Читать книгу Moord in die beloofde land - François Bloemhof - Страница 14

11

Оглавление

Hy beweeg trappie vir trappie boontoe, en daar staan sy vasgenael soos ’n bokkie. Hy die leeu. Hy kan aan haar gesig sien sy wil weghardloop, maar haar lyf is stil, haar bene wil haar nie gehoorsaam nie. Met nog ’n paar treë is hy by haar. Gryp hy haar aan die skouers.

En dan kyk hy bloot na haar. Kyk hy haar net aan.

Wag vir die reaksie.

Haar asem jaag. “Ek weet nie wat jy wil hê nie,” snik sy heel onlogies, “ek weet nie wat jy wil hê nie!”

Dít is wat hy wil hê. Die vrees.

Eers tref sy hand haar linkerwang en haar oë begin water. Sy sak af op haar knieë, probeer dadelik regop kom, maar hy bring ’n gebalde vuis af op haar kop. Haar handsak spat weg, sy het dit nog vasgeklou, dit tref die muur en gaan oop en ’n lipstiffie val uit en rol eenkant toe, ’n pakkie Courtleigh Satin Leaf skiet ’n ent oor die vuil teëls, ’n Bic-aansteker agterna.

Hy gryp haar aan die hare, pluk haar regop. Sy skree, maar dis meer ’n uitroep van pyn as ’n kreet wat enigeen kan ontbied. Hy weet in elk geval alle geluide sal hier in die trapskag gesmoor word. Nog ’n keer klap hy haar, met sy hand se rugkant teen haar regterwang omdat hy glo in simmetrie, maar sy val nie weer nie, stut haarself teen die muur.

Hy lees in haar oë dat sy gaan probeer wegkom, dat sy nog nie moed opgegee het nie – die bokkie het steeds ’n bietjie hardloop in haar, maar die leeu nog sy spring ook. Hy wil bulder, wil brul, oerdrif. Die meisie mik-mik, wil op ’n manier verby hom glip by die trap af … maar sy begaan die tipiese fout van die prooi, sy maak haar bod op vryheid te gou. Hy het haar beet, eers aan die voorarm, dan, net toe dit wil lyk of sy gaan wegkom, weer aan die hare. Sy skree toe daarvan losruk, maar sy greep is stewig.

Genoeg hiervan. Genoeg gewag. Hy het die mag om te kies tussen lewe en dood, en het lankal gekies. Die eerste keer het hy homself belowe dit sou die énigste keer wees, die ander kere het hy gesê dit sou die lááste keer wees, en elke keer was hy gewalg selfs terwyl dit gebeur, nou weet hy die tye tussenin is maar net vir rus, die hitte sal tog weer opbou en daar is net een manier om dit uit sy sisteem te kry. Soos koors moet dit gebreek word. Sy is ’n objek, dis hoe hy haar moet sien, hy moet dit doen en sy is toevallig die een aan wie hy dit moet doen. Hy het die mes uit en hy begin haar gesig daarmee sny. Het nie laas keer ’n mes gebruik nie, daarom gebruik hy dit nou, daar moenie ’n vasgestelde patroon wees wat herken kan word nie. Volgende keer sal dit iets anders wees, maar hy is bly dit is nou die mes, hy sien hoe haar gesig vir hom oopmaak toe die lem reg deur haar wang gaan. Groter intimiteit kan jy nie kry nie. Hy kan haar agterste tande sien, ook een wat met goud gekroon is. Hy sal van sy klere ontslae moet raak sodra hy by die huis kom, sal moet insluip, want bloed spuit in alle rigtings, sy hande lyk asof hy hulle daarin gedoop het.

Nou moet sy dood, hy kan nie meer die geluide uitstaan nie. Dit moet klaarkom. Hy steek, hy sny.

Sy wil nie dood nie. Sy lig haar regterhand asof dit nog ’n verskil kan maak.

Wat het sy nie alles met hierdie hand gedoen nie? Letters leer vorm, dalk later liefdesbriefies geskryf vir die een of ander seun wat sy gedink het die wonderlikste wese op die planeet is. Sy het hiermee haar liggaam ontdek. Die naels is mooi versorg. Dalk het sy ’n musiekinstrument bespeel, blokfluit, klavier, dalk het sy talent gehad. Sy kon miskien goed bak of was haar netbalspan se ster-doelskieter. Nou is dit alles irrelevant, en tog, vir oulaas het dit nog betekenis, vir hom. Al die lewe wat in haar oorbly, sien hy in die tastende hand.

Moord in die beloofde land

Подняться наверх