Читать книгу Moord in die beloofde land - François Bloemhof - Страница 11

8

Оглавление

Soos haar voorgangers, is die Suid-Afrikaanse meisie van die 1970’s grootgemaak om ander te koester. Sy moes ’n tuisteskepper word, met die kombuis as nukleus. Sy moes kon brei. Borduur. Naai. ’n Skêr was iets waarmee sy moes reg- en mooimaak. Elke jong vrou het dit geken, of sy naaldwerk gedoen het of nié: ’n hulpmiddel vir menige huishoudelike taak.

In Marlene Lehnberg se huis, soos in die meeste ouerhuise, is daar nie oor seks gepraat nie. Soos vele ander onderwerpe was dit nie oop vir bespreking nie en jong mense het daarvan gehoor by maats wat niks beter as hulleself ingelig was nie.

Omdat daar baie dinge was wat vroue nie toegelaat is om te doen nie, soos om ’n beduidende rol in die kerk te speel, het heelparty aanvaar dat hulle nie sou kon nie. ’n Meisie was beslis nie veronderstel om te vat wat sy wou hê nie. Nog minder kon sy ’n seksuele geskiedenis hê. ’n Vuil verlede sou teen haar tel, dit sou haar definieer. ’n Meisie is stil en op haar plek.

Seuns kon wel aandag opeis en indien ’n meisie aan ’n spesifieke ou aandag gegee het, kon sy op haar beurt by hom aandag kry. Die meisie het begin aantrek en grimeer nie net om mooi te lyk nie, maar om mooi te lyk vir iemand. Haar liggaam, soveel minder gestroop as dié van die gemiddelde seun, moes met “die regte eetgewoontes” in beheer gehou word.

Die gewenste optrede kon kwalik beter vasgevat word as in ’n Meisie se pad, ’n handleiding vol reëls en Christelik-nasionale wyshede wat in 1973 verskyn het.

Byvoorbeeld:

Tree altyd natuurlik op. Moet nooit koketterig wees nie. Moenie opruiende musiek speel nie en wees tevrede met die haarkleur wat die Skepper jou gegee het – jy sal net jou hare verniel en dit verloor as jy dit kleur.

Wanneer jy saam met ’n jong man uitgaan, moet jy daarop konsentreer om waarlik vroulik te wees. Moenie ’n hoë stemtoon gebruik nie. Praat gedemp. Hou die gesprek aan die gang deur te reageer op wat jou vriend sê. Moedig hom aan om te praat en vermy die tendens om soos ’n opgewende orreltjie oor jouself te praat – niks skrik ’n man so gou af nie! Gee jou vriend egter ook tyd om te eet. Moenie rondkyk nie, want hy moet trots op jou wees.

Aan die einde van die aand moet jy vir hom sê watter wonderlike tyd dit vir jou was. Wees opreg en bedank hom met oortuiging.

Nou vir ’n gevaarlike onderwerp:

Wees egter versigtig dat dinge tussen julle nie handuit ruk nie. Jong mense wat met intimiteit eksperimenteer, kan hulself geweldige skade berokken. Binne die huwelik kan die seksdrang geluk bring aangesien dit hand aan hand gaan met die liefde wat so ’n daad reinig – maar buite die grense van die eg lei dit liggaam en siel tot verderf.

Styg bo dit uit! Die meisie wat ’n losbandige lewe lei, se manier van doen is op haar gesig te lese. Die los dame se oë verklap haar, so ook haar manier van sit en loop. Só ’n meisie kan maklik deur enigeen geëien word.

Maar hoe dan gemaak as die passie te hoog begin loop? Hoe keer ’n meisie dat sy ’n “los dame” word?

’n Man word soms gelei deur sy drange, maar ’n ordentlike meisie moet weet hoe om dit te weerstaan sonder om hom te affronteer. Die situasie is in jou hande en ’n man kan verder probeer gaan as wat betaamlik is. Beheer die oomblik op verantwoordelike wyse, maar sonder dat hy dit besef. Waak teen oormatige liggaamlike nabyheid omdat dit so maklik die gevoelens van passie kan aanwakker. As die gevaarligte wel brand, verskoon jouself om tee te gaan maak.

Goeie ou tee. Altyd ’n slim roep.

Deur te speel met die patriargale samelewing se rolle, kon ’n uitgeslape meisie egter nog altyd ’n man kry om onaangename take namens haar te verrig. Só kon hy haar motorwiel omruil, want sy is mos nie meganies aangelê nie. ’n Waarderende woordjie of bewonderende blik sou hom gevlei laat voel, terwyl die meisie pas bewys het dat sy nie net slimmer as hy is nie, maar ook sterker – sy het daardie swaar werk afgehandel met ’n blote glimlag.

Nog ’n manier om ’n man te kry om iets vir haar te doen, kon dalk wees om vir hom te sê hy is presies wat sy soek.

“Someone who can handle a dangerous weapon.”

Moord in die beloofde land

Подняться наверх