“Interessant. Kraak mense ook?”

“Natuurlik, anders het kopdokters nie ’n job gehad nie.”

Duh! wil hy byvoeg, maar hy los dit eerder.

Hy kyk hoe sy iets in haar lêer skryf. “Wat skryf juffrou?”

Sy glimlag net en skryf verder.

“Skryf juffrou alles neer wat ek sê? So, as ek sê ‘aartappel’, dan skryf juffrou Arian het aartappel gesê?”

Sy glimlag. “Jy het ’n lekker humorsin. Sommige mense gebruik dit natuurlik om weg te kruip omdat hulle nie geken wil word nie.” Sy dink ’n rukkie na. “Ken iemand jou, Arian?”

“Hoe bedoel juffrou nou? Baie … baie mense ken my.”

“Ken hulle jou regtig? Of net so oppervlakkig?”

Hy maak of hy oor die vraag moet dink, maar ’n diep wete dra die antwoord: Niemand ken my nie. Dit laat hom tegelyk skuldig voel en soos iemand wat iewers op die oopsee aan die verdrink is sonder dat ’n siel daarvan weet.

Hy weet hy mag dit nie vir die juffrou wys nie, want dan gaan sy verder krap. “Hulle ken my regtig. Ek het niks om weg te steek nie.”

Sy skryf weer. “Ek is bly,” sê sy toe sy opkyk en haar bril afhaal. “Want ons het mekaar nou al ’n paar keer gesien en dit voel vir my of ek jou nog nie heeltemal ken nie.”

“Gee maar kans. Dalk like juffrou my eendag so baie dat my ma juffrou nooi vir ’n braai.”

Sy glimlag.

Arian hou daarvan om speletjies met haar te speel.

* * *

Estie kyk na die nuwe foto op haar selfoon. Dis van Arian. Sy het dit vanmiddag by die skool geneem toe hy by die skoolhek uitstap.

Sy het met haar selfoon in haar hand gestaan en gedink: hoekom nie? Haar selfoonkamera se klank is af sodat ouens nie weet as sy foto’s van hulle neem nie. Partykeer sien sy ’n ou in ’n winkelsentrum of iewers. As sy dink hy is aantreklik, neem sy ’n skelm foto. Dis nie asof dit onwettig is nie. Sy glo nie dit is nie. Daar is ’n hele paar op haar selfoon. Gelukkig het tannie Charlene nie daarop afgekom nie. Haar brein sal smelt en by haar oë uitloop as sy dit sien.

Arian se foto is haar nuutste. Hy is perfek in fokus. Estie trek haar duim en wysvinger oop oor die skerm om die foto te vergroot. Sy glimlag. As jy verby die afgetrokkenheid kyk, is Arian eintlik flippen aantreklik. Sy wonder of hy dit weet. Dalk dink seuns nie aan sulke goed nie. Meisies vra hulleself gedurig daardie vraag: Is ek oukei? Is ek mooi? Mooi genoeg?

Opgewonde merk sy die foto as een van haar gunstelinge en dink: Miskien moet sy Arian môre ’n bietjie by die skool agtervolg. Hy hoef nie te weet nie. Sy kan maar net kyk wat hy aanvang. Dis mos niks nie. Dalk kry sy nog ’n foto.

Brand

Подняться наверх