Читать книгу Moord in die beloofde land - François Bloemhof - Страница 7

4

Оглавление

Die drang is so intens. Om na die meisie te storm, haar te gryp en …

Hy kan voel hoe dit sal wees. Sy hande om haar keel, die verrassing in haar lyf, hoe dit onwillekeurig ruk, die geluide wat deur haar saamgeperste stembande ontsnap, hoe sy probeer terugveg. Hoe sy ’n paar oomblikke lank sterker word as die paniek haar krag gee, die laaste verdediging. Hy het al dié fases leer ken, die reaksies waardeur iemand gaan wanneer die brein toemaak, die liggaam al swakker raak.

En dan die goue oomblik: as haar lewe syne word – dit vloei by haar uit en by hom in. Daar is geen ander sensasie wat naastenby daarmee vergelyk nie. Aan sy voete soos ’n pragtige dier, hy die jagter.

Maar dan kry hy dit skielik onder beheer, hy weet nie hoe nie. Hierdie keer. Hy kan by die hoek bly staan en kyk hoe sy verder en verder van hom af wegstap.

Verligting in hom, en frustrasie. Die prooi het ontsnap.

Nee, hy het haar laat gaan.

Hy sal nie weer nie.

• • •

Toe hy die volgende oggend wakker word, onthou hy niks nie.

Of byna niks. Net flertsies, indrukke van ’n meisie wat al verder wegstap en iemand – hy? – wat haar om ’n hoek staan en dophou.

Dis vaag, soos indrukke uit drome maar is.

Dit wás mos ’n droom.

Moord in die beloofde land

Подняться наверх