Читать книгу Brand - Fanie Viljoen - Страница 8
5
ОглавлениеDie vuishou slaan Arian se wind uit. Dit kom onverwags toe hy later die middag die kamer binnekom. Kreunend buig hy vooroor. “Janco? Wat de flip?” hyg hy tussen sy rukkende asem deur.
“Ek moet dit seker vir jou vra,” sê Janco.
Arian byt op sy tande. Die pyn steek verder in sy maag op. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”
“My tas, jou nar!”
Arian skrik. O vrek, ja! Hy wou nog vir Janco laat weet het sy tas is by die skool, hy kan dit self huis toe vat. Maar met al daardie gepratery by die skoolberader het hy vergeet om die boodskap te stuur.
“Waar is dit?” vra Janco. Hy staan weer reg met sy vuis. Woede brand in sy oë.
Arian lig sy kop. “Nog by die skool.”
“Het ek jou nie ’n guns gevra nie?”
“Ja.”
“En? Toe besluit jy: Ef jou, Janco Foster. Reg?”
Arian kom stadig regop. Die pyn steek-steek nog in sy binnegoed. “Reg.” Hy sê dit uitdagend. “Jy kan jou eie tas dra. Ek is nie jou pakdonkie nie.”
Die tweede hou tref Arian teen die ken.
“Dan maak ek jou maar my slaansak,” sis Janco.
Arian vat die hou. Sy oë wil traan. Hy knip die nattigheid weg en wag vir die seer wat in sy kop ontplof om weg te gaan.
Dan staan iets in hom op. Sy naels druk in die vel van sy palms soos hy sy vuiste bal. Wetter hom! por ’n binnestem hom aan. Doen dit nou!
Soos blits trek hy sy vuis terug oor sy skouer. Hy slaan. Dis ’n swak hou. Janco lig net sy arm en stamp Arian se vuis weg.
Die tweede hou is nie veel beter nie, daarom lanseer Arian homself vorentoe. Hy wil Janco wurg, maar hy weet hy het al klaar verloor. Janco systap hom en kap sy elmboog hard in Arian se rug toe hy op die grond neerstort.
Arian bly ’n paar oomblikke lê. Dan rol hy uitasem om en kyk van die vloer af op na sy broer. “Is dit vir jou lekker om my te slaan, hè, Janco? Like jy dit?”
Janco trek weer sy vuis terug, maar hy slaan nie. “Gaan haal my tas.”
“Nee.”
“Gaan haal my tas, jou idioot.”
“Jy weet ek haat jou, nè?”
“Ek gee nie om wat jy dink nie. Jy is ’n loser. Weet jy dít?”
Arian vee oor sy mond, dan oor sy oë. “Nou … nou haat ek jou meer. Ek hoop jy vrek.”
* * *
“Eet jou kos, Estie,” sê tannie Charlene die aand. Sy balanseer ’n skinkbord op haar knieë voor die TV terwyl sy na 7de Traan, soos die kinders by die skool dit noem, kyk.
Estie trek haar gesig. “Ek eet mos.”
“Jy het skaars aan jou vis geraak,” sê haar pa toe hy vir ’n oomblik van die TV af wegkyk.
“Ek hou meer van pizza.”
“Ons kan nie elke aand pizza eet nie, hartjie.” Haar pa glimlag. “Jy sien al waar staan my pens. Die vis en slaai is gesond.”
“Nie as die vis versmoor is in krummels en die slaai in vetterige sous swem nie,” brom sy en stoot die kos met haar vurk rond.
Tannie Charlene blaas haar asem geaffronteerd uit. “Ek het die resep gegoogle. Hulle sê dis gesond.”
“Die eerste reël van die internet: Moenie alles glo wat jy lees nie,” sê Estie sag. Dit wys jou wat tannie Charlene regtig weet. “Dankie, die kos was lekker,” lieg sy en staan op van die sitkamerbank af.
Sy gaan plak haar bord in die kombuis neer en stap uit stoep toe.
Die aandlug is bedompig en ruik na reën. Straatligte glim op die sypaadjie anderkant die duiwelsvurkheining. Ook by die bure brand ligte. Kruisbeen gaan sit Estie op die houtbank en kry haar selfoon uit. Sy het weer ’n paar nuwe volgers op Instagram gekry, en ’n paar nuwe vriende op Facebook. Dit laat haar goed voel. Maar nie vir lank nie, want toe sy na Arian se profiel gaan, sien sy hy het haar ontvriend.
Sy staar lank na die skerm. Sy weet dis simpel, maar dit is soos ’n klap deur haar gesig.