Читать книгу Omega, oor en uit - Francois Verster - Страница 8
ОглавлениеHoofstuk Een
Herfs 2014
’n Gedonder ruk hom orent. Hy druk sy skouers vas teen die koppenent en kyk vervaard in die kamer rond.
Hulle het my kom haal, dink Frans.
Dit duur ’n sekonde of twee voordat hy besef dis net onweer – ongewoon vir die Kaapse Skiereiland. Ondanks die bedompigheid kry Frans koud. Hy staan stadig op, soek met sy tone na sy pantoffels op die koel teëlvloer. Sy vrou, Charlene, slaap vas, soos altyd. Hy slof klappertand na die studeerkamer en gaan sit by die groot ou lessenaar, streel oor die geoliede blad.
Dis altyd dieselfde droom: Die PF’s kom hom haal. Die oorlog is toe nié oor nie. Daar staan ’n SAMIL in die straat voor sy huis, kolossaal soos ’n oorlogskip in ’n vyandelike hawe. Iemand in ’n groot weermagjas klim uit en loop tot by die voordeur. Daar pluk hy die jas af en staan net in ’n pers nagrok. Skielik verander die man se gesig en hy word ’n bekende, gewoonlik sy ou kameraad Skroppie. Hy wys dan na Frans en skreeu: “Die SAW wil jóú hê!”
Dis waar die onthutsende droom eindig.
Hy trek ’n verslete foto-album uit die rak en adem die geur van gister in. As argivaris weet hy papier is steeds die beste bewaarder van die verlede. Dis geduldig en dis duursaam. Nes mense, soek papier net simpatieke behandeling.
Buite rammel die donderweer weer – dis ’n kakofonie, die litanie van die natuur. Hier in Brackenfell hoor ’n mens soms kraaie. Uile ook, dink hy, soos destyds in die bos. Maar meestal is dit net die brakke wat al harder kef wanneer dit tyd raak dat hul base van die werk af moet kom. Praat van ’n litanie.
Buite begin die dag rooi breek. Soos die sonsondergange van Suidwes wat so verstommend mooi kon wees voordat die donkerte met sy verskrikkings toesak. Wanneer hiënas, dié in kolletjiespelse, maar ook dié in uniform, losgelaat is.
Frans hoor die ou bakkie voordat hy hom sien. Dis die man wat Die Burger kom aflewer. Die posbus se deksel klap en dan sidder die ou Datsun weer voort. Hy loop vinnig na buite en trek die opgevoude koerant uit die posbus.
Soos gewoonlik lees hy eers die sportgedeelte met aandag, blaai verby die sakenuus en glimlag oor die spotprent. Vandag gaan dit oor die ANC se magsbeheptheid.
In die briewekolom pleit ’n leser vir groter erkenning en begrip vir ouddienspligtiges. Daar is van hulle verwag om hul lewe vir hul land op te offer, nie vir die regering van die dag nie, skryf hy. Apartheid was nie in hul gedagtes toe hulle as skoolseuns ’n dokument onderteken het wat hulle tot twee jaar se militêre verpligtinge verbind het nie. Wat moes hulle doen, vra die briefskrywer, eerder tronk toe gaan? Hul volk verraai? As lafaards verwerp word?
Dit was die jare van die Koue Oorlog en die Rooi Gevaar. Die politici het sy generasie uitverkoop ter wille van ’n waardelose Grondwet en ’n falende staat, kla hy.
Die oorlog wil maar net nie weggaan nie, dink Frans. Nuwe boeke oor die Grensoorlog verskyn gereeld. Oor die jare het hy heelparty boeke daaroor gekoop.
Sy boekrak is ook vol boeke oor die Anglo-Boereoorlog, die twee wêreldoorloë, die Viëtnam-oorlog, die Koreaanse oorlog … die Koue Oorlog. Daar is ook boeke oor hoe om memoires te skryf.
In een van die lessenaar se laaie lê sy eie Grensoorlog-verhaal. Hy het dit geskryf tien jaar ná die oorlog se einde in 1989.
Hy haal die hopie gekramde bladsye uit. Meeste van die bladsye is al varkoor gevat en die teks is met rooi en blou bekrap – ink-littekens wat verklap hoeveel keer hy al bygevoeg en weggevat het. Elke keer wanneer die herinneringe aan die deur kom klop het hy die manuskrip uitgehaal en weer met die verlede gestoei.
Afstand kom met tyd. So sê hulle. Dalk sal die verlede nie meer so ’n houvas op hom hê nie as hy sy verhaal voltooi?
Toe die donderweer wegsterf, hoor hy die radiowekker in die slaapkamer afgaan. Charlene se bedliggie gaan aan. Tyd om reg te maak vir werk. Hy druk die voos gevatte manuskrip in sy briewetas en sit die tas in die gang.