Читать книгу Brand - Fanie Viljoen - Страница 9
6
ОглавлениеSaterdagoggend is die huis stil. Arian se ma-hulle is saam met Janco na sy swemkampioenskap. Arian staan eers uit die bed op toe die honger aan hom begin knaag. Om die stilte te verdryf, sit hy musiek op sy selfoon aan en speel dit deur sy Bluetooth-luidsprekers. Lekker hard sodat die bure seker ook kan hoor. Hy skud sy kop op die maat van die musiek terwyl hy kombuis toe stap.
Die lug wat by die venster instroom, ruik na laas nag se reën. Arian asem dit diep in, dan buk hy by die kombuiskas om ’n bakkie uit te haal. Hy kry die melk, suiker en die boks ProNutro.
“Lepels … waar is die lepels?” neurie hy en krap in die messelaai, maar hy kry niks nie. Hy stamp die laai toe en gaan soek ’n skoon lepel in die skottelgoedwasser. Daarna gooi hy vir hom ’n reusebak ProNutro in. Dis eintlik Janco se heuning-ProNutro, daarom is dit soveel lekkerder om te dink hy gaan vies wees wanneer hy uitvind Arian het daarvan geëet. Hy sal dit nie juis kan miskyk nie. Die byna vol boks is nou die byna leë boks. Die pap slurp die melk op. Arian gooi die leë melkbottel asblik toe. Dis mis. Hoe dan anders?
Met die bak pap in sy hande stap Arian kamer toe. Dit is lekker om die kamer ’n slag vir homself te hê. Janco is vanoggend met ’n helse geraas hier uit, maar nie voordat hy Arian se skouer ’n seer stamp gegee het nie. Die skoolskoen waarmee Arian hom gegooi het, lê steeds by die kamerdeur.
Hy skop die skoen onder sy bed in en val voor die rekenaar neer. Op sy selfoon kies hy gou ander musiek – Dropkick Murphys: “The boys are back / The boys are back / The boys are back / And they’re looking for trouble.”
Ingedagte vat hy ’n hap ProNutro. Dan sak hy agteroor in die stoel en maak Google Chrome op sy rekenaar oop. In die soekvenster tik hy AfrikaBurn. Hy het op TV daarvan gehoor. Dis ’n groot buitelugfees in die Tankwa-Karoo. Mense maak musiek, hou opvoerings, chill, bou beelde en brand dit.
Arian kyk na die foto’s van verlede jaar se AfrikaBurn. Dit lyk ongelooflik. Die kleure, die totale vryheid, die vuur. Dit raak iets diep in hom. Hy weet hy moet eendag daar uitkom.
Uiteindelik maak hy die tab toe, dan google hy fire. Net dit. Hy klik op die images-skakel. Die foto’s wat opkom, is van vure, maar nie heeltemal waarna hy soek nie. Buildings on fire, verfyn hy die soektog.
Hy sit regop toe die ritse foto’s op die skerm verskyn. Een-een dwaal sy oë oor hulle. Die skakerings van warm oranje en gloeiende geel brand in sy retinas vas. Hy voel die vuur se misterieuse krag. Dis asof dit ’n pad in hom oopbrand.
* * *
Die waterplasse lê blink op die badkamervloer toe Estie klaar gebad het. Sy gooi die handdoek neer en stoot dit halfhartig met haar kaal voet oor die teëls om van die ergste nattigheid ontslae te raak voordat tannie Charlene ’n vloermoer daaroor gooi.
Nou lê die nat handdoek daar op ’n hoop. Estie weet sy moet dit optel en iets daarmee doen, anders gaan die ding teen vanmiddag suur ruik en dan sal sy dit éérs hoor. Sy wil die handdoek vat, maar gril vir die nat homp lap, want daar sit nou ook hare aan vas. Lang hare soos tannie Charlene s’n.
“Gross,” gril Estie. Nou val die vrou se hare ook nog uit. Seker omdat sy gedurig daarmee karring wanneer sy haarself mooimaak vir Estie se pa. Estie los die handdoek net daar, maak die badkamerdeur oop en draf vinnig kamer toe.
Sy hang aan die kasdeur terwyl sy besluit wat om aan te trek. Net jeans en haar Twenty One Pilots-T-hemp, besluit sy.
Die klop aan die kamerdeur laat haar spoed aansit.
“Estie?” vra haar pa.
“Wag net ’n bietjie!” Sy rits die jeans toe, pluk die T-hemp oor haar kop. “Oukei, kom in.”
Die deur swaai oop. “Koebaai, my hartjie. Sien jou later.” Haar pa het vanoggend nuwe skoene aan en sy hare is netjieser as gewoonlik gekam.
“Pa lyk snazzy.”
“Ek en tannie Charlene gaan op ’n ontbyt-date.” Hy knipoog vir haar.
“’n Date? Oumense date nie.”
“Sê wie?” vra haar pa en lag. “Dis hoekom dinge die vorige kere nie gewerk het nie. Ek en tannie Charlene het te min van mekaar gesien.”
“Pa bedoel julle het te min van mekaar alléén gesien. Ek was in die pad.”
“Nee, dis nie wat ek gesê het nie.”
“Toemaar, dis oukei. Ek wil in any case nie saamgaan nie.” Sy het nie lus om na die twee duifies se gekoer te luister nie. Dit maak haar naar om te sien hoe tannie Charlene haar pa se hand vashou, hoe sy haar lippe tuit en hom “Bokkie” noem. “Sluit net die voordeur.”
“Oukei, bel as jy iets nodig het.”
“Ja, Pa-a-a. Loop nou. Pa se da-a-ate wag.”
Sy dwaal nog ’n oomblik doelloos in die kamer rond, dan stap sy na die rekenaar in haar pa se studeerkamer. Dit pla haar steeds dat Arian haar ontvriend het op Facebook. Sy gaan na sy profiel en maak sy foto groot oop op die skerm. “Hallo, my donker prins,” sê sy sag. Sy glimlag toe sy dink wat hy sal sê as sy hom regtig so noem. Dis eintlik ’n bietjie verspot.
Met haar ken in haar hand bekyk sy die foto, dan klik sy regs en kies Print. Die foto val oomblikke later in die kleurdrukker se bakkie. Terwyl sy nou die kans het, druk sy sommer nog een. Sy sal een in haar huiswerkboek sit. Die ander een …
Sy glimlag weer, want sy weet wat sy met die ander een gaan maak.
Arian se persoonlike inligting is nou toe vir haar. Dis jammer, maar sy onthou nog ’n paar van die goed waarvan hy hou. Die strokiesboeke Sin City, Ghost World en V for Vendetta. Sy soek die voorblaaie op die internet en druk dit uit.
Daar was ook ’n TV-program op Arian se profiel. Iets van New York Fire Brigade of iets. Sy ken dit nie, maar ’n Google-soektog bring haar na Chicago Fire. Dis reg. Sy druk ’n paar foto’s van die akteurs in die reeks uit.
Arian se gunstelingmusiek: alt-J, Hozier en Dropkick Murphys. Jis, en hy hou mos ook van Twenty One Pilots. Sy druk die omslae van ’n paar albums uit.
Terug in haar kamer gaan sit Estie kruisbeen op die mat met ’n skêr in haar hande. Sy knip al die foto’s sorgvuldig uit.
Sy wil eers Arian s’n op ’n stuk karton plak, maar dan onthou sy daar is ’n ou fotoraam in die laai onder die TV-kas. Sy draf sitkamer toe en gaan haal dit. Die raam is leeg. Sy wil haar verbeel daar was eens op ’n tyd ’n foto van haar ma in, maar iemand moes dit uitgehaal het. Seker tannie Charlene, die feeks.
Sy gly die knippies agter die raam los en sit Arian se foto binne-in. Dit pas nie heeltemal nie, maar dit lyk nogtans goed: daardie uitdagende kyk en die misterieuse trek om sy mond agter die glas.
Vir ’n oomblik betrap ’n gedagte haar: Wat doen jy, Estie? Sy onderdruk die gedagte so gou soos dit opkom.
Vinnig gooi sy ’n paar goed wat op haar bedkassie lê in die laai om plek te maak vir Arian. Sy soen die foto liggies en sit die raam versigtig langs haar bedlampie neer. Teen die muur bo die bedkassie plak sy die foto’s van V for Vendetta en die ander strokiesboeke. Chicago Fire en die bands se foto’s kom ook by die versameling.
Uiteindelik staan sy terug en bekyk haar handewerk met ’n glimlag.