Читать книгу Omega, oor en uit - Francois Verster - Страница 9

Оглавление

Hoofstuk Twee


Oor begin

In sy vensterlose ruimte in brandkamer 22 staar Frans na die sonlig wat die gang verlig. Dis ’n lui en loom middag in Kaapstad. Om hom in die Wes-Kaapse Argiefbewaarplek is ’n lineêre kilometer se stowwerige argiefmateriaal. Hier word ’n deel van die nasie se storie bewaar, gestol op papier, wagtend op ontginning.

Hy is die muwwe reuk in die vertrek al gewoond, so ook die stof wat voel asof dit in sy verhemelte afkielie. Hier in die Argief trek die mufheid sommer in jou vel in.

Frans is gefrustreerd. Hy is lief vir sy werk as argivaris, maar verpes dit ook – meestal hoe hy oor sy land ook voel. Sy mooi land. Die anker wat hy nie wil afsny nie, al vermoei dit hom toenemend. Soms voel dit asof al sy lewenslus hom verlaat as hy by die Argief se hek instap.

Op die lang sorteertafel met sy geskende bruin blad staan ’n klomp vaal bokse met oopslaandeksels. Dit bevat die argief van ’n prokureursfirma van Steytlerville. Hoe fassinerend, dink hy.

Soms wonder hy of hy nie maar in die onderwys moes vasgebyt het nie.

Hy kyk na die vaal bokse. “Jirre, ek voel presies net so vaal en vierkantig,” dink hy. Elke nuwe projek bring inderdaad die ou vrees dat jy jou dalk net sal doodverveel. Die prokureursfirma se argief is ’n “belangrike spieëlbeeld van ’n gemeenskap”, het sy toesighouer, ’n argivaris van die ou skool en toegewyde staatsamptenaar, saaklik en beslis gesê. “Ons is hier om die staat te dien.”

By implikasie: “Doen wat aan jou gesê word en sharrap.”

Frans het bokkerol van belang in daai spieël gewaar. Maar hy sal nóú daarmee moet begin; dis amper al einde van die maand. Verslae moet geskryf word, statistieke moet gekook word. Hy ken sy plig. Dis mos hoe sy generasie grootgemaak is. Hy is hier om stories te bewaar. Vir die nageslag, of hulle dit sal of wil glo, of nie.

Hy maak die skootrekenaar oop en skep ’n nuwe lêer. Bo-aan staan “Inventaris: Munisipaliteit Steytlerville. Verwysingsnommer 3/STEY.”

Nou vir die donkiewerk. Hy haal alles uit die eerste kartonhouer, skuif die inhoud meganies rond. Sortering is die siellose kern van alle argiefwerk. Uiteindelik lê daar sewe ewe groot hopies op die verrinneweerde ou tafel.

Tuis in sy studeerkamer is ook ’n boks vol goed – sy persoonlike goed uit die Grensoorlog-tyd. ’n Boks met oorblyfsels van sy dienspligdae op Omega, tuiste van die Boesmaneenheid 201 Bataljon. Heel bo lê sy bruin Bonnie met die twee swart linte met hul gerafelde punte en die witborskraai-kenteken. Daaronder die groen, goud en swart metaalbalkie van die Infanteriekorps. Daar is ook drie persoonlike foto-albums met ’n weermagtema.

Dit voel vir Frans asof hy soms uit sy liggaam beweeg en van brandkamer 22 se dak afkyk na die figuur by die ou sorteertafel. ’n Vlieg teen sy eie muur.

Hy weet waar Steytlerville is, maar was nog nooit daar nie. Een van sy ou dienspligkamerade,’n pligsgetroue siel met die bynaam Oumatjie, was van Steytlerville.

Steytlerville kan wag. Hy haal sy manuskrip uit die briewetas. Sy onvermoë om dit klaar te maak het met baie dinge te doen, onder meer die situasie by sy werk. En die politiek van die dag put hom uit. Dit voel al ’n paar jaar lank vir hom asof hy ’n tweede keer diensplig doen. Dié keer moes hy nie twee jaar van sy lewe in die weermag opoffer nie, maar sy professionele ambisies laat vaar. Regstellende aksie het vereis dat hy en baie ander hulself opoffer ter wille van die groter, nasionale belang.

’n Brief steek tussen die blaaie uit. Dit is klein opgevou en vuil gevat. Hy stryk dit plat en begin lees:

Liewe Ma

Ek hoop dit gaan nog goed met julle. Hier is dit maar nog dieselfde ding, elke dag. Dis warm, dis vervelig, dis oorlog. Mens wil net wegkom.

Gister het ’n PF ons voorgekeer op pad skool toe en een van ons gedreig oor hy glo na die man se vrou gekyk het. Ons is mos nog net ’n week hier en ons weet nie eens wie sy vrou is nie. Ons weet nou wie hy is.

Hierdie mense maak ons bang – banger as die terries. Van hulle hoor mens net as die kompanies terugkom. Hulle maak beurte en gaan by Ruacana oor na Angola. Ons onnies is by HK kompanie ingedeel. Die kommandant het gesê daar kan elke keer as die ouens oorgaan een troepie van HK kompanie saamgaan, vir die ondervinding. Ek dink almal wil maar min sal, want dis nie soos om ’n oorlogfliek te kyk nie. Hier kan jy doodgaan terwyl jy kyk. Een van die tiffies – dis nou die mechanics, Ma – het gegaan en sy pelle sê dis net omdat hy te lui is om aan die lorries te werk. Almal wag om te hoor wat hy gaan vertel as hy terugkom.

Gister het nog iets gebeur wat my pla. Die skoolhoof, die Soutie luitenantjie, het gesê ek moet die kinders slaan wat laat kom. Hulle weet nie eens hoekom hulle geslaan word nie. Nou huil die kleintjies as ’n mens net naderkom. Die groteres kom nie meer laat nie. Ek gaan hulle nie weer slaan nie. Die luitenant kan self, die blêrrie Rooinek.

Ons koop baie by die SAWI, want die armykos is maar min en nie altyd lekker nie. Die ouens sê ons sal sien as die voorrade opraak, kry ons net pap. Dis nou die Transvaalse braaivleispap. Ons het laas naweek by die skool gebraai en iemand het pap gemaak en dit was nogal lekker. Die skool is omtrent ’n kilometer uit die kamp, langs die aanloopbaan en net agter ons is die ammo dump. Dis meestal ondergronds.

Ons koop ook t-hemde en onderbroeke by die SAWI. Jy kan omtrent enigiets daar kry, maar ons soek meestal kos. Die Boesmans staan elke dag in lang toue by die deur, maar hulle laat ons indruk. Mens voel nogal aardig, want hulle dring daarop aan. Dit lyk asof die verhoudinge tussen al die rasse hier goed is. Maar ons doen feitlik alles apart. Net parades is almal saam, maar elkeen in hul eie pelotonne. Die Boesmans dril baie goed, maar hulle sukkel met in reguit rye staan. Hier is duisende van hulle en net ’n paar honderd wittes. Hier is ook bruin troepe wat wagstaan, Ma weet mos, die SA Kleurlingkorps.

Ons het elkeen ons eie klaskamers, nogal groterig en van sementstene gebou met sinkdakke. Ons bly vier ouens in ’n hut, wat ’n kimbo genoem word. Dis net ek en twee ander ouens wat Kapenaars is in ons groep.

Dis al nuus wat ek nou het. Julle moet skryf, dis lekker om pos te kry hierso.

Ek verlang baie. Die luitenant het gesê ons sal ’n weekpas kry as dit skoolvakansie is. Ma moet vir my reël vir ’n vliegkaartjie van Jan Smuts af.

Die brief is heel waarskynlik uitgesmokkel. Niks is met swart viltpen doodgekrap nie – iets wat die weermagsensors gereeld gedoen het. Die laaste bladsy is weg en daar is geen datum bo-aan nie, maar hy weet dit was die eerste brief wat hy uit Omega gestuur het. Dit ruik na motballe.

Hy sit die brief in sy baadjiesak en tel die manuskrip op. Die woorde waarmee hy ’n oorlog van 25 jaar gelede beskryf.

Omega, oor en uit

Подняться наверх