Читать книгу Omega, oor en uit - Francois Verster - Страница 10
ОглавлениеHoofstuk Drie
Army toe
Ek was al in my middel twintigs toe ek my twee jaar diensplig begin het, want ek wou eers onderwys gaan swot voordat ek die army pak. Onderwysers word offisiere, het hulle my vertel, en jy kry meer geld in die army as jy ’n rang het. Boonop kon ek ’n onderwysbeurs kry, so die besluit is as ’t ware vir my geneem.
In my laaste jaar op universiteit, terwyl ek met my Hoër Onderwysdiploma besig was, het ek in ’n private koshuis gewoon. Daar het meestal “ou manne” gebly – studente wat reeds hul diensplig voltooi en daarna gaan studeer het. Hulle het dikwels iesegrimmig voorgekom wanneer die jonger outjies hul aapstreke uithaal en enige vorm van doop het min aftrek by hulle gekry.
Op 24 was ek so oud soos sommige van hierdie oud-dienspligtiges, maar daar was ’n verskil. Hulle was reeds “manne”. Nie in ’n macho sin van die woord nie, maar op grond van hul ervarings. Dikwels het ons by ooms en tannies, wat self nooit in ’n bruin harlekynpakkie rondgejaag is nie, gehoor dat “die army ’n goeie ding” is. Dit maak mos “manne” van seuns. Miskien. Maar dalk nie soos hulle dit verstaan het nie.
Een ou wat voor my sy diensplig voltooi het en uiteindelik by die staande mag aangesluit het, het my eenkeer daarvan beskuldig dat ek so lank geswot het omdat ek bang was om army toe te gaan. Wat hy nie besef het nie, is dat die meeste dienspligtiges doodgewone jong manne was met geen ambisie om supersoldate, helde of martelaars te word nie. Hulle wou maar net met die lewe aangaan sonder om self geskiet te word of iemand anders te skiet.
Uiteindelik het ek my Onderwysdiploma gekry en was my tyd as ’n vry man verby.
In Januarie 1986 is ek Oudtshoorn toe gestuur vir basiese opleiding. Gewapen met skoonmaakmiddels, ’n strykyster, ’n paar duur tekkies vir die PT en baie ander dinge wat mens glo nodig sou hê, het ek en ’n paar vriende ons by die weermagbasis Wingfield aangemeld. Ons het ons betraande ma’s en fronsende pa’s gegroet en is per vragmotor na Kaapstad, waar ons op ’n spesiale troepetrein geklim het. Ek onthou daardie beklemmende gevoel asof dit net vanoggend was.
Ons het die hele nag gesels. Skytbang. Ons het baie stories oor die army gehoor en het gereken dat ons darem ’n goeie aanduiding het van wat voorlê. Wel, soort van.
Ek het meer gerus gevoel omdat ons ná vyf jaar se Jeugweerbaarheid op skool darem geweet het hoe om te dril. Ek was nooit ’n natuurlike driller nie. Maar my maters het my manier van staan – boude uitgestoot en met ’n siekverveelde uitdrukking op my bakkies – blykbaar vermaaklik gevind.
My innerlike afkeer van dié soort zombiestap het egter nie ons Engelse onderwyser gekeer om my vir ’n kadetinstrukteurskamp te nomineer nie. Ek het oukei gevaar met die oorlewingsaktiwiteite, maar nadat ek my afdeling oor ’n effense afgrond laat marsjeer het (ek het vergeet op watter voet mens “halt” roep en toe net stilgebly), het hy die lig gesien. Ek was een van net twee kandidate wat nie “strepe” gekry het nie. En miskien was ek die enigste een wat bly was daaroor. Ek het vroeg reeds ’n renons in onderoffisiere ontwikkel, so hoekom self een word?
’n Paar soldate het ons treinvraggie kanonvoer na Oudtshoorn vergesel, blykbaar om te keer dat ons nie dros nie. Dit het egter nie gelyk of hulle hulle veel daaroor bekommer het nie. Hulle het eerder simpatiek gelyk. Hul verbleikte uniforms het gemaklik aan hulle gesit en hulle was selfversekerd – deurwinterde veterane.
Ons het grappies gemaak en hanswors gespeel – humor, die handige weerligafleier. Op Oudtshoorn is ons in soort van vierkantige bondels ingedeel en na verskillende sinkgeboue aangejaag. Dis bungalows genoem – ons tuiste vir die afsienbare toekoms. Vroeg, baie vroeg die volgende oggend, is ons na die store geneem sodat goed soos balsakke (gróót togbags), stewels en allerhande kledingstukke (alles bruin of bruin-valerig – die sokkies en onderbroeke was ’n soort kotsgroen) aan ons uitgereik kon word. Die hele hoop goed is in ’n groot donkergroen trommel gegooi en van daar moes elkeen die onmenslik swaar vrag tot by sy bed kry.
Ons bungalow was die eerste een langs die paradegrond. En die verste van die stoor af. Ek was skoon paniekerig toe ek sien wat ek alles moes dra en boonop oor ’n afstand wat soos etlike kilometers gelyk het. Dit was egter niks in vergelyking met wat spoedig sou kom nie. Natuurlik het ons groot kak verwag, maar ons het toe nog nie geweet wat kak regtig beteken nie.
Ons korporaal was nie ’n slegte ou nie. Dis die luitenant wat ’n drol was. Hy wou glo as ’n PF aansluit. Vir sý soort was die woorde “motivering” en “vernedering” sinonieme. Gelukkig was daar darem enkeles wat mensliker was. Ek sou gou agterkom dat hulle in die minderheid was en deur die onnosel massa teruggehou is. In enige weermag is dit bloot ’n gelukskoot as ’n Napoleon of ’n Rommel dit ooit maak tot by die range waar hulle hoort.
Maar miskien is ek bevooroordeeld. Ek sou nooit eens korporaal haal nie. In elk geval, ons “gawe” korporaal is gou vervang met ’n aap wat die spreekwoordelike bloedtoets sou dop. Die luitenant het blykbaar die eerste korporaal gaan aankla omdat hy te sag met die troepe was. En toe kry ons Homo Erectus in sy plek … dit was sweerlik al wat hy goed kon doen – regop staan.
Ek was gou in die moeilikheid by HE Rectus, vermoedelik weens die befaamde siekverveelde uitdrukking op my bakkies, maar moontlik ook omdat ek hom weerspreek het. Ons was eenkeer op die paradegrond besig om sand tot snuif te trap en laasgenoemde tweestreepgedierte het ons verseker dat niemand hóm enigiets van dril kan vertel nie.
In een stadium weet hy te vertel dat mens jou régtervoet inslaan wanneer jy op aandag kom. Ek het nie op daardie oomblik na hom geluister nie, want ek was net in liggaam daar. Waar my gees was, weet ek nie, maar dit was op ’n aangenamer plek. Toe hy “AAAANDAG!” skreeu, slaan ek my linkervoet in, soos ons in skoolkadette geleer het. Ek het uiteindelik die regte voet onthou, maar nou ontstel dit die mannetjie skynbaar.
Ou Rektussie was skoon oorstelp van gretigheid om my ’n “opfok” te gee. Hy het smalend gevra of ek nie “uit voel” omdat ek die enigste een op die ganse paradegrond is wat nie my regtervoet ingeslaan het nie. Dit was op dié punt wat ek effens wakker geskrik het. “Umm, nee, korporaal, want mens slaan jou línkervoet in.”
Eers het hy amper bewusteloos van woede geword. En toe drop die pennie: Jííssiiis, die troep is reg!
Die weermag se wette is egter in beton gegiet en laat allermins toe dat mindere range reg kan wees. Van die volgende paar uur kan ek nie veel onthou nie. Ek weet wel: Dit. Was. Nie. Lekker. Nie.
Toe moes ons die rangstrukture leer. Ons het sakboekies gehad en moes daarin neerskryf wat die instrukteurs ons geleer het. Dis nou as jy nie te besig was om te hardloop of te marsjeer nie. HE Rectus het ons vertel van die onderkorporaals en die veldmaarskalke en alles tussenin. Hy het blykbaar gedink dit was moeilike goeters daai en dat dit sy kans sou wees om my terug te kry. Op ’n dag vra hy my toe met groot vertoon om die spul te resiteer.
Wat hy nie geweet het nie, was dat ek al oorlog-comics gelees het van nog vóór ek skool toe is en nie so onnosel was as wat ek dalk gelyk het nie. Bygesê, ons weermag het gelukkig ook die Britse rangstruktuur gebruik, behalwe vir die rang van kommandant (wat eers later deur luitenant-kolonel vervang is). Ek het al die range foutloos opgesê.
Later het ek toevallig gehoor hoe hy aan ’n ander streepdraer vertel van die genius in sy peloton. Die feit dat hy my verpes het, het hom nie verhinder om krediet te probeer neem vir die “verstommende vermoëns” van “sy” troep nie.
Die kersie op die koek was egter die kamoefleeroefening. Rektussie het ons na ’n stukkie Klein-Karoo geneem wat amper al Karoo was. Daar was nie juis veel bossies nie. Hy het klaarblyklik nie uit sy paradegrondblaps geleer nie en het gespog hoe goed hy ’n terroris agter enige en elke bos sou kon raaksien.
Hy het ons vertel van die foolproof tegniek waarmee ’n mens dié soort ding doen – terwyl jy die bosse scan kyk jy glo van regs na links, in stede van links na regs. Hy het verduidelik dat ’n mens met hierdie gatagterstevoor-tegniek deegliker sien. Ek het gewonder of die Joodse troepies (wat in Hebreeus van regs na links lees) ook by sy tegniek baat sou vind.
Nietemin, ons is aangesê om binne 20 tellings skuilplekke te kry. Hy sou daarna omdraai en van waar hy staan, kyk waar elke troep wegkruip. Ek was nie baie entoesiasties oor die wegkruipery nie en toe die stof wegwaai, sien ek dat elke bruikbare bossie reeds beset is. Daar was nog een bossie vlak voor Rektussie, wat nog hard aan die tel was. Al wat ek kon doen was om die hiding-in-plain-sight-beginsel te omhels en agter die einste bossie te gaan lê met my voete so veel as moontlik in lyn met sy sig. Om dinge vir hom effens moeiliker te maak, het ek so in die lê stof oor my stewels geskop, stadig, dat hy nie die stof sien nie, en dat ek nie moet nies nie.
Toe begin onse Hawkeye die troepies uit te wys. Een vir een het hulle by hom gaan staan. Op hul pad vorentoe het sommige moedswillig op my getrap. Ek het intussen gemaak soos die groot voëls van daardie omgewing en my kop maar net so diep as moontlik in die grond gedruk.
Stadig maar seker het ek besef dat hy, ou selfverklaarde Valkoog, my wragtig nie sien nie. Stilte. Ek het nie geroer nie. Later was daar ’n ongemaklike rondtrappery en selfs ’n onderdrukte gegiggel. Uiteindelik het hy bes gegee en gevra dat ek opstaan, anders was ons seker nou nog daar. Sy verleentheid het hy darem vir homself gehou en dit nie op ons uitgehaal nie.
Ai, as ons korporaal tog net buite die boks wou dink. Maar hoe kan jy ook as jy self so vierkantig is.
Basies was nie net oor dril, skoene politoer en uitskel nie. Daar was ook ’n sosiale element. Ons is immers toegelaat om kerk toe te gaan, sommer al die eerste Sondag nadat ons op Oudtshoorn aangekom het. By die kerk was daar ’n samedromming van pelotonne van oor die hele basis, met instrukteurs wat teen dié tyd al net so vaak en moerig soos die troepe was. Hulle het in ’n bondeltjie voor die kerk gestaan terwyl die troepe in hul squads gewag het.
Dit was nie lank nie of een van die korporaals roep my. Ek liek-lak tot by hulle, koud van angs. Dit het gevoel asof ek die enigste mens tussen ’n trop kwylende mensvreters was. Ek het meteens geweet – nóú’s daar GROOT kak.
Die eerste opmerking was oor my gesigsuitdrukking. Niks sou hulle oortuig dat ek níé vir hulle lag nie. Ek hét nie, ek meen, hoekom sou ek? Ek wou after all oorleef! Die een ná die ander het hulle my beledig, van my vergeetbare wieg tot in my naderende graf. My hele pedigree is ontleed: teenoor my sou ’n brandsiek hiëna met fetale alkoholsindroom soos Shirley Temple se skouponie gelyk het.
Gelukkig was dit kort daarna tyd om by die kerk in te stap. Soos die Engelse sê: I got a stay of execution.
Die kerk was suiwer hel. Om wakker te bly ná ’n nag van feitlik geen slaap nie, was onmoontlik. As jy vir een enkele sekonde jou oë toegemaak het, was dit klaarpraat – jy was weg, toegespin in ’n kokon van die diepste, saligste slaap. Jy voel asof jy uit jou lyf uit val, soos ’n valskermspringer uit ’n vliegtuig – al vinniger, reguit na die moederskoot. Of moeder aarde. Hoe ook al, jy’s in jou moer in.
’n Paar ouens kon dit nie weerstaan nie en is eers hard agter die kop geklap voordat hulle uitgeneem is. Ek weet nie wat daarna met hulle gebeur het nie, maar ek is seker hulle het dit diep berou. Al wat my gered het, was ’n kombinasie van kommer en vrees. Ek het reeds geweet ek is kniediep in die moeilikheid en wou nie nog dieper daarin wegsak nie.
’n Beklemmende gevoel het my beetgepak. Ek dink dit was tóé dat ek vir die eerste keer besef het ek sal uit hierdie Siberiese strafkamp moet wegkom. Dit was soos om ’n slaaf te wees. Jy het geen regte nie, geen inspraak in enigiets wat met jou gebeur nie. Jy is afgesny van die buitewêreld. En jy weet: twéé jaar. Dit gaan twéé fokken jaar lank jou lot wees.
Maar selfs al kon ek ontsnap het, wat dan? Daar was immers ’n oorlog aan die gang. Ons is heeltyd vertel van al die gevare wat wit Suid-Afrika bedreig het – dit was in die koerante, oor die radio, oor die televisie. P.W. en Pik en al die Leiers het ons nooit daarvan laat vergeet nie: die Rooi Gevaar, die Swart Gevaar. Hulle het egter niks gesê oor die Bruin Gevaar van die army nie.
Die dae het verbygevlieg. Aanvanklik vinnig, maar later het alles soos een lang dag gevoel. Daar was nie eintlik nag nie, want daar was nie veel slaap tussenin nie. Die luitenant was van die begin af op my case. En jy kon nêrens heen vlug nie. Hy het soos ’n leerling-psigopaat in die enkele gang rondgesluip met twee geel sterre op sy skouers: a licence to kill.
My kamermaat – ons was toe net twee in ’n kamer – het ook nie juis my kanse op oorlewing verbeter nie. Tot my skok en amperse maagaandoening het ek in ’n piepklein kamertjie beland saam met hierdie ou wat van laerskooldae af allesbehalwe my vriend was. Sy ouers se huis was naby ons s’n en ek moes altyd daar verbystap op pad kafee toe. Een dag het hy en sy broer my voorgekeer. Ek kan nie onthou hoekom ons baklei het nie, maar ons het mekaar daai middag bloedbek gedonner. Ek het beslis die slegste daarvan afgekom. Hy was toe al sterker as ek en het seker ook ’n beter “tegniek” gehad. Ek het bloot net berserk geraak, wat nooit ’n goeie strategie is nie. En hier beland ons twee in dieselfde kamer. Aanvanklik was die atmosfeer, eienaardig genoeg, heel ontspanne. Of so het ek gedink. Soldate! Kamerade!
Hy het my vertel van sy meisie, wat ek toevallig van universiteitsdae af geken het. En dat sy pa ’n weermagoffisier is. Ek het dit al vergeet en skielik het ek hom beter verstaan. Eintlik jammer gekry. Ook nooit ’n goeie strategie nie.
Natuurlik het die parate luitenantjie ook gehoor wie se seun in sy bungalow is. Elke oggend het hy reguit na ons kamer gekom, wat heel onder in die gang was. Aan die een kant van die kamer was die perfekte toneeltjie – my liewe kamermaat se kant. Sy pa het hom vooraf goed gedril, ’n besliste voordeel. Aan mý kant was dinge minder perfek.
Luitenant Droldrums het klokslag ontplof. Eenkeer het hy my boonop gevang dat ek in Bybel-leestyd my stewels poets. Hy het telkens dadelik tot aksie oorgegaan. Dan het hy eers my rugsak (een van daai buiteraam-modelle wat so in ’n mens se laerug inkarring) van die kas afgeruk. Ek kon nooit verstaan hoekom die grys kombersie wat onderaan die rugsak ingedruk is so styf opgerol moes word nie. Dit was ’n stekelrige ding waaronder g’n mens sou kon slaap nie. Jy kon net sowel ’n renostervel met ’n angle grinder skurwer maak en dan gerasperde staalwol daaraan vaslym.
Die ander troepe het die kombers nat gemaak omdat dit dan makliker opgerol het. Ek het niks daarvan gehou nie. Die nat ding sou mos vrot!
Ek het toe nog nie besef dat die toerusting maar net props was nie. Jy kon die kombers kou, natpiepie, met stysel besmeer, stryk, enigiets. Solank dit net gelyk het soos hulle dit wou hê – so hoekig as moontlik. Ronde goed moes vierkantig word – en square pegs soos ek moes in ronde gate ingedwing word.
Ná die rugsak het my klere aan die beurt gekom. Alles is op die vloer uitgesmyt. Dan was dit die bed se beurt, terwyl die luitenant skreeu: “Ruk af jou beddegoed, jou vieslike varkbalsak … ”
Ek het dan aan die verbroude affêre getrek-trek en liggies aan die linne gepluk totdat hy homself nie meer kon bedwing nie en die matras met ’n allamintige skop van onder van die bed af geskop het. Ek het altyd geweet wat kom en kon my verkyk aan die matras wat soos ’n sny brood uit ’n rooster spring. Terselfdertyd het die kateltjie teen die muur geklap, ’n oomblik of wat gebewe en dan trillend en skwiekend op die vloer neergesyg.
Die uitskel het nog ’n rukkie aangehou terwyl ek wonder of die speletjie regtig só lekker kan wees. Agterna het hy die skuim van sy mond gevee en my selmaat geprys vir sy perfekte uitstalling. Dan was die verwoede hoofman oor honderd se hoogtepunt van die dag verby en het hy vinnig deur die res van die bungalow beweeg. Daarna het ons hom eers weer die volgende oggend gesien – en is die nagmerrie herhaal.
Die ander dienspligtiges was seker dankbaar vir my teenwoordigheid as weerligafleier. Selwers het dit tot my deurgedring dat dit een of ander tyd wel nog nag gaan word vir my; dít het ek met al groter sekerheid begin besef.
’n Mate van verlossing – so het ek dit in elk geval aanvanklik beskou – was egter om die draai, want kort daarna is ons vir mediese ondersoeke gestuur.
As ek reg onthou, was ek eers by die sielkundige. Dit was in die ry voor haar kantoor waar ek vir die eerste keer die gesegde hurry up and wait gehoor het. Ek twyfel of sy lank genoeg met my doenig was om selfs net my oogkleur te registreer.
Van oë gepraat, by die oogkundige gekom, weier die bombastiese ou matrone daar om te glo dat my een oog swakker as die ander een is. Ek verstaan steeds nie wat sy kon dink my meesterplan met só ’n halfgebakte strategie sou wees nie. Dit het egter meegebring dat ek later op die skietbaan moes kroek. Met my goeie oog sou ek linksom moes skiet, maar dit was te ongemaklik. En as jou puntetotaal te laag was, moes jy terugstap basis toe. Dit het gevolglik tot heelwat “kreatiewe tellings” gelei.
Voordat ek army toe is, het ons huisdokter my ’n paar X-staalfoto’s in die hand gestop en gesê ek moet dit vir die weermagdokters wys. Dit was iets oor my rug. Ek het van kleins af rugprobleme gehad maar dit al gewoond geraak. Dit het my nie gekeer om aan sport deel te neem en soms ’n bietjie rof op die rugbyveld aan te gaan nie (ek was helaas meer beseer as op die veld).
Daar staan ek toe met my X-straalfoto’s, ver van die huis af en met ’n skuldgevoel oor my “gebrek” wat ek boonop oor die jare self vererger het. Die dokter het dit bekyk en gesê hy gaan nie ’n besluit neem nie, ek moet een of ander majoor gaan soek. Ek is toe, begelei deur ’n korporaal met ’n radio op sy rug en ’n staaldak (helm) op sy kop, na die groot kokkedoor van die medics geneem. Hy het die plate een kyk gegee en gevra of ek dink ek kan basies doen sonder om seer te kry.
Hoe de hel moes ek weet? Ek het ’n betonblok wat soos ’n grafsteen gelyk het onder my bed sien lê en gehoor dis wat hulle ’n marble noem en dat ons die goed die hele wêreld vol gaan moet ronddra. Ook dat ons hengse boomstompe teen steil heuwels sal moet uitsleep. Ek het geweet dit sou my rug beslis nie goed doen nie. Die dokter het opgestaan en gesê dis etenstyd, hy loop nou. Hy het ’n vorm uitgehaal en iets geskryf.
“Hier,” het hy gesê, “jy’s nou ’n G-3 K-2.”
Ek het g’n benul gehad wat dit beteken nie en gedweë eetsaal toe gegaan, verlig om net daar weg te kom. Ek sou weldra uitvind presies wat hierdie vonnisoplegging beteken.
Etes het só verloop: Jy storm na die naaste tafel en sorg dat jy nie op die punte sit nie, want dit sou beteken dat jy óf ’n kan koeldrank óf ’n pot kos moes gaan haal sodra die gebed afgerammel is. As jy wel op die punt beland het, moes jy blitsig beweeg anders sou jou tafelmaats sonder kos of koeldrank, of albei, moes gaan. Uiteraard kon dit tot akute ongewildheid lei. Dit hét soms gebeur. Buitendien moes jy so vinnig as moontlik inkry wat in daai kanne en potte was, want as die korporaals – wat altyd voor die troepe begin eet het – klaar was, het hulle gebid en geloop. En dan moes jy ook loop.
Nodeloos om te sê het ’n mens té dikwels nie genoeg gekry om te eet nie. Binne twee weke het ek – wat 1,87 m lank is – net 77 kg geweeg en het my bruin overall soos ’n sak aan my gehang. Vergeet van diëte en pille en masjiene wat jou laat dril soos ’n blokkie jellie op ’n vibrator. Join the army – and lose it all.
By die bungalow gekom, het die korporaal dié van ons wat G-3 gebrandmerk is – daar was toe al ’n hele spul wat voor my geherklassifiseer is – uitgejaag. Ons moes na ’n ander bungalow gaan. “Daar waar die ander useless bliksems is,” het hy bygevoeg.
Daar gekom, het ek opgelet dat die ouens se gewere, dit was R4’s, op hul beddens lê. Almal het in stille verwarring rondgestaan, wagtend op die korporaal se volgende verbale bombardement. Hierdie bungalow het groter kamers gehad – sowat agt beddens kon daar inpas. Ek het ’n onbesette bed geannekseer en my goed in die kas begin pak. My trommel het ook, soos dié van die ander, voor die voetenent gestaan.
Die volgende oomblik hoor ek ’n gebulder waarna ’n trop manne die kamer binnestorm en hul gewere gryp. Gelukkig het ek geweet geen ammunisie word aan troepe (terloops, ons is “rowe” genoem) uitgedeel nie, anders sou ek dalk gedink het hulle gaan my skiet. Toe storm almal weer uit. Ek het my geweer gegryp en is haastig agterna. Miskien was daar ’n kommunistiese inval of iets? Ek was in elk geval gereed om deel te neem. Enigiets om die roetine te breek.
Voor die bungalow het ’n vreemde korporaal gestaan. Almal het in ’n peloton ingeval. Dit was al tweede natuur, so ek is ook tussen al die ander ouens in. Ewe kordaat-paraat. Toe skreeu die korporaal iets en almal storm weer die bungalow binne en weer hol ek agterna. Miskien was die terroriste reeds binne? Gegewe ons gebrek aan slaap en kos was ons sekerlik ’n skrikwekkende gesig, al het ons geen ammunisie, bajonette of gebreekte bierbottels gehad nie.
Toe begin almal hul gewere uitmekaarhaal. Ek het geen meganiese aanleg nie en het dit toe al goed geweet. Nóú was ek eers ge-rattle. Ek het nog nie geleer hoe om ’n geweer uitmekaar te haal nie – en dit was die maklike deel. Agterna moes jy hom weer aanmekaarsit ook.
Die maneuver was soos volg: eers moes elke troep sy geweer uitmekaarhaal en dan daarna die werkende dele in sy trommel en die geweer in die groot staalkas oorkant sy bed toesluit. Dan hol almal weer uit en val in die squad in. Hierop sou die korporaal iets skreeu, waarna jy weer terughol, jou kas en jou trommel oopsluit, die hele besigheid aanmekaarsit, jou kas en trommel sluit en met jou geweer terughol en in die squad inval.
Die korporaal sou dan, terwyl ons op aandag staan, seker maak dat almal se gewere weer mooi aanmekaargesit is. Dan skreeu hy nogmaals en jy hol weer terug, haal wéér alles uitmekaar en sit elke ding op sy plek in die trommel en kas, soos reeds beskryf. Ek het probeer byhou, maar teen die derde ronde het ek in die squad gaan staan, deeglik gestres, met ’n geweer sonder binnegoed.
In sy reaksie op hierdie potensieël fatale faux pas het die korporaal nie sy subspesie in die steek gelaat nie.
Dis toe dat ek knak en myself in die toilet gaan toesluit. Ek het gesit en grens soos ’n blêrrie bakvissie. Een ou, sy naam was Anthony, het besorgd aan die deur kom klop. Hy was ’n goeie ou. Al kon hy nie sing nie en het ’n afskuwelike gesig getrek terwyl hy kitaar gespeel het, was hy oukei. Ek dink hy was die soort wat ’n goeie offisier sou gemaak het – een wat sy troepe se belange op die hart sou dra. ’n Mens kry mos sulkes ook.
Die korporaal het seker geskrik, want hy het my daarna uitgelos. Selfs as my baard nie te eweredig geskeer was nie, het hy my laat begaan. Dalk het die donner besef die weersin in my oë sou tot moord kon lei. Dit was in elk geval ’n saak van onmoontlikheid om enigsins ordentlik te skeer. En dit was nie weens die gebrek aan warm water nie. Probeer ’n bietjie skeer in die lig van ’n flits, dan sal jy sien wat ek bedoel. Ons mog mos nie ligte aangeskakel het voordat die korporaals soggens om 04:00 ingekom het nie. Jy mog ook nie voor dan opstaan nie. Tog moes jy teen daai tyd al klaar geskeer gewees het.
Gevolglik het dosyne bloeiende troepe elke liewe oggend in die donker bungalows rondgesluip, angsbevange dat hulle uitgevang sou word deur die instrukteurs wat “klopjagte” uitvoer.
Al hierdie onlogiese mallighede het gemaak dat ons almal doodbang was dat die dienspligtydperk verleng sou word net voordat ons uitklaar. Dit was destyds nie so vergesog soos wat dit nou klink nie: die Portugese Mosambiekers het immers ses jaar diensplig gedoen.
Wensdenkery het veroorsaak dat allerlei gerugte die ronde gedoen het, soos die een oor die troep wat daarin geslaag het om uit sy diensplig te kom deur voor te gee dat hy mal is. Die storie het só geloop: die ou het heeltyd na die grond loop en staar en volgehou dat hy ’n papiertjie soek. Dit was nie lank nie of hy het by die sielkundige beland – een van daardie soort kopdokters wat glo die “agtermekaarkêrels met skokterapie geswaai het”. No tailgunners in the army, hier is almal square soos ’n armybed, was die geloof mos. In elk geval, die sielkundige het hom toe bolgepik verklaar en hy is na die hek om die kamp te verlaat. Daar vra die wagte hom ewe leedvermakerig of hy toe wel die papiertjie gekry het waarna hy altyd so knaend gesoek het. Ja, sê hy toe, hy het, en hy hou sy ontslagpapiere omhoog.
Dis ’n mooi storie en ons wou dit graag glo, maar in die praktyk sou dit nie so maklik wees nie. Wie wil nou ook as mal geklassifiseer word? Boonop sou jy steeds as ’n lafaard en volksveraaier gebrandmerk word, mediese toestand of te not. ’n Melaatse buite die stadsmure.
Later toe ek na ’n ander bungalow geskuif is, het ek ’n maer outjie met ’n bril leer ken. Ek dink sy naam was Paul. Hy het my eendag gevra hoekom ek bereid is “om my medemens te vermoor”. Hy was glo ’n gewetensbeswaarde. ’n Mens kon hulle onmiddellik uitken omdat hulle nie gewere gedra het nie. Maar dan ook net wanneer ons self gewere gedra het. Anders het hulle nes ons gelyk – bedremmeld en desperaat.
Ons het ’n rukkie lank geredekawel oor die morele dilemma van woon in ’n land wat in ’n oorlog betrokke was, maar ek moet erken ek was te moeg en gatvol om ordentlik te argumenteer. Later het ek gehoor hy is in die tronk gegooi omdat hy betrokke was by een of ander “ondermynende” groep. Ek wonder wat van hom geword het en of hy vandag steeds in dieselfde ideale glo. Ek vermoed egter hy is deur die anti-apartheidsmasjien opgevreet en uitgespoeg, soos alte dikwels met kanonvoer aan enige kant van ’n konflik gebeur.
Teen die dak van brandkamer 22 flikker die buisligte, Frans glimlag. Hy is nie juis verbaas oor die oneerbiedige toon nie. Hy was nog altyd ’n rebel. Nie ’n anargis nie, maar onwillig om rondgeneuk te word.
Maar was die army werklik so ’n malhuis? Hy is bly hy het jare gelede al aan die manuskrip begin skryf, want sy herinneringe vervaag by die dag.
’n Paar van die ligte in die brandkamer is dood. Dis stikdonker in die agterste dieptes. Maar waar hy sit is daar genoeg lig. Hy lees verder en die herinneringe kom meld hulle al hoe helderder aan. Hy voel weer die beklemming en die opstandigheid.
Dit is hoe hy deesdae alte gereeld voel, oor sy werk en oor die land.
Soms wanneer hy in etenstye om die gebou stap, kyk hy op na die toringhoë groen teëldak en trek sy hande oor die dik, ruwe muur van die ou Roelandstraatse tronk. Dit is al wat oorgebly het nadat die tronk in 1977 platgeslaan is. Hoeveel van daardie energie het hier agtergebly?
Gevangenes het hier op vonnisse gewag en is dan na ander tronke gestuur om hul straf uit te dien. Hier is ook mense gehang. Die galg het in 1953 sy laaste slagoffer geëis. Vandag is die galgkamer ’n kantoor vir die administrasie-afdeling.
Vroeër was die argiewe in talle ander plekke bewaar, selfs in die slawelosie, wat nou ’n museum is. Hy is al ’n paar keer na gesellighede daar genooi, maar het later nie meer gegaan nie. Die verdraaiings en weglatings waaraan sommige apartheid-historici hulle al die jare skuldig gemaak het, steek nou weer kop uit, net in ’n ander gedaante. Die nuwe heersers maak hulle ewe skuldig daaraan.
Hy is ten minste nie al een wat al meer rebels word nie. Nie dat dít ’n goeie ding is nie, dink hy. Dit laat hom na ’n peperment in sy hempsak voel. Dit sal moet instaan vir Rennies.