Читать книгу Brand - Fanie Viljoen - Страница 6
3
ОглавлениеArian lê met sy gesig na die muur en slaap. Grysblou lig val deur die spleet tussen die gordyne oor sy opgetrekte bene. Hy is gedompel in ’n droom waarin hy in die skoolportaal sit en wag om die berader te sien. Die lugversorger dreun sag. Om die tyd om te kry, maak Arian al die tydskrifte in die ontvangsarea bymekaar. Hy stapel hulle opmekaar op die koffietafel. Die skool se ontvangsdame kyk eers op toe Arian ’n sigaretaansteker uithaal en die hoek van die onderste tydskrif aan die brand steek.
Meteens skrik Arian helder wakker. Dis asof die vlamme nog in sy kykers brand. Hy sit regop en tuur die donker in na waar sy skootrekenaar se blou kragliggie flikker. In die enkelbed langs hom slaap Janco ongestoord, sy asemhaling rustig.
Sonder om te kyk, voel Arian na sy selfoon op die bedkassie. Daar was vroeër ’n netwerkprobleem en hy kon nie op die internet kom nie, maar nou vibreer dit onder sy vingers om te wys daar het in die loop van die aand ’n boodskap ingekom. Hy maak die skerm aktief. Dis ’n Facebook-vriendskapsversoek, sien hy. ’n Meisie se profiel maak oop. Sy wil half bekend lyk. Hy kyk weer. Dan lyk sy regtig bekend. Hy het haar by die skool gesien, met ’n sigaret in die hand agter die gym. So ’n weirderige meisie.
Hy aanvaar maar die uitnodiging, al ken hy haar nie. Vir ’n ruk dwaal hy verder op Facebook rond, maar hy raak gou uitgekuier. Uiteindelik maak hy dit toe.
Vyf minute gaan verby. Dan tien, vyftien.
Arian is steeds wakker, sy kop helder soos ’n sweismasjienvonk. Janco slaap soos ’n dooie.
Met ’n nuwe plan in sy kop, glip Arian uit die bed. Hy trek weer die jeans en T-hemp wat hy vanmiddag aangehad het aan. Dan wurm hy sy voete in sy tekkies sonder om die veters los te maak, en raap sy selfoon van die bed af op. Druk dit in sy broeksak. Vinnig buk hy by sy skooltas. Die boeke ritsel sag onder sy vingers. Hy moet sy hand tot heel onder druk voordat hy kry waarna hy soek: sy aansteker en sigarette.
Arian kyk weer vinnig na sy broer voordat hy die gordyn wegskuif en die diefwering ’n ligte pluk gee. Dit kom maklik los. Die metaalpennetjies waarmee die diefwering aan die raam vasgeklink was, het mettertyd afgeslyt en het intussen losgebreek. Hy wou sy pa verlede week al daarvan vertel het dat hy dit kan regmaak, maar hy het vergeet.
Versigtig laat sak Arian die diefwering tussen sy bed en die muur in. Hy skuif die venster oop, klim op die vensterbank en spring na buite. Sy landing is sag in die bedding onder die venster.
Oomblikke later is hy in die straat en hy stap veld se kant toe. Hulle bly nie ver van die woonbuurt se rand af nie. Dit is stil vanaand, behalwe een of twee honde wat aanmekaar blaf. “Oukei, oukei, raak bietjie vir my rustig,” brom hy. Hy klim van die sypaadjie af en loop al met die randsteen langs verder. Uiteindelik swenk hy veld se kant toe.
Bo hom hang die maan soos ’n vergete wit kous aan ’n wasgoeddraad.
Arian maak nie lig nie. Hy ken die pad wat hy nou vat. Voor hom is daar ’n klomp bome, regs ’n hoop klippe. Hy stap tot agter die klippe. Gaan sit ’n ruk op die grootste een, steek ’n sigaret op en kyk vir die maan. Daar is nie juis sterre nie, net fyn spatsels wit teen die donker nag se skilderdoek. Hy luister na die krieke, die stroom wat ’n ent verder weg kabbel. Van daardie kant af kom paddas se angstig-aanhoudende gekwaak. Dit herinner hom aan die keer toe sy pa hulle gevat het om te gaan uitkamp. Hy het toe al geweet hy is anders as ander kinders. Die een wat nie inpas nie. Die alien.
Arian trek sy vingers deur sy hare terwyl hy daaraan dink. Na ’n ruk grawe hy in sy broeksak, kry weer sy aansteker en sit vooroor. Hy flik die aansteker tussen sy vingers aan en kyk hoe die vlammetjie opspring. Sy bakhand vou om die vlam. Vuur het nie ’n skaduwee nie. Dis een van daardie vreemde feite van die natuur, maar tog soek hy na die skadu in sy palm. Hy soek na iets wat hy weet nie bestaan nie. Soos die ding wat mens ’n alien maak.
Hy laat die vlam weer vrek. Aan, af, aan, af. Dis asof dit hom hipnotiseer.
Hei, Arian, het jy al ’n meisie gevry? kom Thomas se stem weer na hom toe. Hei, Arian …
Nee, hy het nie. Hy het nog nooit ’n meisie gehad nie. Dis nie asof hy gay is of iets nie. Dis net … wie sal nou in hom belangstel? Daar is dan glo al hierdie goed verkeerd met hom.
Arian spring op. Hy wil nie aan sulke stuff dink nie. Dis daardie gedinkery wat jou kop vergiftig.
Hy stap die veld in en gaan soek droë hout onder die bome. Fyn takkies en dikker stompe. Soos ’n baba dra hy dit voor sy bors terug na die klippe toe. Smyt dit op ’n hoop neer. Daarna kry hy ’n paar halms gras. Skop ’n kol op die grond oop met sy tekkies. Versigtig pak hy die takke oor die gras.
Weer wil die onthou terugkom, en weer onderdruk hy dit met al sy mag.
Hy het sy aansteker in sy hand. Die vlam spring op onder sy vingers. Hy swaai die aansteker liggies heen en weer en kyk hoe die vlammetjie saam swaai. Dan buk hy vorentoe en steek die grashalms aan die brand. Die vlam sprei na die dun takkies, daarna na die dikker takke.
’n Vreemde gevoel van genoegdoening bewe langs sy ruggraat op. Die vlamme dans in sy oë, flikker oor sy lyf.
’n Vrede kom in hom op.
* * *
Estie word wakker van die selfoon se bieptoon. Sy slaap altyd lig. Die selfoon kondig regdeur die nag aan wanneer ’n boodskap opdaag of as sy een of ander kennisgewing kry. Sy voel-voel na die foon op haar bedkassie. Vakerig trek sy dit nader. Met een oog oop, die ander toe, maak sy die skerm aktief.
Arian Foster het haar vriendskapsversoek aanvaar.
Sy glimlag, en dan dink sy: Die ou gaan slaap laat. Of hy is vroeg wakker. Dis tweeuur die oggend op ’n skoolaand. Dis vreemd. Wat hou hom dié tyd van die nag wakker? Party ouens speel mos tot watter tyd in die nag PlayStation. Is hy een van hulle? Of leer hy dalk?
Estie weet sy moet slaap, maar met albei oë nou oop en gewoond aan die selfoon se skerp lig, gaan sy op Arian se Facebook-profiel in.
Daar is nou ’n paar ekstra foto’s en statusse oop. Die foto’s is nie van hom nie. Dis sulke humoristiese sêgoed soos wat ’n mens soms op T-hemde of op selfoonboodskappe sien.
Daar is twee reëls in die lewe: 1. Moet nooit al die inligting gee nie.
Estie glimlag toe sy dit lees.
Swaartekrag suig.
Die ou het dus ’n sin vir humor, al lyk hy so bot. Die statusse is ook vreemd. Sy verstaan die helfte nie.
Kopdokter.
Brand. Vlam. Vuur. Ekke.
Ondergang. Ondergrond.
Estie probeer uitwerk wat hy wil sê, maar sy kan nie. Dalk is dit te vroeg in die oggend vir haar brein om die woorde te ontsyfer. Op ’n manier voel dit soos ’n uitdaging, asof hy wil sê: As jy weet wie ek is, sal jy verstaan. Andersins, jammer vir jou.
Iewers in die huis hoor sy ’n geluid. Sy herken haar pa se voetstappe in die gang. Hy is seker wakker en gaan ’n sigaret buite rook.
Estie staan ook op, stap af met die gang portaal toe. Die voordeur en die veiligheidshek staan oop. Sy loer buitetoe. Haar pa sit in die donker, vooroor op die houtbankie op die stoep. Hy het ’n slaapbroek en ’n ou T-hemp aan. ’n Sigaret hang tussen sy vingers.
“Pa?”
“Estie? Slaap jy nie?” vra hy.
“Nee. Is Pa alleen?”
“Ja, tannie Charlene is in die kamer. Kom sit.”
Die stoepteëls is koel onder Estie se kaal voete. Sy druk ’n kussing op die bank reg en gaan sit langs haar pa, haar kop skuins teen sy skouer.
“Is jy oukei, hartjie?” vra hy.
Sy knik. Lank sit hulle so. Haar pa draai sy kop weg, blaas die sigaretrook anderkant toe. Druk die sigaret dood.
“Dis ’n mooi aand,” sê haar pa. “Jou ma sou daarvan gehou het.”
Estie glimlag.
Daar kom ’n skielike verlange na haar ma by haar op. Toe sy nog geleef het, het hulle drie baiekeer so saam op die stoep of in die tuin gesit. Soms het hulle daar geëet as dit ’n lekker dag was.
“Dink Pa ook nog partykeer aan Ma?”
“Partykeer, ja.”
“As Pa so buite sit?”
“Enige tyd, seker.”
“Ons … ons moet haar nie vergeet nie, Pa.”
“Ons sal mos nie, hartjie.”
Estie blaas haar asem stadig uit. “Vertel my van haar.”
“Wat wil jy weet?”
“Vertel my weer hoe Pa vir Ma ontmoet het.”
“Jy ken mos die storie.”
“Toe, Pa.”
Hy steek nog ’n sigaret op. Lag saggies dat sy maag effens skud.
“Ek was een en twintig, jonk en verskriklik aantreklik.”
Estie lag. Dis altyd hoe hy begin as sy hom vra hoe hy en haar ma ontmoet het.
“Ek het in ’n computer shop gewerk. Mense se verlore data probeer terugkry as ’n hardeskyf crash, virusse afgehaal, sulke goed. Daardie dae het ek werk toe gestap terwyl ek gespaar het vir ’n kar. Dis hoe ek op die Coffee Bean afgekom het.”
“En op Ma,” help Estie.
Haar pa glimlag. “Net so. Elke liewe middag het die mooiste meisie ooit daar in die koffiewinkel gesit. Bruin hare met ligter strepies goud, nes joune. ’n Roomgladde vel. Mooi vol lippe. Sy was elke dag op dieselfde sitplek met ’n boek in haar hande, ’n koppie koffie op die tafel en die laatmiddagson wat op haar hare blink.
“Ek kon my aan haar verkyk. Eendag besluit ek toe om ook in te gaan. Maar ek was skrikkerig. Mooi vrouens doen dit aan mans. Ek het by ’n tafel ’n entjie weg gaan sit en koffie bestel. Stadig daaraan gedrink om langer na haar te kon kyk. Dit het ’n daaglikse ritueel geword.
“Ek het nooit geweet of sy van my bewus was nie. Sy het net haar koffie gedrink en haar boek gelees. Soms het daar ’n effense glimlag om haar mondhoeke gespeel, dalk van iets wat sy raakgelees het.”
“Pa kon nie Pa se oë van haar afhou nie,” help Estie weer vertel.
“Dis reg, ja. Maar ek kon ook nie met haar gaan praat nie. Ek was steeds te bang.
“Toe kom die dag dat my hart inmekaarkrimp van skrik. Dit was weer laatmiddag ná werk. Ek het deur die koffiewinkel se venster gekyk, maar daardie dag was die stoel leeg. Sy was nie daar nie. My lyf was meteens skoon lam. Ek het die koffiewinkel binnegestap, my oë steeds op die leë stoel. Jou stupid fool, het ek gedink. Nou is sy weg en jy het nooit eens met haar gepraat nie.
“Maar toe, skielik, sien ek haar …”
“… op die plek waar Pa altyd gesit het!” voltooi Estie die sin.
Hy lag. “Op die plek waar ek altyd gesit het. Sy het haar boek laat sak en daardie mooi glimlag wat sy vir haar stories gehou het, vir my geglimlag. Haar oë het beduie ek moet by haar kom sit.”
“Sy het toe al die tyd van Pa geweet,” sug Estie.
“Ons het begin gesels, en ja, later uitgegaan, verloof geraak en uiteindelik getrou.”
Estie se stem word sagter. “Ek hoop ek het ook eendag so ’n mooi storie.”
“Ek is seker jy sal een hê, hartjie. Gee kans, daar is nog baie tyd,” sê haar pa.
“Ek weet darem nie. Ouens en meisies is nie meer soos toe Pa-hulle jonk was nie. Vandag wonder jy: gaan iemand ooit flippen lief wees vir jou? Almal leef net so vir hulleself.”
“Dis seker nie heeltemal waar nie.” Haar pa trek haar teen hom vas en soen haar saggies op haar voorkop. “Ai, dis te laat om nou aan sulke diep goed te dink. Ons moet gaan slaap. Kom.”
Saam staan hulle op. Haar pa laat haar eerste by die voordeur instap. Dan sluit hy dit agter hulle.
Toe hulle in die gang kom, gaan staan hy weer. “Iemand gaan nog eendag verskriklik lief wees vir jou, Estie,” sê hy nadenkend. “Jy moenie worry nie.”
“Dankie, Pa,” antwoord sy sag. Sy wil dit glo, maar dit voel nie of sy op hierdie oomblik kan nie. Dit voel net te onmoontlik. Heng, sy is al in graad elf en geen ou het haar nog in sy arms vasgehou of haar ’n drukkie gegee nie, wat nog te sê van soen! Dit lyk so maklik vir die ander meisies by die skool. Hulle skerts met ouens en maak grappies. Die ouens hou hulle vas of tel hulle op en draai hulle in die rondte. Maar nie vir haar nie. Sy is Estie-wat-glo-miere-sit-en-dooddruk.
In haar kamer klim Estie tussen die koel lakens in. Haar gedagtes dwaal terug na haar pa se woorde. Ingedagte vat sy weer haar selfoon. Sy kyk na al die duimnaelfoto’s van haar Facebook-vriende en wonder of een van hulle eendag haar mooi storie gaan word.
Dan druk sy op een van die ouens se profiele. Sy kyk na sy foto’s, lees sy statusse en sy vriende se opmerkings. Uiteindelik skuif sy dieper onder die beddegoed in en raak aan die slaap met die selfoon teen haar bors.
Arian is in die droom wat haar kom haal. Hy sê: “Brand. Vlam. Vuur. Ekke.”